Posts Tagged ‘Toevallige Tekens’

Amanda Lourens. Anderkant Neverland

Friday, June 3rd, 2011

Dit is met dieselfde gevoel as op skool toe jy jou projek ’n paar dae laat gaan inhandig het – beskaam en duik-duik net ingeval jy te veel aandag trek – dat ek vandag my virtuele paadjie stap om my erg agterstallige blog te kom aflewer.  Mei het gesorg dat ek stigtelik besig is met dinge soos vraestelle nasien, slypskole organiseer en kunswedstryde trotseer, met die gevolg dat ek smag na tyd om nuwe dinge te lees en te bedink. 

Uit die aard van die genre is poësie iets wat jy in klein dosisse kan geniet – wonderlik dus wanneer die tyd min is en die salige kry-jou-sit-met-’n-Winterbach-roman gewoon onmoontlik is. Ek het dus midde-in die dol tyd tog daarby uitgekom om Martjie Bosman se Toevallige tekens (lankal gekoop, maar voorlopig op die bedkassie geliasseer) behoorlik te lees.  En die lieflike mineurtoon van haar verse (haar eie beskrywing – vergelyk haar onderhoud met Lucie Möller) bly by my deur die dae vol lysies wat af- en weggewerk moet word.

Alhoewel die bundel as geheel sterk en deurgekomponeerd is met ’n eie stem wat onwillekeurig van die groot stemme in ons tradisie (Opperman, Jonker) oproep, het die eerste afdeling met die verse oor die misdeeldes op die Afrika-kontinent my aangegryp, ontstel, ontroer en net weer laat besef hoevéél ellende moontlik is. 

Ek deel graag die gedigte “Mosambiekse vlugteling I” en “Mosambiekse vlugteling III”- beide gedigte waarin twee vroue se lyding aan ons voorgehou word:

 

Mosambiekse vlugteling I

 

Die vrou met die mond

waarin die tande skeef skuil,

met hande groot soos dié van ’n man,

die vrou met die benerige lyf,

sy wat al haar tongval

laat vaar het vir ’n lap grond

en ’n dagloon by die kliniek,

sy praat vrymoedig oor skoolgeld,

die kinders se pa wat lankal weg is

en die mielies op haar werf.

Maar as ek vra na haar geboorteplek

draai haar oë weg en min woorde

gee sy vir die tolk: Almal dood.

Gevlug. Oorlog sleg.  Nooit weer terug.

 

Mosambiekse vlugteling II

 

Sophie Lubisi, donker en klein,

kom na die kliniek vir die Depo,

want na die tweede bevalling

weet sy alte goed hoe die pa’s

maklik van die toneel kan verdwyn.

Haar broer sorg op die suikerrietland

daagliks in die sweet van sy aanskyn

vir bietjie koffie en suiker en melk.

Die huishouding kan darem ook eet

van die mielies en marog wat hulle plant

op die stuk grond hier by Block B

wat hulle gekry het na wie weet hoe lank

in die byna vergete vlugtelingkamp.

Wanneer al die tale tussen ons faal,

sien ek in die oop hals van haar rok

die donker kneusings van ’n ander verhaal.

 

Natuurlik bring dit vir ’n kwelgees soos ek weer al die vrae oor die hoekoms, oor die sin of doel daarvan na vore, maar ek vermoed dit is nie wat die digter met haar verse beoog het nie.  

Wat sy dalk wel beoog het, is stellig nie vir ons as lesers om summier oor te besluit nie. Wat ek wel uit die gedigte gehaal het, was die gedagte van die ontoereikendheid van taal om lyding werklik te verwoord, en dat lyding dalk vra om op ’n heel ander manier begryp te word.  Swaarkry laat naamlik die taal verskraal tot slegs frases wat ’n roete van lyding en ontheemding in die eerste gedig karteer; taal word egter heeltemal afgebreek in die tweede gedig sodat slegs visuele spore van trauma met die spreker kommunikeer. ‘n Feministiese lesing sou kon behels dat die tekens van die vroulike liggaam hier kommunikasiemiddel word, maar dan glad nie in die sensuele sin van “writing the body” waaroor Cixous byvoorbeeld geskryf het nie – veel eerder word die getraumatiseerde liggaam die setel van betekenisse van pyn.  Tog bly dit ’n naamlose verhaal (“’n ander verhaal”), sodat dit lyk asof dit ook ’n onnoembare verhaal is; behorende tot die domein van die nie-noembare.  Hieruit mag ons dalk aflei dat geweld teen vroue steeds ’n “ander” bly, verswyg en naamloos, met die vrou dan as die volledig gemarginaliseerde. En dan verkry die gedig moontlik resonansies oor grense heen, sodat vroue in meer bevoorregte samelewings se persoonlike pyn ook tot die domein van die onnoembare “ander verhaal” gereken kan word?  Gewis die donker kant van die maan; die antipode van Neverland.

Alhoewel die digter nie oplossings gee nie en slegs die portrette van die twee vroue aan ons voorhou, talm die woorde van Willem die Swyger (aan die begin van die eerste afdeling) : “Moi Dieu, ayes pitié de moi et de ton pauvre peuple” [“My God, wees my en U arme mense genadig”]. Dalk, genade vir mekaar in ’n wêreld waar die sin ons so dikwels ontwyk?  Of selfs, waarin sin ontbreek en ons alleen maar ’n vertaling van sin moet vind in stukke medemenslikheid?

 

 

 

 

Toevallige tekens

Thursday, November 18th, 2010

Toevallige tekens. Gedigte deur Martjie Bosman. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-400-0. Prys: R150. 80 bladsye. Sagteband.

Toevallige tekens
Toevallige tekens

Met verse in die tematiese bloemlesings Groen (1990) en Ons klein en silwerige planeet (1997), en met haar solodebuut, Landelik (2003), het Martjie Bosman die aandag getrek as ‘n digterstem met ‘n besondere ekologiese sensitiwiteit.

Dié sensitiwiteit betref die natuur in die breë, maar sluit spesifiek ook ‘n verbondenheids- en verantwoordelikheidsgevoel in jeens Suid-Afrika en die Suid-Afrikaanse platteland (waaronder ook die Afrikaanse erfenis),  én jeens Afrika.

As “groen” digter is die soms opstapelende benutting van eie- en soortname as ‘t ware ‘n konkrete manifestasie van Bosman se respek vir en sorg om die verskeidenheid en integriteit van identiteite te midde van bedreigende omstandighede. In Toevallige tekens is daar byvoorbeeld Kamante, “[d]ie seun met die sere aan die been”; of “dokter Clara Santos / met die oë vol van mededoë”; of Flora Mavundla, wie se man “maandeliks / van die myn af ‘n deel van sy loon [stuur] / sodat sy kan sorg van die kinders”; of Sophie Lubisi, “donker en klein”. Maar ook plekname soos “Shongwe Mission Hospital”, Beira, Kigale, Mbozini, Gstaad, Taag en Twickenhamlaan; en spesiename soos eendagskoon, laventel, katjiepiering, mikstert, diederik, witstinkhout, tipuana, swartwitpens…

In die gedig “Mutilados” word die verminkte vroue van die bevrydingstryd in ‘n voormalige Portugese kolonie gedenk aan die hand van hulle welluidende name alleen – en waaronder die naam “Maria” herhaaldelik opklink ter versterking van die indruk dat die noem van die name ‘n roubeklag met religieuse newetone word.

In ‘n paar gedigte in Landelik het Bosman reeds die onmag van taal en poësie bely om die verskynsels en ons belewenisse daartussen enigsins indringend of omvattend weer te gee. Hierdie tweede bundel van haar begin weer met so ‘n gedig:

 

Op die spoor

 

Wildernis is nie eenvoudig nie.

Sou dit maar iets aan ons wou wys,

iets wat soos ‘n helder fluit styg

uit swamme op ‘n verrotte stomp.

Sou ons ‘n duidelike woord kon vind

vir die kort lewe van termiete

en ‘n bruin arend behoedsaam op ‘n tak.

Wat is al gesê oor ‘n dooie buffelkalf,

die woekergroei van waterhiasint?

Swart miere streep oor ‘n pad.

‘n Kiewiet weerkaats in ‘n poel.

Bruin kewers in ‘n lae web gevang.

Sou ons maar ‘n metafoor kon vind.

‘n Patroon om af te lei.

‘n Verhaal om te vertel.

In die sand lê spore kruis en dwars

en droë blare val daaroor.

 

Die bundeltitel, die veelseggendheid daarvan betreffende die menslike seggingsonmag, weerklink in die slotgedig, met ‘n ewe veelseggende titel en ‘n treffende beeld as ruggraat:

 

Toevallige digter

 

Aan die kern sit kennelik

die werkwoord “val”,

aangelap met setsels:

in-, toe-, by- en voor-.

Soos ‘n meteoriet

breek iets skielik

deur bufferlae

om die afgeplatte bol,

ontbrand en pyl

met ‘n vuurpad

tot in ‘n nagtelike tuin

waar onder fosforglans

die swart swaan

‘n oomblik lank verskyn.

 

Ons staan, luidens die bundelmotto wat Bosman aan N.P. van Wyk Louw se werk ontleen het, met ons tekortkominge en met dié van die mensetaal voor “dié Woord

/ vol bybetekenisse en bowe-tone, / té vol vir bloot net beteken en betekenis”. Inderdaad: “Wildernis is nie eenvoudig nie.”

Tot die “bybetekenisse en bowe-tone” van die werklikheid behoort ook die onontkombare verganklikheid. (Vandaar die foto van ‘n versnipperde eendagskoon-kelk op die voorplat.) “Life is very unusual,” haal Bosman vir Nassim Nicholas Taleb aan as motto van die slotafdeling van haar bundel. Dit wil sê: Die lewe is nié die reël in die skepping nie, én dit is (daarom) wonderbaarlik, selfs paradyslik om te ervaar:

 

            Ek soek nog na ‘n metafoor

vir die vergaan van ‘n lyf,

tevergeefs in hierdie soet seisoen.

As die rose pieringgroot oopvou

[…]

bly die metafoor van aftakeling

my gelukkig nog ontwyk.

In hierdie soet seisoen

sal ek nog talm by dié tekens

in hierdie tuin van alle liefde.

(“Soet seisoen”)

 

Dieselfde geld tale en digkunste. Ek het ‘n knop in my keel betrap by die lees van die slotgedig van afdeling 2:

 

Vanishing voices

The extinction of the world’s languages

  • – Daniel Nettle & Suzanne Romaine

 

Hoe onvoorstelbaar eensaam moet die laastes wees

wat nog woorde van gewone dinge weet,

hoe onvoorstelbaar eensaam die ore wat nooit meer

die woorde hoor waarmee die dinge genoem is nie.

Hoe eensaam die stemme wat vergeefs die son besing,

hoe eensaam as die koue nou net joune is,

as die wind jou roep vergeefs oor die vallei wegdra.

Hoe onuitspreeklik eensaam dat niemand jou verstaan

as jy sou sê nie: “Ek vrees dat alles doodstil raak.”

Hoe onuitspreeklik eensaam die kennis

dat in jou mond die sinne stol, die woorde

waarmee jy behoort het aan ‘n verlore stam.

 

Dis juis afdelings 1 en 2 waarin verminking, lyding, misdaad, doodslag en die gepaardgaande vrese van die huidige Suid(er)-Afrika in die kollig staan, sodat ‘n “[h]esperiese neerslagtigheid” selfs dreig om die subjek in die gelyknamige gedig te oorval. Toespelings op bekende gedigte van Ingrid Jonker, D.J. Opperman, Van Wyk Louw en Toon van den Heever word effektief benut om (onder meer) verwilderende hede met identiteitsbevestigende verlede te kontrasteer. En klink iets van C. Louis Leipoldt se “‘n Handvol gruis uit die Hantam” nie ironieserwys deur as die “breek-en-gryp”-slagoffer haar besittings byeenraap in die volgende gedig nie?

 

            Handsak

 

By die plek van breek-en-grypslae

lê besittings argeloos uitgestrooi:

Uit al dié dinge van min waarde

sal ‘n mens dalk ‘n lewe kan herbou –

‘n gesig kyk uit ‘n natgereënde

paspoortblad bleek na boontoe;

‘n rybewys skuil half onder gras;

tussen bou-afval lê ‘n besmeerde

ID-boek ouderdom en blyplek bloot;

‘n verwese sakdoek verkondig

intieme nommers van bekendes,

die huisarts, die versekeraar;

lipstif, ‘n bril, ‘n hoofpynpil,

kaartjies vir die simfoniekonsert.

Ek raap dit alles blindelings bymekaar,

probeer onthou hoedat ek gister was.

 

Téén hierdie vernietiging in voel die digter “dat jy nou / alle vensters oop moet maak / om in die woonhuis van die sinne / die kortstondige geilte te behou” (“Bosveldvisvanger”); dat die verskynsels aangegryp beleef en byvoorbeeld onder woorde gebring moet word om miskien so iets daarvan te bestendig. Dít is die sentrale tematiek van afdelings 3 tot 5 in die bundel. Één voorbeeld van hoe Bosman sodanige intensies glansend in vervulling laat gaan:

 

Wolf op die tweesprong

Na ‘n foto van Jim Brandenburg

 

Hy het reeds sy staanplek

op die ysskots verlaat

en gespring.

Sy skraal skadu weerkaats

swart in die ysblou water:

onbeduidend onder die groot groot lug,

onbeduidend op die spieëlsee, diep en koud,

onbeduidend teen die dreiging van grys wolke.

Maar op hierdie oomblik, nou,

waag hy die sprong,

sweef hy vry in sy onveiligheid,

los en bly oor alles wat syne is:

hiérdie stuk dryfys, hiérdie see,

hiérdie uitgestrekte yl bestaan.

 

Myns insiens kry Bosman dit in hierdie bundelafdelings reg om plek-plek eggo’s van ander digters se werk – hoor ‘n mens nie byvoorbeeld Wilma Stockenström en T.T. Cloete fynweg deurklink in dele van bostaande vers nie? – in ‘n verdere intertekstuele funksie te benut: die aktivering, sodoende ook bewáring/wáármaking, van ‘n literêre tradisie.

Die belydenis aangaande die digterlike seggingsonmag vind myns insiens funksionele uiting ook op stilistiese en vormlike vlakke in Toevallige tekens. Pretensies dat ‘n omvattende of deurvorsende greep op die dinge moontlik is, word vermy. Vryeversvorme word hoofsaaklik ingespan, soms met vaster geneigdhede, soos eindrym wat meer “toevallig” as volgens vaste patrone opduik. Wanneer vaste vormgewing wel voorkom, soos in “Die kind van Kigali” (met sy eggo’s van een van Ingrid Jonker se beroemdste gedigte), voeg die dwangmatigheid daarvan op funksionele wyse ‘n element van “noodlottigheid” by tot die strekking van wat gesê word.

 

            Die kind van Kigali

 

Dis die kind van Kigali wat moet loop

om vir die gesin ‘n brood te gaan koop.

 

Die kind kom gou terug met die brood

en vind om die huis die spoor van die dood.

 

Die aanval was oorwoë en subiet:

Met mortiere is alles platgeskiet.

 

Die kind swerf deur die land sonder ‘n pas,

op sy skouers lê oorlewing ‘n loodsware las.

 

Die styl is eerder aan die ingetoë kant; verstild eerder as flambojant. Deur benoeming en beskrywing – eerder as deur metaforiek, aandagvergende woord- en klankspel en direk verdiepende of verruimende suggestie – word die dinge toegelaat om as ‘t ware vir hulself te spreek. Waardeur “groen” bundels van Lucie Möller (Watermerke) en Johann Lodewyk Marais (Diorama) uit die afgelope sowat ‘n jaar sterk in die herinnering geroep word.

Op my maak Bosman se bundel, hoe persoonlik die verwoorde belewenisse en sieninge daarin ookal is, ‘n indruk van brandende aktualiteit, in die besonder wat die Afrika-mens (ook die Afrikaner) se verhouding met sy omgewing betref. Dit sluit aan by wat al ‘n sterk stroming in die Afrikaanse digkuns geword het. Naas die name van Möller en Marais, kom dié van onder meer Eugéne Marais, C. Louis Leipoldt, D.J. Opperman, Ina Rousseau, Trienke Laurie en Carina Stander dadelik by my op.

Met Toevallige tekens word Bosman s’n na my oordeel ‘n besonder verdienstelike stem in hierdie name-rei. 

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

Andries Bezuidenhout. Toevallige tekens

Tuesday, November 9th, 2010

Ek lees op die oomblik met die uitsluitlike doel om te ontsnap; boeke deur die Italiaanse misdaadskrywer Andrea Camilleri, waaraan ʼn kollega my voorgestel het. Die hoofkarakter is Inspekteur Montalbano, wat moordsake in die fiktiewe Siciliaanse dorpie Vigàta moet oplos. Die inspekteur het ʼn gesonde aptyt en die disse waaraan hy weglê word in detail beskryf. Hy eet middagetes by ʼn plaaslike restaurant, gaan stap dan tot by die kaai, waarna hy op kantoor aan die slaap raak en glad nie skaam voel as kollegas hom moet wakkermaak waar hy agter sy lessenaar indut nie.

Hy werk aan een moordsaak op ʼn slag. Natuurlik los hy elkeen van sy sake op, meestal oor iets wat hy toevallig raaksien. Al is Sicilië die tuiste van die Mafia, word daar klaarblyklik minder mense as in Suid-Afrika vermoor.  Miskien sal dit help as misdaad in Suid-Afrika meer georganiseerd raak.

Gister sit ek die Camilleri neer en begin om Martjie Bosman se nuwe digbundel te lees. Lae bloedsuiker? Ek bars in trane uit, veral met die gedigte oor Angola, Mosambiek en Rwanda. Die een wat slegs bestaan uit vroue se name – Portugese Katolieke name, wat van betekenis verander en verdiep met die herhaling van “Maria”. En dat die inhoud van ʼn handsak soveel betekenis kan aanneem!

Ek dink daar is min Afrikaanse digters wat met soveel diepte en insig oor die kontinent duskant en anderkant die Limpopo skryf.

Camilleri se speurverhale laat my ontsnap. Martjie Bosman se gedigte pluk my weer terug realiteit toe. Ek voel skuldig omdat ek nie die woorde kan vind om haar bundel te beskryf nie. Die gedigte tref jou tussen die oë, maar “tref” beskryf dit nie. Ook nie “tussen die oë” nie. Dit roer ʼn mens eerder. Maar dis weer te lomp.

Camilleri beveel ek aan – om te ontsnap. Bosman beveel ek ten sterkste aan – om weer aan te kom.

Onderhoud met Martjie Bosman

Saturday, October 9th, 2010

Tekens wat die toonaard verander

 

Martjie Bosman in gesprek met Lucie Möller

 

 

Martjie Bosman

Martjie Bosman

 

Martjie Bosman is op Groblersdal gebore en het aan die Universiteit van Pretoria studeer. Sy publiseer sedert 1990 gereeld gedigte in literêre tydskrifte en debuteer in 2003 met die bundel Landelik, waarvoor sy die Ingrid Jonker-prys ontvang. ‘n Aantal artikels en ander publikasies oor sosiaal-wetenskaplike en literêre onderwerpe het ook van haar pen verskyn. Haar jongste digbundel Toevallige tekens het pas by Protea Boekhuis verskyn.

 

 

1. Toevallige tekens is jou tweede bundel en wat ‘n vreugde om weer ‘n uitstekende bundel van jou in die hand te hou! Dit is nou ongeveer 10 jaar na jou debuutbundel Landelik, wat met die Ingrid Jonker-prys bekroon is, verskyn het. Van jou nuwe gedigte het wel elders in versamelbundels en tydskrifte verskyn, maar wat het jou intussen so lank besig gehou?

Daar het darem net ‘n bietjie meer as sewe jaar verloop na die vorige bundel! Die gedigte in Landelik het ook oor ‘n lang tyd ontstaan. Toe Landelik verskyn het, was ek nog by die SAUK werksaam, maar sedert 2004 is ek redakteur by Protea Boekhuis en word ek behoorlik besig gehou deur al die digters wat die afgelope ses jaar hier gepubliseer is – ‘n voorreg, maar ook ‘n intense soort werk wat my eie kreatiwiteit seker maar ‘n bietjie aan bande lê. Al probeer ek om werk en privaat lewe te skei, geluk dit nie altyd nie, en soms droom ek selfs van die boeke waarmee ek besig is!

2. Die titel van jou bundel kom uit die laaste gedig in die eerste afdeling, “Eendagskoon”,  in die versreël: “waar ‘n gordyn van glorieryke blou / geil afrank in ‘n slordige tuin / en soos ‘n toevallige teken / die toonaard van die ganse buurt verstel.” Waarna verwys “toevallige tekens”?

Dis ‘n musiekterm. Die dominante toonsoort waarin ‘n komposisie geskryf is, word met die kruise of molle heel links, net na die sleutelteken, op elke notebalk aangedui. Dit bepaal of ‘n stuk byvoorbeeld in D majeur of A mineur of watter ander toonaard ook al geskryf is en dui vir die uitvoerende kunstenaar aan dat al die F’s en C’s byvoorbeeld as kruise gespeel moet word. Wanneer die komponis egter byvoorbeeld vir ‘n deel van die komposisie ook ander note as kruise gespeel wil hê, word ‘n toevallige teken direk voor daardie noot of note geskryf en dit verander dan die toonaard op daardie plek.

Toevallige tekens

Toevallige tekens

In dié bepaalde gedig word gepraat van ‘n vervalle buurt waar purperwinde of eendagskoon, soos die morning glory eintlik in Afrikaans heet, die hele omgewing ophelder. In die 1990’s was ek betrokke by sosiale navorsing by die RGN en moes ons dikwels vir ondersoeke lang tye in taamlik troostelose gebiede deurbring. Ek het myself geskool om op die uitkyk te wees vir iets moois, soos ‘n groot wildevyeboom langs die pad of ‘n helderkleurige doek om ‘n vrou se kop of, in die dorpies, die bloupers blomme van die geharde eendagskoon. Die eerste afdeling van die bundel is dalk ‘n bietjie mistroostig of selfs somber, en ek hoop hierdie gedig bring ‘n bietjie balans.    Die bundel self is dalk ook in ‘n mineurtoon, maar met verskillende tekens wat die toonaard plek-plek verander.

Maar ek het by die samestelling van die bundel ook bewus geword daarvan dat daar in ‘n hele klompie gedigte van tekens sprake is: die taal as tekensisteem, tekens van die seisoene, tekens van ‘n bepaalde landstreek, ensovoorts. Dit is ook vir my belangrik dat die “verskynsels” in die bundel as tekens en nie as simbole gelees word nie, dus nie as iets wat na ‘n ander, onsigbare werklikheid of werklikheid agter die werklikheid heenwys nie. Die verskynsels is as sodanig belangrik, die voorhande werklikheid is waaroor dit in eerste instansie gaan.

3. Hoekom het jy die woorde van N.P. van Wyk Louw as bundelmotto aangehaal?

Dis moeilik om te sê presies wat ‘n motto se funksie is – miskien is dit om ‘n klimaat te skep vir die bundel, of, soos Hans Ester by sy Akademielesing oor Elizabeth Eybers op 30 September 2010 gesê het, om ‘n tuiste vir die bundel te skep. Die keuse was eintlik iets heel intuïtief. Vir my eerste bundel het ek ook ‘n Van Wyk Louw-motto gekies (uit Die pluimsaad waai ver), maar met hierdie motto wou ek eerder aansluit by die teken-gesprek in Tristia, waarop Gerrit Olivier in ‘n artikel gewys het.[1]

4. Met die openingsreël van die eerste gedig “Op die spoor”, “Wildernis is nie eenvoudig nie”, stel jy die ervaring van sekere versluierde tekens en aspekte van “tekens lees” aan ons voor. Dat hierdie “wildernis” misleidend is, word gaandeweg al duideliker binne die gedig en plek-plek onheilspellend in die bundel as geheel. Wat bedoel jy daarmee?

Ek is ‘n bietjie huiwerig om my eie gedigte te interpreteer, maar ek verduidelik graag wat ek met wildernis bedoel en hoe die gedig ontstaan het.

In hierdie gedig moet wildernis in die eerste plek letterlik verstaan word. In die loop van die 20ste eeu het opvattings oor die natuur en oor wildernisgebiede verander. Wildernis is vroeër beskou as iets gevaarliks wat “getem” moet word,  of as onontginde natuur wat vir die mens ekonomiese of ander waarde inhou. Maar in ons tyd word die siening dat die mens die middelpunt van die skepping is en dat alles daar ter wille van dié een spesie is, toenemend bevraagteken. Daar het groter begrip vir die verwikkeldheid van ekosisteme gekom, ook vir die mens se verantwoordelikheid teenoor die res van die skepping. Denkers soos Aldo Leopold en Arne Naess het aangevoer dat die mens se morele verantwoordelikheid uitgebrei moet word om alle lewende wesens en selfs die nielewende natuur in te sluit. Vir hulle is wildernis (of “land”, soos Leopold dit noem) daardie deel van die natuur waar die mens net ‘n toeskouer en besoeker is, wat intrinsieke waarde het onafhanklik van wat dit vir die mens mag beteken en is dit die mens as die magtigste spesie se plig om sulke gebiede te beskerm. 

Met dit alles gesê, bly dit vir ons moeilik om wildernis as ‘t ware klein te kry, om dit te deurgrond en in ons begrip tuis te maak. Dis eintlik oor hierdie onvermoë om wildernis te verstaan wat die gedig na my mening gaan.

Die inval vir dié gedig het gekom toe ek en ‘n vriendin in die noordelike deel van die Krugerwildtuin op reis was tussen Shingwedzi en Punda Maria.  Dit was ‘n goeie reënjaar en daardie deel was besonder ruig met die bos omtrent ondeurdringbaar. Gevolglik het ons nie veel wild gesien nie en eintlik ook min voëls. Hier en daar het ‘n klein diertjie in die bospaadjies weggeskarrel en spoorloos verdwyn. Ek het bewus geword van hoe min ons verstaan van so ‘n stuk bos, hoe die mens eintlik daarvan uitgesluit is en dat ons gewone maniere van sin maak – met verhale, filosofering, wetenskaplike metodes en so meer – ons nie help om tot die essensie van wildernis deur te dring nie. Die verwondering daaroor kan ek darem probeer weergee in die gedig.

5. Die woorde van Willem die Swyger, wat as motto dien van die eerste afdeling, plaas jy in die oorspronklike Frans. Kan jy dit dalk vir ons vertaal en verduidelik hoekom jy juis hierdie heerser gekies het?

Terwyl ek besig was met die redigering van Karel Schoeman se Patrisiërs en prinse, wat oor die Europese agtergrond vir die totstandkoming van die verversingspos aan die Kaap handel, het ek so ‘n bietjie oor die Huis van Oranje en die Tagtigjarige Oorlog van Nederland teen Spanje gelees. Ek het vir die eerste keer in matriek met hierdie geskiedenis te doene gekry, toe Kenau van Theun de Vries vir ons voorgeskryf was.

Willem die Swyger was die leier van die Nederlande se opstand teen Spanje. Hy is in 1584 in sy huis in Delft in opdrag van die Spaanse koning Filips II deur Balthasar Gérard geskiet en het die woorde “Mon Dieu, ayez pitié de moi et de ton pauvre peuple” glo gesê net voor hy gesterf het.  Dit beteken “My God, wees my en u arme mense genadig.” Dit het my aangegryp dat die prins in hierdie omstandighede ook aan die mense van wie hy die leier was, kon dink. 

6. In die eerste afdeling van jou bundel gaan diep jy die lot van die gewone mens in sy bestaansnood in verskeie Afrikalande by die wortels op en ‘n mens word getref deur jou noue betrokkenheid by hierdie situasies. In hoe ‘n mate het jou vroeëre werksaamhede as agtergrond gedien vir gedigte soos die “Mosambiekse vlugteling”-reeks en “Die dokters van die WGO”? En het jy van hierdie gebeure eerstehands beleef?

Die meeste gedigte in die eerste afdeling handel oor die jare wat ek betrokke was by navorsing in landelike gebiede in wat vandag die Mpumalanga- en Limpopo-provinsies is. Die bewuswording van die lyding en moeilike omstandighede van so baie mense het my soms hewig ontstel. As navorser probeer ‘n mens op intellektuele vlak soek na oplossings, probeer jy verstaan, maar die intense emosies bly en het neerslag in hierdie gedigte gevind.  Vandag word ek steeds ontstel deur geweld, armoede en swaarkry. Afrika is ‘n genadelose kontinent. Die motto is maar ‘n versugting dat daar vir die arme en ellendige mense van hierdie kontinent ook ‘n bietjie genade sal kom.

Alles wat ek ervaar het, was egter nie neerdrukkend nie en die vreugde waarmee baie van die mense hul eenvoudige lewens voer, was werklik inspirerend.

7. Die funksionele aanwending van name in “Mutilados” gee op aangrypende wyse uiting aan gebeure wat in die oorloggeteisterde Angola afgespeel het en die verwysing na die boek van die joernalis Dine van Zyl, Die verminktes, is veelseggend hier. Wat was jou oorwegings om die vrouename in hierdie tipografiese patroon te plaas, veral met die naam “Maria” wat telkens inkanterend herhaal word en in begin en eindposisies figureer?

“Mutilados” is seker wat D.J. Opperman ‘n optelgedig sou noem. Die beskrywing van die lot van die vroue in Die verminktes het my aangegryp, veral omdat hulle so dikwels die naamloses en gesigloses bly. Van Zyl gee self ‘n lys name van verminkte, verkragte en getraumatiseerde vroue wat sy tydens haar besoek teëgekom het. Dis sulke pragtige, klinkende Portugese name: Severina, Paola, Gertrudes, Eduarda. Ek het die name net gerangskik volgens klankpatrone: rymende name, name met dieselfde ritme. Dit het my opgeval dat die naam Maria die meeste van alle name voorkom en ek het dit toe so in die gedig ingewerk. In Van Zyl se boek het dit ook so ‘n inkanterende effek. 

8. In afdeling 2 kom die motiewe van angs, bedreiging en woede na vore in gedigte soos “Handsak”, “Huis”, “Venster”, “Pendelaar, M1” (met sy kaatsende verwysing na die sens van die dood) en veral in “Die skreeu”. Was hierdie gedigte reaksies op persoonlike  belewenisse en wat was die eintlike agtergrond vir “Die skreeu”?

Daar is twee maal probeer om my handsak deur die voorruit van my motor te steel: Die eerste maal het ek verbete vasgeklou en my handsak behou, die tweede maal (‘n mens leer ook maar stadig!) is my handsak wel gesteel. Ek en ‘n vriendin het egter die volgende oggend op die stuk oop veld langs die verkeerslig waar die breekslag plaasgevind het, gaan kyk of ons nie iets kon terugvind nie en tot my verligting het ek alles behalwe die handsak self, my beursie, sonbril en selfoon teruggekry. Die dief het selfs die R50-noot laat val wat in die beursie was!

My eie onmiddellike reaksie op die gebeure het my verbaas. Ek het verskriklik geskreeu, hard en aanhoudend. Ek kon die man nog so ‘n ent sien weghardloop tot hy in die donker verdwyn het en ek dink ek wou hom laat hoor wat hy aan my doen. Ek het so hard geskreeu dat van die mense in die motors agter my dit kon hoor en hulp kom aanbied het. Agterna het ek my voorgestel hoe daardie lang, dun skreeu uit my mond die man soos ‘n slang agtervolg het en die assosiasie met Edvard Munch se 1893-skildery was byna outomaties. Al is ek nie beseer of fisies bedreig nie, was dit nogtans aaklige ervarings wat nog lank by my gespook het en my iets laat voel het van die trauma wat misdaad meebring.

In daardie tyd was daar ook ‘n erge misdaadaanslag op die buurt waarin ek woon en het die inwoners baie angs deurgemaak. In “Huis” en “Venster” het ek iets probeer weergee van die durende gevoel van onveiligheid in jou eie persoonlike ruimte wat ‘n mens in sulke omstandighede beleef, terwyl “Pendelaar, M1” geskryf is na aanleiding van die vier jaar wat ek daagliks deel was van die stroom pendelaars tussen Pretoria en Johannesburg.   

9. Jou gedigte tree dikwels in gesprek met digters, komponiste en ander kunstenaars deur intertekstuele verwysings waardeur aanknopings gevind met ‘n grondgedagte of stel motiewe wat hulle deel.  Die reëls: “Hul spore, ‘n honderd treë terug, / begin reeds wegvaag waar ‘n droë wind / sand oor die lieste van die sandlyf stoot” uit die gedig “Kameelkaravaan, Mauritanië” herinner byvoorbeeld in ‘n mate aan N.P. van Wyk Louw se siklus “Drie Diere”, die “Sfinks”-sonnet met die sandduin wat deur eeue oor die toonnael stoot. In “Wolf op die tweesprong”, die volgende gedig, word die prekêre bestaan van die dier uitgebeeld vanaf die vaste “staanplek op die ysskots” tot die onsekere oorkruising na die “uitgestrekte yl bestaan”. Wat het hierdie gedigte geïnspireer?

Kameelkaravaan. Mauritanië.

Kameelkaravaan. Mauritanië.

Albei gedigte is geïnspireer deur twee National Geographic-foto’s wat ek as skermskut op my rekenaar afgelaai het toe ek nog by die SAUK in diens was. Die kantore – of liewer ateljees – van die klankargief was in ‘n kelderverdieping met geen vensters na buite nie en geen natuurlike lig nie. Om te oorleef in sulke omstandighede het ek talle foto’s van natuurtonele op my rekenaar afgelaai.  

Die kameelkaravaan-foto van George Steinmetz vat iets van die onmeetlikheid en tydloosheid van die Sahara vas: Die klein figuurtjies van die mense en kamele op reis deur die woestyn lyk soos hulle waarskynlik ‘n honderd jaar of selfs ‘n duisend jaar gelede kon lyk. Dit het my inderdaad laat dink aan “Sfinks”, alhoewel dit die sfinks in Louw se gedig is wat byna onaangeraak is deur die gang van die tyd.

In teenstelling tot die indruk van tydloosheid wat die woestynfoto nalaat, het die fotograaf Jom Brandenburg met die foto van die wolf by Ellesmere-eiland in die noordelike poolsirkel ‘n vervlietende moment vasgevang. Die kyker weet dat oomblikke nadat die foto geneem is, die toneel sou verander. Wat my aangegryp het, is dat die wolf die skuiwende ysskotse en die deining van die see kon “lees” om op presies die regte oomblik die sprong te  waag. 

Die gedigte staan in die vierde afdeling van die bundel saam met ander gedigte oor musiek, kunstenaars en kunswerke. Hulle is dus nie gegrond op my eie waarneming nie (ek het nog nooit ‘n regte wolf gesien nie), maar op die indirekte waarneming via die oog van die fotograaf as kunstenaar. Ek is dankbaar dat ek deur verskillende kunsvorme deel kan hê aan ervaringe wat my andersins nie beskore sou wees nie, maar ook vir die bewarende rol wat kuns kan speel, soos wat ek probeer suggereer in die twee gedigte oor Jan van der Merwe se installasies wat ook in hierdie afdeling is.

10. In ons gesprekke oor poësie het ons al dikwels gepraat oor skryf (en interpreteer) van die-ding-in-sigself (“das Ding an sich”). Dit val mens op dat jy dinge deurgaans werklikheidsgetrou beskryf, maar mens vermoed tog dat dit nie net oor “die wolf”, die “divisies miere”, die dreigende bye, die woedende tor en die giftige paddastoele wil gaan nie. Wou jy die leser attent maak op dit wat jy self verwoord as “die vermoede van rotte” en onsigbare verval?

Wanneer die gedig op papier staan en die wêreld ingestuur is, kan die digter nie meer beheer daaroor uitoefen nie. Ek kan nie vir lesers voorstel hoe hulle moet interpreteer nie, al het ek my eie vermoedens oor herhalende motiewe en patrone en so meer. Maar ek sou tog graag wou hê dat die lesers eerstens die woorde soos wat hulle daar geskryf staan, ernstig moet opneem. Lees maar, er staat wel wat er staat. Die gedig wil soms nie heenwys na iets anders as die voor die hand liggende betekenis van die woorde nie, maar juis die aandag vestig op ‘n bepaalde saak of gebeurtenis wat deur die taal benoem word, deur dit uit die normale konteks te haal en in die nuwe verband van ander gedigte in ‘n bundel of ‘n oeuvre en selfs ‘n hele literêre tradisie te plaas. Byna soos wat talle twintigste eeuse beeldende kunstenaars ná Marcel Duchamp se omstrede Fountain (1917) met gevinde objekte gedoen het. Miskien is gedigte ook sulke gevinde brokke taal. 

11. Jou gedigte is dus realisties, tog kompleks ook. Die beelde van voëls wat so in die binne-mik van jou gedigte sit, bring dikwels ‘n wending of keerpunt, soms net in stemtoon en atmosfeer. Het die baie voëls in jou gedigte ‘n bepaalde betekenis?

Vir my is voëls in die eerste plek voëls. Indien hulle iets meer moet beteken, dan hoogstens as toonbeelde van natura naturans, die natuur besig om die natuurlike ding te doen, soos wat sir Kenneth Clarke dit in die BBC-televisiereeks Civilization genoem het. In die gedig “Fantasie van die dame met die verkyker” uit Landelik het ek iets probeer ineenvleg van daardie merkwaardige Vlaamse tapisseriereeks uit die 15de eeu, Die dame en die eenhoring, waarna Clarke verwys, en die wêreld waar ek grootgeword het. Eers na die voltooiing van hierdie bundel het ek agtergekom hoe dikwels voëls in die gedigte opduik en ek dink dit spruit gewoon daaruit dat ek byna altyd bedag is op die geluide van voëls, van die eerste sang van die janfrederik voor sonsopkoms tot die spookagtige geroep van die dikkoppe wat soms teen sterk skemer letterlik in die straat voor my huis op hul lang bene rondloop. Dié bewustheid kom seker uit my lang verbintenis met Groblersdal, waar ek gebore is, en waar my ma nog tot 1995 bly woon het in ons dorpshuis tussen die baie bome wat my pa daar geplant het. In die somermaande wanneer die trekvoëls uit die noorde terugkeer, kon ons soms oor ‘n naweek tot 30 soorte net daar op die erf sien. Dit bly my verwonder dat voëls steeds die omgewing met die mens deel, al doen ons soveel skade aan hul oorspronklike habitatte.   

Baie dankie vir die geleentheid om met jou oor hierdie wonderlike bundel te kan gesels. Sal jy asb. een van jou gedigte hier gee sodat lesers kan deel aan die opwindende vooruitsig van jou nuwe bundel ?

SOMERAAND

Die ligte gordyne is oopgetrek

en die gaasraam laat sak.

Die ruik van Mylol styg van my hande

as ek môre se boeke begin pak.

‘n Vrugtevlermuis se sonar tink en tink

en ek weet die werf lê stil en ruig

onder trosse sterre en ‘n louwarm wind.

Pa skuif sy stoel, blaai in ‘n boek.

Ma tap water in die ketel. My sussie bad.

Om nege blaas die fluit. Dis tyd.

Die kussing onder my wang is koel.

Ek hoor vir laas ‘n naguil roep.

 


[1] Tristia in dialoog met N.P. van Wyk Louw se oeuvre, Tydskrif vir Literatuurwetenskap, Junie 2008.