Posts Tagged ‘Trienke Laurie gedigte’

Trienke Laurie. Drie gedigte

Tuesday, May 20th, 2014

Karwag

Jy het alles sag kom maak vir my
toe jy gepraat het oor die sterre
en die maan wat geleidelik verduister
deur ‘n rooibruin wollerige vag
en die sterretjie wat ingesluk is —
Was hy voor die maan of agter?

Jy het teruggedink aan toe jy klein was
hoe jou pa met julle uitgery het na die veld
of net buitekant toe uitgeloop het
tydens so ‘n verskynsel aan die hemelruim.

“Jy moet tog aan my dink”,
het die vriendelike karwag gesê.
“Ek gaan vir ‘n onderhoud,
hoop om ‘n beter aanstelling te kry.
Hierdie werk maak my gees dood, dood! dood!”

En ek het bly dink aan die sterretjie.


Gompouballade

        (na Ben Venter)

Nattigheid prik in die lug,
sy snorbaard het dit gevoel
en otter het die reën geruik.

Die reën het gekom en wyd uitgesak.
Otter weet: Die veldvoëls
vind by bosse onderdak.

Maklik vir otter om gompou te betrap,
maar groot en sterk is gompou
van miere vreet en doringboomgom.

Gompou probeer wegkom, opvlieg,
‘n entjie abba hy vir otter
wat hangbyt aan sy seningnek.

Otter het sy stuk gehap
die reusedeel net so gelos
en lomp rivierlangs weggedros.
Die nag ruik Jakkals bloed
en drafstap snuffelend nader
vir gompou se aangevrete karkas.

Boer skiet hom rooidag op die plek:
Hierdie skaapdoder maak hy vrek;
by hom is daar geen mededoë.

Die middag kring twee witborskraaie —
die slinkse asers van die dag —
en pik aan jakkals se dooie oë.


Maartlelie

Op die aarde hou die swaartekrag
die pienk sterretros vas.
Net voor die Heer se hemelvaart
bloei die mooi lelie van Maart.
Dan verskrompel hy tot niks
en bly blom net in ons hart.

“Dis die Jirre se blom
wat hou in die veld
en die Jirre pas hom op
sodat hy hierdie tyd elke jaar
vanselwers aan die kale stingel opkom.”


© Trienke Laurie /2014



Trienke Laurie. Vir Adam Small

Tuesday, April 15th, 2014

Nóú wil ek jou besing
oor hierdie moed van jou
om te heers oor teëspoed
die donkerte te besweer
met die opstaanwoorde
met nuwe akkoorde
opslaanwoorde van jou
soos klawergras.
 

© Trienke Laurie, 2014




Trienke Laurie. Labirint

Sunday, August 5th, 2012

Labirint

 

In ‘n doolhof kan jy dool-dool verdwaal:

elke vertakking word oorweeg en verken,

dit verknoop en ontstem jou

voordat jy die raaisel ontgrendel,

jou eindbestemming bereik.

 

‘n Labirint lei jou langs ‘n enkele pad

en die ritme van stap, tot jy vervuld

al met die kronkels die sentrum vind,

prikkel die luislang wat in die skedelholte skuil.

Dit begoël hom, die heen en weer wieg,

want hy volg die beweging,

maar sak uiteindelik bedaard weer terug.

 

Moderne hospitale pak klippieslabirinte

of snoei sipresse in sirkelende lane

volgens die oeroue wysheid van die Minoane.

Geestelik versteurd, verstandelik gestrem

of in die kake van kanker geklem,

om die kronkelpad na binne te stap

laat maak jou met jou binneste kontak.

 

© Trienke Laurie, 2012

Trienke Laurie. Domkerke

Sunday, July 29th, 2012

Domkerke

 

Katedrale bekyk, die een na die ander,

oorweldig deur kuns en omvang van skaal,    

maar kerk is dit nie.  Later bly net oorkoepelend

‘n gedagte van ribbe, van deurstraalde vensters,

van benoude Pandorabieghokkies en beelde —

maar: sing daar per toeval ‘n koor a cappella,

en die klank word aangegee en vaar deur die skip

en die dwarsskip tot bo in die dakribbe

waar duiwe in die vlegwerk in beurtsang koer,

of sien jy iemand wierook in Gods skaal bid

en ‘n kersie vir ‘n sieke opsteek,

dan breek jy met Iemand brood,

sluit Petrus inderdaad die deure oop.

 

© Trienke Laurie, 2012