Posts Tagged ‘TT Cloete’

Marilyn Monroe as digter

Monday, May 10th, 2010
Marilyn Monroe

Marilyn Monroe

Met haar platinumblonde hare en uurglaslyfie het Marilyn Monroe haar gevestig as een van die mees herkenbare ikone van die vorige eeu. En natuurlik het haar goedbeplande loopbaan - gepaardgaande met opspraakwekkende “skandes” in haar privaatlewe - daartoe bygedra om haar openbare beeld nie net as “seksbom” te vestig nie, maar ook as die prototipe van die “dom blondine”.

Volgens ‘n berig in The Guardian gaan dié persepsie egter teen die einde van die jaar aan flarde geskeur word wanneer die uitgewery Farrar, Straus and Giroux in samewerking met Editions du Seuil in Frankryk haar nagelate dagboek in Oktober publiseer. Volgens die persverklaring bevat Fragments egter nie net dagboekstukke nie, maar ook gedigte en filosofiese beskouiings wat sy nooit gepubliseer het nie en wat grootliks daartoe gaan bydrae om die intellektuele en emosionele geskakeerdheid van dié ikoon ten toon te stel. “It helps to illuminate her character and gives her an intellectual and literary substance that many people did not suspect,” het Bernard Comment, redakteur by Editions du Seuil, aan Reuters gesê.

Blykbaar was dié stukke geskryf vanaf haar tienerjare tot en met haar (vermoedelike) selfmoord in 1962. Sy het dit aan haar leermeester en vriend, Lee Strasberg, nagelaat wat dit weer op sý beurt aan sy vrou, Anna, nagelaat het wat nou besluit het om dit vir publikasie voor te lê.

“She was a great reader and someone with real writing flair. There are fragments of poetry that are really quite beautiful, lines that stop you in your tracks.” Aldus Courtney Hodell van die Amerikaanse uitgewery se kommentaar aan Associated Press, en bygevoeg dat dit duidelik uit die melancholies-geskrewe stukke blyk dat die skryf van gedigte vir Monroe ‘n terapeutiese gegewe was: “I think that not only did she enjoy [it], but she also felt the need [to write], to sort out her life and try to put down the extremely acute feelings that she could have in reaction to certain situations.”

Ongelukkig kon ek nog geen van die gedigte op die internet opspoor nie. Daarom plaas ek vir jou leesplesier T.T. Cloete se beroemde gedig “Marilyn Monroe foto in blou” hier onder.

***

Vanoggend is daar twee nuwe vertalings in die vertaalkamers deur Daniel Hugo met verse deur onderskeidelik Gerrit Komrij en Herman de Coninck. Beide verse is opgeneem in die gepubliseerde vertalings “Die elektries gelaaide hand” (Komrij) en “Die lenige liefde” (De Coninck). Nog ‘n besonderse toevoeging is ‘n nuwe gedig, “Via Dolorosa, deur Joan Hambidge. Dan het Lewies Botha ‘n nuwe blog-inskrywing oor die mense wat jy ontmoet, geplaas en Desmond Painter twee: een oor die ontmoeting tussen Robert Pinsky en Bruce Springsteen en een met nog ‘n droedelende vers deur hom.

Lekker lees en mag dié week klipvry verloop.

Mooi bly.

LE

 

Marilyn Monroe foto in blou
T.T. Cloete

een jonge dame draagt haar lippen op haar mond - Pierre Kemp

volskaamte skrylings sit Marilyn Monroe
in ‘n volstrek
leë blou
ruim vertrek

die spanbroek van plooilose blou materiaal
is ‘n vliesdun vel
wat alles wat binne is kaal
na buite egalig sag gestrek nerfeus vertel

asof dit by alles pas
- die kop hang geluidloos effens laggend agteroor -
hou sy ‘n leë glas in die linkerhand vas
wie luister kan goed in die volstrekte stilte hoor
hoe skaamtegroot die lippige mond
oop lag pront
pruilend nat rooi rond
gewelf soos ‘n gekoesterde soet kriewelige wond

vir die nakende detail in die bygesprek
- met ‘n omweg kan bysake die aandag trek
op hoofsake - is slegs die een skoen uitgetrek
elke besonderheid is op sy plek

deur die volstrekte stilte heen hoor groot
praat die deurgefluisterde skoot
oop en bloot
nakont vlesig groot

wat gloei onder die vals-egte dubbele huid
juig deur alle lippe en wange uit
dat dit tuit dat dit tuit
uitjubelend gierig uitnodigend uit

vrouwees Simone de Beauvoir
is deur huid en deur haar
oop en openbaar
gekleed sigbaar

oog en oor laat hulle nie bedrieg nie
huid en haar weet nie van lieg nie

 

(c) T.T. Cloete

  

 

Milosz se ars poetica

Tuesday, April 13th, 2010

Johann de Lange se insiggewende artikel, ‘God se ars poetica’ (op Kaapse Paragrawe) spoor my aan om Cloete weer aan te durf… wel, een van die dae. Vir eers (soos gereelde lesers sou agterkom) verlustig ek my vir ‘n slag weer aan Czeslaw Milosz se gedigte. Ek het laasweek ‘n strofe of twee uit sy Ars poetica? aangehaal. Hier volg nou die volledige gedig:

 

Ars Poetica?

I have always aspired to a more spacious form
that would be free from the claims of poetry or prose
and would let us understand each other without exposing
the author or reader to sublime agonies.

In the very essence of poetry there is something indecent:
a thing is brought forth which we didn’t know we had in us,
so we blink our eyes, as if a tiger had sprung out
and stood in the light, lashing his tail.

That’s why poetry is rightly said to be dictated by a daimonion,
though its an exaggeration to maintain that he must be an angel.
It’s hard to guess where that pride of poets comes from,
when so often they’re put to shame by the disclosure of their frailty.

What reasonable man would like to be a city of demons,
who behave as if they were at home, speak in many tongues,
and who, not satisfied with stealing his lips or hand,
work at changing his destiny for their convenience?

It’s true that what is morbid is highly valued today,
and so you may think that I am only joking
or that I’ve devised just one more means
of praising Art with thehelp of irony.

There was a time when only wise books were read
helping us to bear our pain and misery.
This, after all, is not quite the same
as leafing through a thousand works fresh from psychiatric clinics.

And yet the world is different from what it seems to be
and we are other than how we see ourselves in our ravings.
People therefore preserve silent integrity
thus earning the respect of their relatives and neighbors.

The purpose of poetry is to remind us
how difficult it is to remain just one person,
for our house is open, there are no keys in the doors,
and invisible guests come in and out at will.

What I’m saying here is not, I agree, poetry,
as poems should be written rarely and reluctantly,
under unbearable duress and only with the hope
that good spirits, not evil ones, choose us for their instrument.

Vroue van Vermeer

Monday, March 15th, 2010

Dit is hoogtyd dat ek ook ‘n bydrae lewer tot hierdie maand se blogfokus. Teoreties het ek nie veel oor die onderwerp te sê nie, dus wil ek nie méér doen as om bloot in die komende dae ‘n aantal beeldgedigte hier te plaas wat op verskillende maniere tot my spreek nie.

Die eerste gedig wat ek wil plaas is deur T.T. Cloete. Dit handel oor een van my gunstelingskilders, Johannes Vermeer. Ek moet dalk begin deur te sê (te bieg, eintlik) dat ek oor die algemeen nie ‘n groot aanhanger van Cloete se poësie is nie. Dit is nie dat ek nié van sy werk hou nie, of dat ek dink dit is van mindere kwaliteit nie. Inteendeel, ek is heeltemal onder die indruk van sy groot talent en die belangrikheid van sy digterskap binne die konteks van die Afrikaanse poësie. Daarvan hoef ek darem nie oortuig te word nie.

T.T. Cloete

T.T. Cloete

Dit is net dat ek nog nooit by die lees van Cloete daardie onmiddelike resonansie ervaar het wat my ervaring van sekere ander digters, skrywers en komponiste se werk kenmerk en (vir my) spesiaal maak nie. Anders gestel, Cloete beïndruk my, maar ek het nog nooit op ‘n meer emosionele vlak vir hom ‘geval’ nie. Dit is nou maar net so: sekere digters spreek jou op bepaalde fases van jou lewe direk aan, en dit het min te make met hoe toeganklik of onmiddelik verstaanbaar hulle gedigte is. Miskien, wie weet, lê ‘n meer betekenisvolle encounter met T.T. Cloete nog vir my voor. Ek hoop so.

Natuurlik is daar individuele gedigte van Cloete wat tot my spreek. Sy ‘Vroue van Vermeer’ (uit Driepas, 1989), byvoorbeeld, is beslis een van my gunsteling beeldgedigte in Afrikaans. Dit is soveel meer as bloot ‘n digterlike beskrywing van ‘n skildery (of, in hierdie geval, skilderye). Dit is niks minder nie as ‘n kunshistoriese besinning in versvorm; ‘n meesterlike interpretasie en ontsluiting van die samespel van temas, tegnieke en effekte in Vermeer se skilderye:

 

Vroue van Vermeer

Dit is meestal ‘n mooi jong vrou.

Meestal is sy alleen binnenshuis,

dalk met ‘n wit veraf brief wat sy vashou,

naby, in ‘n gloeiende klein hand

voor ‘n kleiner of groter oop

venster. Daar kom ‘n ligte geruis

van ‘n wêreld aan uit ‘n land-

of groter wêreldkaart

wat teen die muurvlak oorkant

hang, daar waar seestrome en wind loop

met haar land se ganse skeepvaart.

Sy staan, sy sit, sy buk oor kant,

sy droom of sluimer

in lig wat in vlokkies of korrels brand

of dof kaats in die ruimer

ruimte van ‘n skildery of spieël of in ‘n wynhouer

ivoor maak, of sy speel klavesimbaal

of sy loer oor haar skouer

en dra ‘n sonnende pêrel teen haar nek

se skadu. En altyd is daar lig wat áfstraal

ín in die liefs klein afgemete vertrek,

oorvloedig, uit die oop grote

universum en wat die klein aardse geslote

stilte in die onmeetlike laat asemhaal.

 

Donker tye vir Britse boekhandelaars

Wednesday, February 17th, 2010
Bedreigde spesie

Bedreigde spesie

Daar is inderdaad min bedrywe ter wêreld waar die belange van alle rolspelers so verweef is met mekaar soos dit in die boekbedryf die geval is. Daarom dat enige boekhandelaar met kriewelende nekhare en ‘n lastige gejeuk in sy kieliebakke die volgende berig op The Guardian se webblad sal lees.

Volgens hul beriggewing het die Britse Booksellers Association bekend gemaak dat 102 onafhanklike boekwinkels hul deur finaal gesluit het in 2009. Dit verteenwoordig ‘n daling van 27% in die aantal onafhanklike boekwinkels. Die twee vernaamstes onder dié groep wat gesluit het, is Murder One, ‘n boekhandel wat in misdaadfiksie gespesialiseer het, en Kaydee Bookshop wat 60 jaar in bedryf was en in 1992 nog vereer was as die beste onafhanklike boekhandel in Engeland.

Dit is egter nie net die onafhanlike boekwinkels wat deur die negatiewe bedryfsfaktore geaffekteer word nie. Borders, met sy 45 takke landwyd, is verlede jaar onder kuratorskap geplaas, terwyl Waterstone’s bekend gemaak het dat hul verkope in die kritieke Kersfees-mark met 8.5% afgeneem het in vergelyking met die vorige jaar.

“The current economic climate is undeniably tough and the book retail sector is suffering across the board,” het Meryl Halls, voorsitter van die Booksellers Association’s gesê. Sy het ook ‘n beroep op boekliefhebbers gedoen om die onafhanklike boekwinkels te ondersteun aangesien hulle, ten spyte van ‘n stryd om oorlewing “continue to deliver an outstanding service - knowing the books they recommend and sell, knowing their customers, focusing on things that the deep price cutters can’t offer and running fantastic and value-adding events. These booksellers are at the centre of their communities but, as with all retailers, they need to be supported in order to survive.”

Op die Booksellers Association se webblad is daar ‘n paar riglyne uiteengesit ten einde dié krisis hok te slaan; onder andere dat die voorbeeld van die Nederlandse en Sweedse boekwinkels gevolg moet word deur meer gesamentlike projekte van stapel te stuur.

De Papieren Man het juis in n verwante berig verslag gedoen van ‘n 10% styging in omset en 5.8% meer boeke wat verkoop is verlede jaar in de Vlaamse boekwinkels; merendeels te danke aan ‘n “stormloop” vir kook- en kinderboeke. Ook vertaalde romans deur twee megaverkopers, Stieg Larrson en Stephenie Meyer, het gehelp dat ‘n silwer randjie om dié rosige wolk sigbaar bly.

*** 

Vanoggend lê die webblad omtrent tot teen die balke gestapel met nuwe inhoud. So is daar die vier manjifieke artikels oor die digterskap van TT Cloete wat ons van Tydskrif vir Geesteswetenskappe ontvang het vir plasing, naamlik die artikels deur Heilna du Plooy, Rensia Robinson, Hein Viljoen en Johann Lodewyk Marais. Ook het ons ‘n uitgebreide onderhoud met TT Cloete opgespoor wat verlede jaar opgeneem is en oor die bestek van 15 videos beluisterkyk kan word. Aan die blogkant van sake is daar nuwe plasings deur Andries Bezuidenhout, Philip de Vos, Johann Lodewyk Marais en Ilse van Staden, asook twee nuwe gedigte deur Danie Marais.

En ja, ten slotte is daar die ding wat ek nie langer kan ontken nie. Ek het ‘n nuwe digbundel gepleeg en dit is gister by die winkels afgelewer. Soos gebruiklik plaas ons ‘n onderhoud om die geleentheid te vier. Lees dus gerus die onderhoud wat Andries Visagie met my gevoer het. By Publikasies kan meer inligting oor “wat die water onthou” gevind word.

Lekker lees en skryf tog maar ‘n brief vir Brieweboks oor jou gunsteling liefdesvers(e)? Die tyd raak min om te kwalifiseer vir vandeesmaand se boekprys …

Mooi bly.

LE

 

 

Johann Lodewyk Marais. Charles Darwin, die natuurwetenskappe en die verwondering in TT Cloete se poësie

Tuesday, February 16th, 2010

(Hierdie artikel het oorspronklik in Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 49 No. 4: Desember 2009 as deel van die Spesiale huldigingsuitgawe vir T T Cloete verskyn en word geplaas met die vriendelike vergunning van die redaksie.)

Johann Lodewyk Marais

Johann Lodewyk Marais

Charles Darwin, die natuurwetenskappe en die verwondering in T T Cloete se poësie

Charles Darwin, the natural sciences and wonderment in the poetry of T T Cloete

JOHANN LODEWYK MARAIS

Eenheid vir Akademiese Geletterdheid, Universiteit van Pretoria

 

 

 

JOHANN LODEWYK MARAIS studeer aan die Universiteit van Pretoria waar hy in 2001 ‘n Dlittgraad vir sy proefskrif oor Eugène N Marais se wetenskaplike prosa verwerf. Hy het vroeër onder meer ‘n MA-graad (cum laude) oor opleiding in skeppende skryfwerk aan dieselfde Universiteit behaal. Tans is hy ingeskryf vir ‘n Dphil (Geskiedenis)-graad oor internasionle reiseliteratuur oor Kenia sedert 1963. Marais debuteer as skeppende skrywer met die digbundel Die somer is ‘n dag oud (1983), waarvoor hy die Ingrid Jonker-prys kry. Hy skryf nog ses bundels, naamlik Palimpses (1987), By die dinge (1989), Verweerde aardbol (1992), Aves (2002), Plaaslike kennis (2004) en Diorama (2010). Hy stel ook drie digbundels saam, naamlik Groen: Gedigte oor die omgewing (1990), Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997, saam met die Amsterdamse digter en letterkundige Ad Zuiderent) en Honderd jaar later: Ter viering van die publikasie van Eugène N. Marais se “Winternag” op 23 Junie 1905 (2006). In 2003 verskyn sy eerste prosawerk, naamlik Lae wolke oor Mosambiek: ‘n Reisboek. Marais het ook talle artikels oor sosiale navorsing en die literatuur geskryf en is hoofredakteur van die tydskrif Ensovoort.  JOHANN LODEWYK MARAIS studied at the University of Pretoria where he obtained a Dlitt degree for his thesis on the scientifi c prose of Eugène N Marais. Earlier he had also obtained an MA degree (cum laude) on training in creative writing at the same University. He is currently enrolled for a DPhil (History) degree on international travel literature on Kenya since 1963. Marais made his debut as a creative writer with his volume of poetry Die somer is ‘n dag oud (1983), for which he received the Ingrid Jonker Prize. He wrote six more volumes of poetry, namely Palimpses (1987), By die dinge (1989), Verweerde aardbol (1992), Aves (2002), Plaaslike kennis (2004) and Diorama (2010). He also compiled three volumes of poetry, namely Groen: Gedigte oor die omgewing (1990), Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997, in collaboration with the Amsterdam poet and literary critic Ad Zuiderent) and Honderd jaar later: Ter viering van die publikasie van Eugène N. Marais se “Winternag” op 23 Junie 1905 (2006). His first work of prose, Lae wolke oor Mosambiek: ‘n Reisboek, was published in 2003. Marais is also the author of numerous articles on social research and Afrikaans literature and at present he is the editor-in-chief of the journal Ensovoort.  

 

 

 

ABSTRACT

Charles Darwin, the natural sciences and wonderment in the poetry of T T Cloete

 

As a result of his keen (although lay) interest in natural science, Charles Darwin (1809-1882) agreed to serve as “unpaid gentleman’s companion” to the captain of the HMS Beagle during its voyage from 1831 to 1836. Darwin’s observations during the journey (especially those made on the Galápagos Islands across from the coast of Ecuador) inspired him to formulate a controversial theory on the evolution of species, which he published as The origin of species in 1859. Two hundred years after Darwin’s birth and a hundred and fifty years after the publication of his epoch-making work, Darwin is still being widely discussed, revered and denigrated.

Evolution theory elicits divergent reactions world-wide. It has led to a major shift in scientific beliefs and it has impacted strongly on various aspects of scientific and religious thought, makinga decisive contribution in the field of the natural sciences. The consequences of the application of evolution theory are felt to this day, even in fields as “unrelated” to natural science as the field of literature. This article will therefore relate how evolution theory came into being and subsequently investigate how it is reflected in a number of texts in Afrikaans literature. However, the poetry of an eminent Afrikaans poet, T T Cloete (1924-), who celebrated his eighty-fifth birthday in 2009, will be the main focus of this contribution.

In Cloete’s poetry, nature and natural science are dominant themes. The poet is so well-read in these that a poet, Daniel Hugo, once remarked that “[t]e veel van sy verse lyk na berymde artikels uit die National Geographic” [too much of his poetry looks like rhymed articles from the National Geographic]. However, a careful study of Cloete’s poetry shows how he skilfully uses the tools of poetry to establish surprising connections. Also striking is the way in which he introduces religious and specific Christian perspectives in his poetry, unashamedly confessing to his Christian beliefs and verbalising the “Godsopenbarende kwaliteit van die dinge eksplisiet of implisiet” [God-revealing quality of the objects explicitly or implicitly] (Bernard Odendaal). H Ohlhoff summarises this skill by saying that Cloete does not shy away from the exact sciences, “maar hy het die gawe om dit literêr om te skep, te verwerk en uiteindelik ook in ‘n veel wyer verband, dié van God se werksaamheid in die skepping, te plaas” [but he has the gift to recreate it in literature, to adapt it and eventually also place it in a much wider context, that of God's activity in creation].

Studies by M E Bosman and Bernard Odendaal have already shown that Cloete’s religious perspective is much less traditional than that of a poet such as Totius (pseudonym for J D du Toit), even challenging some religious premises and prompting the reader to think anew. Some of the important themes in the natural sciences that have led to vehement debates and influenced and/or changed people’s world-views dramatically over the last 150 years, are evolution theory and theories about the origin of the cosmos and life on earth. Debates about these radical and influential scientific perspectives are continuing and have resulted in vigorous polemics (e.g.about creationism) as was reflected in the Afrikaans media during the Darwin celebrations in 2009.

Cloete’s poetry does not shy away from inter alia “controversial scientific subjects” in a number of poems, and he contemplates the origin of creation and the development of life on earth. The reader is led to consider Cloete’s views on creation and evolution. In this article the emphasis will be on the role of evolution in Cloete’s poetry and how he uses a well-known observation by one of the main exponents of evolution theory in one of his poems, “toegedig aan Alfred R. Wallace”, to present a text that expresses wonderment at a natural phenomenon.

 

KEY WORDS: Charles Darwin, HMS Beagle, Galápagos Islands, The origin of species, Alfred Russel Wallace, evolution, birds of paradise, T T Cloete, Afrikaans poetry, amazement

 

TREFWOORDE: Charles Darwin, HMS Beagle, Galápagos-eilande, The origin of species, Alfred Russel Wallace, evolusie, paradysvoëls, T T Cloete, Afrikaanse poësie, verwondering

 

OPSOMMING

 

In T T Cloete se digbundels is sy belangstelling in die natuur en die natuurwetenskappe dominante temas. Die digter is besonder belese in veral die eksakte en biologiese wetenskappe. ‘n Studie van Cloete se poësie toon hoedat hy sy wye kennis vernuftig met die hulpmiddels van die poësie orden en verrassende verbande aantoon. Opvallend is ook die wyse waarop hy ‘n religieuse en spesifiek Christelike perspektief in sy poësie aan die orde stel en onbeskaamd as belydende Christen skryf. Studies het reeds aangetoon dat Cloete se religieuse perspektief veel minder tradisioneel as dié van ‘n digter soos Totius is en selfs sommige aanvaarde religieuse opvattings uitdaag en die leser tot nadenke stem. Die evolusieleer het die afgelope 150 jaar tot hewige debatvoering gelei en die mens se wêreldbeeld ingrypend beïnvloed en/of gewysig. Debatvoering oor hierdie radikale en invloedryke wetenskaplike perspektief duur voort en lei steeds tot hewige polemiek (bv. oor die kreasionisme). Cloete skram nie weg van hierdie onderwerpe nie en in heelparty gedigte besin hy oor die ontstaan van die skepping en die ontwikkeling van lewe op aarde.

 

1. KONTEKSTUELE AGTERGROND

 

1.1 Die invloedrykste Britte van die vorige millennium

 

‘n Opname wat aan die begin van 1999 deur die British Broadcasting Corporation (BBC) gemaak is om vas te stel wie beskou word as die invloedrykste mense wat Brittanje die vorige millennium opgelewer het, het met interessante name vorendag gekom en dit rondom die eeuwisseling bekend gemaak.

Heel boaan die lys was, soos half te verwagte was, die Engelse dramaturg en digter William Shakespeare (156-1616), wat sekerlik as een van die grootste figure van die Westerse kultuur beskou kan word. Tweede is Winston Churchill (1874-1965), die Britse staatsman wat as eerste minister die land suksesvol deur die Tweede Wêreldoorlog gelei het. Derde is Oliver Cromwell (1599-1658), die “Lord Protector”, wat in Brittanje stabiliteit ná die burgeroorlog gebring en ‘n groot bydrae tot die ontwikkeling van ‘n konstitusionele regering en godsdienstige verdraagsaamheid gelewer het. Vierde op die lys is die negentiende-eeuse natuurkundige en grondlegger van die evolusieleer, Charles Darwin (1809-1882). ‘n Persoon wie se naam ‘n mens ook hoog op so ‘n lys sou verwag, naamlik Isaac Newton (1642-1727), die natuur- en wiskundige wat die beweging van hemelliggame kon verklaar en die reëls van swaartekrag geformuleer het, se naam verskyn na dié van Darwin.

Hierdie soort lyste of meningspeilings het waarskynlik beperkte waarde en is geneig om partydig ten gunste van die onlangse verlede te wees. “Het Hendrik VIII nie ‘n groter invloed as Winston Churchill gehad nie?” het ‘n kollega opgemerk toe ek van die BBC se opname vertel en die lysie name opgenoem het. “Sy rol in die totstandkoming van die Protestantse Kerk in Brittanje was geweldig groot.” Dat die naam van Darwin so prominent op hierdie lys verskyn, kom egter nie as ‘n verrassing vir enigiemand met slegs ‘n geringe mate van kennis van wat met die biologiese wetenskappe en die Westerse mens se wêreldbeeld sedert die publikasie van sy epogmakende werk, The origin of species, in 1859 gebeur het nie. Hoe invloedryk Darwin en die evolusieleer was en nog steeds is, sal kursories in hierdie artikel aangetoon word deur spore daarvan in die Afrikaanse literatuur in die algemeen en in T T Cloete se poësie in die besonder aan te toon.

 

1.2 Die betekenis van Darwin en die evolusieleer

 

Vandag kan ons onomwonde verklaar dat Darwin altyd met die evolusieleer vereenselwig sal word. Sy naam in die geskiedenis is as ‘t ware in klip geskryf. Darwin se lewe en werk is dan ook ‘n belangrike baken in die natuurkundige geskiedenis, maar eintlik behels sy plek veel meer as dit. Elke jaar verskyn daar steeds talle nuwe studies oor sy lewe en werk - asook oor ander persone wat tot die vestiging van die evolusieleer bygedra het - en die implikasies en betekenis van die debat oor die evolusieleer. ‘n Mens hoef maar net ‘n besoek te bring aan die boekwinkels van die Natural History Museum in Londen, die Transvaal Museum in Pretoria of die Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad om te sien hoe groot die belangstelling in Darwin se werk nog steeds is en hoe dit gepopulariseer word. Die ellelange lyste van publikasies oor Darwin en die evolusieleer wat deur ‘n Internetboekwinkel soos amazon.com aangebied word, is eweneens verstommend. In 2009 was daar bowendien ‘n vloedgolf nuwe publikasies, wat die voortgesette belangstelling in Darwin en sy werk bevestig. Dit is veral die historiese betekenis van Darwin se evolusieleer wat van groot belang is, al is sy opvattings sedertdien deur talle navorsers verbeter en verfyn. Daar is egter ook heelwat ander insigte in sy oeuvre van altesaam negentien boeke en uitgebreide korrespondensie wat die toets van die tyd deurstaan het. Die antropoloog en bioloog Mark Ridley (1994:2) vat dit soos volg saam:

His theoretical ideas have been of profound historical importance; and they are so modern

in conception that biologists are recurrently surprised, on their first encounter, by the relevance

of Darwin’s writings to their work today.

Die rigting waarin die biologiese wetenskappe sedert die tyd van Darwin beweeg het en die sosiale verandering wat dit teweeg gebring het, is inderdaad ondenkbaar sonder hom. Maar sy invloed, en dié van tydgenote soos Alfred Russel Wallace (1823-1913),1 die mede-opsteller van die evolusieleer, en TH Huxley (1825-1895)2 of “Darwin’s bulldog”, wat met sy strydvaardigheid gehelp het om hierdie leer te populariseer en agnostisisme te bevorder, kon nie tot die natuurwetenskappe beperk bly nie. Dit het vorm gegee aan die moderne Darwinistiese perspektief, wat heel dikwels teenstrydig met godsdienstige opvattings is.

 

2. METODOLOGIE

 

In hierdie artikel sal ‘n oorsig gegee word van die gebeure wat die publikasie van Darwin se The origin of species voorafgegaan het. Daarna sal kortliks aandag gegee word aan die reaksie op die publikasie van hierdie boek. Die neerslag van die gesprek oor Darwin in ‘n aantal tekste sal ook aandag geniet, om daardeur aan te toon watter gesprekke daar tans oor hierdie onderwerp gevoer 1 Kyk George (1964) en Williams-Ellis (1966). 2 Kyk Desmond (1998).  (kan) word en hoe relevant dit is vir die tyd waarin ons lewe. ‘n Ingeligte, kritiese gesprek oor Darwin en sy werk kan in ons wetenskaplike en tegnologiese era van groot waarde wees.

Opvallend in Darwinistiese literatuur is die voortgesette belangstelling in die “verhaal” (hoe bekend dit ook al is) van Darwin se lewe en werk. In hierdie artikel word derhalwe oorsigtelik aandag gegee aan die agtergrond tot Darwin se loopbaan en invloede wat op hom ingewerk het, sy reis op die HMS Beagle en veral sy besoek aan die Galápagos-eilande waar hy betekenisvolle waarnemings gemaak het, sy ontwikkeling as wetenskaplike en die publikasie en invloed van The origin of species en die evolusieleer. Vervolgens kom die Darwinisme in die Afrikaanse literatuur en in Cloete se poësie aan die beurt. Ten slotte word aandag aan dié digter se belangstelling in die natuurwetenskappe gegee en veral toepaslike gedigte oor die evolusieleer behandel.

 

3. DARWIN EN DIE ONTSTAAN VAN DIE EVOLUSIELEER

 

3.1 Agtergrond tot Darwin se loopbaan

 

Darwin is op 12 Februarie 1809 in Shrewsbury in Engeland gebore. Sy vader en grootvader was albei gesiene mediese dokters, wat daartoe bygedra het dat hy sonder geldgebrek grootgeword het. Op skool het hy nie uitsonderlik gepresteer nie en stadig ontwikkel, maar reeds ‘n belangstelling in die natuur gehad. Na skool gaan studeer hy in die medisyne aan die Universiteit van Edinburgh (waarheen ook talle Suid-Afrikaners tot veral die helfte van die twintigste eeu gegaan het om dokters en tandartse te word), maar hy besef dat dit nie die regte studierigting vir hom is nie.

Gedurende sy mediese studie woon Darwin uit belangstelling lesings in die geologie by en na ‘n jaar begin hy aan Christ’s College, Cambridge, in die teologie studeer. Hier leer hy die predikant en plantkundige John Stevens Henslow ken, wat gou sy mentor word. Henslow stimuleer Darwin se belangstelling in die natuurwetenskappe verder, neem hom saam op plantkundige uitstappies en moedig hom aan om een van die voorste geoloë van sy tyd, Adam Sedgwick, se lesings by te woon.

Darwin verwerf ‘n graad in teologie, maar van vroeg af het hy hom eerder op die natuur toegespits. ‘n Predikant wou hy nie eintlik word nie. Gelukkig kom daar ‘n wending in sy lewe. In Augustus 1831 word daar ‘n uitnodiging aan ‘n natuurkundige gerig om ‘n wêreldreis op die HMS Beagle te onderneem. Ten spyte daarvan dat Darwin geen formele opleiding in die natuurwetenskappe gehad het nie, word hy deur Henslow vir die pos aanbeveel, wat hy sonder huiwering aanvaar. Darwin moes tydens hierdie reis as “unpaid gentleman’s companion” die jong (en temperamentele) kaptein van die skip, Robert FitzRoy, geselskap hou om te voorkom dat hy, soos die skip se vorige kaptein, ook selfmoord pleeg (Weiner 1995:21)!

 

3.2 Die wêreldreis op die Beagle

 

Die aanvanklike gedagte was dat die reis waarop die Beagle op 27 Desember 1831 uit Devonport vertrek het tussen twee en vier jaar sou duur, maar dit het uiteindelik vyf jaar geneem (kyk Darwin 1962 en Moorehead 1969). Tydens die reis maak Darwin talle waarnemings, wat hom dekades daarna steeds in staat sou stel om ‘n deurslaggewende bydrae tot die natuurwetenskappe te lewer.

 

3.2.1 Invloede wat tot Darwin se insigte gedurende die reis gelei het

 

Enkele invloede op Darwin was deurslaggewend vir die insigte waartoe hy gedurende en na die reis gekom het. Gedurende die reis bestudeer Darwin die geoloog Charles Lyell se driedelige Principles of geology (1830-1833), wat sy belangstelling in die geologie verder gestimuleer het en sy waarnemingsvermoë opgeskerp het. In sy geskrifte het Lyell ook oor die ontstaan van die mens geteoretiseer. Van sy beweringe was dat die ontdekking van werktuie daarop dui dat die mens heelwat ouer is as waarop die destydse interpretasie van die Bybelse skeppingsverhaal gedui het.

‘n Opvatting wat nog in die Westerse wetenskapsbeoefening vasgestaan het toe Darwin sy reis begin het, was dat daar in die wêreld vaste spesies van plante en diere bestaan. Subtiele variasies binne dieselfde spesie is wel erken, maar oor die algemeen is geglo dat alles presies nog was soos dit “in die begin” (Gen. 1:1 - binne ses dae) deur God geskep is. Die agtiende-eeuse Sweedse botanis Carolus Linnaeus word as die vader van die taksonomie beskou omdat hy ‘n sisteem van reëls en hiërargieë ontwikkel het waarvolgens klassifikasie op wetenskaplike gebied kon geskied. Volgens Weiner (1995:23) het selfs Linnaeus teen hierdie tyd nog gehoop om [to] glimpse the plan of the Creator, the meaning of life, much as saints and scholars looked for cosmic lessons in the relationships of all the verses, chapters, and books of the Hebrew and Greek Bibles.

Teen die einde van sy lewe sou Linnaeus oor die vastigheid van verskeidenheid en spesies wonder, maar hierdie probleem kon hy nie oplos nie. Om die wêreldbeeld wat tot in daardie stadium bestaan het, te bevraagteken en met ‘n nuwe verklaring vorendag te kom, sou nie oornag en sonder teenstand kon plaasvind nie.

 

3.2.2 Die ooglopende en verskuilde doel van die reis

 

As amateurwetenskaplike en ywerige leser was Darwin tydens die reis op die Beagle betreklik goed ingelig oor die wetenskaplike opvattings van sy tyd. Die blootstelling wat die wêreldreis hom aan die natuur en natuurkundige en antropologiese verskynsels sou bied, sou deurslaggewend wees vir sy latere vermoë om ‘n revolusionêre werk soos The origin of species te skryf en die gangbare opvattings van sy tyd daardeur te bevraagteken. Die doel met die reis van die Beagle was om voort te gaan met die kartering van die kus van Suid-Amerika en om ‘n meer akkurate vasstelling van die lengtegraad te kry deur ‘n ketting van chronologiese berekenings om die aarde te vervoer (Moorehead 1969:9-10). Dit het Darwin ook die geleentheid gebied om die geologie van die landskap en verskillende soorte organismes te bestudeer en om die Suid-Amerikaanse vasteland, waaronder die tropiese reënwoude, te besoek. Darwin het sy waarnemings sorgvuldig opgeteken.

 

3.2.3 Op die Galápagos-eilande

 

Nadat lede van die Beagle-ekspedisie die suidpunt van Suid-Amerika in 1834 gekarteer en Darwin ‘n reis na die Andesgebergte aangepak het, het die Beagle sy reis (via die Straat van Magellaan en onder meer Valparaiso in Chili) na die Galápagos-eilande in die Stille Oseaan voortgesit. Hierdie eilande is ongeveer 1 000 kilometer vanaf die kus teenoor Ecuador, waarvan die eilande staatkundig ‘n deel uitmaak, geleë. Darwin se maand lange besoek aan hierdie eilande sou van bykans ongeëwenaarde betekenis vir die natuurwetenskappe blyk te wees. Hier het sy oë as ‘t ware begin oopgaan.

Op hierdie onaansienlike vulkaniese eilande, wat ongeveer 5 miljoen jaar gelede hulle verskyning gemaak het, het Darwin met verrassende verskynsels kennis gemaak. Hy het byvoorbeeld gesien dat elke eiland sy eie dier- en plantspesies het. Hierdie spesies was almal  aangepas by die unieke omgewing wat op elkeen van die verskeie eilande geheers het. Hierdie spesies was duidelik soortgelyk aan die spesies wat op die vasteland van Suid-Amerika aangetref  is, en tog het hulle in sekere opsigte opvallend van laasgenoemde verskil.

Die belangrikste waarneming wat Darwin op hierdie eilande met hulle iguanas, skilpaaie en voëls gemaak het, was egter ten opsigte van die dertien soorte vinke wat op die onderskeie eilande voorkom. Dit was duidelik dat elkeen van hierdie vinke tot dieselfde spesie behoort het, maar op die Galápagos-eilande het elke vink sy eie kenmerkende eienskappe en oorlewingstrategieë gehad  wat hom in staat gestel het om by die spesifieke omstandighede op elke eiland aan te pas. Op een van die eilande was ‘n vink wat ‘n dik, sterk bekkie ontwikkel het om sade en neute  mee oop te kraak; op ‘n ander eiland was ‘n vink met ‘n kleiner bekkie om insekte mee te vang; en op nog ‘n eiland ‘n vink met ‘n bekkie wat aangepas was om van vrugte en blomme te kan lewe. Nog ‘n vink het geleer om met ‘n kaktuspen as gereedskap kos uit barste in boomstamme te grawe (kyk Moorehead 1969:163-164). Hierdie spesialisasie, wat elke vink afsonderlik op sy eiland kon ondergaan en wat tot unieke fisiese eienskappe gelei het, het dit vir die vinke moontlik gemaak om die beskikbare kos op elke eiland te kan benut.

‘n Tweede voorbeeld van variasie wat Darwin waargeneem het, was dat die patroon op die doppe van die reuseskilpad (Testudo elepantopus) op elke eiland ‘n bietjie anders gelyk het. Die moontlikheid dat dieselfde variasie ook ten opsigte van ander dierespesies moontlik was, het voor die hand liggend gelyk. Wat Darwin op die Galápagos-eilande gesien het, het hom laat besef dat die gangbare opvatting dat spesies nie verander nie, bevraagteken moet word. Die volle implikasies van sy waarnemings sou egter eers na baie jare se besinning duidelik word.

 

3.2.4 Die einde van die reis

 

Die verdere reis van die Beagle was nie vir Darwin van groot betekenis nie. Die skip het verder wes na Tahiti, Nieu-Seeland en Australië gereis, maar die besoeke aan hierdie gebiede was almal van korte duur en Darwin kon nie daar waarnemings op dieselfde skaal maak nie. In 1836 doen die Beagle Suid-Amerika weer aan, en keer daarna na Brittanje terug, waar die reis op 2 Oktober 1836 in Falmouth eindig.

 

3.3 Darwin vestig homself as wetenskaplike

 

In Brittanje het Darwin hom in Londen gaan vestig: “at the heart of Victorian science”, soos Ridley (1994:11) dit stel. Hier word hy sekretaris van die Geological Society. Hy begin om sy aantekeninge van die vorige vyf jaar te orden en kry van die voorste dier- en plantkundiges om sy versameling te klassifiseer. Hy publiseer heelwat, byvoorbeeld heelparty publikasies oor hoofsaaklik geologiese onderwerpe, wat van hom ‘n gerespekteerde natuurwetenskaplike gemaak het. So byvoorbeeld het sy teorie oor die ontstaan van koraalriwwe, wat vandag steeds erken word, alle vorige teorieë vervang. The origin of species sou egter eers meer as twee dekades na die reis van die Beagle verskyn. Dit het ‘n ander besondere negentiende-eeuse natuurkundige, die Engelsman Alfred Russel Wallace, gekos om Darwin so ver te kry om sy idees oor die evolusieleer te publiseer.

 

3.4 Wallace moedig Darwin aan

 

Gedurende die 1850’s was Wallace reeds drie-en-’n-half jaar lank in die Maleisiese argipel op reis. Hy het dierkundige spesies versamel (o.a. vir Darwin!) om deur ‘n agent in Londen verkoop te word. Toe hy by geleentheid malaria opdoen, het hy deur die koorsaanvalle lê en wonder hoe dit gekom het dat daar so ‘n ontsaglike verskeidenheid in die natuur is. Hy het sy eie teorie hieroor ontwikkel na analogie van die ekonoom Thomas Malthus se teorie dat minder gevorderde menslike bevolkings altyd deur sogenaamde “positive checks” wat hulle getalle kan beheer, in toom gehou sal word. Wallace het besef dat die sterkste altyd sal oorleef en dat dit daartoe sal bydra om die ras te verbeter (kyk Severin 1998:1-4).

Wallace het ‘n dokument van 4 000 woorde opgestel waarin hy sy teorie uiteengesit het. Hierdie dokument, getiteld On the tendencies of varieties to depart indefinitely from the original type, het hy aan Darwin, wat nou buite Londen gewoon het en voortdurend probleme met sy gesondheid ervaar het, gestuur. Darwin het onmiddellik besef dat hy die gevaar loop om deur ‘n ander natuurkundige voorgespring te word in die publikasie van die evolusieleer wat hy reeds sedert die reis van die Beagle vir homself geformuleer het. Dié vrees het hy aan Lyell en Joseph Hooker oorgedra, wat geruime tyd reeds bewus was van Darwin se ongepubliseerde teorie oor evolusie. Daarna is gereël dat Darwin en Wallace ‘n gesamentlike referaat voor die Linnean Society sou aanbied waartydens die nuwe teorie uiteengesit sou word.

 

3.5 The origin of species

 

Darwin het nou so vinnig moontlik gewerk om sy boek oor die onderwerp te voltooi. Binne ‘n tydperk van agtien maande verskyn die boek in ‘n oplaag van 1 250 eksemplare, wat op dieselfde dag uitverkoop is. Darwin se evolusieleer het hom onmiddellik na die publikasie van sy boek in 1859 ‘n hoogs omstrede figuur gemaak.

In The origin of species voer Darwin aan dat plante en diere, in ‘n poging om voort te bestaan, hulle oorspronklike vorme oor ‘n lang tydperk kon verander en aanpas. In verskeie gevalle het daar ‘n veel ingewikkelder en komplekser dier uit ‘n baie basiese en primitiewe een ontwikkel.

Die gedagte dat die wêreld binne sewe dae geskep is (volgens die skeppingsverhaal van Genesis) word dus deur Darwin verwerp. Dit is nietemin betekenisvol dat Darwin in 1859 nog nie beweer het dat die mens van die aap afstam nie. Slegs in een sin suggereer hy dat die mens ook deel is van hierdie diskoers. Dit sou meer as tien jaar duur voordat hierdie bewerking in The descent of man, and selection in relation to sex (1871) sou verskyn. Dit het veral in kerklike kringe hewige protes ontketen.

Aangesien die erfl ikheidswette (die genetika) nog nie aan Darwin bekend was nie (alhoewel hulle reeds deur die Morawiese monnik Gregor Mendel opgestel is), kon hy nie die talle subtiele onderlinge verskille tussen individuele lede van dieselfde spesie bevredigend verklaar nie. Darwin se werk het wetenskaplikes egter aangespoor om die talle skelette van die uitgestorwe akkedisse (of dinosourusse) wat argeoloë opgegrawe het, opnuut te bestudeer. Die negentiende-eeuse bestudering van hierdie skelette was op sigself ‘n belangrike baken in die ontwikkeling van die wetenskap (kyk Desmond 1982).

 

3.6 Darwin en Wallace se werk lei tot vernuwende wetenskaplike denke

 

Darwin en Wallace se werk het veroorsaak dat wetenskaplikes ook lewende wesens op ‘n nuwe manier begin bestudeer het. Die veranderinge wat talle lewensvorme met verloop van tyd ondergaan het, kon nou verklaar word. Slegs enkele van die lewensvorme wat vandag steeds bestaan, het nie nodig gehad om ‘n proses van evolusie te ondergaan nie. Darwin en Wallace was natuurlik nie die eerste wetenskaplikes by wie die gedagte ontstaan het dat daar iets soos evolusie bestaan nie. (Darwin se eie grootvader, die digter Erasmus Darwin, het self ‘n bydrae tot hierdie gesprek gelewer en kan as ‘n vroeë evolusionis beskou word.) Hierdie gedagte het lank vantevore reeds ontstaan, en in die aanloop tot die bekendmaking van Darwin se teorie het dit toenemend ter sprake gekom. Dit was egter Darwin, en toe Wallace, se argumente en die bewyse wat hulle aangevoer het, wat oortuigend genoeg was om te verseker dat die evolusieleer nie meer afgemaak kon word nie.

 

3.7 Erkenning aan Wallace

 

Erkenning aan Wallace het ook nie uitgebly nie. Die afgelope jare was daar volgehoue belangstelling in en erkenning van Wallace se werk. Benewens ‘n aantal biografieë is ‘n voorbeeld hiervan Tim Severin se boek The Spice Islands voyage: In search of Wallace (1998). Hierdie boeiende boek doen verslag oor ‘n reis wat Severin en ‘n klein bemanning in 1996 met ‘n tradisionele seilboot tussen die Spesery-eilande van Indonesië onderneem het. Die doel met die reis was om Wallace te “gedenk” en om van die plekke te sien wat hy besoek het.

Op ‘n effens andersoortige manier word daar ook hulde gebring aan Wallace in die BBC-video Attenborough in paradise (1996). Hierdie video toon hoe Attenborough Indonesië besoek om die paradysvoëls te sien waarvan hy as kind ‘n tekening in Wallace se boek The Malay Archipelago (1869) gesien het. (Daar word later weer teruggekeer na Wallace en die paradysvoëls.)

 

3.8 Die ingrypende en grensverskuiwende invloed van Darwin

 

Darwin (en in ‘n mindere mate ook Wallace) se werk het ‘n ingrypende invloed op die biologie, die geologie en die teologie gehad. Dit het sedert die negentiende eeu reeds tot hewige debatte gelei, en het die mensbeeld van die laaste eeu en ‘n half van die vorige millennium in ‘n groot mate beïnvloed. Op teologiese gebied het Darwin se teorie byvoorbeeld ‘n groot rol gespeel in die sekularisering van die Europese gees (kyk Riley 1994:2). Soos vroeër aangedui ten opsigte van die biologie, vind Darwin se invloed neerslag oor die “grense” van vakgebiede heen, en in die werk van “onwaarskynlike persone”, soos wat dit vervolgens aan die hand van ‘n aantal voorbeelde aangetoon sal word.

 

4. DIE SPORE VAN DARWIN IN DIE AFRIKAANSE LITERATUUR

 

Vervolgens sal aandag gegee word aan enkele voorbeelde van hoe die Darwinisme ook in die Afrikaanse letterkunde neerslag vind. Hierdie neerslag of invloed sal geïllustreer word deur na die werk van onder meer Eugène N Marais, D J Opperman, Wilma Stockenström, Rika Cilliers en T T Cloete te verwys.

 

4.1 Eugène N Marais

 

Die eerste en bykans vanselfsprekende voorbeeld waarna verwys kan word, is die werk van die veelsydige skrywer Eugène N Marais (1871-1936). Oor Marais se lewe en werk is daar reeds breedvoerig geskryf.3 Van die mees fassinerende en betekenisvolle tydperke in sy lewe was sy vertrek in 1907 na die Waterberg. Daar sou hy tien jaar lank woon, terwyl hy waarnemings oor die gedrag van bobbejane, termiete en slange sou maak. Hierdie waarnemings is later veral in (populêre) tydskrif- en koerantartikels gepubliseer. Van groot wetenskaplike belang is Die siel van die mier, wat in 1934 verskyn (nadat dit vroeër in verskillende aflewerings in Die Huisgenoot gepubliseer is) en Burgers van die berge (1938). Die natuurwetenskaplike studie wat Marais as sy lewenswerk beskou het, The soul of the ape, verskyn egter eers in 1969, drie en dertig jaar na Marais se dood, omdat die oorspronklike manuskrip weggeraak het en jare lank nie opgespoor kon word nie.

In ‘n belangwekkende artikel, “Eugène Marais and the Darwin syndrome”, skryf Rousseau (1990) breedvoerig oor Marais se wetenskaplike werk en plaas hy dit binne die gesprek oor die Darwinisme en “uitvloeisels” van hierdie denkrigting, soos die etologie. Deur die jukstaponering (waarin die wetenskapfiksieskrywer Leon Rousseau se grepe duidelik opval!) van bakens in Marais se lewe en werk met bakens in die lewe en werk van persone soos Charles Darwin, die Franse entomoloog Henri Fabre, die Belgiese dramaturg Maurice Maeterlinck en die etologie-Nobelprystrio (1973), Konrad Lorenz, Niko Tinbergen en Karl von Frisch, skryf Rousseau ‘n “apologie” vir Marais as wetenskaplike. Hy verweef Marais se lewe en werk as ‘t ware met die diskoers oor die Darwinisme, die etologie en die natuurwetenskaplike geskiedenis van die tweede helfte van die negentiende eeu en ‘n groot deel van die twintigste eeu.

Marais se werk sluit ongetwyfeld nou aan by die invloed van die negentiende-eeuse Darwinisme en by die rigtings in die wetenskap wat daaruit voortgevloei het, soos byvoorbeeld die etologie. Die werklike waarde van Marais se navorsing oor die bobbejane, die termiete en die slange word nie hier ter sprake gebring nie.

 

4.2 Verdere invloed

 

‘n Uitgebreide studie van die Afrikaanse letterkunde sal waarskynlik ook talle literêre tekste oplewer waarin daar spore van die Darwinisme aanwesig is. Dit beteken natuurlik nie dat elke gedig met diere en plante as tema Darwinistiese invloed gaan aantoon nie. Myns insiens sal ‘n groot deel van die werk van ‘n digter soos C Louis Leipoldt, wat ‘n uitgebreide botaniese kennis gehad het en self ook opleiding in die medisyne in Londen aan die begin van die vorige eeu deurloop het (kyk Mieny 1980) buite hierdie gesprek val. Dit geld ook ten opsigte van die talle jag- en diereverhale wat in Afrikaans bestaan. Ten spyte hiervan is daar wel ‘n beduidende aantal tekste waarin die spore van Darwin duidelik aanwesig is. Een so ‘n teks is D J Opperman se epos Joernaal van Jorik (1949), waarin die oergegewe vergestalt word. JC Kannemeyer (1986:183) wys ook hierdie invloed in sy biografie oor Opperman uit.

Ander digters in wie se werk daar tekens van die Darwinisme of tekens van ‘n gesprek met die Darwinisme te sien is, is Wilma Stockenström en Rika Cilliers. In Stockenström se werk is daar talle gedigte oor spesiespesifieke diere en ‘n afwysing van die transendentale. Hierdie spesifieke perspektief op die diereryk is myns insiens ingegee deur die Darwinisme. In Cilliers se bundel Mammoet (1984), word daar uitgebreid verslag gedoen oor argeologiese opgrawings en oor die mammoet en olifant geskryf. Die biologiese hantering van die inligting en die erkenning van die voortgang en ontwikkeling van lewe, skakel goed in by hierdie gesprek. 3 Kyk Du Toit (1945); Nienaber (1962); en Rousseau (1974).

 

5. T T CLOETE

 

5.1 Agtergrond tot Cloete se loopbaan

 

T T Cloete is op 31 Mei 1924 in Vredefort in die Vrystaat gebore. Daar gaan hy in ‘n landelike omgewing tot aan die einde van 1939 skool en matrikuleer in 1941 aan die Hoërskool Monument in Krugersdorp, waar hy akademies uitblink. In 1942 gaan hy na die Universiteit van Pretoria om in die teologie te studeer en begin ook vir die eerste keer ernstig skryf. Aan die einde van die jaar word sy studie deur ‘n lang siekbed as gevolg van polio onderbreek (Anoniem 1984a:37; ook hierna).

In 1945 hervat hy sy studie aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO (tans die Noordwesuniversiteit), waar hy ‘n MA-graad oor Die teennatuurlike in die werk van N.P. van Wyk Louw (1948) onder G Dekker verwerf. In 1949 vertrek hy na Nederland om sy doktorale studie aan die Gemeentelike Universiteit in Amsterdam voort te sit. In 1953 promoveer hy met die proefskrif Trekkerswee en Joernaal van Jorik onder Van Wyk Louw. Cloete se belangstelling in die wetenskaplike bestudering van die literatuur blyk onder meer uit die prominente rol wat hy speel in die vestiging van Algemene Taal- en Literatuurwetenskap aan onder meer die Universiteit van

Port Elizabeth (tans die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit) in 1965 en aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO in 1970. Cloete het ‘n besondere bydrae gelewer “ter bevordering en uitbouing van die literatuurwetenskap en in die besonder ook van die Afrikaanse poësiekritiek” (Rousseau 1984:23).

Cloete se debuut as digter met Angelliera (1980) was vir Afrikaanse letterkundiges en lesers ‘n groot verrassing, waarskynlik omdat hy tot in daardie stadium veral as ‘n letterkundige en literatuurwetenskaplike van formaat bekend was. Sedertdien het die belangstelling in sy persoonlike lewe en belangstellings opmerklik toegeneem - talle onderhoude is met hom gevoer en het in die pers verskyn. Daar is egter nog nie ‘n biografie oor hom geskryf nie.

 

5.2 Cloete se belangstelling in die wetenskap

 

Cloete se omvangryke oeuvre toon dat hy met verloop van tyd ‘n wye belangstelling ontwikkel het, wat dikwels tematies tot verrassende gedigte aanleiding gee. Dit kom selfs voor asof daar geen einde aan sy ontplooiende belangstellings is nie en dat hy bykans enige onderwerp vir sy poësie kan “opeis” en as deel van sy idIolek kan aanbied. Opvallend is ook die digter se belangstelling in die natuurwetenskappe, wat nie vanselfsprekend in die werk van ‘n digter en in die kunste is nie. Cloete het egter reeds in sy hoërskooljare “die ideaal gekoester om dierkundige te word” (Anoniem 1984b:17). In flesse met versterkwater het hy “‘n mensfetus, wat hy voor sy vertrek na UP vernietig het, ‘n tweelingkonynfetus, ‘n bokskedel en -nek, slange en spinnekoppe” gehou.

In Cloete se digbundels is sy belangstelling in die natuur en die natuurwetenskappe dominante temas. Vroeg reeds het hy in sy bloemlesing Faune: ‘n Bloemlesing oor die dier in die Afrikaanse poësie (1966) sy belangstelling in hierdie rigting aangedui. Volgens H Ohlhoff (1984:18) bemerk ‘n mens in Cloete se poësie “telkens bewondering én ontsag vir die natuur in sy ryke verskeidenheid: Van die mossie tot die stadstorm tot die dubbelsterre en swart gate”. In meer as een gedig word “die bevindinge en terminologie van die natuurwetenskappe - soos trouens ook van die menswetenskappe - ingetrek in sy poësie, dit tot literatuur gemaak”. In sy artikel oor die dier in die poësie van Cloete skryf C J M Nienaber (1984:64) dat die digter in sy werk “selfs die nietigste onderdeeltjie van die heelal steeds in ‘n grootse samehang waarneem”. Die digter is besonder belese in veral die eksakte en biologiese wetenskappe, wat ‘n leser soos Daniel Hugo (1996:9) by geleentheid laat opmerk het “[t]e veel van sy verse lyk na berymde artikels uit die National Geographic“.

 

5.3 Spore van die Darwinisme in Cloete se poësie

 

Op ‘n verrassende wyse kan ons ook die Darwinisme opspoor in Cloete se werk. Talle van die gedigte in sy agt digbundels is gegrond op inligting en materiaal uit ten minste die sfeer van die Darwinisme. Cloete stel nietemin ‘n religieuse en spesifiek Christelike perspektief in sy poësie aan die orde en skryf onbeskaamd as belydende Christen en “[verwoord die] Godsopenbarende kwaliteit van die dinge eksplisiet of implisiet [...]” (Odendaal 1997:105). Dit het Ohlhoff (1984:20), in sy artikel oor die rol van die wetenskap in Cloete se werk, laat opmerk dat die digter nie wegskram “van die eksakte wetenskappe nie, maar hy [Cloete] het die gawe om dit literêr om te skep, te verwerk en uiteindelik ook in ‘n veel wyer verband, dié van God se werksaamheid in die skepping, te plaas”. Hierdie bevinding moet in gedagte gehou word wanneer na die rol van die Darwinisme in Cloete se werk gekyk word.

In talle gedigte oor die skepping en die ontstaan van lewe op aarde word deurlopend binne die kader van die wetenskaplike perspektief geskryf, maar die hand van God word nie uitgesluit of genegeer nie. In “Suidpool en senit II” in Angelliera word hierdie besondere perspektief, waar met sowel wetenskap as religie rekening gehou word en verskillende name gegee word aan daardie oorspronklike mag wat alles tot stand gebring het, soos volg gestel:

Ametropies tussen die groot ligballe

kan ons Hom nie gewaar

waar Hy ontelbaar in getalle

tel nie. Stekelige sterre in die swerk

flikker waar ligjare uitmekaar

Hy spelenderwys verdiep in swart heelalgate werk.

Dieselfde werkwyse word in die gedigte toegepas waarin (fasette van) die evolusieleer ter sprake kom. In “II Hy” in Allotroop (1985) word God se grootsheid in kosmiese verband aan die orde gestel en erkenning gegee aan die evolusionêre ontstaan van nuwe lewensvorme:

[...] Slegs tydelik behaag

dieselfde vorme Hom; party duur, maar

telkens anders gevul; ander sterf, die leviatan,

die dodo, nuwes soos die doodsvirusse ontstaan

uit Hom wat in sterre kom en gaan

en aanhou, aanraak, verbygaan.

Verandering in spesies sluit nie die mens uit nie en in “tv-nuuskyker” in Met die aarde praat (1992) lees ons “by sterkfontein het homo sapiens sapiens / van die protomens africanus robustus ‘n tand / gevind”. Die digter besin byna tong in die kies oor die vreemde implikasies van evolusionêre verandering soos in “duim en vuis” in Uit die hoek van my oog (1998):

miskien moet ek, soms, met luim

wys dat die vlermuis

en ek familie is: daar sit aan my vuis

en aan sy onderduimse vlerk dieselfde duim

In “sesde dag” in dieselfde bundel word die skepping van die mens (”die enigstes regtig regop

gemaak”) in die eerste strofe soos volg gesien:

voor ons gemaak is, het U lank gewag

- hoe lank, is onskatbaar,

al ons jaartalle is onwaar -

tot die sesde ontelbare dag

In die uitgebreide “geslagsregister” ook in dieselfde bundel word die mens se geskiedenis onomwonde as deel van ‘n lang evolusionêre proses gesien en lui die eerste strofe soos volg:

ek is vantevore

ver terug vantevore

langs baie omweë wyd en syd

deur ‘n lang dragtigheidstyd

uit baie voorouers gebore

By die lees van Uit die hoek van my oog kom dit voor asof Cloete toenemend erkenning gee aan die evolusieleer, maar dit nog steeds as deel van ‘n plan sien wat deur God “bestuur” word. In “geslagsregister” word hierdie krag in die skepping “die Genereerder” genoem, dit wil sê die digter hou rekening daarmee dat hierdie Skepper talle nuanses het en dus ook met verskillende name benoem en/of gekenskets kan word. In Cloete se jongste bundel, Heilige nuuskierigheid (2007), word hierdie patroon voortgesit en ook skeppingsmites uit ander kulture (onder meer die Egiptiese kultuur) betrek. In “sy lieflinge se vreemde visiere” kom “God as skepper van insekte” ter sprake en in “plant- en dierkunde” was daar ‘n tyd toe “die protomens nog / in die akkedis / saam met die beer en sog / in die vis” was. Nou is “sapiens sapiens regop rebels en kontant”.

In Cloete se gedigte staan die “Godsopenbarende kwaliteit van die dinge” (Odendaal 1997:105) voorop, maar die digter se belesenheid in die natuurwetenskappe laat hom ook fenomenologies (kyk Viljoen 1995) na die konkrete werklikheid kyk. Gegewe hierdie benadering is dit nie ongewoon om ook die natuurwetenskappe te betrek nie. Daar word veronderstel dat die wyses waarop letterkundiges en wetenskaplikes hulle inligting bekom, daaroor skryf en hulle werk dissemineer, hemelsbreed van mekaar kan verskil. Dit, en die uiteenlopende literêre tradisies, dra waarskynlik daartoe by dat aanvaar is en steeds word dat literêre en wetenskaplike tekste grootliks van mekaar moet verskil. Die moontlike ooreenkomste tussen literêre en wetenskaplike tekste word daarom selde bespreek. Wanneer die suksesvolle wetenskaplike (dit sluit die skrywer in wat óók wetenskaplike is) sy/haar hand op papier waag, blyk daar nietemin raakpunte wat aandag verdien. Paradigmaverskuiwings gedurende die tweede helfte van die twintigste eeu het literatuur en wetenskap onherroeplik “nader aan mekaar” gebring. David Locke (1992:206) skryf soos volg:

The comparison of science and literature need not be invidious in either direction. Literature

has no exclusive claim on imagination, expressivity, persuasiveness, creativity; science no

patent on truth, reliability, functionality. The literary scholar need be no more isolated from

the world than the scientist; the library shelves are no dustier than the laboratory bench. Both

science and literature are about the truth of the world. And these are not two languages - the

language of science and the language of poetry - but one, the language of humankind.

 

5.4 Die verwondering

 

Cloete se gedigte is vol verwondering oor die kosmos en lewe op aarde en hy verwoord dit dikwels spelenderwys. Sy gedigte word gevoed deur sy wye belesenheid in verskillende dissiplines soos onder meer blyk uit die noem van die name van wetenskaplikes soos Charles Darwin, Albert Einstein, Stephen Hawking, Thomas Morgan en Phillip V. Tobias in Heilige nuuskierigheid. In hierdie verband is die gedig “toegedig aan Alfred R. Wallace”, wat in Uit die hoek van my oog verskyn, belangrik. Hierin skryf Cloete oor die paradysvoëls waarvan vroeër melding gemaak is en wat Wallace op sy reis deur Nieu-Guinee teëgekom het (kyk afdeling 3.7). Die gedig lui soos volg:

ek het die verliefde paradysvoëlmannetjie afgeloer.

my hart het gewoerwoer en getamboer.

ek het flou hom sien wals

met ‘n reënboogkrawat om sy hals.

bloed het deur my are gepols.

ek het ‘n vlammende vlam

gesien in sy verekam.

met sy akrobatieke dans

het hy my iets van die Here

iets vol kleur laat sien van die trans

van die God van die choreografie van vere.

Die skryf oor die natuur en oor diere en voëls is, soos reeds aangetoon, ‘n dominante onderwerp in Cloete se werk. Reeds vanaf sy debuutbundel is sy belangstelling in en wye kennis van hierdie onderwerp duidelik. Hierdie kennis word soms byna ensiklopedies aangebied (wat Hugo myns insiens onregverdig negatief veroordeel). Dat Cloete oor ‘n figuur soos Wallace sou skryf, verbaas ‘n mens dus nie. Op boeiende wyse bring hy die verwondering oor die skoonheid van die natuur en die natuurdinge in die gedig ter sprake. Hy illustreer nie net hierdeur hoe wetenskaplike kennis benut kan word om boeiende gedigte mee te skryf nie, maar deur hierdie gesprek aan te knoop, bewys hy ook hoe aktueel die gesprek met die spilfigure van die evolusieleer steeds is.

Dat hierdie paradysvoëls mense ontroer het, kom kwalik as ‘n verrassing. Wat wel verras, is dat sowel die natuurwetenskaplikes as die digter wat oor hierdie voëls skryf die wonder en die verwondering verwoord. Vir albei groepe waarnemers is die aanskoue van hierdie skouspel besonder betekenisvol. Wallace sien hierdie voëls en hy kan nie anders as om in verwondering oor hulle te skryf nie. Hierdie verwondering laat hom ook skryf oor hoe hy persoonlik gereageer het op dit wat hy voor hom waargeneem het. Wallace byvoorbeeld beskryf sowel die voëls as sy persoonlike, emosionele reaksie op hulle: verwondering.

Hierdie beskrywing het so ‘n impak op die jong natuurkundige David Attenborough gehad dat hy jare later as ‘n BBC-aanbieder van natuurkundige programme na Nieu-Guinee reis en ‘n lewenswens verwesenlik wanneer hy die paradysvoëls te siene kry. Wallace se reis na hierdie eksotiese wêrelddeel inspireer ook die avonturier Tim Severin om Wallace se bootreis te rekonstrueer en hy doen (soos reeds genoem is) boeiend daaroor verslag in sy boek The Spice Islands voyage: In search of Wallace. Dit is heel moontlik dat Cloete ten minste Attenborough se dokumentêre program getiteld Attenborough in paradise gesien het en dat dit hom geïnspireer het om sy gedig te skryf.

 

6. TEN SLOTTE

 

Ons leef in ‘n era wat ‘n hoë gebruikswaarde op dinge, ook die natuur, plaas. Ons hoor immers dikwels dat diere as ‘t ware vir hulle reg tot voortbestaan moet betaal. Binne hierdie kader het heelwat argumente in sowel die wêreld van die sogenaamde geïntegreerde omgewingsbestuur as in die immer populêre toerisme ontstaan. Nie alleen kan ons uit die insigte van die evolusieleer aflei dat elke spesie uniek is nie, maar ook dat elk op ‘n unieke wyse geleer het om aan te pas. Elkeen het verder ook ‘n reg op voortbestaan buite die wêreld van die mens, waarvan die paradysvoëls van Nieu-Guinee ‘n goeie voorbeeld is.

T T Cloete, wat reeds wye erkenning gekry het vir die rol wat sy Christelike lewens- en wêreldbeskouing in sy werk speel en verantwoordelik was vir die herdigting van die psalms in Afrikaans, sal heelparty van sy lesers verras met die openlike omhelsing van sekere natuurwetenskaplike insigte in sy werk. Hy kry dit egter reg om wetenskap en religie oortuigend naas mekaar in sy werk te stel en om die oënskynlik onversoenbare poëties aanneemlik te versoen. Die evolusieleer en sy implikasies word meermale betrek in sy perspektief op lewe op aarde en watter plek die mens tussen ander lewende wesens inneem. So kan dit vir lesers wat erg ongemaklik met die evolusieleer is, makliker word om met hierdie wetenskaplike aanname om te gaan.

Studies deur M E Bosman (1989:285-286) en Odendaal (1997:217) het aangetoon dat Cloete se religieuse perspektief veel minder tradisioneel as dié van ‘n digter soos Totius is en selfs sommige aanvaarde religieuse opvattings uitdaag en die leser tot nadenke stem. Hy gaan nie net spontaan met insigte uit onder meer die evolusieleer om en maak dit deel van sy lewens- en wêreldbeskouing nie - hy gaan kreatief met die bekende gegewens van hierdie leer om. Sodoende toon hy hoedat die digter op ‘n eie, unieke manier met insigte uit die natuurwetenskappe kan werk. Op hierdie wyse slaag hy daarin om “kanttekeninge” by die gesprek oor die ontstaan en ontwikkeling van lewe op aarde te maak en “goedkeuring” aan die rol van ‘n goddelike mag daarin te gee. In die lig van die prominente posisie wat Cloete as veelbekroonde en hoogs gekanoniseerde digter binne die Afrikaanse poësie beklee, moet die vormende bydrae van sy werk nie onderskat word nie. Daar is genoeg lesse in sy werk om die leser opnuut na sy plek en rol in die natuurlike en religieuse verband te laat kyk.

 

BIBLIOGRAFIE

 

Anoniem. 1984a. Curriculum vitae [van T T Cloete]. Ensovoort 4(1), Mei: 37.

Anoniem. 1984b. Fotobyskrif. Ensovoort 4(1), Mei: 17.

Attenborough, David. 1996. Attenborough in paradise: A stunning portrait of the beautiful birds of paradise.

BBC Natural History Unit. (Video recording.)

Bosman, M.E. 1989. Op Hom die groot hosannas: Enkele aspekte van die moderne Christelike poësie in

Afrikaans. Ongepubliseerde DLitt-proefskrif. Grahamstad: Rhodes-universiteit.

Cilliers, Rika. 1984. Mammoet. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau.

Cloete, T.T. 1980. Angelliera. Kaapstad: Tafelberg.

Cloete, T.T. 1982. Jukstaposisie. Kaapstad: Tafelberg.

Cloete, T.T. 1985. Allotroop. Kaapstad: Tafelberg.

Cloete, T.T. 1986. Ideolek. Kaapstad: Tafelberg.

Cloete, T.T. 1989. Driepas. Kaapstad: Tafelberg.

Cloete, T.T. 1992. Met die aarde praat. Kaapstad: Tafelberg.

Cloete, T.T. 1998. Uit die hoek van my oog. Kaapstad: Tafelberg.

Cloete, T.T. 2001. Die baie ryk ure: 100 uitgesoekte gedigte. Kaapstad: Tafelberg.

Cloete, T.T. 2007. Heilige nuuskierigheid. Kaapstad: Tafelberg.

562

Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 49 No. 4: Desember 2009

Spesiale uitgawe - Huldiging: T T Cloete

Cloete, T.T. (samest.). 1966. Faune: ‘n Bloemlesing oor die dier in die Afrikaanse poësie. Kaapstad: Nasionale

Boekhandel.

Darwin, Charles. 1962. The voyage of the Beagle. New York: Anchor Books. (Annotated and with an

introduction by Leonard Engel.)

Darwin, Charles. 1983 (1859). The origin of species by means of natural selection or the preservation of

favoured races in the struggle of life. Harmondsworth: Penguin.

Desmond, Adrian. 1982. Achetypes and ancestors: Paleontology in Victorian London 1850-1875. Chicago:

The University of Chicago Press.

Desmond, Adrian. 1998. Huxley: From devil’s disciple to evolution’s high priest. London: Penguin.

Du Toit, François Guillaume Marais. 1940. Eugène N. Marais: Sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde.

Amsterdam: N.V. Swets & Zeitlinger.

George, Wilma. 1964. Biologist philosopher: A study of the life and writing of Alfred Russel Wallace. London:

Abelard-Schuman.

Hugo, Daniel. 1996. Die Afrikaanse poësie 1990-1995: ‘n Bestekopname in bevooroordeelde flitse. Ensovoort

8(1): 8-10.

Kannemeyer, J.C. 1986. D.J. Opperman: ‘n Biografie. Kaapstad & Pretoria: Human & Russeau.

Locke, David. 1992. Science as writing. New Haven & London: Yale University Press.

Mieny, C.J. 1980. Leipoldt in Londen. Die vormingsjare. Pretoria: Geneeskundige Historiese Vereniging.

Moorehead, Alan. 1969. Darwin and the Beagle. London: Penguin.

Nienaber, C.J.M. 1984. U troetelvissie T.T. Cloete. In: Viljoen, Hein et al. (reds.). In teen die groot vergeet:

‘n Bundel opstelle opgedra aan T.T. Cloete by geleentheid van sy sestigste verjaarsdag op 31 Mei 1984.

Potchefstroom: Potchefstroomse Universiteit vir CHO. (Wetenskaplike bydraes van die PU vir CHO.

Reeks A44: Geesteswetenskappe.)

Nienaber-Luitingh, M. 1962. Eugène Marais. Kaapstad: Human & Rousseau.

Odendaal, B.J. 1997. Retoriese strategieë in die poësie van T.T. Cloete. Ongepubliseerde PhD-proefskrif.

Bloemfontein: Universiteit van die Oranje-Vrystaat.

Ohlhoff, H. 1984. Wetenskap en poësie. Ensovoort 4(1), Mei: 18-20.

Opperman, D.J. 1978 (1949). Joernaal van Jorik. Kaapstad: Tafelberg.

Ridley, Mark (ed.). 1994 (1987). A Darwin selection. London: Fontana Press. (Revised edition.)

Rousseau, Leon. 1974. Die groot verlange: Die verhaal van Eugène N. Marais. Kaapstad & Pretoria: Human

& Rousseau.

Rousseau, Leon. 1990. Eugène Marais and the Darwin syndrome. In: Marais, Eugène N. The soul of the

white ant and The soul of the ape. Johannesburg: Jonathan Ball.

Rousseau, Mabel. 1984. T.T. Cloete as literator. Ensovoort 4(1), Mei: 23-24.

Severin, Tim. 1998 (1997). The Spice Islands voyage: In search of Wallace. London: Abacus.

Viljoen, Hein et al. (reds.). 1984. In teen die groot vergeet: ‘n Bundel opstelle opgedra aan T.T. Cloete by

geleentheid van sy sestigste verjaarsdag op 31 Mei 1984. Potchefstroom: Potchefstroomse Universiteit

vir CHO. (Wetenskaplike bydraes van die PU vir CHO. Reeks A44: Geestesweten skappe.)

Viljoen, Hein. 1995. Die fenomenologie van T.T. Cloete. Literator 16(3), November: 43-60.

Wallace, Alfred Russel. 1986 (1869). The Malay Archipelago. Oxford: Oxford University Press.

Weiner, Jonathan. 1995. The beak of the finch: A story of evolution in our time. London: Vintage.

Williams-Ellis, Amabel. 1966. Darwin’s moon: A biography of Alfred Russel Wallace. London: Blackie.

Hein Viljoen. Kreolisering van die Simbolisme in die poësie van TT Cloete

Tuesday, February 16th, 2010

(Hierdie artikel het oorspronklik in Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 49 No. 4: Desember 2009 as deel van die Spesiale huldigingsuitgawe vir T T Cloete verskyn en word geplaas met die vriendelike vergunning van die redaksie.)

Kreolisering van die Simbolisme in die poësie van T T Cloete*

Creolization of Symbolism in T T Cloete’s poetry

Prof Hein Viljoen

Prof Hein Viljoen

HEIN VILJOEN

 

 

 

 

 

 

Navorsingseenheid: Tale en literatuur in die Suid-Afrikaanse konteks,

Noordwes-Universiteit, Potchefstroom

 

 

 

 

 

HEIN VILJOEN het in Potchefstroom, Pretoria en Utrecht gestudeer en is tans professor in Afrikaans en Nederlands aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) en direkteur van die Navorsingseenheid Tale en literatuur in die Suid-Afrikaanse konteks. Hy spesialiseer in literêre teorie, die Suid-Afrikaanse prosa en die Afrikaanse poësie. Hy is mede-skrywer en redakteur van twee onlangse versamelings opstelle oor ruimte en identiteit en liminaliteit in die Suid-Afrikaanseletterkunde, nl. Storyscapes (2004) en Beyond the threshold (2007). Tans spits hy sy navorsing toe op hibriditeit en kreolisering asook grense in en van die letterkunde. Hy is ook hoofredakteur van Literator. Sy tweede digbundel, Holtrom en groot kabaal, het in 2003 verskyn.  HEIN VILJOEN studied in Potchefstroom, Pretoria and Utrecht and is at present professor in Afrikaans and Dutch literature at the North-West University (Potchefstroom Campus) and director of the Research Unit Languages and Literature in the South African Context. He is a specialist in literary theory, the South African novel and Afrikaans poetry. Recently, he has co-authored and edited two collections of research essays on space and identity and on liminality in South African literature, namely Storyscapes (2004) and Beyond the threshold (2007). At present his research is focused on creolization in literature and on boundaries in and of literature. He also is editor in chief of Literator. His second collection of poetry, Holtrom en groot kabaal, was published in 2003. Hein Viljoen * Uitgebreide weergawe van ‘n T T Cloete-erelesing gelewer op 22 Augustus 2007. 

 

 

ABSTRACT

Creolization of Symbolism in T T Cloete’s poetry

 

This article is an investigation of T T Cloete’s rewriting of international Symbolism, the assumption being that he has creolized this poetic system in three ways, namely by developing new forms bymixing, by increasing its expressive power and by making it local and South African, but also byappropriating and adapting it to his own poetical system. After pointing out two indications of creolization in Cloete’s work, namely the creative mixing of words and concepts and the mixing of indigenous and colonial language, Symbolism is defi ned as a deliberate exploitation of ambiguity based on the notion of correspondences between all earthly things. Natural elements are used as metaphors, combined with all the resources of language to suggest a deeper or truer but unformulated second content in a poem. Creolization is here, in accordance with the views of É. Glissant, defined as a rhizomatic understanding of texts in complex webs of relations with three important core meanings, namely mixing of languages, cultures and traditions, a making-local that also entails appropriation and emulation and an expansion of the expressive power of the tradition. The analysis of the ways in which Cloete has transformed the symbolist tradition in poetry along these lines focuses on four aspects of Symbolism, namely the symbolist technique, Symbolism and music, the symbolist tone and the correspondences. Cloete’s creolization of the symbolist method is explored in two poems, namely “oopooggebed aan ontbyttafel” (open-eyed prayer at the breakfast table) from Allotroop (1985) and “Insinjes” (Ensigns) from Met die aarde praat (Talking to the earth, 1992). In these poems Cloete evokes a second meaning without really giving it form in the way he uses natural things as metaphors and by subtle allusions to the Symbolists and their favourite colours. The latter poem also shows how Cloete enriches the symbolist tradition with words and concepts from natural science but also transforms it into a way of evoking the in-living of God. The next section links Cloete’s symbolist use of bird imagery and bird song to the symbolist equation of music and poetry. In Cloete’s poetry the ear is a favourite organ, since it brings disparate elements together. The sound of poetry is in his work a powerful instrument for the expression of the coherence of the whole cosmos and for evoking a second meaning, namely the presence of God in everything. The same goes for the way in which Cloete’s poetry deals with the symbolist view of the imminence of death and the passing away of all things. His poetry presents an alternative to mortality by showing a universal interconnectedness and by developing new, modern metaphors for the synthetic power of poetry. One of them is the “laseraspaai” (laser I spy) - a modern instrument for spying out the rich interconnected diversity of creation. This universal interconnectedness, the idea that each thing contains a fi ne hidden essence of every other thing, is a central tenet of Symbolism and is creolized in Cloete’s poetry in a variety of ways and, in his different collections, each time in a different metaphor that underlines this interconnectedness as well as the terrible state of being unconnected: juxtaposition, allotropy, entelegy, idiolect, curiosity. The all-inclusive whole is God, and His presence is evoked in Cloete’s poetry in a myriad symbolist ways. Mixing languages and creating new compound words are but two of them. Though it focuses in the small and the local, in Cloete’s poetry the unique time and place of every element is illuminated by the illimitable and the universal. Everything has its place in a great chain of being. On the whole, Cloete increases the expressive power of Symbolism not only by modernizing, but also by deologizing it, that is, by turning it into an instrument for the study of Deus, God.

 

KEY CONCEPTS: Symbolism, creolization, symbolist method, symbolism and music, symbolist tone, correspondences, deologizing.

 

TREFWOORDE: Simbolisme, kreolisering, simbolistiese werkwyse, Simbolisme en musiek, simbolistiese toon, korrespondensies, deologisering

 

OPSOMMING

Hierdie artikel is ‘n ondersoek na T T Cloete se gebruik van die internasionale Simbolisme. Die aaname is dat hy daardie digterlike stelsel op drie maniere herskryf het, naamlik om deur vermenging nuwe vorme te ontwikkel, deur die uitdrukkingskrag daarvan te verhoog en deur dit plaaslik en Suid-Afrikaans te maak, maar dit terselfdertyd vir homself toe te eien en dit aan te pas binne sy eie poëtika. Vier aspekte van die Simbolisme word bespreek, naamlik die simbolistiese werkwyse, Simbolisme en musiek, die simbolistiese toon en die korrespondensies. Die vernaamste bevindings is dat Cloete die uitdrukkingskrag van die Simbolisme vergroot het deur dit te  moderniseer, maar ook deur dit te deologiseer - dit wil sê deur dit in ‘n instrument te omvorm vir die bestudering van Deus, God.

 

1. INLEIDING

 

TT Cloete is ‘n klassieke poeta doctus: ‘n geleerde digter. Hy weet baie en konfronteer sy lesers graag met ongewone begrippe en moeilike woorde. Sy nuutste bundel, Heilige nuuskierigheid (Cloete 2007), open byvoorbeeld met die gedig “Eurinome”. Om sy lesers te help, verduidelik Cloete in ‘n eindnoot uit De Vries se simboolwoordeboek dat Eurinome die godin van vrugbaarheid is en dat sy in die vorm van ‘n duif uit Chaos opgestyg het. Dit is een van ‘n hele reeks eindnote wat ‘n mens nodig het om hierdie bundel behoorlik te verstaan. Uit die bundel is dit ook duidelik dat Cloete se “heilige nuuskierigheid” ‘n baie groot verwysingsveld bestryk - eintlik die ganse skepping, van die kleinste insek tot by die magtigste sonnestelsels. Daarom rym hy “mot” graag op “God” en sien hy in die kleinste dingetjies groot kosmiese bewegings weerspieël. In sy poëtika, en dit is ‘n tipiese trek van die internasionale kunsstroming van die Simbolisme, hang alles met alles saam in een groot stelsel van ooreenkomste (korrespondensies).

 

2. TEKENS VAN KREOLISERING

 

Kreolisering vind ‘n mens myns insiens op minstens twee maniere in Cloete se werk. Die gedig “kielieharies”, ook uit Heilige nuuskierigheid (Cloete 2007:51), is ‘n voorbeeld van die eerste soort kreolisering by Cloete. Die titel is ‘n speelse vervorming van “Kalahari”. Hierdie speelse kreolisering bereik ‘n hoogtepunt in strofe 3. Die spreker het gaan navorsing doen oor “die sku kalaharispinnekop” en sy gevolgtrekking lui:

hy is skaam

dus is sy skuilnaam

spinnekieliekalliekaleskamehariekieriekop

In die lang slotwoord kan ‘n mens ‘n hele rits woorde herken: kielie, kale, skame, hariekierie - harikiri (selfmoord), skameharie, kierie, kieriekop. Die digter het hier ‘n reeks woordspelings op Kalahari gemaak, permutasies van kala: kale - kallie, - kielie - kierie - harie - kale - skame. En dit het hy alles ingeskryf in die woord spinnekop. ‘n Reeks betekenisse, eintlik ‘n hele verhaal, is saamgetrek en speels in die een lang kofferwoord saamgedruk. Hierdie verskynsel is ‘n kreatiewe kreolisering waarin woorde speels omvorm en op nuwe maniere met mekaar gekombineer word.

‘n Ander soort kreolisering blyk uit die gedig “bywoners” uit die bundel Uit die hoek van myoog (1998:11). Hier treur die spreker oor die verbygaan van die Afrikaners - een van die min gedigte in Cloete se oeuvre waaruit ‘n tipies postkoloniale vervreemding blyk:

eers was ons base

ons het elmboog-uit op ons plase

in ons nissanbakkies gery.

nou is ons onteien. ons bly

in dorpies waar hulle van sê:

net woestyndiere sal daar lê

en uile en kokkerotte

in die setlaarshuise op gehuurde plotte.

 

In beide die Christelike en die simbolistiese tradisie is mense net bywoners op aarde, maar hierdie gedig slaan ook konkreet op die politieke oorgang wat Afrikaners moet verwerk. Wat die oorgang egter besonder skrynend maak, is dat die base en besitters vervreem word van hulle grond én hulle taal, omdat hulle taal vermeng raak met Engels, die taal van die neo-koloniale hegemonie, soos blyk uit woorde soos “kokkerotte”, “setlaars” en “plotte”. Hulle verlaagde status is ‘n dubbele ontheem ding.

Cloete se werk is vol vreugde oor die goddelike samehang van alle dinge, maar ook vol hartseer oor die verganklikheid van die aarde en die mens. In hierdie opsigte sluit sy werk aan by die Simbolisme, soos ek sal aantoon, maar my argument in hierdie artikel is dat Cloete die Simbolisme kreoliseer - op ‘n idiolektiese wyse herskryf, aanpas by Suid-Afrika en uitbrei.

 

3. SIMBOLISME AS DOELBEWUSTE STREWE NA MISTERIE

 

Semioties gesien, is die meeste woorde simbole, want die reeks tekens kakiebos staan per konvensie vir daardie nare en geharde onkruid wat die Engelse na bewering in hulle veevoer in Suid-Afrika ingevoer het (Boshoff & Nienaber 1967:322). In die woord word dus eintlik ‘n stuk geskiedenis en ‘n groot stuk emosie saamgevat. Meestal gebruik ons woorde egter net as instrumente - as kommunikasiemiddels - sodat die simboliserende energie, die krag van die emosie wat daar in ‘n woord opgesluit lê, die verbasende ontdekking dat ons die dinge inderdaad name kan gee, verdof en afslyt soos ‘n ou muntstuk. En dit is onder andere die digters se taak om ons weer bewus te maak van die diepte en bedwelmende rykdom van woorde. Dit was die program van simbolistiese digters soos Verlaine, Mallarmé, Rimbaud, Yeats, George, Kloos, Gorter en Leopold.

 

3.1 Korrespondensies

 

“Bedwelmende rykdom” het ‘n ryk historiese eggo, want die Nederlandse digter Willem Kloos het reeds in 1882 onsterflikheid beloof aan die digters wat die bedwelmende rykdom van hulle sielelewe kan omsit in streng ritmes en breë, gewaagde beelde (Kloos 1971:53,58). Kloos is een van die Nederlandse digters wat T T Cloete gereeld in sy poësieklasse behandel het - saam met ander digters vir wie hy besonder lief is, soos Herman Gorter, J H Leopold en J C Bloem. In Gorter se lang gedig Mei het Cloete veral die samehangsgedagte beklemtoon - die gedagte dat daar in elke ding ‘n fyn essensie van elke ander ding skuilgaan (Gorter 1976:r. 945-6) en dat alles daarom met alles saamhang in ‘n byna mistieke verband. Elke ding, hoe nietig ook al, ontleen sy waarde en sin aan sy posisie binne daardie groot, omvattende verband. Hierdie beginsel, die idee van korrespondensies, maak simbolistiese poësie ryk en veelvuldig.

Korrespondensies tussen die dinge is ‘n gedagte wat sterk in Cloete se eie poësie voorkom (soos Hennie Schutte (1984) onder andere uitgewys het). Die basiese idee agter die korrespondensies is platonies: woorde in hulle samehang wys heen na ‘n ryker, lewendiger, wesentliker werklikheid agter die gewone dinge wat ons kan waarneem.

Die een stelling wat ek in die loop van die artikel wil beredeneer, is dat Cloete se poësie wesenlik simbolisties is. Een argument daarvoor is dat Cloete se poëtika wesenlike ooreenkomste vertoon met die idees van simbolistiese digters soos Kloos, Gorter en Leopold in Nederlands en Verlaine en Rimbaud in Frans. Sy werkwyse kom ook sterk ooreen met die wyse waarop hierdie digters natuurelemente gebruik as simbole vir die ontsaglike rykdom van hulle innerlike lewe. In sy sonnet XXXV (Dekker 1971:152) vergelyk Kloos byvoorbeeld die rykdom van sy innerlike lewe met die onmeetlikheid van die see.

Hierdie stelling is nie onproblematies nie, want die Simbolisme was ‘n internasionale beweging in die kuns, musiek en letterkunde van die laat 19de en vroeg 20ste eeu. Hoe kan T T Cloete, wat eers in 1980 gedebuteer het, dan as ‘n Simbolis beskou word? Soos in die projek oor die Simbolisme in die Afrikaanse digterlike tradisie (Steenberg 1993) aangetoon is, het die Simbolisme ‘n besonder sterk invloed op die Afrikaanse poësie gehad. Annemarie Bischoff (1993) het egter in haar ondersoek as deel van die Simbolismeprojek heel stellig bevind dat Cloete nie ‘n Simbolis is nie. Sy meen Cloete se werkswyse stem ooreen met die simboliste s’n en herken in sy werk wel simbolistiese trekke soos die korrespondensies en kernsimbole soos musiek, die droom en die vrou bevat. Sy meen dat die resultaat van Cloete se werk verskil van die Simbolisme, omdat sy werk nie neerkom op aanbidding van die skoonheid en die menslike maker daarvan nie. Daarteenoor is my argument dat Cloete wel deeglik ‘n Simbolis is, maar dat hy die Simbolisme vir sy eie doeleindes aangepas het.

 

3.2 ‘n Tweede inhoud suggereer, evokeer

 

Simbolisme is moeilik om te defi nieer, omdat hierdie digters daarna streef om ‘n objek, en daarmee saam ‘n bepaalde emosie, op te wek, nie deur dit direk te sê nie, maar deur dit te suggereer. Hulle werk met metafore waarvan die een pool duister gelaat word, onder die oortuiging dat ‘n gedig veel genietliker is as die objek geleidelik ontsyfer moet word. Chadwick (1971:2) omskryf Simbolisme derhalwe as:

The art of expressing ideas and emotions not by describing them directly, nor by defining them through overt comparison with concrete images, but by suggesting what these ideas and emotions are, by re-creating them in the mind of the reader through the use of unexplained symbols.

Toestande wat vervaag, oplos, wat vae kontoere het, wat neig om te verdwyn; dinge wat byna nie gesê kan word nie - die Simboliste maak byna ‘n kultus van vaagheid en dubbel sinnigheid. Hulle dominante instelling is om te suggereer, op te roep, nie te sê nie en tog te sê. Agter die woorde, en eintlik deur die fyn samespel van woorde, klanke, ritmes en betekenis - elke moontlike digterlike middel - dra die gedig iets oor wat nie geformuleer word nie; ‘n tweede inhoud wat nie vorm gekry het nie. Hierdie tweede inhoud sluit alles in wat, in Cloete se woorde aan C M van den Heever (Cloete 1982:21), saamgevat kan word in “die angswekkend mooi hees geskreeu van jou wildeganse”. Kloos (1971:53) praat van “Zin en schakeering van woorden en klanken, afzonderlijk en in hun schikking tot een melodie van lijnen en kleuren, en het onvatbare daarachter”. Woorde vir dinge uit die werklikheid word in simbolistiese poësie gebruik as simbole van iets anders - ‘n paradyslike eiland in die weste, soos by A. Roland Holst, of die oneindige rykdom van die eie sielelewe, soos by Kloos.

Presies hoe Cloete omgaan met die Simbolisme in sy poësie is natuurlik die vraag. Dit is die tweede stelling wat ek wil maak, naamlik dat hy die Simbolisme kreoliseer.

 

4. KREOLISERING EN RELASIONELE VERSTAAN

 

Kreolisering beteken “kreools maak”. Kreools is ‘n woord wat soms in tydskrifte en koerante gebruik word vir die kookkuns of die eksotiese skoonheid en skoonhede van Mauritius of die Karibiese Eilande. Populêrweg beteken dit “gemengd” van taal, ras of kultuur, soos “die mengsel van Franse setlaars en Malgassiese slawe” (Myburg 2009:3) waaruit die Frans-Kreools en die kreoolse kookkuns van Réunion ontstaan het. Die begrip kreools kom uit Portugees crioulo (Crystal 1998) en uit Spaans criollo, wat oorspronklik beteken het ‘n kind van Spaanse ouers wat in die Suid-Amerikaanse kolonies gebore is (Odendal & Gouws 2005), of in ‘n wyer sin iemand van Europese afkoms wat in ‘n kolonie gebore en grootgeword het. Volgens Schwegler (2003:53-54) word criollo vandag nog in baie dele van Suid-Amerika gebruik in die sin van “plaaslik”, “van hierdie plek”, “hier gebore en grootgeword”, sonder spesifi eke ras- of etniese betekenis. Hy meen ook dat die primitiewe letterlike betekenis van criollo etimologies verband hou met Latyn creare, “om te skep”, via Portugees. Criollo beteken dus “iets of iemand opgevoed of grootgemaak” plus ‘n deiktiese element soos hier.

Kreolisering word in die taalkunde gebruik in die konteks van die kruising en vermenging van tale. Soms ontwikkel ‘n kontak- of kommunikasietaal (’n sg. pidgintaal) tussen mense wat mekaar nie verstaan nie tot die moedertaal van ‘n bepaalde groep. Die struktuur, woordeskat en uitdrukkingsvermoë van die pidgintaal word dan geweldig uitgebrei. Hierdie uitbreiding word kreolisering genoem (Crystal 1998).

Ook in ‘n literêre en kulturele konteks is kreolisering belangrik, want die vermenging van tale, naas die vermenging van rasse, is een van die belangrikste metafore vir die verstaan van die ingewikkelde prosesse van kulturele kontak, assimilasie, kruising en splitsing (Young 1995:1-28). Toegepas op die letterkunde is my vraag spesifi ek of die (Suid-)Afrikaanse letterkunde (en kultuur) in die breë ook as so ‘n postkoloniale hibried of gekreoliseerde vorm beskou kan word.

Hibriditeit en kreolisering is veral belangrike konsepte in die studie van letterkundes van voormalige kolonies. Op die spoor van Glissant (2006) beskou ek kreolisering as ‘n beginsel vir die relasionele verstaan van ‘n skrywer en sy werk.1 Relasionele verstaan hou in dat die skrywer en sy werk in ‘n netwerk van veelvuldige relasies met ander tekste en met tale en kulture rondom hom verstaan word - ook in relasie met die magte en sosiale energieë van sy tyd. Tekste, sosiale magte word aangehaal, herskryf, geparodieer of gedialogiseer. Kreolisering hou in dat ‘n teks verstaan word as verwikkel in ‘n internasionale netwerk van verskillende tale en kulture oor nasionale en taalgrense heen.

Gegewe die etimologie kan drie belangrike betekenis momente in kreolisering onderskei word. Eerstens dui kreolisering op die vermenging van kulture en tradisies waardeur byvoorbeeld nuwe genres ontstaan. Verdietsing of aanpassing by die lokale - plaaslik maak (in die sin van criollo) - is ‘n tweede belangrike moment, maar saam met aanpassing gaan ook verset, toe-eiening, omvorming en kompetisie. Die derde moment is die uitbreiding van ‘n instrumentele of kommunikasietaal/-tradisie (dus ook ‘n digterlike tradisie) tot “moedertaalgebruik”. Uitbreiding hou onder andere in dat die digterlike woordeskat vergroot word, dat literêre strukture verder ontwikkel en omvorm word en dat die taal se uitdrukkingsvermoë verhoog word.

In die res van die artikel wil ek nagaan hoe Cloete die Simbolisme gekreoliseer het, toegespits op vier sleutelaspekte, naamlik kreolisering van die simbolistiese werkswyse, die simbolistiese musikaliteit, die simbolistiese toon, en ten slotte die korrespondensies. Hiermee wil ek meer inhoud gee aan die vae idee van “invloed” en ook bepaal wat Cloete se Simbolisme, lank na die erkende simbolistiese digters, in ‘n totaal ander leefwêreld, anders maak. Met ander woorde, ek wil bepaal watter tipiese transformasies die Simbolisme in Cloete se werk ondergaan het. 1 Vergelyk Viljoen & Van der Merwe (2007) vir ‘n beredenering daarvan.

 

5. DIE SIMBOLISTIESE WERKSWYSE: HEMELSBLOU EN DIE UUR VAN

PURKINJE

 

Al is dit per defi nisie vaag en suggestieryk kan ‘n mens tog enigsins vat kry op die Simbolisme met René Wellek (1984:27) se defi nisie daarvan as “simple replacement and a suggestion of mystery”.

Wellek se definisie beteken dat die Simboliste ‘n letterlike term deur ‘n metaforiese term vervang, maar die metaforiese term net vaagweg suggereer of selfs glad nie noem nie. Op hierdie manier word die aardse dinge beelde van ‘n verhewe maar versweë geheim. In kontras met die realiste en die naturaliste, wat net ingestel was op die oppervlakte en sintuiglik waarneembare gegewens, stoot die Simboliste wel die aardse dinge na vore, maar juis as tekens of geheimskrif wat iets veel groters maar onnoembaars moet suggereer. Dit is wat Wellek bedoel met “a suggestion of mystery”. In die woorde van Chadwick (1971:6) is hierdie werkswyse ‘n poging “to penetrate beyond reality to a world of the ideas, either the ideas within the poet, including his emotions, or the Ideas in the Platonic sense that constitute a perfect supernatural world towards which man aspires”. Distinktief vir die Simboliste is dus dat hulle die funksie van literatuur sien as “blootleggen of ervaarbaar maken van dieper liggende verbanden in de werkelijkheid; abstraheren van gewone werkelijk heidservaring” (Oversteegen 1982:69).

Hoe Cloete die simbolistiese werkwyse aanwend, blyk uit ‘n gedig soos “oopoog gebed aan ontbyttafel” (Cloete 1985:137). Dit kom uit Allotroop, die bundel wat vol pyn en lyding is en wat ‘n verloop beskryf van pyn, deur die dood tot ‘n diep tevredenheid: ‘n vreugde wat onder andere uit hierdie gedig straal. Dit is ook ‘n bundel wat op die oog af nie duidelike simbolistiese trekke bevat nie.

oopooggebed aan ontbyttafel

ons twee Herman Knus Slaplat

en Nanna Koue Patat

van Silwer kom laat ons bid

dankie dat ons hier sit

dankie vir die roomgeel broodkorsie

en ‘n stukkie bruin varkworsie

swart koffi e vir die dors

op die tafeldoek bont gemors

doer sit ‘n grys mossie

en vreet aan die goue druiwetrossie

dankie dat ons voor die venster sit

voor ‘n stuk van die wit

gewel van die oorkantste bure

en dele van die terracotta mure

van ander huise stukke blink dak

roos wolke alles in ons raam die groen tak

met rooi perskes die stukkende pers gordyn

die reënboog van die wasgoedlyn

‘n swart telefoondraad

dowwe mense wat voyelles praat

laat ons ons kos goed fyn kou

en ons mond nou hou

amen laat ons lag in ons mou

die hemel is uitsluitend hemelsblou

Dit is ‘n mooi en speelse gedig, maar op die oog af ‘n baie gewone dankgebed vir doodgewone dinge - “broodkorsies”, “varkworsies”, “stukkende pers gordyn”. Dit eindig met die hemel wat - hoe kan dit nou anders? - hemelsblou is. Lieflik en ironies, maar dis al.

Begin jy egter wonder oor daardie “dowwe mense wat voyelles praat” (vers 20), dan val dit jou by dit is die titel van Arthur Rimbaud se beroemde sonnet oor die vokale en hulle emosionele en simboliese kleure: “A noir, E blanc, I rouge, U vert, O bleu: voyelles” (Parmeé 1966:268) - A swart, E wit, I rooi, U groen, O blou: vokale. En lees jy die gedig dan weer, val die kleure jou op: “roomgeel broodkorsie”, “bruin varkworsie”, “wit gewel”, roos wolke” “rooi perskes”. Die proses eindig by die hemelsblou van die lug. Blou is die kleur van O, wat Rimbaud in die sestet van sy gedig verbind aan Omega en die pers straal van Sy oë.

Met die enkele woord “voyelles” suggereer Cloete dus dat die gedig teen die agtergrond van die Franse Simbolisme gelees moet word - maar ook met hulle werkwyse in gedagte - die evokeer van ‘n tweede inhoud. Die tweede inhoud is hier eerstens die emosie waarheen al die dinge in die gedig heenwys, naamlik ‘n diep vreugde. Die gedig roep ook al die kleure en hulle assosiasies op. Wat hier op die spel is, is veel meer as net invloed, want die digter het die simbolistiese tradisie vir hom toegeëien en plaaslik gemaak: die (emosionele) kleur van die vokale uitgedruk in doodgewone dinge soos mossies en druiwetrossies - wat egter nie (of dalk juis nie) tipies Suid-Afrikaans is nie.

Die gedig eindig vol vreugde in die blou - die transendente blou - van die hemel. Hier word die tweede inhoud glad nie gesê nie - net die simbolistiese laag word gesuggereer. Die laag van die Gans Andere, van God, kry eintlik nie vorm nie. Dit word net opgeroep met die kleure en gesignaleer in die herhaling van die hemel - of eintlik weggesteek agter die dooie metafoor van “hemelsblou”. Saamgelees met Cloete se ander gedigte raak die leser hier egter bewus van ‘n dieper inhoud: die aanwesigheid of eintlik die in-wesigheid van God (al word Hy nooit in die gedig genoem nie).

Veel eksplisieter blyk hierdie proses uit “Insinjes” (Met die aarde praat, p. 32):

Insinjes

Jesaja 46

In die stuifmeelstafi es en -korrels van die plant

wys iets van Hom. In die sagte sneeuvlok se patroon

word water- en suurstof tot sagte snel oplosbare kant

gehekel, altyd getrou aan die één sjabloon van die heksagoon.

Hy gun ons dit as volkome voorbeeld vir ons mooiste siermotiewe.

Vir die nuuskieriges na God - gun ons dit - is dit hiërogliewe

in die gedaante van ‘n boom se veelvoudig geaarde blaar,

die strale van ‘n ster, ‘n maltese kruis … beskryfbaar

alleen in die bekende en beperkte. Sneeuvlokkievlug

laat Hy sedert Jesaja ons baie vergelykings vaar

en trek hy Hom soos ‘n gevoelige mossel in sy skulp terug.

Hy is polivorm, Hy verdoesel met perspektiewe wat in perspektiewe

wegraak, Hy laat sy vlok in al fyner vlokpatrone verdeel,

insinjes in insinjes in motiewe binne motiewe.

Sy vlok het speke van ‘n wiel sonder velling. Patroon

is in patroon ingeskape, vir die oog te veel

om in te sien, skoner as skoon,

fyn edelsmeewerk mooier en ryker

en fyner as in enige koningskroon

of in septers en stawe of ‘n biskop se myter.

Met sy eie maaksels onvergelykbaar

moet ons Hom na elke onvermoeide begin weer laat vaar.

In die sneeuvlok is sy handmerke wolkerig sigbaar

deur die hipergevoelige kamera se supervergrootglas

en superspoed, as guns vir ons loergier, as die fi lm dit vas

vat vóór die oplossende kleurpatrone van ‘n pou se stertveer

en ‘n mot se iriserende perlemoervlerk deformeer

in die smeltende fraksie van ‘n sekonde. …

Opvallend is dit juis die fyn patrone van stuifmeel, sneeuvlokkies en die vorm van blare wat vir “nuuskieriges na God” as hiërogliewe dien van sy teenwoordigheid, maar waaruit God telkens weer wegraak, verdoesel raak, oplos. En aan die einde los die gedig letterlik op in verskillende vae en delikate kleure:

In mý insien

is van Hom iets van ‘n vermoede in die emerald- en fluoressine

en in die lasuriet en die menie in die delikate insinjes

van blomme en voëls vas gevat in die delikate uur van purkinje

Patrone verskuif in patrone. God verdoesel Hom in ‘n verskeidenheid vorms, motiewe, sjablone; Hy verlaat ons vergelykings “sneeuvlokkievlug”; Hy is net “wolkerig sigbaar” in kleurpatrone wat in ‘n fraksie van ‘n sekonde oplos. Insinjes is die onderskeidingstekens van ‘n rang of amp, maar die patrone waarin God hom openbaar, is veel mooier en fyner as enige menslike onderskeidingsteken soos kroon, staf, septer of myter. God is eintlik veel groter as enige vergelyking of metafoor wat ons vir Hom kan bedink - Hy “laat ons vergelykings vaar”. Die vraag hieragter is die vraag van Jes. 46:5, soos die motto aandui: Waarmee sal ons God vergelyk?

In die slot van die gedig het Cloete ‘n taamlik ingewikkelde raaisel ingebou. Die spreker se vermoede het hier met kleurstowwe te make, soos ons in die WAT kan sien. Emeraldine is ‘n blou (of groen) kleurstof wat ontstaan as ‘n tussenproduk in die bereiding van die swart kleurstof anilineswart. Fluoressine is ‘n liggeel kleurstof. Lasuriet is die vonkelende blou dalk beter bekend as lasuursteen of lapis lazuli. Menie is ‘n rooi kleurstof. Die sleutel tot die raaisel lê in die laaste woord, en gelukkig het die digter dit vir ons uitgelê (Cloete 1992:83): Purkinje-verskynsel: die verskynsel dat die helderheid van oranje-rooi kleure vinniger daal namate die beligting swakker word as wat die helderheid van blou-groen kleure in dieselfde omstandighede daal… Johannes Purkinje ['n Tsjeggiese fisioloog - HV] het reeds in 1825 geskryf oor sy waarneming dat die rooi blomme in sy tuin teen skemer donker vertoon het, terwyl die blou blomme nog helder gelyk het.

Aan die slot van die gedig bevind die spreker hom dus in ‘n oorgangstoestand, skemer, waarin die blomme en voëls blouer kleure aanneem. Sy kleurwaarneming verskuif meer na blou toe namate dit donkerder word. Juis in hierdie tussentoestand word die spreker se vermoede van God sterker. Weens hulle vaagheid is sulke oorgangstoestande geliefd by die Simboliste. Alhoewel die digter eksplisiet wys op die tekens van God, is Hy steeds besig om te verdwyn in patrone agter patrone, in “perspektiewe wat in perspektiewe wegraak”; in die koninklike kleure van blou en rooi wat blomme en voëls in die skemerlig laat verander in rang ken tekens, heraldiese motiewe, hiërogliewe. Nie verniet nie is een die motto’s van hierdie afdeling “U is die God wat U verborge hou…” (Jes. 45:15).

Die vervaging en vervloeiing, die oplos in die delikate, ook die kleure wat gebruik word self, is baie duidelik simbolisties. In hierdie gedig het Cloete die simbolistiese werkswyse duidelik gekreoliseer deur die uitdrukkings krag daarvan uit te brei met terme en insigte uit die natuurwetenskap. Kreolisering beteken by Cloete ook dat alle dinge (soos die blomme en die voëls) tot tekens en rangkentekens van God omvorm word.

 

6. “VOËLS BRING NUWE TEKS AAN”: KREOLISERING VAN DIE SIMBOLISTIESE

MUSIKALITEIT

 

Belangrike tekens of draers van God in Cloete se poësie is voëls - mossies, swaels, arende, aasvoëls, pikkewyne, pelikane, en noem maar op. Die Arktiese swael noem hy in Idiolek ‘n “mikrostraler” waarin die “doen van God” “ryk saamgestel is” en waarin God “sy aërodinamiese spel” speel (1986:84). Die Simboliste het ‘n voorliefde vir swane en poue (vgl. Forestier 1984:106), soos in Baudelaire se beroemde gedig “Le cygne” (Baudelaire 1988:95-6) en Yeats se “Leda and the swan” (Yeats 1990:127). Hulle is tekens van die skoonheid self, maar ook as boodskappers van daardie ander, beter wêreld agter ruimte en tyd soos die meeue in Roland Holst se “Een winteravondval” (Roland Holst 1971:212-4).

In Heilige nuuskierigheid tel ‘n lang lys voëls soos kolibrie, koningsadelaar, lammergeier, kondor, reier, albatros, troupant, plaasfi sant en baardarend onder die edel skepsels wat God eerder as voorouers vir die bobbejaan kon beskik het (”stamboom 3″, Cloete (2007:62)). In “klein epos van die vanselfsprekende” ( 2007:34) vertel die witborskraai, die bosluisvoël, die renostervoëltjie saam met die flamink en ander “selfstandige selwes” “van die Self wat haar Spontane Self met ‘n groot S spel”. Maar dit is veral die sang van die tinktinkie en die gekwetter van die mossie2 wat vir Cloete belangrik is - soos musiek in die algemeen, natuurlik.

Die Simboliste het musiek en poësie feitlik gelyk gestel, soos onder andere blyk uit Leopold se “Emir Khosrau” omdat musiek by uitstek kan suggereer en evokeer; gevoelens en suggesties van die onnoembare kan opwek. Walter Pater het al in 1873 (1917:135) in sy essay oor die Skool van Giorgione verklaar dat “All art constantly aspires towards the condition of music”, juis omdat musiek by uitstek die kunsvorm is waarin vorm en inhoud mekaar wedersyds deurdring onder leiding van ‘n soort “verbeeldingsrede” tot iets onvertaalbaars en onoordraagbaars. In sy beroemde gedig “Art poètique” (1874) het Verlaine bo alles musiek van die digter geëis, omdat die musiek deur die klank die dinge aan mekaar kan verbind. In Breyten Breytenbach se vertaling (1987:117) lui die vierde strofe:

2 Kyk bv. “Van mossies en meer” en “ballade van die mossie” in Angelliera, p. 5, 53.

Want ons wil wéér die Gradering,

Nie die kleur nie, slegs die nuanse!

O! Die nuanse alleen flans

Droom aan droom, die fluit aan die horing!

Cloete haal Verlaine se beroemde frase, “De la musique avant toute chose”, musiek bo alles, aan as titel van gedig XIII in die reeks Trigloop uit Driepas (p. 168) - ‘n gedig wat aantoon dat “daar genesing deur gloeiende klank [kan] kom”, omdat musiek “instrumente wat jubel en dié wat brom” versoen en daardeur ‘n gesig oproep, maar ook ‘n “geluidende mimikrie”. Mimikrie, nadoen, na-aap, naboots, is ook ‘n sterk deurlopende tema by Cloete.

“Muziek lokt van een ziel muziek weer los” is ‘n credo van Gorter se Mei. Die mooi lentemeisie Mei is ook ‘n verpersoonliking van die simbolistiese digter, betower deur die lied van die god Balder. Hy is blind en een en al oor, in staat om met sy musiek hele wêrelde tot stand te bring, maar uiteindelik ook volkome selfgenoegsaam en geïsoleerd. Die groot hartseer van die verhaal is dat Mei se poging misluk om met Balder te trou en so die verganklike en die onverganklike met mekaar te versoen. So ‘n versoening is onmoontlik, en sy moet sterf. Balder besef uiteindelik dat selfs musiek die sielsbeweginge nie genoegsaam kan uitdruk nie. Mei is vol musiek, maar, soos by die Simboliste, gaan dit nie net om die musiek as tema nie, maar veral ook om die musiek van die gedig self, die wonderwerking van die taalklank wat as ‘t ware fosfor oor die woorde stryk en ‘n vry lied bo die woorde laat uitsing, soos Leopold dit in “Emir Khosrau” (1977:123) gestel het.

Die waarde van musiek het Cloete (In Idiolek 1986:114) byvoorbeeld uitgedruk in “botoon ondertoon” waar hy skryf:

aan ons gemoed pas melodiese geluid

‘n onmiddellike teergevoelige huid

die musiek traseer

fyner en meer

en meer gehoorde

weet as die weet van alle woorde

Musiek word hier beskryf as ‘n soort vel wat presies om die emosies pas en as ‘n beter kenorgaan as woorde. Instrumentale musiek gee ook ‘n aanduiding van die grootheid van die emosies. Hierdie lof aan die musiek word egter gerelativeer deur dit in kontras met God se oor te plaas, wat oop is vir alle tale en veral alle gebede, ook die gebed van die vers. Die Kol Nidre geld in hierdie gedig as die groot voorbeeld van so ‘n gebed - die Joodse aandgebed op die Groot Versoendag waarin die gemeente vergifnis vra vir al die geloftes wat hulle aan God gemaak het (maar nie kon nakom nie) (Jacobs et al. 2002).

Cloete se gedigte is vol musiek en verwysings na komponiste, maar, soos ons in “Insinjes” byvoorbeeld al kon hoor, ook ryk aan klank en aan die gebruik van klank om ryk betekenismoontlikhede te suggereer. Die oor is by hom ‘n belangrike digterlike orgaan, miskien veral omdat dit ‘n orgaan is wat versamel. In “Die gedig is ‘n refleks”, (Driepas 1989:34) skryf hy immers:

die gedig is ‘n refleks

in ‘n enkele woord

en in dié woord hoor

die oor ineen ineens die teks

van die versamelde gedig

Die oor is egter ook ‘n orgaan wat God kan raakhoor en wat soms selfs namens God hoor. “Ps. 150″ (Idiolek 1986:79) begin met die woorde

God laat Hom in in die klank

van ons taal resitatief ingeweef of tenoor

hoog.

Die oor hoor egter nie altyd die gefluister van God raak nie. In die donkerste fase van Allotroop staan daar ‘n groepie gedigte wat die diepste pyn vertolk. Pyn bring isolasie en eensaamheid (veral afstand van God), en dit word hier in liminale beelde uitgedruk. God moet die spreker weer soos ‘n skilpad regop dop en wegkyk, lui die gedig “omgedop”. In “lê en roer” (Cloete 1985:48) kan die spreker amper niks anders meer doen as om “aan die roer” te bly soos die “embrio in die moer” nie. Die slotstrofe lui:

kleef aan jou bed

die hemel is hol

en koud en ver verset

jou teen die dood wurmpropvol

Hierdie reeks gedigte, en dit sluit ook in “Job die tweede”, “teater a”, “artropatie” en “uiteindelike nag”, beskryf herstel as harde en doelbewuste werk aan die liggaam, as beraming, maar die verset is tevergeefs, die liggaam is reeds vol wurms. Die groot vrees vir die afsydigheid van God blyk ook uit “lê en roer”. Doodgaan is ‘n verlies van die self, van identiteit - saam met verlies aan plek en tyd. Selfs die woordjie ek het uit hierdie gedig verdwyn.

Juis hier in Allotroop waar die pyn en die dood hulle dieptepunt bereik, staan die gedig “Somnambule” (Cloete 1985:57):

ek die bedrieglike klein oor

kan van ent tot ent

van kontinent tot kontinent

die groot fluister afhoor

daar is ‘n onvermoeide ghong

wat onuitputlik

die tyd aanhits en aftik

die amegtige long

swel in ‘n vals ambraal

bevrees asem popelend smag

ononderbroke deur die nag

om permanent suurstof te haal

in ‘n skrynende afloskoïtus

soek die bloedharde fallus die sagte skoot

die vlesige huls snak na sproeiende skroot

hulle wil met bevreesde lewenslus

die dood besweer wil met soet bedrog

soet koïties stuiptrekkend

‘n verweer wees teen die skrikwekkend

gedempte gedrog

ek sê wreed wat ek weet

die parendes boor

mekaar doof pinkie in die oor

en gil vervaard vergeet vergeet

maar ek is die onverskrokke uitprater

wat snags deur die strate loop

en al die beskermende bloed

van die deurposte af kalfakter

die dag wil dit oordawer uitdender

die nag maak dit infrasonies stil

maar ek die groot gil

het ‘n kontinue megasender

my tong sit hulle agterna

ek sal hulle uit hul inslaap

tot ‘n finale suurstofgaap

uitmunch uitgoya

Die titel beteken sowel “slaapwandelaar” as, hoewel minder gebruiklik, “heldersiende persoon” (Frans somnambule, uit Latyn somnus, slaap, en ambulare, wandel)” (HAT). Die oor is hier die orgaan waarmee die spreker die waarheid hoor, en dit is nie die gefluister van God nie, maar wel die “vals ambraal” van die mense wat hulle “in ‘n skrynende afloskoïtus” verset teen die dood, die “skrikwekkend gedempte gedrog”. Ambraal is “‘n kinderspeletjie waarin die sieke kastig sterf, maar dan moleste maak” (HAT) - in hierdie geval dus ‘n soort dubbele bedrog pleeg.

In teenstelling met die “lijzige gefluister” van die Simboliste het ons hier ‘n oorverdowende geskreeu, uitgedruk in ‘n reeks hiperbole: oordawer, uitdender, megasender. Die digter is die uitprater, die groot gil wat al die beskermende lae afblaas en die mense as ‘t ware uitskel tot in die dood - uitskel in die taal van verskriklike skilderye soos Munch se “Gil” of Goya se “Heksesabbat”. Die gedig is natuurlik ook die digter se megagil teen die dood - hy stel sy werk, sy tong, doelbewus op teen daardie “gedempte gedrog”. Die gedig is ‘n uitskreeu teen die dood, en die hoop is dalk ook dat die digter, nes Munch en Goya, deur sy verset uit te gil, ‘n soort onsterflikheid kan bereik.

In teenstelling met hierdie megafoniese uitskel, kry ons ‘n meer tipies simbolistiese soort gebruik van die klank in die gedig “Syrinx” (Met die aarde praat 1992:8):

Asem en lippe en die slank litte van ‘n riet

is nodig, en vingers, en dálk verdriet,

dálk geluk, maar beslis onmisbaar is die mooi onvervulde

verlange, sodat dit teruggevind kan word in die verhulde

gedaante van die lang golwende tremologeluid

vrygestel in die vermomming van die rietfluit.

Tipies hier is die “onvervulde verlange”: die geluid reik uit na iets wat nie direk genoem word nie, maar weggesteek word in die verwysings na asem en lippe en riet en vermomming. Die verlange word ook ikonies in die spel met klanke uitgedruk: die alliterasie van v, r, l, [x] in onvervulde verlange, teruggevind, verhulde, vrygestel, vermomming en ook in die spel met vokale in verlange, teruggevind, in die verhulde gedaante van die lang golwende tremologeluid. Paradoksaal word die verlange vrygestel in ‘n vermomming.

Die klank en betekenis beskryf nie net die geluid van die rietfluit nie, maar suggereer ook ‘n tweede inhoud wat net vaagweg opgeroep word in die paradokse van “verhulde gedaante” en “vermomming”. Dit is naamlik ‘n verhaal uit die Griekse mitologie. Die persoon na wie verlang word, die een waarheen die klank uitreik, word in die titel genoem. In Larousse (New Larousse Encyclopedia of Mythology 1982:161) lees ons sy is die nimf Syrinx. Pan, die bosgod, het haar op ‘n dag agtervolg, maar sy het uitgeroep en haar pa, die rivier-god Ladon, gevra om haar in ‘n riet te verander, en hy het haar gebed verhoor. As troos vir sy teleurstelling het Pan toe van die riete gesny en daarvan ‘n nuwe soort fluit gemaak, wat hy die syrinx genoem het, oftewel die panfluit.

In Cloete se poësie is die verlange wat uitgedruk word in die tremologeluid ook die verlange na God, en dit is ‘n verlange wat sy poësie al sedert Angelliera (Cloete 1980:5) “simfanies” uitsing - soos ‘n groot simfonieorkes met talle klankkleure en -kontraste, maar ook fanaties, “dweepsiek, besiel met ‘n blinde ywer” (HAT s.v. fanaties).

Soos uit hierdie voorbeelde blyk, kreoliseer Cloete die Simboliste se opvattings oor musiek deur hulle in sy eie digterlike sisteem in te trek en veral ook te gebruik om ‘n tweede inhoud agter die musiek te suggereer - nie ‘n verre eiland agter ruimte en tyd nie, maar die teenwoordigheid van God as die Groot Samehang waarin elke ding met elke ander ding in verhouding tree.

 

7. DIE SIMBOLISTIESE TOON - KNOKKELTREK EN LASERASPAAI

 

Die uitskreeu teen die dood soos in “Somnambule”, die besef dat die gewone lewe onvolmaak en verganklik - “wurmpropvol” - is, is ook tipies simbolisties. “Eén ding is droevig”, kla Gorter in Mei (1976:56)

…en maakt zacht geklaag

Altijd om d’aarde heen, een nevel vaag

En luchtig om dat lijf: ‘t is wisseling

Van zijn en niet zijn en dat ieder ding,

Zielen en bloemen, drijven naar dat rijk,

Waar ‘t wit en stil is en den dood gelijk.

Selfs die pragtige Mei moet sterf as haar 31 dae verby is. Die lewe gaan verby en is vol onvolmaaktheid en sterflikheid. Die Simbolisme word gekenmerk deur ‘n diep hartseer oor die onvolkomenheid van mens en wêreld; ‘n tipies simbolistiese toon. Niks is volmaak nie; alles gaan verby en moet sterf. Anna Balakian het die simbolistiese toon beskryf as:

the state of mind of the poet who is haunted by the cruelty of Father Time and the imminence of death. It is an engrossment with self and with the mysteries of an inner fixation on the incomprehensible limits of life and death; it is the delicacies of the oversensitive.( 3 Anna Balakian, The Symbolist Movement, aangehaal deur Grass (1984:231) - vgl. ook Gilfillan (1993:601).

Allotroop is ‘n bundel van pyn in sy verskillende vorms. Die “groot kneus” en die “groot vermink” soos die dood in “in memoriam brezjnjef” (p. 77) genoem word, is volop aanwesig in die bundel. “Die gruwelike uiteindelike skande” van die dood is dat dit ‘n soort perverse seksuele klimaks uitmaak: “die oë staan van die klimaks albasterstyf” (”skande”, p. 73). ‘n Reeks in memoriamgedigte volg daarop - “in memoriam m.” (p. 75), “in memoriam herman” (p. 79), “Allofrasie” (p. 81) wat ter gedagtenis aan D. geskryf is - almal getuienis van “hoe die dood mens trefseker binnehaal” (in die woorde van lg. gedig).

Die bundel word egter gedra, van die begin af, deur die gedagte wat in “Wakker word” (p.12) uitgedruk word:

…Mooi drome woel om ons ‘n hoos.

Nagmerries maak oop. Oorverdowend

polsend in ‘n sinestetiese dik smoor

ontstaan die dag. …

…Dit is ‘n wonder: uit wat afstoot

en ontroer, wat knel en beroer, walg en bekoor

ontstaan daar tog leefbaar ‘n sintoon.

Uit die saambroei van drome en nagmerries, uit die saamkook van vrees en verwagting (”smoor”), ontstaan die dag. Die saamdink van die teengesteldes, ook dié wat “walg en bekoor”, bring iets nuuts en anders tot stand, naamlik ‘n “sintoon”. Hierdie nuwe woord bevat “simptoom”, iets wat iets anders aandui, maar ook “sin-toon”, singewende toon of geluid; iets wat leefbaar maak.

Die sintoon is die gedig self, wat die negatiewe en veral die pyn kan oorkom deur dinge in die bewussyn saam te trek in ‘n oorkoepelende verband. “Hoos” is een van Cloete se geliefkoosde woorde vir hierdie samehang, wat meestal net in gelowige onderwerping raakgesien kan word.

Die gedig is uiteindelik die digter se beter konstruksie of plaasvervanger wat dood en sterflikheid kan teenwerk - by Cloete nie soseer in en deur sy fraaie vorm nie, maar omdat dit iets van die groot geheel in hom versamel.

“Ons almal” (Driepas 1989:137) beskryf hoe familie en vriende saam vasgevang is in “alleenwees” en “hartseer se leegtes”, almal uitgelewer is aan verganklikheid. Die liefde is hier ‘n spinnerak waarin almal vasgevang raak. Dit is ‘n soort eensaamheid en leegte wat nie in woorde uitgedruk kan word nie:

ons sit almal saam

vas in die spinnekop

se mooi net van die liefde - stadig vreet sy ons op

een vir een eensaam tot harde leë beentjies en windligte dop.

Driepas eindig egter nie op hierdie somber noot nie, maar wel met die speelse reeks Stokkiesdraai (p. 186 e.v.) - ‘n reeks heerlike verbeeldingsreise wat die spreker onderneem deur verskillende Westerse wêrelde en stede. Die reeks is vol interteks tuele verwysings en die digter put kennelik plesier daaruit om woorde uit die simbolistiese woordeskat, soos “vagant”, “deerne”, “taveerne”, deel te maak van die Afrikaanse rymwoordeskat.

Die reeks eindig met ‘n gedig wat juis ‘n triomf oor die dood verklaar (Nr. XIII) (Cloete 1989:190):

Vermetel in die groot knokkeltrek

loop ek seervoet, dra laseraspaaie

en boeke, gansveerskagte; met my poëtolek,

my musiekinstrumente en hart en lense loop

ek melkweë, drentel stokkiesdraaie

in stegies, maak in die verloop ‘n knoop

en die cul de sacs loop ek oop.

vir Bunyan en Golyas.

Hierdie moderne pelgrim oorkom met sy digterlike instrumente “die groot knokkeltrek”, dit wil sê die trek na die knokkel- of knekelhuis - daar waar jou beendere bewaar word as die begraafplaas te klein geword het. Hy loop, hy drentel, hy flaneer, soos Baudelaire, tot in die melkweë in. Hy stel dus sy kreatiewe vermoë teenoor die dood. “Laseraspaaie” is ‘n nuwe vinding van Cloete, afgelei van die wegkruip spele tjie Aspaai (in Engels, “I spy”). ‘n Laseraspaai is dus ‘n laserspeletjie of ‘n laserkyktoestel soos ‘n laserverkyker. Hoewel uiters modern is die spreker ook ‘n tradisionele pelgrim met boeke onder die arm en gansveerpen agter die oor. Met sy digterlike taal sal hy die dood oorwin, die doodloopstrate ooploop.

Soos hierdie reeks gedigte illustreer, en die baie meervoude dui dit onmiskenbaar aan, funksioneer Cloete se poësie op ‘n baie algemene, universele vlak, al is dit ook propvol name van spesifieke plekke, plante en diere. Sy versamelsien is ‘n universele, kosmiese manier van kyk wat sterflikheid in die algemeen, as universele menslike kondisie, raaksien. “Laseraspaai” is, nes “sintoon”, ‘n metafoor vir die gedig self. Die laser is een van die lense waardeur Cloete kyk - ‘n instrument waarmee sy naaldekokeroog, soos hy dit noem in sy opstel oor die digter se omgaan met die werklikheid (Cloete 1994), nog beter kan versamel en nog meer fasette van God kan raaksien. “Laseraspaai” dui vir my ook ‘n belangrike faset van sy kreolisering van die Simbolisme aan, naamlik dat hy die Simbolisme moderniseer - met moderne begrippe, in moderne taal en met eietydse tegnologie die ryk verskeidenheid van die skepping afloer, aspaai.

In hierdie proses word die teorie van korrespondensies ook gemoderniseer.

 

8. KREOLISERING VAN DIE KORRESPONDENSIES: VERBAND EN

ENTELEGIE

 

Korrespondensies tussen die dinge is ‘n kerngedagte in Cloete se poësie. Dit skakel onder andere sterk met die samehangsgedagte in Gorter se Mei. Een van die mooi gedeeltes uit Mei (Gorter 1976:78-9) waarin hierdie gedagte uitgedruk word, is die beroemde gedeelte oor die “fyn essensie” in alle dinge:

Er ligt in elk ding schuilend fijne essence

Van and’re dingen. Daardoor word een mensch

Als een piano, zóó dood, maar besnaard.

Nu eens rilt één snaar, dan d’aâr, naar den aard

van elk geluid buiten, soms, te gelijk

Heel veel. Dat maakt ook een stil arm mensch rijk

Die essensie het in hierdie geval veral met klank te make: die essensies raak die mens aan soos klanke ‘n klavier en maak hom ryk. Die mens raak bewus van sy samehang met alle ander dinge.

In Jukstaposisie (1982:42-47) staan ‘n reeks gedigte met die titel “Fyn vrugbare essensie” en met hierdie woorde van Gorter as motto. Die eerste gedig in daardie reeks, “Landwandeling”, beskryf hoedat die diere, mense en insekte mekaar naboots of afloer, by mekaar steel, mekaar na-aap; kortom, op talle maniere ooreenkom met mekaar, korrespondeer. Die reeks ontwikkel deur verskillende fases van dinge wat “los uit hulle verband dryf” en loop uiteindelik uit op die gediggie “Sweef”:

snags as van die aarde af uit my oog rondom

in die hemel in stengels lig waaierend uitstrek

tot die sterre aan hulle punte toe sit ek

in die saadkern van ‘n onmeetlike disselblom

Die spreker ervaar homself hier as in die kern van ‘n kosmiese disselblom; die onmeetlike sterrehemel en die nietige disselblom herhaal mekaar - korrespondeer met mekaar. As slotsom  van die reeks bevestig die gedig die groot verband tussen die onmeetlike kosmos en die nietige aardse ding en besweer die verbandloosheid. Alles het hulle plek binne die oorkoepelende verband; die ek-spreker natuurlik ook.

Jukstasposisie is vol sulke beelde van samehang, maar ook vol skrikwekkende beelde van ‘n gebrek aan verband, en tog kom alles ten slotte bymekaar in een groot samehang, soos in “E pur si muove”.

Beelde van ‘n gebrek aan samehang of ‘n vrees daarvoor, word ontstellend uitge beeld in “Voëls” (p. 72) en in “Job” (p. 32). In “Voëls” ervaar die spreker hoe verskillende voëls deur sy brein vlieg, edel en verhewe, of gewoon, maar dan eindig die gedig -

met ‘n skugter aandoenlike geroep onvoldaan

ewig deur sy onuitputlike uitputtende verbeelding gepla

rusteloos verlangend onbevredig dromend Zeus se swaan

op soek na Leda en Leda

In hierdie gedig identifiseer die spreker hom met die swaan en sy vermoeiende verbeelding en onbevredigbare verlange. Swane sing volgens oorlewering mos net eenmaal, en dit is voordat hulle sterf. Die gedig getuig van ‘n totaal onbevre digbare uitreik na die geliefde, die verre prinses, wat ook in die slotverse nageboots word - ‘n soort swanesang - “Leda en Leda”. Die swaan is ‘n geliefde beeld van die Simboliste (Forestier 1984:106), veral vir die onbegrip van die massa vir die kreatiewe verbeelding.

Die slotgedig van Jukstaposisie bevestig die samehangsgedagte weer baie sterk. Die titel daarvan, “E pur si muove”, is volgens oorlewering Galileo se woorde nadat hy sy opvattings dat die aarde om die son draai, moes terugtrek: “En nogtans beweeg dit”. Dit is ‘n gedig vol van die bewegings op aarde, wat pragtig saamgetrek word in die slotverse van die twee laaste strofes:

die kern is vuur

van harde en sagte reënbuie

en wind is die hemel vol dit is alles

eendragtig saamgekleef tot ‘n kloot gekruie

sáám met sonne mét mane

mét meteore en komete en óns

orent geheg aan hom

aan ‘n soet ronde vrug fyn digte dons

Mense is met ander woorde geheg aan die aardbol soos die fyn dons aan ‘n perske - die aarde en die perske herhaal mekaar - natuurlik soos mens en die aarde geheg is aan Hom met ‘n hoofletter, God.

“Eendragtig saamgekleef tot ‘n kloot gekruie” illustreer juis dat kreolisering te doen het met die vermenging van tale. Die vers is ‘n dubbele metafoor, en die sleutel daarvoor is “gekruie” - dit wat saamkleef, wat gekruie word, soos ‘n gewone frikkadel - maar hier is die kruie eintlik die geure van vuur, water en aarde wat die planeet se winde aanwaai. In die 17de eeu was kloot die woord wat die saamhang van alles op die aardbol uitgedruk het, maar in Afrikaans en in moderne Nederlands het dit veel meer die betekenis gekry van “teelbal”, “testikel”. Hier kruis die digter die 17de-eeuse betekenis met die moderne een én hy skryf homself in die proses in, want soos hy baie goed weet, is Cloete ‘n Middeleeuse vorm van kloot. ‘n Mens kry nogal dikwels, byvoorbeeld in die reeks Stokkiesdraai, dat Cloete Nederlandse (en Franse, Duitse, Latynse en Engelse) woorde “inmeng” in sy gedigte - hulle met ander woorde kreoliseer - met ‘n vervreemdende, poëtiese effek.

Idiolek bevat heelwat voorbeelde daarvan. Cloete maak van canvas “kannevas” (”koppelia”, p. 14). “Rabiës” laat rym hy met “pes” (”Artefaktereëel”, p. 16), “hê” met “Perpetuum Mobile” (”Mercury”, p. 87) en “Centre Court” met “word”, “Dachau” met “tou” en “Porsche” met “forse” (”Modern times”, p. 28). In laasgenoemde gedig het Afrodite ‘n kind “op haar je t’aime-skoot”. “Mieraanbidders op kyalami” raak gefassineer deur ‘n “übermenschliche prestasie” (p. 26). In “Babbelwaggel” praat die spreker onder andere van die mens se “homo erectus-postuur” (p. 35). Dit is deel van Cloete se geleerdheid maar getuig ook van sy modernisering van die poëtiese taal in Afrikaans.

Die fyn essensie werk in Cloete se verskillende bundels op verskillende maniere deur, en telkens vind hy sentrale metafore vir hierdie samehang: jukstaposisie (volgens die motto voor in die bundel die profeet van Allah), allotropie, idiolek, trigloop, entelegie, nuuskierigheid. Die groot geheel, die omvattende verband is God, en Hy word in Cloete se poësie op honderde maniere - en dan meestal op ‘n simbolistiese manier - opgeroep, gesuggereer. Réna Pretorius het al geskryf dat die kerntema van Cloete se poësie “die harmoniese saam-hoort van alle dinge in God se skepping” is (1998:350). Nie dat alles in die skepping egter altyd so harmonies is nie.

Allotroop (1985) is die bundel wat die baie verskillende vorme van God, analoog aan die verskillende vorms waarin sekere elemente kan voorkom, beskryf. Pyn is hier die vernaamste simptoom van God se besig wees met die mens; pyn dui God se allotropie aan. Vorms en variante van pyn is daarom van kardinale belang in die bundel, maar nog steeds binne die saamdink van dinge, en selfs die saamtrek van woorde in verskillende vorms. Dit blyk byvoorbeeld uit die talle saamgestelde en saamtrekkende titels, vergelyk bv. “trugtaal” (p. 9), “lipkramp” (p. 15), “gagaballade” (p. 29), “uitvraroep” (p. 34), “meelyfvoel” (p. 35), “miermoord” (p. 64),

“laataandnuus tv” (p. 67), “idiomaaltyd” (p. 31), “uniseks” (p. 55), “amalgaam van die nag” (p. 40). Dit is waarskynlik die bundel waarin Cloete die meeste met die vorm van die woord, die morfologie, gespeel het.

‘n Ander kernaspek van die korrespondensies by Cloete blyk uit “Vroue van Vermeer” (Driepas 1989:38). Hier sien ons hoedat die kleine en beslote ruimte binnenshuis deurlig word deur die onmeetlike en universele - terwyl dit tog ook ‘n suggestie (”ligte geruis”) van ‘n ander wêreld, van die geskiedenis van daardie tyd bevat:

… En altyd is daar lig wat áfstraal

ín in die liefs klein afgemete vertrek,

oorvloedig, uit die oop grote

universum en wat die klein aardse geslote

stilte in die onmeetlike laat asemhaal.

Deur die lig word die onmeetlike en die klein beslote ruimtes op ‘n besondere manier met mekaar verbind. Die lig oorskry die grense van ruimte en tyd en open nuwe moontlikhede. Die gedig beskryf nie net ‘n saambestaan nie, maar ‘n dinamiese en veelkantige interaksie, soortgelyk aan die rustelose beweging van “E pur se muove”. Hoe alles veral dinamies met mekaar saamhang, word saamgevat in twee van Cloete se mees geliefde woorde: “hoos” (warrelwind) en “spiraal”.

Ten spyte van hierdie dinamika beskryf Cloete se poësie meestal elke unieke ding op sy unieke tyd en plek in die geheel, wat ander dinge wel weerkaats, nadoen of na-aap, maar steeds afsonderlik bly. Kategorieë word baie selde gekruis of vermeng, behalwe in Cloete se veelfasettige digterlike visie wat dikwels met komplekse begrippe aangedui word. Voorbeelde daarvan is die digterlike instelling wat in “goedweteronderhouer” aangedui word as “my taaldinkversameling” (Cloete 1986:131). Die gedig “ubiquiteit” het wel ‘n basterwoord as titel, maar dit beskryf die uniekheid en verskeidenheid van die “onnoembaar baie” dinge waarin en waardeur die digter God ervaar en raaksien in “sy deurlopende multimultimeervoud” (Cloete 1986:133-4). Die uniekheid van elke ding het sy plek in God se groot samehang, in die groot “chain of being” - ‘n nederige Vredefortse moeder en “die mondaine moerige Madonna”; “sterre en planete” en “bakterieë en amfi bieë”; sowel morone as genieë.

Cloete bring dikwels teengesteldes soos hoog en laag, groot en klein, mooi en lelik met mekaar in verband. “Wat walg/ van mekaar word speels ingedeel/ in mekaar deur die ekspe rimenterende Taksonoom” skryf hy in “Swerf” (Jukstaposisie 1982:45). Die gedig beskryf ook hoedat “atome swerf deur die hond na die luis”, “tussen die alg en die komeet”. Daarmee gee Cloete ook ‘n moderne natuur wetenskaplike rasionaal vir die korrespondensies: alle dinge deel naamlik atome, molekules (en sommiges DNS ook).

Dit is dus by uitsondering dat ‘n mens gemengde vorms in Cloete se poësie aantref. Een daarvan is die spinnekop (Met die aarde praat 1992:55):

Met ‘n gorilla se voorkop en starende oë

- was die Verbeelding lus vir ‘n grap? -

kul hy die taks van alle teo- en entomoloë.

‘n Ander een is “seeperdjie” (Heilige nuuskierigheid, p. 24). “Hierdie verbluffende kieranggeval” is ‘n vermenging van ‘n perd se kop, ‘n vark se snoet, ‘n kangaroe se buidel, ‘n kameleon se oë - boonop met ‘n aap se stert wat spiraal soos “‘n melkweg” of “‘n duisendpoot wat slaap”. Vermenging beteken by Cloete selde dat spesiegrense oorskry word. Veel eerder omvorm of kreoliseer hy die simbolistiese tradisie op ‘n kenmerkende manier deur daarvan, in een van die sentrale metafore van Met die aarde praat, entelegie te maak. Hy laat met ander woorde sien “hoe die allerwysste wysheid ingebroei is” in alles, soos hy dit in die gedig “Entelegie” (Cloete 1992:52-4) omskryf. Daardie gedig bevat ‘n lang lys van sulke entelegieë wat die “vormgewende oorsaak verwerklik”, “die doel realiseer”; die krag uitdruk wat “die lewe lei en rig” (WAT II: 562 kol 3b). Dit is alles maniere waarop verskillende elemente van die heelal, groot of klein, natuurlik of mensgemaak, vir die mense asof deur ‘n refraktor die God van liefde sigbaar laat word.

Selfs in die dood bly die bewussyn van afsonderlike vorms en hulle hiërargiese ordening behoue. Die “Paddaman” (Driepas 1989:171) verwonder hom aan “die nadoen van meer as een gedaante van die skyn” en bevat ‘n lang lys van “die mooiste en oorspronklikste vorme” wat God wegsteek onder die see. Dit eindig met ‘n wens:

Ek sal graag in hierdie baie vorme wil hoort.

Charon, as ek van die geliefde aarde sterf,

gooi my dan asseblief hier oorboord

waar ek suksessief van vorm tot vorm kan bederf

Die spreker in Heilige nuuskierigheid stel ook baie belang in stambome en in afstamming van ander spesies. In “stamboom 3″ (Cloete 2007:63) word ‘n ander onderhoud met ‘n bobbejaan gevoer, teen die agtergrond van die afdeling se motto wat die aap assosieer met die duiwel, paganisme, lus, onheiligheid en boosheid. Die spreker identifiseer hier nie met Bybelse diere soos die donkie of die vis nie; hier is hy “u bobbejaan” - die duiwelse en onbybelse aap.

verdra my met geduld, verstaan

ek smeek ek is ú bobbejaan…

diep in my iewers is iets infinitiewe Is

is daar ‘n donker poel vir helder vis

iets van die vis het ek ín my nog oor

iets van die vis het ek behou

ek wat soos dawid fyn

geweef is in ‘n plaaseenvoudige boervrou

se skoot al het ek soos ‘n paddavis

in die begin gelyk of soos ‘n akkedis

God Alchemis

wat goud uit gas maak en ‘n parkiet

kan omtoor uit ‘n akkedis

en uit ‘n aap ‘n heilige leviet

en priesters en ‘n pous God speen

van hierdie aap in my die vis

Natuurlik sou die bobbejaan eerder digterlike voorouers soos die perd (Pegasus) of die dolfyn wou gehad het. Wat egter hier anders is as in die res van Cloete se werk, is dat die spesies nie meer langs mekaar gesien word nie, maar in mekaar. Die vis verteenwoordig Christus, maar wys ook hoedat (bose) vorms omgetoor word tot heiliges. Evolusie is hier ‘n soort kreolisering van vorme, wat op sy beurt die resultaat is van die heilige nuuskierigheid. In hierdie bundel word die groot samehang dus in ‘n evolusionêre sin verstaan. Die vis in die aap is ‘n merkwaardige nuwe soort saamverstaan, of dan kreolisering, waarmee Cloete se werk uit die oneindige herhaling binne die geslote stelsel van korrespondensies (vgl. Viljoen 1995) kan ontsnap.

 

9. SLOTSOM

 

Cloete het die taal van die Simbolisme uitgebrei met talle tipies Suid-Afrikaanse elemente. Hy het Afrikaans se poëtiese woordeskat aansienlik uitgebrei met talle vreemde woorde en nuutskeppings en die uitdrukkingskrag van Afrikaans vergroot deur dit te kruis met woorde uit talle verskillende tale. Deur die Afrikaanse poësie te moderniseer en uit te brei veral met natuurwetenskaplike begrippe het Cloete ons dink, verstaan en praat oor die onsienlike en onbegryplike geweldig verbreed. Hy het met ander woorde die godsdienstige woordeskat in Afrikaans - veral die middele om die verborgenheid van God mee uit te druk - aansienlik verruim deur honderde insinjes, tekens, spore en vergelykings van God in die boek van die natuur raak te lees.

Dit lyk my asof die simbolistiese trekke in Cloete se later bundels meer eksplisiet word, maar eintlik is die tipiese manier waarop hy die Simbolisme kreoliseer, in een van sy ander groot woorde uit “Suidpool en senit” (Angelliera, p. 2), dat hy die simbolistiese tradisie deologiseer - God in alles sowel bewus waarneem as spontaan ontdek. Deologies sien hy die skepping as ‘n dinamiese heelal wat vol teenstrydighede tog saamhang in God - biegbang en evolusie inkluis. Soos ek aangetoon het, word hierdie manier van kyk wesenlik bepaal deur ‘n onderliggende simbolistiese poëtika. Die wyses waarop Cloete die Simbolisme kreoliseer, lê sy digterskap in sy uniekheid en bedwelmende rykdom bloot.

 

BIBLIOGRAFIE

 

Baudelaire, C. 1988. Les fleurs du mal; Les Épaves, Bribes, Poèms divers, Amoenitates Belgicae (A. Adam,

ed.). Paris: Éditions Garnier.

Bisschoff, A. 1993. T.T. Cloete - Transformasies van die Simbolisme in Driepas en Angelliera. In

D.H. Steenberg (red.), Simbolisme in die Afrikaanse digterlike tradisie. Potchefstroom: PU vir CHO.

Boshoff, S., & Nienaber, G. 1967. Afrikaanse etimologieë. [Pretoria]: Suid-Afrikaanse Akademie vir

Wetenskap en Kuns.

Breytenbach, B. 1987. Boek (deel 1); Dryfpunt. Emmarentia (Johannesburg): Taurus.

Chadwick, C. 1971. Symbolism. The Critical Idiom, vol. 16. London: Methuen.

Cloete, T. 1980. Angelliera. Kaapstad: Tafelberg.

Cloete, T. 1982. Jukstaposisie. Kaapstad: Tafelberg.

Cloete, T. 1985. Allotroop. Kaapstad: Tafelberg.

Cloete, T. 1986. Idiolek. Kaapstad: Tafelberg.

Cloete, T. 1989. Driepas. Kaapstad: Tafelberg.

Cloete, T. 1992. Met die aarde praat. Kaapstad: Tafelberg.

Cloete, T. 1994. Die digter se omgaan met die werklikheid. Ensovoort, 6(1): 6-7.

Cloete, T. 1998. Uit die hoek van my oog. Kaapstad: Tafelberg.

Cloete, T. 2007. Heilige nuuskierigheid. Kaapstad: Tafelberg.

589

Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 49 No. 4: Desember 2009

Spesiale uitgawe - Huldiging: T T Cloete

Crystal, D. 1998. Pidgins and Creoles In Crystal, David H. (ed.). The Cambridge Encyclopedia of Language,

vol. 2. Cambridge: Press Syndicate of the University of Cambridge.

Dekker, G. (samest.). 1971. Van Bilderdijk tot Gorter; Bloemlesing met inleiding en aantekeninge van G.

Dekker en T.T. Cloete. Uit die skat van die Nederlandse liriek, vol. III. Pretoria: J.L. van Schaik.

Forestier, L. 1984. Symbolist imagery. In A. Balakian (ed.), The Symbolist movement in the literature of

European languages. Budapest: Akadémiai Kiadó, pp. 101-118.

Gilfillan, F. 1993. Wilma Stockenström en die Simbolisme. In D.H. Steenberg (red.), Simbolisme in die

Afrikaanse digterlike tradisie. Potchefstroom: PU vir CHO, pp. 600-610.

Glissant, É. (1990). 2006. Poetics of relation (B. Wing, Trans.) (2nd printing). Ann Arbor: University of

Michigan Press.

Gorter, H. (1889). 1976. Mei; Een gedicht (E. van Heerden, red.). Kaapstad & Pretoria: Academica.

Grass, R. 1984. The Symbolist mode in the Spanish American Modernista novel, 1995-1924. In A. Balakian

(ed.), The Symbolist movement in the literature of European languages. Budapest: Akadémiai Kiadó,

pp. 229-252.

Jacobs, J., Schloessinger, M., Adler, C., & Cohen, F. L. 2002. Kol Nidre. http://www.JewishEncyclopedia.

com The Kopelman Foundation. [18 Augustus 2007].

Kloos, W. 1971. Inleiding. In G. Stuiveling (red.), Jacques Perks gedichten volgens de eerste druk (1882).

Culemborg: Tjeenk-Willink-Noorduijn, pp.52-60.

Leopold, J. 1977. Verzen, Fragmenten (P. Van Eyck, red.) (Verzameld Werk, deel 1). Amsterdam: Van

Oorschot.

Myburg, J. 2009. Réunion, eiland van vlam, vurige vog en vanielje. Reisberig. Beeld (Naweek-Plus), 9 Mei:

3.

New Larousse Encyclopedia of Mythology (F. Guirand, ed.) (R. Aldington & D. Ames, trans.) (2nd edition,

16th impression). 1982. London: Hamlyn.

Odendal, F., & Gouws, R. (reds.). 2005. HAT. In HAT Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal

(5de uitgawe). Kaapstad: Pearson Education South Africa.

Oversteegen, J. 1982. Beperkingen. Utrecht: HES.

Parmeé, D. (ed.). 1966. Twelve French Poets; 1820-1900; An Anthology of 19th Century French Poetry.

London: Longmans.

Pater, W. (1893). 1917. The School of Giorgione. In The Renaissance; Studies in art and poetry. London:

Macmillan, pp.130-154.

Pretorius, R. 1998. T.T. Cloete (1924-). In H.P. van Coller (red.), Perspektief en Profiel. Pretoria: Van Schaik,

pp.339-361.

Roland Holst, A. 1971. Verzamelde gedichten. Den Haag; Bussum: Bert Bakker; C.A.J. van Dishoeck.

Schutte, H. 1984. ‘n Poëtika van korrespondensie: Angelliera en Jukstaposisie. In H. Viljoen, I. Gräbe, E.

Jooste & D. Steenberg (reds.), In teen die groot vergeet. Potchefstroom: PU vir CHO, pp.93-107.

Schwegler, A. 2003. The linguistic geography of ‘criollo’ in Spanish America. In G. Collier & U. Fleischmann

(eds). A pepper-pot of cultures. Amsterdam: Rodopi.

Steenberg, D. (red.). 1993. Simbolisme in die Afrikaanse digterlike tradisie. Wetenskaplike Bydraes van die

PU vir CHO; Reeks A; Geesteswetenskappe, vol. 81. Potchefstroom: PU vir CHO.

Viljoen, H. 1995. Die fenomenologie van T.T. Cloete. Literator, 16 (3), November: 43-59.

Viljoen, H., & Van der Merwe, C. N. 2007. Beyond the threshold: Essays on liminality and literature. New

York; Potchefstroom: Peter Lang; Literator.

Wellek, R. 1984. What is Symbolism? In A. Balakian (ed.), The Symbolist movement in the literature of

European languages. Budapest: Akadémiai Kiadó, pp.17-28.

Yeats, W. 1990. Selected poetry (Ed. with an intro. and notes by A. Jeffares). London: Pan Books.

Young, R. J. 1995. Colonial desire; Hybridity in theory, culture and race. London & New York:

Routledge.

Rensia Robinson. ‘n Onvoltooide Naam digterlik verbeel - verkennings aangaande ‘n enigmatiese Goddelike Wese in TT Cloete se oeuvre

Tuesday, February 16th, 2010

(Hierdie artikel het oorspronklik in Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 49 No. 4: Desember 2009 as deel van die Spesiale huldigingsuitgawe vir T T Cloete verskyn en word geplaas met die vriendelike vergunning van die redaksie.)

 

(more…)

Heilna du Plooy. Die deurskynende kelk - Oor vorm en inhoud in die poësie van TT Cloete

Tuesday, February 16th, 2010

(Hierdie artikel het oorspronklik in Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 49 No. 4: Desember 2009 as deel van die Spesiale huldigingsuitgawe vir T T Cloete verskyn en word geplaas met die vriendelike vergunning van die redaksie.)

 

(more…)

Op pad na ‘n nuwe maan

Wednesday, December 9th, 2009

Ons hou toe Saterdag ons laaste Poetry Crawl vir die jaar. Die tema dalk holrug gery vir dié tyd van die jaar, maar heel nuut vir ’n Crawl – Nuwe begin/Dagbreek/Transformasie. ’n Hele mondvol en anders as Liefde/Dood/Diere en dies meer, nie so maklik om gepaste gedigte te vind nie. Maar juis daarom so lekker. Want soos ’n goeie vakansie, is die reis na die bestemming deel van die plesier. Jy kan seker kroek en op die internet soek, maar dis baie lekkerder om deur die bundels te blaai. Dan stop jy by ander plekke langs die pad en jy lees weer ’n honderd en een ou gunstelinge en nog ’n tweede honderd onontdektes. Op die ou end is dit moeilik om vier te kies uit die vele gedigte wat hulself aanmeld.

   Dis nie ’n goeie idee om lang gedigte te lees nie, het ek weer besef, veral nie teen halftien die aand, wanneer die kos en wyn al hul eie poësie begin maak nie. T.T. Cloete se “Eier” is vir my ’n wonderlike gedig wat groei en transformeer sommer so onder die tong, maar luisteraars hou nie by as hulle nie self die woorde kan sien nie, in elk geval nie as die uwe dit lees nie. Ons het op ’n stadium probeer reël dat elkeen kopieë voorsien van dit wat hulle lees, maar die reëling het gou tussen die lyne deur geval. Nou moet mens maar leer om die langes vir eie plesier te hou.

   Ted Hughes se “Cock-crows” maak dit nog net-net as kort genoeg. Ek het nog nooit ’n dagbreek so visueel gehoor soos hier nie. En dit sonder ’n enkele kokkedoedeldoe. Omdat ek hierdie ver van huis en haard en boeke skryf, kan ek nie eers aanhaal uit die gedigte nie – jy sal dit maar self moet gaan soek.

   Soos dit maar gaan, tref ons dit toe weer sleg met die weer. Dis reeds ’n paar dae na volmaan, maar met ’n potblou wolkkombers wat toetrek en kom natmaak, is die maan en die maanliglopery daarmee heen. Kort voor middernag ry ons terug na ons huise toe, sonder maan of sterre, maar darem op pad na ’n nuwe maan, na ’n dagbreek ná middernag en hopelik nog tonne poësie wat voorlê in die nuwe jaar.

Johann Lodewyk Marais. Voortreflike poësiekritiek

Thursday, October 15th, 2009

Die vraag kom meermale by my op wat die mooiste, insiggewendste of bes geskrewe stuk literêre kritiek in Afrikaans is. ‘n Mens sou natuurlik eers goed moet besin oor die maatstawwe vir jou keuse en net so goed moet motiveer waarom die keuse op ‘n bepaalde stuk val. Hieroor gaan ek nie in soveel besonderhede uitwei nie.

Oor die jare heen was daar in Afrikaans kritici wat met besondere werk vorendag gekom het. Een van dié is Elize Botha, wat met haar voortreflike geselsstyl insiggewend en baie onderhoudend skryf. Dit is ‘n groot vreugde om te sien hoe sy met haar belesenheid, kennis van heersende literêre strominge en benaderings, en met groot respek oor skrywers en boeke skryf. Die leser het ook waardering daarvoor dat sy selde ‘n byl te slyp het, wat so dikwels die bydraes van ander prominente figure met groot gebare kenmerk en vertroebel.

Botha het die beste opstelle oor figure soos Eugène N. Marais, Jochem van Bruggen, Etienne Leroux en Henriette Grové geskryf, wat sedert die 1960’s daartoe bygedra het om aan die Afrikaanse prosakritiek ‘n prominente plek te besorg. Toe ek ‘n keer gekla het omdat ouer kritici kritiekbundels so oorheers, het die oud-Akademieman en -uitgewer Danie van Niekerk tereg opgemerk: “As jy Elize Botha vra, weet jy ten minste dat jy ‘n goeie bydrae gaan kry.” My gunsteling onder Botha se opstelle is haar bespreking van D.J. Opperman se gedig “Blom van die baaierd” in Merwe Scholtz (red.) se Woord en wederwoord: Bundel aangebied aan D.J. Opperman by geleentheid van sy sestigste verjaardag, 29 September 1974 (1974).

Nog kritici wat ek graag lees, is Merwe Scholtz en T.T. Cloete. Scholtz was benewens kritikus ook ‘n digter van onder meer die vernuftige Grimas: 1969-1973 (1976), een van my gunsteling Afrikaanse digbundels. Dit verbaas nie dat Scholtz gedigte geskryf het nie, want sy opstelle is spitsvondig, speels en taalgevoelig. Hy slaag daarin om met verrassende insigte ‘n mens verwonderd te laat oor die werkinge van taal en taalvirtuose. Wie kan ooit sy ontleding van N.P. van Wyk Louw se “Dood in die berge” in Nuwe verse (1954) vergeet? Dit slaan die leser se asem as ‘t ware weg. Cloete weer is doodgewoon een van ons oorspronklikste lesers (kyk byvoorbeeld sy opstel oor “Die taalavontuur van ‘Die swart luiperd’” in Op die woord af: Opstelle oor die poёsie van N.P. van Wyk Louw (1963)).

Ek sou nog die name van, op hulle beste, E. Lindenberg, Louise Viljoen, Daniel Hugo, Joan Hambidge en Charl-Pierre Naudé wou noem, maar oor elkeen van hulle behoort ‘n mens by ‘n later geleentheid te skryf. Hoe veral die Afrikaanse poësiekritiek op die oomblik daar uitsien, is in elk geval ‘n onderwerp om (nog steeds!) oor te besin. Miskien is dit genoeg om te sê dat indien dit nie vir Bernard Odendaal se deeglike en ingeligte oorsig oor die onlangse poësie in Perspektief en profiel: ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, Deel 3 (2006), Louise Viljoen se Ons ongehoorde soort (2009) oor Antjie Krog se poёsie en Ronel Foster, Yves T’Sjoen en Thomas Vaessens (reds.) se Over grenzen: Een vergelijkende studie van Nederlandse, Vlaamse en Afrikaanse poёzie/Oor grense: ‘n Vergelykende studie van Nederlandse, Vlaamse en Afrikaanse poёsie (2009) was nie, ons vandag veel minder sou gehad het om oor opgewonde te wees.

Maar ek wil eintlik iets sê oor my gunsteling stuk kritiek in Afrikaans! Dit is naamlik drie bladsye in Opperman se Digters van Dertig (1954), spesifiek die inleiding tot “Die hooffiguur van Dertig: N.P. van Wyk Louw”. In hierdie evokatiewe bladsye gee Opperman sketsmatig biografiese inligting oor Van Wyk Louw se jeugjare en maak ‘n byna tasbare voorstelling van hoe die Louws se Rôeveldse wêreld gelyk het. Hy beskryf dit op so ‘n manier dat dit as ‘n sleutel by die interpretasie van Van Wyk Louw se gedigte kan dien. Lees byvoorbeeld hoedat die bokkoppe in die (Lord Milner-)hotel op Matjiesfontein die eerste prikkeling vir Raka (1941) geword het. Min woorde, maar slim!

Johann Lodewyk Marais. Die Anglo-Boereoorlog, weer

Monday, July 27th, 2009

Die Duitse filosoof Martin Heidegger (1889–1976) het hom oor sowel die aard van die kunswerk as oor die poësie uitgelaat. In sy meesterwerk Sein und Zeit (1927) het hy belangrike vrae oor die syn gevra, sonder om egter aandag aan die kunswerk te gee. Ná die sogenaamde Kehre in sy denke word sowel die kuns as die poësie egter belangrike onderwerpe in sy geskrifte. In Der Ursprung des Kunstwerkes (1950) sê hy dat die kuns tonele is waar “die waarheid homself in werking stel” en dat hierdie waarheid ’n stryd tussen “wêreld” en “aarde” vereis.

 

Hoewel Heidegger die poësie as die essensiële vorm van die kuns beskou, maak hy in die essay gebruik van voorbeelde uit die argitektuur (’n Griekse tempel) en ’n skildery (’n werk deur Van Gogh). Vir die doeleindes van hierdie kursoriese aantekeninge wil ek aan die hand van Heidegger na enkele ander toepaslike voorbeelde verwys. Die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein, die Kaiser-Wilhelm-Gedächtnis-Kirche in Berlyn en die Vietnam Veterans Memorial in Washington DC is almal opgerig om mense te gedenk wat aan oorloë deelgeneem en gesterf het. My argumentasie in verband met die Vrouemonument sou in bepaalde opsigte ook vir die twee ander voorbeelde kon geld.

 

Die Vrouemonument, wat deur die beeldhouer Anton van Wouw ontwerp en deur die argitek en bouer Frans Soff gebou is, is op 13 Desember 1913 in Bloemfontein onthul ter nagedagtenis aan die meer as 26 000 vroue en kinders wat tydens die Anglo-Boereoorlog in konsentrasiekampe gesterf het. Hierdie monument het van vroeg af mense se verbeelding aangespreek. Die ontwerp van die monument is eenvoudig soos uit die volgende aanhaling uit Wêreldspektrum (Deel 29) blyk:

 

“Die monument bestaan uit ’n 37 m hoë gedenknaald van bruin sandsteen met ’n beeldgroep aan die voetstuk en geskiedkundige panele aan weerskante. Dit word deur ’n ringmuur ingesluit. Die sentrale beeldgroep simboliseer smart en hoop, terwyl die reliëfpanele ervarings van vroue en kinders tydens die oorlog uitbeeld.

 

[…]

 

“Daar is ook besluit om ’n Godsman, ’n staatsman en ’n krygsman aan die voet van die monument te begrawe. Die keuse het op dr. J.D. Kestell, pres. Steyn en genl. De Wet geval. Nadat Emily Hobhouse in 1926 in Engeland oorlede is, is haar as in die voetstuk van die gedenksuil geplaas. Mev. Rachel Steyn is langs haar man begrawe.”

 

Deur middel van sy eenvoud en teenwoordigheid slaag die monument daarin om ’n impak op die besoeker te maak. Maar waarom? Wat die kunswerk (en terselfdertyd natuurlik die Vroumonument) regkry, is om, volgens Heidegger, ons uit die “ryk van die alledaagse weg te voer”. “Hoe meer essensieel die werk homself openbaar, hoe duideliker word die uniekheid van die feit dat hy bestaan in plaas daarvan dat hy nie bestaan nie.” Die monument is egter nie volkome representatief van die werklikhied nie, sodat die betekenis van die monument nie maklik uitgeput kan word nie. Die Vrouemonument van 1913 spreek ons byvoorbeeld meer aan as die latere byna hiperrealistiese beelde van Danie de Jager wat op die terrein bygevoeg is en gedurende die 1980’s tot heelwat omstredenheid gelei het.

 

Heidegger se konsepte van wêreld en aarde wil ek kortliks soos volg op die Vrouemonument van toepassing maak. Die Vrouemonument herinner ons aan die groot kwessies wat van belang is in ons bestaan: lewe, dood, oorwinning, nederlaag, skande, hoop, geregtigheid. Sodoende open die monument vir ons ’n besondere blik op die wêreld.

 

Met aarde bedoel Heidegger dit wat die grondslag is waarop ons bestaan, die fondament waarop ons bou. Die aarde “beskut” die syndes wat daaruit “opstaan/opkom”. In wese is die aarde die misterieuse bron waaruit ons spruit. Op die Vrouemonuent “toegepas”, kan ons melding maak van die besondere plasing van die monument op die Vrystaatse landskap. Die soberheid van die monument versterk hierdie ervaring. Die besoeker word bewus van ruimte: die ruimte wat deur die monument geskep word, maar ook die ruimtes van die Vrystaat en waarskynlik ook van die hele Suid-Afrika wat in ’n misterieuse besef van hierheid voor jou oopgemaak word.

 

Ons word terselfdertyd by die Vrouemonument terdeё bewus van die konflik tussen wêreld en aarde. By die aanskoue van die Vrouemonument skree die Britse regering se verskroeideaardebeleid ten hemele. Dit word ’n protes soos ook die volgende gedig van Martjie Bosman met dieselfde titel uit die bundel Landelik (2002), waarin daar ook met ’n perspektief op die hede vorendag gekom word:

 

VERSKROEIDE AARDE

 

Van dié geskiedenis kan ons slegs brokke agterhaal:

Grootouma Geldenhuys met vier kinders

in ’n oop beestrok na die kamp by Merebank,

’n paar stuks vee behoue in die walle van die Vaal,

Grootoupa te velde wie weet waar.

Die rooi huis is gekonfiskeer as hospitaal –

gerugte van soldate begrawe onder die leiklipstoep,

die erfgenaam naamloos in ’n seepkis iewers in die sand.

Ek erf uit ouma Makkie se beroertemond

twee bitter woorde: smaad en hoon

en die droewe wete van familiegrond

vir geslagte tevergeefs bewoon.

 

Waaroor het die hedendaage digters dit as hy/sy oor die Anglo-Boereoorlog skryf? Om hierdie vraag te antwoord, kan dit meer verhelderend wees om aan die hand van Heidegger na die aard van die poësie te kyk. Vir Heidegger is die poësie dit wat die mens in staat stel om waarlik te woon. Poëtiese beelding stel ons in staat om na die teenwoordigheid van die onbekende of selfs die transendentale (in die lig van die era ná Nietzsche en die geestelike krisis tydens die twintigste eeu) uit te reik. “Poetry cannot cause the unknown god to come near, but poetry can put forward words that enable this presence to show itself,” sê Patricia Altenbernd Johnson in Heidegger (2000).

 

Heidegger maak daarom ’n onderskeid tussen gewone en poëtiese taalgebruik. Iets soos die “Die Anglo-Boereoorlog het van 1899 tot 1902 geduur”, is byvoorbeeld ’n gewone, alledaagse uitspraak. Vir Heidegger is poësie egter nie ’n bron vir spesiale estetiese plesier op grond van die niegewone taalgebruik nie, maar eerder die krag wat ons wêreld kan openbaar en ons bestaan kan transformeer. In sowel die lewe van die digters as die geskiedenis van ’n volk is die helder en kreatiewe oomblikke seldsaam; die res is onoorspronklik en afgeleid. Taal behoort vir die mens ’n ryk bron van openbaring te wees. Vir Heidegger is “Alledaagse taal vergete en daarom ’n opgebruikte gedig, waaruit daar kwalik ’n geroep uit voorkom.”

 

Ander hedendaagse digters soos Wilma Stockenström, T.T. Cloete, Heilna du Plooy, Trienke Laurie, Hennie Aucamp en H.J. Pieterse betrek nog steeds die Anglo-Boereoorlog in hulle werk. Ten slotte gaan ek na een gedig kyk waarin die Anglo-Boereoorlog op ’n besondere manier aanwesig is. My keuse val op die sanger en liriekskrywer Piet Botha se “Staan saam burgers” uit sy CD ’n Suitcase vol winter (1999). Op hierdie CD kom daar terloops nog een ander snit voor wat oor die Anglo-Boereoorlog handel, naamlik “Van Tonder”. Botha se teks klink soos volg:

 

STAAN SAAM BURGERS

 

By die goue vallei het ons so lank gewag

Op ’n antwoord wat kom uit die noorde

Staan saam burgers staan saam

 

Siener van Rensburg kyk na sy hande

En sê ek kan dit nie verstaan

Iewers op die vlakte

Begin ’n jakkals tjank

Die boodskapper kom in die nag

Het gekom en gegaan

Staan saam burgers staan saam

 

Hoekom het jy ons nie gesê nie

Die man se perd was swart,

Net soos die nag

Dit was nie Van Tonder nie

Net so tussen my en jou

Vir wat dit werd is

Ek dink die duiwel het ons ’n streep getrek

Staan saam burgers staan saam

Staan saam burgers staan saam

           

Wanneer hierdie woorde deur Piet Botha gesing word, kom daar sekerlik ook ander elemente by wat hierdie kunswerk sy karakter gee. Die groot trefkrag van hierdie lied is vir my (en ek glo vir baie ander) egter juis in die woorde geleë, wat by ons ’n herkenning van die land(skap), die geskiedenis en iets baie wesentliks van die Afrikaanse taal oproep. Hierdie herkenning word by die luisteraar deur die woorde wakker gemaak. In die Afrikaanse taal kan woorde soos “saamstaan”, “burgers” en “boodskapper” maklik in verband met die Anglo-Boereoorlog gebring word. Die landskap wat hier beskryf word, is ook tipiese Suid-Afrikaans: die geografiese ruimte waar die oorlog afgespeel het. Charles van Onselen het die Hoëveld wat in Botha se lied ter sprake is in The seed is mine: The life of Kas Maine, a South African sharecropper, 1894–1985 (1996) soos volg beskryf:

 

“[The] hot, dry and expansive plains of the subcontinent provide the country with its most characteristic landscape, and a distinctive terminology which singles out for special attention any geomorphological feature which so much as hints at either height or water. Koppie, krans, pan, platteland, rand, sloot, spruit, vlakte, and vlei – are all Afrikaans words that defy easy translation and which have been incorporated holus-bolus into the vocabulary of all urban South Africans. They are quintessentially highveld words; words that give life to the ways in which one senses and experiences much of what it is to be South African.”

 

Die gedig handel dus oor ’n essensiële Suid-Afrikaanse stuk landskap. Daar word ook in die gedig ’n figuur soos Siener van Rensburg betrek in wie daar die afgelope jare groot belangstellings in die Afrikaanse gemeenskap was en oor wie Trienke Laurie se digbundel Ek sien ’n rooi bul storm (1999) handel. In dié bundel is hy “self aan die woord en vertel van angswekkende gesigte wat bewaarheid is, onder meer die lyding van vroue en kinders in die Engelse Oorlog, generaal De la Rey se tragiese dood, en die verlies van drie van sy eie kinders. Hy vertel ook hoe God hom as boodskapper gebruik het, soos in die geval van ons eie Rooi See-wonder, toe generaal De Wet en sy krygers deur die Engelse teen ’n vol rivier vasgekeer is. Hy voorspel die opkoms van swart mag in die land, en ’n donker tyd vir die Afrikaner totdat hy hom voor God verootmoedig. Verder in die toekoms sien hy wit tente in die Karoo staan soos vervolgde Christene uit ’n oorlogsgeteisterde wêreld hierheen vlug,” aldus die flapteks.

 

Na aanleiding van die voorafgaande aantekeninge wil ek graag enkele afleidings maak:

 

1.                   Die Anglo-Boereoorlog is ’n multidissiplinêre aangeleentheid waartoe ook die kunstenaar en die digter ’n bydrae kan lewer.

2.                   Die Anglo-Boereoorlog word vandag nog steeds (ook) in Afrikaanse woorde en in gedigte bewaar en herdenk, wat dit steeds ’n gebeurtenis van buitengewone belang maak.

3.                   Die Anglo-Boereoorlog word op so ’n manier in die Afrikaanse poësie uitgebeeld dat dit die Afrikaner met sy historiese situasie konfronteer.

4.                   Die Anglo-Boereoorlog is ’n kwessie waaroor die afrekening van die Afrikaanse digter se kant af klaarblyklik nog nie afgehandel is nie.

Maandag, 1 Junie 2009

Monday, June 1st, 2009
Mario van de Wall

TT Cloete (Foto: Mario van de Wall)

Gister was dit die verjaarsdag van een van die gróót geeste in ons digkuns: TT Cloete het naamlik 85 geword … In die media het daar dan heel gepas ‘n pragtige huldeblyk deur Johan Myburg verskyn met die titel Cloete vlieg flink op 85. Boonop het die Noordwes Universiteit prof. Cloete verlede Saterdag verras met ‘n spesiale huldigingskonsert, Seer en siter, wat bestaan het uit 35 van sy gedigte wat deur sy dogter, Thea Cloete-Oberholzer, getoonset en in die Sanlam-Ouditorium uitgevoer is. (Gaan lees die volledige berig hier.) Goeie nuus is ook dat TT Cloete weer aan die skryf is; volgens Johan Myburg is daar ‘n manuskrip in wording met die titel Ondigte gedigte.

Van ons kant wens ons ook net om prof. Cloete geluk te wens met hierdie besonderse mylpaal. Mag die nuwe jaar deurdrenk wees met vreugde en goeie gesondheid.

As ‘n verdere toegif vanoggend, hierdie pragtige vers uit die pen van TT Cloete hieronder.

‘n Lekker week vir almal.

LE

 

God die digter

daar is meer poësie in die sneeuvlokkie
as in die letterkunde en baie meer poësie
in die miskruier in die toktokkie
in die meteorologie en entomologie
in die moremis en in die bergpiek
die horison wat in die hemel wegraak
in die rooswolk is daar baie meer liriek
die aarde is deur ‘n digter gemaak

 ”God die digter”, Uit: Driepas, Tafelberg Uitgewers, 1989)