Posts Tagged ‘vertalings’

Daniel Hugo. Die wording van ‘n vertaler

Thursday, June 3rd, 2010

Daniel Hugo: Die wording van ‘n vertaler

 

The Low Countries

The Low Countries

Hierdie essay word geplaas met die vriendelike vergunning van The Low Countries wat met hul nuutste uitgawe (2010/18) ‘n spesifieke fokus op Suid-Afrika bevat. Hul kontakbesonderhede volg hieronder:

The Low Countries. Arts and Society in Flanders and the Netherlands (2010, nr.18)

is a yearbook which aims to inform the English-speaking world about

the culture of Flanders and the Netherlands.

 

PUBLISHER

Flemish-Netherlands Association ‘Ons Erfdeel vzw’

Murissonstraat 260, B-8930 Rekkem, Belgium

Tel. +32 56 41 12 01 - Fax +32 56 41 47 07

www.onserfdeel.be and www.onserfdeel.nl

thelowcountriesblog.onserfdeel.be

tlc@onserfdeel.be

 

Price South Africa:  € 45

inclusive of shipping costs (+ € 22.39 for payments by cheque).

 

 

In my ouerhuis het ‘n geraamde spreuk gehang. Op swart satyn in goud geborduur het daar gestaan: “Gezelligheid kent geen tijd”. Dit was ‘n geskenk uit Nederland van my pa se broer wat in die vyftigerjare klassieke tale aan die Universiteit van Utrecht gestudeer het. Dit was my heel eerste kennismaking met Nederlands. Al kon ek die betekenis onmiddellik snap, was die spelling, die grammatika en die lewenshouding van dié swierige woorde vir my vreemd.

In Afrikaans sou dié spreuk só klink: “Geselligheid ken nie tyd nie”, of idiomatieser: “Geselligheid steur hom nie aan tyd nie”. Maar met die Afrikaanse dubbele negatief gaan die bondige trefkrag van dié rymende spreuk verlore. Dat hierdie einste dubbele negatief my jare later as vertaler dikwels ‘n skeelhoofpyn sou besorg, kon ek tóé natuurlik nie weet nie. En wat daardie so kernagtig geformuleerde lewenshouding betref: In die geroetineerde, Gereformeerde pastorie waarin ek grootgeword het, was daar beslis nie veel tyd vir geselligheid nie. Baie jare later eers sou ek besef dat hierdie spreuk sy oorsprong heel waarskynlik in die gemoedelike, Katolieke suide van die Lae Lande moes gehad het, eerder as in die Calvinistiese, strenge noorde. Ek weet dat ek my hier aan ongeoorloofde stereotipering skuldig maak, soos later sal blyk.

My eerste bewuste kennismaking met die Nederlandse literatuur was in die jaar 1964. Ek was toe nege jaar oud en die boek was die Afrikaanse vertaling van die Vlaamse skrywer Leopold Vermeiren se Die Rooi Ridder. Dit begin só: “Die silwer klanke van die trompette sny deur die môrelug. Die swaar valbrug word neergelaat oor die breë kasteelgrag, en die jong Oerold, groot en sterk, ry op sy pikswart perd deur die poort. Hy hou ‘n oomblik die teuels in. In die ooste lê die son nog jonk en rooi, suidwaarts strek die vrugbare lae polderland, en in die weste, anderkant die rivier wat die hele laagland in twee sny, lê die geweldige groot Dagonwoud.” Dae lank het dié adjektiefryke Middeleeuse wêreld my geboei - dáár in die afgeleë, snikhete, droë Namibië waar ons gewoon het. Per kerende pos het ek aangesluit by die “Orde van die Rooi Ridder”. Dié ridder was die skrik van die wrede kasteelhere, maar die vriend en beskermer van die armes. Ek het ook die res van die reeks verslind, met my lapelwapentjie (’n eiketakkie met drie akkers) trots op my bors vasgesteek. Totdat die reeks abrup en sonder verduideliking in die middel van die Rooi Ridder se avonture as Kruisvaarder onderbreek is.

In die “Ou Suid-Afrika”, waarvan Namibië (destyds Suidwes-Afrika) deel uitgemaak het,  moes hoërskoolleerlinge ‘n Nederlandse boek lees as deel van die vak Afrikaans. Ons voorgeskrewe boek in die vroeë sewentigerjare was Aart van der Leeuw se De kleine Rudolf. Van die verhaal onthou ek byna niks meer nie. Veel Nederlands het dit my ook nie geleer nie, omdat ons onderwyser die boek al voorlesende in Afrikaans vertaal het. Die literatuurhistorikus G.P.M. Knuvelder slaan die styl van hierdie boek nogal hoog aan: “… onder de pen van deze auteur gaat ook de taal bloeien, krijgen de woorden klank en kleur, dragen de zinnen zich voort op een bekoorlijk ritme”. Van dié klank, kleur en ritme het ons uiteraard niks gemerk nie. Die onderwyser het nooit ‘n woordeboek geraadpleeg nie, en was sekerlik ook onbewus van die tallose valse vriende tussen Afrikaans en Nederlands. Ek is heeltemal daarvan oortuig dat hy op dié manier ‘n alternatiewe verhaal geskep het. Vandag sou ‘n mens dit seker ‘n postmodernistiese leesstrategie kon noem.  

Dit was eers aan die Universiteit van Stellenbosch dat ek werklik met die Nederlandse letterkunde kennis gemaak het - in lesings aangebied deur professore wat in Nederland gestudeer het in die dae van onbelemmerde kulturele uitwisseling. Die bekendste van hulle was ongetwyfeld prof. W.E.G. Louw, die digter en broer van N.P. van Wyk Louw. Hy het vanaf 1935 tot 1939 aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam gestudeer en het perfekte Nederlands gepraat. Hy kon ook gedrae en roerend voordra uit Gorter, Leopold, Achterberg en Nijhoff.  

Ondanks die offisiële opskorting van die kulturele betrekkinge tussen België en Suid-Afrika is ek toegelaat om in 1983 aan die Katholieke Universiteit van Leuven te studeer. Ek was destyds ‘n lektor in die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, en daar het ‘n informele skakeling tussen die twee universiteite bestaan. Ek het klas geloop by onder andere Hendrik van Gorp en Hugo Brems. En in die universiteitsbiblioteek kon ek al die boeke vind wat destyds in Suid-Afrika verbied was! Dit was vir my ‘n openbaring en ‘n opvoeding. Vir die eerste keer het ek besef presies hóé onderdrukkend en onmenslik die apartheidsregering was. Ek het toe ook besef dat ‘n kulturele boikot ewe nadelig is as die sensuur van ‘n diktatuur. Albei hou mense onkundig. Ek sal die Universiteit van Leuven altyd dankbaar bly dat ek gedurende die hoogty van apartheid daar kon studeer.

Een van die hoogtepunte vir my daardie jaar was die Antwerpse Boekebeurs, “Het andere boek”, waar ek die pas vrygelate Breyten Breytenbach in ‘n vraaggesprek sien optree het. (Breytenbach is die voorafgaande sewe jaar in gevangenisse in Suid-Afrika aangehou weens beweerde “terroristiese bedrywighede”.) Die gespreksleier was die digter en joernalis Herman de Coninck. By dieselfde boekebeurs het ‘n baie jong, bekkige en rebelse Tom Lanoye sy gedigte “perform”.

Nooit het ek tóé kon dink dat ek twaalf jaar later Herman de Coninck én Tom Lanoye in Afrikaans sou vertaal nie. Ná hierdie twee Vlaminge het ek ook die Nederlanders Herman van Veen, Harry Mulisch, Gerrit Komrij en Karel Glastra Van Loon vertaal. En ter wille van die Noord-Suid-balans toe weer ‘n Vlaming: David van Reybrouck. Met die uitsondering van Mulisch het al dié skrywers Suid-Afrika met die bekendstelling van die vertalings besoek, en sodoende die kwynende vlammetjie van Nederlands in “donker Afrika” brandend help hou.

“Gezelligheid kent geen tijd” sê die Nederlandse spreuk. En ná my jaarlange studieverblyf in Leuven was ek daarvan oortuig dat hierdie lewensmotto sy oorsprong in nonchalante, gemoedelike Vlaandere gehad het. Maar hoe misleidend stereotipering kan wees, het ek ook in Vlaandere uitgevind. ‘n Paar jaar gelede woon ek ‘n vertalerswerkswinkel by wat deur die Nederlandse Taalunie georganiseer is en wat in Nederland én België plaasgevind het. In ‘n lesing oor die kultuurverskille tussen Noord en Suid beweer die spreker dat Nederlanders absolute stiptelikheid van ‘n mens verwag. Maar as jy in Vlaandere na iemand se huis genooi word en jy klop betyds aan, is die huismense heeltemal onkant betrap. Die gasheer het dan nog sy pantoffels aan en die gasvrou staan in haar voorskoot voor die stoof. In Vlaandere is dit goeie maniere om ten minste ‘n halfuur laat te wees, verseker daardie kultuurkenner ons. Tydens die Belgiese been van die werkswinkels in Antwerpen word ek vir aandete uitgenooi na die huis van die radioman Jean-Pierre Rondas. Die afgespreekte tyd is sewe uur. Met my nuutgevonde kennis sit ek op die Concience-plein en wag tot om half agt voor ek aanlui. Mevrou Rondas maak die deur oop en is baie verlig om my te sien - want Jean-Pierre ry al ‘n halfuur lank op sy fiets rond op soek na my. Hy dag ek het verdwaal!  

 

Bronne

 

Daniel Hugo: “Nederlandse literatuur in Afrikaanse vertaling”, Filter, September 1998.

 

G.P.M. Knuvelder: Beknopt handboek tot de geschiedenis der Nederlandse letterkunde, sesde druk, Malmberg Den Bosch, 1974.

 

Leopold Vermeiren: Die Rooi Ridder - Vertaal deur Elma Hartman en Deon van den Heever, Nasionale Boekhandel, Kaapstad, 1964.

 

Daniel Hugo (1955) is ‘n omroeper, digter en vertaler. Hy woon op Stellenbosch.

 

Daniel Hugo

Daniel Hugo

Daniel Hugo is op 26 Februarie 1955 op Stellenbosch gebore. Hy gaan skool op Greyton en in Windhoek. Daarna studeer hy aan die Universiteite van Stellenbosch (BA (Hons)), Pretoria (MA) en die Vrystaat (DLitt). Op Stellenbosch was hy ‘n lid van D.J. Opperman se Letterkundige Laboratorium.

Hugo het in 1982 met Korte mette as digter gedebuteer. Sy jongste bundel is Die panorama in my truspieël. Hy is ook bekend as vertaler van die Nederlandse digters Gerrit Komrij (Die elektries gelaaide hand) en Herman de Coninck (Die lenige liefde). Ná byna 20 jaar as omroeper by die Afrikaanse radiodiens van die SAUK is hy nou ‘n vryskut-taalpraktisyn.

Daniel Hugo is getroud met Carina Diedericks-Hugo, uitgewer en bekroonde skrywer van kinder- en jeugboeke.

 

 

Onderhoud: Antjie Krog

Saturday, May 23rd, 2009

‘n Sterk letterkunde bestaan nie in fluff nie

Antjie Krog in gesprek met Louis Esterhuizen 

 

Antjie Krog

Antjie Krog

Antjie Krog is digter, joernalis en Buitengewone Professor aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Sy het elf Afrikaanse digbundels en twee bundels kinderverse gepubliseer. Haar twee nie-fiksie-werke, Country of my skull (1998) en A change of tongue (2003), verskyn in Engels.

Vir haar poësie het Krog onder andere die volgende pryse gewen: die Eugene Marais-prys (1973); die Rapport-prys (1987); die Hertzogprys (1990); die FNB Award (2000) en die RAU-prys (2000). Vir haar vertaling van gedigte uit die inheemse tale, Met woorde soos met kerse (2002), ontvang Krog in 2003 sowel die Toekenning vir Voortreflike Vertaling van Poësie as die Toekenning vir Beste Vertaler van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut (SAVI) in 2003.

Gedigte van Krog is in Nederlands, Frans, Spaans, Duits en Italiaans vertaal.

In 2009 verskyn ‘n keur uit haar werk, Digter wordende , by Human & Rousseau.

 

 

 

Antjie, jy is onlangs gekies as digter vir die Vlaams-Nederlandse Gedichtendagbundel 2009 wat op 29 Januarie vanjaar verskyn het. Dit is uiteraard ’n groot eer vir ’n Suid-Afrikaanse digter en ’n pluimpie vir jou eie digkuns. Vertel ons ietsie meer hieromtrent?

 

ʼn Mens word eenvoudig verstom deur die effektiewe geesdrif van Nederlanders jeens hul letterkunde en veral die poësie. Elke jaar word 29 Januarie as Gedigtedag gevier. Poetry International is die dryfkrag daaragter, maar die hele land neem op verskeie vlakke daaraan deel. Daar is ‘n groot literêre prys vir die beste digbundel. ‘n Paar maande voor die tyd word die kortlys aangekondig en dan word geweldig aandag aan hierdie bundels en digters gegee. Die idee is dat elke winkel ‘n plakkaat met ‘n gedig op sal hê, elke koerant moet ‘n gedig plaas, die radio en televisie    selfs die nuus    fokus op gedigte en digters. As “Digter van die dag” moes ek spesiaal tien gedigte skryf wat dan in ‘n standaard dun boekie gedruk en vir twee euro verkoop word by elke till. Oral in die winkels het ek gesien waar mense dit vir hulleself en mekaar koop. Die parlement moes ook dié dag met een van my gedigte open. Vyftienduisend kopieë is verkoop. Vir die gedigtedag moes ek verskeie televisie– en radio-onderhoude voer, asook voorlesings doen. Bitter vroeg die oggend moes ek in Utrecht op die stasie begin waar ‘n paar digters voorgelees het. Daar was ‘n kleinerige verhogie, maar ons gedigte is op enorme vaandels aangebring wat van die dak af gehang het. Soos die mense heen en weer verbystroom, het hulle vir ‘n minuut of wat stilgestaan en luister. Elke vierde jaar word die Dichter des Vaderlands gekies en vanjaar het van die jonges besluit om vir hulself ‘n kampanje te maak. Daar is toe intensief voorgedra, nuwe goed geskryf, briewe vir koerante gestuur, profiele opgebou, bekgevegte gehou in die sin van ook ʼn bietjie uit te wys waar die ander tekortskiet. Dit het gemaak dat daar ‘n rekord getal mense gestem het vir die digter per selfoon of op die internet. Die aand vóór gedigtedag is daar ‘n reuse geleentheid gehou waar die pryswennende digter aangekondig is uit die kortlys, en uiteindelik is die nuwe vaderlandsdigter aangekondig. Dit was naamlik Ramsy Nasr, wie se pa ‘n Palestyn en ma ‘n Hollander is. Sy hele Palestynse familie was daar en Ramsy se ma het haar hande etlike kere in die lug gegooi sodat Ramsy agterna vir my moes sê: “Uiteindelik het my ma haar soos ‘n egte Palestynse vrou gedra.”  Al die aspirant-vaderlandsdigters moes ‘n gedig skryf waarin die land gepeil word en ek moet sê, Ramsy s’n was ongelooflik: dapper en skerp. Hy bly tans in Antwerp waar hy die stadsdigter is. En dit is ‘n ander ding: stede stel elkeen ‘n stadsdigter aan vir drie jaar. Daardie digter moet dan gereeld optree, literêre geleenthede reël, projekte uitdink wat poësie bevorder en ook oor gebeure in die stad skryf. Toe daar arm mense verskuif is in Antwerp, het Ramsy ‘n stuk daaroor geskryf. Die koerante staan tot my verbystering ongelooflik baie plek aan so iets af. Wat ek nog interessanter vind, is dat daar altyd gesê is dat ʼn digter net in Afrika ‘n sosiale en politieke funksie het, in “real literature” is dit kuns om die kuns. Nou blyk dit dat die Hollanders aan hul digters ‘n uiters belangrike funksie toeken ten opsigte van sosiale betrokkenheid. Want ons het nog nie eers gekom by die rol van die Dichter des Vaderlands nie …

 

Sjoe, Antjie. ʼn Mens staan omtrent stomgeslaan ten aanhore van sóveel aktiwiteit en inisiatiewe … Dit is natuurlik wat moontlik is wanneer jy jou in ʼn enkeltalige kultuur bevind met die staat wat sulke projekte daadwerklik kan steun. In Suid-Afrika, met sy meertalige samelewing, is só iets helaas nie moontlik nie. Individue (en geïnteresseerde instansies) moet maar sélf skouer aan die wiel sit om die gedigte-wa deur die drif te kry. Met hierdie as uitgangspunt – kon jy enige projekte en/of inisiatiewe identifiseer wat jy voel dalk met sukses by ons toegepas kan word? Meer voorlesings, dalk? Media-dekking?

 

Nederland is miskien op hierdie stadium homogeen, maar hy word oorstroom deur mense van ander tale, kulture en godsdienste. Ook is Nederlands maar ʼn klein taaltjie wat veg vir oorlewing in Europa. Vertaling en meertaligheid is hierin sy grootste wapens. Ons as Afrikaanssprekendes is op ʼn manier bederf omdat die staat na die taal gekyk het. Hoe onregverdig ook al, die taal is op alle vlakke in stand gehou. Nou moet ons self daarna omsien en waarop dit dikwels neerkom, is dat ons op Nasboek of Stellenbosch Universiteit skel omdat hulle nie Afrikaans in stand wil hou soos dit met die vorige bedeling die geval was nie. Ons koop nie Afrikaanse boeke nie, Afrikaanse bruin – en wit kerke, skole en universiteite smelt nie saam nie; daar is nie ʼn Afrikaanse oorlewings- en uitbreidingsplan op die tafel wat almal betrek nie. In terme van die poësie is daar baie te doen. Waarom het ons byvoorbeeld nie ʼn poësiedag nie? Waarom word sekere aksies nie vir daardie dag geteiken nie? ʼn Spesiale gedig as poskaart, motorsticker, plakkaat, koerant, twee spesiale digbundels wat in elk geval sou verskyn het, die poësieprys, gedigte vertaal uit ander tale in Afrikaans: byvoorbeeld Neruda en Mqhayi. Ons vra die nuus om te open met ʼn gedig, die radio, skole moet gedigte opplak. In Nederland kry jy die mooiste kussingslope met liefdesgedigte, voorskote met kosgedigte, pennesakkies, koffiebekers met jong digters se verse daarop afgedruk. Indien dit goed werk, volg die ander tale ʼn mens dalk na en kan jy uiteindelik ʼn veeltalige gedigtedag hê. Ek het dit op UWK gedoen. Vanaf die hekke waar die studente inry, of afklim, is pamflette met poësie uitgedeel. Oor die hele kampus was gedigte in Afrikaans, Xhosa en Engels opgeplak. Die hoofgedig was van Ingrid Jonker in drie tale. Studente kon hul eie gedigte by die biblioteek opplak en daar was pryse. Tydens middagete was daar ʼn uurlange poësie-voorlesing van nasionale –, internasionale – en studente-digters. Ek onthou dat selfs die skoonmakers dit bygewoon het.

                 

Pas het daar Digter wordende, ’n keur uit jou verse en deur jou saamgestel, verskyn. Wat was die aanloop hiertoe en hoekom het jy op die spesifieke indeling van afdelings besluit; ’n struktuur wat ek self uiters opwindend beskou, bygesê.

 

Human & Rousseau is tans in die proses om van ‘n paar van hulle digters ‘n soort bloemlesing uit te gee. Hulle sou dit doen vir my 50ste verjaarsdag, maar almal was te besig met ander goed en so moes ek toe inspring sodat hulle dit nie doen vir my sestigste verjaarsdag nie. Om te kan kies moet jy leidrade hê, en temas is die maklikste. Dit was egter ‘n wins dat my gedigte oor die jare heen dieselfde temas aangespreek het; elke tema toon dus op sigself ‘n ontwikkeling van jeug na ouderdom. 

 

In ’n onderhoud wat ek met Alfred Schaffer gevoer het oor die teenwoordigheid van die Afrikaanse digkuns in Nederland, het hy genoem dat jóú prominensie en verkope groter en meer is as selfs van die vernaamste Nederlandse digters. Waaraan sal jy hierdie sukses van jou toeskryf?

 

Ek het nie ʼn benul nie. Aanvanklik het ek gedink dit is maar Suid-Afrikaners wat daar woon en heimwee het, maar dit blyk toe nie so te wees nie. Toe het ek gedink hulle beskou my eintlik as ʼn soort van wit barbaar: lyk soos hulle, klink amper-amper soos hulle, maar swaai poësie soos ʼn byl of ʼn hellebaard en dis vir hulle opwindend, maar nie noodwendig in die kader van wat hulle as goeie poësie sou reken nie. Toe begin die resensies inkom (en die gehalte van nuansering van die resensies is ʼn gesprek in eie reg) en dit is so goed dat die uitgewers nou hierdie opmerkings as blurps begin gebruik. Ek dink dit is eintlik ʼn mengsel van al hierdie dinge, want ek bly ʼn randfiguur. Jy moet hiermee ook onthou hoe ongelooflik baie die Nederlanders lees en veral met watter oorgawe hulle nuwe boeke verken. Terloops, die Nederlandse vertalers, Robert Dorsman en Jan van der Haar, het my onlangs gevra waarom ek dink hulle so heerlik vertaal het aan die Nederlandse weergawes van my gedigte vir die Gedichtendag-bundel, so asof die hart van die gedig ‘nederlands’ is. Ek glo dat dit is omdat ek die gedigte in Berlyn geskryf het tydens ’n navorsings-fellowship en die poësie van Paul Celan intensief saam met ʼn ander fellow en leraar bestudeer het; dat die Germaanse kern van Duits my Afrikaans geweldig beïnvloed het – ’n mens besef nie aldag hoe geangliseerd ons Afrikaans met verloop van jare geword het nie.

 

En ander tale? Jou gedigte is immers al in Engels vertaal; deur jouself, sowel as ander. Hoe werk dié proses vir jou? Is selfvertaling byvoorbeeld vir jou ’n integrale deel hiervan?

 

Teen die einde van die 1980’s, na ses digbundels en vyftien jaar van skryf in Afrikaans, is ek vir die eerste keer in Engels vertaal. (Dis nou afgesien van die gedig My Mooi Land wat Ronnie Kasrils – so het hy my vertel – in Engels vertaal het om te gebruik in Sechaba, die ANC se mondstuk van daardie jare). Die vertalings is óf deur joernaliste self gedoen wat onderhoude kom voer het, óf  deur ʼn literêre (selfs politieke) fees. Die Afrikaner was aan bewind en wat Afrikaners en hulle dissidente gedoen en gedink het, was van belang (Die Engelse joernaliste het byvoorbeeld ook gereeld die Afrikaanse koerante gelees om op die hoogte te bly van wat die politici dink en doen.) Nietemin, aanvanklik was dit interessant om die vertalings te lees, maar ek het mettertyd al hoe ongemakliker geraak met wat vertaal word: meestal politiek en selde komplekse politiek. Dit het begin voel of ek wanstaltig in Engels bestaan. Dus het ek begin om die liefdes-, gesins- en vroue- gedigte te vertaal wat verskyn het as Down to my last skin. Aan die begin was dit opwindend vir my; as die gedig nie lekker wil werk in Engels nie, het ek dit verander en ʼn tweede kreatiewe proses het begin. My lojaliteit was dus nie soseer om getrou te bly aan die Afrikaans nie, maar om ʼn ‘goeie’ gedig in Engels te lewer. In die laaste klompie jare het ek egter baie versoeke uit Engelse oorde begin kry om gedigte te lewer en ek het mettertyd ʼn ongesonde werkswyse begin opbou: ek skryf die gedig in Afrikaans (dis die enigste taal waarin my poëtiese orgaan werk), maar aangesien die tyd dikwels ontbreek om dit rustig af te rond en later na Engels te vertaal, word die finale proses wat die gedig voltooi, nou in Engels gedoen; die gevolg is dat die Engelse gedig dan meer ‘klaar’ en ‘beter’ is as die Afrikaanse ekwivalent. Soms probeer ek wel om dit terug te vertaal, maar dan werk dit met tye glad nie in Afrikaans nie, en dan moet ek dit wéér verander. Op die oomblik is daar etlike gedigte wat in verskillende weergawes bestaan; iets wat tot gevolg het dat wanneer ek byvoorbeeld in Frankryk of Italië moet gaan voorlees, ek die Afrikaanse gedig lees, terwyl die Italiaanse vertaling vanaf die Engelse weergawe gedoen is. Gewoonlik is daar dan iemand in die gehoor wat Afrikaans kan praat en dan agterna geskok kom vertel hoe swak die Italiaanse vertaling is omdat dit hééltemal van die Afrikaanse gedig verskil.

 

Is die oplossing dan nie om maar gewoon die vers in Engels voor te lees nie? Of skep dit vir jou ’n probleem ten opsigte van taal-identiteit?

 

Ek lees ook wél in Engels voor, maar vind dat ek slegs die gedigte wat ek sélf vertaal het, kan voorlees; die gedigte wat deur ander vertaal is, het hulle Afrikaanse grondritme verloor en ek kan glad nie daarby aanpas nie. Dit voel asof iemand anders die gedigte geskryf het. Die ongelukkige gevolg hiervan, met die prosa in Engels en net sommige gedigte in Afrikaans, is dat ek nie in een van die twee tale volledig bestaan nie. Deels hier en deels daar. Ek het ernstig oor hierdie saak besin verlede jaar (tydens die reedsgenoemde navorsings-fellowship in Berlyn), toe die Vertalingsburo my genooi het om deel te neem aan hul simposium oor Selfvertaling. Baie skrywers doen dit, of hét dit gedoen, ontdek ek toe; bekendes soos Brodsky, Beckett, Hannah Arendt, ens. Uitstekende lesings is gelewer oor die “waarom”, die “hoe” en al die meegaande verskille. Ek het egter toe besef dat dit ʼn geweldige vermorsing van tyd is. Waar ander digters nuwe gedigte skryf, of hul oues al hoe meer afrond, vertaal ek meestal, of skryf net halfnuwes. Ek het besluit om op te hou om my eie gedigte in Engels te vertaal. Die Engelse weergawe van die gedigte vir die gedigtedag is toe pragtig deur Karen Press vir Poetry International se webtuiste vertaal; in dié mate dat, toe ek verlede maand deur Adrienne Rich genooi is om ʼn voorlesing saam met haar by Columbia te lewer, ek besluit het om dié Engelse weergawes voor te lees. Vier reëls in die eerste gedig in, besef ek meteens: alle conviction is weg; ek lees die gedig asof dit iets vreemds is, ek bind op geen manier met die teks nie. Dus is ek terug by die vraag: sal ek tóg maar my eie vertaling van die gedigte maak?! Ek weet nog steeds nie.

 

Antjie, jy is ’n persoon wat vir vele jare oor ’n wye terrein betrokke is by die bevordering van digkuns in vele fasette. Hoe sien jy die situasie in die Suid-Afrikaanse verskuns tans? En hiermee bedoel ek nie net die Afrikaanse digkuns nie, maar ook die digkunste van ons ander landstale.

 

Dit gaan baie beter met die poësie as ‘n paar jaar gelede en dit is inderdaad danksy die volgehoue werk (en baklei) wat mense soos jy en Marlise Joubert doen, asook uitgewers wat aanhou om bundels uit te gee teen hul ekonomiese beterwete in. Maar daar is verskeie dinge wat problematies is. In terme van Afrikaans is dit waarskynlik die beperkte ruimte wat bestaan vir omvattende resensies. Dit beteken dat daar nie ‘n stewige tradisie van evaluering opgebou word nie. Dit voel vir my die wind waai sus en dan só, en dis nie die mense wat resenseer se skuld nie, dit is gewoon dat daar ‘n verlies aan outoriteit ontstaan wanneer iemand byvoorbeeld ‘n bundel in net drie paragrawe moet bespreek; óf wanneer daar nie ‘n konsekwente ruimte is vir die resensent waar hy of sy op gereelde basis kan resensies plaas ten einde op dié manier ‘n mate van standaard te vestig nie. Alles word net so bolangs aangeraak. Ek sou byvoorbeeld graag ‘n intelligente en kragtige vergelyking wou lees van die twee bundels wat gesamentlik die Eugene Marais-prys ontvang het. En daarvan gepraat: wanneer bekyk iemand daadwerklik wat presies in die akademie vir kuns en wetenskap aangaan wat sulke groot besluite oor ons letterkunde neem? Ook kry ʼn mens die gevoel dat lesers nie meer die kanon ken nie. Daar is hard baklei om die kanon te verander, maar noudat dit verander is, leer niemand dit meer nie. Ek sou graag wou hê dat ‘n mens moet kan sê dat indien iemand Afrikaans Eerste Taal neem en matrikuleer, hy of sy ten minste die vernaamste digters kén. Daar was ʼn bietjie stof oor die Groot Verseboek, maar geen volgehoue polemiek of argument van “Ja, dit is ons beste gedigte en ons wíl dit kén” nie. ‘n Sterk letterkunde kan nie bestaan binne-in fluff nie. Landswyd is daar dieselfde probleem: belangrike werk word uitgegee en met ligte watertjies in die koerante begelei. Die Engelse faksie is egter so sterk, ook wêreldwyd, dat die meeste Engelse skrywers intensief bespreek word. Dit bring ʼn mens by die kwessie van vertaling. Ek pleit deurlopend dat ons ‘n voortgesette aksie moet hê waarvolgens alles wat goed is in Afrikaans vanselfsprekend ook na Engels vertaal moet word. Indien ons dit nie doen nie, sal al hoe meer skrywers uitwyk Engels toe soos dit reeds die geval is met ander  inheemse tale, omdat ons almal graag deel wil vorm van die breër Suid-Afrikaanse stem. Om in Afrikaans te skryf, durf nie te beteken dat jy jou in ‘n etniese doodloopstraat bevind nie. Breyten Breytenbach is Afrikaans s’n, maar hy behoort dit gestand te kan doen deur middel van vertaling en nie noodwendig deur om spesiaal in Engels te skryf nie. Die feit dat Marlene van Niekerk se vertaalde werk die ander Engelse skrywers so uitgestof het, wys dat ons ‘n kragtige letterkunde het. Maar jy wil nie dat jou skrywers hulle tyd moet verkwansel met vertaling nie.

 

Ek vermoed dat jy jou vinger hier op ʼn hele aantal teer punte plaas, Antjie. Ten opsigte van die eerste gedeelte van jou antwoord hierbo, is die een ding wat my al vir ’n geruime tyd pla, die akkreditasie-ingesteldheid onder ons akademici. Uiteraard het ’n mens begrip hiervoor; dit verskaf ten minste inkomste aan die betrokke departement en akademikus. Die nadeel is egter dat uiters belangrike navorsing en kommentare net in vaktydskrifte verskyn waartoe die breë publiek dikwels nie toegang het nie. Ons literatore het immers nie nét die taak om tekste te “ontsluit” nie, maar ook om die lesers te begelei ten opsigte van verfynde leesstrategieë by bepaalde tekste, is dit nie? Sien jy hierdie ook as ’n wesenlike probleem of is ek nou onbillik jeens ons akademici met hierdie opmerking?

 

Ja, dit is tragies dat akademici skielik afgesluit word van ʼn publiek omdat van hulle verwag word om in hierdie akademiese joernale wat deur fokken niemand gelees word nie, te publiseer; in plaas daarvan om organies binne in hul gemeenskappe werksaam te wees. ʼn Mens haal jou hoed af vir iemand soos Joan (Hambidge) en ander, wat bo en behalwe hul akademiese werk nog vir koerante skryf ook. Maar dis tog asof almal se gekonsentreerde energie elders doenig is. Nogtans sou ʼn mens graag wou sien dat hierdie akademiese verhandelinge en essays omgeskakel word na gewone taal vir ons ander om te lees. Veral ook dié wat by oorsese universiteite geskryf word.

 

Enkele jare gelede was jy en Alfred Schaffer betrokke by die samestelling van Nuwe Stemme 3, ’n publikasie wat heelwat nuwe stemme suksesvol na vore gebring het … Was dit vir jou ’n gelukkige ervaring en voel jy dat sodanige projekte lewensvatbaar is, of skep dit gewoon verwagtings waaraan só dikwels nie voldoen kan word nie?

 

Dit was een van die wonderlikste projekte vir my, aangesien dit ‘n uitstekende manier is om nuwe stemme aan te spoor en ‘n hupstoot te gee. Dit is veral opwindend om te sien hoe baie van hulle uitskiet en dan is daar boonop nog ander wat hopelik binnekort tot publikasie sal kom. Alle krediet aan Nasboek dat hulle hiermee volhard.

 

Is jy dalk bereid om name te noem, Antjie? Watter van die digters wat in Nuwe Stemme 3 opgeneem is, behoort na jou mening nog in die nabye toekoms te kan debuteer?

 

Ek kan, maar ek wil nie. ʼn Mens word geskroei tot poësie skryf. Altans, die poësie waarvan ek hou, het ʼn gedrewenheid daaragter. Sommige mense het talent, maar niks gebeur wat hulle daartoe dryf nie. ʼn Versigtige digter wat skryf sodat ander hom of haar moet goedkeur, het probleme. Ek hou daarvan om Johann de Lange aan te haal: “Om ʼn bundel te publiseer moet wees soos om by ʼn waterval af te spring …” Jy moet glad nie weet of jy jou te pletter gaan val of wonderbaarlik in ʼn sjampanjepoel gaan opduik nie.

 

In die persberig oor Waar ik jou word, die Gedichtendagbundel wat in Nederland verskyn het, word genoem dat dit uit tien nuwe verse bestaan. Is jy tans besig om aan ’n nuwe bundel te werk en wanneer kan ons dié vreugde te wagte wees?

 

Jong, ek word oud. Ek moet genoeg vrye tyd en stilte hê om te kan gedigte skryf. Voor elke digbundel moet ek dus eers iets skryf wat op ‘n manier geld inbring sodat ek kan ophou werk ten einde op die gedigte te kan konsentreer. Op die oomblik is ek besig met ‘n derde nie-fiksie boek wat Country en Tongue sal afsluit. Ek oortree naamlik op my oudag die belangrikste reël wat ek vir myself gemaak het toe ek jonk was: hou jou by jou lees. Jy is ‘n digter. Moenie ander goed skryf nie, dit versplinter net wat jy wil sê. Sekere dinge sê jy in prosa of in skilderkuns (soos Cussons) en ander sê jy in poësie. Indien jy alles kan kanaliseer, verryk dit jou poësie. Ek sou byvoorbeeld nooit Lady Anne, óf Jerusalemgangers, geskryf het indien ek geweet het dat ek prosa kan skryf nie. Dit sou gewoon makliker gewees het om daarvan prosa, of ‘n nie-fiksie boek, te maak as ‘n epiese gedig. Aan die ander kant geniet ek nogal hierdie vele maniere van “wees” en hou ek nou veral daarvan om deesdae te probeer leer hoe om “akademies” te skryf. Waar poësie vir my ‘n absolute private daad is, ‘n skrywe wat te make het met wat ek in my kop hoor, is prosa en akademiese werk vir ‘n spesifieke gehoor.

 

ʼn Laaste vraag. Ek onthou toe ek eenkeer by jou en John aan’t huis was in Kroonstad hoe jy en Gerrit Olivier vir mekaar gesit en gedigte voorlees het; die besonderse manier wat ek later jare so goed leer ken het: asof jy eers die woorde in jou mond “proe” voor jy dit asem gee. Dit maak jou voorlesings ʼn onvergeetlike ervaring: intens, gevoelvol en genuanseerd. Beskou jy die voorlees van verse as ʼn belangrike funksie wat ʼn digter óók moet vervul? (Ek stel dié vraag omrede baie mense van mening is dat poësie nié op ʼn verhoog hoort nie; dat die voordrag afbreek doen aan die poëtiese inhoud van die vers.  )

 

Die kern van poësie is klank. Dis hoe poësie ontstaan het, as gesê-de klank. Die skryf het later gekom. Dis wat van iemand ʼn digter maak: hy hoor wat hy skryf. Ek is obsessioneel oor die geluid van gedigte; ek kan iemand letterlik te lyf gaan as hy of sy kak voorlees. Asof daar nie ʼn verskil is tussen ʼn “d” of “t” of ʼn “v” en “w” is nie. Die voordra, of voorlees, van ʼn gedig is egter iets anders as die gedig op papier. Op papier moet dit as sulks werk; jy kan tog nie sê: “dit werk nie op papier nie”, maar dan is dit tóg op papier gedruk nie! Ek verander dus maklik my werk wanneer ek voorlees. Die voordrag word bepaal deur die gehoor, die tyd wat ek tot my beskikking het, hoeveelste ek lees, hoe die persoon voor my gelees het en in watter gemoedstoestand wil ek die gehoor agterna hê. Indien jy nie ʼn gehoor respekteer nie, en niks by die papier wil voeg nie, moet jy nie voorlees nie. Dan moet jy sê: “Ek’s op my beste op papier en dis waar my lesers my moet kry.” By Tom Lanoye het ek nog die volgende geleer: hy sê ʼn mens skryf ʼn boek in afsondering, dit word verkoop om in afsondering gelees te word, maar omdat hy wil help om die boek te verkoop, gaan hy soos ʼn rock band te werk. Hy maak naamlik ’n CD (in sy geval ‘n voordragprogram gebaseer op die nuwe boek) en gaan daarna op toer sodat die mense die boek moet koop.

 

Baie dankie vir die gesprek, Antjie. Sal jy so vriendelik wees om dalk een van die gedigte wat in die Gedichtendagbundel opgeneem is, hieronder vir ons lesers weer te gee?

 

3.

 

sterre tongblind en sterwend in gravitasie

jy kom hartbevlek en opwaarts

kom jy

jou asem van kristal

en die mondnabye geluid van voëls

 

sterre tongblind

sterre sterwend

sterre adembenemend as digsbysyndste galaktiese sig

 

onverworwe moet ek word

losgeknip

en sterstapelend van gewrig

 

© Antjie Krog

 

 

 

 

 

 

Bernard Odendaal. Oor digkunsvertaling

Monday, April 27th, 2009

Groot verseboek is klaarblyklik dié uitstalkas in die huis van die Afrikaanse poësie. G’n wonder nie dat André P. Brink se samestellings van 2000 en 2008 dus nuwe aandag getrek het vir vertaalde digkuns in Afrikaans, aangesien D.J. Opperman sulke werk voorheen uitgesluit het.

In die voorwoord van Groot verseboek 2000 het Brink die opname van vertalings deur Uys Krige gemotiveer as ’n wyse om erkenning te gee aan ’n digter wie se beste bydraes juis op hierdie terrein lê, aan iemand wat deur middel van sy vertaalwerk vernuwing van die Afrikaanse letterkunde gestimuleer het (byvoorbeeld by Ingrid Jonker). Sonder enige verdere verduideliking, behalwe om te sê dat die besluit oor Krige nou ook tot latere digters kan deurwerk, sluit hy ook werk deur enkele ander vertalers in die 2008-samestelling in – maar ignoreer terselfdertyd ewe verdienstelike pogings deur talle ander.

’n Paar kommentatore het op die onbegryplike inkonsekwenthede van Brink se keuses in hierdie verband gewys. Daarom gaan ek nie verder hierop in nie. Maar ek wonder darem hóé die turksvy wat Brink gepluk het – en wat ’n ewe soet, hoewel kleiner oes as oorspronklike digwerk in Afrikaans verteenwoordig – se stekelige kante glad gevryf kan word. Miskien deur ’n Verseboek van Afrikaanse vertalings te laat saamstel? Sal dit nie ’n eiesoortige lekkerte wees nie!

Die onteenseglik positiewe wat Brink bewerkstellig het, is erkenning van die feit dat gepubliseerde poësievertalings in Afrikaans nie die waardering kry wat dit verdien nie.

Baie – en gevleuelde – dinge is al gesê oor die kulturele waarde van literêre vertaling. In hul boek Translators through history beweer Delisle en Woodsworth byvoorbeeld dat die ontstaan van moderne nasionale letterkundes, en dié van minderheidstale in die besonder, dikwels teruggevoer kan word na vertalings van oorspronklike tekste uit toonaangewende letterkundige stelsels.

Op veel kleiner skaal kan ek getuig dat, toe ek nog op hoërskool was, die lees van in Engels vertaalde keure in die reeks Penguin Modern European Poets (boekies wat ’n ouer broer van my vakansies van die universiteit af saamgebring het plaas toe) my belangstelling in die poësie sterk geprikkel het. Rieme en rieme rymelary en wild-rankende vryevers, gepleeg in die afsondering van my buitekamer, was die onmiddellike resultaat.

In my laaste jaar op universiteit het ek self vir my Penguin se Eugenio Montale. Selected Poems (vertaalwerk deur George Kay) aangeskaf – nog teen ’n skrale 70c!

Bring me the sunflower for me to transplant

to my own ground burnt by the spray of sea,

and show all day to the imaging blues

of sky that golden-faced anxiety.

Things hid in darkness lean towards the clear,

bodies consume themselves in a flowing

of shades: and they in varied music – showing

the chance of chances is to disappear.

So bring me the plant that takes you right

where the blond hazes shimmering rise (sic)

and life fumes to air as spirit does;

bring me the sunflower crazy with the light.

Nog aangrypender het dié Italianer se werk vir my geword toe Rosa Nepgen se vertalings van ’n keur uit sy verse ’n jaar later in Afrikaans verskyn het (by Tafelberg).

Bring my die sonneblom dat ek dit verplant

hier in my grond waar die sout van die seeskuim brand;

laat dit heeldag deur teen die hoë spieëling van die blou

die gretige angs van sy geel blomgesig hou.

Uit die donkerte neig alles op na die lig

en in kleuregloed vloei liggame ontledig

tesaam – soos in die musiek. Om te vergaan,

bly dus die grootste kans van ons bestaan.

Bring jy my die plant wat lei na die vergesig

op die bron waar deursigtige wit lug skyn

en die vlugtige gees van die lewe verdwyn.

Bring my die sonneblom, dolsinnig van lig.

Darem ’n jammerte dat groot dele van die wêreld, vanweë die bevoorregte posisie van Engels, ’n beeld van Motale se digkuns moes kry via Kay se vertalings, en nie via die van Nepgen nie, of hoe?

Hoewel die uitgee van poësievertalings dalk nie veel onmiddellike sakesin maak nie (soos in die meeste gevalle eintlik ook nie die publiseer van oorspronklike digwerk nie), maak dit kulturele en taalsin – en is dit dus tog ook gesonde uitgewersbesigheid met die oog op die toekoms.

Gunther Pakendorf skryf byvoorbeeld in Rapport-Perspektief van 24 Februarie 2008, na aanleiding van H.J. Pieterse se Afrikaanse vertaling van die Duitstalige digter Rainer Maria Rilke se Duino-elegieë (Protea Boekhuis, 2007), dat die “kwasi-mistieke ervaring” van “universele heelheid” wat deur Rilke in dié elegieë uitgedruk word, “net deur middel van die kuns én deur die begenadigde digter moontlik” is.

Sonder sulke fyn kuns, wat op onvervangbare wyse uitdrukking gee aan die mees verhewe of mees diepgevoelde menslike ervaringe, kan ’n taal kwalik op die lange duur voortbestaan. Want dan sal van sy toonaangewendste mensemateriaal (dié wat dikwels ook ywerige boekkopers is) hom verlaat, omdat hulle geen volle geesteslewe in hom kan voer nie. Dis ’n gevaar vir ’n klein taal waarop Van Wyk Louw al dekades gelede gewys het.

Vernuwing is ’n ander voorwaarde vir ’n letterkunde om sy lesers taalgetrou te hou. En vernuwing van ’n literêre sisteem kan deur middel van vertaling ‘ingevoer’ word. Dit het Krige se werk bewys. Daarvoor het Brink hom tereg erkenning gegee.

Vertaling, ook (en miskien veral) literêre vertaling, is een wyse waarop Afrikaans ruim genoeg gehou kan word om te verhoed dat sy fynste geeste uit hom wil “emigreer”. Des te meer noudat die onderrig van Duits, Frans en ander vreemde tale in ons skole, selfs aan ons universiteite, so drasties afgeskaal is. Al minder Afrikaanse mense is in staat om oorspronklike digkuns in sulke tale te lees.

Wat my by ’n ander vraagstuk bring. Hoe lank gaan Afrikaanse vertalings van gehalte, direk uit die oorspronklike tale, nog moontlik wees as die waarde van vreemdetaalonderrig so onderskat word soos die onderwyspaktyk in Suid-Afrika toenemend laat blyk?

’n Waarheid skuil in wat na ’n teenstrydigheid lyk, naamlik dat jou en jou taalgenote se kennis van soveel vreemde tale as moontlik jou miskien juis die hartlikste in jou moedertaal kan laat tuisvoel. Want dan kan leestogte in én vertalings uit daardie tale, naas oorspronklike skeppinge in jou eie taal, die kultuurruimte waarin jy jou bevind groot genoeg hou om in te (wil) bly woon.

Ten slotte oor ’n klippie in my vertaalskoen: Ek vind dit onaanvaarbaar dat literêre tekste soms lustig vertaal word uit ánder tale as die oorspronklike waarin dit geskryf is. Met ander woorde: dat vertalings gemaak word (uitsluitlik) aan die hand van ander vertalings van die brontekste.

Die Italianers het nie verniet ’n gesegde wat lui dat ’n vertaler ’n verraaier is nie. Elke vertaling verteenwoordig in wese ’n interpretasie, ’n verwringing van die bronteks. En om ’n interpretasie van ’n interpretasie te maak laat jou al verder van die oorspronklike beland. Dis soos om te soen deur sluier op sluier.

En die verwringing kan so erg word dat dit ’n soen op die agterwêreld meebring, pleks van op die mond.

Dis in elk geval hoe ek sou gevoel het as ek Jacques Brel se “Le moribond” (= Die sterwende) aan die hand van die bekende Engelse vertaling, “Seasons in the sun”, moes omgesit het in Afrikaans. Hoewel ek skaars ’n krieseltjie Frans ken, het ek in 2005 ’n (steeds voortgaande) Brel-vertaalprojek aangepak in vennootskap met Naòmi Morgan, professor in Frans aan die Vrystaatse Universiteit waar ek werk, en ’n Brel-kenner. (Sy is besig om ’n biografie oor Brel in Afrikaans te skryf.)

Eers toe ons aan “Le moribond” gewerk het, het ek besef hoe ver die Engelse vertaling die pot mis sit. Onthou julle die refrein in Engels?

We had joy

we had fun

we had seasons in the sun

but the wine

and the song

and the seasons have all gone.

Naòmi se letterlike vertaling van die oorspronklike Frans lui soos volg:

Ek wil hê mense moet lag

Ek wil hê mense moet dans

Ek wil hê mense moet dit gate uit geniet

Ek wil hê mense moet lag

Ek wil hê mense moet dans

Die dag wanneer hulle my die gat in sit (= begrawe).

Totaal verskillende betekenisimplikasies, in totaal verskillende toonaarde.

Ons vertaling van die refrein klink uiteindelik só:

Jul moet lag

Jul moet dans

Hou ’n opskop steek ’n dop

Jul moet lag

Jul moet dans

As jul my die gat in stop.

Vertalers mag in wese verraaiers van die oorspronklike werke wees, maar hoogverraad teen hulle eie beroep en die aansien daarvan moet hulle nie pleeg nie. Anders kan uitgewers en lesers hulle gerus lag-lag “die gat in stop”.