Posts Tagged ‘Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle (Andries Bezuidenhout)’

Resensie: Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle (Andries Bezuidenhout)

Wednesday, March 19th, 2014

Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle; Andries Bezuidenhout (Protea Boekhuis, 2014. R150;  76 bladsye,  Sagteband; ISBN 978 – 1 – 4853 – 0072 – 4)

Resensent: Joan Hambidge

Perhaps, because one spirit animates the whole, the past was not lost but transformed.

– Frank Kermode in An appetite for poetry (115).

Vooraf

Met die bestudering van hierdie bundel word die leser bewus van ‘n dubbel-blik op die geskiedenis. Die klein, intieme lewe van die gewone mens, maar ook die groter gang van die geskiedenis wat die sensitiewe mens registreer en probeer begryp, word onder die loep geneem. Hierdie leser het die idee van die camera obscura ‘n handige leesstrategie gevind. Die dubbel-blik – die spel tussen hier en nou – word in etlike sentrale gedigte uitgewerk. Dit is ‘n bundel wat bepaalde vrae stel oor die posisie van Afrikaans en die Afrikaanse digkuns. Tydens die skryf van hierdie resensie het ek weer die essay oor Walter Benjamin gelees, opgeneem in J.M. Coetzee se Inner workings (Vintage, 2008), oor Benjamin se posisie as skrywer. Die politiek van sy tyd – met Stalin in die agtergrond – word ‘n subtiele troop vir die kodes in Bezuidenhout se bundel wat kommentaar lewer op die veranderinge in ons samelewing. Veral sy landskapverse en gedigte oor die platteland lewer aweregse politieke kommentaar. Die titel van hierdie digbundel speel dus in op die 1936-teks: The work of art in the age of its technological reproducibility.

Die tegnologie van reproduksie dus.

Walter Benjamin (1892 – 1940) was ‘n Duitse filosoof, kritikus, essayis, uitsaaier, aforis, vertaler. Andries Bezuidenhout vertolk ook verskillende rolle en ook sy werk as vertaler (herdigter) moet in ag geneem word.

In die endnote word die invloed van musiektekste erken – soos die onoortroffe Tom Waits en ander. Dit is eweneens belangrik vir die leser om die gesprek tussen liriektekste en digkuns na te speur: Danie Marais en Hunter Kennedy is onder andere voorlopers hier. Die gedigte is praatverse, maar sonder om oor te tuimel in bloot verkapte prosa.

In die gedig “Die die kleur van woorde” (10) is daar ‘n motto, en motto’s rig ons lesings:

 

[R]hetoric is the art of saying well that which may or may not be

true, and it is the duty of poets to invent beautiful falsehoods.

– Otto in Baudolino (Umberto Eco)

Die naam Umberto Eco aktiveer semiotiek en die naspeur van tekens. En hier het ons dus “die waarheid gelieg” (T.T. Cloete). In The role of the reader (Hutchinson, Londen, 1981) verduidelik die semiotikus hoe die dialektiese spanning tussen ideologie en letterkunde funksioneer: al is daar ‘n sosiologiese (of politieke dimensie) wat die teks aktiveer, moet ons steeds die teks as tekensisteem benader of oopmaak. Die “corroboration” tussen ons kennis van wat buite die teks lê en dit wat die teks-as-teks aanbied, met ander woorde, die narratiewe strategieë, is ons fokus (125 – 127).

In die woorde van die digter: ons  moet fokus op die “stip brandwagte in flesalbaster” (10).

Nou kyk ons na die “beautiful falsehoods”…

Moet ons die gedig benader soos wat ons die aanwysings lees oor hoe om ‘n Bosch-wasmasjien aan te skakel? Of is hierdie kennis onderliggend wanneer ons ‘n bundel lees oor “huishoudelike toestelle”? Narkotiseer ons dit of blaas ons dit op?, in Eco se terme.

Bosch het immers ‘n “Service world-wide” vir “Hausgeräte” en die nommer en e-pos-adres bestaan. Hulle spreek jou ook aan as “Sehr geehrter Kunde” en nou Liewe leser, begin my resensie eers:

I

Andries Bezuidenhout bely in die nawoord (“Bestanddele”) dat ‘n gedeelte van hierdie bundel voltooi is aan die Universiteit van Stellenbosch onder leiding van Marlene van Niekerk en Willem Anker. Hierdie bundel is ‘n besondere vooruitgang op die digter se debuut Retoer (2007) en dit is met groot plesier wat ‘n mens hierdie digbundel lees oor “huishoudelike toestelle” – uiteindelik ekstensies van ons self – wat al in die verlede veral die domein van die vrouedigter in Afrikaans was. Die endnote verduidelik dan ook hoe hy homself as digter posisioneer:

“Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle” (p. 15):

Vertaling van die aanhaling van Walter Benjamin, uit Über

den Begriff der Geschichte: “Daar is ’n skildery van Klee, getiteld

Angelus Novus. ’n Engel in die afbeelding lyk of hy stip oor

iets nadink, maar op die punt is om daarvandaan weg te

beweeg. Sy oë is gesper, sy mond oop, sy vlerke gespan. Dít

is hoe die engel van die geskiedenis moet lyk. Sy aangesig is

na die verlede toe gedraai. Waar iets vir ons soos ’n ketting

van opeenvolgende gebeure lyk, sien hy ’n enkele katastrofe

wat onophoudelik soos wrakstukke voor sy voete neergesmyt

word. Die engel sou graag wou verpoos, die dooies opwek

en dit wat gebreek is, weer heelmaak. Maar ’n storm

woed vanuit die Paradys, het hom aan die vlerke beet en waai

so onstuimig dat die engel hulle nie weer kan sluit nie. Die

storm dryf hom genadeloos die toekoms in, waarop sy rug

gekeer is, terwyl die rommelhoop voor hom ten hemele aangroei.

Hierdie storm is dit wat ons vooruitgang noem.” Über

den Begriff der Geschichte word gewoonlik in Engels vertaal as

Theses on dialectical materialism.

Die digter is ‘n bekende sosioloog en die leser vind telkens slim toespelings op die “sosiologie-van-die-gewone-mens”. Die digkuns moet natuurlik altyd in die eerste (en laaste instansie) ten spyte van filosofiese of metafisiese inhoude of temas as gedigte oortuig. En dit presteer hierdie bundel volledig.

KOMBUISKOMPLOT

 

Years later he’d stood in the charred ruins of a library where blackened

books lay in a pool of water. Shelves tipped over. Some rage at

the lies arranged in their thousands row on row. He picked up one

of the books and thumbed through the heavy bloated pages. He’d

not have thought the value of the smallest thing predicated on a

world to come.

– Cormac McCarthy, The Road

 

elektroniese harte, meganiese parte

blink gewaarborg, in elk se plek

’n bataljon gesneuwelde modelle

mikrogolf menger skottelgoedwasser

grassnyer stofsuier vrieskas versapper

waarteen waarsku ons huismaats so?

huisraad is deesdae skugterder,

deur klep, prop, draad en pyp

saamgebind tot ’n stomheidseed

wasmasjien tuimeldroër yskas stoof

strykyster broodrooster wekker waaier

waaroor fluister ons huismaats so?

kan tentakels wat toestelle konnekteer

dalk iets in die lug bespeur, ’n ramp,

armageddon, die atmosfeer wat verdamp?

[ 9 ]

Die programvers kondig dit goed aan: “elektroniese harte, meganiese parte” en die leser staan stil by gedigte met afdrukke en sketse. ‘n Mens kan nie help om die kinderfilm Toy story op te roep nie en ‘n kollega in die filosofie wat oor hierdie film ‘n analise gemaak het via Descartes se “cogito ergo sum”.

Daardie tentakels mag dalk iets bespeur?

Bekend aan ons tydsgees word daar erkenning gegee aan ander digters (Elisabeth Eybers in “Welverdiend”, 43; Leonard Cohen in “Dagdroom”, 61; gert vlok nel in “Johannesburg, Someraand”, 67)) soos hierdie gesprek met ‘n tydgenoot Johann Lodewyk Marais duidelik illustreer:

VRAE OOR VERE  


Hoe ’n piet-my-vrou daar uitsien moes ek teen dié tyd wis,

maar ek weet nie eers vir welke kleur om uit te kyk

teen doringkoppie of staatsdienswolk nie.

“Liefling, ek stuur vir jou ’n piet-my-vrou”? Klink nie reg nie.

Van ek kan onthou, hoor ek: piet-my-vrou,

maar kon nog nooit een op heterdaad betrap nie –

nie langs vervlugtende goudvisdam of swembad nie.

’n Verskil in veer of predisposisie

tussen mannetjie- en vroutjie-piet-my-vroue?

Of piete-my-vrou? Twee piete vir ’n stuiwer.

Waar om sout te strooi vir vere-inspeksie –

op varsgekapte grasperk of in plumbagoheining?

Piet-my-vrou, Johann Lodewyk Marais het jou

sekerlik van snawel tot vlerkpunt beskryf.

Het jy ’n kuif, dalk die frok van ’n wulpse transvestiet?

Is daar subspesies aan jou stamboom,

vertakkings wat anders gebek-en-klou is –

die gewone-grou-piet-my-vrou,

die rare-blou-gespikkelde-piet-my-vrou,

die gestol-in-verwikkelde-vaart-piet-my-vrou,

die teen-die-skemer-gespykerde-piet-my-vrou,

die oostelike-voorstede-met-bakkie-piet-my-vrou?

Meld aan, Piet-my-vrou, as voorbeeld van jou spesie –

hoekom jou geheimsinnig agter koorsbome hou?

As jy nie oppas nie, Google ek jou.

Hierdie gesprek (en vraagstelling) gaan natuurlik verder terug: ons hoor hier Leipoldt 2., maar nou met die moderne tegnologie waar die digter die retoriese vrae verruim deur selfs na google te gaan vir verdere inligting. In ‘n besondere slim vers word ‘n gesprek met Jan Lion-Cachet gevoer.

GEREFORMEERDE HEILDRONK

OP JAN LION-CACHET

(ná ’n besoek aan Burgersdorp)

as die oggend oopbreek is selfs die winter helder

vlas fladder bo en hier onder is jou beker al koud

die moer en die papbord se vet gestol

maak die boek toe trek die gordyn toe

sê hulle moet die stoof stook hulle moet water kook

en as warrelwinde stofwolke opklits dink jy soms terug

onthou jy winters polders meulens wat knars

en beur en pomp teen vog wat in mure muf

onthou jy hoe pa hout in die herd pak die huis kil

en klam lig skuifel flou oor die vloer stil

lê gragte onder gerwe rook teen die lae lug

dit was lank gelede vir jou ’n skeepsreis ver

na ’n ander vaster land jou mense altyd op vlug

hoe reis jy van die laeland avondland waterland

na hierdie land waar alles bars en los is

waar dorings deur die sole steek

die son die vel se bolwerk breek?

(…)

[46]

Op Litnet verskyn ‘n profiel van hierdie skrywer wat ‘n slim toespelings verhelder. http://www.litnet.co.za/Article/jan-lion-cachet-18381912  Besoek 1 Maart 2014

op hiérdie vlaktes het jy stuurs jou stoere kerk kom bou

het jy pen en toga opgeneem gedig en betoog

met totius pannevis en hoogenhout sodat ons moedertaal

gehoor kan word in raad kantoor en skoollokaal

[47]

Hierdie vers aktiveer ook die bekende “Di Afrikaanse taal”:

Di Afrikaanse taal

Ek is ’n arm boerenôi,
By fele min geag:
Mar tog is ek fan edel bloed,
En fan ’n hoog geslag.
Uit Holland het my pa gekom,
Na sonnig Afrika;
Uit Frankryk waar di druiftros swel,
Myn liwe mooie ma.

Hul skel my uit fer Hotnots myd;
Mar ek gé daar ni om;
Want an myn lipiis kan jy siin,
Fan wat geslag ek kom.
Soet floei di woordjiis uit myn mond;
Dit het ek fan myn ma;
Mar as ek bid dan hoor je wel,
Ek is ’n kind van pa.

Myn sussi, wat uit Holland kom,
Di hou ferniit haar groot:
Di lug is al te skerp fer haar;
Sy is al amper dood.
Di dokters kom nou bymakaar,
Hul maak tesaam ’n “Bond”;
Mar tog met al die doktery
Word sy nooit weer gesond.

My niggi met haar stywe nek,
Di loop in rooi satyn;
En baing jonkmans loop haar na;
Sy denk hiir baas te syn.
Maar as die awentuurtji kom,
Dan is di klomp by my.
Dis “hartji” voor en “hartji” na:
“Laat ons ’n bitji fry.”

As ek maar eers myn fryer het,
’n Digter fol fan moed;
Een wat my om myself bemin,
En nie mar om myn goed;
Wanneer die fryer tot my kom
Fat ek hom by di hand,
En maak ek hom, hoe swak ek skyn,
Nog koning in di land.

Want ek het onder in my kis
’n Ware towerstaf,
Wat ek nog fan myn ouma het,
En nimand weet daar af.
Hef ek di staf op, “Moedertaal”,
Dan volg di land my na:
En ek is net nou koningin
Fan heel Suid-Afrika.

Erika Terblanche wys daarop dat die bekende Sewe duiwels ook deur J.D. du Toit vergelyk is met Hildebrand se Camera obscura. En die digter Bezuidenhout skryf dan ook ‘n vers waarin die camera obscura-idee ‘n belangrike metafoor is vir die begryp van die geskiedenis. (Ek kom later hierop terug.)

Eco word aangekondig oor die retoriese strategieë : [R]hetoric is the art of saying well that which may or may not betrue, and it is the duty of poets to invent beautiful falsehoods.– Otto in Baudolino  en die spel tussen beeldende kuns en digkuns is ‘n verdere belangrike kode in hierdie bundel. Die digter is immers ook skilder en vir die liefhebber van die ekfrastiese gedig is hier veel te vinde.

“Digitaliseer” (11) praat eweneens met ander digters (“hoe het dit skielik stil geword”) en ‘n mens hoor ook Boerneef en Olga Kirsch in hierdie gedig verder , wat gelaai word met moderne tegnologie en woede. “Hoe kokerbome breek” (12) is ‘n soort saluut aan Wilma Stockenström se Monsterverse en uitmuntende klip-gedigte.  In “Aansoek om betrekking” (14) is die arbeidsosioloog aan die woord in ‘n satiriese vers wat die ou spanninge tussen wit en swart uitwerk, met ‘n ironies-treffende slot:

Net dít, Mevroutjie, as u een ding sal doen –

as Mevrou my tog maar Tannie sal noem.

Hierdie sosiale gewete vind ons ook in die volgende vers:

 

MEV. BREIVIK SE KONFYT

(aan die slagoffers by Utøya)

Resep nog helder, maar die pen onseker

as sy die fles etiketteer: Rabarber, Jordbær.

Die datum, 22/7.2011, ná sy die dagblad konsulteer.

Dan die treinrooster, vir ’n besoek aan haar seun

en drie flessies konfyt om saam te neem.

Sal hy oplet hoe die letters bewe?

Die maan is suiker op die stasie se glasdak,

houtbalke ribbe uit tye toe timmermans

nog suiwer kon saag en die lampe konfytflesse

wat steenmure weerkaats, die kleur van aarbei en rabarber.

Dalk nie so donker nie, hierdie treine sonder roet.

Aarbei en rabarber, soveel ligter as bloed.

 

Die afwisseling tussen rym en halfryme word goed in beheer gehou. Die sentrale vers is die titelvers – met ‘n motto van Walter Benjamin – en begin so:

 

1

 

hierdie droom wat ek droom begin in die kombuis

waar ek hebbelikheid en kookboek eenkant los

om strydige elemente deur ’n worsmasjien te wurg

bestanddele verkeerdom te klop en te karring

die brousel arbitrêr die oond in te stamp.

 

[17]

Die droom verwys hier dan ook na Sheila Cussons se Die swart kombuis, maar nou is daar sprake van “strydige elemente” en begrippe soos wurg / karring / stamp benadruk die moeisaamheid van die proses. Ook die woord “membraan” moet gelees word as ‘n duidelike kode dat die digter hier in gesprek tree met Cussons. Die herhaling van “in hierdie droom wat ek droom” is bykans ‘n soort inkantasie waarin die spreker sy huishoudelike toestelle op die tafel plaas. Dit is ‘n opname van sy ontwikkeling as mens: van ‘n religieuse opvoeding tot sy werk as arbeidsosioloog waarin hy ongeregtighede en ongelykhede opteken en analiseer. Die digter se foto’s oor kerkgeboue op die Versindaba vind beslag in ‘n vers soos “Church going” (23) met ‘n kopknik aan Philip Larkin. Die dreunsang van die dominee word in opposisie geplaas met die meer intellektuele blik (via Frank Lloyd Wright) en die “blye galme” van die ou bestel is duidelik verby. In ‘n gesprek met Marx word daar ten slotte besluit:

Die geskiedenis, liewe vriende,

word selde in fabrieke vervaardig,

soos enige digter wat haar sous werd is weet:

In kombuise word dit opgekook

(“Wat in die kombuis gebeur”, 27).

‘n Mens hoor eweneens Antjie Krog in  die agtergrond en hierdie leser is van mening dat Otters in bronslaai ‘n duidelike interteks is vir die huishoudelike gesprekke en dat Lady Anne die politieke tematiek versterk. Alle digters praat deur ander digters, buikspreek namens hulle, of gebruik ‘n camera obscura  2. om ‘n eie punt te maak:

BESOEK AAN GALPIN SE CAMERA OBSCURA,

GRAHAMSTAD, JULIE 1992

“How are we to read the African landscape? Is it readable at all? Is it readable

only through African eyes, writable only in an African language?”

– J.M. Coetzee, White Writing

 

Spiraal boontoe, tot in hierdie koepel, waar lig en lens

die horison soos ’n insek op ’n tafelblad laat spartel.

Jy hoef jou kop nie te draai nie. Jy’s ’n krap, ’n trapsuutjies,

dalk ’n hottentotsgot, die periskoop ’n spriet vir jou ronde oog.

Katedraaltorings en ’n stadsaal proklameer: Hiér het Victoria

se beskaafde oog lank gelede ongehinderd geknip.

Straatblok en plein hoekig uitgelê om die landskap te tem

tussen koppies met aalwyne wat die hemel lem.

Galpin, horlosiemaker met ’n sin vir orde, hou alles dop.

Ooglopende wendings, selfs subtiele skuiwe, registreer op die film

van ’n koloniale pupil: ’n dorpskaart vol kleur en tekstuur,

maar met elke simmetriese vorm van hier bo af obskuur.

[28]


Die digterlike oog word hier op verskillende maniere aan bod gebring: wie kyk? waarna word gekyk? En is “ooglopende wendings” ooit neutraal? Selfs ‘n foto – weet ons uit Roland Barthes en Susan Sontag – is gelaai met die subjek se waarneming.

Een van die mees navrante gedigte in hierdie bundel is “Die jaar toe pa die skottelgoedwasser gewen het” (30, 31) waarin die digter se ervaring van sy jeug (en enige nostalgiese herinnering daaraan) helder, dwingend en pynlik beskryf word:

 

DIE JAAR TOE PA DIE SKOTTELGOEDWASSER

GEWEN HET    


Broer, watter jaar was dit nou weer,

voor of ná Pa die skottelgoedwasser gewen het?

Toe ons woonbuurt nog ’n wêreldkaart was –

platgestryk en uitgerol iewers op die afdraandpad

tussen Hoëveld en Bosveld, ’n tussenin plek.

Toe die kerk se klepel nog soos ’n anker kon lui,

al stamp die eggo’s reeds teen ’n winkelsentrummuur.

Ouboet, watter jaar was dit nou weer, voor of ná Pa

die skottelgoedwasser by die bierfees gewen het?

Toe Ma nog uit boeke onthaal het, riviere

grondboontjies en rosyntjies op tinfoelie uitgepak het.

Toe Mamelodi donker Afrika anderkant die buffersone was,

Eersterust ingewig tussen township en fabriek.

Toe Watermeyerstraat die rooster van straatblokke breek

en jy dit onderdorp toe kon oorsteek.

Jy, die een wat die slimste skuif,

wat Pa met skaak kon wen.

Oudste broer, watter jaar was dit nou weer,

voor of ná Pa soveel bier gedrink het

dat hy ’n skottelgoedwasser kon wen?

Die jare gepak soos borde in rakkies,

die masjien spoel sy mond met skuim uit –

linkerkies, regterkies, gorrel en sluk.

Elke nou en dan het ’n koppie gebreek,

soos die dooie mense by Volkskas in Silverton,

– wat was die tannie se naam nou weer?

Oom André wat kla oor die meide by die werk

wat so in die hysbakke poep.

Toe die kafferboom besluit om sy naam te verander

en die tipuana die wind omhels en omdonder, wortels in die lug.

*

Jare later, Broer, moet jy Potchefstroom toe

vir ’n vinnige datum op die egskeidingsrol,

luister na die redes voor jou in die ry:

“Ons het mekaar nie meer lief nie.”

“Ons woon reeds twee jaar nie meer saam nie.”

“Hy het my uitgeskop.”

Oor jóú redes vra ek nie uit nie,

maar soms wonder ek of jy tóé reeds ontsnap het,

voor of ná Pa die skottelgoedwasser gewen het.

’n Bosch, dink ek, toepaslik vir ’n Duitse fees.

Ma was so bly, moes later eers verneem

sy teiken was eintlik die enkelreis oorsee.

[31]

In die gesprek met die broer word die jeug in oënskou geneem. Die broer se egskeiding is net ‘n voorspel vir die pynlike wete dat ook die pa nie meer hart in siel by sy vrou betrokke is nie. Op hierdie indirekte wyse word die trefkrag van die vers verhoog: bykans soos Al Pacino ( Michael Corleone) se oomblik van ontboeseming voor die Monsignor in  Francis Ford Coppola se The Godfather (Deel II) :”Father, I killed my father’s son, father I killed my mother’s son…”.

Daar is ook aangrypende liefdesverse – “Die handpalmleser van Swakopmund”,  34; veral die volgende een is treffend:

KOELKAS      


volgens die tweede wet van termodinamika

is verkoeling die meganika

van hitte verwyder, eerder as koue byvoeg:

ook bekend as kriogenie.

koue, my lief, is dus niks anders

as die afwesigheid van hitte nie

en ek wat op die klipvloer bewe

vandat jy nie meer hier is nie.

[42]

Daar is ‘n besonderse blik op landskap:

op morgenzon aangekom

is daar ’n prokureur ’n makelaar

’n ng kerk ’n monument

en ’n kragstasie op die horison

toe ry ek maar verder na standerton

[33]

‘n Mens sou ook kan naspeur hoe die speurende oog, die oog wat kyk in hierdie bundel deurgaans ontgin word. Die digter verwys ook in ‘n vers na homself as ‘n “oopoogkind” (45).

Die hele bundel lewer kommentaar, dikwels implisiet, op die veranderende politieke landskap.

‘n Sentrale vers in die bundel is “Wasmasjien” (57) met sy speelse verwysing na Gertrude Stein se “a rose is a rose is a rose…”. Die wasmasjien was witter as sneeu (die religieuse toespeling), maar is ook ‘n moderne tempel van reiniging met verwysing na die sakramente waarvan die digter praat:

’n wasmasjien is ’n wasmasjien is ’n wasmasjien

maak oop die deur kom binne ek stryk net gou die potplant

voer die gordyne los jou klere by die deur jou obsessie

om wittes van gekleurdes te skei word verskoon hier

jy kan jou bondel inlaai pype koppel knoppies draai

hier werk ons anders met ons monumente

’n wasmasjien is ’n wasmasjien is ’n wasmasjien

moenie rondstaan nie dis oestyd tree aan dat ons die tros

tussen jou wingerdstokke pluk en pars sodat ons die saad

in jou buik uitpeul en wring laat dit tol laat dit wentel

spin in silinders bind in buise ontkiem en nuut laat spruit

hier werk ons anders met ons testamente

 

’n wasmasjien is ’n wasmasjien is ’n wasmasjien

hoekom huiwer bring jou skimme en spreuke jou hekse fantome

bring jou gode en totems jou bakens en lakens met vlekke

stop alles in die bek klap toe meng seep en versagter

witter as sneeu witter as sneeu ja ons was jou witter as sneeu

hier werk ons anders met ons sakramente

ja bring jou vaders jou kroos jou woorde

al wat ons vra is gelatenheid en natuurlik ’n muurprop ’n kraan

en ’n muntstuk ons wurm jou deur ’n bus draai jou droog

hang jou in neon skrif op jou kraag drif in jou maag

ja hier werk ons anders hier werk ons anders

hier in die skoot van jou wedergeboorte

[57]

Die digter spreek die wasmasjien as ‘n geliefde aan wat selfs “twist” en die film Her http://en.wikipedia.org/wiki/Her  Besoek  27 Februarie 2014 word hier ook (as onbedoelde interteks?) geaktiveer:

my liefste, liefste wasoutomaat

wat kan ek weet van jou skoonheid en jou aard?

is die maan en môrester slegs punte op ’n kaart?

hulle tol kosmies met vellings aan ’n middelpunt vas

hul wentelbane laat skadu’s deur die ruimte tas

o laat jou trommel pirouette tiekiedraai hiervandaan uitkring

laat jou pole en jou motor reinheid bring

as ek naak voor jou staan wyl jy my klere spin

[60]

Die speelse aanbod van die volgende vers amuseer beslis:

RENT-A-HUSBAND

 

’n Yskas het ’n kompressor

en ’n oond ’n element.

Een verdamp en kondenseer,

die ander bied weerstand.

Vleis kan ek vries

en dit dan weer braai

deur meters te lees

en knoppies te draai.

Hoe om af te koel en op te warm

weet ek dus goed,

maar helaas, my lief,

as hiérdie onderdele breek

moet jy elders hulp loop soek.

[66]

Daar is al groot gewag gemaak van praat-poësie in Afrikaans; hier het ons dit. Oortuigend en mooi.  Strofe-indeling val dikwels uiteen in drie-reëls; ander kere in vier. Is die triade dalk ‘n Lacaniaanse kopknik na die fyn balans tussen verbeelde-simboliese-Rëele-dimensies? Met die digter as musiekmaker, arbeidsosioloog, skilder/fotograaf immer besig om die verskillende dimensies in beheer te hou? Die sketse by gedigte behoef ook naspeuring en bestudering. Soos die gedig op bladsy 69 wat oor die bladspieël spoel? Dalk ‘n ikoniese “bewys” dat ‘n gedig nie werklik die menslike ellendes en ontsteltenisse kan opvang nie? Dat dit ‘n illusie dat ‘n gedig iets kan “goedmaak” of “heelmaak”? Maar die geliefde maak dit alles wel die moeite werd vir die digter:

dít alles skeel my nie as ek jou by die hek sien inry nie

hoor hoe jy die deur oopsluit nie

alles wat die lug indamp stol en word solied

alles wat profaan is word heilig

en kyk ek met my dronk oë na dit wat werklik saak maak

Daar is vele kodes wat die akademiese leser nog verder kan opvolg: Walter Benjamin, J.M. Coetzee se “white writing” en of wit mense werklik die landskap van Afrika kan weergee, die (Suid)-Afrikaanse platteland se verval (hieroor het die digter lieflike foto’s geneem en op sy blog op Versindaba geplaas), rotsgravures en Lucy Lloyd sodat die leser die nou teenoor die toentertyd kan plaas:

Eintlik niks besonders nie – huishoudelike toestelle

uit ’n ander land, skraapsels van ’n vroeër verblyf.

Eendag sal lawa nogmaals boontoe beur

en alles wéér metamorfeer.

[72]

*

Dit is ‘n besondere tweede bundel wat tegnies goed afgewerk het en intellektuele vrae vra oor die mens se posisie binne sy (haar) samelewing, maar sonder om die krag van die digkuns te verloën.

My resensie het ek van die PDF geskryf. (Joan Hambidge)

Endnote:

1. Frank Kermode. 1989. An appetite for poetry. Essays in literary interpretation. Londen: Fontana Press.

2. Sekretarisvoël met jou lange bene,
Met jou penne agter die ore styf,
Met jou stadige stappies, wat maak jy hier?

Sekretarisvoël met jou lange bene,
Met jou vaalgrys vere en lang, lang lyf,
Met jou groot, groot oë, wat maak jy hier?

http://wikisource.org/wiki/Oom_Gert_vertel_en_ander_gedigte/Slampamperliedjies

3.  http://en.wikipedia.org/wiki/Camera_obscura

Besoek 27 Februarie 2014

The camera obscura (Latin; camera for “vaulted chamber/room”, obscura for “dark”, together “darkened chamber/room”; plural: camera obscuras or camerae obscurae) is an optical device that projects an image of its surroundings on a screen. It is used in drawing and for entertainment, and was one of the inventions that led to photography and the camera. The device consists of a box or room with a hole in one side. Light from an external scene passes through the hole and strikes a surface inside, where it is reproduced, rotated 180 degrees (thus upside-down), but with color and perspective preserved. The image can be projected onto paper, and can then be traced to produce a highly accurate representation.The largest camera obscura in the world is on Constitution Hill in Aberystwyth, Wales.[1]

Using mirrors, as in the 18th-century overhead version (illustrated in the History section below), it is possible to project a right-side-up image. Another more portable type is a box with an angled mirror projecting onto tracing paper placed on the glass top, the image being upright as viewed from the back.

As the pinhole is made smaller, the image gets sharper, but the projected image becomes dimmer. With too small a pinhole, however, the sharpness worsens, due to diffraction. Some practical camera obscuras use a lens rather than a pinhole because it allows a larger aperture, giving a usable brightness while maintaining focus.

 Resensie geborg deur

 

 

Onderhoud met Andries Bezuidenhout

Monday, March 10th, 2014

Andries Bezuidenhout gesels oor sy nuutste bundel

 Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle” met Louis Esterhuizen.

 

Louis Esterhuizen (LE): Andries, eerstens van harte geluk met ‘n manjifieke bundel; ‘n kragtoestel, inderdaad.

Andries Bezuidenhout (AB): Dankie Louis! Ek hou van die “kragtoestel”. Ek hoop maar ek het die positiewe en negatiewe pole reg om gekoppel.

LE: En daardie titel … ‘n Titel wat so gelaai is met bybetekenisse, want in ‘n verbruikersamelewing is ons as mense immers net soveel huishoudelike “toestelle” as wat ‘n wasmasjien is, byvoorbeeld. Hoe het hierdie titel hom by jou aangemeld? Watter implikasies hou die titel vir jóú in?

AB: Dit titel was daar voor die meeste van die gedigte en kom uit ‘n poging om my verskillende wêrelde nader na mekaar toe te trek. My werk as bedryfsosioloog maak dat ek gereeld die binnekant van fabrieke sien. Een van my navorsingsprojekte was oor hoe werkers in yskasfabrieke in Suid-Afrika, Australië en Suid-Korea reageer op hul werkgewers se dreigemente om fabrieke te skuif na lande toe waar arbeid goedkoper is en werknemers meer inskiklik is. In die fabriek in Changwon, Suid-Korea, kan hulle ‘n yskas in agtien sekondes aanmekaarsit. Baie van die navorsing in my veld gaan oor motorfabrieke, omdat maatskappye soos Ford so ‘n belangrike rol gespeel het in die ontstaan van massavervaardiging en massaverbruik. Dink maar aan Ford se stelling oor die kleur van karre (“You can have any color of car, as long as it’s black”). In daardie stelling oor massavervaardiging en verbruikerskeuse sit ‘n stukkie ironie, dalk selfs sinisme. Ek lees ook poësie daarin raak. Die motorkar het dus amper ‘n simbool van verbruikerskultuur geword. My navorsing oor yskasfabrieke het my ‘n ander blik op vervaardiging en verbruik gegee. Ek het begin oplees oor die belangrikheid van voedselpreservering vir samelewings in tye voor yskaste. Ek het ook opgelees oor die meganisering van huishoudelike werk en hoe dit verhoudings tussen mans, vroue en hul gesinne verander. Teen hierdie agtergrond neem Defy se “Automaid” nogal ‘n wrang betekenis in Suid-Afrika aan. Baie van hierdie leeswerk, dinkwerk en wroegwerk moes elders heen. Akademiese artikels en boeke het hul eie plesier, maar met die digkuns kan mens soveel meer met iets soos ‘n yskas of ‘n wasmasjien aanvang. O, my siel daar’s ryke stof! In my eerste bundel (Retoer) was die geskiedenis, reis en stedelike landskappe op die voorgrond. Ek wou ‘n opvolgbundel skryf wat nader aan my vel kom, maar sonder om ‘n blik op die buitewêreld te verloor. Ek het gedink kombuistoestelle is goeie reisgenote vir so ‘n projek, intieme masjiene wat met pype en kabels aan die infrastruktuur daarbuite gekoppel is.

LE: Nog ‘n aspek rondom die titel wat my interesseer, is die ‘veelvuldige gebruike’-komponent; en dan veral in kontras tot die tersaaklikheid van ‘toestelle’. Lees ek te veel in die teks in indien ek in hierdie teenstelling iets van ‘n arse poetica en/of doelstelling ten opsigte van die digkuns en meer spesifiek: die máák van ‘n gedig vind?

AB: Dis Maurice Blanchot wat oor die materialiteit van taal geskryf het, dink ek. Taal is simbolies en kreatief, maar dis ook gesetel in klankgolwe en lywe – in materie. In ‘n stadium het ek die vervaardiging van die gedigte so begin geniet dat ek die gevaar geloop het dat die bundel nooit sou klaarkom nie. Ek moes van daardie vervaardigingsproses ook weer afstand kry.

LE: Andries, jou het ek leer ken as iemand wat elke aspek van sy digterskap ten nouste bedink; daarom dat jou motto’s en aanhalings, byvoorbeeld, nie sommer net vir die ‘lekker’ gekies word nie. So vind ek byvoorbeeld ‘n besonderse saampraat tussen die McCarthy-aanhaling (waarmee die openingsgedig “Kombuiskomplot” ‘n aanloop neem) en die lang Walter Benjamin-aanhaling by die titelgedig, “Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle” enkele bladsye later. Die raakpunt lê vir my in die kontras tussen die weerloosheid van dinge en die katastrofale  rommelhoop wat die geskiedenis is … Jou kommentaar?

AB: Louis, ek is bly jy lees daardie gesprek tussen die aanhalings raak. Die aanhaling uit Tony Hoagland se gedig “Dialectical materialism” heel aan die begin van die bundel is vir my baie belangrik. Ek hou ook van Hoagland se meer teoretiese werk en ek wil graag ‘n stuk uit een van sy essays hier aanhaal. Hy verwys hier na die moderne wêreld, maar ook na nie die versplintering in betekenis en identiteit wat die kakofonie van die verbruikersamelewing, waarna jy verwys het, meebring. Sommige sal na daardie versplintering as ‘n postmoderne toestand verwys (alhoewel die term se betekenis weens oorgebruik aan ernstige slytasie ly):

“Modern consciousness may indeed be splintered, but it is one function of poetry in our time to fasten it back together – which does not mean to deny its complexity. When poetry can name the parts and position them, when it brings us out of the speedy, buzzing fog that is selfhood and modern life, our sense of being alive is heightened and intensified. How strange it is that when I read a particular poem, which brings the world into focus for me, that I can feel my own self come into focus. I was already part of that world, I know – but the unifying, clarifying impact of the poem delivers me to a deeper, and more conscious state of being-in-the-world. Deeper and better than before, when I was only lost in it.” (Die aanhaling kom uit Tony Hoagland se essays in Real sofistikashun: Essays on poetry and craft, in 2006 deur Graywolf Press gepubliseer, p. 172.)

Dit gaan hier oor die rol van digkuns in hierdie sogenaamde postmoderne era, waarin die individu (of die subjek) nie noodwendig ‘n kern het nie. In die ou dae – die tyd van die tagtigers, byvoorbeeld – was so ‘n postmoderne projek radikaal, want dit het die sterk figuur van Afrikanernasionalisme ondergrawe. Ek sukkel egter met die etiese posisie waarmee dit my nóú laat. As ek, as wit, middelklas man in ‘n postkoloniale Suid-Afrika, my posisie op hierdie manier laat versplinter, beteken dit nie ook dat ek my verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid opgee nie?

Ek dink ook om vir werkers in yskasfabrieke te predik oor die versplintering van die subjek maak nie juis sin nie. Hoe keer mens terug na komplekse (maar sinvolle) gesprekke oor ons rol in die geskiedenis? Dis waarmee ek worstel. Ek het nie ‘n behoefte om na ou sekerhede en harde ideologie terug te keer nie. Dis waarom ek met mense soos Benjamin en Marx worstel, veral Benjamin se beeld van die engel die geskiedenis as rommelhoop. Daardie stuk word gewoonlik in Engels as “Theses on dialectical materialism” vertaal. Dan is daar die stuk uit die Kommunistiese Manifes, wat ek in die voorlaaste gedig op die kop probeer draai, soos Marx destyds beweer het hy met Hegel gedoen het. Dit alles gaan vir my weer oor die materialiteit van taal – die soeke na ‘n plek om te staan in ‘n wêreld waar alle grond dryfsand geword het. Ek gorrel en roggel nou – die gedigte verwoord dit beter.

LE: ‘n Besonder opvallende aspek van jou nuwe gedigte is die groot hoeveelheid vrae wat in bykans elke gedig gevra word. Dui dit op ‘n element van onsekerheid, met ander woorde: watter ander, ‘veelvuldige’ gebruike moontlik is te midde van die tersaaklikheid van bepaalde ‘huishoudelike toestelle’?

AB: Dis sowaar onsekere tye, Louis! Die Eerste Wêreldoorlog het honderd jaar gelede uitgebreek. Ek was gisteraand lank wakker oor wat in Oekraïne aangaan. Ook Uganda se absurde wette wat liefde kriminaliseer. Dan is daar die onsekerheid waarmee die fabriekswerkers met wie ek onderhoude voer lewe. Wat gebeur as die maatskappy oppak en China of Swaziland toe loop? Hoe verstaan mens dit alles? In onseker tye loop mens die gevaar dat daar na fundamentalistiese halms gegryp word – ons sien dit in politiek en religie. Van die Australiese fabriekswerkers waarmee ek praat word erg rassisties weens hierdie onsekerheid – hulle blameer die Chinese. In Suid-Afrika gebeur dit ook, want ons is baie goed daarmee om sondebokke te soek. Die digkuns waarby ek aanklank vind vra vrae, eerder as om antwoorde te verskaf. Dink maar aan Szymborska, iemand wat haarself as kunstenaar van die Party kon losmaak.

LE: Nog ‘n opvallende aspek van dié bundel is die gebruik van illustrasies by van die gedigte; wat was jou oogmerk daarmee?

AB: Elkeen van daardie sketse is van bestaande patentesketse gemaak – ek het hulle nagetrek en ingekleur. Een interpretasie daarvan sou seker kon wees dat enige kreatiewe proses op reeds bestaande modelle se skouers moet staan. Patentesketse is egter interessante goed. Daar is kuns by betrokke, maar die kunswerk word gemaak om iemand se idees as kleim te karteer – as intellektuele eiendom te registreer. Ek wou hê die sketse moet daardie spanning tussen skepping en beheer vaslê.

LE: In Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle is daar etlike reisverse; verkennende reise deur ver, afgeleë plekke met ‘n pertinente kyk na die argitektuur van hierdie plattelandse geboue. Vertel ons van hierdie aspek van jou tematiese veld?

AB: Louis, ek hoop regtig nie my antwoord klink vreeslik pretensieus nie. Ek het myself reeds aan ernstige “name dropping” skuldig gemaak. Die kort antwoord is dat ek regtig van rondreis hou en soms stilhou om iets neer te skryf of om ‘n foto te neem. Ek skilder meestal landskappe. Daar is egter ‘n dieper betekenis in landskappe en geografie en waarom ek in die spanning tussen taal en plek belangstel. As mense oor postmodernisme praat, verwys hulle telkens na die linguistieke keerpunt (“linguistic turn”) – die besef dat alles wat ons doen talig is, selfs dat daar niks buite taal is nie. Daardie posisie is vir my te los, te vloeibaar, te onstandvastig. Ek noem nou weer die fabriekswerkers waarmee ek onderhoude voer. Hoe help die linguistieke keerpunt hulle? Ek probeer om weer ‘n plek te vind om te staan en ek dink ek vind daardie plek in die meer onlangse geografiese keerpunt (“spatial turn”) – die besef dat mens iewers moet staan, dat mens noodwendig van iewers af praat.

Jou boekwinkel het een van die beste versamelings filosofie in die land, so laat ek myself weer skuldig maak aan “name dropping”. Ek lees graag David Harvey en Henri Lefebvre – skrywers wat hulself met die ruimtelikheid van ons bestaan bemoei, wat aantoon dat daar absolute ruimtelikheid is wat buite taal staan. Albei het sterk Marxistiese invloede, maar sonder die standvastigheid en sekerhede wat die Gulag veroorsaak het. Daar is elemente in Harvey en Lefebre se werk wat daardie spanning tussen taal en ruimte op teoretiese vlak oopskryf, dink ek. Ek weet nie of dit nou sin maak nie, Louis. Gedigte moet konkreet wees, nie filosofiese werke nie. Die gedigte in hierdie bundel gaan in die eerste plek oor yskaste en stowe en sulke goed.

LE: Jou gebruik van humor in hierdie nuwe verse vind ek oorweldigend, Andries. Veral omrede sekerlik een van die moeilikste dinge is om by poësie te betrek. En tog hanteer jy dit regdeur en met verbluffende gemak; soms wrang, soos in “Die jaar toe Pa die skottelgoedwasser gewen het” (p. 30) en “Op pad tussen Ermelo en Morgenson” (p. 32), soms ironies (byvoorbeeld “Welverdiend” op p. 43) en dan dikwels ook gewoon vir die plesierigheid soos in die lieflike “Vrae oor vere” (p.52) en “Wasmasjien” (p.57). Verbeel ek my of het humor vir jou meer as net ‘n toevallige komponent van jou digkuns geword?

AB: Milan Kundera oor lag en vergeet. Humor is ‘n belangrike politieke wapen teen outoritêre tendense. ‘n Mens moet ook vir jouself kan lag. My eerste bundel het so swaar aan skuld gedra dat daar van verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid min sprake was. Daardie gedigte wag vir die kaptein om te kom oordeel. Die meer onlangse gedigte praat van ‘n ander plek af, dalk een met meer afstand, maar ook minder swaarwigtigheid, hoop ek.

LE: Andries, jy is inderdaad ‘n multibegaafde persoon: digter, skilder en natuurlik ook musikant. Die gevaar bestaan dus uiteraard dat jy soms ‘n liriek sal pleeg wat pretendeer om gedig te wees en andersom … Tref jy ooit ‘n onderskeid, wonder ek meteens. Of is dit maar alles dieselfde ding vir jou? Op watter stadium wéét jy byvoorbeeld hierdie wil ‘liriek’ wees, of anders gestel: ‘n gedig?

AB: Ek merk op dat die feit dat mens so promiskueus is soms teen jou gehou word. Ek wens ek kon een dissipline kies – digkuns, beeldende kunste, of musiek. Die grootste verskil is dalk tussen digkuns en liriek aan die een kant en beeldende kuns aan die ander. Talig teenoor nie-talig. Melodie en harmonie is egter ook nie-talig. Ek is beter met melodie as met harmonie. Ek weet nie, Louis, hoe moet mens kies? ‘n Liriek word soms ‘n gedig, soms andersom. Soms tree ‘n gedig met ‘n skildery in gesprek. Ek kan nie verduidelik hoe dit gebeur nie. Ek het Ingrid Winterbach daaroor gevra en sy maak tyd vir beeldende kuns en skryfwerk op verskillende tye. Ek dink egter ons promiskueuses moet soveel harder aan elkeen van ons verhoudings werk as monogame kunstenaars. Dis ‘n vloek, nie ‘n seën nie. Daar is egter ‘n baie groot verskil tussen die standaarde wat ek aan gedigte en lirieke stel. Lirieke het musiek as kruk of vlerk, waar gedigte heel op hul eie moet staan.

LE: Aansluitende by voorafgaande vraag wonder ek meteens ook oor jou werkswyse … Dig en skryf en skilder jy volgens ‘n vaste roetine of is dit maar ‘n geval van soos die inspirasie jou beetpak?

AB: Ek moet met opset tyd vir elkeen maak. Dit gaan ook oor die implemente en toestelle wat jy benodig – verf, esel en palet, ‘n kitaar, ‘n rekenaar. Ek het ‘n ateljee een vloer boontoe in die woonstelblok waarheen ek ontsnap daarvoor. Ek voel bevoorreg om dit te kan doen.

LE: Ten slotte – die voor die handliggende vraag. Hierdie bundel het jy voltooi as deel van ‘n Magistergraad in kreatiewe skryfkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. Watter invloed het dié interaktiewe proses op jou as digter gehad?

AB: Daar is min ander geleenthede wat geskep word waartydens skrywers betaal word om ander mense se werk aandagtig te lees en sistematies daarop kommentaar te lewer. In so ‘n kursus doen jou studieleier jou nie ‘n guns nie, want dis sy of haar werk. Ek het die voordeel van fenomenale dosente (een ‘n seil, die ander ‘n anker) en meelewende klasmaats gehad. Die graad is een van die lekkerste dinge wat ek nog in my lewe gedoen het. Ek het ongelooflik baie geleer, ook om oor en oor en oor te skryf. Ek weet baie mense kritiseer sulke kursusse in kreatiewe skryfkunde, omdat die “produkte” kwansuis dieselfde klink (Ford se swart motors). Dis nie my ervaring daarvan nie – dit geld ook vir kursusse wat by ander Suid-Afrikaanse universiteite aangebied word. Dalk het ons die voordeel van die intimiteit van ‘n klein taal, wat Fordistiese massaproduksie teëwerk. Die kleur van die digterlike karre wat hier vervaardig word, asook van diegene wat aan die stuur van sake sit, het meer met die geskiedenis te doen as met die inhoud van die kursusse, dink ek.

KOELKAS

volgens die tweede wet van termodinamika
is verkoeling die meganika

van hitte verwyder, eerder as koue byvoeg:
ook bekend as kriogenie.

koue, my lief, is dus niks anders
as die afwesigheid van hitte nie

en ek wat op die klipvloer bewe
vandat jy nie meer hier is nie.