Posts Tagged ‘vert.Zandra Bezuidenhout’

Resensie: Arsenaal van klank (Anna Enquist) Vert. Zandra Bezuidenhout.

Monday, December 19th, 2016

omslag arsenaal ABF01 voorplat

Arsenaal van klank. Anna Enquist (Protea Boekhuis, 2016)

Vertaal deur Zandra Bezuidenhout.

Resensie deur Gisela Ullyatt

 

Anna Enquist is ’n welbekende Nederlandse digter en romansier wat eers op 46 haar digdebuut gemaak het met Soldatenliederen (1991). Insluitend haar debuut, het sy tot op hede agt digbundels gepubliseer. Anna Enquist is egter ’n pseudoniem vir Christa Widlund-Broer. Sy is nie algemeen bekend onder Afrikaanse lesers nie en daarom is hierdie versamelbundel van vertalings deur Zandra Bezuidenhout ’n nuttige asook belangrike bydra tot lesers se kennismaking met Enquist se oeuvre.

Die titel van die bundel, Arsenaal van klank, is ook nie om dowe neute gekies nie: Enquist het ’n musikale agtergrond as tjellis en violis. Die leser word ook met die voorplat ingelei tot ’n sonore wêreld van ritme en klank.

Bezuidenhout het gemiddeld sewe gedigte per bundel gekies wat die leser aan ’n netjies ingedeelde oeuvre bekendstel. Uit Enquist se nuutste bundel, Hoor de stad (2015), word tien gedigte vertaal.

Soos genoem in ’n kort inleiding deur Bezuidenhout is Enquist by uitstek ’n digter van ’n meer vormvaste vers, alhoewel haar gedigte geensins rymdwang dreunsing of stilistiese geykthede pleeg nie. Enquist gebruik dikwels ’n objektief-korrelatief in haar verse, soos gesien in “Die solder; huweliksneurologie” (19):

Laat ons oor verslete

rugwerwels klouter

na die korteks van die huis.

Onder die swaar skedelbak

lê albei hemisfere

so rustig langs mekaar in

isomorfe spieëling,

onwetend van mekaar

se funksionering, doof, onver-

skillig teenoor mekaar se taal […]

Enquist is ook opgelei as psigoanalis: ’n gedig soos “Om te dra” (113) se eerste drie reëls getuig hiervan:

Lig is dit om so ’n kindjie te dra, styf

aan jou bors, hartjie teen hart,

appelkosie van haar oor by jou mond.

Die oorspronklike gedig se eerste tersine, “Dragen”, lui soos volg:

Licht is zo’n kindje te dragen, dicht

aan je bors, klein hart tegen hart,

abrikoos van haar oor aan je mond.

Tog is Enquist se gedigte eerder ’n suggestie van die psigoanalise en dig sy nie pertinent daaroor nie: die gedigte word gekenmerk deur ’n fyn netwerk van menslike verhoudings, veral die ouer-kind verbintenis. In “Habanera” (51) uit Klaarlichte dag (1996) word die ars poëtikale element met die ouer-kind metafoor nougeset verweef. Verder word daar fyn met die digterlike oor geluister en ook gekyk: slegs ’n deurwinterde en gevoelige digter kan ars poetica, musiek, die elemente van sneeu en vuur binne een gedig suksesvol deurkomponeer:

Die verse is so woes uit die bodem

getrek dat hulle nog lank na-gekraak het.

Toe het die letters soos as in die sneeu gelê

en nie meer beweeg nie. As iemand hulle

aanblaas het hulle effens opgevlam: ou vuur.

Daar was ’n kind. Met haar het ek

deur die kamer gedans, ons het van hoek

tot kant galop, ons het luidkeels ’n lied gesing.

Sy het ’n warm gesig gehad. Sy was my dogter.

As ek asemhaal, vonk sy na in die gedig.

Aansluitend by die ars poetica is die digter se besinning oor taal, ’n proses wat soms ontsetting meebring soos gesien in “Taal” (59):

Taal, laat my met rus. Jy leer my niks

behalwe leuens nie, laat my raai oor

die rede vir jou reëls, bars

van liefde, stik as ek my hand sny

in die deur […]

Taal is soos “klein klitsgras” of in die Nederlands, “klein hoefblad”; ’n “slymerige vlot” waarop die digter “geesdriftig” geklim het maar ook van afgly “as die hande sat is van vasklou /as jy my loslaat, taal”.

Nog ’n deurlopende motief in die Enquist-oeuvre is weemoed en verganklikheid. Enquist het haar dogter in ’n fietsongeluk in 2001 aan die dood afgestaan toe dié ’n skrale 27 was. ’n Gedig soos “Nie” met die oorspronklike titel “Niet” wat op sigself vele betekenisvlakke insluit, is moontlik vir die digter se oorlede dogter geskryf. Die gedig word in De tussentijd (2004) aangetref. Die slotstrofe word in beide Afrikaans en Nederlands aangehaal ter illustrasie van hoe getrou Bezuidenhout as vertaler aan die oorspronklike vorm en klank gebly het:

Ontredderd sien ons haar oral, maar

ryp vorm ’n kors oor haar graf

en ’n masker van marmer bedek

ons dierlike gesig.

Geschrokken zien wij haar overal maar

vorst vormt een korst over haar graf

en een masker van marmer bedekt

ons beestachtig gezicht.

 

Uit Nieuws van nergens (2010) is die verwerking van haar dogter se tragiese dood baie meer opsigtelik in die tematiek. Die digsiklus, “Januarie” (92-95) getuig veral hiervan asook “Fantoom” (97).

Met “Versoek aan die skilder” (89) word dit duidelik waarom Bezuidenhout op Arsenaal van klank as titel besluit het. Die eerste twee reëls lui soos volg:

My arsenaal van klank en taal

Bestaan in tyd. Sy nie.

Arsenaal van klank is ’n geslaagde bundel vertaalde verse uit die Nederlands wat aan lesers, hetsy bekend of minder bekend met die Enquist-oeuvre, leesplesier sal verskaf. Literêre vertaling, veral van poësie is ’n fyn kuns, iets wat maklik kan ontaard in die verdraaiing van die oorspronklike bedoeling van die digter. Bezuidenhout het gevoelig met beide  versvorm sowel as inhoud omgegaan en daarom is die bundel ’n voorbeeld van wat Flaubert le mot juste genoem het: die juiste woord.

***