Posts Tagged ‘vertaling’

Marlies Taljard: Fragmentering en rekonstruksie

Sunday, September 11th, 2016

 turkey-troy-ruins-1

Wanneer die bejaarde monnik Adso van Melk aan die einde van The name of the rose ʼn tweede besoek bring aan die klooster wat hy as jongeling saam met William van Ockham besoek het, soek hy in vertwyfeling tussen die ruïnes van die mure na iets van dit wat hy gehoop het om te vind, maar hy kry slegs fragmente van die vele kosbare manuskripte wat die biblioteek van die klooster eens gehuisves het. Hy maak die stukkies bymekaar, stop dit in sy reissak en herlees dit keer op keer, hopende dat dit tot hom sal spreek. Uiteindelik verbeel hy hom dat die fragmente a kind of lesser library verteenwoordig – mens sou dalk kon sê dat hy daarin ʼn essensie van die groter geheel vind: a library made up of fragments, quotations, unfinished sentences, amputated stumps of books.

Ons weet dat hierdie slot onder andere as ʼn heenwysing na die postmodernistiese versplinterde werklikheid gelees kan word, die twyfel oor die vermoë van die narratief om die werklikheid getrou weer te gee en die twyfel aan die betekenisvolheid van die teks. Bertens en D’Haen sê oor gefragmenteerde tekste dat dit die leser uiteraard vry staan om ʼn verband te ontdek tussen die verskillende fragmente en om dit ʼn tematiese sin te gee, maar dat daar geen waarborg bestaan dat daar wel ʼn sodanige verband bestaan of bedoel is of dat dit op een of ander wyse nuttig sou kon wees nie.

My vraag is – in terme van Cas Vos se werkwyse in Fragmente van die Ilias (Protea Boekhuis, 2014) – welke teoretiese verantwoording daar is vir die fragmentering van ʼn lang narratiewe teks wat 24 hoofstukke beslaan (in die Ilias is dit Boeke), tot 24 gedigte. Die doel van my artikel is nie om ʼn waardebepaling van Vos se poëtiese teks te onderneem nie, maar bloot om ʼn bepaalde vertalingspraktyk te ondersoek en die sinvolheid, al dan nie, van so ʼn praktyk te verreken in terme van die vertaling van antieke tekste soos die Ilias en die Odusseia.

Sun Kyoung Yoon is een van verskeie skrywers wat daarop wys dat wanneer klassieke tekste vertaal word, is dit dikwels die doel van die vertaler om dié tekste ʼn nuwe lewe te gee deur dit te transformeer en dit sodoende meer toeganklik te maak vir lesers wat nie die Grieks of Latyn (of ander taal) verstaan nie. ʼn Mens moet onthou dat vertaling altyd die herskryf van ʼn bepaalde teks behels en dat dit plaasvind binne ʼn bepaalde konteks en gerig word op ʼn bepaalde teikengehoor. Wat vertalers verkies om te vertaal en hoe hulle vertaal word beïnvloed deur sowel die sosio-kulturele konteks waarbinne die vertaling plaasvind as die behoeftes van die doelgroep waarvoor die vertaling gemaak word. Daarom verskil vertalings van klassieke werke dikwels ingrypend van die brontekste én van ander vertalings van dieselfde werk. Die eindproduk van die vertaling dra altyd, aldus Frances Jones, die tekens van die vertaler se ingesteldheid ten opsigte van die bronteks en sy siening van sy rol as medieërder wat op sy beurt die aard van die literêre kommunikasie, m.a.w. die styl en poëtiese vormgewing, asook die graad van vereenvoudiging en die mate van ekwivalensie met die oorspronklike teks beïnvloed. Die keuse wat die vertaler maak wanneer hy ʼn teks assimileer om aan te pas by ʼn ideologiese raamwerk wat deur sy teikengehoor verstaan en aanvaar sal word, is beslis nie neutraal of onskuldig nie.

Die diskoers van hervertelling en herskrywing bied myns insiens ʼn besonder stewige raamwerk waarbinne die vertaling van gemarginaliseerde tekste gelees kan word, dus tekste wat nie algemeen beskou word as deel van die kanon van ʼn bepaalde letterkunde nie. Ek dink ʼn mens sou met reg kon beweer dat werke soos die Ilias en die Odusseia nie werklik deel is van die Afrikaanse kanon nie, of dan dat sulke werke redelik ver op die buitewyke van die kanon lê.

Wat die vertaling van sulke werk bemoeilik, is aspekte soos geskiedkundige plasing, waardes en etiek wat in die oerteks ter sprake kom, asook die vreemde wêreldbeskouings wat in baie van dié tekste voorkom. Maar ook suiwer literêre aspekte van die oorspronklike teks kan die vertaling bemoeilik, soos genre, vorm en poëtiese konvensies. Dit is byvoorbeeld onmoontlik om die versvorm van die Ilias na Afrikaans te transponeer, want (onder andere) werk die Griekse heksameter glad nie in Afrikaans nie. Dit is ook problematies om die totale dieptestruktuur van antieke tekste ten volle – of selfs gedeeltelik – in moderne weergawes van die teks weer te gee.

Omdat die vorm en die intertekstuele raamwerk van die bronteks dikwels aan die leser onbekend is, is dit moontlik dat probleme met die resepsie kan ontstaan wanneer sulke werke vertaal word. Die informasielading wat deel van die vertaling moet wees sodat die teikengehoor die teks verstaan, raak naamlik so groot dat dit die hele vertaalde teks in gevaar kan stel. Om hierdie slaggat te vermy, het dit gebruiklik geword om in begeleidende paratekste soos ʼn Inleiding, ʼn Agtergrond, voetnote of ʼn kort opsomming van die verhaalgegewe die belangrikste inligting te verskaf wat nodig is om die werk te verstaan. Dit doen Vos in sy vertaling van dele van die Ilias ook. So is dit dan moontlik om ʼn meer vaartbelynde vertaling te maak – dikwels deur aan dié dele van die teks te snoei wat die narratiewe gang belemmer of wat vir die leser oninteressant is en daartoe kan lei dat hy belangstelling in die teks verloor.

Kognitiewe wetenskaplikes wys daarop dat ons geneig is om nuwe en onbekende inligting te assimileer tot patrone wat reeds aan ons bekend is. Volgens die teorie van Dekonstruksie is alle verhale immers net ʼn hervertelling van verhale wat dit voorafgegaan het en waarvan die narratiewe struktuur reeds in die onbewuste van lesers ingebed is – veral mitiese verhale. Mites is argetipiese verhale waarin meerduidige simbole voorkom en wat godsdienstige of spitituele betekenis het vir dié wat dit vertel. Mites kan ook bydra tot beter begrip van ʼn samelewing se kulturele sisteme of waardestelsels.

Maria Tymoczko wys daarop dat die meeste hervertellings en herskrywings van antieke verhale fokus op die mitiese inhoude van die ou verhale. Dit is verhale wat – in Jungiaanse terme – waarskynlik uit die Kollektiewe Onbewuste stam en waarvan die struktuur inderdaad blykbaar aan die meeste luisteraars of lesers bekend is. ʼn Mens sou mites inderdaad as argetipiese verhaalstrukture kon beskou. Mites is ook verhale waarvan daar geen oorspronklike weergawes bestaan nie, maar die simboliese en etiese beginsels wat daarin vervat is, is in tallose nuwe of antieke verhale en mites ingebed. Kortom: mites vorm die grondstof van die meeste goeie letterkundige werke en word blykbaar algemeen deur lesers verstaan en die simboliese inhoude word selfs by die lees van verhale geantisipeer.

Tymoczko wys dan verder daarop dat wanneer ʼn tradisionele verhaal vertel (of dan: neergeskryf) word, is die hervertelling metonimies van aard, omdat dit verwys na al die vorige vertellings van dieselfde verhaal wat aan die leser bekend is. Selfs wanneer net dele van die oorspronklike verhaal vertel word, word die hele verhaal by implikasie deur die leser opgeroep. Daarom verduur moderne gehore verwerkings, aanpassings of verkortings van tradisionele verhale. Dit bied die leser dikwels die moontlikheid om die nuwe met die saamresonerende oorspronklike te vergelyk en die rede vir weglatings of “foute” te bedink, om die leë plekke in te vul of om doodgewoon die korter weergawe wat soms in een sitting gelees kan word, te geniet. Maar dan is dit noodsaaklik dat die lesersgehoor ook die gekanoniseerde weergawe van die bronteks ken, sodat die keuse wat die digter maak ten opsigte van wat hy vertaal en hoe hy vertaal, die nodige impak op die gehoor kan hê.

Ek wil dan argumenteer dat Cas Vos in sy vertaling van fragmente uit die Ilias, soos ook in sy vroeër werk soms, die fokus laat val op bepaalde mitologiese aspekte van antieke tekste waarmee moderne lesers sal kan identifiseer. Vos se bundel Die afdruk van ons hande bevat 11 vertalings van die Uruk-fragmente. Dié fragmente vorm deel van die verhaal van Gilgamesj en Enkidu en is deel van ʼn teks wat in die elfde eeu voor Christus op 12 kleitablette in die biblioteek van Ninivé neergeskryf is. Vos se poëtiese weergawe van dié mite verloop min of meer soos dit op die Sumeriese kleitablette verskyn. Hoewel sy teks baie korter as die oerteks is, slaag hy daarin om ʼn bepaalde essensie van die oorspronklike verhaal weer te gee. Die Gilgamesj-epos is primêr gerig op die beskrywing van die helde se merkwaardige avonture, maar kan ook op ʼn dieper vlak gelees word as lewensiklus vanaf die ongeskakeerde geveg om lewe en dood tot die uiteindelike soeke na onsterflikheid. Dit is hierdie dimensie wat Vos in sy gedigsiklus ontgin deur klemlegging op spiritualiteit. In die openingsreëls van die siklus word ‘n mistieke handeling opgeroep

Skep teen skemer suutjies asem

en doop julle voete in olie

voordat julle na Uruk vertrek.

Dat een van die belangrikste verhale, nl. dié waarin Gilgamesj en Enkidu die monster Huwawa dood, nie in Vos se siklus opgeneem word nie, asook sy onderbeklemtoning van Gilgamesj se handelingspatroon, illustreer die digter se klemlegging op mitiese verhaalinhoude met ʼn argetipiese karakter en sy doelbewuste vermyding van sogenaamde heldedade en oppervlakkige menslike konflik.

Ek dink byvoorbeeld ook aan die gedig Zeus swig uit ʼn latere bundel wat saamgestel is uit enkele grepe uit Boek XIV van die Ilias. In die bronteks is dit die gedeelte waar Hera wraak neem op Zeus. Wanneer sy hom by die hoogste spits van Ida met die baie fonteine sien sit, staan daar in Van Rensburg se letterlike vertaling: maar hy was haatlik vir haar hart. In Vos se gedig word egter min melding daarvan gemaak. Die klem val eerder op die liefde en die romantiek. Die gedig eindig met die reëls:

Vir hulle laat die aarde die veld bot

en groei die dounat lotus, die saffraan

en die hiasint bankvas vir die god.

 

“Kom, laat ons ons in die liefde verlustig,

nog nooit het die liefde vir ʼn vrou

my hart só oorstroom en versadig nie.”

Hierdie voorbeelde behoort ʼn aanduiding te gee van ʼn bepaalde tradisie waarbinne Cas Vos se Fragmente uit die Ilias gelees moet word – ʼn tradisie wat natuurlik redelik algemeen in die letterkunde voorkom. Wat Vos in die bundel onder bespreking doen, is reeds ʼn gevestigde praktyk in sy oeuvre.

Net soos die verwerking van tekste vir TV of film, is vertaling in wese ook ʼn redelik radikale vorm van oorvertelling. Soos ʼn film of ‘n kinderweergawe van ʼn verhaal, word vertalings ook aangepas vir bepaalde gehore en bevat dit in sigself getuienis van die skrywer se ideologiese intensie, sy teikengehoor en sy lesing van die bronteks.

Veral wanneer slegs dele van ʼn teks vertaal word, gee dié dele wat gekies word ʼn aanduiding van watter aspek van die teks vir die vertaler die swaarste weeg. Wanneer Vos by die vertaling van dele van die Uruk-fragmente kies om die heldedade te verswyg en op die spirituele aspekte van die verhaal te fokus, herskryf hy dus die mite op so ʼn wyse dat dit die tyd en die spesifieke handelingsmomente oorskry en dat dit wat durend is in die mens se lewe, die kernverhaal van sy vertaling uitmaak.

Ook in die Fragmente uit die Ilias word met ʼn baie spesifieke doel ingefokus op die lang verhaal. Ons het hier beslis te make met ʼn vertaling wat op ʼn meer akademiese gehoor gerig is, in ag genome die beduidende persentasie van die boek wat uit paratekste bestaan. Die digter is beslis bewus daarvan dat die lees van die vertaalde teksfragmente nie metonimies die hele teks kan laat saamresoneer sonder dat die leser kennis dra van die verhaalverloop van die oerteks, die agtergrond waarteen die narratief afspeel, die Griekse godedom en selfs die vele herskrywings van die teks nie. Hoe minder kennis die leser het van die bronteks, hoe geringer sal die impak van die vertaling op die teikengehoor wees. Daarom sluit die digter/vertaler die volgende aspekte as inleidende deel van die teks in:

1 Wat die Ilias en die Odusseia is; 2 Die invloed van Homeros se werk op die kultuur van die Griekse Oudheid; 3 Die komposisie en die outeurskap van die Ilias; 4 Die Homeriese versmaat en die invloed van die Ilias op die poësie as sodanig; 6 Verwerkings en vertalings van die Ilias in Afrikaans; 7 Besinning oor vertaling as sulks en motivering van die digter se vertaalstrategie. Hierdie gedeelte het 109 bronverwysings. Daarna volg ʼn afdeling Die Ilias op die weegskaal van die tyd waarin die sentrale konflik en die tematiek van die Ilias in oënskou geneem word en hoe dit tot vandag toe nog tersaaklik is deurdat dit steeds die mens en sy strewes versinnebeeld. Vervolgens volg ʼn kontekstualisering en ʼn opsomming van die inhoud van elk van die 24 boeke van die Ilias. Die slotgedeelte bevat bibliografiese verwysings en verklarings van persoonsname wat in die teks voorkom.

Hieruit behoort dit duidelik te wees dat die vertaler wil sorg dra dat die fragmente van die Ilias-teks wat die hoofdeel van die teks uitmaak, wel genoegsaam sal resoneer met die vele weergawes van die Ilias wat deur die eeue en die millenia vertel en neergeskryf is wanneer die Afrikaanse leser dit lees.

Die mitologiese aspek van die Ilias waarop Vos in hierdie vertaling infokus, blyk reeds uit die motto: “ʼn Siel … walg van ons stryd om net te seëvier en van ons wapengekletter.” In sy bespreking van die Ilias in die inleidende deel van die bundel skryf hy: “Dit is ʼn treurspel van gekrenkte trots, haat en wrok, wraak en vergelding, twis en versoening, viendskap en liefde, en van alle menslike emosies. Dit is die soort treurspel wat ook in ons tyd en lewe sou kon afspeel.” En in sy bespreking van die invloed van die Ilias op digters van alle tye, skryf hy: “Elkeen [elke digter] soek die groter prentjie van sy tyd en reise binne die klein landskap van die groot kosmos waarin hy leef.” Lees ʼn mens nou Vos se poëtiese verwerkings van fragmente van die Ilias, is dit presies wat hy doen. In sy kontekstualisering van Boek VIII van die Ilias vergelyk die digter byvoorbeeld eksplisiet die antieke oorlogvoering met moderne taktieke en verwys hy spesifiek na die ooreenkoms tussen die Eerste Wêreldoorlog en die Trojaanse Oorlog.

Kyk ʼn mens dan na wat Lotman die “sintagmatiese organisasie” van die teks noem, dus na Vos se poëtiese teks, is dit met die eerste oogopslag duidelik waar die digter die klem laat val:

Boek I is byna woordeliks vertaal uit die bronteks en beslaan 8 bladsye . – omtrent ʼn agtste van die teks van 24 boeke. Daarin word die agtergrond vir die stryd tussen die Trojane en die Achajers vertel. Lotman heg groot waarde aan die raam of die grense wat die kunswerk skei van alles wat daarbuite lê – dus die begin en die einde van die teks. Hy wys daarop dat die meeste mites begin met ʼn ontstaansverklaring waarin oorsaaklikheid geïmpliseer word. Wat Cas Vos se vertaling van fragmente van die Ilias betref, dui die klem op die begin van die teks (en die byna terloopse einde) daarop dat in sy teks – soos in ʼn mitiese verhaal – die klem val op oorsaaklikheid: hier gierigheid, wraak en weerwraak, verraad, liefde, liefdestwis en hegte vriendskap. Indien die leser weet wat die dryfvere agter die bloedige Trojaanse oorlog was, val die handelingsmomente wat uitgebeeld word, maklik in die groter prentjie in en behoort die leser dié grepe waarskynlik as metonimiese verwysings na die geheel te ervaar.

Kyk mens nou kortliks na wat vertaal word, blyk dit dat ten minste een kort fragment uit elk van die 24 boeke vertaal word om kontinuïteit te behou en om die teks as geheel op te roep, maar dat sekere handelingsmomente meer volledig uitgebeeld word as ander. Dit is duidelik dat dié verhale waarin die klem val op aspekte soos verraad, stryd, wraak, liefde, vriendskapstrou en verlies die uitvoerigste aandag geniet – alles menslike eienskappe waarmee die moderne leser kan identifiseer: Boek 6 – waar Hektor vir Alexandros verwyt dat hy die stryd begin het en nou in die stad bly in plaas van te veg. Baie klem word geplaas op Hektor se afskeid van sy geliefdes. Boek 16 – Achilles se weiering om te veg omdat Agamemnon hom beledig het, asook Patroklos (Achilles se geliefde vriend) se einde. Boek 22 – Achilles se wraak op Hektor omdat hy Patroklos se lewe geneem het en die dood en vernedering van Hektor. Weer eens word ʼn redelike groot deel van die gedig gewy aan die leed van Hektor se vrou, Andromache en haar klaagsang oor haar gestorwe eggenoot.

Oorkoepelend sou ʼn mens waarskynlik kon beweer dat die digter daarmee reken dat sy poëtiese fragmente van die oerteks metonimies by die lees sal funksioneer en sal resoneer met die moderne leser se ervaring of kennis van oorlogvoering. Klem op die begin van die teks en die algemeen-menslike eienskappe wat die tematiese lyn in die poëtiese weergawe van die teks vorm, aktiveer argetipiese, mitologiese waardes waarmee die moderne leser kan identifiseer: die universele verskrikking van oorlog wat dikwels deur die strewes van enkelinge gedryf word, verlies, rou en die hele spektrum van liefhê. Dié keuses en vertaaltegniek het uiteraard ook implikasies vir die interpretasie of herinterpretasie van die oorspronklike teks deur die teikengehoor. Die skrapsheid van die narratiewe elemente en die sterk liriese bou van ʼn groot aantal van die fragmente, maak van hierdie teks ʼn oop teks met baie leë plekke (lacunae) wat op kreatiewe wyse deur die leser ingevul kan word … of nié!

 

Wat die ou monnik aan die einde van The name of the rose oor sy vertelling en die fragmente wat hy in die ruïne gevind het dink, is dalk ook op hierdie teks van toepassing:

The more I reread this list the more I am convinced it is the result of chance and contains no message (…)  And it is a hard thing for this old monk […] not to know whether the letter he has written contains some hidden meaning, or more than one, or many, or none at all.

 

(Hierdie artikel is verwerk uit ʼn referaat wat ek op 1 September 2016 by die ALV-kongres in Potchefstroom gelewer het).

Bronverwysings

Jones, Francis R. 2006. ‘Geldshark Ares god of War’: Ideology and time in literary translation. The Yearbook of English Studies, 36(1):191-203.

Lotman, Yuri. 1981. Die Struktur literarischer Texte. München: Wilhelm Finck Verlag.

Tymoczko, Maria. 1995. The metonymics of translating marginalized texts. Comaparative Literature, 47(1):11-24.

Yoon, Sun Kyoung. 2014. Popularising Homer. The Translator, 20(2):178-193.

 

Breyten Breytenbach. Vertaling in Engels

Tuesday, August 18th, 2015

Breyten Breytenbach. Translated to English by / vert. deur Waldemar Gouws

 

embarrassing knowledge of nightfall

(or a shy look on darkness)

 

what would be the difference

between halt and shalt

in particular since one should be moving haltingly

along to reach that far row of fruit trees

on the road to mount darkness

 

no hurry

clarity will dawn unaided

in the black firmament above

where embers at the camp down sites

of a host of light lives ago

are still aglow

 

but as you climb to the top of the mountain

to witness the oneness of heaven and earth

being disconcerted then

a wind in the eyes

smell of starsmoke somewhere

crickets lower down a kloof

the dark of the moon a chip of invisibility

and the choppy awareness that dying itself is eternal?

 

hardly up and about

and matter-of-factness flouted

already deluded to think that light could be understood

in the light of concerns

and hence to write twilight conscious

that all existence will come to doom

in the stench of the dead baboon?

 

isn’t this a disgrace?

 

(c) Tr. by Waldemar Gouws / 2015 of the unpublished poem ‘skaamkennis van die aand’ of Breyten Breytenbach

Breyten Breytenbach. Vertaling in Engels

Saturday, June 27th, 2015

Breyten Breytenbach. Translated to Enlish by / vert. deur Waldemar Gouws

 

poem

take me through a zone of snow
farmlands with bales of hay in summertime
where birds eat the patches of words
then swarm to rhythms in motion
towards clearness, towards some clearness

take me back over the courses of a life
where loved ones lie with decayed faces
in cribs of dust
show me the purpose of the tortoise tracks in the sand
let me see the stars another final
first time blessing the earth
with clearness, with thirsty clearness

let me grasp how the wind hangs out
flags and joys for the fluttering
in the tremor of tree tops
let me hear the child cry
the boy’s laugh on his way to school
the lament of the hailer of darkness at night
for clearness, for the dream of clearness

let me stretch this body for a while yet
over the folds and the sighs of a woman
let the quivering of the spinal column be a flame
it’s all right that dark like day against the window glass
sheds the recalled in seed of forgetting
and that love and grief were mentioned
for the sake of clearness, for the sake of the silent song of clearness

take me to the highest mountain
let me carry stones in my trouser pockets
fit the wings of plastic across my shoulders
that I might soar where everything blue crackles
and only the empty level sea-mirror glitters
of clearness, of the blinding quality of clearness

lower me into the deepest well
where walls are damp from the searching of hands
for the moon that like a thought
is bobbing faceless in the deep’s dark
string the flow of words like a rope around my neck
and let me hang from the raw intertwinement of clearness

but let me sit squatting in silence
let it all come and go
let me forget and be absorbed in coming and passing away
let me hear the heart swobbling in the void
as it is a journey, a space of breath
of clearness, oh the clearness

 

(©Tr. by Waldemar Gouws / 2015 of the unpublished poem “gedig” of Breyten Breytenbach)

 

 

René Bohnen. Boomklim

Monday, June 9th, 2014

Google is ʼn bietjie soos boomklim. Voetjie op hierdie tak, voetjie op daardie tak. Effe regs, effe hoër, dan weer effe links. Binnekort sit jy op ‘n onbeplande plek met ʼn uitsig. Meestal weet jy nie mooi hoe jy daar gekom het nie. Of hoe om weer af te klim nie. Dan maar laat los en spring. Quit. Escape. Soiets.

Daar is ook maar verskillende maniere van laat los. Soms besef mens mos so vreeslik konkreet dat jy jou mees Suidelike gedigte skryf in ʼn moontlik sterwende taal. Partykeer dink ek so. Die bekende wete dat ek onbelangrik is en niks het om te verloor nie, I may as well lose face, laat my, vreemd aan my aard, iets impulsief doen. Soms.

So beland ek laasmaand by Lawrence Ferlinghetti. A Coney Island of the mind. Nie dat ek dit nog nooit gelees het nie, maar intussen het ek mos baie ouer geword. En Ferlinghetti is 95, daar in San Francisco. Ek was nog nooit in San Francisco nie. Die kanse lyk ook maar skraal tot zero. Nogtans, in April, resoneer woorde uit die ou gedigte hard en duidelik.

Pity the nation whose people are sheep
And whose shepherds mislead them
Pity the nation whose leaders are liars
Whose sages are silence

                                 (uit: Pity the Nation)

en ook:

And which side are you on
sang the birds
Oh which side are you on
in the Third World War
the war against the Third World?

(uit: Song of the Third World Birds)

Maar die gedig wat my toe ʼn vertalingsbevlieging gee, is “In Goya’s greatest scenes we seem to see”. Alhoewel ek die artikels oor vertaling hier op Versindaba (en elders) getrou volg, en ernstig bedink, is ek nie ‘n gesoute of sistematiese vertaler nie. Dit is nie eers iets waaraan ek my toewy nie – dis letterlik altyd bevliegings vir spesifieke gedigte. Dan vertaal ek blitsig en hersien stadig. So was dit met bogenoemde Goya-vers. Hoor hom terwyl ek in spitverkeer sit, laat dit insink, wonder, wonder oor nuanses en klanke, oor direktheid en oor interpretasie. Vertaal ek vry of streng direk? Waar grens dit te veel aan omdigting? (Tussendeur verskyn De Waal Venter se blog  (http://versindaba.co.za/2014/06/02/de-waal-venter-vertaal-herskep/) en dit bevestig vir my sekere dinge wat ek dink (dankie, De Waal!). Ek onthou ook gedagtes en notas van Daniel Hugo en Henning Pieterse. Verder probeer ek luister wat die gedig fluister. Uiteindelik is daar ʼn weergawe wat begin bevredig, hoewel dit nie volmaak is nie.

Dis toé dat ek uit die boom val. Eers lees ek die (Afrikaanse) vertaling hardop en neem dit op met ʼn klein diktafoontjie. Toe stuur ek beide die teks en die klankgreep vir Lawrence Ferlinghetti by ‘n e-adres. Ek vertel hom ‘n klein bietjie van hoe ek waar te werk gegaan het, wat my idee was met bv “mal haantjie”. Hoe ek sy alliterasies probeer behou het, selfs tydens interpretasie. Hoekom “slagvere” aansluit by “cocks” en geweerhane. Hoekom slag ‘n geweldadige woord is.

Wat dink hy daarvan? Ek weet nie. Maar ek weet daar is ʼn Afrikaanse gedig/vertaling in City Lights Books. In San Francisco. (Al was ek nog nie daar nie, het ek darem ʼn T-shirt (glimlag). Hierso gekry http://www.citylights.com/ferlinghetti/ )

Hier is Ferlinghetti se oorspronklike vers:

   In Goya’s greatest scenes we seem to see

   In Goya’s greatest scenes we seem to see

                                           the people of the world   

       exactly at the moment when

             they first attained the title of

                                                             ‘suffering humanity’   

          They writhe upon the page

                                        in a veritable rage

                                                                of adversity   

          Heaped up

                     groaning with babies and bayonets

                                                       under cement skies   

            in an abstract landscape of blasted trees

                  bent statues bats wings and beaks

                               slippery gibbets

                  cadavers and carnivorous cocks

            and all the final hollering monsters

                  of the

                           ‘imagination of disaster’

            they are so bloody real

                                        it is as if they really still existed

 

    And they do

 

                  Only the landscape is changed

 

They still are ranged along the roads   

          plagued by legionnaires

                     false windmills and demented roosters

They are the same people

                                     only further from home

      on freeways fifty lanes wide

                              on a concrete continent

                                        spaced with bland billboards   

                        illustrating imbecile illusions of happiness

                       

                        The scene shows fewer tumbrils

                                                but more strung-out citizens

                                                                     in painted cars

                               and they have strange license plates   

                           and engines

                                           that devour America

                                                  (Lawrence Ferlinghetti)

So lyk my vertaling:

In Goya se grootste tonele sien ons skynbaar

In Goya se grootstetonele sien ons skynbaar

                                                  die mense van die wêreld

       presies wanneer hulle vir die eerste keer

                                 vir die titel ‘ lydende mensdom’

                                                          kwalifiseer  

          Hulle worstel op die bladsy

                                       wanhopigverwoed

                                             in onweerlegbare beproewing

Opgehoop

               kreunend by babas en bajonette

                                                             onder betonhemele

         in ʼn abstrakte landskap met gebarste bome

     gebuigde beelde vlermuise vlerke en snawels

                                      gladde galge

                             kadawers en slagvere

         en die laaste gillende gedrogte

             van die

                      ‘verbeelding van rampspoed’

hulle is so vervloeks werklik

                                  asof hulle regtig leef

 

En werklik hulle leef

 

                    Slegs die landskap het verander

 

Hulle swerf nog op die paaie

        verpes deur vegters

                  gewaande windmeulens en mal haantjies

Dis dieselfde mense

                        net verder van die huis af

          op breë vyftiglaan-snelweë

                    op ʼn sement kontinent

                           uitgemeet in afgesaagde advertensieborde

                         wat imbesiele illusies van geluk illustreer

 

           Die toneel toon minder lykskarre

                                   maar meer bevange burgers

                                               in geverfde vuurwaens

               en hulle het vreemde nommerplate

en enjins                                         

                   wat Amerika verteer


Ek wonder nog steeds oor enkele woorde. Reël 19, byvoorbeeld. Moet ek sê: hulle is so verdomp werklik of is vervloeks goed genoeg? Is leggionnaires ridders of soldate of vegters, in die konteks van die gedig, die tydsverplasing en my taal? Het ek die balans behou tussen vryvertaling en nie te ver afwyk van die oorspronklike nie? Is werklik ʼn beter woord as eg? Ek dink nog daaroor.

Maar terwyl ek toe nou in die Google-boom rondklouter op Goya-takke, probeer ek sommer Andrei Voznesensky se gedig ook:

I am Goya

I am Goya
of the bare field, by the enemy’s beak gouged
till the craters of my eyes gape
I am grief

I am the tongue
of war, the embers of cities
on the snows of the year 1941
I am hunger

I am the gullet
of a woman hanged whose body like a bell
tolled over a blank square
I am Goya

O grapes of wrath!
I have hurled westward
the ashes of the uninvited guest!
and hammered stars into the unforgetting sky – like nails
I am Goya

                  (Andrei Voznesensky)

My vertaling:

Ek is Goya

Ek is Goya
van die verlate vlakte, deur vyandsnawels gepik
totdat my oogkaste oopkrater
Ek is smart

Ek is die tong
van oorlog, die sintels van stede
in 1941 se sneeu
Ek is hongersnood

Ek is die gorrelpyp
van ʼn gehangde vrou wie se lyk
beier soos ‘n klok oor die oop plein
Ek is Goya

O vrugte van vergelding!
Weswaarts werp ek
die ongenooide gas se as!
en kap sterre soos spykers in
die hemel se lang geheue
Ek is Goya

Ek sukkel nog met die vrou se lyk wat “beier” en “gehangde” voel ook nie heeltemal reg nie. Geen van die alternatiewe werk nog vir my nie.

Ek dink ek hou nogal van “vrugte van vergelding

Daarna het ek my eie Goya gedig ook geskryf. Maar ek weet nog nie hoe ek daaroor voel nie. Daai vruggie sit nog aan die tak vas.

Andries Bezuidenhout. Die digter – vertaling van ʼn gedig deur Ko Un

Sunday, September 8th, 2013

Nog altyd was hy ʼn digter.
Kinders
het na hom as ʼn digter verwys
en vroue ook.
Hy was beslis ʼn digter,
meer as enigiemand anders wat ek ken.
As hulle hom teëkom
het selfs otte en bosvarke digter gegrom.

Hy’s dood toe hy terugkeer van ʼn epiese reis.
Geen digterlike woord in sy kamer nie.
Was hy dan ʼn digter wat nie skryf nie?
Toe skryf ʼn digter maar namens hom ʼn vers
en toe dit voltooi is,
swiep die wind dit weg.

Al die gedigte van die Ooste en die Weste waai weg, oud en nuut,
fladder, fladder weg,
die laaste een daarmee heen.

Na Clare You en Richard Silberg se vertaling “The Poet” uit: Ko Un, The Three Way Tavern: Selected Poems (2006, University of California Press), p. 53.

René Bohnen. Geel is die dal van doodskaduwee

Sunday, August 25th, 2013

In Augustus is Gauteng maar vaal. Daarom was ek baie dankbaar vir ʼn geskenk wat ek uit die bloute ontvang het:10 dae of so in die omgewing van die Tuinroete – ek hoef net petrol te betaal. En ek weet die suikerkanne blom.

Volgens die neurowetenskaplikes verval ons maklik in alfagolwe in die brein wanneer ons bestuur. So ry ek toe al hoe mymerender deur die Vrystaat en die Karoo; elke klein dorpie, elke vervallende dorpie, met die groeiende armoede. Ek skryf stowwerige gediggedagtes solank neer, fragmente van verse by die petrolstoppe.

Paar dae naby Tafelberg, toe weer na Stilbaai se kant toe. Die omgewing is pragtig in die Groen Seisoen, à la die toerismeburo’s. Ry verby Heidelberg. Caledon. Riviersonderend. Die afdraaibordjie na Bredasdorp.

Daar is swart kraaie langs die pad. Ek het in die koerant gelees dat hulle ‘n verpesting begin raak in die Wes-Kaap. Hulle sit en wag by die ooie, eet dadelik aan die nageboortes, pik sommer die nuwe lammetjie se oë ook uit.

Geel is die dal van doodskaduwee, speel ek met woorde in die Overberg. Anene Booysen, spel die helder canola-lande in die goue uur van fotografie, as ek stilhou langs ‘n plaashek om tog die knoppie te druk. Tjoklitboks. Inderdaad.

Terug by die huis, wen my foto ʼn prys. Maar my emosies verloor al die pad. Sy is dood in Februarie 2013.

Iets moet my help. Ek lees ʼn vroeë Rimbaud. Weer. Miskien omdat hy jonk was, soos sy. Die gedig se datum is Oktober 1870.

My vertaling is onbeholpe, soos my gevoel, my frustrasie met my onvermoë om die impak van hierdie (en al die soortgelyke) voorvalle in poësie te verwoord. Ek het nie eers sy rymskema in die sonnet behou nie.

Slaper in die vallei                  

Dit is ʼn lowergroen holte waar ʼn rivier sing,

besete die gewasse behang met flardes

silwer; waar die son oor die bergriwwe

skyn: dit is ʼn dal vol lig soos geklopte skuim

 

ʼn Jong soldaat, sy mond oop, kop onbedek,

en sy nek gebaai in die blouerige bronslaai,

slaap; hy lê uitgestrek in die gras, in die ope lug,

bleek in sy groen bed waar lig op hom neersif

 

Voete in die swaardlelies, slaap hy. Glimlag

soos ʼn olike kind glimlag as hy indut.

Natuur, sus hom knussies, hy is soos ys

 

Soet geure roer nie sy neusvleuels nie,

hy slaap in die sonlig, die hand op sy bors

botstil. Hy het twee rooi gate in sy regtersy.

                                                                     (Arthur Rimbaud – Le Dormeur du val)

Oor en oor skeur ek beginne op, smyt hulle in die snippermandjie. In perverse volharding met die onbevredigende, skryf ek net twaalf reëls.

Slapende skoonheid

Die nag is geel blomme in die vallei, sneeu

versiersuiker die ewige blou gebergtes


ʼn Jong meisie lê tussen twee huisies

op ʼn bekende bouterrein; in haar ore

die laat klanke van liedjies en wyn

 

Sy lê met haar maag kaal op die sand

naby die partytjieplek. Daar is ʼn ritme

in die nag, ʼn hip-hop maatslag en sy

 

lê been-af en keel-af, bewegingloos

in die donker; fluister eenmaal sy naam.

Onderkant haar ferm borsies stroom nat

ingewande uit haar oopgekloofde buik.

 

Ek plaas die blog nou maar hier, maar ek weet niks is klaar nie.

Andries Bezuidenhout. Voor die reis – vertaling van ʼn gedig deur Wisława Szymborska

Tuesday, August 6th, 2013

Ruimte, noem hulle dit.
Gemaklik met een woord gedefinieer,
veel moeiliker met baie.

Gelyktydig leeg en vol van alles?
Dig toe, ten spyte van oop wees,
want niks
kan daarvan ontsnap nie?
Grensloos uitgedy?
En as dit dan begrens is,
waar de hel aan grens dit?

Nou ja toe. Slapenstyd nou.
Dis nag, môre het dringender aangeleenthede
spesiaal uitgeknip vir jou:
tas na voor die hand liggende voorwerpe,
werp blikke binne trefafstand.
Luister stip na stemme binne hoorafstand.

Dan daardie reis van punt A na B.
Vertrektyd om 12:40 ter plaatse
en die vlug bo plaaslike newelwolke
deur welke oneindige
vlietende stukkie lug ook al.

Oorspronklike gedig: “Przed podróżą”, vertaal deur Clare Cavanagh en Stanisław Barańczak as “Before a journey”. Uit: Wisława Szymborska. Here (Mariner, 2012), pp 28-29.

Pieter Odendaal. Vertaling van Chris Mann

Monday, March 12th, 2012

Natuurkenners
Chris Zithulele Mann

Die natuurkenners wat ek ken
het bruin arms en groen vingers,
en vlinders kom slaap in hul baarde.
Hulle maak met pluisies kele skoon wat teer
is van besmette dou en wanneer hulle nies
bestuif hulle perskes en pruime.

Sonder hul geduldige geesdrif
sou ek niks van walvisse weet
wat jodel en bloep in die see nie,
hoe wespe vir hul kleintjies boeliebief
in modderblikkies bêre, watter bulte
saad moet kry en wanneer hulle braak moet lê.

Molekules en melkweë
warrel en ontplof
in heelalle buite hul fokus.
Daar’s genoeg tussenin om van te leef.

Nie net bye nie,
maar ook hul stuifmeel-sambas,
buiten groen en rooibruin eike,
ook boeke vol filosofie;
meer as bloot ’n druiwestok, ’n ruisende kerk
wat saad uit son en grond verwek.

Skermutselings en seges
warrel en ontplof
in heelalle buite hul fokus.
Daar’s genoeg tussenin om van te sing.

Vertaal deur Pieter Odendaal, Maart 2012.

#

Naturalists
Chris Zithulele Mann

The naturalists I know
have brown arms and green thumbs,
and butterflies roost in their beards.
With tiny pads, they wipe polluted dew
from tender throats, and when they sneeze
they pollinate peaches and plums.

Without their patient passion
I wouldn’t know why whales
yodel and bloop beneath the sea,
how wasps preserve their infant’s bully-beef
inside a mud-walled tin, what slopes
to sow, and when to let them sleep.

Molecules and galaxies
swirl and erupt
in universes beyond their focus.
They find enough to live by in between.

In addition to a bee
its pollen pantaloons;
not just a green and russet oak,
a thousand pages of philosophy;
more than a vine, a rustling church
transmuting sun and earth to seed.

Quarrels and conquests
swirl and erupt
in universes beyond their focus.
They find enough to marvel at between.

© Chris Zithulele Mann.