Posts Tagged ‘Van der Riet Jacobus’

Marlies Taljard. Pythagoras en die Ongeskape Lig

Thursday, January 17th, 2013

 

Jacobus van der Riet se bundel Die Onsienlike Son (2012) is om verskeie redes besonders. Benewens die kleurvolle ikoon van die Heilige Gregorius die Teoloog op die buiteplat van die bundel, is daar ook nog 12 afbeeldings van ikone binne-in die bundel, spesiaal gemaak deur Julia Bridget Hayes. Ook die aard van die bundel is uniek in die Afrikaanse digkuns: al die gedigte is besinnings oor Heiliges wat deur die Roomse Kerk gekanoniseer is. Sodoende kry die bundel die geaardheid van ʼn Boek van Ure. Wat my egter veral beïndruk, is dat al 59 die gedigte sonnette is. Ongeag die kwaliteit van die gedigte, waaroor ek my nie hier uitspreek nie, maar waarvan baie beslis meriete het, is dit ʼn magistrale onderneming waarvoor enige kenner van die digkuns respek sal hê!

 Ek wy hierdie bespreking aan een enkele sonnet wat my gefassineer het – Die Heilige Gregorius die Teoloog op bladsy 44. Dat hierdie gedig een van die belangrikstes in die bundel is, word aangedui deur die plasing van die ikoon van Gregorius op die bundel se buiteblad.

 Die Heilige Gregorius die Teoloog

 Nie soos die skynsel van die marmerwit maan,

deur Pythagoras se passer op die nag se lei getrek,

wat tussen donker sipresse, populier en plataan

aan ʼn tempel se suile en driehoekige gewel lek;

 

nie soos die son se blink en verblindende straal

wat heeldag lank sy erts smelt en louter van roes

en laatmiddag as hy in die einder se hoogoond daal

ʼn goudstaaf giet uit die ronde gekantelde kroes;

 

want nie soos enigiets aards is die ongeskape lig

van die Onsienlike Son en seldsaam die suiwer oog

wat hierdie vermoë ontvang, hierdie besondere sig;

weinig is hulle, Gregorius, wat ons noem “Teoloog”,

 

wat helder weet en by wie ons onomwonde lees:

“Die Vader is God, asook die Seun en Heilige Gees.”

Soos duidelik uit die struktuur gesien kan word, is hierdie ʼn Shakespeariaanse sonnet met sy bou van drie kwatryne en ʼn slotkoeplet. Van der Riet handhaaf deurgaans die tipiese rymskema:  omarmde rym in die kwatryne en ʼn rymende koeplet ten slotte. Ook die jambiese pentameter word (met kleiner variasies) gebruik. Dit is gebruiklik dat daar in Shakespeariaanse sonnette ʼn tema uitgewerk word in die kwatryne en dat daar dan in die koeplet ʼn skerp wending of nuwe insig met betrekking tot die stof in die voorafgaande strofes plaasvind. Hier wyk die digter egter van die patroon af, deurdat die wending (soos in die Petrarcaanse sonnet) reeds in die derde kwatryn begin wanneer die fokus verskuif van geskape dinge na ongeskape dinge. Die verdeling tussen geskape en ongeskape dinge word ook in die klankpatroon van die strofes weerspieël. In die eerste twee strofes oorheers die a-klank, terwyl die o-klank in die laaste twee strofes oorheers. Die eenheid van die Kosmos word egter gesuggereer deur die feit dat die o-klank nie afwesig is in die eerste strofes nie en die a-klank ook nie in die laaste twee strofes nie. Daar is dus geen kategoriese skeiding tussen geskape en ongeskape dinge nie.

Kom ʼn mens egter by die uitleg van die gedig, is begrip nie noodwendig voor die hand liggend nie, want om hierdie interessante gedig te begryp, moet ʼn mens kennis hê van die leerstellinge van Pythagoras van Samos, ʼn Griekse mistikus, filosoof en wiskundige (gebore 570 v.C.) wat reeds voor sy geboorte deur sy ouers aan Apollo, god van Lig, opgedra is.

Die probleemstelling van die betoog vind ons in die laaste reël van die gedig: “Die Vader is God, asook die Seun en Heilige Gees.” Volgens die Biografiese aantekeninge oor Heiliges agter in die bundel, het Gregorius in 381 n.C. “ʼn beslissende rol gespeel in die verdediging van die Godheid van die Seun en die Heilige Gees tydens die Tweede Ekumeniese Konsilie van Konstantinopel”. Die Biografie meld ook dat hy ʼn besonder geleerde man was. In dié geval moes hy kennis gehad het van Plato se Timaeus, die Goue Verse van Lysis en die kommentare van Hierocles wat die essensie van Pythagoras se leerstellinge bevat. Die konsep van die Heilige Drie-eenheid word dikwels in verband gebring met die bekende Stelling van Pythagoras, waarskynlik die bekendste stelling in die wiskunde: in ʼn reghoekige driehoek is die som van die kwadrate van die lengtes van die reghoeksye gelyk aan die kwadraat van die skuinssy. Dit op sigself sê egter nog niks oor die Heilige Drie-eenheid nie!

Pythagoras was ʼn tydgenoot van drie ander groot mistici, naamlik Lao Tze (skrywer van die Tao Te Ching), Boeddha Sakya-Muni  en Zarathustra (Zoroaster). Laasgenoemde het hy, volgens oorlewering, persoonlik ontmoet. Reeds vroeg in sy lewe is hy intensief in die mistieke tradisie onderrig. Pherecydes het Pythagoras voorgestel aan lede van die Illuminati (die Verligtes), waaronder Egiptiese priesters, die mees gesiene leermeesters van die tyd, by wie hy onderrig ontvang het in mistieke en geheime kennis en gevorderde wiskunde. Later het hy astronomie geleer in Chaldea, geometrie in Fenisië en die okkulte (kennis van die verborgene) van die Persiese Magi (onder wie Zarathustra). Tog het dit vir hom steeds bly voel asof die volmaakte kennis hom ontglip.

Terug op eie bodem in Sicilië, stig Pythagoras ʼn skool waar hy die geheime mistieke kennis wat hy tydens sy reise opgedoen het, onderrig. Hy leer onder andere dat die aarde nie die middelpunt van die heelal is nie, maar dat daar ʼn mistieke vuur in die middelpunt van die aarde is waaruit alle geskape dinge ontstaan het – die Ongeskape Lig, die spirituele siel van die Heelal, die Lig van Lig, die Lewensbeginsel, God as Absolute Eenheid. Hierdie kreatiewe eenheid wat selfs vir ingeligtes ontoeganklik en onbegryplik is, straal ʼn suiwer lig uit wat, soos dit deur die verskillende lae van die Skepping dring, algaande sy spiritualiteit en suiwerheid verloor, tot dit deur duisternis verdring word. Waar dit met die duisternis vermeng, ontstaan die geskape, fisieke wêreld, onder andere die aarde en alles wat daarop is. Hy het ook die term “lied van die sfere” gemunt – die Logos, Woord, Skeppingsbeginsel wat die geluid is van die siel van die Heelal soos dit voortdurend die Heelal deurtrek en slegs deur weinige geïnisieerdes gehoor kan word.

Onder Pythagoras se Meesterskap het die Illuminati vorm aangeneem as formele organisasie. Hy en die nuut geïnisieerde lede van die Illuminati het in ʼn kommune met kommunale besit gewoon. Hulle het vegetaries geleef om hulle liggame te suiwer sodat hulle mistieke ervaringe kon beleef. Die lede van die Illuminati is in verskillende sirkels van gevorderdheid ingedeel. Die binnekring is die mathematikoi (wiskundiges) genoem, terwyl die nuwelinge akousmatikoi (luisteraars) genoem is. Almal is nie toegelaat om die gevorderde kennis te deel nie – die voorreg van inisiasie moes deur jarelange gehoorsaamheid en harde werk verwerf word. Om mistieke geheime van die gepeupel en oningewydes te weerhou, het Pythagoras ʼn geheime kode ontwikkel wat op getalle gebaseer is. Getalle het sowel ʼn praktiese as ʼn diep simboliese funksie vervul. Pythagoras het geglo dat getalle die mees basiese element van die skepping is en dat dit die ware aard van dinge kan weergee – iéts van dié idee kan gevind word in die film The Matrix. Pythagoras was verantwoordelik vir ʼn uiters gekompliseerde sisteem van numerologie wat sterk figureer in okkulte denke. Hy het die sigbare (geskape) wêreld as ʼn valse illusie beskou. In Gnostiese terme beteken dit dat die (ongeskape) hemelse lig gebreek en versluier word deur newels en donker. Benewens al die baie wonderwerke wat aan Pythagoras toegeskryf word, sou hy glo ook op die maan kon skryf. Hy sou glo die boodskap met sy eie bloed op ʼn glaslens skryf en dit op die maan rig, waarna die boodskap sigbaar sou word op die maanoppervlakte. (Daarom is die maan in strofe 1 van die sonnet ʼn belangrike simbool wat die kode van mistieke kennis aktiveer en Pythagoras simboliseer).

Die skrywer, Edouard Schure gee in sy boek Pythagoras and the Delphic mysteries ʼn wonderlike beskrywing van die oomblik toe die groot Meester uiteindelik tot die besef van die volle Waarheid kom. Dit het gebeur tydens ʼn besoek aan die tempel by Delphi wat die inskripsie dra: “Ken jouself, en jy sal die heelal en die gode ken.” Dit was ʼn nag waarin hy diep onder die indruk gekom het van sy verbondenheid aan Demeter, die Aardgodin, maar ook aangegryp is deur die menslike kondisie in al sy vele fasette. Schure beskryf dié oomblik:

The three worlds, elaborately described in ancient cosmology, undoubtedly existed, and it was in the law of their equilibrium that the secret of the Cosmos lay. Having given utterance to this discovery, he rose to his feet, his glance fixed on the majestic temple which seemed transfigured in the moonbeams. In that magnificent temple he believed he saw an ideal image of the universe. The Cosmos guided and penetrated by God formed the sacred Quaternion, which is the source of Nature whose cause is eternal. Concealed in the geometrical lines of the Delphic Temple, he thought he found the key of the universe. The base, columns, architrave and triangular pediment represented to his view the three-fold nature of humanity and the universe: of the Microcosm and the Macrocosm crowned by divine unity, itself a trinity. The three worlds natural, human and divine, sustaining one another and performing a universal drama in an ascending and descending movement signified to him the balance of earth and heaven, of which human liberty holds control. It was then that he conceived of human purification and liberation by triple initiation.

Quaternion

Quaternion

Dit is dus nou duidelik dat wiskundige verhoudinge vir Pythagoras in eerste instansie ʼn manier was om spirituele waarhede te omskryf en te verstaan. Ook die voorheen vermelde stelling van Pythagoras wat geld vir ʼn reghoekige driehoek, het ʼn verborge betekenis. In die tempel van Delphi het Pythagoras ‘n uitsonderlike vrou ontmoet, genaamd Theoclea, ʼn priesteres van Apollo. Schure skryf soos volg oor haar:

This remarkable girl positively disliked most things which attracted others, and she was of so deeply spiritual a nature that she seemed to require none of those accessories to devotion, or aids to mystic development, which seem usually necessary. She is reported to have heard spiritual voices in open daylight, and on exposing herself to the rays of the rising sun, their mystical vibration developed in her a true ecstasy, during which she listened to the singing of choirs celestial. Feeling herself attracted to some higher world than earth, to which she had not yet found the key, she was at once attracted by that much deeper teaching, and by the far nobler influence exerted by Pythagoras than she was able to obtain from the priests of the Delphic temple, whose instructions and ceremonies by no means satisfied her inmost spirit.

Sy en Pythagoras het mekaar dadelik as sielsgenote geëien en ʼn jaar lank saam in die tempel gewerk. Aan die einde van die jaar het Pythagoras haar toegelaat om ʼn bediening soos sy eie in die tempel te bedryf. Vir daardie jare was dit buitengewoon om dieselfde status aan ʼn vrou toe te ken as aan ʼn man. Sedertdien het dit in die Illuminati gebruiklik geword dat vroue dieselfde status as mans kon beklee en dit is tot vandag so. Hierdie gebruik verskaf die sleutel tot beter begrip vir die ooreenkoms tussen die Heilige Drie-eenheid in die Christelike godsdiens en die stelling van Pythagoras wat 600 jaar voor die geboorte van Christus geformuleer is. Die driehoek simboliseer vir Pythagoras die drie “wêrelde” waaruit die skepping bestaan, naamlik die goddelike, wat deur die Vader gesimboliseer word, die natuurlike, wat deur die Aardmoeder gesimboliseer word en die menslike, wat deur die Seun gesimboliseer word. Die Kerkvaders het die Aardmoeder (of die Heilige Vrou) nie geag nie, en daarom het die Logos of Heilige Drie-eenheid as Vader, Seun en Heilige Gees nooit sin gemaak in terme van die stelling van Pythagoras nie. Indien ʼn mens besef dat die Heilige Gees die plek van die Moeder inneem, is dit duidelik dat die Heilige Drie-eenheid ʼn begrip is wat reeds lank voor die koms van die Christendom in Griekeland en elders in die antieke wêreld gevestig was. Dit is ook duidelik dat die Heilige Gregorius kennis gehad het wat in daardie jare blykbaar al besig was om in die vergetelheid te verval.

Hierdie aantekeninge behoort die leser in staat te stel om die pragtige sonnet, Die Heilige Gregorius die Teoloog, beter te verstaan en om die leser insig te gee in die komplekse agtergrond waarteen baie van Van der Riet se gedigte geplaas word.