Posts Tagged ‘Vol draadwerk’

Marlies Taljard: Valstande in ‘n glas

Tuesday, August 27th, 2013

Die gedig Apostase in Marius Crous se bundel Vol draadwerk (2012) verbeeld die sprekende ek se afvalligheid van die Christelike godsdiens. Dit is nie toevallig dat dié gedig in die afdeling staan wat heet Aufhebung nie – ‘n woord wat vertaal kan word met “uitkansellering”, “opheffing”, “afskaffing” en “ongeldig verklaring”. Hierdie is een van die sentrale gedigte in ‘n bundel waarin spirituele kwessies deurgaans onder die vergrootglas kom:

APOSTASE

wat help dit om te kniel

as jy ‘n dwerg is by ‘n altaar wybene

want die sleutel tot die raaisels

vra vir ‘n lang lyf met goeie oë

dweiler en dweper sal ek helaas bly

hier om die slagtafel

treiteraar van die vroue

ou prewelende spreeus en mossies

met my bollemakiesies en my swetse

geen vetgesmeerde gesig en glinsteroë

vir die boggelbek-beeldpoetser van die bees nie

dus wind ek my wind en ek tiep die kelk

en vreet die liggaam van die silwer skaal

Hierdie gedig werp ook lig op die drie openingsgedigte van die bundel, Gesonke katedraal, Duiker by Ys-eiland, kus van Bretagne en Messiaen. In die openingsgedig van die bundel, Gesonke katedraal word beskryf hoe die katedraal by Ys-eiland in die see wegsink:

GESONKE KATEDRAAL

die katedraal sak af in die water

soos valstande in ‘n glas     wit grimas van steen

uit ruite en deure

van gate en openinge

van kantelende kandelare

altare wat oopkraak onder die water

die kruis wat wieg soos seebamboes

losgehaak tussen die dobberende mariabeelde

wanneer hy neergeplof het op die rug van die see

sal ek in en uit by hom kan swem

sal ek die timbre en die seegroen toonkleur van debussy

nog kan hoor

Soos ek in twee vorige blogs geskryf het, is hierdie gedig duidelik gebaseer op die legendariese gesonke katedraal by Ys-eiland waarop die komponis Claude Debussy op sy beurt sy bekende klavierstuk La Cathedrale Engloutie gebaseer het. Die digter se keuse van juis hierdie stof is om meer as een rede veelseggend. Soos uit my bespreking van die legendariese stof blyk, het die katedraal juis gesink vanweë die sogenaamde sondigheid van die inwoners van die stad Ys en hulle aangetrokkenheid tot ander godsdienste, spesifiek die Druïsme (Paganisme). Soos telkens uit gedigte in die bundel blyk, kan ook die sprekende ek van die bundel homself nie meer gemaklik met die Christelike godsdiens vereenselwig nie. Die sink van die katedraal, as simbool van die Kerk, is dus ‘n wegwyser na belangrike kwessies wat in die skering en inslag van die betrokke bundel ingeweef is.

Die banaliteit van beelde soos “soos valstande in ‘n glas” en “wit grimas van steen” dien enersyds die doel om die clichés wat gewoonlik gebruik word in verband met die kerk, die godsdiens en sogenaamde heilige simbole te ontluister. Andersyds is dit egter ook ‘n doelbewuste “vreemdmaak” van dié dinge met die oog op ‘n nuwe kyk en ‘n herinterpretasie van simbole, waardes en beginsels wat, weens hulle oorbelading met geykte inhoude, reeds versteen het en, gehul in die beeldspraak waarin hulle tradisioneel geklee word, nie meer direk tot die hart en siel van gelowiges kan spreek nie. Hulle het dus hulle oorspronklike krag verloor en daar moet iets nuuts in die plek daarvan kom. Hierdie interpretasie word ondersteun deur die speurtog van die spreker in die tweede gedig van die bundel, Duiker by Ys-eiland, kus van Bretagne en die “opkatrol” van die katedraal in die derde gedig in die bundel, Messiaen.

DUIKER BY YS-EILAND, KUS VAN BRETAGNE

in hier en uit daar swem ek

met my nuwe lyf ‘n seedier

in sy mensgesoomde pels

deur die gate en die krake

in die mure van die katedraal

gesonke

geen seeperde hou hul lyf harp hier

stil die orrel

sy pype ‘n aanpakplek van skulpe en koraal

ek voel belieg deur die burgery

waar die see op sy rug lê

hier waar ek die myters hoor dobber

die krapgeluide van die kruise as hul tuimel

hier die altare hoor oopkraak

of bybelblaaie soos wiere

flapflap in die seestrome

hier is geen klavier of fluit

hier net die asemstote wat uitborrel

voor my derde oog

van plastiek

 ***

MESSIAEN

messiaen lig die katedraal

wat debussy laat sink het

soos ‘n hand vol skulpgruis

uit die see

debussy het hom laat wegsink

soos ‘n skatkis in die geelgroen slik

maar messiaen

voor die orrel

katrol hom stadig op

op

op

op

tot op ‘n piek in darien

Banalisering en ontluistering van lank gekoesterde heilige simbole en rituele dui egter ook op verlies van geloof in dié dinge. Veral die eerste twee gedigte in die bundel wemel letterlik van beeldspraak wat dui op vernietiging en fragmentasie – ‘n losmaak van simbole uit die verband waarbinne hulle spirituele krag geleë was en ‘n metaforiese val van uitgediende gode, simbole en selfs argetipes: “kantelende kandelare”, “altare wat oopkraak”, “dobberende mariabeelde”,”die gate en die krake / in die mure van die katedraal”,”kruise … tuimel”, “bybelblaaie … flapflap in die seestrome” … Ondermyning van Christelike waardes staan in skerp jukstaposisie ten opsigte van die oorspronklike legendariese stof oor die stad Ys: volgens oorlewering het die stad met sy katedraal gesink weens die inwoners se onwilligheid om die nuwe godsdiens, die Christendom, te aanvaar; etlike eeue later is dié godsdiens – in die gedig-metafore – so aangeplak van skulpe en koraal, die inhoude so deurspek met leuens dat die oue moet sink en nuut bedink moet word alvorens dit stadig opgehys kan word. Daar moet as’t ware ‘n heel nuwe spirituele orde kom – so nuut soos die Westerse “ontdekkers” die Stille Oseaan die eerste keer vanaf ‘n piek in Darien gesien het.

‘n Herevaluering van die oue – soos in Duiker by Ys-eiland – behels nie slegs die disseksie van die bekende nie, maar ook die ontginning van die spirituele inhoude van ander godsdienste, soos gesuggereer word deur die laaste twee reëls van dié gedig. In plaas daarvan dat die spreker se derdeoog hom in staat stel om die hoër spirituele dimensies te verken, is daar slegs “asemstote wat uitborrel” voor sy “derde oog” – hierdie betekenisonderskeiding dui nie op ‘n spirituele praktyk nie, maar suggereer dat dit wat die sentrum van spirituele belewenis kon gewees het (soos in baie Oosterse godsdienste die geval is), nou slegs ‘n addisionele oog is (‘n vyfde wiel aan die wa?), wat boonop van plastiek gemaak is – ‘n stof wat gewoonlik geassosieer word met gebruiksvoorwerpe van minderwaardige gehalte, iets wat nie duur nie.

Ek het in die bostaande bespreking gepoog om slegs enkele aspekte van die ryk betekenisdimensie van die betrokke gedigte vlugtig aan te toon sonder om by ‘n rigiede interpretasie uit te kom. Dit is nou die taak van die leser om aan die hand van hierdie wegwysers stadig die gedigte te verken, die legkaart stukkie vir heerlike stukkie verder te bou en hopelik in die labirint van die verse te verdwaal. Besinning oor spiritualiteit is maar een van verskeie verwysingsvlakke in dié gedigte. In ‘n volgende blog sal ek onder andere aan die psigologiese dimensie van die gedigte aandag gee.

Onderhoud met Marius Crous

Monday, November 5th, 2012

Marius Crous in gesprek met Marlies Taljard

Oor nukke, die bedrading van die brein, die liggaam en die seksuele

***

Marius, baie dankie dat jy ingestem het om ‘n bietjie te gesels oor jou nuwe bundel, Vol Draadwerk. Ek sien besonder baie uit na dié onderhoud, want die lees van jou bundel was vir my sowel ‘n vreugde as ‘n uitdaging. Wat my geweldig beïndruk, is die wyse waarop jy teorie en praktyk feitlik naatloos ineen laat vloei, maar ook die besondere aandag aan afwerking en struktuur.

Miskien kan jy ten aanvang iets sê oor hoe die kreatiewe proses by jou werk: Hoe skryf jy? In watter digterlike vorms klee jy graag jou gedigte? Is die vorm van ‘n gedig vir jou belangrik? Dink jy klassieke digvorme is verouderd? Wanneer/hoe/ dikwels werk jy jou gedigte af?

Ek skryf min en ek skryf stadig. Soms loop ek lank met ‘n idee, bv ‘n flarde reël rond of ‘n beeld en dan ontwikkel die gedig mettertyd. Musiek inspireer my; beelde uit films of videos. Indrukke op straat. Iets wat ek elders gelees het. Ek skryf die gedig uit my sisteem uit en begin dan redigeer.

Ek beoefen meestal die vrye versvorm, alhoewel ek Shakespeare en Petrarka hul vernuf met die klassieke sonnetvorm beny. Ek wil graag meer rymende gedigte skryf, maar is altyd bang vir rymdwang en geforseerde ryme.  

Waaroor gaan Vol Draadwerk? – Is daar ʼn “ordenende narratief” in die bundel, of as jy wil: ’n tema?

In Brief uit die kolonies (2003) het ek gewerk met kaarte, kartering en die koloniale projek. Ek was nogal verbaas om in Vargas Llosa se jongste boek  The Dream of the Celt  te lees van Roger Casement se seksuele verhoudings met gekoloniseerde mans, want dit is ‘n aspek wat ek net aangeraak het in my debuutbundel. Aan ‘n beentjie sit en kluif  (2006) het gehandel oor die liggaam na die dood en die makabere, soos onder meer ontbinding. Ook het ek probeer om ‘n skakeling tussen eet en doodgaan te maak.

Omslag

Met die saamstel van die bundel het ek tog sekere patrone gesien en op daardie stadium het ek Julia Kristeva se werk gelees en toe gesien dat mens tog die gedigte breedweg kan saamgooi aan die hand van haar teoretiese konsepte.

Die titel het toevallig by my opgekom tydens ‘n besoek aan Nieu-Bethesda toe ek op ‘n skroothoop met ineengevlegte drade afgekom het. Ja, ander mense gaan kyk na die fossiele en die natuurskoon en ek vergaap my aan skroot!

Die titel bevat vir my spore van soveel moontlikhede: nukke, die bedrading van die brein, die liggaam en dan natuurlik ook die seksuele. (Ek moes al etlike kere verduidelik dat die titel werk bevat en nie trek nie.) Dalk is die oorkoepelende tema: Ek verstaan dit nie, maar wil dit probeer verstaan, selfs al moet ek terug na die klassieke bronne (ad fontes) of na wat ander reeds gesê of gedink het. Maar, soms wil ek ook nie probeer verstaan nie, soos in die twee vaderlandsgedigte. Dalk is onvergenoegdheid die kern van alles?

Marius, uit jou bundel is dit duidelik dat jy vanuit ‘n stewige akademiese en teoretiese agtergrond skryf. Jou bundelmotto is aan Freud ontleen (“Everywhere I go I find a poet has been there before me.”) Ook die motto van die eerste bundelafdeling kom van ‘n bekende psigoanalis, naamlik Julia Kristeva – ‘n beskrywing van wat sy die Chora noem: “… unnameable, improbable, hybrid, anterior to naming, to the One, to the father …”. Die motto van Afdeling VI verwys eweneens na ‘n begrip wat binne Kristeva se teorie van semiotiese taalgebruik belangrik is, naamlik abjeksie (“abjection”). Ek haal hier jou openingsgedig aan wat vir my die poëtiese vergestalting is van wat Kristeva die taalgebruik noem wat met die Chora geassosieer kan word, die representasie van die onsegbare betekenis, waarvan sy in La révolution du langage poétique sê: “enigmatic and feminine, this space underlying the written is rhythmic, unfettered, irreducible to its intelligible verbal translation; it is musical, anterior to judgement, but restrained by a single guarantee: syntax”.

 

GESONKE KATEDRAAL

 

die katedraal sak af in die water

soos valstande in ‘n glas     wit grimas van steen

uit ruite en deure

van gate en openinge

van kantelende kandelare

altare wat oopkraak onder die water

die kruis wat wieg soos seebamboes

losgehaak tussen die dobberende mariabeelde

wanneer hy neergeplof het op die rug van die see

sal ek in en uit by hom kan swem

sal ek die timbre en die seegroen toonkleur van debussy

nog kan hoor

 

Jou bundel steun deurgaans swaar op die teorieë van Lacan en Kristeva, soos blyk uit die bostaande gedig. Kan jy dalk so ‘n bietjie uitbrei op die manier waarop jy dié teorieë konkrete vorm gee in jou gedigte?

Onbewustelik tydens die skryfproses, sou ek sê. Bewustelik met die groepering en ordening. Dit is nie soseer ‘n “paint by numbers”-teks nie, m.a.w. teoretiese konsep A = gedig B nie. Maar later, wanneer mens die gedigte almal saamgooi en lees, dan herken jy tog die teoretiese patrone. Die voor-talige, onbenoembare wat duidelik geëvokeer word deur bv Debussy se sleurende musiek. Dan die konfrontasie met taal, taligheid en die gebruik van taal en die soeke na betekenis by die klassieke bronne en dan die slotafdeling met sy verse oor aspekte wat vir sommige lesers dalk weersinwekkend kan wees. Ek kan nie altyd mense se verknogtheid aan die natuur begryp nie en ek dink dis hoekom ‘n gedig soos “Reis” (75), Agaat se grot naby Swellendam so ontluister.

Die twee vaderland-gedigte is pogings om die patriargale simboliese orde te beskryf. Dit sluit aan by gedigte in Brief uit die kolonies waar ek probeer sin maak uit hoekom fyn beskaafde mense hulle kan oorgee aan sulke wreedhede soos marteling of verminking. “Ek verstaan dit nie en ek wil ook nie” is vir my amper ‘n tipe mantra; ‘n verdringingsmeganisme.  In “Teologie” (59) is dit God-die-Vader wat bekyk word.

Vir my is die wyse waarop jy as’t ware die teorie in die praktyk laat werk, die mees fassinerende aspek van jou bundel en die rede waarom ek dit weer en weer sal lees. Maar dink jy dat jou bundel ook toeganklik is vir lesers wat nie in die psigoanalise belangstel nie en wat nie vertroud is met die werk van Kristeva nie? Wie is jou teikenmark?

Self verkies ek komplekser gedigte en gevolglik dink ek skryf ek ook sulke tipe gedigte. Maar ek dink tog dat mense wat nie Kristeva ken nie, ewe veel leesplesier uit die gedigte sal hê, want my makabere humorsin slaan, myns insiens, sterk deur.

Die blymaakteks oor hierdie bundel noem dat die gedigte oor homo-erotiek aansluit by en uitbrei op jou vorige werk. Wat is jou mening oor dié stelling? Die motto van die laaste afdeling waarin baie van dié gedigte staan, verwys – in ‘n aanhaling van David M. Halperin – na ‘n aspek wat volgens Kristeva ‘n kardinale proses in identiteitskonstruksie is, naamlik abjeksie. Vir Kristeva lê die basis van die onthegtingsproses in die verwerping van die liggaam van die moeder deur die kind in sy pre-simboliese fase – dit beteken dat die liggaam van die moeder vir die kind op metaforiese vlak afstootlik word: “… the symbolic is not of its own accord, strong enough to ensure separation; it depends on the mother becoming abjected”, aldus John Lechte in sy bekende boek Julia Kristeva. Kan hierdie teorie van Kristeva, volgens jou insig, gedigte in die betrokke afdeling (en elders in die bundel) verhelder?

Halperin wil abjeksie loslees van die psigoanalise en wys byvoorbeeld daarop dat Jouhandeu al in 1939, lank voor Kristeva, oor dié konsep geskryf het. Miskien wou ek in dié afdeling die gevarieerde gay ervaring uitlig. Ook die perspektief van die ouer gay man se liggaamlike verval word beskryf. Verval, en daarmee saam ook die geite wat hom nooit verlaat nie. Dit het ek probeer verwoord in die Margery Kempe-gedig. Die een spreker is besig met ‘n diep Katolieke gesprek, terwyl die ander die seun begluur wat verbystap. Nou met die herlees van die gedigte besef ek opnuut hoe melankolies hulle is; dat hulle inderdaad die spreker ab-jekteer (as daar so ‘n Afrikaanse woord is).  Die afgelegte moederslyf en die uitgeworpe gay man, saam in een afdeling.

Kristeva se teorie oor die mag van die afgryslike en die weersinwekkende kan as leesstrategie toegepas word, want daar is genoeg tekens in die gedigte wat ‘n grens tussen aanvaarbare en onaanvaarbare vergestalt. Ek dink nie dis grensoorskrydende verse nie, maar moet alles noodwendig so radikaal en grensoorskrydend wees?

Marius, ek lees in Vol Draadwerk ‘n uiters stimulerende gesprek met ander digters en ander – dikwels antieke – tekste. Intertekstuele gesprekke wat uitstaan, is dié waarin jy “praat” met antieke tekste en personasies. Ek dink sommer vinnig aan die vele verwysings uit die Odusseia, na Aenias, die pragtige gedigte Gaea, Kerberos, Empedokles … vele meer! Waarom fassineer dié ou tekste jou?

Die ou tekste fassineer my omdat hulle sulke verbeeldingryke tekste is. Hulle is magiesrealisties en slaag daarin om die boaardse en die aardse in ‘n mate te versoen. Miskien is hulle objektiewe korrelate? Heelwat van die verse het ook ontstaan as ‘n tipe what if-respons. Margaret Atwood meen dat ‘n goeie vertrekpunt vir ‘n storie moet wees, what if? So, wat sou Polufemos vir sy vader sê? Of wat dink Odusseus terwyl hy gevange sit by die nimf? Die klassieke tekste is die oertekste, die kollektiewe onderbewuste waarmee ons almal een of ander tyd in gesprek tree. In die jaar 2012 (en na die superstorm Sandy) kyk ek ook weer met nuwe oë na ‘n gedig soos “Gaea” (19) en ek wonder of ek werklik so grootbek in dié eindtye gaan wees.

Watter gedig in die bundel staan vir jou uit? Of: van watter gedig hou jy die meeste? Hoekom?

Dis moeilik. Miskien “Gesonke katedraal” en “Messiaen” wat ‘n tweeluik vorm en in opposisie staan tot mekaar.  Ten spyte van die intellektuele inslag, dink ek tog daar is heelwat deernis met die figure in die verse, soos met Helen Martins, Elizabeth Donkin of selfs Penelope se vryers.

Marius, baie dankie! Vol draadwerk is inderdaad ‘n komplekse en gelaagde teks en ek dink dit wat jy nou met ons gedeel het, behoort net genoeg insig te gee om baie van ons lus te maak om dit aan te skaf. Myns insiens is dit ‘n bundel wat ernstig opgeneem behoort te word – iets vir lesers vir wie die leesgenot lê in die lang suig aan ‘n heerlikheid wat nie sy smaak verloor nie. Ten slotte plaas ek graag die gedig “Messiaen” as lusmaker:

 

MESSIAEN

messiaen lig die katedraal

wat debussy laat sink het

soos ’n hand vol skulpgruis

uit die see

debussy het hom laat wegsink

soos ’n skatkis in die geelgroen slik

maar messiaen

voor die orrel

katrol hom stadig op

op

op

op

tot op ‘n piek in darien

 

(c) Marius Crous (Uit: Vol draadwerk, 2012: Protea Boekhuis)