Posts Tagged ‘TS Eliot’

Gisela Ullyatt. ‘Ek wil weer jou rooikors breek’: ontworteling in Klankmanwoordboom.

Tuesday, December 15th, 2015

‘Soul searching’. Meyer van Rensburg.

Deel drie van die Meyer van Rensburg-blog het die meganika van klank geëksploreer, deur die klankman/klankmenger/klankoperateur-motief:http://versindaba.co.za/2015/12/13/gisela-ullyatt-wanneer-die-klankman-begin-droom/

Klankmanwoordboom, sy debuutbundel (1983), verweef die wêreld van die klankman, die geskrewe woord, die soeke na die Woord en die boom-motief. Laasgenoemde is uitgestippel aan die hand van die klankboom wat terselfdertyd die Kruis-motief naspeur.

Die jukstaposisie van die kunsmatige omgewing van die klankateljee en die natuur wat neerslag vind in die digter se geboortewêreld, die Noord-Kaap, word tasbaar in die bundel. Deel vier ondersoek die land van herkoms (Suid-Afrika), die kontinent (Afrika) en die harde natuur (droogte, son) word verder verbind met die moedertaal (Afrikaans). Hierdie elemente roep die situasie van die expat op. Alhoewel Meyer eers later na Engeland geëmigreer het, word die bundel ’n profesie van nie net sy eie ontworteling nie, maar ook van duisende ander ontheemdes in die buiteland. Soos R.B. Jurgens tereg opmerk in As almal ver is (228):

You said, ‘I will go to another land, I will go to another sea.
Another city will be found, beter than this …
Kavafis, daardie groot eksponent van die ontwortelde siel.

Die bundelmotto aktiveer die stamboom van die Afrikaanse digkuns met ’n aanhaling uit ’n Peter Blum-gedig:

… Want wat is ons? ’n Boompie
Oop vir enige wind – vir enige meslem
Kerfbaar die bas; maar as die helderheid kom en
Jy dit gee, is daar skyn van lig op
Mense en dinge, hulle lewe is heerlik.

Verder verduidelik Meyer hoe die Blum-aanhaling met Klankmanwoordboom verband hou:

Ek het die lig gesoek in die mens in sy skeppende of digterlike aktiwiteite (veral in die eerste afdeling: Woord), sy behoeftes (esteties, intellektueel, seksueel en emosioneel) en ook in dinge. Dinge wat my omring het by die werk, die tegnologiese wêreld van klank en ook dinge uit my jeug as plaasseun in die Noord-Kaap […] Die Bybel sê: “Aan die begin was die Woord en die Woord was … en dit is waar ek begin het.

Stamboom

Die Klasie wat de waarheid zeggen
en met hogen hout willen schrijf soos ons praet,
die drieman klingel saam ’n passie
(Janfrederik soen sy Martjie)
en langs die suikerbos en rand
vry visvanger ’n rosarum hartjie.

Die toon van die sangers word verhewe,
weemoedig klink tinktinkietaal
uit die haak-en-steek-besluit;
’n Zoeloeland-jandiederik
skop verkeerdom eiers uit,
soek na die alfa en omega
in alles wat hom stuit.

’n Piet-my-vrou wyk verder,
weg van die lou geykte lied,
beitel glad deur jaarringe,
kyk wat die rooi pit bied
en grootoog in die skaduwee,
slaan janblom die ganse gade:

sal ek aanklank vind en saam rinkink
as janfiskaal of luistervink?

Hier enkodeer die digter die Afrikaanse digtradisie met leidrade wat die leser na die verskeie digters lei:
Die ‘Klasie’ is heel moontlik ’n verwysing na F.W. Reitz se gedig ‘Klaas Geswind en syn perd’

F.W. Reitz

F.W. Reitz

Meyer van Rensburg se intensie met hierdie deel van die gedig is egter die volgende:

Louis Henri Meurant/Klaas Waarzegger

Louis Henri Meurant/Klaas Waarzegger

Wikipedia https://af.wikipedia.org/wiki/Klaas_Waarzegger verduidelik Meurant se ‘onbewustelike’ bevordering van Afrikaans. Meyer verduidelik in sy kommentaar op die blog soos volg: “‘Klasie wat die waarheid zeggen’, is ’n verwysing na ‘Klaas Waarzegger’. Klaas Waarzegger (19 Februarie 1811 – 29 Maart 1893) was die skrywersnaam van Louis Henri Meurant. Meurant was in die middel van die 19de eeu ’n drukker, joernalis en ’n onopsetlike bevorderaar van Afrikaans as taal”.

Die verwysing in die gedig na ‘hogen hout’ is voor die hand liggend.

CP Hogenhout

CP Hoogenhout

Die ‘drieman’ is ’n moontlike sinspeling op Louis Leipoldt se Uit drie wêrelddele (1923); hy was skoolarts in Londen, mediese skoolinspekteur in die Transvaal en later kinderarts in Kaapstad.

Louis Leipoldt

Louis Leipoldt

Die spesifieke intensie van die digter met die woord ‘drieman’ sluit egter nog twee digters in: Jan FE Celliers en Totius. Meyer se aanhaling uit JC Kannemeyer lui soos volg en kan ook in die kommentaar-gedeelte op hierdie blog gelees word:

Ek haal J.C. Kannmeyer aan: ‘Daarteenoor publiseer Celliers, Totius en Leipoldt reeds in die eerste tiental jare ná die Anglo-Boereoorlog hulle eerste bundels waarin daar poësie van besondere formaat voorkom. Heelparty Afrikaanse kritici het dan ook na hierdie drie digters as die Driemanskap verwys, ’n ongelukkige term omdat dit assosiasies met die drie Boereleiers (Kruger, Joubert en Pretorius) ná die Eerste Vryheidsoorlog het en omdat dit ’n hegte verband en gesamentlike optrede tussen die drie digters en hul poësie veronderstel wat die inherente verskille in aard en ingesteldheid uit die oog verloor’ (Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur; Academica, Pretoria, 1984).

Jan FE Celliers word opgeroep in ‘Janfrederik soen sy Martjie’, na aanleiding van Martjie (1911).

Jan FE Celliers

Jan FE Celliers

‘en langs die suikerbos en rand/vry visvanger ’n rosarum hartjie’ verwys na AG Visser wat met Suikerbosrand verbind word asook sy gedig, ‘Rosa Rosarum’ (Roos van die Rose).

AG Vsser

AG Visser

‘Die toon van die sangers’ is ’n verwysing na Toon van den Heever.

Toon van den Heever

Toon van den Heever

‘Haak-en-steek-besluit’ dui op Totius se gedig ‘Die Godsbesluit’ (82) terwyl ‘Tinktinkietaal’ na dieselfde digter verwys.

n Jong Totius

n Jong Totius

Jare terug skilder Meyer ‘n skildery wat op Totius se ‘Die wêreld is ons woning nie’ geskoei is:

Meyer van Rensburg.

Meyer van Rensburg.

’n ‘Zoeloeland-jandiederik’ aktiveer DJ Opperman wat in die Dundeese distrik gebore is en ook skoolgegaan het op ander dorpe in KwaZulu-Natal.

Opperman deur Philip Terblanche

Opperman deur Philip Terblanche

’n Piet-my-vrou wyk verder,
weg van die lou geykte lied,
beitel glad deur jaarringe,

Bogenoemde speel in op ‘wyk’: NP van Wyk Louw; ‘weg van die lou’ na sy digter-broer, WEG Louw en ‘beitel’ onder andere na die alombekende NP van Wyk Louw se ‘Die beiteltjie’.

NP van Wyk Louw

NP van Wyk Louw

WEG Louw

WEG Louw

‘Janblom’ is een van die meer ooglopende kodes: ‘n skryfpersona van Breyten Breytenbach.

Breyten Breytenbach

Breyten Breytenbach

In ’n resensie van Klankmanwoordboom skryf E.C. Britz (1983) oor die twee laaste reëls van ‘Stamboom’ soos volg: ‘Die digter vra homself uiteindelik af of hy as ‘janfiskaal’ (d.w.s. die voël wat al die ander opvreet) of as ‘luistervink’ (d.w.s. as blote volgeling van die tradisie) by ons sal ‘aanklank vind’.

Die feit dat die titel van die resensie lui, ‘Treffer in ou styl’, versterk vir die leser die gevoel van die Afrikaanse stamboom van digters; iets wat die taalkwessie by universiteite wat ons tans ondervind reaktiveer. Die kwessie van die literêre kanon kom ook ter sprake: wié is die Afrikaanse kanon en hóé is dit saamgestel in die loop van jare?

In ‘Versteende woord’ (16) word die beeldgebruik verder uitgebrei na die eg Afrikaanse milieu wat skakel met begrippe soos ‘moerland’, en ‘hartland’, alhoewel die bundel nege jaar voor Chris Barnard se roman, Moerland (1992) verskyn. ‘Baaierdland’ mag ook moontlik inspeel op die titel van Opperman se 1956-bundel, Blom en baaierd. Volgens die HAT (2015:71) beteken ‘baaierd’ onder andere ‘(1) ongevormde elemente waaruit die aarde ontwikkel het. (2) verstrengelde massa 2. (fig) warboel; chaos’. Die leser volg die innerlike chaos van die spreker: ‘hart koffiesak’; ‘swart moer’; ‘klipkil hartland’ en ‘bitter baaierdland’. Tog is daardie verlossende aspek van bogenoemde deur die ‘woordsteen’ en die digproses (‘suikerklontjie’; ‘blink kristal’, en ‘reënboog uit prismastreke’).

Herbore uit die lakens nes ’n slang vervel,
spoel ek my hart koffiesak uit
met, kaatsend in my hand,
’n suikerklontjie
uit die swart moer van ’n bitter baaierdland.

Die koue winterlig
verskerf teen die blink kristal
en gister vlam in warm stukke uit.

Jy, klein woordsteen
wat uit die verre suikerveld
oorbly in die asbestrooide grond,
haal baie bitter boeretroos
se dae uit my mond
en reënboog uit die prismastreke
my klipkil hartland oop.

In jou lig
staan ek verwese, teruggevoer,
voor my gesmelte suikerbrug
en my hart vol moer.

Die ‘baaierd’ herinner aan die volgende gedeelte in T.S. Eliot se ‘East Coker'(v:31):

[…] And so each venture
Is a new beginning, a raid on the inarticulate
With shabby equipment always deteriorating
In the general mess of imprecision of feeling,
Undisciplined squads of emotion […]

Talle ander gedigte skakel met die digter se Noord-Kaapse herkoms; die idee van wortelskiet; ook die jukstaposisie wat tussen Engels en Afrikaans geskep word: lank het die digter net Engels gepraat (‘Brits gesoog’), maar terselfdertyd het hy ook in Brits skoolgegaan.

Woordboom 1

Trek uit my woord
’n blokdiagram wat langbeen wys
hoe ek in houtskoolbanke
Engelse woorwaarde prys;
probeer dan stam en soort
bepaal deur analise van die klanke,
dring deur die vlees af na die pit,
die geraamte, wit
bevrees en biltongdroog:
’n Boerskelet wat, Brits gesoog,
op dertig begin wortelskiet
in diederik se roepgebied
(Afrika se wisselende windewyk
waar woorddele soos vrugte pryk).
Daar, tussen rotse aan die rand,
begin desibels Boerwees die doring dryf
om meters klank neer te skryf:
klink en kopuleer nou hier en daar
die klankboomwortels aanmekaar.

'Veldfire and aloes' . Meyer van Rensburg.

‘Veldfire and aloes’ . Meyer van Rensburg.

Die doring-motief word verder in die bundel uitgestippel en verleng deur die ‘enkeldoring’ of Acacia-robusta; snoei-metafore; Boer en Brit(s). Totius se ‘Daar het ’n doringboompie/ vlak by die pad gestaan’ (‘Vergewe en Vergeet’:47) word hier gereaktiveer en in ’n nuwe konteks geplaas. Totius se gedig is ook te sien by die Vrouemonument in Bloemfontein. Ter wille van spasie haal ek slegs sekere gedeeltes uit Van Rensburg se gedig aan:

Acacia Robusta of Enkeldoring.

Acacia Robusta of Enkeldoring.

Boom-Stam-Boom (27)
Vir Lorraine

(i)
Die penwortel vroetel-voel vir watervoeding,
druk dit osmoties na die kroon:
Acacia-robusta of enkeldoring
(soms Engelse doring genoem) vertoon
geel bloeiselballe en beenwit
dorings teen die Noord-Kaaplug:
bied skaduwee waar ek kan sit
maar stamdorings steek my ruweg in die rug.

(ii)
Van Prince Albert tot in Suid-wes
het my oupa met snoeiskêr en mes
bome ge-okuleer […]

(iii)
Maar die weefsels se Boerbloedvlam
groei oor letsels van die Engelse robuuste stam […]

'Piet Painter'. 'n Skildery wat Meyer van sy pa gemaak het.

‘Piet Painter’. ‘n Skildery wat Meyer van sy pa gemaak het.

‘Bittereinder’ (28) aktiveer die Anglo-Boereoorlog (tog net nié die Suid-Afrikaanse Oorlog nie!) wat weereens die stryd tussen Engels en Afrikaans uitspel. Let op die woord ‘kombuisuitskot’ en ‘gepuurde stam’. Hierdie gedig het ’n profetiese kwaliteit: dink aan duisende expats in die buiteland asook die verdrukking wat Afrikaans tans beleef. Tog neem die gedig ’n positiewe wending, wat dalk ook profeties mag wees: ‘die rebellie se vuur’, die ‘botsels’ en die ‘feniks’:

Uit my heilig-geagte grond
is ek wreed vir ’n ander losgeskeur,
my stam vertrap, my takke afgebeur.
Ek is verdruk, in depressie leeggebloei
en op die vullishoop sal dit boomskraap gaan,
maar stammaak my net voor ek stomp word
sodat ek ’n wortel tot by water kan roer,
sodat ek die rebellie se vuur weer voer
en soos ’n feniks
nuwe vlinderblare en botsels ontvou
om van meet af ’n gepuurde stam
uit kombuisuitskot te bou.

Gedigte soos ‘Snoeityd (30); ‘Noord-Kaap (31), ‘umNgamanzi’ (33) wat die enkeldoring se Zoeloenaam vergestalt en ‘Boom’ (34) is verdere voorbeelde van bogenoemde tematiek.
Die versugting na reën, iets wat die meeste van ons tans ondervind met die knellende droogte, word meesterlik in ‘Noord-Kaap’ uitgebeeld. Ek haal die laaste agt reëls aan:

Dorre Noord-Kaap, in drome
stoot die windpomp jou leivoorare
weer vol blinkende bloedwater-strome
en my hartkeerwal loop oor.
Ek ruik die voor-die-reën-kom-reuk
as die ploeglem deur jou sooie gaan
en ek wil weer jou rooikors breek
en kniediep in jou kluite staan.

'Veldfire and Aloes ii'. Meyer van Rensburg

‘Veldfire and Aloes ii’. Meyer van Rensburg

Laastens haal ek drie van Meyer se meer resente gedigte aan wat in die negentigerjare geskryf is voor hy geëmigreer het. Hy skryf die volgende oor hulle:

Die nuwe Afrikaanse gedigte is saamgevat in ‘n bundel met die naam Motsa wat uittog of eksodus beteken. (Ek wou dit eers ‘Ek sȇ dus:’Eksodus’ genoem het). Dit was geskryf voordat ek seker was dat ek oorsee sou kom, maar dit gaan juis daaroor. Dit het ook drie gedeelte : Eksodus (wat die geskiedenis van die Eksodus van toepassing maak op al die mense wat uit SA emigreer); ‘Uitspraak’ (wat weer met klank te doen het, maar die keer gaan dit oor ‘spraak’ en nie oor ‘hoor’ nie); en dan, laastens, ‘Uitgang’, wat weer terugkeer na die uitgang van mense uit SA uit.

Aftrede

Hy dink sy oudag in

bou ’n pensioenpensie op
sodat hy kan aftree daar agter
met jakopeweroë t’rug kan sit

om binnevet te eet
mooi bakvissies te beloer
wat oor die duine manna
en kwartel saans
die sardiens loop wulps in Durban
lê ka(a)lbas(sies) in die sand.

*

Eks. 18:5
‘Jetro, Moses se skoonpa, het met Moses se seuns en vrou
na hom toe gegaan waar hy kamp opgeslaan het’.

Na ’n lang stryd van lei
en stryd van haar met my

oor besnydenis en bloed
wat maande lankal woed

om middernag terwyl sy slaap
met my wat tussen bid en gaap

my omdraai om ’n nuwe lê te lê
(so baie antwoorde wil ek nog hê)

vat ek die punte van haar liggaam raak
en wonder oor U haar so anders maak.

*
Trek uit my woord

..
..
uit
hierdie
klein vertrek
moet woordwys
’n duister volk
verhuis

trek uit my woord
my kleinvolk
…gekopuleerde klinkers van my klankbord…
uit taai tradisieklou
wat verstaal
vas wil hou

trek uit
my Woord
hang
vasgehamer
hale oor
kaal blaaie
uitge(s)trek
want die
Groot Vertrek
verlang
dit so
..
..
.

Noord-Kaapse rooigrondpad

Noord-Kaapse rooigrondpad

My hartlike dank aan Meyer van Rensburg wat soveel materiaal (resensies, analise, foto’s, en so meer) aan my beskikbaar gestel en aan my toevertrou het. Mag die Woordman van die Noord-Kaap weer in Afrikaans begin droom.
En my ewige dank aan my digmentor wat Klankmanwoordboom vir my gestuur het.

Bibliografie
Brink, A.P. (ed). 2008. Groot Verseboek, Deel 1. Kaapstad: Tafelberg.
Britz, E.C. (1983). ‘Klankmanwoordboom. Treffer in ou styl’. Die Vaderland, 22 Desember 1983, 12.
Eliot. T.S. (1972). Four Quartets. Londen: Faber.
Handboek van die Arikaanse Taal. (2015). Kaapstad: Pearson.
Marais, D. (ed). 2009. As almal ver is. Suid-Afrikaners skryf huis toe. Kaapstad: Tafelberg.
Opperman, D.J. (ed). 1990. Senior Verseboek. Kaapstad: Tafelberg.
Van Rensburg, M. (1983). Klankmanwoordboom. Kaapstad: Human & Rousseau.

Wicus Luwes. Boetie in Zoeloeland

Saturday, July 25th, 2015

Daar moet ‘n rivier in wees. In die Apocalypse Now-fliek was dit die Nungrivier. In die Heart of Darkness-novelle was dit die Kongorivier. Hier by ons kan dit miskien die Apiesrivier wees, maar hierdie storie gaan nie oor Winston Churchill nie. Daar is natuurlik die Oranje-, Vaal en Limpoporivier om van te kies, maar terwyl ek na die kaart kyk val my oog op die Mhlathuze-rivier wat deur Zoeloeland kronkel. Die plantegroei in Zoeloeland herinner aan Apocalypse Now se Viëtnam.

Die springmielies staan vergete op die armlening van my rusbank terwyl ek  die begin/opening/aanvang van Apocalypse Now kyk.  Min flieks het ‘n meer treffende openingstoneel: Daar is die helikopter-rotors wat meesleurend die Viëtnam-bosse oopwaai en Martin Sheen se Kaptein Willard-karakter wat verward in ‘n hotelkamer op sy rug lê en kyk na die dakwaaier wat draai. The End van The Doors versterk die hipnotiese oomblik en dan … bars die napalm bomme en ruk die oerwoud aan flarde. Dit is die oomblik toe die lig vir my aangegaan het: Ek het besef dat ons ‘n Suid-Afrikaanse weergawe van Apocalypse Now nodig het. Ons het ‘n paar jaar gelede mos ‘n spoggerige weergawe van die Carmen-opera saamgestel met die U-Carmen eKhayelitsha invalshoek. Hollywood trek gereeld nuwe baadjies vir (ou) bekende flieks aan en probeer so seker maak dat hul winste gewaarborg is. Die Departement van Handel en Nywerheid sal sekerlik ‘n projek soos hierdie ernstig opneem, want die storie is mos al meer as een keer suksesvol vertel. Opvolg-flieks is ook ‘n veilige opsie en bied ‘n franchise-geleentheid in die kleine vir die wat daarin wil belê.

ENTER BOETIE

Dit is eintlik waar Boetie in die prentjie kom. Midde in die grensoorlog van die 1980’s het daar twee Suid-Afrikaanse films die weermaglewe probeer vasvang. Boetie op Manoeuvres en Boetie gaan Border toe was Arnold Vosloo se groot deurbraak. Deesdae speel hy natuurlik in groot Hollywood-produksies soos The Mummy. As Arnold Vosloo vir ‘n derde keer die rol van Boetie speel, is daar ‘n kans dat dit internasionale deure vir so ‘n Suid-Afrikaanse film oopmaak.

Boetie kan vir die sanitasie-afdeling van die weermag werk. Baie van sy makkers sal natuurlik in hierdie afdeling wees om toilette te was en skoon drinkwater te voorsien aan die weermag. Die sosiale element sal fokus op plekke waar mense weens die geskiedenis verdryf is. Dit sal mense wat deur die Mfecane-oorloë en die Sotho en San mense wat uit die Drakensberg deur die Zoeloe-oorloë verdryf is, insluit. (Xenofobie kom al ‘n lang pad.)

Apocalypse Now is ‘n grootskaalse verwerking van Heart of Darkness deur Joseph Conrad. Heart of Darkness vra moeilike vrae oor imperialisme en rassisme. Die bootvaart in Heart of Darkness op die Kongorivier word eintlik meer van ‘n morele reis tot diep in die psige van die mens. Apocalypse Now se bootvaart sit hierdie reis voort en die lyne wat reg en verkeerd voorstel vervaag en raak verstrengel terwyl die reis dieper die oerwoud invaar.

Boetie sal dieselfde vrae kry om te antwoord as verteenwoordiger van die ou en nuwe weermag. Die konteks van die vrae sal natuurlik plaaslik van toepassing moet wees en ‘n kykie moet gee op die mense aan die oewers van die Mhlathuze-rivier.

Die gedig hieronder deur TS Eliot verwys na Kurtz in Joseph Conrad se Heart of Darkness:

The Hollow Men

Mistah Kurtz-he dead
A penny for the Old Guy

I

We are the hollow men
We are the stuffed men
Leaning together
Headpiece filled with straw. Alas!
Our dried voices, when
We whisper together
Are quiet and meaningless
As wind in dry grass
Or rats’ feet over broken glass
In our dry cellar

Shape without form, shade without colour,
Paralysed force, gesture without motion;

Those who have crossed
With direct eyes, to death’s other Kingdom
Remember us-if at all-not as lost
Violent souls, but only
As the hollow men
The stuffed men.

II

Eyes I dare not meet in dreams
In death’s dream kingdom
These do not appear:
There, the eyes are
Sunlight on a broken column
There, is a tree swinging
And voices are
In the wind’s singing
More distant and more solemn
Than a fading star.

Let me be no nearer
In death’s dream kingdom
Let me also wear
Such deliberate disguises
Rat’s coat, crowskin, crossed staves
In a field
Behaving as the wind behaves
No nearer-

Not that final meeting
In the twilight kingdom

III

This is the dead land
This is cactus land
Here the stone images
Are raised, here they receive
The supplication of a dead man’s hand
Under the twinkle of a fading star.

Is it like this
In death’s other kingdom
Waking alone
At the hour when we are
Trembling with tenderness
Lips that would kiss
Form prayers to broken stone.

IV

The eyes are not here
There are no eyes here
In this valley of dying stars
In this hollow valley
This broken jaw of our lost kingdoms

In this last of meeting places
We grope together
And avoid speech
Gathered on this beach of the tumid river

Sightless, unless
The eyes reappear
As the perpetual star
Multifoliate rose
Of death’s twilight kingdom
The hope only
Of empty men.

V

Here we go round the prickly pear
Prickly pear prickly pear
Here we go round the prickly pear
At five o’clock in the morning.

Between the idea
And the reality
Between the motion
And the act
Falls the Shadow
– For Thine is the Kingdom

Between the conception
And the creation
Between the emotion
And the response
Falls the Shadow
– Life is very long

Between the desire
And the spasm
Between the potency
And the existence
Between the essence
And the descent
Falls the Shadow
– For Thine is the Kingdom

For Thine is
Life is
For Thine is the

This is the way the world ends
This is the way the world ends
This is the way the world ends
Not with a bang but a whimper.

 

Die vraag is egter waarheen ‘n ontnugterde soldaat se bootreis hom moet neem, want morele lesse is moeilik om uit te beeld in ‘n tyd dat die tradisionele siening van reg en verkeerd nie meer duidelik is nie. Kongo, Viëtnam en Suid-Afrika kyk elkeen op sy eie manier na hoe ideologieë by die area inpas. Die boot het die oewer om haar te wys waar om te vaar, maar die kaptein moet een of ander tyd die boot verlaat. Die missie waarop Boetie gestuur word sal, soos Kaptein Willard se missie, hoogs geheim wees. (‘n Mens wil mos nie die veiligheid van sleutelinstellings in gedrang bring nie.) Een opsie wat naby die Mhlathuze-rivier geleë is, is nogal baie in die nuus die afgelope tyd en begin met die letter N. Boetie kan na hierdie plek gestuur word om ondersoek in te stel, want daar is al so baie verslae oor die plek met die kodenaam N saamgestel, dat ‘n mens nie meer seker is wat om te glo nie. (Die tweede letter is K, maar dis die laaste letter wat ek op hierdie stadium van die onderhandelinge kan bespreek.) Die werkstitel vir die projek kan moontlik ‘Boetie in Zoeloeland’ wees.

Apocalypse Now het natuurlik ‘n paar ikoniese tonele wat moeilik verbeter sal word. Ek dink veral aan die toneel waar die hele strand gebombardeer word sodat ‘n soldaat in veiligheid branderplank kan ry. Dit is waarom oorlogsprente so relevant is, want normale dinge lyk absurd midde in ‘n oorlog en absurde dinge lyk normaal. Apocalypse Now is vol sulke absurditeite en ek wonder of Boetie in Zoeloeland ook dinge gaan doen wat absurd sal voorkom vir ‘n hedendaagse gehoor. Ek het die Redux-weergawe van Apocalypse Now (hoe die regisseur die film wou gehad het) ‘n paar jaar gelde gekoop, maar ek verkies steeds die loketweergawe. Kaptein Willard doen by ‘n paar ekstra plekke aan in die Redux weergawe. Een daarvan is ‘n tweede besoek aan Hugh Hefner se meisies en daar is ‘n onnodige liefdes-intrige agter muskietnette – albei tonele wat met rede uit die loketweergawe geredigeer is. Die redigeerder het gelukkig besef dat die stelling ‘minder is meer’ hier van toepassing is.

 

Muskietnette van Neptunus

deur Charl-Pierre Naudé

Daar trek ‘n windjie oor die baaidorp;
en die weiwolke in die noordweste
word in ‘n drukgang gejaag.

Onopsigtelik,
hoe die boodskappe aanmeld
oor die uitwissing wat kom.
Allereers, net geluid: ver windgeruis
en die angstige gekletter van voëltjies by ‘n bak,
die tink-tink van stukkies metaal.
‘n Fietsklokkie in ‘n binnehoffie,
gestreel deur die bries,
kla sag
soos ‘n baba se speelratel
in die beskutting van ‘n hals.

En skielik
is die son weg. Alle kleur word flets.
Die nukkerige wind vly sterker aan en smyt
‘n mandjie spatsels uit die bessieboom gestroop
teen ‘n muur vol ou vlekke uit.

Die groot hond gaan lê plat
en ootmoedig, bidsnoet op die grond,
soos ‘n sprinkaan.

Dan kom die reën, skielik,
in opgeskrikte vlae
wat die vlees kasty soos klitsgras.
En daai orkes is ook hier, wat in dinge slaap;
subatomies én omvattend.

Kineties besielde Von Karajantjies
ontwaak soos baboesjkapoppies
in die ruimteskippies
van die rond bliksemende akkertjies,
Met ‘n donderslag
val ‘n klavier uit ‘n boom
en die houtspaanders lê oral rond.

Dit reën. So moeilik om reën te beskryf.
Omdate reën verbygaan? Omdat jy
daardeur kan sien? Miskien al twee.
Maar ek kan probeer.
Die berging van herinnerings…
Die volgende onthou ek: hoe ek staan op die rand
van ‘n vallei wat voorheen ‘n opgaardam was
maar drooggeloop het sederdien.
En, skaars sigbaar, daar vér onder
is die hopie klip van ‘n eertydse huis,
ook die duidelike omtrek van ‘n buitmuur.
En klippe, ingemessel teen die oorkantste helling,
sê: God seën.

Mens kan probeer:
Vannag sal die reën om ons flapper
soos die muskietnette van Neptunus

in die stroom van die vergetelheid.
‘n Groot verhaal, van gode en mense, gaan sterf
want dit word deur die tye aan flarde geslaan.
En die somer het skaars begin…

In chaos word geskep
en in ligtende chaos herskep.

Nou stormreën di.
Tant Min van die plaas
wat nie meer bestaan nie
sit agter gaas op die oumensoord se stoep.
Dis sy wat smiddags laat vlieënde pierings sien
as tyd en tydloosheid saam uit die hand van die Here val.

En reg voor haar
tol terstond

die wasskottels met eende op geverf
met ‘n geskal in die straat af,

gelig uit ‘n tuin
deur die Musiek van die Sfere
en sonder genade daar uitgejaag

 

Die naam van Boetie se bestemming het twee A’s in en is ‘n seweletter woord. Dit is ‘n naam van ‘n bekende plek in Zoeloeland, maar dit is werklik die laaste leidraad. Die ironie van ‘n draaiboek is dat jy nooit weet waar die film werklik gaan eindig nie. Boetie sal dit miskien nie eers maak tot in kodenaam N nie. Die regisseur is nie noodwendig die redigeerder nie en die redigeerder bepaal hoeveel van die akteurs se toneelspel op die wit doek in teaters vertoon word. Dit sou lekker gewees het as die kykers van so ‘n film, soos die filmdoek, weer skoon en sonder merk na ‘n filmvertoning uit die teater kon stap.

Bronne:
1. Internet: http://allpoetry.com/The-Hollow-Men
2. Internet: http://www.arnoldvosloo-tribute.com
3. Naudé Charl-Pierre. 2014. Alo die lieflike dade. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers
4. Skermskoot uit Apocalypse Now deur Francis Ford Coppola

Desmond Painter. Vier koppies koffie in die vreemde

Thursday, August 19th, 2010

Dinge gaan op die oomblik maar stadig hier op my blog. Die rede: ek was nogal lanklaas vir ‘n volle week op kantoor. Augustus is afgeskop met drie dae in Durban. Daarna was ek vir twee dae betrokke by ‘n kongres in Stellenbosch; en die afgelope vier dae weer was ek in Pretoria om ‘n werkswinkel aan te bied by UNISA.

Dis ook nog nie die einde nie. Komende Maandag en Dinsdag is daar ‘n simposium oor ‘Theory in the South’ in Stellenbosch wat ek gelukkig genoeg is om te kan bywoon (Achille Mbembe is een van die genooide sprekers; ek het sy On the postcolony ‘n paar jaar gelede gekoop maar nog nooit die hele ding gelees nie), en volgende Vrydagaand vlieg ek Engeland toe om ‘n kongres in Southampton by te woon. Hopelik kan ek na al die opwinding (want dis lekker!) my gewone, lui akademiese roetine hervat en weer meer gereeld hier skryf. 

Verlede Maandagoggend sit ek in die Newscafe in Centurion en werk op my skootrekenaar. Toe ek moeg word van die manuskrip wat ek vir ‘n akademiese tydskrif moes beoordeel (‘n verslag wat natuurlik al weke laat was!) het ek deur die foto’s op my hardeskyf begin blaai. Ek besef toe dat ek ‘n gewoonte het om, wanneer ek reis, koppies koffie af te neem… Hierdie foto (hou vas: hier volg nou ‘n onsubtiele afwys van die voorregte en vergrype van ‘n tipiese akademiese toeris!) het ek in 2005 in Buenos Aires geneem:

Koffie in Buenos Aires

Koffie in Buenos Aires

Ek is mal oor sulke donker, houterige koffiewinkels. Hierdie een was in die woonbuurt Recoleta. Jy sal ook my vliegkaartjie sien en die pen waarmee ek verstommende gedigte mee wou skryf. Dit het natuurlik nie so gebeur nie, maar ek het nogtans in die drie dae wat ek daar was genoeg van Buenos Aires gesien om te besluit dat dit ‘n stad is waarnatoe ek wil terugkeer — volgende keer saam met Claire.

Die volgende koffie is iewers in Amsterdam gedrink — die foto is in 2007 geneem, maar ek kan nie mooi onthou waar dit is nie:

Koffie in Amsterdam

Koffie in Amsterdam

Ai, ek het daardie broodjie met kaas op impuls gekoop, en watter goeie idee was dit nie! Ek het seker vir ‘n uur of meer daar gesit en gekyk na die besige straat. Later daardie selfde jaar is ek Pole toe, en het ek hierdie koppie koffie, en verskriklik lekker koek, in die bergdorpie Zakopane genuttig:

Koffie in Zakopane

Koffie in Zakopane

Zakopane is in die suide, baie naby aan die grens tussen Pole en Slowakye. Ek het die foto vroeg in September geneem. Daar was al sneeu op die Tatrasberge en die lug was vars en skerp soos op sonnige wintersoggende in Stellenbosch. Ek het lang ente in die heuwels gaan stap, baie koffies gedrink, en toe verveeld geraak en teruggekeer na die wonderlike stad Kraków — of hoe ‘n mens dit ook al in Afrikaans sou spel. Daar het ek so amper-amper ‘n ‘regular’ geword by ‘n plekkie wat ek steeds beskou as een van die lekkerste koffiewinkels waarin ek al ooit was. ‘n Warm, gesellige ruimte voel hoekies en rusbanke, ‘n plek waar mens kan gesels en lees en wegkruip vir ‘n paar uur. Hier is een van die baie koffies wat ek daar gedrink het:

Koffie in Kraków

Koffie in Kraków

Daar is nog heelwat sulke foto’s op my hardeskyf, maar vier koppies koffie is seker darem genoeg vir ‘n enkele kuier! Dit is die soort reisfoto’s wat mens neem maar nie vir vriende en familie wys nie — wie sal nou belangstel om ‘close-ups’ van jou koppies koffie te sien?! En tog is dit hierdie soort foto’s, eerder as die van monumente en ander ‘tourist sites’, wat my hart die meeste raak, wanneer ek in later jare weer na hulle kyk. Soos T.S. Eliot geskryf het: ‘I have measured out my life with coffee spoons.’

Desmond Painter. Gubaidulina, Bach, Eliot

Thursday, May 27th, 2010

Alfred Schnittke en Sofia Gubaidulina is twee van die belangrikste Russiese komponiste van onlangse tye — oftewel, sedert die dood van Dmitri Sjostakovitsj in 1976.

Ek het Schnittke (1934-1998) ‘n jaar of wat gelede die eerste keer ontdek, en sedertdien is ek ‘n groot aanhanger van sy werk. Sy concerto vir altviool, sy klavierkwintet en sy eerste klaviersonate tel onder die mees opwindende musiek waaraan ek onlangs blootgestel is.

Sofia Gubaidulina

Sofia Gubaidulina

Meer onlangs (en tot my vreugde) het ek Gubaidulina (1931-) ook ontdek. Haar werk verras telkens met vreemde instrumente — en met vreemde kombinasies van instrumente. Daar is ook deurgans ‘n religieuse en mistiese kwaliteit in haar werk, iets wat haar, ten spyte van die soms radikale andersheid van haar klankwêreld, tog intiem verbind aan J.S. Bach. Haar Offertorium: Concerto vir Viool en Orkes, uit 1980, is byvoorbeeld gebaseer op ‘n tema uit Bach se bekende “Musikale Offergawe”.

Vanoggend — en dit is waarom ek oor haar skryf — luister ek egter na een van haar werke wat ingegee is deur ‘n meer direkte digterlike inspirasie: Hommage à T.S. Eliot, vir oktet en sopraan (1987). Die grootste deel van hierdie komposisie bestaan uit Gubaidulina se musikale “interpretasie” van Eliot se grootse siklus, Four Quartets; maar in drie van die sewe dele sing die sopraan wel toonsettings van kort gedeeltes uit “Burnt Norton”, “East Coker” en “Little Gidding”. Dit is ‘n aangrypende werk. Hier volg die gedeeltes uit Eliot wat gesing word:

 

Time and the bell have buried the day,

The black cloud carries the sun away.

Will the sunflower turn to us, will the clematis

Stray down, bend to us; tendril and spray

Clutch and cling?

 

Chill

Fingers of yew be curled

Down on us? After the kingfisher’s wing

Has answered light to light, and is silent, the light is still.

At the still point of the turning world.

(“Burnt Norton”, IV)

 

The chill ascends from feet to knees,

The fever sings in mental wires.

If to be warmed, then I must freeze

And quake in rigid purgatorial fires

Of which the flame is roses, and the smoke is briars.

The dripping blood our only drink,

The bloody flesh our only food:

In spite of which we like to think

That we are sound, substantial flesh and blood —

Again, in spite of that, we call this Friday good.

(“East Coker”, IV)

 

Sin is behovely, but

All shall be well…

 

And all shall be well and

All manner of things shall be well

When the tongues of flames are in-folded

Into the crowned knot of fire

And the fire and the rose are one.

(“Little Gidding”, III & V)

Brittanje se gunstelingdigters

Monday, October 12th, 2009
TS Eliot

TS Eliot

Na ‘n maandelange veldtog en 18,000 stemme om die mees gewilde digter in die Britse digkuns te bepaal, het die BBC verlede Donderdag tydens hul Nasionale Gedigtedag bekend gemaak dat TS Eliot die meeste stemme gekry het. Hy word gevolg deur John Donne, Benjamin Zephaniah (‘n rastadigter van Birmingam), Wilfred Owen, Philip Larkin, William Blake, WB Yeats, John Betjeman, John Keats en Dylan Thomas. Opvallende name wat ontbreek in dié lys van gunstelingdigters is uiteraard eietydse digters oos Seamus Heaney en Carol Ann Duffy (tans poet laureate); asook immergewilde digters soos Sylvia Path, Ted Hughes en WH Auden.

Die 3de plek wat Benjamin Zephaniah inneem, kom nogals vreemd voor aangesien die hele fenomeen van rastafariërs met hul gepaardgaande rap poetry a la Linton Kwesi Johnson in ons eie digkuns maar skaars is … Waarskynlik is die enigste voorbeeld wat ons hiervan het, die enigmatiese Jitsvinger (Quintin Goliath) uit die Kaapse Vlakte en Yabadaka Shamah, wie se verse in My ousie is ‘n blom (2006: Snailpress, saamgestel deur Charl-Pierre Naudé) opgeneem is. (Toegegee, die verse in die bloemlesing is waarskynlik nie die suiwerste voorbeeld van Yabadaka se rasta-gerigtheid nie, maar sy impromptu optrede tydens die Versindaba van daardie jaar was beslis onverdunde rap.) Aan die Engelse kant van die draad is daar natuurlik meer voorbeelde, met Lesego Rampolokeng as die onbetwiste kroonprins van die spoegpraters; soos Andries Bezuidenhout en ander wat by die onlangse Bekgeveg by WITS betrokke was, waarskynlik sou agtergekom het. Dié man is in ‘n klas van sy eie, vermoed ek. Veral wanneer hy musiek met sy voordrag begin kombineer …

Nietemin, as voorbeeld van Benjamin Zephaniah se digkuns volg daar ‘n vers, Dis poetry, heelonder. Maar is dit?! Persoonlik wil ‘n mens amper binnebeks grom: Dis g’n poetry. Of wat praat ek nou?!

***

Ten slotte – nuwe toevoegings sedert Vrydag op die webblad is Carl-Pierre Naudé se inskrywing wat hy in reaksie op Neville Alexander en Gerrit Brand se deelname aan die pasafgelope Roots-kunstefees geplaas het; ook Andries Bezuidenhout se entoesiastiese vertelling van hoe plesierig Oopmond inderdaad was terwyl Johann Lodewyk Marais wat weer vra of die Afrikaanse digkuns dalk te moeilik is.

Mmm, lekker lees en geniet die week wat op hande is …

Mooi bly.

LE 

Dis poetry

Dis poetry is like a riddim dat drops
De tongue fires a riddim dat shoots like shots
Dis poetry is designed fe rantin
Dance hall style, big mouth chanting,
Dis poetry nar put yu to sleep
Preaching follow me
Like yu is blind sheep,
Dis poetry is not Party Political
Not designed fe dose who are critical.
Dis poetry is wid me when I gu to me bed
It gets into me dreadlocks
It lingers around me head
Dis poetry goes wid me as I pedal me bike
I’ve tried Shakespeare, respect due dere
But did is de stuff I like.

Dis poetry is not afraid of going ina book
Still dis poetry need ears fe hear an eyes fe hav a look
Dis poetry is Verbal Riddim, no big words involved
An if I hav a problem de riddim gets it solved,
Iove tried to be more romantic, it does nu good for me
So I tek a Reggae Riddim an build me poetry,
I could try be more personal
But you’ve heard it all before,
Pages of written words not needed
Brain has many words in store,
Yu could call dis poetry Dub Ranting
De tongue plays a beat
De body starts skanking,
Dis poetry is quick an childish
Dis poetry is fe de wise an foolish,
Anybody can do it fe free,
Dis poetry is fe yu an me,
Don’t stretch yu imagination
Dis poetry is fe de good of de Nation,
Chant,
In de morning
I chant
In de night
I chant
In de darkness
An under de spotlight,
I pass thru University
I pass thru Sociology
An den I got a dread degree
In Dreadfull Ghettology.

Dis poetry stays wid me when I run or walk
An when I am talking to meself in poetry I talk,
Dis poetry is wid me,
Below me an above,
Dis poetry’s from inside me
It goes to yu
WID LUV.

(c) Benjamin Zephaniah