Posts Tagged ‘Visums by verstek’

Joan Hambidge wen vanjaar se Woordveertjie vir poësie

Saturday, September 15th, 2012

Gisteraand is dit tydens die ATKV se glansgeleentheid by Nooitgedacht buite Stellenbosch bekend gemaak dat Joan Hambidge se bundel Visums by verstek met vanjaar se Woordveertjie bekroon is.

Visums by verstek, wat in 2011 by Human & Rousseau verskyn het, bevat nie net reisgedigte uit Hambidge se oeuvre nie, maar  ‘n hele aantal verse wat nuut is of nog nie in bundels verskyn het nie. Ook gee sy in die inleiding van die bundel belangrike sleutels tot die lees en verstaan en waardering van die spesifieke versameling.

Woordveertjiewenner

Woordveertjiewenner

Tydens die onderhoud wat met haar gevoer was ten tye van die bundel se verskyning het Hambidge soos volg op haar bekroonde bundel se ontstaan uitgewy: “Sedert 1979 verken ek vreemde lande. Van die VSA, Suid-Amerika, die Skandinawiese lande, Europa, Rusland, Hongarye, Tsjeggo-Slowakye, Japan, Sjina, die Britse Eilande, Kanada, Indië, Korea, o.a. – en later Afrika: Egipte, Marokko, Zanzibar, Kenia. Reis was nog altyd gekoppel aan die verwerking van ʼn emosionele insident, hetsy die verwerking van die dood van ʼn verhouding of om groter perspektief te kry op myself. Reis is ʼn proses van liminaliteit, dit is ʼn letterlike verskuiwing van grense in jouself. Jy reis na nuwe plekke wat jou verander. Ek is ʼn nuuskierige mens wat gou verveeld raak. ʼn Ongelukkige displaced jeug waar ek altyd buite alles gevoel het, het my lewensuitkyk bepaal. Ek leef nou volgens my wette, ritmes, begeertes – en ek is voortdurend besig om mites aan die kaak te stel. Oor verhoudings, die lewe, die dood – watookal.  Jacques Lacan en Žižek is bepalend tot my siening van die self…”

Hierdie gedagte word eweneens deur Heilna du Plooy ge-eggo met die samevattende slotparagraaf van haar resensie oor die bundel: “Die mens is ‘n reisiger, deur die wêreld, deur sy eie lewe en ook in sy eie psige. ‘n Digter soos Hambidge ondersoek en bedink en deurdink egter al hierdie soorte reise eksplisiet. Haar poging om wat sy sien en beleef op reise te verstaan en te deurgrond, is vervleg met die pogings om die elemente en aspekte van haar bestaan te deurgrond. Hierdie verstaansprosesse en deurgrondingspogings vorm afsonderlik en saam verhale (een groot verhaal met baie verhaallyne?) want die vertel van verhale is die verstaansritueel van die mens.”

Visums by verstek is Joan Hambidge se 22ste poësie-publikasie.

Die ander finaliste wat om die Woordveertjie meegeding het, is: Onversadig (T.T. Cloete) en grond/Santekraam (Ronelda S. Kamfer). Die beoordelaars vir vanjaar se prys was Marius Crous, Karen de Wet en Danie Marais.

As leestoegif volg ‘n gedig uit Joan Hambidge se bundel.

***

Las Vegas, Nevada

 

Hier staan dobbelhuise neffens kerke

hul plek vol en sy ry met ‘n Greyhound,

geleerbaadjie en gerugsak, die Sondestad binne.

Met ‘n achy breaky heart word die woestyn

die perfekte back drop vir ‘n down town-motel,

waar reisigers en hoere, kortsondig vertoef.

Fear and loathing in Las Vegas. Agter haar lê

die Stad van Engele en vóór haar Miami. Nou,

in die oomblik, beleef sy die Mojave-woestyn,

nageboots in restaurante dwarsoor die wêreld,

met kaktus en klip kompleet. Vir haar is dit hel,

hierdie flikkerstad met sy gebedekrale van $-tekens.

La$ Vegas. Lush Vegas. Leaving Las Vegas.

In die Liberace-museum verpand broer George

handtekeninge namens die virtuose vertolker.

‘n Boekwinkel stal Barthes se Mythologies uit.

Saam met die semioloog vertolk sy die xeriscapes,

nabootsings, afbeeldings, flikkerligte: dollar a fuck.

Sy verkas uit Vegas, op pad na Dallas, op soek

na die American Dream, the greening of America:

na dit wat soos ‘n mirage in die woestyn glimmer.

 

(c) Joan Hambidge (Uit: Visums by verstek, 2011: Human & Rousseau)

 

Louis Jansen van Vuuren. Paneermeel vir die siel

Tuesday, May 31st, 2011

 

 

Verleidelike P-woorde bestaan seker in elke taal en in hierdie geweste is daar twee geliefdes: Parys en Pantoum. Parys verwys natuurlik na die stad van lig (en donker) en Pantoum na iets heeltemal anders in wese as die beminde stad: die half vergete versvorm, die pantoen. Hulle  is tog verwant deurdat hulle dieselfde taal praat.

Wel, op ‘n manier. Ernest Fouinet (1799-1848) het die pantoen gedurende die negentiende eeu as digvorm bekend gemaak. Hy verwys na die vorm as  pantun malais. Dit is ontleen van Maleise volksverse wat hy vertaal het. Die digter was so opgetrek met die versvorm dat hy dit aangepas het en ‘n formes fixes vir die Franse letterkunde geskep het. Glo omdat dit behendig ingespan kan word om gevoelens vol mymer en melancholie te kon oordra. Dit kan selfs as ‘n wiegelied ingespan word om terselfdertyd te troetel en te terg. In 1829 publiseer Victor Hugo(1802-1885) ‘n versameling gedigte en noterings Les Orientales. Onder andere ‘n Franse vertaling van ‘n Maleise pantoen wat hy ontdek het deur ‘n briefwisseling met Fouinet. (Toevallig het William Marsden(1754-1836) twaalf jaar tevore dieselfde gedig in Engels vertaal). Charles Baudelaire (1821-1867) het verder tot die populariteit van die pantoen as digvorm bygedra in die publikasie Harmonie du Soir.

          Butterflies sport on the wing around,

          They fly to the sea by the reef of rocks.

          My heart has felt uneasy in my breast,

          From former days to the present hour.

 

          They fly to the sea by the reef of rocks.

          The vulture wings its flight to Bandan.

          From former days to the present hour,

          Many youths have I admired.

 

          The vulture wings its flight to Bandan,

          Dropping its feathers at Patani.

          Many youths have I admired,

          But none to compare with my present choice.

 

          His feathers he let fall at Patani.

          A score of young pigeons.

          No youth can compare with my present choice,

          Skilled as he is to touch the heart.

(Marsden se vertaling van die Maleise pantoen uit A Grammer of the Malayan Language. 1812)

 

Meiblomme

Meiblomme

 

 Maar vir eers terug na die ander hoofletter P. Parys. Ek sit by my lessenaar, bloedlemoenrooi vernis, (my eie stukkie Orientales) in my studeerkamer onder die leiklipdak van La Creuzette. Dis reeds aan die einde van Meimaand en die tuin is nog steeds vol van die laaste flapirisse wat plaat staan in die jonkheid van ‘n pragtige somer. Hulle wapper sinjaalvlaggies in kleure wat jou mond kan laat water: roomkoffie, melksjokolade, bittertoffie, bronskaramel, soettee…

 Skielik is ek op die rue de Rivoli in Angelina’s met ‘n koppie l’Africain (die skoen pas) stomend voor my…dik en donker. Die warm sjokeladedrankie word met ‘n bekertjie bruisroom en suite bedien. Tradisioneel kom ‘n soet coup de grâce daarmee saam.’n Montblanc wat ‘n tertjie-ding is, gemaak van ‘n skuimpiekoekie wat gevul  word met kastaingpuree en bedruip is met geklopte room.

 Dis eintlik die spektrum tussen blou en heksmondpers van die irisse wat my laat swymel. Die aanskou van die donker chromatologie wikkel iets in my los, gooi iets oop en laat iets uit wat my immer met verwondering laat. Na die groot vertoon van wasdom krul die irisblom selwers in ‘n kartel op en begin bloei…’n betowerende inkdiep purper sap waarmee mens met gehoude asem mee kan teken of skryf…

 

Iris

 

 

 blomtong

 

 agter die diep leunstoel

staan die irisse sowaar na vier

steriele dae steeds in blom.

 

agter die glaspot se riffelpatroon

hang afgeknipte slagare los in die water.

agter pers vlinders bloei die trauma

van ‘n week, nee, twee of drie tevore

toe purpertange my rug vasgeknyp het –

die kraakbeen voos soos ‘n neut laat bars,

weefsel soos saffraan kon kneus

en oranje meeldrade van ‘n vlegsel

senuwees laat knak.

 

agter die stoel,

onverpoos en vurig,

blom die tonge van irisse

  

voor die eende wakker word

  

voor die son die maan se sekel

en sterrespansel in perfekte ewewig

ligament op ligament

verkwis.

 

(Marlise Joubert. Splintervlerk, Protea Boekhuis, 2011)

 

 ‘n Lekker iris-storie  oor die oorsprong van die iris-embleem die fleur de lis. Die direkte vertaling uit Frans daarvoor is lelieblom, maar…die ontwerp lyk hoegenaamd nie na dié van ‘n lelieblom nie, al rek jy die verbeelding tot absurde abstraksie. Dit het dieselfde struktuur as die irisblom. Daar is soveel stories om die ontstaan van die ontwerp: Baie meen dat die verwysing eerder kom van die Lysrivier ( soms in dialek geken as Lis , Lych en Luts). Die rivier het sy oorsprong in die heuwels van die Artois in die Pas de Calais. Die Lys vloei noordooswaarts tot waar dit uitmond in Schelde in Ghent, België. Op die oewers van die rivier, en langs ander riviere en in vleie, groei daar reeds vir eeue lank plate goudgeel irisse. Iris Pseudacorus. Mens kan die gevolgtrekking maak dat die verwysing dan gemaklik voortvloei( pun intended) uit Fleur de Lys en Fleur de Luce. Die irisse groei geil dwarsoor Europa en word Liechenblumen in Duits genoem, soms ook  Liesblumen of Lysblumen. In ou Frans word daar ook na die iris verwys as fleur de l’iris. Hier hang ek my pet op oor die  blomstorie en sluit af met nog ‘n lekker legende uit gister se dae…

Iris-embleem

Fleur de lis 1

 

Fleur iris

Fleur de lis 2

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

In  die jaar 501 was die koning van die Franke, Chlodevech op die oorlogspad teen die koning van Aguitina Alaric naby Poitiers ( so tussen beide, die Frankiese naam Chlodevech het na Chlodovechus vervorm en in Latyn na Ludovicus verander, vandaar die Franse Louis).

Louis en sy soldate het gesukkel om ‘n deurloop oor ‘n rivier te vind toe ‘n jong takbokkie benoud voor die rumoer van die manne uit die ruigtes spring en ligvoetig oor ‘n versteekte steeg na die anderkant vlug. Die soldate het  die bokkie se pad gevolg en maklik die ander oewer bereik. Op die walle van die rivier was daar ‘n magdom van irisse in volle blom. Louis het van sy ros geklim, van die blomme gepluk, en dit in sy helm gedruk…as simbool van oorwinning. Nodeloos om by te voeg, Louis  het die slag  triomfantlik oorwin. Van daardie dag af het die irisblom op al die konings se baniere en vlae verskyn. (Die Engelse noem dieselfde iris-soort die flagflower).

Nog ‘n ander naam vir die geel pseudacorus -iris is flambe, en in sommige dialekte flamme. Dit kom van die woord flamma of  flammula en die middeleeuse Franse vlag word ook die oriflamme genoem…dus, daar het ons die goue fleur de lis van al die Louiste…

Fleur de lis

Fleur de lis

Dit bring ons terug na Parys waar ek op Pont Neuf staan, die oudste brug van die stad. In vervloë dae was die sypaadjies op die brug vol gebou van stalletjies en kioske wat alles en nog wat verkwansel het. Linte in iris-kleure, gepoeierde pruike en messe van Thiers. Daar was dobbelaars wat jou geld met steentjies wou wegrol, musikante en ook begeesterde waarsegsters en tandetrekkers wat vir ‘n fooitjie jou van jou weemoed of pyn kon verlos. Nou ry daar bromponies, motorfietse, taxi’s en busvragte toeriste oor en weer. Die uitsig bly onbelemmerd beeldskoon.

Pont Neuf

 

As jy langs die fontein in die Louvre se Cour Carrée staan en rivier se kant toe stap beleef mens ‘n pragtige tafereel: die poort raam ‘n prentjie van die Institut de France met sy voortreflike koepel en vergulde tierlantyne. Die Pont des Arts verbind die linker- met die regteroewer . ‘n Brug vol mense stap oor. Die laaste keer toe ek hier sketse gemaak het, het ‘n jong sangeres in die arkade van die poort begin sing. ‘n Aria uit Romeo en Juiliette: Je veux vivre dans le rêve…’n laslaphoedjie waarin munte glim aan haar voete.

Pont

Pont

Daar is soveel meer in Parys as my twee beminde staanplekkies. Verborge tuine en parkies vol koeltes en geheime ontmoetings. Lanings en spuwende fonteine. Daar’s kerke en katedrale en pleine vol vergulde fantome. Helde, heersers en regeerders en engele van verslaande brons. Daar’s torings en koepels en dakkamers vol mense. Kafees en kroeë en vensters vol weerkaatsing. Daar’s toeters en sirenes en die klik-klak van hakke en rye vol skoolkinderstemme. Daar’s liefde en daar’s leed.

 

Parys

 

Reg onder die Eiffel-toring

in ‘n somerse Parys

reën dit (and I’m singing in the rain)

en vele sambrele wág

om die stad van mites te besigtig

in al haar arrondissements.

‘n Kleuter soek sy pa,

twee verliefdes vroetel vervaard

in die bedompige hysbak.

Die stad is onder rekonstruksie:

tuimelend van metro tot bus,

tot reg voor Alexandre Gustave Eiffel

se staaltoring, 1652 trappies tot bó.

Marie Antoinette bespied

die stad van Liefde en Lig.

“As sy nie liefde het nie, gee haar ‘n gedig.”

Jou sms (ek-het-jou-nie-meer…)

breek op – vanuit die poskantoor

stuur sy, ‘n afkophoender

én Vrou van Staal, ‘n brief:

“Je ne regrette rien!”

 

(Joan Hambidge:Visums by verstek, Human & Rousseau, 2011)

 

Nou is dit weer die ander P se beurt… Die pantoen kom in verskeie vorms voor en in ‘n eietydse konteks breek digters die reëls links en regs, maar in die suiwer vorm hou die gedig by 16 reëls bestaande uit 4 kwatryne. Dus, 4 stansas van 4 reëls elk met ‘n ABAB- rymskema (deesdae kies die digter of ‘n rymskema toegepas gaan word of nie).

Die tweede en vierde reëls van die eerste stansa word die eerste en derde reëls van die tweede stansa…ensovoorts…tot en met die laaste stansa waar die derde en eerste reëls respektiewelik die tweede en laaste reëls van die finale stansa word.

Stansa 1: A1 B1 A2 B2

Stansa 2: B1 C1 B2 C2

Stansa 3: C1 D1 C2 D2

Stansa 4: D1 A2 D2 A1

 

Hierdie gedig Van Marilyn Hacker (1942-) hou by die formele vorm, maar gebruik ‘n wavrag kwatryne, veel meer as die voorgeskrewe vier.

 

Iva’s Pantoum

 

We pace each other for a long time.

I packed my anger with the beef jerky.

You are the baby on the mountain. I am

in a cold stream where I led you.

 

I packed my anger with the beef jerky.

You are the woman sticking her tongue out

in a cold stream where I led you.

You are the woman with spring water palms.

 

You are the woman sticking her tongue out.

I am the woman who matches sounds.

You are the woman with spring water palms.

I am the woman who copies.

 

You are the woman who matches sounds.

You are the woman who makes up words.

You are the woman who copies

her cupped palm with her fist in clay.

 

I am the woman who makes up words.

You are the woman who shapes

a drinking bowl with her fist in clay.

I am the woman with rocks in her pockets.

 

I am the woman who shapes.

I was a baby who knew names.

You are the child with rocks in her pockets.

You are the girl in a plaid dress.

 

You are the woman who knows names.

You are the baby who could fly.

You are the girl in a plaid dress

upside-down on the monkey bars.

 

You are the baby who could fly

over the moon from a swinging perch

upside-down on the monkey bars.

You are the baby who eats meat.

 

Over the moon from a swinging perch

the feathery goblin calls her sister.

You are the baby who eats meat

the bitch wolf hunts and chews for you.

 

The feathery goblin calls her sister:

“You are braver than your mother.

The bitch wolf hunts and chews for you.

What are you whining about now?”

 

You are braver than your mother

and I am not a timid woman:

what are you whining about now?

My palms itch with slick anger,

 

and I’m not a timid woman.

You are the woman I can’t mention;

my palms itch with slick anger.

You are the heiress of scraped knees.

 

You are the woman I can’t mention

to a woman I want to love.

You are the heiress of scraped knees:

scrub them in mountain water.

 

To a woman, I want to love

women you could turn into,

scrub them in mountain water,

stroke their astonishing faces.

 

Women you could turn into

the scare mask of Bad Mother

stroke their astonishing faces

in the silver-scratched sink mirror.

 

The scare mask of Bad Mother

crumbles to chunked, pinched clay,

sinks in the silver-scratched mirror.

You are the Little Robber Girl, who

 

crumbles the clay chunks, pinches

her friend, gives her a sharp knife.

You are the Little Robber Girl, who

was any witch’s youngest daughter.

 

Our friend gives you a sharp knife,

shows how the useful blades open.

Was any witch’s youngest daughter

golden and bold as you? You run and

 

show how the useful blades open.

You are the baby on the mountain. I am

golden and bold as you. You run and

we pace each other for a long time.

 

(Marilyn Hacker)

 

 John Ashbery gesels oor die Pantoen…

 

“…the pantoum or the sestina, which we all use occasionally, are forms which take the poem really out of the hands of the poet in attempting to satisfy the constraints that are the trademark of these forms. Therefore one can allow one’s unconscious mind to go about forming the poem in a way that is even more effective than what the Surrealists practice, called “unconscious writing,” which I don’t think ever gets that far from consciousness.”

 

 Die pantoen van Baudelaire  hou ook nie by die tradisionele vorm van die finale stansa nie…

 

Harmonie du soir

 

Voici venir les temps où vibrant sur sa tige

Chaque fleur s’évapore ainsi qu’un encensoir;

Les sons et les parfums tournent dans l’air du soir;

Valse mélancolique et langoureux vertige!

 

Chaque fleur s’évapore ainsi qu’un encensoir;

Le violon frémit comme un coeur qu’on afflige;

Valse mélancolique et langoureux  vertige!

Le ciel est triste et beau comme un grand reposoir.

 

Le violonfrémitcomme un coeur qu’on afflige,

Un coeur tendre, qui hait le néant vaste et noir!

Le ciel est triste et beau comme un grand reposoir;

Le soleil s’est noyé dans son sang qui se fige.

 

Un coeur tendre, qui hait le néant vaste et noir,

Du passé lumineux recueille tout vestige!

Le soleil s’est noyé dans son sang qui se fige…

Ton souvenir en moi luit comme un ostensoir!

 

 

(Charles Baudelaire. Fleurs du mal)

 

So sak die somerson oor die land van die Louis’se, die irisse frommel toe en begin ink bloei… die eerste aandliggies weerkaats in die Seine en die Eiffel begin flikker…ons stap solank kaai langs…

 

 

Parysblou

 

 

Hartlyn

 

Booggewelf van ribbes en van lint

Behoed my verskuilde hart,

Motoriste pomp

Van gees en van bloed,

Wetend, kloppend

In die halfdonker naaf-

Deinende katedraal

Van asem en van been.

 

(Refrein: uit volle bors)

 

My hartjie, my liefie

die son sak weg,

die son sak weg.

My hartjie, my liefie

die son sak weg.

 

(LJVV Tempermes)

 

Luister asseblief saam…

http://youtu.be/lMaP-XO0_S8

Onderhoud met Joan Hambidge

Sunday, February 20th, 2011

Stempels op my paspoort

Joan Hambidge in gesprek met Louis Esterhuizen 

 

Joan Hambidge

Joan Hambidge

Joan Hambidge is professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. Haar jongste digbundel is Vuurwiel (2009).

Sy is ‘n gereelde boekresensent en skryf rubrieke oor letterkunde en films. Sy bied ‘n MA-kursus in Kreatiewe Skryfwerk aan by die Universiteit van Kaapstad. Hambidge behaal twee doktorsgrade. In 2000 “Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde – ‘n Ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk” aan die UK en ‘n eerste aan Rhodes Universiteit “Die metaroman – ‘n dekonstruksie-ondersoek” in 1984.

Sy het ook satiriese romans (Swart koring, Die swart sluier, Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het) en ernstige romans: Die Judaskus, Palindroom en Kladboek gepubliseer. Die Buigsaamheid van verdriet (2004) bevat ‘n keur uit haar poësie. Verder is sy bekend vir haar teoretiese essays. Vir haar digkuns is sy bekroon met die Eugéne Marais- en Litera-pryse. Sy is tans besig met ‘n studie oor die digkuns van Johann de Lange.

 

 
Joan, veels geluk met ʼn besonderse 22ste digbundel; synde ʼn keur uit jou voorheen gepubliseerde reisgedigte, plus heelwat nuwes. Maar – ter wille van volledigheid, waarom hierdie volgehoue drif tot reis en reisgedigte óór die reis?

Sedert 1979 verken ek vreemde lande. Van die VSA, Suid-Amerika, die Skandinawiese lande, Europa, Rusland, Hongarye, Tsjeggo-Slowakye, Japan, Sjina, die Britse Eilande, Kanada, Indië, Korea, o.a. – en later Afrika: Egipte, Marokko, Zanzibar, Kenia. Reis was nog altyd gekoppel aan die verwerking van ʼn emosionele insident, hetsy die verwerking van die dood van ʼn verhouding of om groter perspektief te kry op myself. Reis is ʼn proses van liminaliteit, dit is ʼn letterlike verskuiwing van grense in jouself. Jy reis na nuwe plekke wat jou verander. Ek is ʼn nuuskierige mens wat gou verveeld raak. ʼn Ongelukkige displaced jeug waar ek altyd buite alles gevoel het, het my lewensuitkyk bepaal. Ek leef nou volgens my wette, ritmes, begeertes – en ek is voortdurend besig om mites aan die kaak te stel. Oor verhoudings, die lewe, die dood – watookal.  Jacques Lacan en Žižek is bepalend tot my siening van die self…

Visums by verstek is ʼn besonder mooi titel. Maar hoe vind dit volgens jou aansluiting by die gedigte? “Verstek” dui immers op iets wat afwesig is, is dit nie?

Die gedig staan altyd in die plek van die afwesige: die gedig representeer dit wat nie is nie. Wanneer jy ʼn gedig oor ʼn plek of mens skryf, bevestig jy dat dit nie meer daar is nie. Die gedig is dus ʼn visum-by-verstek. Dit sluit aan by Derrida se siening van die La carte postale…

Reisverhale en -beskrywings is natuurlik nie iets ongewoons in ons letterkunde nie. Nogtans is dié tema nog selde, indien ooit, so deurlopend volgehou soos wat jy dit met hierdie publikasie van jou vermag. Uiteraard bestaan die gevaar dat dit as “geleentheidsverse” afgemaak kan word; iets wat jy meesterlik vermy deur bykans elke vers uit ʼn posisie van besinning en ondersoek te benader. Was dit ʼn vaste voorneme by jou, of is dit gewoon die intuïtiewe ingesteldheid waarmee jy reis?

Die gedigte het oor ʼn besondere lang tydperk ontstaan; sommige verse in die stad, ander het eers jare later hul beslag gekry. In my driftige jeug het ek Verdraaide raaisels tydens ʼn reis deur Suid-Amerika voltooi. Die verse oor Kuba, o.a. het eers jare later tot uiting gekom. Ek het vir jare ʼn reisrubriek vir BY behartig en sodoende die verskillende moontlikhede van dig oor ʼn stad of vreemde land ondersoek. Die buigsaamheid van verdriet (2004) was ʼn keuse uit my “beste” verse, juis omdat ek oor soveel lande geskryf het.

Nog ʼn opvallende kenmerk van die verse – en hoeka iets wat aansluiting vind by die vorige vraag – is die groot hoeveelheid vrae wat gevra word in die gedigte; enersyds wek dit ʼn gevoel van onsekerheid en vertwyfeling – wat eweneens deel is van enige reisiger se ervaring – dog, andersyds ondersteun dit die besinning en soeke na bevestiging. Sou hierdie as ʼn werkbare siening oor die unieke aanslag van hierdie reisgedigte beskou? M.a.w., die teks as instrument van ondersoekende bevestiging eerder as beskryfde waarneming?

Die verse vergestalt waarskynlik die twee fasette van my persoonlikheid: enersyds intellektueel, andersyds twyfelaar. My verse is dikwels selfondermynend, tobbend oor die proses van dig. Dit gaan sover terug as Hartskrif (1985) en veral in Die anatomie van melancholie (1987) is ek besig om die proses van dig en ervaar op sy kop te keer. Iewers dig ek: soms loop die gedig die ervaring vooruit….

En besonder belangrike – én insiggewende – toevoeging tot dié keur is die voorwoord waarmee jy dit inlei. In die voorwoord verwys jy daarna dat die gedigte kommentaar lewer op die kwessie van “liminaliteit en grense”. Myns insiens is dit ʼn besonder belangrike stelling oor die aard van dié gedigte. Kan jy hierop uitbrei vir ons, asseblief?

Liminaliteit is tans ʼn buz-woord in die literatuurteorie. Alle sekerhede en grense word daagliks afgebreek: die internet, o.a. het ʼn geweldige impak gehad op ʼn verskuiwing van grense. Met een enkele e-pos is jy blitsig in ʼn vreemde stad. Ons skype. Daar is FaceBook en Youtube. Alles is vinniger, sekuurder en selfone is maar uiteindelik net ekstensies van onsself. Ons is binne oomblikke binne ʼn vreemde landskap.

Hierdie keur van jou is in drie afdelings gegroepeer. Volgens watter ordeningsprinsipe het jy die gedigte as sodanig geplaas?

Resent (hoewel ʼn paar in die gedigtekamer van die Versindaba verskyn het), bydraes wat reeds in tydskrifte/koerante opgeneem of op die internet geplaas is en dan verse wat reeds in bundels opgeneem is.

Joan, tydens die lees van die bundel het dit vir my gevoel asof daar ʼn baie subtiele verskuiwing in toonaard was; die vroeëre verse in die keur is myns insiens verse waarin opgewondenheid en verwondering die botoon voer, maar gaandeweg raak die verse meer melancholies en dring die temas rondom verlies en veral verganklikheid sterker na vore. Was hierdie ʼn bewustelike ingesteldheid by die samestelling? Veral ten opsigte van die keuse oor watter verse uit jou vorige publikasies by hierdie keur in te sluit?

Dit is toevallig. Of dalk lees jy dit so. Ek dink die kwessie van verganklikheid en verlies, is van meet af aan in my digkuns aanwesig.

Vanuit ʼn hele aantal verse blyk dit dat jy op ʼn besonderse manier met die stad New York identifiseer. Is daar bepaalde redes waarom juis dié stad so sterk tot jou spreek?

Ek vind NYC opwindend. Die boekwinkels, die gedrewenheid – my eerste digbundel Hartskrif het haar beslag gekry in ʼn koue winter in New Haven toe ek navorsing gedoen het en mense soos Harold Bloom, Geoffrey Hartman, Barbara Johnson, J. Hillis Miller, e.a. ontmoet het. Later het ek by herhaling terug gekeer na die VSA en weer navorsing gedoen toe ek ʼn tweede doktorsgraad voltooi het. Hierdie keer was die ruimte Boston en Cambridge, Mass. Harvard se biblioteke kon ek besoek weens ʼn reisvergunning. Hier het ek Pinsky ontmoet, weer met Johnson (sy is ondertussen oorlede) kennis gemaak en Marjorie Garber se wonderlike studies oor gender bestudeer.

In een van die New York-gedigte (“Start spreading the news“, p.89) plaas jy die volgende woorde in Petrus se mond wanneer hy die stad aanspreek: ” … Jy was ʼn hawe vir digters. In jou buik / kon verskoppelinge hul een voel met jou paradoksale aard: / van hoe groter en blinker na buite, / hoe weerloser en sensitiewer na binne. Alles was hier by jou moontlik. En almal welkom.” Hierdie reëls is natuurlik ook net so op jóú van toepassing, want ek ken nie juis baie ander digters wat soveel doen om juis die jonger, minder ervare, digters by die hand te neem en leiding te gee nie. Hierdie is uiteraard iets wat vir jou persoonlik ʼn saak van enorme belang is. Ek hoop nie dat hierdie vraag jou verleë laat nie, maar hoekom is juis dié ‘digterlike begeleiding’ so ʼn belangrike funksie vir jou?

Kreatiewe skryfkursusse – en ek is trots op my studente soos Carina Stander, Martina Klopper, Fourie Botha, Aniel Botha, Lou-Ann Stone en Karen Kuhn wat afgestudeer is en reeds solo gepubliseer het of in bloemlesings opgeneem is – is ʼn dubbelloop-aksie. Jy leer ander mense, maar jy leer self ook. As iemand vra wat bedoel jy met die gedig moenie ʼn argument wees nie, moet jy fyn formuleer. Of jy leer presies en helder nadink oor wat behels ʼn stelling soos vorm en inhoud is een. Of ek leer my studente mantras soos beeldkongruensie, vermy rymdwang, skryf konkreet … Ek bied elke jaar ook ʼn skryfkursus aan by die UP. Ek probeer elke digter sy of haar eie stem vind.

Dikwels antwoord ek sommer met ʼn gedig:

 

Die intieme aard van die digkuns

 

Hoe weet ek, vra jy my,

ʼn argument in ʼn vers werk of nie?

Jy soek ʼn reël, eis jy dringend; die regsgeleerde

vra vir uitsluitsel, anders blote snuifsels van die gode.

Ek kyk na al die handleidings vir dié stil bedryf,

blaai verwonderd deur Ottone M. Riccio se boek,

ontdek ʼn kaart van Praag: Hotel Jalta,

110 00 Praha 1, tel.no. 265541.

Nóg my naam nóg aankoms en vertrek

hier aangestip. Maar in my verbeelding

is ek weer op soek na Franz Kafka se huis

met die klein plattegrond in my hand

na ʼn kontinentale ontbyt om ses,

verby die Krym Bar (dit was vóór die internet

ons blitsig kon konnekteer), af, af, af

tot voor die rooi dakke van die asemrowende stad.

Daar was ʼn wagtende geliefde, ja,

en ek sou haar ontmoet in St. Petersburg

om die verlore Rembrandts te bespied.

“Die lewe is ʼn reis”, staan dit opgeteken

in ʼn klein notaboek,” en die liefde ʼn hellevaart”.

Later in die Hermitage staan ons verwonderd:

“Die ontering van Haman” en in die meester

se fyn balans tussen donker en lig,

geskiedenis en verbeelding,

weet ek dat daar altyd iets buite woorde lê.

ʼn Gedig word voltrek in stille toeval. 

 

Vir my persoonlik vorm die groepie gedigte oor Oosterse stede in Afdeling III ʼn besonderse hoogtepunt. Veral die gedig “Daardie man wat stap in Jodhpoer” (p.97) is vir my ʼn uitsonderlike vers. Vertel ons ietsie meer van die omstandighede wat tot dié vers se ontstaan aanleiding gegee het?

Ek was in Jodhpoer … ek het ʼn man sien stap en die gedig is sommer net ʼn fantasie.

Vervolgens nog twee meer persoonlike vrae, Joan. Ten eerste – jy is na alle waarskynlikheide ons mees produktiewe skrywer; nie net ten opsigte van kreatiewe skrywe nie, maar ook met resensies, verslae, navorsings, ens. ens. Alles teen nekbreekspoed en van gehalte. Kan jy dalk vir ons ander wat maar net verwonderd kan staan ten aanskoue van jou werkywer ʼn kykie gee na jou werksroetine?

Ek werk baie geroetineerd. Ek spring soggens vroeg weg met die lees van e-posse en dan begin ek skryf aan ʼn lang werk (soos ʼn studie). Dan oefen ek op my oefenfiets vir sowat 40 minute, terwyl ek ʼn film kyk op my DVD-speler. Dan skryf ek weer, gee klas (waaroor ek gaande is), skryf tot vier uur, nuttig ʼn laat middagete met ʼn vriend of skryf op my laptop. Ontmoet dan my geliefde of ʼn vriend – Kaapstad het wonderlike restaurante – en lees in die aande.  Dan oefen ek weer en kyk ʼn film. Ek besit nie ʼn TV nie. Lacan se nosie van leë spraak is iets waarvan ek wegskram. Soms word ek in die middel van die nag wakker, dan skryf ek. Kom tot die punt, is my mantra en moenie my tyd mors nie. Op my kantoordeur is ʼn bordjie: Klop en wag. En eet jou rape eerste is ʼn lewensfilosofie. Ek behoef lang tye van stilte en alleenwees. Ek glo aan hard werk en hard speel.

ʼn Laaste vraag – Jy het jou loopbaan aanvanklik as professionele akademikus gevestig en eers enkele jare later as digter gedebuteer. In watter stadium het jy begin om gedigte te skryf? Was dit maar altyd daar van skooldae af, of het dié begeestering jou eers op ʼn latere stadium betrek?

Ek het as jong kind baie gedigte gelees (Van Wyk Louw en Eybers), een vers geskryf en aan die US gestudeer waar almal probeer het om gedigte te skryf onder die invloed van Opperman. Ek het prosa in verset geskryf en in 1984, na ʼn paar pynlike ervarings, het ek begin dig. Johann de Lange het my eerste gedigte in Standpunte gelees en my aangemoedig. Ek het wel DJO se laboratorium bygewoon as kritikus en alles geleer wat daar te lere is van dig by hierdie meester. Hy het my aan Wallace Stevens voorgestel en sy onskatbare werk as kanoniseerder en mentor is nog nie na waarde geskat nie.

Dankie vir die gesprek, Joan, en nogmaals geluk met ‘n besonderse toevoeging tot jou oeuvre. Mag Visums by verstek altyd vir jou uitstaan as ‘n hoogtepunt in jou uitgebreide reis as digter. Ten slotte wil ek nogtans vriendelik vra – by wyse van groet – of jy dalk bereid is om ‘n gunstelinggedig uit die bundel hieronder vir ons lesers te kopieer? 
 
 
Las Vegas, Nevada

 

Hier staan dobbelhuise neffens kerke

hul plek vol en sy ry met ‘n Greyhound,

geleerbaadjie en gerugsak, die Sondestad binne.

Met ‘n achy breaky heart word die woestyn

die perfekte back drop vir ‘n down town-motel,

waar reisigers en hoere, kortsondig vertoef.

Fear and loathing in Las Vegas. Agter haar lê

die Stad van Engele en vóór haar Miami. Nou,

in die oomblik, beleef sy die Mojave-woestyn,

nageboots in restaurante dwarsoor die wêreld,

met kaktus en klip kompleet. Vir haar is dit hel,

hierdie flikkerstad met sy gebedekrale van $-tekens.

La$ Vegas. Lush Vegas. Leaving Las Vegas.

In die Liberace-museum verpand broer George

handtekeninge namens die virtuose vertolker.

‘n Boekwinkel stal Barthes se Mythologies uit.

Saam met die semioloog vertolk sy die xeriscapes,

nabootsings, afbeeldings, flikkerligte: dollar a fuck.

Sy verkas uit Vegas, op pad na Dallas, op soek

na die American Dream, the greening of America:

na dit wat soos ‘n mirage in die woestyn glimmer.

 

***

15.  Dallas, Texas

 

Op die spoor van JFK, dáár waar die Zapruder

die kavalkade skiet, goewerneur John Connally voor,

Jacqueline agter, in Dealey Plaza: November 22, 1963.

Lee Harvey Oswald (“I’m the patsy”) deur Jack Ruby vermoor.

“Mr. President, you can’t say Dallas doesn’t love you,”

sê die goewerneursvrou en tussen raam 155 en 169 draai

almal eers na links dan na regs, behalwe die President.

Die skoot tussen raam 210 en 225 wys nie die bloed

of stukkies been nie: nog ‘n skoot slaan van agter.

Ene James Tague, die toevallige waarnemer, presies 162 m,

getref met ‘n opslagkoeël, en in die Parklandshospitaal

word John F. Kennedy deur dr. George Burkley dood verklaar.

‘n Rooms-Katolieke priester bedien die laaste sakramente.

In ‘n outopsie-verslag word elke wond presies opgeteken.

Lyndon B. Johnson in ‘n Airforce One in sy plek ingesweer.

Die 1961 Lincoln Continental limousine staan in die Henry Ford,

in Dearborn, Michigan, met die bevlekte pienk rok geberg.

Koeëls, die geweer, selfs die hospitaaltrollie en outopsieverslag

vir die toeris op uitstalling, met ‘n X gemerk op die plek

van die eerste slag. Die nes van die vermeende koppesneller

hier in Dallas, Texas lewensgetrou gerekonstrueer.

Glo my vry. Dit alles en nog meer. Op die spoor van JFK.

 

© Joan Hambidge (Uit: Visums by verstek, 2011: Human & Rousseau)