Posts Tagged ‘Wat die water onthou’

Digstring: Louis Esterhuizen. Melopee

Thursday, August 12th, 2010

Digstring

 

Melopee    

Hitte en koue, wind, water en sneeu.

Die aarde se agente van verweerde

versplintering: vuur, wind en verbrokkeling.

 

Afdraand, alles, alles, altyd afdraand

met die vloeikaart van ‘n hand

wat ook maanlignagte en vlaktes onthou,

 

die blinkgetrapte spinnerak van voetpaadjies

teen kliprante, selfs die droë koggel

van ‘n windpomp in ‘n verste kamp, soms.

 

Hitte en koue, wind, water en sneeu.

Soggens, met eerste lig, die mis

by ‘n studie van rivier en boom, uitasem,

 

die enkele roeier wat verby

kreukel, vir ‘n oomblik

die watervlak steur: afdraand,

 

alles, alles, om gedwee spane

neer te lê en buite sig te verdwyn

met die water

as enigste verloop –

 

 

© Louis Esterhuizen (Uit: Wat die water onthou, 2010: Protea Boekhuis)

 

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf?  Hoe het dit ontstaan?

Dit was letterlik die laaste gedig wat ek vir my bundel, Wat die water onthou, geskryf het. Aanvanklik het die bundel heeltemal ʼn ander afloop gehad, maar nadat ek die keurverslag van die keurder ontvang het, het ek besef dat ek die bundel anders sal moet struktureer na die einde toe. So het die drie reeks waarmee Wat die water onthou sluit,  ontstaan. Maar ek het steeds ʼn vers benodig wat nie net die bundel “sluit” nie, maar wat ook aansluiting kon vind by die “vloeipatrone” – sowel tematies  as stilisties – van die titellose gedigte wat genoemde drie reekse voorafgaan.

Dít was ʼn moeilike een, glo my. Vele pogings het ek probeer. Sonder sukses.

Maar die Saterdagoggend toe Antoinette Pienaar in die winkel gepraat het oor haar kruie-boek, het sy besonder liries oor die Karoo en sy ouwêreldse skoonheid gepraat; op dié stadium was die gedig nog nie in my kop nie, maar iets wat sy gesê het van die primordiale landskap het in my gedagtes bly maal en toe ek die Sondagmôre douvoordag wakkerskrik, was hy daar.

Ek het besef dat dit ʼn gedig moet wees wat terugspeel na ʼn vroeëre sleutelgedig (“dat ʼn landskap van oewer en rivier” op p.18) en dat die mens, soos versinnebeeld deur die roeier, buite sig moet verdwyn. Net die landskap – meer spesifiek die water – moes agterbly, want die water was daar lank, lank vóór die mens en sal ook nog daar wees lank ná die mens.

Uiteraard was Paul van Ostaijen se beroemde “Melopee” ʼn belangrike interteks aangesien dit die meerstemmigheid wat ek met die slotreekse probeer vestig het, daardeur verder ondersteun het.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Nadat ek die idee vir die vers gekry het, kon ek hom nogal verbasend vinnig klaarskryf. Dit is waarskynlik die gedig in die bundel wat ek die helderste “gevoel” het;  selfs nog voor ek ʼn enkele woord neer kon skryf.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Die sameloop van bepaalde gedagtes (Karoo, roeier en daardeur Van Ostaijen se gedig) is seker “gegee”. Daarna was dit “wroeg en sweet”, maar genadiglik darem nie té veel daarvan nie …

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

In ʼn mate het die voorbeeld van Van Ostaijen se gedig as “ordening” ten opsigte van toon en ritme gedien, ja. Die vloei-effek het ek probeer beklemtoon deur die gebruik van punte: aan die einde van die eerste strofe, dan twee strofes en dan verder na die einde van die vers sonder punte. Daardeur het ek probeer om die gevoel van ʼn vaartversnelling vanaf stadige, hortende begin na die einde toe te bewerk.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Nie terwyl ek daarmee besig was nie. Nadat ek daarmee klaar was, het ek dit wel vir Marlise (my vrou) gewys en na bepaalde kommentare van haar kon ek die vers afrond na sy finale vorm.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Nee, dit kan ek nie onthou nie. Soos reeds genoem het dit die eerste keer in die bundel verskyn.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Die vers is hoegenaamd nie feitelik nie. ʼn Verbeeldingsvlug aangesien dit wat die landskap en roeier binne die konteks van die bundel verteenwoordig, belangriker is as die feitelikheid daarvan. Dit is dus nié ʼn spesifieke rivier met ʼn bepaalde roeier wat ek in gedagte het nie.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Die verganklikheid van die mens en sy kultuurgedoentes.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot stand koming van dié betrokke vers gelei het?

Soos reeds gesê: Paul van Ostaijen se gelyknamige vers. Na watter musiek ek ten tye van dié betrokke vers se tot stand koming geluister het, kan ek nie meer onthou nie. Maar dit was na alle waarskynlikheid musiek vir die solo-klavier aangesien ek bykans obsessief na klaviermusiek geluister het terwyl ek aan dié bundel gewerk het.

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Nee. Nie juis nie. (Behalwe wanneer ek ‘n liefdesvers skryf, natuurlik.)

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Ek dink dat as sluitgedig “Melopee” nogal tipies is van die gedigte in die bundel. In vergelyking met vroeëre gedigte in vorige bundels is dit waarskynlik meer dromerig en “deursigtig”. Afwesig, selfs?

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Seker maar die Karoo-landskap met sy windpomp en rivier?

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Nee, vreemd genoeg kon ek dié een afrond presies soos ek hom wou hê. En glo my, die verligting was groot. So ook die dankbaarheid.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Daar was nie juis noemenswaardige “reaksie” as sulks nie. Waarskynlik omrede hierdie vers met opset ʼn “stil” vers is.

ʼn Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Ek het die grootste gedeelte van my kinderjare in Virginia deurgebring. Die Sandrivier vloei deur die dorp en ek en my vriende het gereeld rivier toe gegaan en daar tussen erosiewalle gespeel of in die rivier visgevang. Na só ʼn ekskursie het ek ʼn gedig met die titel “Die rivier” geskryf. Dit was na aanleiding van ʼn vis wat bokant die water uit gespring het. Dié insident het ek probeer beskryf in die gedig “altyd is daar ‘n rivier” op p.16 van die bundel.

Louis Esterhuizen

Louis Esterhuizen

Louis Esterhuizen behaal ‘n B.A. (Hons.) in Afrikaans aan die Universiteit van Suid-Afrika. Hy gee onderwys by verskeie skole en word later adjunkhoof van Pretoria Boys’ High School. In 1999 verhuis hy na die Kaap waar hy vakhoof vir Afrikaans by Rondebosch Boys’ High School word. Sedert Junie 2002 is hy bestuurder van Protea Boekwinkel op Stellenbosch.

Esterhuizen debuteer met die digbundel Stilstuipe (1986), waarna Op die oog af (1988), Die onderwaterweg (1996), Patzers (1997) Opslagsomer (2001), Liefland (2004) en Sloper (2007) volg. Sy agtste digbundel Wat die water onthou verskyn in 2010 by Protea Boekhuis. Van sy verse is in verskeie bloemlesings opgeneem, te wete Poskaarte, Die Afrikaanse Poësie in ‘n 1000 en enkele gedigte, Groot Verseboek, en Nuwe Verset.

 

 

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog

How a poem happens“.

 

 

wat die water onthou

Friday, April 9th, 2010

wat die water onthou. Louis Esterhuizen. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-353-9.

wat die water onthou

wat die water onthou

 

Louis Esterhuizen kry dit reg om, ongeveer al om die drie jaar, met bundel na bundel ’n oeuvre op te bou wat ’n steeds sterker indruk maak. So ook dié keer.

[W]at die water onthou is sy agtste. Dit vind op meer as een wyse aansluiting by sy voorafgaande werk. In Die onderwaterweg (1996) – waarvan die titel uit ’n gedig in sy debuut, Stilstuipe (1986), oorgehewel is – was die watermotief al ’n sentrale een. “Posisies op ’n bord”, ’n gedigreeks in ses dele, herinner aan die skaakspelgegewe in sy 1999-werk Patzers, terwyl die gedig “skarniere” weer iets laat herleef van die huis- en deuremotiewe in Sloper van drie jaar gelede.

En die liefdesbelydenis wat sedert Opslagsomer (2001) so opvallend in Esterhuizen se oeuvre is, word hier (op bladsye 47-58) met soortgelyke  stilistiese versobering as in Sloper uitgedruk – hoewel die gevaar van sentimentaliteit ook dié keer nie totaal uitgeskakel word nie. Die feitlik deurgaanse benutting van ’n tweedepersoonsperspektief in wat die water onthou werk sterker objektivering in die hand, sodat ook op dié wyse tot die versoberingsindruk bygedra word.

Wat hierdie jongste Esterhuizen-werk besonders maak, is die oorspronklike en boeiende wyses waarop die sentrale tematiese spanning tussen vervlieting en bestendiging (laasgenoemde veral via die geheue, die kuns en die liefde) vergestalt word op stilistiese en vormlike vlakke.

Maar eers iets meer oor die bundeltematiek.

Die ironie-gelade betekenismeerkantigheid van die bundeltitel word onder meer in die gedig op bladsy 12 belig:

 

dat herakleitos reeds aan die begin

daarop gewys het dat dit nie moontlik is

om dieselfde stroom twee keer

 

te betree nie, dat water nooit terug-

draai nie, maar te alle tye alles opneem

 

en onthou, aangesien elke klip,

elke gleuf en worsteling

saamgesleep moet word

 

na die geheue se uiteindelike

verdwarreling

 

met die groter water

sonder vaart[.]

 

Aan die vervlietingpool-kant word enersyds die verganklikheid van alles beklemtoon – byvoorbeeld alreeds deur die tweede bundelmotto, ’n aanhaling uit die Vlaming Paul van Ostaijen se bekende “Melopee”:

Zo zijn zij gezellen naar zee de kano de maan en de man

Waarom schuiven de maan en die (sic) man getweeën gedwee naar de zee[.]

Andersyds die vervloeiing van alles: die ‘herinneringe’ aan die (persoonlike, familiale, ewolusionêre, selfs metafisiese) oorspronge en verlede in die lewenshede, verbeeld met die watergegewe as (oer-, maar steeds vrugbare) lewenselement. Vergelyk die eerste bundelmotto in hierdie verband:

 

All in all. River again river.

No self. Water again water. Drip. Drop.

(Juan Kaplinsky, The wandering border)

 

Nie slegs hede en verlede is sodoende “verdwarrel” nie, maar ook die toekoms:

            […] want bron

is die water van lank voor

die mens

tot anderkant uit[.]

(Bladsy 16)

 

Selfs die verskynsels raak haas uitruilbaar verstrengel, verkeer in korrespondensie met mekaar (om ’n simbolistiese konsep te benut). Byvoorbeeld in die geheue. Of in die verbeeldingspel soos van ’n kind (uitgebeeld in ’n gedig wat aan sekere verse van T.T. Cloete herinner):

 

’n boom is ’n voël, ’n blaar,

’n ding wat vlieg, ’n vlerk,

’n vaandel vir die wind

 

die wind ’n boom, ’n voël,

die blaar ’n vangnet

in die stroom van wind en son

 

die son ’n greep, ’n hand

op die lig, iets wat alles

oogvas hou, ’n mallemeul

 

van kleur, van boom

en voël, blaar en vlerk,

vaandel en stroom

 

die vetkryttekening

van ’n kind[.]

 

Dis egter ’n (ver)vloeiing “waaraan jy deel mag hê / maar nooit mag besit” nie (bladsy 25). Pogings om deur die geheue of deur (die ver-beeldingswerk van) die kuns iets daarvan te bestendig – om soos in die liefde “hier aan wal [te probeer] gaan” (bladsy 48) – is gedoem tot mislukking. Sand, stof en woestyne, as eenduidiger verganklikheidsimbole, word meermale in die bundel ten tonele gevoer as teenhangers van die vrugbaarder, “geduldiger” water-motief.       

Ek gebruik laasgenoemde adjektief in verband met die water-motief om aansluiting te soek by die belangrike kunsbesinningsgedigte-reeks “die geduld van water” (bladsye 38-46). Daaruit gedig 5 ter illustrasie:

 

            lyne

 

            na ’n balans tussen hard en sag

            neig die akwarel glo altyd –

harde lyne hou die oog gevange

 

terwyl die voortvloeiende kwas

weer te min houvas bied

op kontoere van jul verlies –

 

gestilde drif, die eb en vloei

waarmee die akwarel

beweging vind en stol, beweeg

 

en stil – ingeklad by die ritme

waarmee die oog

verskuiwende lyne vind

en verloor[.]

 

Die prekêre posisie van die mens te midde van die verwikkelde spanninge tussen die “beweeg”- en “stil“-pole in hierdie lewe (om woorde uit die laaste aanhaling te benut) word treffend opgevang in gedigte waarin na vaarte per vlot of kano verwys word (met kennelike toespeling op die vermelde gedig van Van Ostaijen). Ek haal grepe uit die twee “roeier”-gedigte aan, waarvan die een vroeg in die bundel en die ander aan die einde daarvan voorkom:

 

            dat ’n landskap van oewer en rivier

            bestaan, ’n oomblik met bome

enkeldiep oor die breedte van ’n foto

 

en mis wat lê in elke kolking

deur die spaan gevorm

toe die roeier sy dun kano ritmies

 

wou stuur die spieëlbeeld in

na waar geen

versnelling moontlik is

 

in die bevrore posisie

van die lens nie[.]

 

***

 

[…]

die enkele roeier wat verby

kreukel, vir ’n oomblik

die watervlak steur: afdraand,

 

alles, alles, om gedwee spane

neer te lê en buite sig te verdwyn

met die water

as enigste verloop –[.]

 

Soos gesê, vind die spanningsvolle saambestaan van die pole ook neerslag in die opvallende benutting van sekere vormlike en stylgrepe.

Aan die een kant is die meeste gedigte ongetiteld. Aan die ander kant is daar ook bundeldele waarin dit anders gesteld is. Getiteld is die reekse “die heiligheid van water” en “die geduld van water” (in laasgenoemde dra ook die indiwiduele gedigte titels), asook die drie reekse en die enkelgedig wat as slotafdeling met ’n wit bladsy van die res van die bundel geskei is.

Aan die een kant begin ’n groot getal gedigte met die half-parallelistiese voorwerpsin-konstruksie “dat daar…” / “dat jy…” / “dat die water…” / ensovoorts – met die implikasie dat “die water onthou” of “jy onthou” telkens as voorafgaande werkwoordstukke veronderstel moet word. Aan die ander kant is daar ook ’n hele aantal verse waarvan die insette uniek is, en nié by die voorwerpsin-konstruksie aansluit nie.

Enersyds is daar ’n neiging tot reëlmaat in die strofe- en gedigtebou. Drie- en vierreëlige strofes is die opvallendste in hierdie verband. Selfs enkele verse wat duidelike kenmerke van die Engelse sonnetvorm vertoon, kom voor. Die meeste gedigte, insluitende die wat in reeksverband staan, is nie veel langer as sowat ’n halwe bladsy nie.

Andersyds kom ook vryer versvorme voor, ontbreek eindryme en reëlmaat in versreëllengtes, is die meeste gedigte sonder hoofletters en leestekens. 

’n Mens ontdek dus op alle vlakke ’n hoogs funksionele gestaltegewing van die spanninge tussen bestendiging en vervlieting (relativering) in wat die water onthou.

Dis nie maar net ’n versameling van dikwels treffende indiwiduele gedigte nie; die bundel vorm ’n boeiende eenheid.

Jammer is dit derhalwe dat ’n klompie woordkeuses en beelde (meermale geïnspireer deur die strewe om aansluiting by die water-motief te vind)  gesog, troebel of vals aandoen, en enkele sinskonstruksies ietwat lomp voorkom:

·         “die maalkolk / van jul droogste jare” (bladsy 13);

·         “die uiteindelik verbryseling / van klip met dinamiet en gesin” (bladsy 14);

·         “die bevrore posisie / van die lens” (bladsy 18);

·         “selfs die kleinste saad // hoog te wortel” (bladsy 19);

·         “soms klingel water rooi / in jou glas” (bladsy 26);

·         “’n eerste gedagte aan / lewe as aangeklamde wasem // in alle dinge” (bladsy 32);

·         “onkundig oor die doel // van hierdie verbryseling / so sonder rigting / of die gewig daarvan” (bladsy 33);

·         “waar julle aan mekaar bly klou / asof julle nooit weer uitgedroog / of droog wil wees nie” (bladsy 56);

·         “deur die verloop / te bloei na ’n verbeelde kant op ’n ander oewer” en “word die landskap / onder sirene byeengebring” (bladsy 60);

·         “Skielik flits ’n voël by jou verby / en lê sy dors / lynreg voor jou neer” (bladsy 67);

·         “toe ’n uitgedroogde hand / iewers agter in ’n grot die eerste mond vol / skep om te drink” en “’n vloed van droogte” (bladsy 68).

Gelukkig is daar talle en talle méér voorbeelde uit die bundel waar die gedigte in hulle geheel knap afgewerk is, en waarvan die beelding ’n mens bybly – soos al uit van die sitate hierbo behoort te blyk. Miskien nog een vers om laasgenoemde te onderstreep, naamlik uit die reeds vermelde mooi reeks liefdesverse:

 

            dat jy jare gelede by breë water

gesit en hengel het, dag lank die ure

gerol het om die spoel

 

van jou katrol, die ligte stuwing

in die water gevolg het deur jou aas

daarheen te kaats, hopende

 

dat die vis die ligte gefladder

van die kunsvlieg op die oppervlak

sou smoor, maar telkens

 

rol die ure glad om jou spoel

terug – tot dit sy is wat langs jou

kom sit, hier, op die oewer

 

langs lustelose water –

om dan lag-lag haar moeë vis

uit sy donker bui te lig[.]

 

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

 

 

 

 

 

Onderhoud. Louis Esterhuizen

Tuesday, February 16th, 2010

Eenheid in teenstelling

Andries Visagie in gesprek met Louis Esterhuizen

 

Louis Esterhuizen

Louis Esterhuizen

Louis Esterhuizen behaal ‘n B.A. (Hons.) in Afrikaans aan die Universiteit van Suid-Afrika. Hy gee onderwys by verskeie skole en word later adjunkhoof van Pretoria Boys’ High School. In 1999 verhuis hy na die Kaap waar hy vakhoof vir Afrikaans by Rondebosch Boys’ High School word. Sedert Junie 2002 is hy bestuurder van Protea Boekwinkel op Stellenbosch. Esterhuizen debuteer met die digbundel Stilstuipe (1986), waarna Op die oog af (1988), Die onderwaterweg (1996), Patzers (1997) Opslagsomer (2001) en Liefland (2004) volg. Sy sewende digbundel, Sloper, het in 2007 verskyn. Van sy verse is in bloemlesings opgeneem, te wete Poskaarte, Die Afrikaanse Poësie in ‘n 1000 en enkele gedigte, Groot Verseboek, en Nuwe Verset. Hy was een van die stigters van Bekgevegte, ‘n verbale “boksgeveg” waartydens twee spanne van drie digters elk teen mekaar meeding aan die hand van temas wat deur die gehoor gegee word. Esterhuizen was een van die inisieerders van die jaarlikse poësiefees Versindaba. Tans is hy inhoudsbestuurder van die Versindaba webblad sedert 2009.

 

Louis, vir die poësie begin die jaar op ‘n hoë noot met die verskyning van jou nuwe bundel wat die water onthou.  Veels geluk met ‘n pragtige versameling gedigte.  Die gehalte van jou digkuns volg nog steeds ‘n stygende lyn, waaraan André P. Brink ook onlangs erkenning gegee het met die groot aantal van jou gedigte wat hy in sy nuwe Groot verseboek opgeneem het.

 

Reeds die titel van jou bundel is al oorrompelend mooi.  In die gedig “dat herakleitos reeds aan die begin” lig jy die sluier oor die betekenis van die bundeltitel wanneer jy skryf “dat water nooit terug- / draai nie, maar te alle tye alles opneem // en onthou”.  Gaan dit vir jou daaroor om die oeroue en basiese bestaansvorm van water (en ander dinge) onder woorde te bring? En het die geheue van water daarmee te make dat dit weens die primordiale aard daarvan sedert die vroegste tye feitlik alles al oorspoel en gekonstitueer het?  Kan jy ook aandui hoe jy met die titel by Herakleitos aansluit?

 

Dankie vir die vriendelike woorde, Andries, maar nee, die primordiale aard van water was vir my van minder belang by dié verse. Wel die kwessie van “eenheid in teenstelling”, soos Herakleitos dit verwoord het aan die hand van sy opmerking dat jy nie dieselfde rivier twee keer kan betree nie. Water as simbool van sikliese tydsverloop (proses én konstante) is dus vir my belangriker as die primordiale. Water is immers teenwoordig in alle dinge; van die begin van die skepping af (as konstante) en tog is dit ook terselfdertyd in ʼn staat van volgehoue verandering. Soos dit ook die geval is met geheue.

 

Ek het êrens gelees dat jou vrou en mededigter Marlise Joubert (aan wie jy wat die water onthou opdra) onlangs ook ‘n kunsuitstalling met dieselfde titel gehad het.  Beteken dit dat julle gesamentlik hierdie verkenningstog aangepak het?  Is daar voorbeelde van Marlise se werk in digitale vorm beskikbaar sodat ons dit te siene kan kry?

 

wat die water onthou

wat die water onthou

Inderdaad het die bundelkonsep by Marlise ontstaan. Sy het haar naamlik met groot entoesiasme begin toespits op waterverf as tegniek van skilder. Uiteraard het ons baie gesels oor die “poëtiese” implikasies van die akwarel as kunsvorm in teenstelling tot olieverf, byvoorbeeld. Die gedigtereeks “die geduld van water” was die direkte uitloop van dié gesprekke, maar uiteindelik was dit ʼn kruisbestuiwing met gesprekke wat gedigte word en gedigte weer skilderye. Terloops, hierdie reeks vorm myns insiens die ruggraat van die bundelkonsep aangesien die “afgebeelde landskap” wat behoue bly na die water verdamp het, die konstante verteenwoordig (= taal / woord /gedig), terwyl die “water wat verdamp” weer die veranderlike is (= gesprek / tydsverloop / geheue). En ja, Marlise se akwarelle kan wel op haar persoonlike webblad gesien word.

 

Dit is opvallend dat die meeste van die gedigte in jou nuwe bundel begin met die voegwoord dat, soos byvoorbeeld in die volgende vers oor jou jeugjare in die mynwêreld van Virginia:

 

dat jy ‘n leeftyd reeds sit en kyk

na ‘n landskap wat jy ken, en tog

ook nie: die afwesige berge

 

van jou kindertyd, die slyk en dam

wat vorm kry wanneer tonnels

oopgeskiet word ondergronds

 

Wou jy met hierdie ongewone sintaktiese vormgewing van jou gedigte ‘n forse kopknik in die rigting van N.P. van Wyk Louw maak wie se “Klipwerk” met die volgende bekende reëls begin:  “dat akkers op die sinkdak val / en vye op die ringmuur breek”?

 

Weereens ʼn besliste “nee”. Trouens, “Klipwerk” het nêrens in my gedagtes gefigureer nie. Vanweë die sikliese aard van die bundelopset was dit vir my belangrik om die een vers na die volgende te laat “vloei”. Daarom – geen hoofletters of punte nie, met bykans elke gedig wat met ‘n voegwoord begin. Die “dat” is maar om die titelreël te voltooi: “wat die water onthou (is) dat …” Die geheue is immers iets wat nie puntsgewys “afgesluit” kan word nie; dit stroom gewoon voort van die een moment na die volgende.

 

In nog ‘n treffende gedig, “dat jou pa se pa ‘n delwer was”, keer jy soos dikwels in die verlede terug na jou voorsate en hulle mynwerkersagtergrond.  Jy skryf oor Virginia “waar jy as eersgeborene, / oplaas jou geboortereg verruil / vir woorde, woorde wat jy // soms uit die taal uit delf”.  Ek is huiwerig om hierdie woorde te persoonlik op jou van toepassing te maak, maar is hier nie ‘n suggestie van verlies en selfs skuld oor die “jy” wat as woordsmid ‘n breuk met die delwersvoorsate gemaak het nie?  Sou jy bereid wees om iets van jou familiegeskiedenis aan ons oor te vertel?

 

My familiegeskiedenis is maar soos dit in die gedigte geskryf staan, Andries. My oupagrootjie was inderdaad ʼn delwer en my pa (na bepaalde omswerwinge) ʼn mynwerker in die Goudveld. Ek is op Welkom gebore, maar het in Virginia gematrikuleer. Vir ʼn tydperk van twee jaar – terwyl my pa tabakboer was in die toentertydse Rhodesië – het ek by my ouma op Philippolis gebly ten einde my skoolloopbaan daar te begin. Oor die kwessies van “verlies” en “skuld” sou ek liefs nie hier wou uitbrei nie. Dit is egter wel so dat daar met elke besluit wat jy ook al in jou lewe mag neem, elemente van “wins” en “verlies” ter sprake is. So ook vreugde en frustrasie. Of ontnugtering.

 

In nog een van die watergedigte in jou bundel, die werklik voortreflike “dat ‘n landskap van oewer en rivier”, skryf jy boeiend oor die verhouding tussen werklikheid en kuns.  Die gegewe van ‘n kanovaarder op ‘n rivier wat op film vasgelê word, is die vertrekpunt:

 

dat ‘n landskap van oewer en rivier

bestaan, ‘n oomblik met bome

enkeldiep oor die breedte van ‘n foto

 

en mis wat lê in elke kolking

deur die spaan gevorm

toe die roeier sy dun kano ritmies

 

wou stuur die spieëlbeeld in

na waar geen

versnelling moontlik is

 

in die bevrore posisie

van die lens nie

 

In dié gedig wil dit lyk asof die werklikheid van die rivier, die bome, die mis en die kanovaarder iets moet inboet wanneer hulle in die lens van die kamera vasgevang word.  Die bome word nou maar net met ‘n “enkeldiep” grootte op die foto weergegee en die kanovaarder kom noodwendig tot stilstand “in die bevrore posisie / van die lens”.  Vind jy dat die kuns (en dus ook die poësie) maar net op ‘n ontoereikende manier op die werklikheid kan reageer of kan die kuns ook waarde aan die natuur en die werklikheid toevoeg?

 

Die gedig is ‘n voorloper van die reedsgenoemde reeks “die geduld van water” en net soos dit die geval is met die akwarelle, werk dit met die opposisie van “vloei” en “stol”. Maar om jou vraag te beantwoord: alles wat ons waarneem (en onthou) word gekleur deur ʼn hele reeks assosiasies en/of suggesties. Die kunswerk is dus myns insiens net nog een manier waarop waarde aan ʼn bepaalde belewenis toegevoeg (of verdoesel) kan word. Die vervlietende moment of indruk wat vir altyd (en almal) behoue bly en interpreteerbaar is, is waarskynlik die belangrikste funksie van ‘n kunswerk. Terloops, dié gedig vind ʼn belangrike teenwig in die slotvers van die bundel (“Melopee”) waar daar weer van ‘n kanovaarder sprake is. Maar nou het die kanovaarder buite sig verdwyn en al wat bly, is die water “as enigste verloop”.

 

Louis, jy het “Tema met veertien variasies” na aanleiding van ‘n gedig van Rosa Alice Branco geskryf.  Die twaalfde variasie bestaan uit twee insiggewende reëls waarmee jy kommentaar lewer op al die voorafgaande watergedigte in die bundel:

 

Niks behoort aan jou nie.

Nie eens die woorde waarmee jy die water heg nie.

 

Kan jy dalk iets meer sê oor Rosa Alice Branco en hoekom jy juis by haar werk aanklank gevind het?

 

Op dié vraag sal ek uitgebreid moet antwoord, aangesien dit direk met die struktuur van die bundel te make het. Vanweë die volgehoue klem op vloeipatrone in die bundel het ek ‘n probleem gehad oor hoe om die bundel sinvol te “sluit” aangesien water tog nie net liniêr vloei van geboorte (“dat daar altyd ʼn begin is”) na sterfte (“Melopee”) nie; dit vorm ook sirkels en kolkings en bestaan natuurlik ook in die vorm van waterdamp. Derhalwe wóú die bundel eindig met ‘n oorskouende reeks gedigte wat soos wolke oor die voorafgaande gedeeltes “dryf” met behoud van tema (en veral toon) wat in hul dampkring opgeneem is … Aanvanklik het ek ‘n ander reeks in gedagte gehad; een wat meer op die primordiale aard van water (soos jy dit noem) ingespeel het, maar na ek ‘n deeglike en uiters werkbare verslag van my keurder ontvang het, het ek besluit om – op die keurder se aanbeveling – dié reeks te laat vaar aangesien dit sowel ‘n strukturele as tematiese breuk met die voorafgaande gedigte tot gevolg gehad het.

Op hierdie tydstip het ek die Portugese digter, Rosa Alice Branco, se drie gedigte in New European Poets (2008: Graywolf Press) raakgelees, die ooreenkomste ten opsigte van tema en toon geregistreer, en meteens was die oplossing daar: om die bundel af te sluit met drié reekse gedigte wat ek losweg en ietwat ambisieus volgens ‘n fugale-struktuur van tese-antitese-sintese probeer struktureer het. Die slotvers, “Melopee”, is dus as coda bedoel  en die voorafgaande titellose, voegwoord-deurdrenkte gedigte die voorspele. “Tema met veertien variasies” vorm dus die “tese” en is persoonlik/privaat van aard by monde van ʼn ander (Branco), terwyl “Posisies op ‘n bord” as antitese meer eksistensiële, nie-persoonlike temas aanspreek. Die derde reeks, “Duskant die uitloop” bevat elemente van beide voorafgaande reekse en oorskouend, ook van die bundel in sy geheel. Op dié manier (hoop ek) word die watersiklus voltooi.

Maar hoekom Rosa Alice Branco, vra jy? Die waarheid is dat dit net sowel ‘n ánder digter kon wees, want ek wóú in die betrokke reeks met ‘n ander, bestaande teks werk; nie soseer weens intertekstualiteit nie, maar eerder om die oorwegend persoonlike trant van die voorafgaande verse te ondermyn en ook ter wille van die meerstemmigheid wat ʼn voorvereiste van die fuga is. Terselfdertyd probeer ek hiermee dan ook om die element van vervreemding, wat na die einde van die bundel al hoe sterker na vore kom, te aktiveer. Die rivier wat sy walle oorstroom, by wyse van spreke. Hierdie reeks is dus nié as vertaling of selfs interteks bedoel nie; dit is veeleer veertien tematiese verwisselings, soos ek dit in die erkenning aan die einde van die bundel stel.

In ieder geval, dit is wat ek beoog het. Of ek enigsins daarin geslaag het om dit alles sinvol by die groter opset van die bundel te integreer, is iets waaroor die kritici maar sal moet besluit.

 

Jou opmerking dat jy met Rosa Alice Branco ‘n meerstemmigheid in jou bundel wou inbring, maak my nuuskierig na jou mening oor samehang in ‘n bundel.  Pak jy jou digkuns tematies samehangend aan sodat elke bundel bestaan uit gedigte wat met mekaar verband hou?  Dink jy dat lesers van die Afrikaanse poësie tans nog geduld het met bundels wat losser gestruktureer is?

 

Inderdaad is dit hoe ek te werk gaan, Andries. ʼn Bundel is myns insiens gewoon nié ʼn bloemlesing van beste verse wat in ʼn bepaalde skryfperiode ontstaan het nie; veeleer ʼn komposisie van temas en toon wat rondom bepaalde gegewens byeengebring word. ʼn Vers word net soveel beïnvloed deur verse wat dit voorafgaan as wat daarop volg. (Natuurlik is die uitdaging aan ʼn digter dat ʼn bepaalde vers ook sterk genoeg moet wees om buite bundelverband op sy eie te kan staan.) Die plasing van ʼn vers binne bundelkonteks en -opset is vir my belangrik aangesien ander verse daarrondom resoneer en sodoende  ʼn besliste bydrae lewer tot die leeswaarde van ʼn vers. Oor die laaste deel van jou vraag is ek minder seker, omrede die meeste bundels wat ek van weet, wél van die een of ander “ordeningsbeginsel” gebruik maak. Met die saamstel van ʼn keur uit ʼn digter se oeuvre is dit natuurlik anders gesteld; alhoewel Antjie Krog die gedigte in haar keur, “Digter wordende” (2009: Human & Rousseau), tóg tematies georden het.

 

Die gedig “skoling” uit die reeks “die geduld van water” gaan oor die waterverfkunstenaar wat weens die eise van die besondere verfmedium noodwendig vinnig moet speel om beelde op papier vas te vang.  Verklap hierdie gedig ook iets oor jou eie werkswyse as jy poësie skryf?  Vind jy dat jy vinnig moet reageer op ‘n kreatiewe inval om dit in ‘n gedig vas te vang of werk dit by jou juis anders?

 

Nee, dit is nie heeltemal dieselfde as wat dit die geval is met akwarelle nie. Ek loop wel lank en dink aan ʼn gedig; doen selfs navorsing en maak notas voor ek by die skryf daarvan kom. Aangesien die toonaard van ʼn vers vir my baie belangrik is, kan ek hom gewoon nie neerskryf voor ek hom kan “voel” nie. Daarna volg ʼn bra langsame proses van skryf en herskryf tot ek tevrede is. En – namate die bundel begin vorm aanneem – sal ek weer teruggaan na vroeëre verse ten einde hulle meer gemaklik binne konteks (of opset) te laat pas. Tema en toon is dus vir my van belang; inhoud (of beelding) minder so. (Iets wat ek probeer verwoord het in die gedig “Skarniere” in die genoemde reeks.) Maar, gelukkig is die onderbewuste ʼn wonderlike ding. Soms gebeur dit wel dat ʼn vers net plotseling “daar” is, maar helaas, dit gebeur maar selde.

 

In die liefdesgedigte in wat die water onthou gaan meestal oor die indrukke van ‘n tweede persoon, ‘n “jy” wat waarneem en ervaar en dus nie ‘n “ek” of ‘n “hy” nie (bv. “dat jy soms na haar draai en sê”).  Waarom het jy hier probeer wegskryf van die eerste persoon, die “ek”?

 

Ter wille van die afstandelikheid. Aangesien die verse handel oor die geheue en deurleefde ervarings, was die gevaar groot dat die verse “ekkerig” sou aandoen; terselfdertyd was ek bang dat die volgehoue toon van melancholie deur middel van ʼn eerstepersoonverteller tot iets sentimenteels sou versand. Maar dié besluit lê ook op tematiese vlak: water was daar lánk voor die mens en sal (waarskynlik) nog lank ná die mens bestaan. Die eerste vers in die bundel handel dus oor die geboorteproses van die mens wat ook maar in hoofsaak uit water bestaan (“water wat aan water / geboorte gee”, rr. 11-12, p. 11), terwyl die mens (as kanovaarder) in die laaste vers buite sig verdwyn met net die water wat as “getuie” agterbly; dit is immers die water wat eendag sal onthou dat daar eenmaal iets soos ʼn “mens” op aarde was … Nietemin, in ʼn bepaalde opsig kan die “stem” in die bundel dus gesien word as die water wat die lewe van ʼn spesifieke persoon (die “jy“) in oënskou neem. Dié inspeling word hopelik ook deur die titel, wat die water onthou, ondersteun. (Let wel: die “jy“-aanspreekvorm word regdeur die bundel gehandhaaf; nie net met die liefdesverse nie.)

 

In die besonder treffende vers uit “Duskant die uitloop” oor die gegewe van ‘n musikale opvoering van die Kersverhaal in ‘n amfiteater wat kort-kort onderbreek word deur loeiende sirenes slaag jy daarin om die onstuimige omstandighede in die Midde-Ooste tydens Christus se geboorte te skakel met soortgelyke voorbeelde van vergrype teen kinders in die hede.  En dan ná die applous is die musiek en ook die sirenes (wat uitwys na die misdade in die hede) skielik stil “om alles weer veilig te laat / soos dit ‘n verhoog sonder gehoor betaam”.  Is ek reg met my vermoede dat jy met hierdie slotwoorde te kenne wil gee dat die kuns (hier die musikale opvoering) gevaarlik is en sowel die kunstenaar as die publiek aan ervarings blootstel waarmee hulle onstuimige waters moet aandurf?

 

Sekerlik kan dié vers so gelees word. Andersyds is dit ook ʼn poging om die “meerstemmigheid” van die beoogde fugale onderbou te versterk en die mens (as gehoor) buite sig te plaas soos dit in die volgende vers, “Melopee”, verwoord word. Maar hier gaan dit oor die gemeenskap en met laasgenoemde oor die enkeling. Ook het ek probeer om met dié vers die bundel se tydsperspektief wyer te trek deur die Bybelse gegewe met die teenswoordige te verweef. Hierin speel dit dan ook terug op die vroeëre reeks “die heiligheid van water” (pp.25 – 27) waarin die (nagmaal)beker herhaaldelik aangegee word “na wie ook al hier langs jou steeds // afwesig blyk te wees”. Die “uitloop” van dié reeks se titel kan dus op verskillende maniere vertolk word; dit dui enersyds op die voltooiing (afloop) van iets wat op hande is, en andersyds op die dood en daardeur heel letterlik die mens (gehoor) wat die teater verlaat ná ʼn wêreld (ruimte) tot stand gebring is waarbinne die mens nie (sal) kan oorleef nie. Terloops, die rede waarom ek in hierdie vers (en ander in dié reeks) deurentyd op kinders konsentreer, is om die bundel weer terug te buig na die eerste “kolking” (pp.13 – 18) waar dit in hoofsaak oor (eie) jeugherinneringe handel wat nou amper idillies voorkom in kontras tot die grusaamhede wat in hierdie voorlaaste vers verwoord word.

 

Hierdie vraag is dalk moeilik om te beantwoord, maar kom ons probeer:  As jy hierbo oor die slotgedig in die bundel, “Melopee”, opmerk dat jy die mens (hier verteenwoordig deur die roeier) “buite sig te plaas” sodat “die water / as enigste verloop” agterbly, is die implikasie dat die menslike element en ervaring weggevee word.  Betekenisvol genoeg eindig die bundel dan ook op die oomblik dat die mens uit die prentjie verdwyn.  Die vraag is:  Wat bly saam met die water oor?  Is die wegvee van die menslike element nie ook ‘n wegvee van die poësie nie?  Kan jy moontlik ook oor die titel, “Melopee” (‘n monotone en melankoliese lied), waarmee jy weer een van die twee motto’s van wat die water onthou aktiveer, kommentaar lewer?

 

Op die eerste deel van jou vraag het ek helaas geen antwoord nie, Andries. Daarom dat die vers (en bundel) met ʼn aandagstreep eindig; ʼn onbepaalde, oop punktuasie. Uiteraard sál iets volg, maar helaas, vir die mens is dit nie beskore om te weet nie … Jou vraag oor die “wegvee van die poësie” vind ek interessant. En ja, sekerlik is jy reg, maar ek sal dit ook graag met die geheue in verband wil bring aangesien die geheue myns insiens identiteit onderlê, soos die Jaan Kaplinsky-motto voor in die bundel dit suggereer. Sonder geheue het jy immers géén identiteit nie. In dié omstandighede is die poësie dan inderdaad tot niet.

Paul van Ostaijen se gedig “Melopee” was nog altyd vir my ʼn gunstelingvers in enige taal. Daarom, toe die idee van die bundel in my gedagtes begin vorm, was dié vers ʼn belangrike wegwyser ten opsigte van toon, struktuur en tema; trouens dit is myns insiens só ʼn belangrike sleutel dat ek dit eenvoudig direk by wyse van motto en verstitel móés betrek.

 

As ‘n mede-organiseerder van die jaarlikse Versindaba in Stellenbosch is jy gereeld in kontak met ander digters.  Jy skep dus talle geleenthede vir ander digters om hulle werk bekend te stel en koester die netwerk wat tussen digters bestaan.  Vind jy gesprekke met ander digters leersaam en bevorderlik vir jou eie digkuns of ervaar jy soms die behoefte om jou juis van ander digterstemme af te sonder?

 

Inderdaad bevind ek (en Marlise) ons in gelukkige omstandighede. Vanweë ons betrokkenheid by Protea Boekwinkel op Stellenbosch het ons nie net uitgebreide kontak met ander skrywers en instansies nie, maar beskik ons ook oor die infrastruktuur om iets soos die Versindaba moontlik te maak. Ons aktiwiteite rondom die digkuns is eintlik maar net ʼn direkte uitvloeisel van ons leef- en werksomstandighede. Die laaste gedeelte van jou vraag is egter meer problematies, aangesien ʼn mens wel die uitgebreide kontak en gesprekke geniet en dit vir ons iets van enorme waarde is. Maar ja, soms is dit ook moeilik om by privaatdinge (soos eie skryf- en leeswerk) uit te kom. Ek moet egter erken dat ek my ook hier in ʼn gelukkige posisie bevind deurdat ek getroud is met ʼn vrou wat nie net ten volle betrokke hierby is nie, maar ook iemand is wat deur middel van begrip en leiding meehelp om dinge bymekaar (en ook uitmekaar) te hou. Dit bly maar kwessies van “hand” en “oog” en die stryd om dit alles te balanseer …

 

Louis, baie dankie vir jou antwoorde op al my vrae.  Jou opmerkings gaan beslis help om die bundel vir baie lesers toegankliker te maak.  Kom ons hoop hulle staan tou voor die boekwinkels om hulle eie eksemplaar aan te koop!

Is jy dalk bereid om ‘n vers uit die bundel hieronder as “lusmaker” te plaas?

 

Graag. Wat van die twee ‘maalgate” waarna in die onderhoud verwys is?

 

 

dat herakleitos reeds aan die begin

daarop gewys het dat dit nie moontlik is

om dieselfde stroom twee keer

 

te betree nie, dat water nooit terugdraai

nie, maar te alle tye alles opneem

 

en onthou, aangesien elke klip,

elke gleuf en worsteling

saamgesleep moet word

 

na die geheue se uiteindelike

verdwarreling

 

met die groter water

sonder vaart

 

***

 

Melopee

 

Hitte en koue, wind, water en sneeu.

Die aarde se agente van verweerde

versplintering: vuur, wind en verbrokkeling.

 

Afdraand, alles, alles, altyd afdraand

met die vloeikaart van ‘n hand

wat ook maanlignagte en vlaktes onthou,

 

die blinkgetrapte spinnerak van voetpaadjies

teen kliprante, selfs die droë koggel

van ‘n windpomp in ‘n verste kamp, soms.

 

Hitte en koue, wind, water en sneeu.

Soggens, met eerste lig, die mis

by ‘n studie van rivier en boom, uitasem,

 

die enkele roeier wat verby

kreukel, vir ‘n oomblik

die watervlak steur: afdraand,

 

alles, alles, om gedwee spane

neer te lê en buite sig te verdwyn

met die water

as enigste verloop –

 

© Louis Esterhuizen (Uit: wat die water onthou. 2010: Protea Boekhuis)