Posts Tagged ‘Verweerskrif’

Marlies Taljard: … die liggaam gly soos sand deur die vingers

Monday, June 19th, 2017

 

die eerste voorhoedes van die dood

het opgedaag en die liggaam gly soos sand

deur die vingers, apatie neutraliseer die sintuie

 

oorlewing ontplooi soos ʼn woestaard en sny

jou af van ander sodat jy al hoe meer vertroud

raak met die na-binne-gedraaidheid van die dood

 

laai vir laai word jy leeggemaak

tot net nog die leë binnekant jou raak

 

(Uit: namens myself – Antjie Krog, Verweerskrif, 2006)

 

Hoewel die mediese wetenskap en die letterkunde op die oog af na twee onversoenbare sfere lyk, is die hermeneutiek van siekte in die moderne letterkunde wel deeglik bekend en is siektenarratiewe stewig ingebed in die kanon van die moderne Westerse letterkunde. Dink veral aan Thomas Mann se groot werk Der Zauberberg (1924) (The magic mountain in Engels) en aan Kafka se groot epiese werk Die Verwandlung (1915) (Metamorphosis in Engels). Laasgenoemde werk begin met die volgende openingsin (wat ek in Engels aanhaal): “When George Samsa woke up one morning after a night of restless dreams, he found himself in bed, transformed into a ghastly creature.”

Hoewel baie navorsing oor siektenarratiewe of die hermeneutiek van siekte fokus op die bydrae wat die persoonlike narratief van die pasiënt kan lewer ten opsigte van ʼn beter (mediese) begrip van bepaalde siektetoestande en kan lei tot meer akkurate diagnoses en selfs heling, kan siektenarratiewe egter ook vanuit ‘n literêre oogpunt beskou word. Siekte, sy simptome en die persoonlike belewenis van ʼn pasiënt se siekte word tans beskou as ʼn belangrike narratiewe tema. Ook op poëtiese gebied ontgin digters hierdie tema – soos ek in my vorige blog aangetoon het. In hierdie blog fokus ek op die oorvleueling tussen die akademiese veld van mediese wetenskap en die poësie. Hoewel talle voorbeelde uit die Afrikaanse poësie aangehaal sou kon word (ek dink byvoorbeeld aan Sheila Cussons se magistrale Christ of the burnt men), kyk ek vandag na enkele gedigte uit Antjie Krog se bundel Verweerskrif. Soos die foto van die ouer vrou op die oorspronklike voorblad suggereer, handel hierdie bundel veral oor verwering van die menslike liggaam, maar ook (in die laaste gedigreeks) oor verwering in die natuur – spesifiek die “liggaam” van Tafelberg soos die spreker dit vanuit haar huis kan waarneem. Die gedigte wat ek vir hierdie blog kies, is gedigte wat handel oor menopouse, die veroudering van die liggaam en die pyn en ongemak wat daarmee saamgaan.

Die gedig hormone replacement therapy is een van die gedigte in die bundel wat sterk oorvleuel met die mediese wetenskap, in dié sin dat die digter gebruik maak van die mediese vakwoordeskat en jargon en selfs van iets wat grens aan die wetenskaplike navorsingsmetode, naamlik oorweging van behandelingsmoontlikhede en vergelyking van simptome van verskillende mense wat dieselfde kondisie het.

 

hormone replacement therapy

om te hormoon

of nie

te hormoon nie

is die geweldige vraag – net vir vroue

 

dit beteken: wil jy jonger lyk,

kanker kry en Alzheimers

of wil jy oud lyk

en te lank lewe?

 

as ek my ma oor menopouse uitvra

kyk sy my aan asof ek die woord ‘internet’ sê

‘het ma nooit hot flushes gekry nie?’

 

‘my kind as ek gesweet het

het ek aangeneem dis van werk

en dan gaan swem of sommer ʼn shower gevat’

 

Die eerste twee strofes van die gedig roep die inleiding op van Hamlet se bekende toespraak:

.

To be, or not to be, that is the question:

Whether ’tis nobler in the mind to suffer

The slings and arrows of outrageous fortune,

Or to take arms against a sea of troubles

And by opposing end them …

 

Die implisiete naasmekaarstelling van die spreker se tweestryd oor die gebruik van hormoonmiddels vir die ongemaklike simptome van menopouse en die innerlike tweestryd van die tragiese held Hamlet is dalk ietwat oordrewe en selfs lagwekkend, maar die punt wat die sprekende ek deur hierdie hiperboliese toespeling wil maak, kan nie vir die leser verlore gaan nie, naamlik dat die menopouse vir haar inderdaad ʼn eksistensiële krisis bied. Dié gevoel van ʼn radikaal inperkende lewenskrisis word verder geïntensiveer deur die teenstellende narratief van haar moeder oor háár belewenis van dieselfde liggaamsverandering wat die spreker se reaksie verder parodieer en selfs belaglik maak.

Die moeder se narratief lê verder klem op die uiters subjektiewe belewenis van verskillende persone wat deur dieselfde malaise geteister word – in hierdie geval die “moderne” ek en die moeder uit ʼn vorige geslag. Dit laat vermoed dat siektesimptome nie ʼn “gegewe” is nie, maar dat dit deur verskillende subjekte radikaal anders geïnterpreteer en beleef word. Ook die vermoede dat kulturele agtergrond en beïnvloeding hulle stempel op die subjek-wat-siek-is afdruk, is in hierdie geval nie ongemotiveerd nie. Die geweldige klem wat openbare media en gewilde tydskrifte op sekere toestande soos menopouse, kanker, Alzheimer se siekte en Parkinson se siekte plaas, het waarskynlik ʼn invloed op die moderne mens se beoordeling van dié toestande. Die eerste twee strofes van die gedig immiteer immers duidelik die styl en genre van Die Gewilde Vrouetydskrif!

Die bogesiteerde gedig moet eintlik in samehang met die gedig gelees word wat dit in die bundel voorafgaan, naamlik sonnet van die warm gloede. Beide die gedigte is deel van die reeks “Agt menopousale sonnette”. Die geweldige kontras tussen die sprekende ek se woede oor die warm gloede wat ʼn simptoom van menopouse is en die gelate aanvaarding van die moeder uit ʼn ander era kom dan eintlik eers werklik tot sy reg. Uit dié gedig (wat ek hieronder aanhaal) kom die “moderne” vrou se woede oor en verset teen die onwelkome liggaamlike veranderinge wat deel van die verouderingsproses uitmaak, duidelik uit die verf as verset teen die lydsaamheid van ons moeders. Teenoor die selfbeheersing (selfs sefnegering) van die sogenaamde ouer garde word hier die totale gebrek aan selfbeheersing en die neiging om te “laat gaan” gedemonstreer. Hier is geen “aanvaarding van die vrou se lot” nie. Die gedig kan ten beste gelees word binne die diskoers van die radikale feminisme met sy onverdraagsaamheid (verteenwordig deur metafore van oorlog) ten opsigte van alles wat “tipies vrou” is, ondermyning (hier veral van die normale sinstruktuur, mediese diskoers en interpunksie) en veral sy kru taalgebruik:

 

sonnet van die warm gloede

iets kram jou rugmurg êrens vas jy voel.

hoe sprei ʼn pasgestigte brand sy angs vanuit.

ʼn kern en jou are loop met vuur jou vleis.

ontvlam jou hart hou vuurvas haar balans.

jou beendere bak buite hulleself jou gesig.

verseng jou wange prut onthutsend voort en.

telkemale breek jy weg uit sissende omhulsels.

sweet jou vel vonk in ligte laaie weg.

 

maar op ʼn dag skuif jy in jou stoel – en voel

die smeltkroes kole wat jou laaste

sappigheid verwoes. die fok weet dis genoeg:

brandend soos ʼn kryger staan jy op – ʼn boeg

van vuur – aan sy strot pak jy die dood en ploeg

sy neus deur jou kaalgeplukte drooggebakte poes

 

In terme van poëtiese taalgebruik maak die digter in die bostaande gedig van ‘n besonder sterk bewoorde idioom gebruik, belaai met harde klanke en wars in ritme om die onuitstaanbare teistering van die liggaamlike kondisie uit te druk. Sou ʼn mens die gedig lees as verwoording van die simptome van ʼn “siekte”, is dit opvallend dat geen mediese terme of eufemismes gebruik word nie. In my vorige blog het ek aangetoon hoe die gebruik van mediese vakwoordeskat die poëtiese diskoers positief bevrug. Van die gedig sonnet van die warm gloede sou ʼn mens kon beweer dat dit die omgekeerde bereik, naamlik om die mediese diskoers te verryk met woorde, frases en metafore wat waarskynlik binne die kliniese praktyk as “onbehoorlik” en subjektief of oordrewe geag word. In dié verband kom Svenaeus (2000) tot die gevolgtrekking (in sy artikel Hermeneutics of clinical practice: the question of textuality): “Theoretical Medicine and medical practice contains textual elements that might be better understood by resorting to the hermeneutical skills in which literature is especially proficient”.

Terselfdertyd word egter ook die poëtiese diskoers verryk deur die uitdrukking van siekte-as-verskrikking – die nuwe, onvervreembaar Afrikaanse woordeskat van trauma. Dit is immers die aard van letterkunde (en veral van die poësie) om gevoelens en  belewenisse te ver-woord. Dit is ook in die aard van die letterkunde om simboliese ruimtes te skep waar die aard en belewenis van siekte, lyding en die versugting na heling op nuwe, kreatiewe wyses gerepresenteer en ontgin kan word. Dit is waarskynlik in hierdie narratiewe waar die eerlikste beskrywing van siektesimptome voorkom en waarin die gesanksioneerde lys van simptome wat in mediese handboeke voorkom, die volledigste ondermyn en herskryf word, naamlik deur dit deel te maak van die filosofiese en literêre raamwerke wat in staat is om nuwe lig te werp op die inligting wat slegs deur die subjek-wat-siek-is verskaf kan word.

 

 

Jelleke Wierenga. Die Maer Maria-dae

Thursday, August 12th, 2010

Nou met die afgelope Vrouedag het ek vir my susters en vriendinne, asook twee mansvriendinne, ’n gedig van Antjie Krog gestuur. Ek hou dit op my rekenaar vir die dae dat ek soos Maer Maria voel.

Maer Maria is ’n ikoon in die Ortodokse kapel van ’n priestervriend op Robertson. Ek weet nie of Maer Maria haar regte naam is en waarom sy so gefolter lyk nie. Ek moet dit nog by vriend priester vasstel.

Maer Maria

Maer Maria

Maer Maria lyk soos ek partykeer voel. (Moontlik lyk ek ook so, hoewel ek van ’n konstitusie is wat nooit uitgeteer sal wees nie.) Van gees en vlees uitgemergel. Aangeval deur e-pos, werk wat nooit opgewerk word nie, blomryke kopie vir ’n linnekatalogus, aantelende skottelgoed, stof wat beskuldigend in bolle aanrol, blaffende buurbrakke en wasgoed wat huil omdat hulle al dae lank onskuldig aan die draad hang. Daarby ook insekte en onkruid van plantaardige en menslike oorsprong. En kan ’n mens ooit wegkom van die snoesige wete dat jy vasgekeer is op ’n boot met waansinniges aan die roer?

Op sulke dae sit ek sekere goed op my rekenaar se skerm. ’n Groot opkikkeraar is die klimaks uit Antjie Krog se gedig “Paternoster”:

ek staan op ’n moerse rots langs die see by Paternoster
die see slat slingers in die lug
liggroen skuim
onverskrokke kyk ek elke donnerse brander
in sy gut voor hy breek
die rots sidder onder my sole
my bo-beenspiere bult
my bekken smyt die aangeleerde gelate knak uit haar uit
se moer ek is rots ek is klip ek is duin
helder sing my borste ’n koperklepgeluid
my hande pak Moordbaai en Bekbaai
my arms skeur ekstaties bo my kop:
ek is

ek is
die here hoor my
’n vry fokken vrou

Dit kom uit haar bundel Gedigte 1989-1995, in 1995 uitgegee deur Hond. (Daardie ander bevryde gedig, “man ek lus ’n twakkie”, is ook in hierdie bundel.) Ek moet beken dat ek ’n woord in reël 10 verander het. Daardie woord, waaroor Koos Kombuis so lustig in verband met sekere “griete” sing, is vir my die lelikste in die hele Afrikaanse woordeskat. Ek weier dat dit oor my lippe kom of uit my vingers vloei. Skies, Antjie, jy moet my maar aankla van onregmatige of wederregtelike peutering.

Ek het die laaste vier reëls van die gedig by twee prente geplak. Afhangende van die bui sit ek die een of die ander op:

Die naakfiguur is ’n skildery deur myself, nie van myself nie. Ek wou dit graag op die voorblad van my digbundel Bloot mens gehad het, maar dit is met streng afwysing begroet. Ek skat dit was te bloot, hoewel Antjie reeds die weg gebaan het met die kaal bors van die ou dame op die omslag van haar Verweerskrif. Ek moes toe maar vir lief neem met ’n swierig opgedresde afkop-dame. Ek dink die af-kop het ’n besondere simboliese betekenis. Ek weet net nie wat nie.

As ek die dag ’n diep behoefte aan die solidariteit van soliede susters voel, sit ek die volgende prent op die rekenaarskerm:

Ek weet baie mans en verraaiervroue sal nou smalend sê maar wie wil in elk geval sulke lippe soen. Ék, vir een. Met sulke vroue kan ’n mens mos weer ’n volk met testosteroon in die hart kweek. Ek is veral gefassineer deur die dame tweede van links in die middelste ry. Dis of sy ’n besonder dodelike kyk aan haar het. Ek sal my oogtande gee om my vyande só te kan aanstaar.

Ag ja, en vir die dae dat ek op ander maniere bedot is, sit ek Dottie op die rekenaarskerm.

Dottie was my sus Annelise se hond en het saam met haar in die Namibiese woesteny rondgetrek, waar sus toesig oor die sink van boorgate gehou het. Sus Annelise is ’n geohidroloog of ’n hidrogeoloog. Toe haar omstandighede verander, is Dottie na sus Jets en swaer Peter in Gaborone. Van daar is Dottie na my pa in Bloemfontein sodat hy nie so alleen voel ná my ma se dood nie. Toe Pa onlangs na ’n aftree-oord trek waar honde nie welkom is nie, verhuis Dottie terug na Gaborone. Sus Jets het onlangs vir my dié sjarmante foto gestuur.

Saam met Dottie wens ek al die vroue wat dié stuk lees ’n blom in die bek toe vir die dae dat hulle soos Maer Marias voel. En ’n wonderlike heengegane Vrouedag. Laat ons nooit vergeet dat ons fokken vry vroue is nie.

Ns: Vir die mans wens ek ’n wonderlike Mansdag toe, wat enige en/of elke dag van die jaar mag wees.