Posts Tagged ‘Totius’

Amanda Lourens. Repos ailleurs

Tuesday, November 15th, 2011

 Ek het in ’n vorige inskrywing probeer besin oor my onverwagte reaksie op Tant Miem Fischer se kampdagboek.  Dit is eers na die oplaai van die inskrywing dat ek besef het dat ek ook iets sou kon sê oor die gedig wat agter in die teks opgeneem is, en waaraan ek aanvanklik nie veel aandag gegee het nie. 

Die gedig lui soos volg:

 

Vertrouwen

 

Wel hem die op God vertrouwd

En in donk’re dagen

In de onzek’re verte schouwt

Zonder angst of klagen

 

Is hier moeite en veel verdriet

In dit korte leven

Och! de Heer toch doet ons niet

Naar wy reeds misdreven

 

Gy dan ook die lyd en treurd

Wil toch meer bedenken

Ieder zegen was verbeurd

Dien ons God wou schenken

 

Nam Hy weder wat hy gaf

Nochtans Hem geprezen

Die by zegen en by straf

Wil dat wu Hem vreezen

 

Is het dan voor uw gezicht

Soms een angstig duister

Uit het duister schept Hy licht

Met vernieuwden luister

 

Achther wolken schuilt een poos

‘t Licht van Gods ontferming

Wie Hem zoekt vindt toch altoos

By den Heer bescherming

 

Hy weet wie daar op Hem wacht

Hoop op zyn genade,

En zoo donker is geen nacht

Of Hy slaat hen gade

 

Wel hem die op God vertrouwd

En in donk’re dagen

In de onzek’re verte schouwdt

Zonder angst of klagen. 

Volgens die nota (Fischer 1964:140) is hierdie gedig uit ’n krygsgevangenekamp ontvang en is dit in die oorspronklike Fischer-dagboek opgeneem.  Die outeur is egter onbekend.  Interessant dan, dat die outeur van die gedig waarskynlik manlik was, gesien die oorsprong daarvan in ’n krygsgevangenekamp.

Hierdie gedig is weliswaar eenvoudig, maar is klaarblyklik tog met toewyding gekomponeer om die rymskema streng te handhaaf en ook om ’n betoog op te bou. Die eerste deel van die gedig (wat volg op die eerste strofe wat in die slot herhaal word en wat reeds die tema van berusting voorspel) verteenwoordig ’n soort klag of rou, maar dan ’n getemperde uiting van lyding, meer konstatering daarvan, anders as die bitter en verwytende trant van die Fischer-dagboek.  Byna in die tradisie van die elegie, vind ons dan ’n berusting of consolatio in die tweede deel van die gedig, waar die leser meegedeel word dat God steeds betrokke is by die menslike wêreld, en as’t ware opnuut lig uit die duister skep, maar nou met “vernieuwden luister”. (Die digter se poging tot vakmanskap blyk dan uit byvoorbeeld die rympaar “duister” en “luister”.)  Die sikliese slot met die spreuk “Wel hem die op God vetrouwd” vestig die tema van volkome vertroue in ’n God met ’n soms onbegryplike raadsplan, wat gee en neem, maar weer troos bied aan diegene wat sonder vrees of klag op Hom wag.

 

Die spreker se klaarblyklike volkome oorgawe aan ’n groter raadsplan is opvallend, veral gesien teen die agtergrond van die fel vroulike reaksie in die Fischer-teks, en haar eksplisiete bevraagtekening van ’n God wat gebede beantwoord en uitkoms bied – vergelyk haar woorde op p.120:  “Kan dit wees dat die God wat ons vaders uit soveel ellende gehelp het, nou nie meer barmhartig wil wees nie?  Wat van al die gebede, die smekinge wat al die maande opgestuur is, al die bloed en trane, al die ellende in hoop en vertroue op ’n séker verlossing?  Niks, niks van dit alles.”

 

Ek het dus besluit om weer van die ouer gekanoniseerde (en manlike) gedigte uit die eerste helfte van die twintigste eeu te lees, om te probeer agterkom of hierdie soort berusting in ’n goddelike plan miskien ’n algemene tema is, in teenstelling met die ontnugtering van byvoorbeeld Fischer.  Totius het eerste in my gedagtes opgekom, aangesien hy immers bekend is as die “religieuse digter” van die Eerste Geslag. 

 

Wat volg, is geensins ’n wetenskaplike studie van Totius en die religieuse in sy poësie nie, maar eerder my eie indrukke hieroor na aanleiding van sekere bekende en minder bekende Totius-gedigte uit twee van sy bundels. 

 

Dit is betekenisvol dat die openingsgedig van Totius se eerste bundel (By die monument, 1908) reeds die gedagte van ’n Goddelike raadsplan aktiveer.  In hierdie gedig word die Boerekinders, in hulle vrees vir die aankomende vyandige magte, deur hulle moeder verseker dat ’n groter plan hulle lotgevalle bestuur.  Die moeder beroep haar hier dus op ’n skynbaar logiese argument: Haar kinders het niks te vrees nie, omdat die vyand se aksies deur ’n groter mag bestuur word.  Hierdie wete moet dan ook hulle troos wees:   

 

Moeder:

My kinders kom binne

 en wees nie meer bang;

 Die Vader daarbowe

 bestuur hulle gang.

 Ten spyte van hierdie gerusstelling, ondermyn die gedig hierdie boodskap deur die ironiese slotreëls, wat veral gerealiseer word deur die leser se na-kennis van die gebeure:

 Kindertjies:

Maar, moeder, hier is hul!

O, Hoor die gedrang!

 

Moeder:

Wees stil maar, hul sal mos

Geen kindertjies vang!

 Ook skemer ontnugtering deur wanneer die realiteit in die kampe waargeneem word, soos blyk uit die dialoog van kind en moeder in “In die kamp” uit dieselfde bundel:

 Kind:

Ek kan nie meer wag nie van honger, my moeder;

Maar waarom tog so? Het die Heer ons verstoot?

 

Moeder:

Nee, liefste, verstoot sal die Vader ons nimmer,

maar hier in die tent is g’n krummeltjie brood.

 Die moeder beroep haar steeds op abstrakte vlak op Goddelike versorging, maar op praktiese vlak is die selfondermynende aard van haar antwoord onmiskenbaar, en ’n consolatio dus uitgesluit.   Dit laat die leser natuurlik met vrae oor die digter se “bedoeling” met hierdie gedigte, in soverre dít veronderstel kan word.

 Waar Totius veral die pyn van die Anglo-Boereoorlog in By die monument hanteer, is persoonlike pyn die tema van ’n latere bundel.  In die welbekende Passieblomme (1934) ervaar die leser hoedat die spreker sy eie pyn probeer verwoord en deurgrond na die dood van sy kinders in 1920. Die bundel is naamlik verdeel in drie afdelings: “Onheil”, “Onrus” en “Berusting”, wat moontlik vir die digter ’n “logiese” ontwikkeling vanaf trauma deur die fase van intense rou tot by berusting aandui.

 In bekende gedigte soos “Ek wou my ganse digkuns waag” (uit “Onrus”) en “o Die pyn-gedagte” (“Onheil”) wend die spreker hom tot God, maar opvallend genoeg eindig beide hierdie gedigte slegs met die mededeling van sy pyn aan God, sonder ’n egte consolatio.  Klaarblyklik is sy enigste troos dat God weet wat hy deurmaak, soos hy ook skryf in die slotreëls van “Ek wou my ganse digkuns waag”:

 Nee, ’k sal nie waag om ’t uit te sê.

Nee, ’k gaan tot God wat weet, en lê

Vas op my hart my regterhand

En snik: “o God, dit brand?”

 In ander gedigte in Passieblomme is daar tekens dat die spreker wat geloofsvrae begin stel, maar hom probeer oortuig om sy twyfel daar te laat en te berus in die geloof dat God goed is. Die consolatio – wat wel hier teenwoordig is –  behels dus ’n bepaalde waarheid wat hy hom probeer wysmaak, maar sonder dat daar enige aantoonbare logiese gronde is.  In die gedig “Ek graaf met my gedagtes” (in “Berusting”) lees ons:

 Ek graaf met my gedagtes

in die geheimenis,

en soek of daar geen antwoord

op al my raaisels is.

 

Ek graaf nes in ‘n sandhoop

met my: Waarom? en Hoe?

By elke nuwe poging

dan val die plek weer toe.

 

Ek graaf; maar elke môre

begin my werk van voor;

ek graaf; maar as ek weg is,

skuif snags die sand daaroor.

 

  Dus - hou maar op met grawe,

 berusting is so soet;

 net een ding te gelowe,

 en dit is: God is goed!

 

Die argument waarop die spreker hom beroep om sy soektog te staak, klink nie baie oortuigend nie.  Hy wys naamlik op soekendes in die geskiedenis, maar impliseer dat hulle soektogte weinig of geen resultate gehad het nie.  Daarom kies hy in ’n skynbare cop out ten opsigte van sy eie argument die “soet” berusting van “God is goed”; oftewel, God is goed, so moenie verder vra nie. 

 In die bekender gedig “Die Godsbesluit” (in “Onrus”) word daar weer eens van ’n beeld gebruik gemaak om die subjek se soeke na antwoorde voor te stel: die “wag­­-‘n-bietjiebos” word hier treffend aangewend om die spreker se verstrengeldheid in sy eie prosesse van vraagstelling en soeke uit te beeld.  Dit gee reeds ’n aanduiding van ’n toenemend meer komplekse siening van die mens in sy verhouding tot die religieuse, al is dit in die afdeling “Onrus” opgeneem wat moontlik aandui dat die digter hierdie gedig as behorende tot die middelstadium in die rouproses beskou het (en dus nie bedoel is om “antwoorde” te verskaf nie). Vir die moderne leser kom hierdie gedig egter veel meer gesofistikeerd voor, en oorreed dit ook veel meer effektief as “Ek graaf met my gedagtes”.  Hier skyn die spreker nie te berus in ’n finale “Godsbesluit” nie, maar “gryp … in die dorings vas”, met ander woorde, worstel met die ingewikkelde struktuur van wat hy as die Goddelike raadsplan beskou en bereik nie ’n punt van vertroosting via die gedig nie.  Ook erken hy sy aksies van “dieper kyk en dink / as wat ’n sondaar pas”.    

 Die vraagstellende houding en soekende ingesteldheid van die subjek is ook die boustof vir die gedig “Hul moes na die hemel” (in “Berusting”):

Ek het baie gesoek,

gevra na ’n teken;

ek het baie gepeins,

geraai en gereken;

 

maar niks wat vir my

die raaisel ontvou nie …

Hul moes na die hemel,

en niks kon hul hou nie. 

 In hierdie gedig verklaar die spreker dus sy soekende ingesteldheid, tesame met sy geloofswens dat die “raaisel” van die tragedie vir hom uitgelê sal word.  Hy erken egter dat hy geen sulke antwoorde kon vind nie, maar maak dan die ietwat ongeloofwaardige sprong na aanvaardende geloof in ’n vooropgesette plan.  Dieselfde aanvaarding van die geloofsgegewe, in die aangesig van die afwesigheid van empiriese bewyse, word gesien  in die gedig “Geloof”, ook in die afdeling “Berusting”.   Hier sien hy geloof as die rigtinggewende instrument wat die gelowige na sy bestemming sal neem:

 Ons leef hier sonder oogbewys;

en as ons “hofsaak” hier moet dien,

dan is daar geen getuienis;

want niemand van wie lewend is,

kan sê: “Ek het gesien.”

 

[...]

 

Tóg leef ons voort, gewis en vas,

al het ons ook geen oogbewys;

tog seil ons voort op ons kompas:

die kusland sál ons oog verras

as’t uit die golwe oplaas verrys.

 

Dit is egter in die gedig “Geen stem en geen antwoord” (uit “Onrus”; ook opgeneem in Komrij se Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte) wat die spreker se ontnugtering wel deurskemer. 

 Elke aand wanneer dit stil is,

as geen stem meer die aarde ontstyg,

wag ek buite: of daar geen wil is,

of geen wese omlaag wil neig

wat op vleuels van stilte en duister

my van hul iets toe wil fluister.

 

’n Sien die verste ster wat flonker

deur die nag van stilte en donker;

maar ’n stem wat fluister, dié

hoor ek deur die donker nie.

 

 ’k Gaan weer langs hul liefste plekkie;

‘k gaan die tuinpad oor en oor;

’k wag weer by die tuin se hekkie

of ’k haar voetstap nie sal hoor …

 

Hoeveel aardse stemme vlieg nou

draad- en klankloos deur die nag!

blye en droewe boodskap wieg nou,

langs die etergolwe, sag.

 

En – van húl is niks bekend nie!

En – ek wag so stil en lang!

Is daar dan geen instrument nie

Wat die onhoorb’re klank kan vang? …

 

*

 

Maar geen stem of ritseling

wat deur stilte en donker dring.

 Dit is stellig die treurende vader hier aan die woord, op soek na metafisiese spore van sy gestorwe kinders.  Daar word moontlik ook verwys na die stemme van diegene wat besig is om te bid, maar sonder dat daar ’n instrument is wat hierdie gebede kan opvang of beantwoord.  Net so bly die spreker alleen en wagtend, gekonfronteer met die stilte van die natuurlike ruimte om hom, sonder enige spoor van metafisiese boodskappe – hetsy van geliefdes of ’n Goddelike stem .  Die gedig sluit dus af met ’n gevoel van oneindige leegheid, met die afwesigheid van berusting of antwoorde.  As sodanig is dit ’n verbasend moderne blik wat aandui dat Totius waarskynlik ’n besondere insig gekry het in die komplekse aard van die mens se metafisiese soeke, voordat hy by wyse van soms resepmatige spronge en gebrekkige argumente by die punt van “berusting” aangekom het. 

 Wat my punt is?  Miskien ’n kontensieuse een, maar wat daarop neerkom dat ’n consolatio of “berusting” in sekere gevalle gevaarlik na aan ’n om-die-bos-lei kom; oftewel, ’n gevaarlike retoriese sprong kan behels.  Die sielkunde sal waarskynlik kan help met insigte oor die aard en funksie van berusting: of dit dalk ’n punt is wat nagestreef word, ongeag die “feite” voor jou, juis omdat dit ’n punt van ekwilibrium weer moontlik maak, ’n gaping waardeur jy kan glip ten einde voortbestaan moontlik te maak. 

 En hiermee is ek nou midde-in ’n wag-’n-bietjiebos: Tant Miem se fel ironiese uitsprake en nie-berusting het my ontstel, maar ook vind ek onberedeneerde berusting in ’n groter plan verdag.  Die vraag is dus: Hoe nou gemaak?  As die (be)rus(ting) elders is, waar vind ons die roete daarheen?

  

Bronne

Fischer, M. 1964.  Tant Miem Fischer se kampdagboek.  Kaapstad: Tafelberg.

 

Hartmann, E. Totius se lewensbeskouing soos weerspieël in sy gedigte.
(Vervolg en slot.) 1931. Die Nuwe Brandwag: Tydskrif vir kuns en lettere. Jaargang 1931
. Digitale Bibliotheek voor de Nederlandse Letteren [Internet].  Beskikbaar  http://www.dbnl.org/tekst/_nuw001193101_01/_nuw001193101_01_0048.php. [2011, 13 November].

 

Venter, H. (red.) 1977. Totius versamelde werke 10: gedigte en prosa.  Kaapstad: Tafelberg.

Ilse van Staden. Verlore gunsteling

Monday, May 17th, 2010

Blogfokus

 

Wanneer ek ‘n gunsteling Afrikaanse digbundel moet kies, gaan dit vir my meer oor sentimentele waarde as verdienste. Dit is nou die een wat ek sal gryp as die huis afbrand, eerder as die een waarmee ek op ‘n eiland wil uitspoel.

   Soos ek reeds iewers genoem het, het ek my eerste digbundel gekry as Kersgeskenk aan die einde van graad een. Dit was ‘n roomkleurige hardeband bundel en as ek reg onthou was dit net getitel Gedigte - ‘n versamelbundel van Elisabeth Eybers, met gedigte waarskynlik tot en met Kruis of Munt (1973) of Einder (1977). Op daardie stadium was ek skaars sewe jaar oud en my ma het voorin iets geskryf soos dat ek dit dalk nog nie sal verstaan nie, maar dat dit van die beste gedigte in Afrikaans is. Natuurlik onthou ek daaruit “Maria”, “Wes-Transvaal”, “Die eerste nag” en veral “Bome”. Iewers in my studentejare het my ma die bundel geleen en toe uitgeleen. Aan wie, kon sy later nie meer onthou nie en so is ek my geliefde bundel kwyt. Ek hoop maar dat dit aan iemand nog vreugde verskaf.

   Met my drie-en-twintigste verjaarsdag kry ek weer ‘n bundel - Versamelde Gedigte van Elisabeth Eybers. Voorin skryf my ma: Aan my liefste Blom. Om op te maak.

   ‘n Ander sentimentele geliefde is D.J. Opperman se Junior Verseboek, wat ek aan die einde van graad twee as boekprys kry. Voorin is ‘n plakker op Laerskool Melkrivier se briefhoof: Vir beste prestasie in Gr ii. Om een of ander onverklaarbare rede het ek met ‘n dik groen pen daarin gedigte afgemerk en ook die name van die digters onderstreep (en genommer, tot by nr. 60!). Jy kan sê wat jy wil oor vernuwing, party gedigte bly maar mooi, al kom dit uit ‘n ver verlede en ‘n sentimentele geheue - “Mabalêl” van Eugène Marais, Totius se “Repos ailleurs”, “Die strandjutwolf” van Van Wyk Louw, “Klara Majola” en “Sproeireën” van Opperman.

   Maar miskien is daar plek vir nuwe gunstelinge. Dis lanklaas dat iemand my ‘n digbundel present gegee het…

 

Ilse van Staden

Verlore gunsteling

Monday, May 17th, 2010

Wanneer ek ’n gunsteling Afrikaanse digbundel moet kies, gaan dit vir my meer oor sentimentele waarde as verdienste. Dit is nou die een wat ek sal gryp as die huis afbrand, eerder as die een waarmee ek op ’n eiland wil uitspoel.

   Soos ek reeds iewers genoem het, het ek my eerste digbundel gekry as Kersgeskenk aan die einde van graad een. Dit was ’n roomkleurige hardeband bundel en as ek reg onthou was dit net getitel Gedigte – ’n versamelbundel van Elisabeth Eybers, met gedigte waarskynlik tot en met Kruis of Munt (1973) of Einder (1977). Op daardie stadium was ek skaars sewe jaar oud en my ma het voorin iets geskryf soos dat ek dit dalk nog nie sal verstaan nie, maar dat dit van die beste gedigte in Afrikaans is. Natuurlik onthou ek daaruit “Maria”, “Wes-Transvaal”, “Die eerste nag” en veral “Bome”. Iewers in my studentejare het my ma die bundel geleen en toe uitgeleen. Aan wie, kon sy later nie meer onthou nie en so is ek my geliefde bundel kwyt. Ek hoop maar dat dit aan iemand nog vreugde verskaf.

   Met my drie-en-twintigste verjaarsdag kry ek weer ’n bundel – Versamelde Gedigte van Elisabeth Eybers. Voorin skryf my ma: Aan my liefste Blom. Om op te maak.

   ’n Ander sentimentele geliefde is D.J. Opperman se Junior Verseboek, wat ek aan die einde van graad twee as boekprys kry. Voorin is ’n plakker op Laerskool Melkrivier se briefhoof: Vir beste prestasie in Gr ii. Om een of ander onverklaarbare rede het ek met ’n dik groen pen daarin gedigte afgemerk en ook die name van die digters onderstreep (en genommer, tot by nr. 60!). Jy kan sê wat jy wil oor vernuwing, party gedigte bly maar mooi, al kom dit uit ’n ver verlede en ’n sentimentele geheue – “Mabalêl” van Eugène Marais, Totius se “Repos ailleurs”, “Die strandjutwolf” van Van Wyk Louw, “Klara Majola” en “Sproeireën” van Opperman.

   Maar miskien is daar plek vir nuwe gunstelinge. Dis lanklaas dat iemand my ’n digbundel present gegee het…

HP Van Coller. Vier gedigte

Tuesday, April 20th, 2010

Blogfokus

 

Die oue wilg   

 

Totius

 

Die oue wilg

se takke het

al dae, dae lang,

vergeeld, vergaan,

in wind en kou,

armoedig neergehang.

 

Die flenters Iê

by hope langs

die stofpad saamgewaai;

alleen die raf-

els hang nog om

sy lede rond te swaai.

 

Sy mantel het

nog kort gelee

tot op die grond genaak;

by windgeroer

het dit geplooi

en sag soos sy gekraak.

 

Die stasiekleed

is weg en in

die wind staan hy te kla:

‘n monnik net

wat om sy skuld

die boetekleed moet dra.

 

‘n Eikeboom

het takke wat,

soos uitgestrekte arme,

in wintertyd

na bo bly wys,

sterk-smekend om erbarme;

 

maar hier is net

gelatenheid

bo soveel prag-berowing,

en skraal geblink

van bogies na

die somerglans-verdowing.

 

o Wilgerboom,

beeld van my skuld!

So naak en uitgetoë

is ook my siel,

verarmoed en

so diep terneergeboë!

 

Maar tog is jy,

so kaal en in

jou groue bedeldrag,

gelyk’nis van

‘n sril geloof

en immer-hopend wag.

 

Jou rafels is

die harekleed

van Gods profeet, so streng,

wat by berou

beloft’nis van

herlewe weer kom breng.

 

En as die wind

jou rust’loos roer,

dan hoor ek hierdie spraak:

“Al lyk ek nou

so dubbel dood -

ek sal weer herontwaak!”

 

 

Olea europa   

 

HP Van Coller

 

Selfs die liefde duur nie

sê die ietwat siniese Siënese digter,

skynbaar oortuig dat min dinge

ooit sal raak-raak aan die ewigheid.

 

Maar sý gebied is die streke

van dun denne, druiwe,

bosse vol skugter duiwe,

bronne, beke en brame -

byna asof vog en genade te veel was.

 

Jy, daarteenoor gedy in droogte,

skraal grond, klippe om jou wortels

stewig aan te anker;

winde waarmee jy moet saambuig.

 

God self het jou bedink

en fluister by tye deur jou blare,

al hoor mens dikwels in jou bysyn net

ou deur-die-blare- Bacchus sing.

 

Jou kreupelstam verberg

die gang van eeue.

Jou hout behou die son se blink.

Jou maagdelike, suiwer sap

word wêreldwyd geskink

en in jou kringe en jaarringe

sit jou onthou.

 

Mooi moet dit wees om

uit te kyk op die asuurblousee,

terracotta bruin berge

klipperig soos grou Karookoppe;

gekoester te word deur

lou, souterige seewinde

wat in jou vlees skuilgaan;

bruin te raak van die blakende son,

vrugbaar te bly deur eeue

om altyd weer soos ‘n jongvrou

keurig uitgedos te wees

in ‘n silwer-groen bruilofskleed.

 

 

 

Assiriese bul   

 

N.P. Van Wyk Louw

 

Trots en wellustig was die tweede ding

in die bleek glans van die glas: ‘n gevlekte bul;

met swaar geplooide nek snuiwe hy in die kring

van die droë winde wat die groot neusgate vul

met die reuk van wat nie dood is; hy lig sy ronde

muil en brul; en hy breek deur die skerp dorings

en gaffel rond tussen die herders en hul honde

met die swaai van die blink halfmane van sy horings

tót hy alleen-staan. So was sy heerskappy:

‘n heerskappy van die swart hoewe en die dood;

en waar hy aan die gras bloedvlekke kry,

het hy die stengels rondom met sy poot

gegraaf, en die klam neus in die sand tussen die struike

gesteek om sag-bulkend die óu bloed te ruik.

 

II. Bul (21 April - 21 Mei)   

 

HP Van Coller

 

Jy gaffel onrustig tot aan die lug se hoë nok

en bied verbete weerstand - selfs teen die winde

wat plant en dier bly teister en elke regsgesinde

mens na binne jaag met stofdeurdrenkte broek en rok.

 

Jy loop alleen en toets voortdurend al die grense

en limiete wat hierdie goed beskutte kamp jou stel,

en weet intuïtief en sonder om jou ooit te kwel:

jou lot bepaal jy self, en óók jou wense.

 

En word jy soms per toeval lig geraak

al is dit skrams en speels

word gou die spel versaak.

 

Dan sal geen vriend of vyand jou terug kan laat tree

en sal jy verwoed verder  bly veg

totdat elk teëparty uiteindelik maar bes sal gee.

 

 

 

Die moeder   

 

Elisabeth Eybers

 

Die vreemde oorsprong van jou lewe het

soos lig deur ‘n kristal deur my gevloei

in al die maande toe ek een was met

die stil geheim van jou verborge groei.

 

En nou kan niks ons skei - want is jy nie

afhanklik en gebonde aan my bloed

wat met sy onbegryplike chemie

jou wonderlik gevorm het en gevoed?

 

En of die uur ver en vergete word,

en of die jare tussen jou en my

hul seile span, die see sy golwe stort,

of selfs die Dood sy somber baken steek,

nogtans sal jy aan my gebonde bly

met die onsigb’re naelstring wat nie breek.

 

Ma   

 

HP Van Coller

 

Daar’s ‘n apie aan ‘n stokkie

en sy dra ‘n bloedrooi rokkie.

Sy kyk stomverbaas na al die gesiggies

wat steeds vreemd bly, nes die liggies

wat teen Kersfees elke jaar weer nuut raak.

 

Sy’s sitgemaak langs oues wat in ‘n rare waak

in ‘n kring sit, wagtend om te eet,

want dít en slaap en skyt het hul nog nie vergeet.

 

Stram staan sy op - my mooi ma met silwer

hare. Wie se kwetterpraat die voëls se kir

kon uitdaag. Dit het Hom behaag om dit te vat

en alles wat haar ma gemaak het. Selfs sat

van werk het sy nagte lank my bors ingevryf met Mentholatum,

En potte en - panne eiehandig - laat skitterblink met Vim.

 

Sy loop - gesteun, wankelend op onvaste been

- sy wat op sewentig nog op haar kop kon staan, alleen,

na buite, waar sy emosieloos die son betrag:

weg is haar blink oë, haar sproete én haar lag.

 

 

 

Taalles   

 

Elisabeth Eybers

 

Die eerste rededele wat mens leer

vóór drie jaar oud is lewenslank genoeg

om die akuutste nood te formuleer

soos: ek het honger .. . hou van jou is moeg.

 

Plots uit die soet ontmoeting weggeruk

het hulle ‘n nuwe saamkomplek ontdek

om oor en oor, onnosel van geluk,

toereikend te verduidelik: jy en ek …

 

‘n Maand daarna - want tyd bring raad - hanteer

hulle moeiteloos die diggeweefde sin,

die voegwoorde van kunstige verweer

soos: daarenteen ondanks desnietemin

 

Vier verse vir ‘n Afrikaanse morfoloog 

 

HP Van Coller

 

1. Morfologiese raaisel

 

Ek hoor dat “lunsriem” ‘n argaïsme is,

“bruidegom” weer glo ‘n etimologie.

Uit ou matroostaal kry ons “kombuis”.

Sê my: waar bring ek “verlange” tuis?

 

 

2. Morfeem

 

‘n Woord op sig maak weinig sin.

Dink maar net aan “ekseem”.

Krap jy net liggies, dan jeuk dit.

Betekenis skuil in die morfeem.

 

 

3. Die morfoloog

 

Hy is aan die geoloog verwant, die morfoloog.

Voortdurend moet hy diep delf in die taal se moederloog.

Die mentale leksikon is nes geologiese spore en herinnering.

Ysterskerp en hard sal dit oplaas deur alle lae dring.

 

 

4. Leksikon

 

Woordeboeke is brandkluise vir woorde.

Boordenstoevol met seme, foneme en morfeme.

“onthegting”, “vervreemding”, “haat”; selfs “berou”.

Maar in my taal ontbreek die sin (van): “Ek hou van jou”.