Posts Tagged ‘Uys Krige’

Wicus Luwes. Alles sal regkom

Thursday, August 4th, 2016

lemoenboom

Twee lemoenbome begroet jou in die binnehof van die museum. Die bome is ‘n klein entjie meer as ‘n honderd jaar oud, maar dit is opvallend dat dit steeds sy vrug(te) getrou dra. Daar is ‘n paar dooie takke tussen die vrugbares, maar dit is seker te verstane vir so ‘n ou boom. ‘n Brosjure wys daarop dat dit eintlik ‘n misverstand was: die lemoenbome en sy oranje vrug op die landswapen moes oorspronklik ‘n wilde olyfboom gewees het. Die wilde olyf is inheems aan die Vrystaat.

NALN, die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum, word gehuisves in ‘n pragtige geskiedkundige deel van Bloemfontein. Dit dateer uit ‘n era toe die kolonies en republieke vir bestaansreg geveg het. Die derde raadsaal is reg by die ingangsportaal en die uitstallings in die voorportaal neem jou na tye toe die grense van die land en ons taal uitgemeet is. Gereedskap en geskrifte van GR Von Wielligh, wat die grense van die Krugerpark help trek het, het’n plekkie gekry. Ook Adam Small se foto’s en werke val my op. Hy sou deel gewees het van die pas afgelope Vrystaatse Kunstefees, maar is onlangs oorlede. Ek het NALN juis kom besoek in dieselfe week as die Kunstefees. Wat sou van ons taal geword het as dit nie vir die kunstefeeste was nie. Miskien moet ek eerder sê ‘waar’ sou ons taal gewees het. Voorheen was daar streeksrade met teaters en salarisse en uitvoerings en begrotings en steun en ondersteuning vir die teaterkunste. (Ons loop verby Hermien Dommisse se foto en verhaal en ons gesels oor hoe sy vir die einste streeksrade geveg het.) Teen die trap op gewaar ek ‘n foto en uitstalling van Deon Meyer – sy nuutste boek word eersdaags vrygestel.

 

 

Die Here het gaskommel
deur Adam Small

Lat die wêreld ma’ praat pêllie los en vas
‘n sigaretjie en ‘n kannetjie Oem Tas
en dis allright pêllie dis allright
ons kannie worry nie

‘n sigaretjie en ‘n kannetjie Oem Tas
en ‘n lekker meid en lekker anner dinge
oe!
lat die wêreld ma’ praat pêllie los en vas
wat daarvan
wat daarvan
wat maak dit saak
soes die Engelsman sê it cuts no ice
die Here het gaskommel
en die dice het verkeerd geval vi’ ons
daai’s maar al

so lat hulle ma’ sê skollie pêllie
nevermind
daar’s mos kinners van Gam en daar’s kinners van Kain
so dis dis allright pêllie dis allright
ons moenie worry nie

Uit:  Kitaar my Kruis, HAUM, 1975

Daar is baie storievertellers in die kamers van NALN. Baie stories ook. ‘n Mens het party van die stories en staaltjies van skrywers op skool gehoor en dit is interessant om dit in lewende lywe te sien. Die een skrywer se lessenaar, ‘n ander se pyp: talle items wat tien teen een die eerste lesers van romans en poësie  was. Selfs ‘n valdeur waar Jan F Cilliers op ‘n keer vir die Engelse weggekruip het. Daar is ‘n kamer vir bekende tydperke/bewegings: Die Vyftigers, Sestigers, kinderboek-skrywers, vroue-skrywers. Almal baanbrekers, almal mense wat die aarde bewerk het vir die nageslagte. Ek dink aan die onskatbare waarde van die items en gedeelde geheue wat in elke kamer en uitstalling vasgevang is. Wat sou van ons taal geword het sonder sulke stukkies van die gedeelde geheue? Waar sou ons taal gewees het sonder NALN? Die beweging wat verteenwoordig word in uitstallings is onder andere: Die voorlopers, soos FW Reitz en Pulvermacher. Die eerste en Tweede tydperk in die Afrikaanse Beweging – AG Visser, Eugène Marais, Jan FE Celliers, Totius en CL Leipoldt val onder hierdie groepering. Die geslag van 1920, met o.a. HA Fagan en AD Keet. Die geslag van 1930 met o.a. ID du Plessis en CM van den Heever. Die Uys Krige en Elisabeth Eybers se Groep van 1934. Ernst van Heerden, Olga Kirch en DJ Opperman verteenwoordig die 1940’s. Die dekade van 1950 word verteenwoordig deur Ina Rousseau en Peter Blum. Die Sestigers van Adam Small, Etienne Leroux en Breyten Breytenbachen kry ook ‘n plek. Dit is eintlik te veel om met een besoek in te neem en ek besef dat ek heelwat miskyk, want die werklike stories is in die kommas en punte. Daar is ongeveer 150000 eksemplare wat vir die nageslag bewaar word, meer as 84000 titels. Dit sluit natuurlik verskeie soorte Afrikaanse literatuur, musiek-erfenisstukke en teater-werke in. Ek kan die skat wat tussen die mure van NALN bestaan, nie eers na behore begryp nie.

NALN_collageUitstallings en vooraansig van NALN

20160712_125537Nola Doré, Waarnemende Kurator: NALN en Annelien Diedericks, Museum Geesteswetenskaplike

 

Ek steek vas by ‘n uitstalling wat Uys Krige se ‘Ken jy die see’ bevat. Ek bly aan die kus en moes binneland/Bloemfontein toe kom, om ‘n gedig oor die see te her-ontdek. (Later in die week het ek ook gehoor hoe Prof Nico Luwes, hierdie gedig met gevoel voordra. Luwes en Johann Nel, wat dikwels sy stem aan ‘RSG’ se ‘Vers en Klank’ uitleen, het nuwe en ou gedigte by die Kunstefees voorgedra.)

 

Ken jy die see
deur Uys Krige

Ken jy die see, Meneer, ken jy die see?
Hy lyk nou soos jou voorstoep blink geskuur
en kalm soos min dinge hier benee,
maar hy’s gevaarliker as vlam of vuur.

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Dié vrede, kalmer as ‘n stil, soet kind,
lyk of dit dae, dae lank sal duur.
Maar word dié bries ‘n bulderende wind,
dan veg jy vir jou lewe, uur na uur.

En jy sê nog, Meneer, die vis is duur.

Ja, sleep die swart, swart wind die swart nag mee,
waar kry ons hulp dan, waar’s ons naaste buur?
Die Dood staan voor die deur. Geen hy nog net één tree,
dan kelder hy ons almal in sy koue skuur.

En jy sê nog, Meneer, die vis is duur.

Wat van die storms wat nooit ophou raas?
Jy sit pal in jou kombuis, klam en guur,
en hoor die wind al woester, wreder blaas
en daar’s geen sprokkel hout meer vir jou vuur

Dan sê jy nog, Meneer die vis is duur.

Was jy al van jou bootjie soos ? veer gevee
deur ? grys golf hoog soos ? tronk se muur
wat help dit om te spartel en te skree “Nee Nee”!
Sluk jy eers daardie waters sout en suur?

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Ken jy die doodsangs as die rukwind klap?
Dié waansin ken geen redmiddel of kuur.
Hy vreet mos aan jou ingewande nes’n krap.
Hy’s koud soos ys, heet soos ‘n hellevuur!

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Ken jy die see, Meneer, ken jy die see?
Hy wat met groen jaloerse oë na ons gluur,
ons wat net één ou misstappie moet gee
en hy kom tromp-op op ons afgestuur!

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.

Sien jy die krom ou vroutjie daar, Mevrou Mathee,
Wat telkens ver, vér oor die golwe tuur?
Sy dink dié briesie bring haar seuns betyds terug vir tee
Hul slaap al drie agter die kerkhof muur

Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur…

Op die Kunstefees se feesgronde by die Vrystaatse Universiteit sien ek ‘n bekende deur die stalletjies loop. Hy stop en kyk na leerprodukte. Hy praat ‘n rukkie met die eienaar van die stalletjie. Ek het sy foto al dikwels in koerante en artikels gesien, maar dis anders om die persoon in lewende lywe te sien. Hy was by die fees om oor sy boek, Wat Nou, Suid-Afrika, te praat. Die skrywer van hierdie boek, Theuns Eloff, oud-rektor van Pukke en deesdae by die FW de Klerk-stigting, was besig om inkopies te doen toe my oog hom gewaar het. Hy het bepaalde idees waarheen Afrikaans, Afrikaans-sprekendes en die land moet beweeg. Dit is lekker om die konteks van die geskiedenis in konteks met die toekoms te sien, of ten minste daaroor te dink. Die manier waarop ons dink oor ‘n saak, het ‘n bepalende faktor. Dis een ding om te veg, ‘n ander om te vlug. Die vraag is natuurlik of jy jouself of jou taal in so ‘n posisie sou insien. Dis verder ironies dat die plek waar een van die aanvalle op ons taal juis die plek is waar die kunstefees plaasvind. Universiteitskampusse is tradisioneel ‘n plek van debatvoering en uiteenlopende menings.

My gedagtes neem my terug na die museum. Die museum en die navorsing wat daar plaasvind, skep ‘n verwysingspunt waarop mense soos Eloff kan bou. Die moontlike uitkomste is deel van enige strategie. Dit is makliker om ‘n strategie uit te werk as jy kan sien waarheen jy op pad is. Ek gesels met Annelien en Nola van NALN. Hul vertel my van die nuwe bome wat hul besig is om te plant. Daar is oorspronklik 5 lemoenbome in die binnehof van die gebou geplant, waarvan slegs 2 nog leef. Die museum het dit toe goedgedink om nuwe bome aan te plant. Die behoud van die geskiedenis is ‘n groot prioriteit vir NALN. Genetiese materiaal van die oorblywende oorspronklike bome is egter gebruik om die nuwe lemoenbome te kweek. Dit is ongelooflik hoeveel moeite daar gedoen is om iets so eenvoudigs soos ‘n paar lemoenbome vir die nageslag te bewaar. Terwyl ek deur die uitstallings loop, bly daardie gedagte my by. Dieselfde mense wat seker gemaak het dat die nuwe lemoenbome iets van die oorspronklike lemoenbome behou, onderhou die uitstallings. Daar is heelwat bome deur die jare rondom die gebou geplant. Bekendes en heersers het dikwels hul verbintenis met die area bevestig deur bome te plant of te skenk. Ek wonder sommer watter bome die Generasie X, Y of die ‘Millenials’ aan instansies soos NALN sal skenk. Ek wonder of hul besef dat hul, soos die lemoenbome, ook geneties verbind is aan die geslagte wat in die uitstallings van die museum verteenwoordig word. Die genetiese materiaal is nie altyd fisies nie, want saadjies wat in die brein geplant word, is somtyd veel sterker as saadjies wat deur bloed voortgedra word. Een so ‘n lewegewende / voortplanting vind in die museum se ou ketelkamer plaas – hier kry skrywers gereeld kans om hul werke voor te dra en ook hul merk / handtekening op ‘n mure NALN te verewig. (Meer hieroor in ‘n volgende blog.)

20160712_134401

Terwyl my besoek aan NALN einde se kant toe staan, kry ek die geleentheid om uit te kyk oor ‘n balkon. Ek sien hoe die standbeeld van oud-pres. Jan Brand uitkyk oor Charlotte Maxeke-straat (voorheen Maitland-straat) wat eindig by Bloemfontein se stasie. Op die granietblok is ‘n bekende spreekwoord van Brand gegrafeer: “alles zal recht komen”. NALN is besig om meer oor die onderwerp na te vors, maar volgens hul bronne het Karel Schoeman in sy boek, ‘Bloemfontein Die ontstaan van ’n stad’, vermeld dat die inskripsie deur oud-pres. Reitz voorgestel is. Die interessantheid omtrent hierdie inskripsie, is vir my dat dit slegs die helfte van die spreekwoord bevat. Die volledige spreekwoord lui as volg: “alles zal recht komen indien elke man zijn plicht doet”. Jan Brand se spreekwoord het my tot nuwe insigte laat kom. ‘n Mens kan soveel uit die gedeelde geheue leer en die literêre omgewing is die perfekte wêreld om die denke te skep en te herskep. Ek dink sommer aan Peter Drucker se spreuk ter afsluiting: ‘Die beste manier om die toekoms te voorspel, is deur dit te skep’.

20160712_133023

Die Optimis
deur CJ Langenhoven

“‘n Verkleurmannetjie, a!” skree ou Stander.
En hy vang die blou klipsallemander;
En hy bring hom vir sy vrou,
En sy sê: “Maar hy’s dan blou?”
“Wag, vrou,” sê die ou, “hy sal verander”

20160712_135750

Ter Nagedagtenis aan Kommandant Louw Wepener
deur FW Reitz

Sal vreemde digters ons verhaal
van hulle grote helde,
en sal ek in my eie taal
Louw Wepener nie vermelde?

Nee, Broeder-Afrikaners, nee,
ons dapperes bly ons eie;
God het ons Wepener gegee;
waarom sou ek dan swye?

Laat hul dan Tromp en Nelson roem,
en sulke grote name;
as ek maar Wepener mag noem,
dan sal ek my nie skame.

Hy is bo almal verreweg
wat in die heldery staat;
hul ‘t ook die lewe neergeleg,
maar tog nie vir die Vrystaat.

Hy lê op Thaba Bosigo,
geen grafsteen sal hy verge;
sy monument het God gebou,
die Bouheer van die berge.

Al moet ons dan so dikwels bloos
vir onse arme nasie
gedenk aan Wepener, wees getroos,
en vat dan weer koerasie.

uit: Oorlogs en ander Gedichten, 1910

*** My opregte dank gaan aan Annelien Diedericks, Museum Geesteswetenskaplike, en Nola Doré, Waarnemende Kurator: NALN vir die vriendelike toer en inligting! ***

Daniel Hugo. Vertaling en die Afrikaanse Digkuns

Monday, October 1st, 2012

Voël, Perd en Bul: Vertaling en die Afrikaanse Digkuns

(Praatjie gelewer by SATI / SAVI se driejaarlikse prysfunksie vir vertalers en woordeboekmakers op 29 September 2012 by die Universiteit van Johannesburg)

Vooraf

Voordat ek by die eintlike onderwerp van my praatjie kom, eers ‘n kort woordjie vooraf.

Die graad van kulturele sofistikasie wat ‘n taal bereik het, word dikwels gemeet aan die vertalings van klassieke tekste uit die wêreldletterkunde. In die Christelik-Westerse konteks word dan heel eerste gedink aan die Bybel. Dit was inderdaad ook van die heel begin af ‘n belangrike prioriteit van die mense – soos Arnoldus Pannevis en S.J. du Toit – wat Afrikaans as ‘n standaardtaal wou vestig. Met die verskyning van die volledige Bybel in 1933 is die belangrikste hoeksteen van Standaardafrikaans gelê. Maar ook die Oosterse kulturele en linguistiese bande van Afrikaans het formeel beslag gekry met die volledige oorsetting uit Arabies van Die heilige Qur’ān deur imam M.A. Baker in 1961.

Vertalings van klassieke tekste het Afrikaans se posisie as volwaardige, kultuurtaal verstewig. Die lang epiese gedigte die Ilias en die Odusseia van Homeros uit die negende eeu voor Christus word beskou as die begin van die Griekse, en daarom ook van die Europese, letterkunde. Hierdie twee werke het onderskeidelik in 1954 en 1963 in ‘n Afrikaanse prosavertaling deur J.P.J. van Rensburg verskyn. Van Rensburg was ‘n professor in Grieks aan die Universiteit van Stellenbosch en hy het ook dramas van Sophokles, Euripides en Aristophanes in Afrikaans vertaal.

N.A. Blanckenberg het klassieke tekste uit die Latynse letterkunde vir Afrikaanse lesers toeganklik gemaak met sy vertalings van Vergilius wat in 1975 en 1980 die Suid-Afrikaanse sonlig gesien het. In 2002 verskyn nog ‘n Latynse teks, die Encomium Moriae van die sestiende-eeuse Nederlandse teoloog Desiderius Erasmus, in Afrikaans as Tot lof van Dwaasheid. Erasmus se klassieke Latyn is deur J.L. de Villiers in klinkende Afrikaans omgesit.

Dante Alighieri se La Divina Commedia uit die dertiende eeu is waarskynlik die belangrikste digwerk in die Christelike wêreld. Delamaine du Toit het Die Goddelike Komedie volledig in Afrikaans vertaal as Die Hel (1990), Purgatorium (1998) en Die Paradys (2002). Vir elkeen van hierdie vertalings, met uitgebreide aantekeninge en kommentaar, is Du Toit deur die Suid-Afrikaanse Akademie bekroon. Dante se ingewikkelde rymskema, die sogenaamde terza rima met sy “kettingryme” aba bcb cdc …, het die meeste rymende vertalings in die wêreldletterkunde onleesbaar en onbetroubaar gemaak. Du Toit het hierdie stilistiese slaggat vermy deur ‘n letterlike prosavertaling te maak. Die beroemde openingsreëls van Dante se Inferno klink nou só in Afrikaans: “Halfpad deur die reis van ons lewe / het ek my in ‘n donker woud bevind / daar ek die reguit pad byster geraak het.”

Saam met Homeros en Dante word Shakespeare altyd genoem as een van die grootste skrywers van alle tye. Die literator F.I.J. van Rensburg noem Shakespeare “een van die groot vertaaltoetsstene” vir enige taal. En hy gaan voort: “Elke literatuur probeer hom aan Shakespeare meet … Dit is vir sommige selfs ‘n prestige-saak hoeveel Hamlet-vertalings ‘n bepaalde literatuur besit.” Daar bestaan verskillende vertalings van Shakespeare se dramas in Afrikaans, maar die bestes is ongetwyfeld dié van Uys Krige. Hy is deur die Suid-Afrikaanse Akademie bekroon vir Twaalfde nag en Koning Lear.

En nou kom ek by die drie diere van my praatjie se opskrif.

 

Voël

 

Die Afrikaanse digkuns is byna 900 jaar oud en het begin met ‘n vertaling uit Latyn. Die oudste stukkie opgetekende Nederlandse poësie kom uit die tweede helfte van die twaalfde eeu. Dit klink só:

 

Hebban olla vogala

nestas hagunnan

hinase hic enda thu.

Wat unbidan we nu?

 

Dit wil sê: “Al die voëls het neste begin, behalwe ek en jy. Waarvoor wag ons nou?”

Hierdie reëls staan agterin ‘n Angel-Saksiese preekbundel wat behoort het aan die klooster van St Andrews by Rochester in Kent. ‘n Monnik het klaarblyklik sy nuwe gansveerpen op die skoon agterblad van die manuskrip uitgetoets. Hierdie sjarmante gediggie staan reg onder die Latynse reëls waarvan dit die direkte vertaling is. Dit is omstreeks 1150 neergekrabbel en het verlore gegaan, totdat die Engelse taalkundige Kenneth Sisam dit in 1932 in die universiteitsbiblioteek van Oxford (die Bodleian) ontdek het. Hy het dit dadelik geïdentifiseer as Oudnederlands. Die krabbelende en moontlik verliefde monnik was waarskynlik afkomstig uit Vlaandere.      

Omdat Afrikaans regstreeks uit sewentiende eeuse Nederlandse dialekte ontstaan het, is die Middelnederlandse letterkunde en ook hierdie Oudnederlandse reëls deel van ons literêre erfenis. Afrikaans het nie op 14 Augustus 1875 uit die blou Paarlse lug in ds. S.J. du Toit, die stigter van die Genootskap van Regte Afrikaners, se skoot neergedaal nie. Afrikaans stam uit Nederlands en daarom begin ons digkuns ook met hierdie liefdesgediggie.

            Die Afrikaanse digters het van die ontdekking in die Bodleian kennis geneem en kort voor lank die reëls toegeëien. Die eerste digter wat bewustelik daarop gereageer het, was D.J. Opperman. In 1947 verskyn sy Negester oor Ninevé en die bundel open met die gedig “Ná ‘n besoek aan die dieretuin”:

 

                        Twee kraaie het hul nes gemaak

                        van stukkies draad;

 

                        en in staalkoue

                        ver van riete en riviere afgesluit

                        broei rooivinke en wildepoue

                        nog hul eiers uit;

 

                        in ysterhokke

                        ver van rantjies en langgras

                        werp ape en die waterbokke

                        nog hul kleintjies af;

 

                        net in ‘n enkelkamer ek en jy

                        van hulle vreugde afgeskei.

 

In die bloemlesing uit sy werk, Astrak van 1960, voeg Opperman die woorde “Hebban olla vogala …” as ‘n motto by die gedig. Sedertdien het talle Afrikaanse digters laat blyk dat hulle deur dié Oudnederlandse reëls geïnspireer is – te veel om nou ‘n inventaris daarvan te gee. Digters is dikwels tradisiebewuster as ander taalgebruikers. Hulle is die argivarisse én die nuutskeppers van ‘n taal.

 

Perd

 

Maar nie net die Nederlandse letterkunde beïnvloed Afrikaanse digters nie. Sedert die Britse besetting van die Kaap in 1806 sou ook die Engelse letterkunde sy invloed laat geld. En dit het al gebeur vóór die stigting van die Genootskap vir Regte Afrikaners in 1875. F.W. Reitz was die eerste werklike digter in Afrikaans. Sy vroegste digpoging was “Klaas Geswind en syn perd” wat in 1870 in Het Volksblad verskyn het. Dit is ‘n vertaling en verwerking van Robert Burns se vermaaklike gedig “Tam o’ Shanter” van 1791.

F.W. Reitz, wat later president van die Oranje-Vrystaat geword het, het ook gedigte van Walter Scott en William Cowper in Afrikaans verwerk. Verder was hy in 1888 die eerste bloemleser van Afrikaanse gedigte wat in tydskrifte en koerante verskyn het. Tydens die Anglo-Boereoorlog was Reitz die Boere se enigste aktiewe digter-te-velde. In 1910 verskyn sy Oorlogs- en andere gedichten wat verse in Afrikaans, Nederlands en Engels bevat.

Robert Burns se “Tam o’ Shanter” is in Skots en Engels geskryf. Reitz verplaas die gebeure na die sendingdorpie Suurbraak naby Swellendam in Suid-Afrika. Hy doen dit in sprankelende Afrikaans in ‘n tyd toe Afrikaanssprekendes nog hul bes probeer het om Hoog-Hollands te skryf.

Ek haal uit Burns se gedig aan:

 

                        But pleasure are like poppies spread,

                        You seize the flower, its bloom is shed;

                        Or like the snow falls in the river,

                        A moment white – then melts for ever.

 

Reitz maak daarvan:

 

                        Plesier is nes ‘n jong komkommer:

                        As jy hom pluk, verlep hy sommer;

                        Of nes ‘n skilpad in sy dop in:

                        Soos jy hom vat, dan trek hy kop in.

 

Burns se Tam ry op ‘n vaal merrieperd genaamd Meg. Sy red hom van ‘n klomp spoke en die duiwel self wat Tam agternasit toe hy een nag in ‘n beskonke toestand by ‘n begraafplaas verbyry. In Reitz se gedig word van Klaas se perd gesê:

 

                        ‘n Flukse merrie was ou Kol,

                        Al was haar rug ‘n bietjie hol.

 

Tam en Klaas word gered deurdat hul perde oor ‘n riviertjie spring, want:

 

                        ‘n Spook is nes ‘n bokkapater,

                        Hy loop nie sommer in die water.

 

Hierdie gedig van F.W. Reitz staan vandag nog in die standaardbloemlesings uit die Afrikaanse poësie. “Klaas Geswind en syn perd” kan beskou word as die tweede begin van die Afrikaanse digkuns, en net soos in die geval van die eerste begin met “Hebban olla vogala” is dit ‘n vertaalde teks.

 

Bul

 

Uys Krige (foto: Marlise Joubert)

Die digter Uys Krige is waarskynlik die beste poësievertaler in Afrikaans. Hy het ons digkuns veral verryk met vertalings uit Spaans. Krige het natuurlik ook roem verwerf as vertaler van Shakespeare. In sy studie Digters van Dertig beweer die digter en akademikus D.J. Opperman selfs: “Uys Krige se vertalings neig tot oorspronklike werk, sy oorspronklike werk tot vertalings!” Krige se beste versvertaling is waarskynlik dié van Federico Garcia Lorca se “Klaaglied van Ignacio Sanchez Mejias”. Dit het in 1950 verskyn in die bundel Vir die luit en kitaar wat sy vertalings uit die Franse en Spaanse digkuns bevat.

            In sy opstel oor Lorca sê Krige dat dié grootse gedig in vier afdelings ‘n treursang is ter ere van ‘n vriend, die groot stiervegter Sanchez Mejias, wat in 1934 in die arena deur ‘n bul gedood is. Ek haal Krige woordeliks aan: “Dis geensins ‘n loflied op die stiergeveg nie. In sy wese het dit maar min met die stiergeveg te doen. Dis ‘n treursang op die dood van ‘n vriend, ‘n vriend wat kragtig en dapper gelewe en gesterwe het en wie se lewe ‘n eenheid was. Maar dis van so ‘n geweldige poëtiese siening, van so ‘n visioenêre krag, dat dit Lorca se eie klaaglied word, die klaaglied vir miljoene mense wat ná Lorca in die Burgeroorlog en daaropvolgende Wêreldoorlog sou sterwe, ‘n klaaglied vir almal wat moedig lewe en sterwe hier op aarde.” Tot sover Uys Krige.

            Lorca het natuurlik self ‘n slagoffer van die Spaanse Burgeroorlog geword toe hy in 1936 deur aanhangers van generaal Franco doodgeskiet is.

            Uys Krige vertel in ‘n naskrif by Vir die luit en kitaar hoe sy vertaling tot stand gekom het. Dit bevat een van die merkwaardigste bekentenisse deur ‘n vertaler wat ek al ooit teëgekom het. Krige sê: “Lorca se Klaaglied het ek in 1937 – tydens die Burgeroorlog en ná Lorca se dood – vertaal. Ek het nie die minste moeite daarmee gehad nie. Dit was asof iemand anders vir my die eerste, tweede en vierdie gedigte geskrywe het. Binne ‘n halfuur was aldrie kant en klaar. Dit was ook die enigste skryfwerk wat ek nog ooit gedoen het terwyl ek onder die invloed van drank was …” Dit wil dus voorkom of “daardie iemand anders” wat die vertaalwerk namens Uys Krige gedoen het, niemand anders as die god Bacchus was nie!

            Maar alle grappies op ‘n stokkie: Krige se vertaling is waarlik meesterlik en word inderdaad beskou as ‘n wesenlike bydrae tot die Afrikaanse poësieskat. Met reg is dit sedert 2000 opgeneem in die Groot verseboek – daardie Bybel van die Afrikaanse digkuns. 

Om u ‘n idee te gee van Krige se vertaalvermoë lees ek die vierde gedig in die reeks, “Die afwesige siel”. En daarmee sluit ek af.

 

            Die bul sal jou nie ken nie nog die vyeboom,

            nog die perde nog die miere van jou eie huis.

            Die kind sal jou nie ken nie nog die agtermiddag

            want jy is dood vir altyd.

 

            Die plat kant van die leiklip sal jou nie ken nie,

            nog die swart mantel waarop jy verdelg is.

            Selfs jou eie stomme herinnering sal jou nie ken nie

            want jy is dood vir altyd.

 

            Die herfs sal kom met al sy slakkies,

            trosse van mis en saamgehurkte heuwels,

            maar niemand sal jou in jou oë wil kyk nie

            want jy is dood vir altyd.

 

            Want jy is dood vir altyd,

            dood soos al die dooies van die aarde,

            soos al die dooies wat vergeet word

            soos ‘n klomp dooie brakke in ‘n hoop.

 

            Niemand sal jou ken nie. Nee. Maar ek besing jou.

            Ek besing vir later jou gestalte en jou grasie.

            Die verhewe volwassenheid van jou begrip.

            Jou honger na die dood en die smaak van sy mond.

            En die treurigheid ten grondslag van jou manhaftige vreugde.

 

            Ons sal lank moet wag vir die geboorte, as hy ooit gebore word,

            van ‘n Andalusiër so helder, so ryk aan avonture.

            Ek besing jou swier en jou kordaatheid met woorde wat kreun

            en ek herinner my ‘n droewe wind deur die olywe.

  

© Daniel Hugo. 2012 

 

Bronne

 

Krige, Uys. 1950. Vir die luit en die kitaar. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.

Opperman, D.J. 1953. Digters van Dertig. Kaapstad: Nasou Beperk.

Opperman, D.J. 1987. Versamelde poësie. Kaapstad: Tafelberg en Human & Rousseau.

Reitz, F.W. 1978. Outobiografie & Twee en sestig uitgesogte Afrikaanse gedigte.

Kaapstad: Tafelberg.

Hugo, Daniel (red.). 2009. Halala Afrikaans. Pretoria: Protea Boekhuis.

 

 

 

 

 

 

 

                            

 

 

    

Pieter Odendaal. Oom Driffie by McDonald’s

Monday, August 15th, 2011

Verlede Dinsdagoggend sit en eet ek ’n babelas-ontbyt in McDonald’s se rookarea in Merrimanstraat. Die twee potplante in die hoek is power. Die asblik loop oor van die papiersakke en burgerboksies van gisteraand se dronk studente. Ek rook ’n sigaret, teug aan my aangemaakte Coke. ’n Oom met ’n asem kom sit oorkant my, vra vir ’n sigaret.

Hy’s John Driffie de Klerk. “Aangename kennis, Oom.” Ek steek vir hom ’n Marlboro aan. Hy was vir dekades lank ’n lugmagoffisier – ook gedurende die bosoorlog. Hy vertel van een van sy vriende wat nie laag genoeg gehurk het nie en stukkend geskiet is. Daar is swaar halfmane onder sy oë en sy bril sit skeef. “Ons het seker van die begin af geweet dat dit futiel was,” sê hy, “maar wat kon ons maak? Ek het ook mense geskiet.”

Antjie Krog se Met woorde soos met kerse lê oop voor my. Ek was besig om //Kabbo se gedig “boesman-voorgevoelgens” te lees voor Oom John by my kom sit het:

boesman-voorgevoelens
//Kabbo

die boesman se alfabet is geskryf in sy lyf
die letters praat en roer
die letters beweeg die boesman se liggaam
hy beveel al die ander om stil te bly
hy self is absoluut volkome stil
dan voel hy sy liggaam saggies aan die binnekant klop
’n droom praat vals
’n droom kan jou mislei
maar die voorgevoel is dit wat die waarheid praat
die kloppende gewaarwording sê: iemand is aan die kom

veral die geklop in ’n wond
as jy loop en die wond begin klop
kan jy die kinders stuur om te gaan kyk
Oupa is in die voetpad op pad na jou toe
dit voel jy in die wond
die wond sê dit aan jou

of as jou ribbes begin klop
dan vat jy jou pyle
want jy voel die swart haartjies op die springbok se ribbes
as jy Brinkkop uitklim
kyk goed tussen die bome
en die groen spruitjies
want die springbok het jy reeds met jou lyf gesien
dan voel jy hoe bloed by jou dye en kuite afloop
asof jy reeds die springbok op jou rug dra
asof die springbok reeds langs you dye af bloei

daarom wag ek altyd stilweg vir die woorde van my lyf
ek voel in my voete
hoe diere om die hut snuffel
ek voel aan my skedel as ons die horings van die hartebees afkap
ek kry ’n gevoelente van my voorkop af al met die neus langs
soos die donker vlek na die springbok se snoet
ek voel my oë uitswel soos die vlekke om die springbok se oë
as ek iets voel kriewel soos vlooie
weet ek my lyf het ’n volstruis gesien

ons lê voor die hut
ons lê teen die uitgestrekte Brinkkopberge
dit lyk asof ons slaap
asof ons dut
maar ons lees ons liggame
ons voel alles wat op die pleine beweeg wat verby die hutte trek
die holtes agter ons knieë kry ’n gevoel
en dan wag ons
en dan kom al die dinge na ons toe

© Uit Met woorde soos met kerse, 2001. Vertaal deur Antjie Krog.

“She’s a remarkable woman, that one,” sê hy terwyl hy deur die boek blaai. “Sy’t lekker kak gemaak in die seventies. Ek onthou toe sy gedebuteer het. Die opskrifte in die koerante. Min mense probeer soos sy om te verstaan wat aangaan in hierdie fokop van ’n land.” Ek probeer om sy liggaam te lees. Sy vingers is dik en hard. Hy’t ’n paar dae laas geskeer. Ek voel hoe ek saam met hom oud word as ek in sy oë kyk. Ons rook tuimel die lug in.

Hy hou nie van Leipoldt en Cilliers nie – hulle is te antagonisties teenoor die Engelse, te patrioties, sê hy. Gee vir hom Uys Krige, Marais, Opperman. Hy vertel van ’n Krige-gedig wat hy in standerd 8 uit sy kop moes leer vir ’n mondelinge eksamen: “Plaashek”: “So ’n paar jaar gelede vra die dominee by die Kruiskerk vir my om ‘Plaashek’ by ’n verskeidenheidskonsert op te sê. En ek sê toe maar ja. Hy kondig my item aan: ‘Oom Driffie gaan vir ons ‘Die Plaashek’ van Uys Krige voordra.’

Ek klim op die verhoog: ‘Dominee,’ sê ek, ‘jy moet weet dat digters hulle titels versigtig kies. Dis nie die Plaashek nie. Geen lidwoord nie. Dis alle hekke, alle besluite, alle eindes en beginne.” Oom Driffie begin:

Plaashek
Uys Krige

Bloedrooi die alwyn langs
die slingerpad.
Dis of daar vonke uit
elk vuurpyl spat.
Maar niks, niks roer nie…net
’n luggie wat
skrams aan die ritselende grassate vat.

Daarbo die blou, blou lug,
daar onder die rivier
wat deur die boorde kronkel met
’n groen swier.
Niks stoor die yle swewende
Bergstilte hier.

Na al die jare maak ek weer
‘n plaashek oop.
Waar het my paaie
tog nie geloop
Om my hier by ’n hek te bring
van al my waan gestroop,
maar met my denke helder
en in my hart die hoop?

Die hek staan in die skad’wee van
’n kremetart.
Die stilte in my’s volkome met
Niks troebels, niks verward.
Ek lig die knop…Ek maak
’n hek oop in my hart.

Die bekende woorde val oor sy geelgevlekte baard soos water. Hy is skielik weer in Calvinia en vyf jaar oud, sê hy. Hy en sy pa is saam uit op die bakkie om die skape te gaan haal.

Sy tande is geslyt en hy spot oor sy Klipdrift-gewoontes en die Dros. “Dis waar jy my gaan gaan kry as jy wonder waar ek is,” sê hy. En as hy nie daar is nie, is hy buite. Hy kon nog nooit in ’n kantoor werk nie – engtevrees. Daarom dat hy nou ’n bosbouer is: “Ek sou mal geraak het as ek na die lugmag by die huis gaan rondsit het. Ek het immers studeer om ’n bosbouer te word.”

Sy prof. het op universiteit vir hom gesê dat hy nooit sal ryk wees as hy in die bosboubedryf ingaan nie, maar dat hy elke dag liters vol skoon lug sou kon inasem. “Dit was die deal-clincher. Dit is ook wat maak dat ek vandag, na 30 jaar in die lugmag, weer tussen bome werk.”

“En as dit reën,” sê hy, “gaan sit ek in die JS Marais biblioteek en lees. Ek ken elke jota en tittel van elke boek oor John F. Kennedy wat daar is,” sê hy. “As die reën ophou, gaan ek terug bos toe.” Sy hande is grawe, sy plooie lê soos uitgekerfde letters teen die stam van sy gesig. Hy dra ’n groen pet met die nuwe Suid-Afrikaanse vlag op om sy bles te versteek. “Ons het nie van beter geweet nie,” sê hy. “Ons het geweet Suidwes sou Namibië word, ons het geweet ’n geskietery sou niks help nie, maar ons was lief vir ons mense.” ’n Droom kan jou mislei, Oom, wil ek sê. ’n Droom praat so maklik vals. Maar hy weet dit lankal reeds.

Desmond Painter. Die Brasiliaanse digkuns in vertaling

Friday, February 11th, 2011
Elizabeth Bishop

Elizabeth Bishop

Ek het die laaste tyd ‘n hele paar bloginskrywings aan die Brasiliaanse digters Carlos Drummond de Andrade en Manuel Bandeira gewei. Ek wens ek kon ook vertalings van meer onlangse Brasiliaanse digters in die hande kry, maar dit is nie so maklik nie. Ek weet nie wie daardie land se belangrikste hedendaagse digters is nie, en wie van hulle se werk al (in Engels) vertaal is nie. Dit is ‘n groot en dinamiese land, en Portugees is ‘n wêreldtaal, so daar moet seker interessante dinge in hulle digkuns gebeur?

Daar is darem, indien jy belangstel om verder te lees, goeie versamelings van De Andrade en Bandeira se gedigte in Engels beskikbaar. Twee voorbeelde: Carlos Drummond de Andrade, The Minus Sign: Selected Poems, Black Swan Books, 1980 en Manuel Bandeira, This Earth, That Sky, University of California Press, 1989. Dan is daar ook Elizabeth Bishop se belangrike An Anthology of Twentieth Century Brazilian Poetry, wat al in 1972 by Wesleyan University Press verskyn het. En moenie van Uys Krige vergeet nie: Sy Brasilië Sing het in 1990 by Perskor verskyn, en al is dit nie meer in druk nie behoort jy dit darem in ‘n biblioteek iewers te kan opspoor. Miskien bundel iemand een of ander tyd Krige se versamelde vertalings? Hier is nog een van sy vertalings van ‘n pragtige vers van Manuel Bandeira:

Oomblik in ‘n Kafee – deur Manuel Bandeira

 

Toe die begrafnisstoet verbygaan,

het die mans, wat hulle in die kafee bevind,

meganies hul hoede afgehaal.

Ingedagte het hulle die gestorwene gegroet.

Hulle was almal ingestem op die lewe,

het opgegaan in die lewe,

vol vertroue in die lewe.

 

Tog het een sy hoof ontbloot met ‘n trae breë gebaar.

Lank het hy na die kis bly kyk.

Dié man wis dat die lewe ‘n driftige gewoel is,

sonder finaliteit,

dat die lewe verraad is

en hy het die stof gegroet wat verbygaan,

bevry vir altyd van ‘n uitgedoofde siel.

Desmond Painter. Uys Krige oor Manuel Bandeira

Tuesday, February 8th, 2011
Uys Krige

Uys Krige

In ‘n kommentaar onder aan my vorige bloginskrywing verwys Daniel Hugo my na ‘n opstelletjie wat Uys Krige jare gelede oor Manuel Bandeira geskryf het. Dit het oorspronklik in Die Burger van 25 Augustus 1975 verskyn, maar is later opgeneem in Die Naamlose Muse (Protea, 2002; red: JC Kannemeyer).

Krige begin sy opstel met ‘n uitstekende, bondige beskrywing van die mees kenmerkende eienskappe van die moderne Brasiliaanse digkuns. Hy skryf onder andere: ‘… omdat die Brasiliaanse digters so ‘n sterk aanvoeling had vir die ritmes van die gesproke taal, hulle so ‘n fyn oor had, het hul beste gedigte altyd ‘n besondere subtiele musikaliteit, ‘n soort innerlike sangerigheid wat langsamerhand vat kry op ‘n mens se gehoor en jou hoe langer hoe meer bekoor.’

Krige gaan voort om Manuel Bandeira die ‘veelsydigste en grootste’ Brasiliaanse digter te noem. Hy vertel die volgende staaltjie: ‘Terloops, ek onthou nog goed die dag toe ek op die terras van die Clifton Hotel my feitlik letterlike vertaling van Bandeira se beroemde gedig, ‘Seepsopstraat’, aan Van Wyk Louw voorgelees het. Van Wyk was verruk — en het op ‘n slag besluit om dit by sy keuse van die beste gedigte in ons taal in te sluit.’

Krige noem die feit dat hy Bandeira nooit ontmoet het nie ‘een van die teleurstellings van my literêre lewe’. Maar dit was amper. In die 1950s het Krige vertalings van Bandeira se gedigte in Afrikaanse koerante gepubliseer. Bandeira het in Rio de Janeira ‘n Nederlandse vriendin gehad wie se suster op haar beurt in Durban gewoon het. Die suster het op die vertalings afgekom en dit Rio toe gepos, met die gevolg dat Bandeira van die vertalings te hore gekom het. Hy het vir Krige ‘n waarderende brief geskryf en dit het, volgens Krige, ‘tot ‘n lang, vrugbare korrespondensie tussen Bandeira en my gelei. Hy het my later ook verskeie van sy digbundels gestuur, met lang vriendelike opdragte in Portugees op die titelblad’.

Bandeira het Krige uitgenooi om hom in Rio de Janeiro te besoek, maar die beplande besoek moes weens persoonlike redes afgestel word: ‘Na my besoek aan die VSA in 1959 sou ek ‘n vliegtuig uit New York na Rio neem om daar ‘n paar dae by Bandeira deur te bring. Maar toe kry ek ‘n brief van my dogter Eulalia uit Londen waarin sy my vertel dat sy my aldaar binnekort verwag. En bloed, soos ons almal weet, is dikker as water, uit watter springfontein ook, vanaf die heilige sangberg, Helikon…’

Hier volg Bandeira se ‘Vas vas’ in Krige se vertaling. Krige noem dit ‘n ‘wonderlik eenvoudige, spontane en ontroerende gedig — ‘n tere gedempte treurlied oor die mens se sterflikheid, die kortstondigheid van alle menslike geluk…’

 

Vas vas – Manuel Bandeira

 

Toe ek vanmelewe aan die slaap geraak het

In die nag van Sint Jan

Was daar vrolikheid rumoer

Ontploffings klapperlawaai

Stemme liedere en gelag

Om die knetterende vreugdevure

 

Ek het in die middel van die nag wakker geword

Toe het ek nie meer stemme gehoor nie of gelag

Net buite

Het ballonne

Stil verby geswewe

En af en toe

Het die geluid van ‘n traan

Die stilte gesny

Soos ‘n tonnel.

 

Waar was hulle wat kort tevore nog

Gedans

Gesing

En gelag het

Om die vreugdevure?

 

Hulle het almal geslaap

Hulle het almal gaan lê

Hulle was vas aan die slaap

Vas vas.

 

Toe ek ses jaar oud was

Het ek nooit die einde kon sien nie van die fees van Sint Jan

Want ek het aan die slaap geraak.

 

Vandag hoor ek nie meer die stemme nie van dié tyd

My ouma

My oupa

Totonio Rodriques

Tomasia

Rosa

Waar is hulle almal?

 

Hulle slaap almal

Hulle het almal gaan lê

Hulle is vas aan die slaap

Vas vas.

Desmond Painter. Carlos Drummond de Andrade

Friday, January 14th, 2011
Carlos Drummond de Andrade

Carlos Drummond de Andrade

Carlos Drummond de Andrade (1902-1987) is een van die vernaamste Brasiliaanse digters uit die vorige eeu. Hy was ‘n verteenwoordiger van die Brasiliaanse Modernisme, maar ook ‘n digter wat ‘n eie, onuitwisbare stempel op die digkuns van sy land, en op die Portugese digkuns in die algemeen, afgedruk het.

Sy latere gedigte veral word gekenmerk deur ‘n onsentimentele, ironiese, dikwels skeptiese — en by tye selfs sarkastiese — stem. Soos hy dit in een van sy gedigte stel het hy hom vervreemd gevoel van ‘everything in life that is open and talkative’. En tog spreek Andrade sy leser aan in ‘n stem waarin daar, volgens Uys Krige, ”n vae hoop vir ons toestand as afgesonderde wesens skuil.’

Krige het ‘n paar van Andrade se gedigte in Afrikaans vertaal (gebundel in sy Brasilië Sing, Perskor, 1990), maar die gedig wat ek vanoggend plaas is in Engels vertaal deur Philip Krummrich.

Loving – Carlos Drummond de Andrade

What can a creature do except

among the other creatures, love?

love and forget,

love and mislove, love, unlove, and love?

always, even with one’s eyes gone glassy, love?

I ask you, what can an amorous being do,

lonesome, amid the general rotation,

but rotate with the rest, and love?

Love what the waves wash up on the beach,

and what they bury, and all that, in the sea breeze?

is salt, or need of love, or simple anguish?

Love the desert palms most solemnly,

love all surrender, or expectant adoration,

and love the forbidding, or expectant adoration,

and love the forbidding, love the harsh,

a vase without a flower, a metal floor,

a torpid breast, street seen in a dream, a bird of prey.

This is our fate: love beyond reckoning,

shared out among things treacherous or worthless,

a limitless gift to complete ingratitude;

and in the empty shell of love the timid search,

the patient search, for more and yet more love.

Loving our own lack of love, and in our aridness

loving latent water, silent kisses, boundless thirst.

Jelleke Wierenga. Seisoen van vreet, verlange en kooplus

Friday, December 10th, 2010

’n Koel groen grot om in te hiberneer. Dis my Kerswens in die seisoen van jaag en kooplus.

’n Vriendin, vasgevang in die takelwerk van ’n liefdesdriehoek, sê anderdag: “Kersfees is nie in my hart nie – dit hang aan die takke van bome.”

’n Mens wonder wie, behalwe kinders en dié wat geld maak, hou eintlik van Kersfees. Dis eintlik so ’n hartseer seisoen. Seisoen van suip, vreet en verlange. Desperaatheid en eensaamheid. Al die melankolie van ’n hele jaar se skemerende Sondae in een dag saamgepers.

Uiteenlopende mense met uiteenlopende lewens en belangstellings word vir ’n ruk saamgegooi in die naam van bloed en familiebande, net om weer te besef hoe min ’n mens gemeen het.

Maar laat ek nie in die dieptes van morbiditeit afsak nie. Nie in die “donker vertroebelde slykwaters van die wanhoop spoel” nie (“Tram-ode”, Uys Krige). Laat ek vir my Kerskaartjies skep met mooi plekke, ervarings en mense waarheen ek my kan verplaas. Soos daardie tye in Kirstenbosch. Ek het in ’n woonstel in Wynberg gewoon en was uitgehonger vir grond, aarde, plante, water. Dan pak ek ’n rugsakkie met water, vrugte, neute en boeke, pen en papier, en beklim die ruigtes bo die mensgemaakte tuine. Langs ’n stroompie met bruin gesonde water grawe ek my vir die dag in, omring deur digte struike en groenigheid. Geen wrede tweebeendier kan my hier ongehoord besluip nie.

’n Hele dag in spikkelson, in slaap en lees en skryf. Sometimes I sits and thinks. Sometimes I just sits. ’n Mens besef nie tot watter mate jy afgewen het tot jy in jou motor klim en die pad huis toe vat nie. Jy kan nie vinniger as veertig kilometer per uur ry nie. Al probeer jy regtig, want jy weet hoe geïrriteerd jy self raak vir die slakke en droomverlore krappe op die pad. Maar jy kan eenvoudig nie meer skielik na vinnig oorskakel nie. Stadig kruie jy huis toe, maak dalk ’n teetjie en eet iets, en val dan weer in Morpheus se mollige arms.

’n Ander Kerskaartjie is ’n naweek by ’n Weskus-dorpie saam met vriende. Baie onderstrominge hier, nie net in die see nie, maar ook in die sê en die nie-sê tussen mense. Ná ’n swem in die see, so koud dat dit jou brand, lê ek en ’n vriendin in die son. Vriend N – voor hy afgetree het taamlik hoog op by een van Naspers se koerante – bied aan om ’n kleurmeditasie met ons doen. Presies wat hy gesê en wat ons gedoen het – of nie gedoen het nie – weet ek nie. Al wat ek weet, is dat die wonderlikste kleure deur my gespoel en ’n heerlike rus en vrede nagelaat het wat ten minste twee dae geduur het. Die aand was daar ’n groot visbraai by ’n lapa. Ek moes die een of ander kleur uitgestraal het, want drie groepe mans het hul kreefkaartjies vir my kom aanbied. Ons het die volgende dag nog kreef geëet – en die volgende dag.

’n Regte Kerskaartjie wat ek nou nog vertroetel omdat dit destyds vir my so kosbaar was, is ’n kaartjie met silwer blinkertjies van Kersvader en sy slee met presente. Dit was ’n duur kaartjie van die slimste kind in die klas: Dallas McCarthy. Ja, werklik, so ’n eksotiese naam in ’n lelike myndorp. Daar was ook ’n Emily O’Reilly en James Wright. Almal so Afrikaans soos kome kan.

Ek was nie juis in Dallas-hulle se klas nie – die groepie slim, ryk, mooi kinders. Ek was ’n immigrantekind met ’n snaakse naam en van, ’n spoorwegkind. Ek was dus uiters gevlei om die mooi kaartjie in st. 5 van haar te kry. En tot vandag toe nog loop ek haar in my drome raak en sê elke keer: “Ek het gewéét ek sal jou weer ontmoet.”

In hierdie tyd van verlange na geliefdes en mense wat jy nog nie ontmoet het nie, ou haltes en nuwes wat wag vir jou besoek, na dinge wat kon gewees het en dalk nog kom, slaan ek my ou staatmaker die Groot Verseboek oop en kyk, daar sê Uys Krige:

 

Daar is ’n haltjie, Dwaal,
te midde van die vaal
godverlore dor Karoo.
En Arequipa in Peru.
Granada is ’n sprokiestad in Andaloe.
Popocatepetl heet ’n berg se piek in Mexico.
Die laaste stasie voor my tuiste het die mooi Xhosanaam, Waku.
Terra del Fuego, Tristan da Cunha, Put-Sonder-Water,
Kilimandjaro en Ruitersbospas;
en die Brahmapoetra en Baardskeerdersbos …

O Aldarin! o name, o versugting!
Op Pelgrimsrus in die Transvaal
wil ek weer hoor hoe klink my taal
skoner, welluidender as Provencal.

En ek wil gaan na Avignon,
en ek wil sien hoe smeul die son
in die herfsblare by Tarascon.

O Aldarin, o name, o verlange!
Vry, sorgeloos en onbevange
wil ek diep asemhaal
weer op die vergestrekte kaal
Karoo – as vreedsaam-stil soos ’n wit vlug van duiwe daar die skemer daal …
en swart en soos ’n donker gees wat dool, die nag daar dwaal.
O snydend die suidersterre, sidderend skerp soos staal!

En ek wil sien
juis hoe
huppel die blou heuwels
by Waku.

En ek wil hoor hoe kla ’n kiewiet
deur die skemerende werfstilte melankoliek
as hy opstyg, vaal teen die bleek kim, daar dof klapwiek,
troosteloos en eensaam … O Stem van verdriet!
Maar o verniet …
Marseille bly Marseille,
word nimmer die droomstad van Golconda nie.
En die hart bewaar sy nostalgie.

O drome, o verlange
wat nou treur en sing
hul droewe sange
van herinnering …

(Uittreksel uit Uys Krige se “Tram-ode”)

Is dit Uys Krige wat gesê het: Die lewe is alleen draaglik as ’n mens ’n bietjie dronk is?

Philip de Vos. My Hond (deel twee)

Tuesday, October 26th, 2010

 

Asof die skryf van ’n blog nie alreeds genoeg dinkwerk verg nie.
Twee dae gelede kom ek vir Danie Botha by ’n herdenking van Wilhelm Knobel se 75ste by sy broer Deon se huis teë en tussen die tafel met die yslike versuikerde aarbeie en die sjokolade-tert sê hy ewe beskuldigend:
Ek het nou net jou blog-inskrywing My Hond (deel een) gelees en merk dat al die hondeversies in Engels is. Ek neem aan deel twee gaan dié in Afrikaans hê, want daar is natuurlik hope, beginnende sommer by C.J. Langenhoven. Om darem nie te dom te klink nie, skud ek my kop op so ’n manier dat dit òf ja òf nee kon beteken, want met ’n mond vol melktert is daar nie veel kans om iets tussen die gemompel uit te maak nie.
En van gemompel gepraat, by die Wilhelm Knobel-funksie, het Deon van Wilhelm se verse voorgedra en Jeanne Goosen het ’n storie voorgelees oor een van haar nagwandelinge saam met Wilhelm destyds in Pretoria. Maar dié kon sy eers lees nadat sy aangekondig het dat sy haar bril by die huis vergeet het, en kon iemand miskien ’n keffie-bril vir haar leen?
Toe was dit later Phil du Plessis se beurt om ’n gedig voor te lees, maar hierdie keer was dit erger, want hy het sy tande by die huis vergeet, en hy het al mompelend verduidelik dat hy dit die vorige aand uitgehoes het. Toe vertel hy ook sommer hoe dat Uys Krige elke dag by Onrus gaan swem het, en met al die geswemmery het sy valstande glo die branders in verdwyn en toe het hy sommer maar by die naaste lykshuis in Hermanus vir hom ’n ekstra paar gaan uitsoek.
Ewenwel, wat ek eintlik wou sê, is dat ek vir Danie Botha eintlik moes gesê het dat die enigste Afrikaanse hondevers waarvan ek bewus was dié een van Jan F.E. Celliers is:
 

Ek is hier en Ma is hier

Ons twee lê op pa se baadjie.

Wie is jy? Kom loop verby

Anders word ons knor ’n daadjie.

 

Terloops daardie daadjie klink my so ’n bietjie na dwangrym, maar nou ja, in die dae toe Celliers dié versie geskryf het, was daar seker minder Afrikaans rymwoorde as deesdae.

  

 

 

Ek is toe terug huis toe en Sondagaand het ek met die yslike Groot Verseboek 2000 wat seker ’n Statebybel se grootte ewenaar voor my by die tafel gesit, want wie op aarde kan so ’n yslike gedoente in die bed regophou? Gee my veel liewers Komrij se Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte want dié is darem nog hanteerbaar en is dit veel makliker om so ’n juweeltjie soos Die Durbanse poepwedstryd wat wegkruip tussen G.A. Watermeyer en Flooi du Plessis, op te spoor, al het dit niks met honde uit te waai nie.

Ewenwel, daar blaai ek toe deur Groot Verseboek en waar is die hondeverse? Daar is wel verse vir sekretarisvoëls en ietermagôs en perde en vlermuise en torras van torrevedras, maar vir die arme hond kon ek met yslike deurlees van bladsy 1 tot bladsy 942, alleen dié enkele vers van Hewitt Visser uiteindelik op bladsy 716 opspoor:

 

HOND VAN GOD

 

geen jaghond nie

net ’n troeteldier

wat heeldag op die aarde

om sy voete speel

met tussenin spronge

en albei voorpote op sy skoot

om die kalm hand op die hoof te voel

saans uitgeput die rus

op ’n bidmatjie voor die stoel.

 

Ek kon dus seker maar vir Danie Botha gesê het dit is veel makliker om slim te klink en Engelse hondegedigte aan te haal, want ál wat jy moet doen is om die woorde dog poems te Google en daar klink jy sommer allergeleerd en is dit dus net ’n kwessie van cut en paste en hoef jy nie dwarsdeur onse eie Afrikaanse Statebybel te lees om daardie enkele hondeversie op te spoor nie.

Honde (en katte ook , moet ek so half onwillig toegee) is ongelukkig nie vir altyd nie, en op een of ander tyd besef jy die einde is aan die kom.

So gebeur dit ongeveer drie jaar gelede dat ek en Piet Grobler en Niki Daly by ’n Insig-boeke geleentheid was, waar ons oor ons werk moes praat en ek van my versies moes voorlees.

By my aan tafel was ’n dame wat ek nog nooit voorheen ontmoet het nie, en sy vra my hoe dit met my Staffie Winnie gaan. En toe sy ’n uitknipsel van my artikel Winnie uithaal wat in 1995 in Rapport gepubliseer is (sien my vorige bloginskrywing) bars ek in trane voor daardie wildvreemde vrou uit, want toe al het ek besef, dat ek sou moes besluit wanneer dit Winnie se tyd was om te gaan, want toe alreeds het haar pootjies wankelrig begin word; sy kon my nie meer hoor nie en die groeisel aan haar nek het al hoe groter begin word.

Maar dit kon ek glad nie vir die vreemdeling vertel nie. Dit was net daardie stukkie papier wat my skielik laat huil het en die arme vrou verwar het.

Maar ek is sekerlik nie die enigste persoon wat deur ’n hond se oudword en naderende dood geraak is nie.

 

EPITATH FOR A DOG

Near this spot
Are deposited the Remains of one
Who possessed Beauty
Without Vanity,
Strength without Insolence,
Courage without Ferocity,
And all the Virtues of Man
Without his Vices.
This Praise, which would be unmeaning flattery
If inscribed over Human Ashes,
Is but a just tribute to the Memory of
“Boatswain,” a Dog
Who was born at Newfoundland, May, 1803,
And died at Newstead Abbey Nov. 18, 1808.

Lord Byron

 

Hier is nog ’n gedig wat ek deur Google ontdek het:

  

YOUR DOG DIES 

it gets run over by a van.
you find it at the side of the road
and bury it.
you feel bad about it.
you feel bad personally,
but you feel bad for your daughter
because it was her pet,
and she loved it so.
she used to croon to it
and let it sleep in her bed.
you write a poem about it.
you call it a poem for your daughter,
about the dog getting run over by a van
and how you looked after it,
took it out into the woods
and buried it deep, deep,
and that poem turns out so good
you’re almost glad the little dog
was run over, or else you’d never
have written that good poem.
then you sit down to write
a poem about writing a poem
about the death of that dog,
but while you’re writing you
hear a woman scream
your name, your first name,
both syllables,
and your heart stops.
after a minute, you continue writing.
she screams again.
you wonder how long this can go on.

Raymond Carver

 

En dan, nog ’n versie, maar hierdie keer op ’n ligter trant:

 

THE LITTLE DOG’S DAY

 All in the town were still asleep,
When the sun came up with a shout and a leap.
In the lonely streets unseen by man,
A little dog danced. And the day began.

All his life he’d been good, as far as he could,
And the poor little beast had done all that he should.
But this morning he swore, by Odin and Thor
And the Canine Valhalla—he’d stand it no more!

So his prayer he got granted—to do just what he wanted,
Prevented by none, for the space of one day.
“Jam incipiebo, sedere facebo,”
In dog-Latin he quoth, “Euge! sophos! hurray!”

He fought with the he-dogs, and winked at the she-dogs,
A thing that had never been heard of before.
“For the stigma of gluttony, I care not a button!” he
Cried, and ate all he could swallow—and more.

He took sinewy lumps from the shins of old frumps,
And mangled the errand-boys—when he could get ’em.
He shammed furious rabies, and bit all the babies,
And followed the cats up the trees, and then ate ’em!”

They thought ’twas the devil was holding a revel,
And sent for the parson to drive him away;
For the town never knew such a hullabaloo
As that little dog raised—till the end of that day.

When the blood-red sun had gone burning down,
And the lights were lit in the little town,
Outside, in the gloom of the twilight grey,
The little dog died when he’d had his day.

Rupert Brooke

 

’n Jaar na Winnie se dood, het ek weer ’n artikel oor haar geskrywe. Maar hierdie keer was dit 15 jaar na die eerste een, en wys iemand dalk hierdie knipsel oor ’n paar jaar vir my sal my reaksie dalk dieselfde wees as toe die wildvreemde vrou die vergeelde artikel by die Boeke-Insig byeenkoms voor my neergeplak het;

 

 
WINNIE (Rapport 17 Mei 2009)
 
 
 
 

 

 

Winnie het in my lewe gekom op ‘n warm Desemberdag in 1993 – ‘n klein pikswart Staffie wat bo-oor al haar broers en susters geklim het toe ek by die hondeteler ‘n hondjie gaan soek het, en sy so te sê aangekondig het: “Wel, hier is ek en van nou af gaan ek deel van jou lewe wees”.

En toe 15 jaar later, op ‘n Novemberdag het ons tot siens gesê. Ek was langs Winnie waar sy op die vloer lê en slaap het. En vir oulaas, vir ‘n hele halfuur lank, het ek my arms om haar warm lyfie gevou, want ek het geweet die veearts sou nou enige tyd die deurklokkie lui met ‘n inspuitnaald in sy sak.

Toe ek haar gekry het, was sy so klein dat ek haar in my rugsak kon dra. Maar twee jaar later toe ek een middag met haar gaan stap het, het ‘n glasstuk haar pootjie gesny en het ek agtergekom hoe swaar dit is om 20kg huis toe te dra.

In haar jongmeisie dae het sy gedoen wat alle hondekinders doen. As jou tandvleise jeuk, dan móét jy kou en ek het agterkom dat honde ook maar hulle eie smaak het. Vir Karel Schoeman-boeke het sy egter g’n smaak gehad nie, want Na die Geliefde Land het sy net so effens om die randjies gekou.

En een aand moes ‘n kuiergas hinkepink terug na sy motor toe stap minus een van sy duur Italiaanse skoene terwyl Winnie ewe vroom onder die eetkamertafel gelê en nog steeds aan ‘n stukkie Italiaanse leer geknabbel het. Maar hoe kon ‘n grênd gas so kommin wees om sy duur skoene uit te skop terwyl hy by jou kuier?

Daarna was dit die potty-training-dae. Een oggend toe ek besef sy is besig om haar druk te druk, moes ek daardie swart lyfie gryp maar dit was reeds te laat en het haar hondedrolletjies een een met ‘n streep vloer toe geval het terwyl ek met haar tot by die grasperk hardloop.

Waar moet honde slaap? Buitekant natuurlik, want hoe anders gaan die hond jou beskerm teen gevare van die nag? Winnie het vir presies vir ‘n week in ‘n skattige houthuisie gewoon, maar saans was sy so allenig daar buitekant, dat ek besef het ‘n hond se plek is binne-in die huis, want vandag se inbrekers klim sommer dwarsdeur jou diefwering, en wie is dan daar om jou binne in die huis teen die gevare van die nag te beskerm?

Winnie het haar eie bedjie reg langs die dubbelbed gekry. As ek party aande teruggekom het by die huis, het Winnie kamstig in haar bedjie lê en slaap maar ek het tog gewonder waarom daar dan ‘n klein duikie op die dubbelbed se duvet was en hoekom dit nog steeds so effens warm voel? Haar bedjie was nie vir baie lank haar lêplek nie en soos almal weet – ‘n hond se slaapplek is eintlik bo-op jou bed. En saans as ons so saam-saam slaap, was ek altyd bewus van Winnie wat haar lyfie so warm teen myne aandruk.

Destyds kon sy sommer woerts op die bed beland, maar wat het dan gebeur? ‘n Paar jaar gelede merk ek hoe sy sukkel-sukkel om op die bed te kom, dus het ek maar die dubbelbed se pote afgeskroef en was die bed baie nader aan die vloer. Toe vind sy dit makliker, maar ‘n jaar of wat daarna was dit skielik my beurt om haar op te tel om bo-op die bed te kom.

Maar – voor daardie dae, was daar die wonderlike dae van Walkies. En sy het my behoorlik bult-af gesleep as ek haar aan die leiriem het, en wildvreemdes het skielik met my op straat begin gesels. Sou mens minus ‘n hond met ‘n vreemdeling gesels, word jy straks van seksuele teistering aangekla, maar met Winnie aan die leiriem was alles skielik anders.

Met die loop van jare het haar lyfie minder swart geword met wit haartjies om die snoet en soms was ek bewus van ‘n melkerigheid in haar oë.

Elke keer as daar ‘n polisiemotor met loeiende sirene verbyjaag, het Winnie soos haar Wolwe-voorsate met kop omhoog gehuil totdat die sirene in die verte verdwyn, maar later het motors met hulle sirenes verbygejaag en Winnie het maar net daar op die dubbelbed bly lê met haar grys snoet warm onder haar rooi kombersie ingevou en nou was dit nog net skielike harde klapgeluide wat haar kon laat skrik.

Winnie was altyd ‘n party-girl. As ek eenkeer ‘n jaar partytjie hou, het Winnie soos ‘n mal ding voordeur toe gejaag elke keer as die voordeurklokkie lui, want sy het geweet dit beteken elkeen van die wonderlike besoekers gaan haar allerhande soetigheidjies voer. Wat maak dit dan saak as sy die volgende paar dae gaan olik voel, want koekies is mos altyd maar lekker.

Maar – op ‘n dag kon die voordeurklokkie maar lui, want dié kon sy glad nie meer hoor nie en toe was selfs soetigheidjies nie meer so lekker nie en het sy soms maar net na haar kos gesit en staar en dan later na haar rooi kombersie toe teruggesukkel. Toe was daar skielik ‘n groeisel aan haar nek wat by die maand al groter geword het. En ek besef: een van die dae sal ek moet besluit wat die regte ding is om te doen.

‘n Paar weke voor haar verjaarsdag word sy in die middel van die nag wakker, en in plaas van deur haar eie hondedeurtjie na die tuin toe te gaan, begin sy rondtol. Die huis en die tuin het skielik ‘n vreemde plek geword, waar sy saans en selfs in die middel van die dag teen meubels en plante in die tuin begin vasloop.

Op die Woensdag het die veearts gesê hy sal Maandag na ons huis toe kom. En ek besef toe vir haar is daar nog net vyf dae oor. Vyf dae, word vier, vier word drie, en later was daar net ‘n paar uur oor. In daardie laaste vyf dae het ek haar elke dag na die groen gras op Groenpunt-meent geneem en hier kon sy op haar manier nog tussen die graspolle rondsnuffel, en daardie laaste dae was dae van biefstuk en biltong en lekker koekies.

Vir ‘n hele halfuur voor die koms van die veearts, het ek ek langs haar daar op die vloermatjie gelê met my arms om haar warm lyfie. Om eenuur het die voordeurklokkie gelui en om twee-uur het ek en my vriend Peter, haar graffie in die tuin langs die visdammetjie gegrawe en haar later in haar rooi kombersie toegevou.

Nou lê sy daar met twee meerminne van Nieu-Bethesda se Uilhuis wat oor haar waghou. En die solar-lampie langs haar graffie, brand tot laataand nog – en dan onthou ek dat Winnie vir 15 wonderlike jare deel was van my lewe.