Posts Tagged ‘translation’

Andries Bezuidenhout. Voor die reis – vertaling van ʼn gedig deur Wisława Szymborska

Tuesday, August 6th, 2013

Ruimte, noem hulle dit.
Gemaklik met een woord gedefinieer,
veel moeiliker met baie.

Gelyktydig leeg en vol van alles?
Dig toe, ten spyte van oop wees,
want niks
kan daarvan ontsnap nie?
Grensloos uitgedy?
En as dit dan begrens is,
waar de hel aan grens dit?

Nou ja toe. Slapenstyd nou.
Dis nag, môre het dringender aangeleenthede
spesiaal uitgeknip vir jou:
tas na voor die hand liggende voorwerpe,
werp blikke binne trefafstand.
Luister stip na stemme binne hoorafstand.

Dan daardie reis van punt A na B.
Vertrektyd om 12:40 ter plaatse
en die vlug bo plaaslike newelwolke
deur welke oneindige
vlietende stukkie lug ook al.

Oorspronklike gedig: “Przed podróżą”, vertaal deur Clare Cavanagh en Stanisław Barańczak as “Before a journey”. Uit: Wisława Szymborska. Here (Mariner, 2012), pp 28-29.

Andries Bezuidenhout. Die storie – vertaling van ʼn gedig deur Michael Ondaatje

Thursday, December 8th, 2011

i

Vir veertig dae ontvang ʼn kind
drome uit vorige lewens.
Reise, kronkelpaaie,
ʼn honderd beskeie lesse
en dan word die verlede uitgevee.

Party skreeu met geboorte,
ander dwaal teruggetrokke
die verlede in – daardie winterbusrit,
skielike aankoms
by ʼn nuwe stad in die donker.
Ook afskeid van familiebande,
laat d
í
t wat verlore is en benodig word agter.
Die kind se gesig ʼn oppervlak
van vlietende wolke en emosies.

Laaste kans vir die self se helder geskiedenis.
Al ons moeders en grootouers hier,
ons gesloopte kindwese
in die verlede se bouwerk.

Grootse dagdroom van veertig dae
voor ons die kaarte begrawe.

ii

Daar kom ʼn oorlog, sê die koning vir sy swanger vrou.
In die doodsnikke sal sewe van ons
die rivier ooste toe oorsteek
en onsself in landerye vermom.
Ons sal mark toe gaan
en toumakers bevriend. Onthou dit.

Sy knik en streel die baba in haar buik.

Na ʼn maand sal ons weer
daardie koning se sale binnegaan.
Dowwe lig uit klein, ho
ë
vensters.
Ons het sonder wapens gekom,
net mandjies vol tou.
Vir jare het ons geoefen,
om suutjies te beweeg, onsigbaar,
nie ʼn lit te laat kraak nie,
asem te laat blaas nie,
selfs in verligte kamers,
sodat ons in hierdie gebou,
waar bewakers in skemerlig wag, kan verdwyn.

Op ʼn sekere nag
moet die sewe by ʼn horisonstale deur ingaan.
Onthou dit, koponderstebo,
soos met geboorte.

Dan (sê hy vir sy vrou)
is daar ʼn gang van druppende water,
luidrugtige reën, ʼn gevoel
van gediertes wat om jou voete krioel.
Ons gaan n
ó
g donkerder sale binne,
bibbernat tussen vyandige krygers.
Ons doof die laaste lig uit om hulle te kan uitoorlê.

Na die skermutseling volg ons ʼn ander pad
en vermy alle deure noorde toe…

 (Die koning kyk af
en sien sy vrou slaap
in die middel van die avontuur.

Hy buig neer en soen die kind
in sy vrou se lyf deur haar vel.
Albei droom. Hy l
ê
daar,
kyk na haar gesig soos sy inasem.
Hy trek ʼn lok oor haar oog terug
en byt dit af. Vleg dit
in sy eie hare in, raak dan langs hulle aan die slaap.)

iii

Met die geskiedenis se geswenk
kan ek my jou toekoms nie verbeel nie.
Sou dit wou droom, jou
in jou tienerjare sien, soos ek my seun kon sien,
jou nukke wat reeds diepsinnig
teen die stad se vaart skaaf.
Oor ʼn toekoms raai ek nie meer nie.
Weet nie hoe ons eindig nie,
of waar nie.

Alhoewel ek, vir jou, ʼn storie oor kaarte ken.

iv

Na die dood van sy vader
lei die prins sy krygers
na ʼn ander land toe.
Vier mans en drie vroue.
Vermom reis hulle
deur plase, lande met rape.
Hulle is ingeto
ë
en skaam
op ʼn vreemde, onbevange manier.

In veselmarkte
maak hulle vriende.
Hulle is dansers
wat ligweg tuimel as hulle beweeg,
lang hare wild in die lug.
Hul skaamte glip weg.

Betower met die begeerte in hulle.
Hulle word aan hul danse geken.

Een aand verlaat hulle hul beddens.
Vier mans, drie vroue.
Hulle steek braak velde oor, waar niks groei nie
en swem deur kil riviere
die stad in.

Suutjies, onsigbaar tussen wagte
gaan hulle die horisontale deur binne
onderstebo sodat giflemme
nie aan hul raak nie. Dan
deur die reëntonnels.

Dis ʼn ou storie – een van hulle
onthou die pad na binne.
Hulle gaan die laaste skemer kamer binne
en blaas die lamp uit. Hulle beweeg
in die duisternis soos dansers
in die middel van ʼn doolhof,
gewaar die vyand voor hulle
met die donker kleed van hul tog.

Daar is geen manier om jouself na oorwinnings te gedra nie.

*

En wat nou moet gebeur is vergete.

Daar staan die sewe.
Een van hulle, die een wat daardie baba was,
kan nie die res van die storie onthou nie
– die storie wat sy vader geken het, onvoltooi
daardie nag, sy ma aan die slaap.

Ons onthou dit as ʼn teer storie,
alhoewel hulle miskien vergaan.
Die pa se lenige arm oor
die kind se vorm, die proe
van die haarlok in sy mond…

Die sewe omhels mekaar in die vernielde kamer
waar hulle sal sterf sonder
om van ontsnapping te kan droom.
Ons weet nie wat gebeur het nie.
Vanuit ho
ë
vensters is die toue
nie lank genoeg om tot by die grond te kom nie.
Hulle vat die vyand se messe
en sny hulle lang hare en vleg dit
aan een tou vas en hulle klim af
en hoop dis lank genoeg
tot in die duister nag.

Oorspronklike gedig:
“The Story”, deur Michael Ondaatje, Handwriting (2011, Cape Poetry), bls. 55-60.