Posts Tagged ‘Walter Meyer’

Andries Bezuidenhout. Pierneef vanuit ʼn ander hoek

Wednesday, July 29th, 2009

Ek dink ek is besig om oud te word. Ek word skaam vir van die opinies wat ek vroeër gehuldig het en bereid was om van die bergpieke uit te basuin.

Ek het so drie jaar gelede ʼn rubriek vir Rapport geskryf waarin ek die landskapskilders JH Pierneef en Walter Meyer vergelyk het. Die idee was nie juis oorspronklik nie. Ek dink dis Lize van der Watt wat die vergelyking getref het waarin sy Pierneef as die skilder van die opkoms van Afrikanernasionalisme beskryf het en Walter Meyer as die skilder van die verval daarvan.

Onlangs staan ek egter in die Rupertmuseum in Stellenbosch voor ʼn skildery van Pierneef. Ek dink die titel is “Dorpstraattoneel”. Dis ʼn klein skilderytjie. Die styl is nie so oordadig soos van Pierneef se groter opdragwerke nie. Hy het die verf dik op die doek geplak en los lyne gebruik om die vorms met die kwas te smeer. Benewens een van Irma Stern se skilderye, gryp dit my die heel meeste aan. Ek kan nie ophou om daarvoor te kyk nie. Ek gaan kyk na die ander kunswerke, maar kom staan weer voor hierdie lieflike, eenvoudige landskap.

Gisteraand tel ek weer ʼn ou uitgawe van Art South Africa op. Daar is ʼn stuk fiksie deur Ivan Vladislavić, getiteld “Mountain Landscape”. Dis geskryf as ʼn interne memorandum deur ʼn ene H.K. Khoza, die bestuurder van ʼn maatskappy, aan Ms Williams, klaarblyklik die maatskappy se kunskurator. Dit blyk dat Me Williams ʼn skildery van Pierneef uit die raadsaal wil verwyder en dit met ʼn werk deur Willie Bester wil vervang. Sy het aan H.K. Khoza ʼn artikel gestuur en sekere frases onderstreep waarin woorde soos “dispossession” gebruik word om Pierneef se werk te beskryf.

Khosa het egter ʼn heel ander perspektief en stuur die artikel aan haar terug waarin hy weer op sy beurt sekere frases onderstreep, soos byvoorbeeld Pierneef se “proprietorial gaze”. Hy sê die skildery laat hom rustig voel, hy verloor homself daarin, en noem ook dat een van sy kollegas beweer dat die berg in die skildery die berg naby sy huis is. Die kollega (Eddie Khumbane van Spoornet) beskryf die skildery as “a prime piece of real estate”: “He stood there with his hands behind his back, gazing at the painting as if he owned it, and not just the painting but the mountains themselves, the lofty reaches of the Winterberg.”

Khosa beveel aan dat die Pierneef eerder maar by hom in die raadsaal kan bly en dat die Willie Bester in die ingangsportaal kan staan, waar almal dit kan sien.

Die storie maak ʼn vreemde draai aan die einde, ʼn stukkie ironie wat ek nie hier wil weggee nie. (En ʼn mens kan nie juis die veelvlakkigheid van Vladislavić se fyn skryfwerk in ʼn paar paragrawe weergee nie.) Gaan lees dit gerus. Dis in Art South Africa, vol. 6, nr. 2 (2007), pp. 47-48. Daar is ook ʼn artikel deur Antjie Krog oor die omslagfoto op die Engelse weergawe van Verweerskrif en ʼn artikel oor Willem Boshoff in hierdie uitgawe.

Ek dink nie ek sien Pierneef se groot opdragwerke anders nie, maar “Dorpstraattoneel” en “Mountain landscape” maak dat ek in die toekoms met veel minder bravade oordele oor hierdie skilder se werk sal uitspreek.

 

Ek vind nie nou my oorspronklike rubriek op Rapport se web om na te verwys nie, so ek het maar op my hardeskyf daarvoor gaan soek. Hier is dit:

 

Die skoonheid van verval
(Oorspronklik in Perspektief, Rapport, gepubliseer – waarskynlik September 2006)

As ʼn mens in Johannesburg se stasie gaan stilstaan en jy kyk op, sien jy ʼn aantal ongelooflike skilderye. Daar is byvoorbeeld een van die rotse en die kronkelende rivier in Meiringspoort net buite Oudtshoorn. ʼn Mens kan ook die berge buite Okahandja in Namibië bewonder, of daardie imposante paalkranse by die Vallei van Verlatenheid buite Graaff-Reinet waardeer. As jy ʼn treinrit uit die stad van goud en gewere te vat, weet jy hoe die plekke lyk waarheen jy moontlik gaan reis.

Natuurlik is Okahandja nou nie meer deel van Suid-Afrika nie. Treine en stasies is ook nie juis meer toonbeelde van vooruitgang nie. Dis meer iets waaroor ʼn mens nostalgies raak. Hierdie skilderye kom uit ʼn ander tyd; die vroeë 1930s, om presies te wees. Die argitekte van die stasiegebou, Gordon Leith en Gerhard Moerdijk, het in 1929 aan Pierneef die opdrag gegee om verskillende Suid-Afrikaanse landskappe uit te beeld. Die beroemde landskapskilder het vir agtien maande lank aan die voorstudies gewerk. Toe het hy met die reuse skildertaak begin – 32 panele teen die mure van die nuwe gebou. Dit het hom drie jaar geneem om die opdrag te voltooi.

In die 1930s het Suid-Afrika ʼn geweldige groeityd beleef. Die myne se goud het vir baie dinge betaal. Yskor is gestig en die spoorweë het uitgebrei om plattelandse dorpies met stede te verbind. Generaal Hertzog was besig om vir Brittanje te sê: “Ons kan na onsself kyk. Ons kan ons eie fabrieke bou.” Vir mense wat die stasiegebou gebruik het, moes die skilderye ʼn spieëlbeeld van Suid-Afrika word. Menige Johannesburgse Afrikanergesin het opgetooi in die ou dae stasie toe gekom om Sondagmiddagete te eet. Dit was ʼn simbool van vooruitgang en van volkstrots. Pierneef se skilderye is steeds vol van hierdie optimisme. Dit wys gestileerde landskappe wat deur mense oorwin en oorheers word. Die kleure is meestal skakerings van sagte pastelle. Die gevolg is optimistiese, oordadige, prentjiemooi landskappe.

Maar hoe sien ons vandag ons landskappe? Wat interessant van die stasiepanele is, is dat by verre die meeste daarvan tonele uit die ou Transvaal bevat. Twee daarvan handel ook oor myne. Selfs die myne lyk mooi. Verlede Sondag het ek vir tien ure lank deur die ou Transvaal gery. Ek het die son oor die Waterberge sien opkom en oor die Pilanesberg sien sak. Ek het van Lephalale Thabazimbi toe gery. Ek het gesien hoe die akasiabome al hoe kleiner word. Ek het die Waterberge stadig sien verbyskuif en gesien hoe Thabazimbi se berg verniel word om die yster te ontgin. Van daar is ek deur Northam na Rustenburg toe. Ek het die rooi klipkoppies bewonder en gesien hoe die nuwe platinummyne buite Rustenburg die landskap vervorm. Die stad bars letterlik uit sy nate. Orals is daar nuwe winkelsentrums, maar ook duisende gehuggies van hout en sinkplaat wat die landskap ontsier. Toe is ek deur Ventersdorp tot in Potchefstroom. Al die bome is nou weg om plek te maak vir mielielande. Later die middag het ek die hele pad weer teruggery.

Ek het besef dat Pierneef se pastelle lankal nie meer nie ʼn akkurate beeld van hierdie landskap kan gee nie. Dis ʼn mooi landskap, maar dis ook ʼn kras een met myne, trekarbeid en armoede wat samelewings ontwrig. Ons het nie meer ʼn blinde geloof in die toekoms nie. Ons weet nie meer so mooi of daar so iets soos vooruitgang bestaan nie. Ons is ook bewus daarvan dat ons nie altyd oor die skepping heers soos wat dit goeie heersers betaam nie. Baie van ons landskappe het besonder lelik geword.

So met die pad langs luister ek na James Phillips en die Lurchers se CD Sunny Skies. Op die omslag is ʼn skildery van Walter Meyer, ʼn veel jonger, maar ewe briljante Suid-Afrikaanse landskapskilder. Sy skilderye is nie van dramatiese berge en bome nie, maar eenvoudige voorstedelike tonele. Waar Pierneef die landskappe ophemel, wys Walter Meyer vir ons hoe dit werklik lyk. Pierneef skilder optimisties, Walter Meyer wys vir ons hoe bleek en koud die Hoëveld se lug kan lyk. Pierneef skilder wuiwende grasvelde, Water Meyer wys vir ons hoe voorstedelike gras lyk wat deur die winter doodgeryp is. Pierneef laat dorpies in Afrika amper Europees lyk, terwyl Walter Meyer die chaos van ʼn township in al sy barse kleure kan weergee.

Tog is Walter Meyer se landskappe vir my veel mooier as Pierneef s’n. Dit sê vir my meer oor wie ek is en waar ek is. Ek kan daarmee identifiseer. Dit wys ʼn Suid-Afrika wat ek ken – een waar ek nóú in woon, nie ʼn nostalgiese drogdroom van die verlede se toekoms nie.

Andries Bezuidenhout. Straattoneel in Bellevue

Friday, July 10th, 2009

Om van die werk af huis toe te ry is ʼn ontbering. Soms, om dit meer draaglik te maak, vind ek agterpaadjies wat ander motoriste nog nie ontdek het nie. Deesdae, weens een van my nuwe draaie, sien ek die huis in die skildery van Walter Meyer hier bo. Dit staan aan die einde van ʼn straat in Bellevue, ʼn woonbuurt wat soos ʼn wig tussen Yeoville en Observatory ingeslaan is.

Die motor in die skildery staan egter nie meer op die sypaadjie nie. Ek wonder wie het dit verwyder. Is daar nie ʼn raad wat sulke dade moet goedkeur nie? ʼn Mens kan tog nie ʼn voertuig wat só verewig is sommer net aanskakel en daarmee in die niet in verdyn nie!

Wat word van die wêreld?