Posts Tagged ‘Tom Gouws resensies’

Resensie: Deur ruite van die reis (Melanie Grobler)

Monday, April 8th, 2013

Melanie Grobler. deur ruite van die reis, Human & Rousseau, 2013

Resensent: Tom Gouws

 

Eiesoortige eenderse andersheid

1.

Met die verskyning van Melanie Grobler se debuutbundel: Tye en swye in die lewe van Hester H het die indertydse boekredakteur Elfra Erasmus die volgende te sê gehad: “Dis moeilik om Melanie Grobler te peil. Nie oor sy vóórgee om akademies goed onderlê of ‘n ingewikkelde mens te wees nie, maar omdat sy in haar eie wêreld leef, ‘n wêreld afgesonder van mense … ‘n Mens sukkel om die meeste dinge wat sy sê aan die werklikheid van die alledaagse bestaan te knoop. Dit sweef rond op vlakke waar die deursnee mens net soms ‘n draai maak.”

‘n Onderhoud van Izak de Vries en Coenraad Walters met die digter, ná die verskyning van haar tweede bundel: Die waterbreker, begin só: “Ons daag by haar huis op en reg aan die begin waarsku Melanie dat sy, soos Breytenbach, spieëls skep vir die leser.” Later verduidelik sy egter die digbundel het organies uit drome ontvou en nie rasioneel nie, wat vir my moeilik rym met “spieëls skep vir die leser”, veral nie as sy die “boegvrou” in die bundel as ‘n alter ego wat op haar heup sit, voorhou nie. Die onderhoudvoerders lewer dan soos volg kommentaar: “Juis hierdie wil van haar om die skrywende ‘ek’ te projekteer op die vertellende instansie het ons ‘n paar keer vir haar laat sê dat haar gedigte nie sê wat sy sê nie. Maar Melanie is slim.” Later in die onderhoud maak hul dié sobere taksering: “Melanie is egter iemand wat baie anders is as dié boegvrou; sy is ‘n geweldig gelykmatige mens. Sy beskryf haarself as ‘n goeie ma, ‘n goeie vrou en ‘n goeie huisvrou.”

Grobler se onlangse onderhoud met Heilna du Plooy, oor haar nuutste bundel, skep dieselfde vervreemding. Heilna begin die onderhoud deur te vra hoe sy by die mooi bundeltitel uitgekom het, waarop Melanie summier vir Orhan Pamuk uit die digterlike knapsak haal: “Ek luister na die innerlike musiek, die misterie wat ek nie heeltemal verstaan nie en nie wil weet nie.” Die onderhoude begin hinderlik klink na ‘n baie bewustelike esoteriese aansitterigheid, ‘n gedwonge verliteratuurdheid, enigmaties opgeklits met vae mistieke ondertone, glád nie hoe ek ook Melanie Grobler die mens ken nie. Ek ken haar ook as ‘n geweldig gelykmatige mens. Waarom dan die poeheties-kakademiese front in haar onderhoude probeer voorhou? Haar digterskap is baie sterk en het geensins hierdie teoretiese steiers nodig nie.

 

Noodwendig begin die poëtiese voortvloeisels van hierdie geskryfde lewe voel na ‘n “pied-à-terre”, om die titel van ‘n bundelafdeling te gebruik, letterlik bloot ‘n voet op die grond. Binne hierdie vooropgestelde bestaanskontinuum van die digter is dit derhalwe moeilik vir die leser om ‘n aanhegtingspunt te kry in die strome van poëtiese malinge.

 

Voeg hierby JC Kannemeyer se galbrakery oor die bekroning van Tye en swye van Hester H, en Johann de Lange wat skunnig gesê het dis die eerste keer in die geskiedenis dat ‘n bloemlesing bekroon is, dan is die konteks waarbinne Grobler se digkuns ingebed is, uiters problematies. As haar tweede bundel deur die uitgewers onttrek word as gevolg van plagiaat, en sy die Akademieprys wat sy vir dié bundel verwerf het, teruggee, en hul geldprys terugbetaal, en deurwinterde literatore aan ‘n skerpsinnige studentedigter moet verduidelik waarom hulle nie die kreatiewe oorskrywings raakgelees het nie, dan is die skryf van ‘n resensie oor ‘n nuutverskene bundel van Melanie Grobler tegelyk dapper én dom. Veral as die allereerste resensie van Zandra Bezuidenhout in Rapport galant terloops opmerk: “Net jammer dat Dahlia Ravikovitch se gedig ‘A dress of fire’ (The third book. Tel Aviv, 1969), waarvan enkele reëls in Afrikaans vertaal en in Grobler se ‘Medea se rok van vuur’ opgeneem is, nie in die lys van erkennings verskyn nie.” En dat Crito, die resensieb(l)ogger, vriendelik meen die uitgewer moet dalk tog ‘n nota ter verduideliking oor die kontensieuse saak uitstuur. Wat, wat moet sê? 

 

Verstaan my posisie duidelik – ek, en ook haar uitgewer toe, Petra Müller, het inderdaad verstaan wat met Melanie se “oorname” van die gedig van Anne Michaels gebeur het. In die onderhoud wat Louis Esterhuizen met my gevoer het oor my digbundel Stigmata het ek die volgende gesê: “Die hele herrie ‘n paar jaar gelede rondom Melanie Grobler se sogenaamde plagiaat van ‘n Anne Michaels-gedig het aanleiding gegee tot die herskryf van albei gedigte, in ‘n poging om die onderbewustelike teksproduksie van bewustelik skryf te verreken. Is die wonde wat op my tekslyf uitslaan my eie of perdalks dié van iemand anders? Hierdie insypeling van ander tekste in my eie tekste is so belangrik dat ek hierdie gedig as credogedig vooropgestel het. Alle gedigte, glo ek, is ten diepste net ‘n ‘verleë vertaling’.” Die ironie is dat as Grobler die gedig van Michaels erken het as bronteks (wat sy helaas nie moes nalaat nie), sou dit bes moontlik aangeprys gewees  het as ‘n uiters knap herskrywing in Afrikaans!

 

Binne hierdie kompleksiteite sit die resensent met Melanie Grobler se nuutste digbundel ter tafel. So help my God.

 

 

2.

Met die lees en herlees van Melanie Grobler se derde digbundel, met die mooi melodiese titel: deur ruite van die reis, het een teks sigself heeltyd met die lees opgedwing: Breyten Breytenbach se Memory of Snow and of Dust. Nie net omdat ‘geheue’, ‘sneeu’ en ‘grond’ sterk kodes in die teks is nie, maar omdat die ganse toonaard, verwysingswêreld, beeldvorming, en vele meer, dié teks weerspieël. In die motto-stemvurk voorin is hierdie prosadig met die titel: ‘A Kind of Telling’: “Memory is a strange thing all by itself. Through which words, incidents, people will move like snow or like dust. Words giving surface to memory in the present, or remembered as the fall-out of past writers; incidents modifying the meandering remembrances of memory people …”

Grobler se poësie-oeuvre is duidelik ‘n baie bepaalde vooropgestelde “kind of telling” – dit word ‘n verdigte reisverhaal. Die medium waardeur/waarmee beweeg word, is hoofsaaklik water, met al die simboliese assosiasies: onderbewuste, vroulik, argetipies, primordiaal, skeppend. Soos die werk van Masaru Emoto aangetoon het, het water ‘n geheue, en bevat en kodeer dit alle inligitng, indrukke, en so meer. Moedswillig kan mens sê: óók alle tekste. Soos Hendrik Marsman in Tempel en Kruis dit onvergeetlik treffend verwoord het:  “wie schrijft, schriv’ in den geest van deze zee / of schrijve niet”. Die digter is dikwels dan die “waterbreker” wat met ‘n beurende boeg deur die vaarwaters moet klief. Die indrukke/oomblikke/insigte/uitsigte/gedigte is net ná te lees in die water wat vervlugtend verbyvloei, vir digter en leser. Soos dit in die gedig: ‘Lhote se ekspedisie na die Aouanrhet-massief (1956)’ uitgespel word: “bly iets omvattends / in die onbewuste blom”, maar desnieteenstaande is dit wél die geval dat “dinge verdring word en slegs sporadies / na die oppervlak kom” (‘Lucy Haarhoff van Rustenburg, Transvaal’).

Daarom word die beeld van ‘ruite’ so sterk in die titel van die bundel vooropgestel. ‘n Ruit is nie net ‘n glasplaat vir ‘n venster, met ander woorde vensterglas (en dus duidend op uitsig, deursigtigheid en metafories gesproke: perspektiewe) nie, maar onder andere dui dit ook op die meetkundige figuur van die rombus of parallelogram. Laasgenoemde gebruik daarvan in die bundeltitel belig ‘n baie spesifieke filosofie ten opsigte van die reis, naamlik dat binne die fisikawet van die parallelogram van kragte daar metafisiese transendensie kan plaasvind. (Sien die werk van Marc Lange in hierdie verband, sy boek An Introduction to the Philosophy of Physics: Locality, Fields, Energy, and Mass, en veral sy artikel ‘A Tale of Two Vectors’ in dialectica Vol. 63, N° 4 (2009), pp. 397–431. Ook die wyer navorsing van Alexander Bird in sy boek Nature’s Metaphysics.)

Grobler se digbundel vra ‘n meevaart waar die leser deur een te word met die vektoriese beweging van die reis/gedig ‘n transendensie tot ‘n ander, metafisiese realiteit kan ervaar. Daardie werklikheid is fluïed, in die wydste sin bedoel. Daarom wemel die bundel van bewegende figure: naglopers, reisigers, dwalers, sandlopers, daglopers, strandlopers, sneeulopers, watertrappers, ondergrondse lopers, boodskappers. En noodwendig wemel dit ook van “oerdrome” wat toegang tot ons realiteit probeer vind, stemme wat deur die “voorvaderlike begraafplaas” sweef, “weerligvoëls (wat) my na die donker bronne / onder die denke, na gate in die grond / na grotte vol swerms geheime” neem. Hierdie en ander sjamane wat die reistransendensie bewerkstellig, word bygehaal en word meesprekend; daar word lang inkantasies uit “die boek van sjamaans” vertaal en verdig. Die man tussen die riete van agterdog (uit ‘n gelyknamige gedig) word die prototipe van dié tipe figuur:

 

                hy sing hoog, sing laag

                sing soos een wat van vriende afskeid neem

                ou man wat dun en regop tussen rugwerwels

                van die middelwater sink, verder insink

                die digter met die troebel oë, ’n kus waarop

                                                                                woorde dryf

 

As mens die woordjie “middelwater” raaklees, roep dit onmiddellik (benewens Tolkien, uiteraard) ook die tweede afdeling van die digbundel Die waterbreker op. Dan besef die leser dat Melanie Grobler jou sedert haar debuutbundel meeneem op hierdie reis binne “die groot kosmiese hart”. Daarom word in die gedig ‘lemoenbloeisels’ die volgende oor hierdie ars poëtikale proses gesê: “reeds met die afsluiting van hierdie gedig begin die volgende siklus”. In Dawid, die Psalmdigter, se formulering: Die een gedig stort sy boodskap vir die volgende uit, die een nag kondig vir die ander kennis aan: daar is geen spraak en daar is geen woorde nie — onhoorbaar is hulle stem. Hulle meetsnoer gaan uit oor die hele aarde, en hulle woorde tot by die einde van die wêreld. (Psalm.19:2-4, so effentjies aangepas).

Dat die kunsteoretiese bewussyn deurgaans in die bundel te bespeur is, is ‘n noodwendigheid, want die ganse taalaanbod, maar kennelik ook “my denke is deurdrenk” met taal as singewingsproses (sien die gedig ‘die sampioen-velada’). “In al hierdie dinge lê diepe sin verborge,” word dit uitgespel in ‘Death Valley: woestynlandskap’. Hierdie ars poëtikale sleutels vir die reis word deurgaans vooropgestel. Enkele van dié raak segginge ter illustrasie:

  • ·         “gedigte groei uit die stof en bloed en sneeu en berigte” (p. 8)
  • ·         “die gedig is die geskarrel / van hoenders in die hok, die plek bewerk deur erdwurms /wat ons leer om die toekoms agteruit in te gaan” (p. 8)
  • ·         “deur die fluitjiesriet om opdrifsel woorde te versamel” (p. 15)
  • ·         “lang ure sit ek op die kaartstoel tot die ruimte / oorgeneem word deur die ritseling van die siel /    … /   Is dít alleenheid / hierdie oopbloei van gedagtes? (p. 16)
  • ·         “as die ewigheid van sand ontvou, lei die ekspedisie / my na die oase van die gedig” (p. 30).
  • ·         “soos die woestyn is die gedig onsterflik” (p. 37)
  • ·         “word ek die gekwelde stuk skryfpapier” (p. 61)
  • ·         “in kruiedrome vind sy sleutels vir haar gedigte” (p. 64)
  • ·         “Ek is vrou Boek onder die water, sê” (p. 65)
  • ·         “’n versameling wit beendere / met ander woorde, die gedig” (p.77)
  • ·          “uit die ysgrond kom die stilte // van ‘n gedig” (p. 82)

 

Hieraan alleen kan ‘n mens ‘n studie wy.

 

Binne die “dieptes van die water” (‘Ha Long-baai’) wat “’n prereflektiewe tyd ook prehistories” (‘kindertuin’) is, moet daar egter vasmeerplekke wees (ook ter wille van die leser!). Om hierdie rede word daar deurgaans gepraat van ‘n ruimte waarbinne digter en leser tydelik kan skuilhou. Dit word op verskeie maniere gemetaforiseer, waarvan die “skiphuis” (p. 13) miskien die hiperteken is. Die soeke na ander tydelike stanings, “ons buffer teen die niet” (p. 28), “binnenshuis” (p. 34), word ‘n boeiende speurtog vir die leser – hy moet ‘n “pied-à-terre” vind, en vind dit in oorlogskepe, strandhuis, seeskulp, ark, grot, heuningsel, borskas, kloostersel, eiland, skildery, binnekamer, ’n silwerjakkelsjas van sneeu, en andere. In die gedig ‘agt variasies op die tema van die Fimbulvetr’ word dit soos volg gestel:

   

om te reis moet jy jou huis verlaat en terugkeer

anders is jy ’n ontheemde, ’n banneling, ’n qivittoq

 

“Qivittoq is a person who have had a harsh experience among society, then decides to abandon community and live solitary in the wilderness alone.” Sien die fassinerende boek van Mâliâraq Vebœk: The Southernmost people of Greenland – dialects and memories. Hierdie “kosmiese alleenheid”, eensaamheid, verwerping en isolasie is ‘n belangrike tema in die hele bundel, selfs soms irriterend geromantiseerd. Dit ten spyte daarvan dat die digterlike spreker dit probeer teenspreek in die gedig ‘aardling’:

 

eensaamheid? ek distansieer myself

van dié menslike staat – stel ook nie belang

om die grenspos van leegheid te beman nie

 

of om die verwikkeldhede van poëtiese taal

                te bemeester

 

Wat Martinus Nijhoff gesê het, is ook van Melanie Grobler waar: “Dichters liegen de waarheid”.

Die gedoemde realiteit waarbinne die digterlike spreker in sy “dromende denke” (‘n toepaslike begrip van J.H. Leopold) gedoem word om in te dwaal, word in die gedig ‘seeskulp’ raak geformuleer:

 

                nêrens is daar ’n vaste huis of tuiste. die lewe gaan heen

                met veranderinge. ook die hartklop van die seehuis verander

                in die leë jare. die nag praat al hoe sagter.

 

 

Die poësie word derhalwe die enigste dúúr, al word dit mettertyd ‘n lamentasie, ‘n dodemis, ‘n vibrasie, die gekrys van ‘n kraai, mompelings, preverbale storings, dreunsange, sugte, ‘n roep, “bloot ’n herhaling / van ander klanke, ’n eggo wat gedurig / deur die heelal weergalm” (p. 77).

 

Daar is vele ander fasette van die bundel wat ek nie volledig kan aanraak nie, onder andere die karteringskode. Dis belangrik in die lig van die feit dat Melanie Grobler se MA in kunsgeskiedenis getiteld was: Kalligrafie op geografie, en daar dwarsdeur sprake is hiervan. Sien byvoorbeeld die belangrike gedigte ‘die karteerders’ en ‘die blinde kartograaf’. In ‘Kaartwerk’ word byvoorbeeld gesê:

 

                karteerders wat menslike teerheid omtoor

                tot dinge onder die klip, onder die water

 

‘n Ander aspek van die bundel is die volgehoue gesprek met Breyten Breytenbach se poësie, prosa en visuele kuns. En dis te verstane. Sy het immers Breyten Breytenbach se kuns gedokumenteer: ongeveer een duisend skilderye, tekeninge en installasies is in verskeie wêreldstede gefotografeer en ook ‘n proefskrif oor sy werk geskryf: Against Fixity: a hybrid reading of Breyten Breytenbach’s art, poetry, writing, aesthetics and philosophy. Hierdie “against fixity” vat die kern van Grobler se werk besonder raak saam. Die klank van die vroeë Breytenbach is deurgaans onmiskenbaar daar, selfs in onverbloemde titelbenoemings soos ‘die wond van die gedig’. Die hele idee van die wisseling tussen binne- en buitelandskappe is ‘n Breytenbach-waarmerk wat Grobler gemaklik opklad.

Op die keper beskou – ten spyte van ‘n handvol flouerige en gimmickerige gedigte, is hierdie ‘n merkwaardige bundel wat met haar eiesoortige eenderse andersheid die Afrikaanse poësie onteenseglik verryk. Melanie Grobler het Loftus Marais se debuutbundeltitel ernstig opgeneem: Staan in die algemeen nader aan vensters, en ‘n ryk derde bundel tot stand gebring. Sy kyk weliswaar deur ‘n ander ruit as Loftus én Jorik, maar die Opperman-versreëls is ‘n raak tematiese opsomming van wat die bundel wil bied: 

 

                Hy weet met die weerkaatsings in die ruit

                vlakke van beelde skuif deur alles heen

                en niks is in sy tyd en stof gesluit

                maar alles stroom deur grens en eeu aaneen

*

 

 

Resensie geborg deur:

Resensie: Weerloos lewe (Cas Vos)

Monday, May 14th, 2012

Ligvoet en vlugtig droom Vos digterlik : Weerloos lewe, Cas Vos. Protea Boekhuis, 2012

Resensent: Tom Gouws

 

Omslag

Omslag

In Nederlandse literatuurtradisie was die predikantedigters as gevolg van hulle triviale tematiek, hul gedwonge piëteit en veral hul tegniese onafhede deur die tagtigers soos Jacques Perk en Willem Kloos geweldig verkleineer. Die benaming “predikant-digter” het ʼn pejoratiewe waarde verkry, al was daar in die Nederlandse literatuurgeskiedenis uitnemende en vernuwende digters soos Revius en Gezelle wat nie so maklik net op hul godsdienstige toga getakseer kon word nie.

In Afrikaans het ons ook ons galery sieltiffies (soos dit indertyd in die weermag genoem is): Totius, I.L. de Villiers, Patrick Peterson, Bonaventure Hinwood, om die belangrikstes te noem, en dan die laaste toevoeging tot die digterlike kansel: Cas Vos. Oor sy ywerige produksie (in teologie én poësie) het ek al meermale gedink dat wat van Simon Vestdijk gesê is, eweneens van hóm waar is – Cas Vos skryf vinniger as wat God kan lees.

Met die verskyning van die onlangse opstuur-rugbyriller Kaapstad Karma-polisie ontmoet die Bokke, skryf Rachelle Greeff ʼn heerlike profielartikel oor die skrywer, Louis de Villiers, seun van die bekende en geliefde dominee-ikoon Izak de Villiers. In die onderhoud haal sy enkele dinge aan wat Louis sê sy pa kwytgeraak het. Hierdie uitpraat uit die pastorie was vir die meeste lesers ʼn onverwagte skop in die krop van die maag. In ʼn stortvloed briewe oor die onderwerp reageer hul met erge skok daarop. Een leser ervaar, totaal gebroke, die ikonoklasme van haar geliefde domineefiguur met absolute afgryse, en neem die seun ernstig kwalik dat hy die aaklige waarhede oor sy pa so nonchalant uitgeflap het. As dit dan werklik waar is, kon hy dit nie maar vir homself gehou het nie?

Hierdie lesersresepsie verraai veel van wat steeds van die dominee in die gemeenskap (ook lesersgemeenskap) verwag word. Cas Vos is ook dikwels in die verlede ʼn “digter-dominee” genoem. Maar in ʼn onderhoud met Neels Jackson maak hy dit duidelik hy “dig wyer as ander dominee-digters”. In ʼn resensie van Hennie van Coller oor een van Vos se bundels sê hy daar is “meer ‘n katolieke mildheid as die calvinistiese regskapenheid en beterweterigheid wat so dikwels by dominee-digters voorkom”.

Miskien is dit die feit dat Vos ook in die vaarwaters ry van ander religieuse digters in Afrikaans wat die aardse en die hemelse meesterlik gejukstaponeer het, met name Sheila Cussons en T.T. Cloete, dat hy digterlik slim genoeg geword het om al hoe meer weg te beweeg van ʼn godsdienstig-digterlike “soetheid wat te week, te selfbehep en bloot te mooi is” (in Van Coller se waarskuwing oor ʼn vorige bundel). Die onderliggende tipe carpe diem-selfingenomendheid in sy vroeë digkuns het plek gemaak vir ʼn groter gebrokenheid en weerloosheid. Soos Germanicus het hy seer geleer: “‘n Mens moet ook modderig wees / as jy wil mens-wees”. Soos van Goethe gesê is: “Niks mensliks het hom ooit verbygegaan nie,” en dit maak dat sy werk toenemend ʼn groter appèl tot die leser maak.

As Vos, soos Crito hom op LitNet getakseer het, ʼn “tipies versigtige Afrikaanse teoloog” is, is hy dit verseker nie in sy poësie nie. Die sekulêre binnevoering van sy teologiese toga is sy poësie ter wille, want dit skep ʼn ruimheid van denke en dialektiek wat meermale opwindend digterlik beslag kry.

Vos het die alfabet van geestelike geletterdheid deeglik leer ken, ʼn kriterium wat Frederick & Mary Ann Brussat in hul boek Spiritual Literacy as ‘riglyne’ vir die skryf van geestelike tekste voorhou en verduidelik. En dit maak die lees van sy werk ʼn interessante ekskursie, want God word in sy oeuvre nietradisioneel geteken, sou selfs as ʼn Derridiaanse differánce, voorgehou word. Die gedig ‘Die liefde is te swaar om te dra’ eindig met hierdie belangrike heenwysing in die slotstrofe: ‘Ballingskap is hulle voorland, / die donker land / waar God swyg en afwesig bly.” 

Die buitestaanderskap en vreemdelingskap van hom wat “manalleen tuis” bly, blyk hierbo mooi uit die gebruik van die woordjie “hulle”, in plaas van “ons”. (Ook vroeër in die gedig ‘Hulle is eensaam’.) Buitestanderskap en vreemdelingskap word derhalwe ook ʼn belangrike tema in die bundel, wat reeds deur die solitêre figuur op die voorblad gesuggereer word. Die voorbladfigurant loop alleen in die ontsettende ruimte (in die oorspronklike sin van die woord “ontset”). Ons weet teen die tyd al, soos Johann de Lange dit gesê het, dat Vos se voorblaaie besonder meesprekend is ten opsigte van sy bundels.(Met enkele baie knap gedigte weer eens gebaseer op die visuele werk van Diane Victor, word sy, byvoorbeeld, ʼn intieme afwesige in sy oeuvre, en laai die nuwe gedigte die oues, en die Victor-voorblaaie, met nuwe betekenis.)

By Vos, soos by Heidegger, “being is a being towards death”. Daarom word die Dood as ‘t ware ʼn ongesiene karakter wat met die komedie van die lewe meespeel, signifying everything, om Shakespeare skeef aan te haal. Verskeie gedigte in die afdeling ‘Doodspoor’ handel hieroor. Hierdie is by verre die knapste van al die afdelings van die bundel, met ʼn groot gerf baie goeie gedigte: ‘Gesprek met die dood’, ‘Arthur Rimbaud’, ‘‘n Bejaarde: portret in as en roet’; ‘Mans’, die naskrywing van Okke Jager se gedig ‘Verraai ons angs nie anoniem”, ‘Winter’ (ʼn poging tot ʼn sonnet, net jammer van die verloopte slotkoeplet), ‘Laaste woorde’, ‘Wat oorbly’ en ‘Wanneer julle eendag kom’.

Die twee laaste gedigte in die bundel handel oor die “digter as kneg” se taak om (soos God weliswaar) “asem / in dooie letters” te blaas en sodoende die uitgelewerdheid aan “weerloos lewe” te verantwoord, en so “hemel en aarde (te) versoen”, met ander woorde: Reading the world for meaning. Dít geskied aan die hand van wonde en merktekens van weerloosheid. Die “kwesbare mens” en sy “intieme pyn” is die sentrale tematiek van die bundel. Ongelukkig word die neerslag van die besinning daaroor dikwels nie poësie nie, maar telling statements sonder enige digterlike allure – byvoorbeeld: “‘n Sidderende insig breek deur / die lewe is buite die mens se beheer.”; “Met die mens / het Hy gedobbel / en droef misluk.”, byvoorbeeld.

Wat voortdurend in die bundel opval, is dat daar ʼn spanning is tussen God as metafoor en God as realiteit. Die gedig ‘Uitkyk’ (wat ʼn slim titel!) verduidelik dit mooi deur die jukstaposisie van die “geslote wêreldbeeld” en die “poreuse wêreldbeeld” (terminologie van die filosoof Charles Taylor). Maar dis amper asof Vos nie kan besluit waarbinne hy homself as digter en/of teoloog wil situeer nie. Dit sluit die spanning in tussen “God” en “gode” (laasgenoemde miskien een van die dwingendste kodes in die bundel). ʼn Mens kan nie kleinkry waar staan Vos tussen al sy “gode op papier” nie.

So gebruik die abstrakte outeur die oerskeppingsverhaal van Génesis as stramien in afdeling 1 (getiteld: ‘Uit chaos’) en word die gedigte volgens oerpatroon in die strofes van die aanvangsgedig én in die ontvouing van gedigte in die afdeling ordelik ontvou. Tog bly daar vele vraagtekens (ook as leesteken vooropgestel), en word die “volg sonder vind” algaande ʼn lesersfrustrasie, want daar kom nie klaarheid uit die digterlike perspektief nie. Dis asof die swaar filosofiese en teologiese onderbou nie deur die soms ylerige versies gedra kan word nie. Weliswaar “die beginverhaal / is aan oosterse oewers/ veilig vasgemeer”, maar dit word nooit ʼn vasmeerplek vir die poësie nie. Daar is dikwels “spore van sinlose samehang”, soos dit teen die einde in die gedig ‘in die begin’ uitgespel word.

Die eerste afdeling se laaste gedig dra die onuitdagend, onpoëtiese, plein swak titel: ‘Waar is God?’ ʼn Mens verwag nie dié tipe laissez faire-benoeming van ʼn digter wat al sewe bundels op sy kerfstok het nie. As die volgende afdeling na aanleiding van Ps. 8 dan ook getitel word: ‘Wat is die mens?’ word dit bietjie dik vir ʼn poëtiese daalder. Vos behoort en kan beter as dit doen. Daar is te veel sulke vinnige versifikasie, ʼn vermoede wat bykans deur al die gedigte in hierdie afdeling (‘my anima is my herder’ met voorbehoude uitgesluit) bevestig word. Daarom stem ek glad nie saam nie met Marlies Taljard wat in haar resensie in Rapport praat van “‘n sterk vormbewussyn en fyn afwerking – myns insiens wesenskenmerke van Vos se poësie”. Hier is duidelik ʼn meer besinnende hand in sy afwerking nodig.

As Vos in ʼn onderhoud op Versindaba meen die bundel beweeg van donker na lig (dit is ook ʼn gedigtitel), is dit bloot op ʼn uitgestalde bundelontvouingsvlak die geval, nie ten opsigte van die onderliggende lewenshouding of etos nie. Hieroor sou mens veel kon gesels – hierdie digbundel sou kwalik kon klassifiseer as die werk van “the unbribed soul for His enterprises”, soos Oswald Chambers dit so mooi gesê het, en wat ʼn mens sou verwag van ʼn digter-teoloog nie. Vos se digtersarms is helaas te kort om die Groot Al (en miskien dan selfs: die Groot Niet) digterlik-bevredigend te omhels. Soos sy ‘ars poetica’ dit dan ook uitspel: “Ek tas na woorde / in die nag se diep ondergrond / en vermoed met my vingerpunte / engelwoorde / wat in stiltes eggo.” Dis al. Maar ek dink nie hy wil veel meer as net dit bied nie.

Daar is veel meer oor die bundel te sê, en ʼn mens sal byvoorbeeld baie kon skryf oor die Hebreeuse verstegnieke wat hy inspan, oor die transkripsies van passasies uit Die Iliasen, Die Odusseia, wat ʼn ryk en mooi toevoeging tot ons literatuurskat is. ʼn Mens sou kon wys op die redelik onsubtiele intertekstuele inspelings – Ernst van Heerden se swart skip vaar byvoorbeeld verby, by Chris Pelser en Marié Blomerus se Ithaca word vasgemeer. Breytenbach bly helaas steeds soos ʼn seerowerskip in Vos se vaarwaters. (‘Ek kan nie meer droom nie’ is te maklik gekloon van Breytenbach se ‘bedreiging van die siekes’ en ander tekste). Die Marilyn Monroe-gedig lewer nie ʼn nuwe, oorspronklike perspektief op nie. Soms, byvoorbeeld, soos in die slotgedig, word Ferdinand Deist, T.T. Cloete en die Bybelboek Openbaring gesellig saamgeklits, en die uiteindelike produk sluk nie altyd lekker nie.

Maar dan is daar juwele, wat Cas Vos se onbetwiste digterskap keurig en afgerond vertoon, soos die gedig vir sy vrou Lida, wat ek graag in die geheel wil aanhaal:

 

DAE VOL HERFS

            Vir Lida

Al matvoet die dae vol herfs,

raak die blare se are verkalk

en dwarrel op die kaal grond,

al fluister wind in bome se ore

en begin takke sug oor verlies

waar ʼn bries vlugtig daaraan raak,

al is duiwe besig om hees te koer

wanneer stilkoue veerbaadjies streel,

al loop die son rooivoet oor rante,

gloei my liefde vir jou, my lief,

steeds sag en ryp.

 

As een van die vroeë digterlike vaders in Cas Vos se digterslyping sien ek met groeiende bewondering sy vermoëns tot gloeiender vrug kom, en bly my vrymoedige snoei aan sy poëtiese hebbelikhede ingebed in die hoop dat dit heerlike groei sal meebring. Soos die reënperd (in ʼn gelyknamige gedig) kán hy “lighoef / en vlugtig uit die donker bly droom”, ons almal ter wille.