Posts Tagged ‘Uys Krige’

Pieter Odendaal. Oom Driffie by McDonald’s

Monday, August 15th, 2011

Verlede Dinsdagoggend sit en eet ek ’n babelas-ontbyt in McDonald’s se rookarea in Merrimanstraat. Die twee potplante in die hoek is power. Die asblik loop oor van die papiersakke en burgerboksies van gisteraand se dronk studente. Ek rook ’n sigaret, teug aan my aangemaakte Coke. ’n Oom met ’n asem kom sit oorkant my, vra vir ’n sigaret.

Hy’s John Driffie de Klerk. “Aangename kennis, Oom.” Ek steek vir hom ’n Marlboro aan. Hy was vir dekades lank ’n lugmagoffisier – ook gedurende die bosoorlog. Hy vertel van een van sy vriende wat nie laag genoeg gehurk het nie en stukkend geskiet is. Daar is swaar halfmane onder sy oë en sy bril sit skeef. “Ons het seker van die begin af geweet dat dit futiel was,” sê hy, “maar wat kon ons maak? Ek het ook mense geskiet.”

Antjie Krog se Met woorde soos met kerse lê oop voor my. Ek was besig om //Kabbo se gedig “boesman-voorgevoelgens” te lees voor Oom John by my kom sit het:

boesman-voorgevoelens
//Kabbo

die boesman se alfabet is geskryf in sy lyf
die letters praat en roer
die letters beweeg die boesman se liggaam
hy beveel al die ander om stil te bly
hy self is absoluut volkome stil
dan voel hy sy liggaam saggies aan die binnekant klop
’n droom praat vals
’n droom kan jou mislei
maar die voorgevoel is dit wat die waarheid praat
die kloppende gewaarwording sê: iemand is aan die kom

veral die geklop in ’n wond
as jy loop en die wond begin klop
kan jy die kinders stuur om te gaan kyk
Oupa is in die voetpad op pad na jou toe
dit voel jy in die wond
die wond sê dit aan jou

of as jou ribbes begin klop
dan vat jy jou pyle
want jy voel die swart haartjies op die springbok se ribbes
as jy Brinkkop uitklim
kyk goed tussen die bome
en die groen spruitjies
want die springbok het jy reeds met jou lyf gesien
dan voel jy hoe bloed by jou dye en kuite afloop
asof jy reeds die springbok op jou rug dra
asof die springbok reeds langs you dye af bloei

daarom wag ek altyd stilweg vir die woorde van my lyf
ek voel in my voete
hoe diere om die hut snuffel
ek voel aan my skedel as ons die horings van die hartebees afkap
ek kry ’n gevoelente van my voorkop af al met die neus langs
soos die donker vlek na die springbok se snoet
ek voel my oë uitswel soos die vlekke om die springbok se oë
as ek iets voel kriewel soos vlooie
weet ek my lyf het ’n volstruis gesien

ons lê voor die hut
ons lê teen die uitgestrekte Brinkkopberge
dit lyk asof ons slaap
asof ons dut
maar ons lees ons liggame
ons voel alles wat op die pleine beweeg wat verby die hutte trek
die holtes agter ons knieë kry ’n gevoel
en dan wag ons
en dan kom al die dinge na ons toe

© Uit Met woorde soos met kerse, 2001. Vertaal deur Antjie Krog.

“She’s a remarkable woman, that one,” sê hy terwyl hy deur die boek blaai. “Sy’t lekker kak gemaak in die seventies. Ek onthou toe sy gedebuteer het. Die opskrifte in die koerante. Min mense probeer soos sy om te verstaan wat aangaan in hierdie fokop van ’n land.” Ek probeer om sy liggaam te lees. Sy vingers is dik en hard. Hy’t ’n paar dae laas geskeer. Ek voel hoe ek saam met hom oud word as ek in sy oë kyk. Ons rook tuimel die lug in.

Hy hou nie van Leipoldt en Cilliers nie – hulle is te antagonisties teenoor die Engelse, te patrioties, sê hy. Gee vir hom Uys Krige, Marais, Opperman. Hy vertel van ’n Krige-gedig wat hy in standerd 8 uit sy kop moes leer vir ’n mondelinge eksamen: “Plaashek”: “So ’n paar jaar gelede vra die dominee by die Kruiskerk vir my om ‘Plaashek’ by ’n verskeidenheidskonsert op te sê. En ek sê toe maar ja. Hy kondig my item aan: ‘Oom Driffie gaan vir ons ‘Die Plaashek’ van Uys Krige voordra.’

Ek klim op die verhoog: ‘Dominee,’ sê ek, ‘jy moet weet dat digters hulle titels versigtig kies. Dis nie die Plaashek nie. Geen lidwoord nie. Dis alle hekke, alle besluite, alle eindes en beginne.” Oom Driffie begin:

Plaashek
Uys Krige

Bloedrooi die alwyn langs
die slingerpad.
Dis of daar vonke uit
elk vuurpyl spat.
Maar niks, niks roer nie…net
’n luggie wat
skrams aan die ritselende grassate vat.

Daarbo die blou, blou lug,
daar onder die rivier
wat deur die boorde kronkel met
’n groen swier.
Niks stoor die yle swewende
Bergstilte hier.

Na al die jare maak ek weer
‘n plaashek oop.
Waar het my paaie
tog nie geloop
Om my hier by ’n hek te bring
van al my waan gestroop,
maar met my denke helder
en in my hart die hoop?

Die hek staan in die skad’wee van
’n kremetart.
Die stilte in my’s volkome met
Niks troebels, niks verward.
Ek lig die knop…Ek maak
’n hek oop in my hart.

Die bekende woorde val oor sy geelgevlekte baard soos water. Hy is skielik weer in Calvinia en vyf jaar oud, sê hy. Hy en sy pa is saam uit op die bakkie om die skape te gaan haal.

Sy tande is geslyt en hy spot oor sy Klipdrift-gewoontes en die Dros. “Dis waar jy my gaan gaan kry as jy wonder waar ek is,” sê hy. En as hy nie daar is nie, is hy buite. Hy kon nog nooit in ’n kantoor werk nie – engtevrees. Daarom dat hy nou ’n bosbouer is: “Ek sou mal geraak het as ek na die lugmag by die huis gaan rondsit het. Ek het immers studeer om ’n bosbouer te word.”

Sy prof. het op universiteit vir hom gesê dat hy nooit sal ryk wees as hy in die bosboubedryf ingaan nie, maar dat hy elke dag liters vol skoon lug sou kon inasem. “Dit was die deal-clincher. Dit is ook wat maak dat ek vandag, na 30 jaar in die lugmag, weer tussen bome werk.”

“En as dit reën,” sê hy, “gaan sit ek in die JS Marais biblioteek en lees. Ek ken elke jota en tittel van elke boek oor John F. Kennedy wat daar is,” sê hy. “As die reën ophou, gaan ek terug bos toe.” Sy hande is grawe, sy plooie lê soos uitgekerfde letters teen die stam van sy gesig. Hy dra ’n groen pet met die nuwe Suid-Afrikaanse vlag op om sy bles te versteek. “Ons het nie van beter geweet nie,” sê hy. “Ons het geweet Suidwes sou Namibië word, ons het geweet ’n geskietery sou niks help nie, maar ons was lief vir ons mense.” ’n Droom kan jou mislei, Oom, wil ek sê. ’n Droom praat so maklik vals. Maar hy weet dit lankal reeds.

Die Brasiliaanse digkuns in vertaling

Friday, February 11th, 2011
Elizabeth Bishop

Elizabeth Bishop

Ek het die laaste tyd ‘n hele paar bloginskrywings aan die Brasiliaanse digters Carlos Drummond de Andrade en Manuel Bandeira gewei. Ek wens ek kon ook vertalings van meer onlangse Brasiliaanse digters in die hande kry, maar dit is nie so maklik nie. Ek weet nie wie daardie land se belangrikste hedendaagse digters is nie, en wie van hulle se werk al (in Engels) vertaal is nie. Dit is ‘n groot en dinamiese land, en Portugees is ‘n wêreldtaal, so daar moet seker interessante dinge in hulle digkuns gebeur?

Daar is darem, indien jy belangstel om verder te lees, goeie versamelings van De Andrade en Bandeira se gedigte in Engels beskikbaar. Twee voorbeelde: Carlos Drummond de Andrade, The Minus Sign: Selected Poems, Black Swan Books, 1980 en Manuel Bandeira, This Earth, That Sky, University of California Press, 1989. Dan is daar ook Elizabeth Bishop se belangrike An Anthology of Twentieth Century Brazilian Poetry, wat al in 1972 by Wesleyan University Press verskyn het. En moenie van Uys Krige vergeet nie: Sy Brasilië Sing het in 1990 by Perskor verskyn, en al is dit nie meer in druk nie behoort jy dit darem in ‘n biblioteek iewers te kan opspoor. Miskien bundel iemand een of ander tyd Krige se versamelde vertalings? Hier is nog een van sy vertalings van ‘n pragtige vers van Manuel Bandeira:

Oomblik in ‘n Kafee - deur Manuel Bandeira

 

Toe die begrafnisstoet verbygaan,

het die mans, wat hulle in die kafee bevind,

meganies hul hoede afgehaal.

Ingedagte het hulle die gestorwene gegroet.

Hulle was almal ingestem op die lewe,

het opgegaan in die lewe,

vol vertroue in die lewe.

 

Tog het een sy hoof ontbloot met ‘n trae breë gebaar.

Lank het hy na die kis bly kyk.

Dié man wis dat die lewe ‘n driftige gewoel is,

sonder finaliteit,

dat die lewe verraad is

en hy het die stof gegroet wat verbygaan,

bevry vir altyd van ‘n uitgedoofde siel.

Uys Krige oor Manuel Bandeira

Tuesday, February 8th, 2011
Uys Krige

Uys Krige

In ‘n kommentaar onder aan my vorige bloginskrywing verwys Daniel Hugo my na ‘n opstelletjie wat Uys Krige jare gelede oor Manuel Bandeira geskryf het. Dit het oorspronklik in Die Burger van 25 Augustus 1975 verskyn, maar is later opgeneem in Die Naamlose Muse (Protea, 2002; red: JC Kannemeyer).

Krige begin sy opstel met ‘n uitstekende, bondige beskrywing van die mees kenmerkende eienskappe van die moderne Brasiliaanse digkuns. Hy skryf onder andere: ‘… omdat die Brasiliaanse digters so ‘n sterk aanvoeling had vir die ritmes van die gesproke taal, hulle so ‘n fyn oor had, het hul beste gedigte altyd ‘n besondere subtiele musikaliteit, ‘n soort innerlike sangerigheid wat langsamerhand vat kry op ‘n mens se gehoor en jou hoe langer hoe meer bekoor.’

Krige gaan voort om Manuel Bandeira die ‘veelsydigste en grootste’ Brasiliaanse digter te noem. Hy vertel die volgende staaltjie: ‘Terloops, ek onthou nog goed die dag toe ek op die terras van die Clifton Hotel my feitlik letterlike vertaling van Bandeira se beroemde gedig, ‘Seepsopstraat’, aan Van Wyk Louw voorgelees het. Van Wyk was verruk — en het op ‘n slag besluit om dit by sy keuse van die beste gedigte in ons taal in te sluit.’

Krige noem die feit dat hy Bandeira nooit ontmoet het nie ‘een van die teleurstellings van my literêre lewe’. Maar dit was amper. In die 1950s het Krige vertalings van Bandeira se gedigte in Afrikaanse koerante gepubliseer. Bandeira het in Rio de Janeira ‘n Nederlandse vriendin gehad wie se suster op haar beurt in Durban gewoon het. Die suster het op die vertalings afgekom en dit Rio toe gepos, met die gevolg dat Bandeira van die vertalings te hore gekom het. Hy het vir Krige ‘n waarderende brief geskryf en dit het, volgens Krige, ‘tot ‘n lang, vrugbare korrespondensie tussen Bandeira en my gelei. Hy het my later ook verskeie van sy digbundels gestuur, met lang vriendelike opdragte in Portugees op die titelblad’.

Bandeira het Krige uitgenooi om hom in Rio de Janeiro te besoek, maar die beplande besoek moes weens persoonlike redes afgestel word: ‘Na my besoek aan die VSA in 1959 sou ek ‘n vliegtuig uit New York na Rio neem om daar ‘n paar dae by Bandeira deur te bring. Maar toe kry ek ‘n brief van my dogter Eulalia uit Londen waarin sy my vertel dat sy my aldaar binnekort verwag. En bloed, soos ons almal weet, is dikker as water, uit watter springfontein ook, vanaf die heilige sangberg, Helikon…’

Hier volg Bandeira se ‘Vas vas’ in Krige se vertaling. Krige noem dit ’n ‘wonderlik eenvoudige, spontane en ontroerende gedig — ‘n tere gedempte treurlied oor die mens se sterflikheid, die kortstondigheid van alle menslike geluk…’

 

Vas vas - Manuel Bandeira

 

Toe ek vanmelewe aan die slaap geraak het

In die nag van Sint Jan

Was daar vrolikheid rumoer

Ontploffings klapperlawaai

Stemme liedere en gelag

Om die knetterende vreugdevure

 

Ek het in die middel van die nag wakker geword

Toe het ek nie meer stemme gehoor nie of gelag

Net buite

Het ballonne

Stil verby geswewe

En af en toe

Het die geluid van ‘n traan

Die stilte gesny

Soos ‘n tonnel.

 

Waar was hulle wat kort tevore nog

Gedans

Gesing

En gelag het

Om die vreugdevure?

 

Hulle het almal geslaap

Hulle het almal gaan lê

Hulle was vas aan die slaap

Vas vas.

 

Toe ek ses jaar oud was

Het ek nooit die einde kon sien nie van die fees van Sint Jan

Want ek het aan die slaap geraak.

 

Vandag hoor ek nie meer die stemme nie van dié tyd

My ouma

My oupa

Totonio Rodriques

Tomasia

Rosa

Waar is hulle almal?

 

Hulle slaap almal

Hulle het almal gaan lê

Hulle is vas aan die slaap

Vas vas.

Carlos Drummond de Andrade

Friday, January 14th, 2011
Carlos Drummond de Andrade

Carlos Drummond de Andrade

Carlos Drummond de Andrade (1902-1987) is een van die vernaamste Brasiliaanse digters uit die vorige eeu. Hy was ‘n verteenwoordiger van die Brasiliaanse Modernisme, maar ook ‘n digter wat ‘n eie, onuitwisbare stempel op die digkuns van sy land, en op die Portugese digkuns in die algemeen, afgedruk het.

Sy latere gedigte veral word gekenmerk deur ‘n onsentimentele, ironiese, dikwels skeptiese — en by tye selfs sarkastiese — stem. Soos hy dit in een van sy gedigte stel het hy hom vervreemd gevoel van ‘everything in life that is open and talkative’. En tog spreek Andrade sy leser aan in ‘n stem waarin daar, volgens Uys Krige, ”n vae hoop vir ons toestand as afgesonderde wesens skuil.’

Krige het ‘n paar van Andrade se gedigte in Afrikaans vertaal (gebundel in sy Brasilië Sing, Perskor, 1990), maar die gedig wat ek vanoggend plaas is in Engels vertaal deur Philip Krummrich.

Loving – Carlos Drummond de Andrade

What can a creature do except

among the other creatures, love?

love and forget,

love and mislove, love, unlove, and love?

always, even with one’s eyes gone glassy, love?

I ask you, what can an amorous being do,

lonesome, amid the general rotation,

but rotate with the rest, and love?

Love what the waves wash up on the beach,

and what they bury, and all that, in the sea breeze?

is salt, or need of love, or simple anguish?

Love the desert palms most solemnly,

love all surrender, or expectant adoration,

and love the forbidding, or expectant adoration,

and love the forbidding, love the harsh,

a vase without a flower, a metal floor,

a torpid breast, street seen in a dream, a bird of prey.

This is our fate: love beyond reckoning,

shared out among things treacherous or worthless,

a limitless gift to complete ingratitude;

and in the empty shell of love the timid search,

the patient search, for more and yet more love.

Loving our own lack of love, and in our aridness

loving latent water, silent kisses, boundless thirst.

Jelleke Wierenga. Seisoen van vreet, verlange en kooplus

Friday, December 10th, 2010

’n Koel groen grot om in te hiberneer. Dis my Kerswens in die seisoen van jaag en kooplus.

’n Vriendin, vasgevang in die takelwerk van ’n liefdesdriehoek, sê anderdag: “Kersfees is nie in my hart nie – dit hang aan die takke van bome.”

’n Mens wonder wie, behalwe kinders en dié wat geld maak, hou eintlik van Kersfees. Dis eintlik so ’n hartseer seisoen. Seisoen van suip, vreet en verlange. Desperaatheid en eensaamheid. Al die melankolie van ’n hele jaar se skemerende Sondae in een dag saamgepers.

Uiteenlopende mense met uiteenlopende lewens en belangstellings word vir ’n ruk saamgegooi in die naam van bloed en familiebande, net om weer te besef hoe min ’n mens gemeen het.

Maar laat ek nie in die dieptes van morbiditeit afsak nie. Nie in die “donker vertroebelde slykwaters van die wanhoop spoel” nie (“Tram-ode”, Uys Krige). Laat ek vir my Kerskaartjies skep met mooi plekke, ervarings en mense waarheen ek my kan verplaas. Soos daardie tye in Kirstenbosch. Ek het in ’n woonstel in Wynberg gewoon en was uitgehonger vir grond, aarde, plante, water. Dan pak ek ’n rugsakkie met water, vrugte, neute en boeke, pen en papier, en beklim die ruigtes bo die mensgemaakte tuine. Langs ’n stroompie met bruin gesonde water grawe ek my vir die dag in, omring deur digte struike en groenigheid. Geen wrede tweebeendier kan my hier ongehoord besluip nie.

’n Hele dag in spikkelson, in slaap en lees en skryf. Sometimes I sits and thinks. Sometimes I just sits. ’n Mens besef nie tot watter mate jy afgewen het tot jy in jou motor klim en die pad huis toe vat nie. Jy kan nie vinniger as veertig kilometer per uur ry nie. Al probeer jy regtig, want jy weet hoe geïrriteerd jy self raak vir die slakke en droomverlore krappe op die pad. Maar jy kan eenvoudig nie meer skielik na vinnig oorskakel nie. Stadig kruie jy huis toe, maak dalk ’n teetjie en eet iets, en val dan weer in Morpheus se mollige arms.

’n Ander Kerskaartjie is ’n naweek by ’n Weskus-dorpie saam met vriende. Baie onderstrominge hier, nie net in die see nie, maar ook in die sê en die nie-sê tussen mense. Ná ’n swem in die see, so koud dat dit jou brand, lê ek en ’n vriendin in die son. Vriend N – voor hy afgetree het taamlik hoog op by een van Naspers se koerante – bied aan om ’n kleurmeditasie met ons doen. Presies wat hy gesê en wat ons gedoen het – of nie gedoen het nie – weet ek nie. Al wat ek weet, is dat die wonderlikste kleure deur my gespoel en ’n heerlike rus en vrede nagelaat het wat ten minste twee dae geduur het. Die aand was daar ’n groot visbraai by ’n lapa. Ek moes die een of ander kleur uitgestraal het, want drie groepe mans het hul kreefkaartjies vir my kom aanbied. Ons het die volgende dag nog kreef geëet – en die volgende dag.

’n Regte Kerskaartjie wat ek nou nog vertroetel omdat dit destyds vir my so kosbaar was, is ’n kaartjie met silwer blinkertjies van Kersvader en sy slee met presente. Dit was ’n duur kaartjie van die slimste kind in die klas: Dallas McCarthy. Ja, werklik, so ’n eksotiese naam in ’n lelike myndorp. Daar was ook ’n Emily O’Reilly en James Wright. Almal so Afrikaans soos kome kan.

Ek was nie juis in Dallas-hulle se klas nie – die groepie slim, ryk, mooi kinders. Ek was ’n immigrantekind met ’n snaakse naam en van, ’n spoorwegkind. Ek was dus uiters gevlei om die mooi kaartjie in st. 5 van haar te kry. En tot vandag toe nog loop ek haar in my drome raak en sê elke keer: “Ek het gewéét ek sal jou weer ontmoet.”

In hierdie tyd van verlange na geliefdes en mense wat jy nog nie ontmoet het nie, ou haltes en nuwes wat wag vir jou besoek, na dinge wat kon gewees het en dalk nog kom, slaan ek my ou staatmaker die Groot Verseboek oop en kyk, daar sê Uys Krige:

 

Daar is ’n haltjie, Dwaal,
te midde van die vaal
godverlore dor Karoo.
En Arequipa in Peru.
Granada is ’n sprokiestad in Andaloe.
Popocatepetl heet ’n berg se piek in Mexico.
Die laaste stasie voor my tuiste het die mooi Xhosanaam, Waku.
Terra del Fuego, Tristan da Cunha, Put-Sonder-Water,
Kilimandjaro en Ruitersbospas;
en die Brahmapoetra en Baardskeerdersbos …

O Aldarin! o name, o versugting!
Op Pelgrimsrus in die Transvaal
wil ek weer hoor hoe klink my taal
skoner, welluidender as Provencal.

En ek wil gaan na Avignon,
en ek wil sien hoe smeul die son
in die herfsblare by Tarascon.

O Aldarin, o name, o verlange!
Vry, sorgeloos en onbevange
wil ek diep asemhaal
weer op die vergestrekte kaal
Karoo – as vreedsaam-stil soos ’n wit vlug van duiwe daar die skemer daal …
en swart en soos ’n donker gees wat dool, die nag daar dwaal.
O snydend die suidersterre, sidderend skerp soos staal!

En ek wil sien
juis hoe
huppel die blou heuwels
by Waku.

En ek wil hoor hoe kla ’n kiewiet
deur die skemerende werfstilte melankoliek
as hy opstyg, vaal teen die bleek kim, daar dof klapwiek,
troosteloos en eensaam … O Stem van verdriet!
Maar o verniet …
Marseille bly Marseille,
word nimmer die droomstad van Golconda nie.
En die hart bewaar sy nostalgie.

O drome, o verlange
wat nou treur en sing
hul droewe sange
van herinnering …

(Uittreksel uit Uys Krige se “Tram-ode”)

Is dit Uys Krige wat gesê het: Die lewe is alleen draaglik as ’n mens ’n bietjie dronk is?

My Hond (deel twee)

Tuesday, October 26th, 2010

 

Asof die skryf van ’n blog nie alreeds genoeg dinkwerk verg nie.
Twee dae gelede kom ek vir Danie Botha by ’n herdenking van Wilhelm Knobel se 75ste by sy broer Deon se huis teë en tussen die tafel met die yslike versuikerde aarbeie en die sjokolade-tert sê hy ewe beskuldigend:
Ek het nou net jou blog-inskrywing My Hond (deel een) gelees en merk dat al die hondeversies in Engels is. Ek neem aan deel twee gaan dié in Afrikaans hê, want daar is natuurlik hope, beginnende sommer by C.J. Langenhoven. Om darem nie te dom te klink nie, skud ek my kop op so ’n manier dat dit òf ja òf nee kon beteken, want met ’n mond vol melktert is daar nie veel kans om iets tussen die gemompel uit te maak nie.
En van gemompel gepraat, by die Wilhelm Knobel-funksie, het Deon van Wilhelm se verse voorgedra en Jeanne Goosen het ’n storie voorgelees oor een van haar nagwandelinge saam met Wilhelm destyds in Pretoria. Maar dié kon sy eers lees nadat sy aangekondig het dat sy haar bril by die huis vergeet het, en kon iemand miskien ’n keffie-bril vir haar leen?
Toe was dit later Phil du Plessis se beurt om ’n gedig voor te lees, maar hierdie keer was dit erger, want hy het sy tande by die huis vergeet, en hy het al mompelend verduidelik dat hy dit die vorige aand uitgehoes het. Toe vertel hy ook sommer hoe dat Uys Krige elke dag by Onrus gaan swem het, en met al die geswemmery het sy valstande glo die branders in verdwyn en toe het hy sommer maar by die naaste lykshuis in Hermanus vir hom ’n ekstra paar gaan uitsoek.
Ewenwel, wat ek eintlik wou sê, is dat ek vir Danie Botha eintlik moes gesê het dat die enigste Afrikaanse hondevers waarvan ek bewus was dié een van Jan F.E. Celliers is:
 

Ek is hier en Ma is hier

Ons twee lê op pa se baadjie.

Wie is jy? Kom loop verby

Anders word ons knor ’n daadjie.

 

Terloops daardie daadjie klink my so ’n bietjie na dwangrym, maar nou ja, in die dae toe Celliers dié versie geskryf het, was daar seker minder Afrikaans rymwoorde as deesdae.

  

 

 

Ek is toe terug huis toe en Sondagaand het ek met die yslike Groot Verseboek 2000 wat seker ’n Statebybel se grootte ewenaar voor my by die tafel gesit, want wie op aarde kan so ’n yslike gedoente in die bed regophou? Gee my veel liewers Komrij se Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte want dié is darem nog hanteerbaar en is dit veel makliker om so ’n juweeltjie soos Die Durbanse poepwedstryd wat wegkruip tussen G.A. Watermeyer en Flooi du Plessis, op te spoor, al het dit niks met honde uit te waai nie.

Ewenwel, daar blaai ek toe deur Groot Verseboek en waar is die hondeverse? Daar is wel verse vir sekretarisvoëls en ietermagôs en perde en vlermuise en torras van torrevedras, maar vir die arme hond kon ek met yslike deurlees van bladsy 1 tot bladsy 942, alleen dié enkele vers van Hewitt Visser uiteindelik op bladsy 716 opspoor:

 

HOND VAN GOD

 

geen jaghond nie

net ’n troeteldier

wat heeldag op die aarde

om sy voete speel

met tussenin spronge

en albei voorpote op sy skoot

om die kalm hand op die hoof te voel

saans uitgeput die rus

op ’n bidmatjie voor die stoel.

 

Ek kon dus seker maar vir Danie Botha gesê het dit is veel makliker om slim te klink en Engelse hondegedigte aan te haal, want ál wat jy moet doen is om die woorde dog poems te Google en daar klink jy sommer allergeleerd en is dit dus net ’n kwessie van cut en paste en hoef jy nie dwarsdeur onse eie Afrikaanse Statebybel te lees om daardie enkele hondeversie op te spoor nie.

Honde (en katte ook , moet ek so half onwillig toegee) is ongelukkig nie vir altyd nie, en op een of ander tyd besef jy die einde is aan die kom.

So gebeur dit ongeveer drie jaar gelede dat ek en Piet Grobler en Niki Daly by ’n Insig-boeke geleentheid was, waar ons oor ons werk moes praat en ek van my versies moes voorlees.

By my aan tafel was ’n dame wat ek nog nooit voorheen ontmoet het nie, en sy vra my hoe dit met my Staffie Winnie gaan. En toe sy ’n uitknipsel van my artikel Winnie uithaal wat in 1995 in Rapport gepubliseer is (sien my vorige bloginskrywing) bars ek in trane voor daardie wildvreemde vrou uit, want toe al het ek besef, dat ek sou moes besluit wanneer dit Winnie se tyd was om te gaan, want toe alreeds het haar pootjies wankelrig begin word; sy kon my nie meer hoor nie en die groeisel aan haar nek het al hoe groter begin word.

Maar dit kon ek glad nie vir die vreemdeling vertel nie. Dit was net daardie stukkie papier wat my skielik laat huil het en die arme vrou verwar het.

Maar ek is sekerlik nie die enigste persoon wat deur ’n hond se oudword en naderende dood geraak is nie.

 

EPITATH FOR A DOG

Near this spot
Are deposited the Remains of one
Who possessed Beauty
Without Vanity,
Strength without Insolence,
Courage without Ferocity,
And all the Virtues of Man
Without his Vices.
This Praise, which would be unmeaning flattery
If inscribed over Human Ashes,
Is but a just tribute to the Memory of
“Boatswain,” a Dog
Who was born at Newfoundland, May, 1803,
And died at Newstead Abbey Nov. 18, 1808.

Lord Byron

 

Hier is nog ’n gedig wat ek deur Google ontdek het:

  

YOUR DOG DIES 

it gets run over by a van.
you find it at the side of the road
and bury it.
you feel bad about it.
you feel bad personally,
but you feel bad for your daughter
because it was her pet,
and she loved it so.
she used to croon to it
and let it sleep in her bed.
you write a poem about it.
you call it a poem for your daughter,
about the dog getting run over by a van
and how you looked after it,
took it out into the woods
and buried it deep, deep,
and that poem turns out so good
you’re almost glad the little dog
was run over, or else you’d never
have written that good poem.
then you sit down to write
a poem about writing a poem
about the death of that dog,
but while you’re writing you
hear a woman scream
your name, your first name,
both syllables,
and your heart stops.
after a minute, you continue writing.
she screams again.
you wonder how long this can go on.

Raymond Carver

 

En dan, nog ’n versie, maar hierdie keer op ’n ligter trant:

 

THE LITTLE DOG’S DAY

 All in the town were still asleep,
When the sun came up with a shout and a leap.
In the lonely streets unseen by man,
A little dog danced. And the day began.

All his life he’d been good, as far as he could,
And the poor little beast had done all that he should.
But this morning he swore, by Odin and Thor
And the Canine Valhalla—he’d stand it no more!

So his prayer he got granted—to do just what he wanted,
Prevented by none, for the space of one day.
“Jam incipiebo, sedere facebo,”
In dog-Latin he quoth, “Euge! sophos! hurray!”

He fought with the he-dogs, and winked at the she-dogs,
A thing that had never been heard of before.
“For the stigma of gluttony, I care not a button!” he
Cried, and ate all he could swallow—and more.

He took sinewy lumps from the shins of old frumps,
And mangled the errand-boys—when he could get ‘em.
He shammed furious rabies, and bit all the babies,
And followed the cats up the trees, and then ate ‘em!”

They thought ’twas the devil was holding a revel,
And sent for the parson to drive him away;
For the town never knew such a hullabaloo
As that little dog raised—till the end of that day.

When the blood-red sun had gone burning down,
And the lights were lit in the little town,
Outside, in the gloom of the twilight grey,
The little dog died when he’d had his day.

Rupert Brooke

 

’n Jaar na Winnie se dood, het ek weer ’n artikel oor haar geskrywe. Maar hierdie keer was dit 15 jaar na die eerste een, en wys iemand dalk hierdie knipsel oor ’n paar jaar vir my sal my reaksie dalk dieselfde wees as toe die wildvreemde vrou die vergeelde artikel by die Boeke-Insig byeenkoms voor my neergeplak het;

 

 
WINNIE (Rapport 17 Mei 2009)
 
 
 
 

 

 

Winnie het in my lewe gekom op ‘n warm Desemberdag in 1993 - ‘n klein pikswart Staffie wat bo-oor al haar broers en susters geklim het toe ek by die hondeteler ‘n hondjie gaan soek het, en sy so te sê aangekondig het: “Wel, hier is ek en van nou af gaan ek deel van jou lewe wees”.

En toe 15 jaar later, op ‘n Novemberdag het ons tot siens gesê. Ek was langs Winnie waar sy op die vloer lê en slaap het. En vir oulaas, vir ‘n hele halfuur lank, het ek my arms om haar warm lyfie gevou, want ek het geweet die veearts sou nou enige tyd die deurklokkie lui met ‘n inspuitnaald in sy sak.

Toe ek haar gekry het, was sy so klein dat ek haar in my rugsak kon dra. Maar twee jaar later toe ek een middag met haar gaan stap het, het ‘n glasstuk haar pootjie gesny en het ek agtergekom hoe swaar dit is om 20kg huis toe te dra.

In haar jongmeisie dae het sy gedoen wat alle hondekinders doen. As jou tandvleise jeuk, dan móét jy kou en ek het agterkom dat honde ook maar hulle eie smaak het. Vir Karel Schoeman-boeke het sy egter g’n smaak gehad nie, want Na die Geliefde Land het sy net so effens om die randjies gekou.

En een aand moes ‘n kuiergas hinkepink terug na sy motor toe stap minus een van sy duur Italiaanse skoene terwyl Winnie ewe vroom onder die eetkamertafel gelê en nog steeds aan ‘n stukkie Italiaanse leer geknabbel het. Maar hoe kon ‘n grênd gas so kommin wees om sy duur skoene uit te skop terwyl hy by jou kuier?

Daarna was dit die potty-training-dae. Een oggend toe ek besef sy is besig om haar druk te druk, moes ek daardie swart lyfie gryp maar dit was reeds te laat en het haar hondedrolletjies een een met ‘n streep vloer toe geval het terwyl ek met haar tot by die grasperk hardloop.

Waar moet honde slaap? Buitekant natuurlik, want hoe anders gaan die hond jou beskerm teen gevare van die nag? Winnie het vir presies vir ‘n week in ‘n skattige houthuisie gewoon, maar saans was sy so allenig daar buitekant, dat ek besef het ‘n hond se plek is binne-in die huis, want vandag se inbrekers klim sommer dwarsdeur jou diefwering, en wie is dan daar om jou binne in die huis teen die gevare van die nag te beskerm?

Winnie het haar eie bedjie reg langs die dubbelbed gekry. As ek party aande teruggekom het by die huis, het Winnie kamstig in haar bedjie lê en slaap maar ek het tog gewonder waarom daar dan ‘n klein duikie op die dubbelbed se duvet was en hoekom dit nog steeds so effens warm voel? Haar bedjie was nie vir baie lank haar lêplek nie en soos almal weet – ‘n hond se slaapplek is eintlik bo-op jou bed. En saans as ons so saam-saam slaap, was ek altyd bewus van Winnie wat haar lyfie so warm teen myne aandruk.

Destyds kon sy sommer woerts op die bed beland, maar wat het dan gebeur? ‘n Paar jaar gelede merk ek hoe sy sukkel-sukkel om op die bed te kom, dus het ek maar die dubbelbed se pote afgeskroef en was die bed baie nader aan die vloer. Toe vind sy dit makliker, maar ‘n jaar of wat daarna was dit skielik my beurt om haar op te tel om bo-op die bed te kom.

Maar – voor daardie dae, was daar die wonderlike dae van Walkies. En sy het my behoorlik bult-af gesleep as ek haar aan die leiriem het, en wildvreemdes het skielik met my op straat begin gesels. Sou mens minus ‘n hond met ‘n vreemdeling gesels, word jy straks van seksuele teistering aangekla, maar met Winnie aan die leiriem was alles skielik anders.

Met die loop van jare het haar lyfie minder swart geword met wit haartjies om die snoet en soms was ek bewus van ‘n melkerigheid in haar oë.

Elke keer as daar ‘n polisiemotor met loeiende sirene verbyjaag, het Winnie soos haar Wolwe-voorsate met kop omhoog gehuil totdat die sirene in die verte verdwyn, maar later het motors met hulle sirenes verbygejaag en Winnie het maar net daar op die dubbelbed bly lê met haar grys snoet warm onder haar rooi kombersie ingevou en nou was dit nog net skielike harde klapgeluide wat haar kon laat skrik.

Winnie was altyd ‘n party-girl. As ek eenkeer ‘n jaar partytjie hou, het Winnie soos ‘n mal ding voordeur toe gejaag elke keer as die voordeurklokkie lui, want sy het geweet dit beteken elkeen van die wonderlike besoekers gaan haar allerhande soetigheidjies voer. Wat maak dit dan saak as sy die volgende paar dae gaan olik voel, want koekies is mos altyd maar lekker.

Maar – op ‘n dag kon die voordeurklokkie maar lui, want dié kon sy glad nie meer hoor nie en toe was selfs soetigheidjies nie meer so lekker nie en het sy soms maar net na haar kos gesit en staar en dan later na haar rooi kombersie toe teruggesukkel. Toe was daar skielik ‘n groeisel aan haar nek wat by die maand al groter geword het. En ek besef: een van die dae sal ek moet besluit wat die regte ding is om te doen.

‘n Paar weke voor haar verjaarsdag word sy in die middel van die nag wakker, en in plaas van deur haar eie hondedeurtjie na die tuin toe te gaan, begin sy rondtol. Die huis en die tuin het skielik ‘n vreemde plek geword, waar sy saans en selfs in die middel van die dag teen meubels en plante in die tuin begin vasloop.

Op die Woensdag het die veearts gesê hy sal Maandag na ons huis toe kom. En ek besef toe vir haar is daar nog net vyf dae oor. Vyf dae, word vier, vier word drie, en later was daar net ‘n paar uur oor. In daardie laaste vyf dae het ek haar elke dag na die groen gras op Groenpunt-meent geneem en hier kon sy op haar manier nog tussen die graspolle rondsnuffel, en daardie laaste dae was dae van biefstuk en biltong en lekker koekies.

Vir ‘n hele halfuur voor die koms van die veearts, het ek ek langs haar daar op die vloermatjie gelê met my arms om haar warm lyfie. Om eenuur het die voordeurklokkie gelui en om twee-uur het ek en my vriend Peter, haar graffie in die tuin langs die visdammetjie gegrawe en haar later in haar rooi kombersie toegevou.

Nou lê sy daar met twee meerminne van Nieu-Bethesda se Uilhuis wat oor haar waghou. En die solar-lampie langs haar graffie, brand tot laataand nog – en dan onthou ek dat Winnie vir 15 wonderlike jare deel was van my lewe.

 

  

 

 

Briewe van ʼn jong Uys Krige by Versindaba 2010 bekend gestel

Monday, September 13th, 2010
Briewe van Uys Krige

Briewe van Uys Krige

Die bekendstelling van Peet van Aardt se versameling briewe deur Uys Krige, Briewe van Uys Krige uit Frankryk en Spanje, beloof om ʼn besondere geleentheid te wees tydens vanjaar se Versindaba. Dié geliefde digter, skrywer en dramaturg is vanjaar ʼn eeu gelede gebore. Krige se dogter, Eulalia, en sy suster Suzanne Fox, sal op Saterdag 18 September om 09:00 in die Ou Hoofgebou op die US-kampus eregaste wees wanneer uitgewer Petrovna Metelerkamp met Van Aardt gesels oor die publikasie.

Peet van Aardt, voormalige Rapport-joernalis en tans nuusredakteur by Nuus24, sê dat sy belangstelling in Krige se briewe geprikkel is deur John Kannemeyer. Toe Van Aardt na afloop van sy studentedae op ʼn reis na Europa vertrek, het die bekende literatuurhistorikus hom aangemoedig om die briewe van ʼn jong Uys Krige saam te neem.

In 2009 het Van Aardt ʼn meestersgraad in Edisiewetenskap onder Kannemeyer, buitengewone professor aan die US se Departement Afrikaans en Nederlands, voltooi. Die onderwerp: Uys Krige se briewe wat hy as jong man tydens sy eerste oorsese reis geskryf het.

“Ek kon identifiseer met die briewe wat Krige in sy vroeë twintigs uit Frankryk en Spanje geskryf het toe hy die wye wêreld vir die eerste keer ingevaar het,” sê Van Aardt. “Dit verteenwoordig die belangrike ontwikkeling van Krige as jong, verlore seun tot die periode toe sy debuutbundel Kentering verskyn het.

“Byna soos in my geval 70 jaar later, was daar die avontuur van Krige se eerste oorsese reis, die familiebriewe, sy verblyf by Roy Campbell in Frankryk totdat hulle voor die skuldeisers moes vlug Spanje toe …

“Campbell het as leermeester natuurlik ʼn groot invloed op Uys gehad. By hom aan huis is hy blootgestel aan die Europese digkuns en het hy digters van oor die hele wêreld ontmoet,” sê hy.

Peet van Aardt

Peet van Aardt

Voordat Krige in 1935, met die uitbreek van die Spaanse Burgeroorlog, teruggekeer het na Suid-Afrika, het hy kennis gemaak met sy eerste groot liefde, Emilia. Briewe aan Uys se familie wat lig werp oor die liefdesverhouding met Emilia is ook in die bundel opgeneem.

Briewe van Uys Krige uit Frankryk en Spanje het ontstaan uit die tesis wat Van Aardt onder leiding van Kannemeyer voltooi het. Die boek, wat deur Hemel en See Uitgewers gepubliseer word, sal vir die eerste keer beskikbaar wees by Versindaba teen R220-00.

Op Saterdag 18 September om 09:00 by Versindaba gesels Metelerkamp met Van Aardt oor die publikasie. Die bekende akteur Nic de Jager lees voor uit Krige se briewe. Kaartjies kan ook by die deur gekoop word teen R30-00.

 

 

 

 

 

Vir die volledige program, klik hier. http://versindaba.co.za/2010/08/23/program-woordfees-versindaba-2010/ Besprekings by Computicket. http://www.computicket.com/web/

 

 

 

Uys Krige se Spaans-Amerikaanse Keuse

Tuesday, June 1st, 2010

Marlise Joubert)

Uys Krige op Onrus (foto: Marlise Joubert)

Ek was die afgelope 10 dae so besig (dit is die einde van die semester…) dat ek glad nie daarby uitgekom het om ‘n inskrywing te maak oor ‘n besonderse Afrikaanse digbundel nie. Ek het egter presies geweet oor watter bundel ek wou skryf: Uys Krige se Spaans-Amerikaanse Keuse, wat in 1969 by H&R verskyn het.

Dit is nie die beste of die mooiste bundel in Afrikaans nie; dit is ook nie eers my gunsteling in die taal nie. Dit is egter een van daardie boeke wat my esteties verlei het, wat my nuuskierigheid geprikkel het, wat my gevoeligheid vir die plofbaarheid van taal en woorde opgeskerp het, en wat begeertes vir ander klanke, ander landskappe en ander ervarings in my aangevuur het.

Om Uys Krige se vertalings te ontdek, was om ‘n parallelle wêreld te ontdek; een wat boonop reusagtig groot en dinamies kreatief is. Deur middel van Afrikaans het Krige ook ‘n venster oopgemaak, maar nie op die alewige Europa nie. Hierdie venster het ‘n duiselingwekkende uitsig gebied op die uitgesponne, komplekse Suid-Amerikaanse vasteland, en op die ongelooflike kreatiwiteit van die Latyns-Amerikaanse letterkunde. Wat meer is, deur hierdie venster kon daar ook lig ínskyn op die Afrikaanse letterkunde; dit verhelder met ‘n breër kosmopolitaanse ingesteldheid en ‘n soort kritiese humanisme.

Maar bo en behalwe dit alles het Krige se bundel my gewoon blootgestel aan ‘n paar uitstekende digters, en my ‘n lewenslange lus gegee vir die Suid-Amerikaanse letterkundes. Spaans-Amerikaanse Keuse bestaan, soos die titel suggereer, uit Krige se vertalings van ‘n aantal Suid-Amerikaanse digters. Ons praat dus nie van een letterkunde nie, maar van ‘n transnasionale taaldomein wat deur die loop van die twintigste eeu ‘n uiteenlopende aantal tradisies en digters opgelewer het.

Krige het die werk van digters uit Argentinië, Chili, Colombia, Equador, Honduras, Kuba, Peru, Porto Rico en (veral) Venezuela vertaal vir hierdie bundel. Die meeste van hierdie lande word deur so een of twee digters verteenwoordig; deur sewe in die geval van Venezuela. Die boek sluit dan ook af met ‘n essay deur Krige, “Verse van Venezuela”, wat naas die inleiding (”Die moderne Spaans-Amerikaanse Poësie”) en die Biografiese Aantekeninge steeds die moeite werd is om te lees.

Jorge Carrera Andrade

Jorge Carrera Andrade

Vir my is een van die hoogtepunt in Spaans-Amerikaanse Keuse egter Krige se vertalings van ’n briljante Equadoriaanse digter: Jorge Carrera Andrade. Dit is na Andrade se gedigte waarna ek telkens terugkeer wanneer ek hierdie bundel van die rak haal; en sy land is een van dié wat nog ‘n hunkering in my is. 

Krige het agt van Andrade se gedigte by hierdie bundel ingesluit, meer as enige van die ander digters wat ook opgeneem is. Dit sluit Andrade se klassieke werk in, “Biografie vir die gebruik van voëls”. So begin dit: “Ek is gebore in die eeu van die afsterwe van die roos / toe die motor reeds al die engele op die loop gejaag het.” Dit herinner ‘n mens nogal sterk aan Lorca. Die tweede strofe begin met hierdie enersyds onvergeetlike reëls:

My moeder, geklee in die sonsondergang,

het haar jeug bewaar in ‘n diep kitaar

en slegs party aande het sy dit aan haar kinders gewys

gehul in musiek, in lig en haar sagte woorde.

 

En dan eindig hierdie aangrypende gedig só:

 

Alles is reeds verby, in golf op golf,

soos die nuttelose syfers van die skuim.

Sonder haas gaan die jare, al sy mosse verstringelende,

en die herinnering is ‘n waterlelie

wat tussen twee rimpelinge

skaars haar bleek gelaat wys van ‘n drenkeling.

Die kitaar is maar net ‘n doodkis vir liedere.

En, gewond in sy kop, treur die haan.

Al die aardse engele het uitgewyk,

selfs die donker engel van die klapperboom.

 


Slegs twee van Krige se uitstekende Pablo Neruda-vertalings is in hierdie boek opgeneem, maar dit is twee van die bestes: “Alberto Rojas Jiménez kom vlieënde” en “Walking around”. Veral eersgenoemde klink of dit oorspronklik in Afrikaans geskryf kon wees, en dit sing soos min ander gedigte in hierdie taal. En dit is maar enkele van die skatte wat in hierdie boek opgesluit lê; ‘n boek wat aan ‘n mens ‘n wêreld beloof, en dit dan lewer ook.
 

Uys Krige en Ingrid Jonker

Wednesday, January 20th, 2010

Na aanleiding van my blog-inskrywing oor Uys Krige wat gister verskyn het, het Marlise Joubert vir my dié pragtige foto’s aangestuur. Hierdie een het sy jare gelede self geneem van Krige:

Hierdie foto van Uys, Ingrid Jonker en haar dogter Simone, het Jack Cope jare gelede vir Marlise gestuur. Die identiteit van die fotograaf is onbekend:

Pragtig, nie waar nie?