Posts Tagged ‘Waterberg’

Johann Lodewyk Marais. Op Eugène N. Marais se spoor (1)

Monday, June 21st, 2010

Jare gelede het ek een middag in my motor geklim om die eerste keer na die plekke te gaan kyk waar die digter, prosaïs, joernalis, regsgeleerde, amateurwetenskaplike, morfinis en kindervriend Eugène N. Marais in die Waterberg gebly het. Dié dag was Leon Rousseau se Die groot verlange: Die verhaal van Eugène N. Marais (1974) op die sitplek langs my, saam met twee of drie topografiese kaarte en ‘n aantekeningboek.

Oor sy Waterbergse ervarings het Marais baie geskryf en van dié boeke het hom beroemd gemaak. Die Waterberg met sy fauna, flora en mense het Marais besiel (vandaar waarskynlik sy boektitels Die siel van die mier en The soul of the ape) en hom heel aan die einde vergeefs laat hunker om soontoe terug te keer. Miskien daarom het die Waterberg my reeds as jong leser geboei en was dit die plek waar my reise op Marais se spore begin het.

Daardie middag in die Waterberg het ek ‘n bietjie koersloos na die Rietfontein van die gedig “Wanneer dit reёn op Rietfontein” tussen al die ander Rietfonteine op die kaart op my knie gesoek. Kort-kort het ek by die venster uitgeleun en by ‘n voetganger of fietsryer probeer hoor: “Waar is Rietfontein?”

Dié middag op die savanne het vir een van die unieke ervarings tydens my navoring oor Marais gesorg: Op ‘n werf buite Naboomspruit het ek hoopvol afgeklim en na die huis gestap waarheen ‘n jong man beduie het. “My ma het hom geken,” het hy tussen sy malende boelhonde agter my aan gesê. Op die agterstoep het ek die enigste persoon in al my navorsing oor Marais ontmoet wat hom nog uit die tyd van sy Waterbergse verblyf, 1907 tot 1916, self geken het. ‘n Ouerige mev. Van Heerden het vertel hoe sy meer as sestig jaar vantevore as dogtertjie op die Wonderdokter se skoot gesit en hoe hy met sy vinger liggies oor haar voorkop gevryf en haar “gemesmeraais” het.

Johann Lodewyk Marais. Stellings oor Eugène N. Marais

Wednesday, June 16th, 2010

Eugène N. Marais (1871–1936) is in die Afrikaanse letterkunde van vroeg af as digter gekanoniseer ten spyte daarvan dat hy ook ‘n beduidende hoeveelheid bellettristiese en wetenskaplike prosa geskryf het.

*

Marais het hom in Londen in die regte bekwaam (1897–1901), maar daarna min belangstelling getoon in die één rigting waarin hy formele opleiding gehad het.

*

Marais was besonder ontvanklik vir Charles Darwin se The origin of species (1859), wat ‘n groot invloed op die lewens- en wêreldbeskouing tydens die tweede helfte van die negentiende eeu gehad het.

*

In die verhaal oor Marais se lewe en werk is daar een groot skurk: die Belgiese Nobelpryswenner Maurice Maeterlinck (1862–1949).

*

F.G.M. du Toit se Eugène N. Marais: Sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde (1940) is ‘n goed gedokumenteerde studie, wat nog steeds ‘n belangrike bron van inligting is.

*

Na die aandag wat Robert Ardrey in African genesis: A personal investigation into the animal origins of nature and man (1961) aan Marais gegee het, het Marais se bydrae op die gebied van die etologie vir die eerste keer duidelik begin word.

*

W.C.H. du Randt het gedurende die 1960’s ‘n hele aantal studies aan Marais gewy, wat van die winste van die stilistiek op linguistiese grondslag getuig. Hy kom egter ook met ‘n aantal enigmatiese lesings vorendag.

Leon Rousseau se navorsing vir die skryf van Die groot verlange: Die verhaal van Eugène N. Marais (1974) kan nie herhaal word nie.

*

Letterkundiges het lank jaloers oor Marais se literêre nalatenskap gewaak en min moeite gedoen om erkenning vir sy wetenskaplike werk te beding.

*

Danksy die besondere wyse waarop sy ‘n sfeer kan beskryf, het Elize Botha in 1980 en 1987 twee rigtinggewende essays oor Marais as prosaïs gepubliseer.

*

Deur in die veld agter diere aan te loop en hulle gedrag waar te neem, het Marais tot ‘n belangrike paradigmaverskuiwing in die natuurwetenskappe bygedra. 

*

Na die differensie van die dissiplines het die opvatting lank bestaan dat literatuur en wetenskap twee onversoenbare wêrelde is.

*

Die paradigmaverskuiwing wat Thomas S. Kuhn se The structure of scientific revolutions (1962) bewerkstellig het, het daartoe bygedra dat die leser met ander oë na Marais se wetenskaplike geskrifte kan kyk.

*

Volgens Jonathan Culler (1997) is daar ‘n “basic human drive to hear and tell stories”. Natuurwetenskaplikes is eers onlangs bewus gemaak van die rol wat die vertelling (en ander literêre strategieë) in wetenskaplike tekste speel.

*

Die Waterberg is ‘n essensiële ruimte in Marais se lewe en werk.

*

Marais het baie daartoe bygedra om die soms bygelowige lesers van sy tyd (en daarna!) van die belangrikheid van rasionele verklarings vir verskynsels in die natuur te sensitiseer.

*

Die ontdekking van die Waterbergse broodboom (Encephalartos eugene-maraisii Verdoorn) weerlê die aanname dat Marais as natuurwetenskaplike ‘n boereverneuker was (‘n idee onderliggend aan S. Zuckerman se tirade). 

*

Marais sou hom verlustig het in David Copperfield se toertjies en self met een vorendag gekom het.

Johann Lodewyk Marais. Tot langs die Choberivier

Sunday, February 7th, 2010

Tydens die reis dra ek weer die gestreepte hoed wat ek ‘n vorige keer in die dorpie Victoria Falls langs die Zambezirivier in Zimbabwe gekoop het. Ek het egter die veer van die gewone troupant wat ek naby die granietkoepels en gebalanseerde rotsblokke van die Matoboheuwels opgetel het, uitgehaal. Ek is immers op pad na Botswana, ‘n ander land met ander ervarings wat ek wil vashou!

Pontdrif

Pontdrif

Ons het die grens by Pontdrif in die regterkantste onderste hoek van Botswana oorgesteek. Die eerste twee dae was ons in die Tuliblok langs die Limpoporivier en het daarna met die Toyota Hilux deur die mopanieveld noord met die teerpad deur Selebi-Phikwe, Francistown en Nata gery. Daarna het ons die “Mpandamatenga” (oftewel die optel-en-dra-pad, ook die Hunter’s Road genoem) gevolg, die ou transportroete al langs die grens met Zimbabwe, deur ‘n konsessiegebied.

Hierdie pad is vol geskiedenis, want die ontdekkingsreisiger David Livingstone, die jagters James Chapman en Frederick Courtney Selous en die avonturier en kunstenaar Thomas Baines se spore lê hier. By die panne op die roete sien ek yslike hardekoolbome.

Vyf dae ná ons by Pontdrif deur is, kom ons by die dorp Mpandamatenga aan. Nou hoef ons nie kort-kort ‘n GPS-lesing te neem om seker te maak waar ons ons bevind nie. By die Shell-vulstasie oorkant die graansilo’s (hier word nie net met wild en beeste geboer nie) staan daar dié Saterdagmiddag heelwat plaasbakkies en 4×4’s by die winkel ‘n entjie van die vulstasie af.

“Die Bokke speel teen die Aussies op Ellispark,” sê André. “Hier word vanmiddag groot rugby gekyk. Probeer om vir ons biltong in die hande te kry terwyl ek ons voertuig volmaak en die bande laat pomp.” 

“En St Louis-bier, natuurlik!” voeg ek by. Met hierdie bier van Botswana het ons al in Francistown kennisgemaak.

Op die eerste sanderige deel van die Mpandamatenga het ek gehelp om die bande vir die duur van honderd tellings te laat afblaas. Rolf het André se “honderd tellings” as soveel sekondes verstaan en die regtervoorwiel was daarna effens pap. Daar is egter nie ‘n pomp by die vulstasie nie; die bietjie gekerfde biltong in die plastieksakkie waaraan die kort, bruingebrande verkoper met kouse op sy enkels staan en druk-druk, kos 18 pula en los ek liewer.

Van Mpandamatenga volg ons ‘n 100 kilometer teerpad tot by Kasane, die Chobedistrik se bedrywige administratiewe sentrum op die oewer van die boomryke Choberivier. 

*

Voor ons by die Chobe Safari Lodge digby die Chobe National Park met sy baie olifante, leeus (wat saamspan om olifante te vang), lechwes, puku’s en ander ryke natuurlewe gaan afsaal, ry ons van Kasane na Kazungula, die klein grensdorpie in die noordooste by die grenspos tussen Botswana en Zambië en die samevloeiing van die Chobe- en Zambezirivier.        

Dit is vroegmiddag en die Afrika-son bak. André parkeer die Hilux op die parkeerterrein in ‘n koeltekolletjie en sluit. Ons gaan reguit na die doeanekantore om te hoor of ons na die samevloeiing kan gaan kyk. Toevallig is een van die vroulike beamptes buite op die stoep.

Dumela, Mma,” groet André op die joviale manier waaraan ek gewoond is.

Dumela, Rra,” antwoord die vrou.

O kae?

Ke teng.”

Good!

Om mense in Botswane in Setswana, die nasionale taal, te groet, word as ‘n besondere vorm van beleefdheid beskou. André doen dit elke keer wanneer hy iemand teëkom. Die gesprek self gaan daarna in Engels voort, maar aan die einde word die persoon weer in Setswana gegroet: “Sala sentle.”

*

André wil by die doeanebeampte weet of ons oor die brug mag stap tot waar die pont vasmeer. Sy antwoord saaklik, maar het nie beswaar nie. Sy vra ook nie dat ons ons paspoorte daar los soos ek in een van die reisgidse gelees het ‘n mens moet doen nie. Ons begin dadelik flink aanstryk. Groepe voetgangers kom van voor af by ons verbygestap.

Chobe rivier

Chobe rivier

Dan lê die breë, skitterende watervlak voor my. Hier vloei die Chobe- en Zambezirivier saam, en ek sien vir die eerste keer hoe groot die riviere is. Dit is ‘n mooi gesig, en met die pont wat pas vasgemeer het, herinner dit aan tonele aan die begin van die vorige eeu. Lank sal dit nie meer so lyk nie, want ‘n groot brug gaan binnekort gebou word. In die middel van die rivier is Konkumba-eiland, waar vier lande bymekaarkom: Botswana, Namibië, Zambië en Zimbabwe. Die grens tussen Botswana en Zambië hou ‘n wêreldrekord: die 700 meter maak dit die kortste internasionale grens.

By die pont is dit die ene bedrywigheid, want die passasiers en voertuie word aan wal gebring. ‘n Entjie van die pont af, op die oewer, staan die volgende op ‘n bordjie: Keep Kazungula Ferry Clean. Behalwe die mense op die pont is daar ook ‘n sedanmotor, twee 4×4’s en ‘n vragmotor. Op die kajuit van die pontbestuurder staan: Chobe Drift.

Sodra die vrag afgelaai is, begin mense opklim om na Kazungula aan die Zambiese kant te gaan. Baie is voetgangers met inkopies (veral sakkies aartappels). Van die vroue dra bont capulanas, wat uit die Ooste kom. Is die witvrou tussen hulle die voetganger wat die “Mpandamatenga”-roete aangepak het van wie ‘n beampte by die Veterinary Control Point noord van Nata ons vroeër vertel het? Nee, besef ek later, die vrou wat die roete te voet afgelê het, was sekerlik die wêreldberoemde Brits-gebore stapper Ffyona Campbell wat daaroor in On foot through Africa (1994) skryf. Campbell noem hierdie plek waar die vier lande bymekaarkom “one of the great natural wonders of the world”.

Ek staan onder ‘n appelblaar en maak aantekeninge in my notaboekie. Van die groot worsboom of “mzungula” waaraan Kazungula sy naam te danke het en wat hier by die samevloeiing op Mparia-eiland gestaan het, was reeds enkele jare gelede nie meer ‘n teken nie. Die boom het bekend geword nadat David Livingstone in sy dagboek beskryf het hoe hy vier dae voor hy die Victoria-waterval op 16 November 1855 stroomaf in die Zambezi ontdek het, hier uitgespan het. Livingstone skryf in Missionary travels and researches in South Africa (1857) die waterval “had never been seen before by European eyes, but scenes so lovely must have been gazed upon by angels in their flight”.

Ek brand om die toneel voor my af te neem, maar was huiwerig om my kamera saam te bring. André haas hom intussen terug na die Hilux wat alleen (sonder ‘n Suid-Afrikaanse motorwag!) op die parkeerterrein agtergebly het. Rolf is gou op ‘n drafstap voor my uit om André te probeer inhaal. Dit is warm, maar ek het gelukkig my hoed op. 

*

Laat die middag kom ons uiteindelik by ons kampplek by die Chobe Safari Lodge aan. Ons kies ‘n staanplek teenaan die rivier waar ons onmiddellik begin regmaak vir die nag. Agter ons is twee pare by ‘n motorwoonwa met ‘n Gauteng-registrasienommer. Hulle slaan ons doen en late van hul kampstoele af gade. ‘n Man staan later van sy stoel af op en praat met ons van ‘n afstand af.

“Julle moet soos ons reis. Dit neem ons twee minute en vyf en dertig sekondes om kamp op te slaan,” spog hy openlik terwyl Rolf André help om sy daktent op te slaan.

“Het julle gehoor die Bokke het verloor?” gaan hy voort.

Daar is ‘n doodse, byna geskokte stilte. 

“Nee …,” sê André uiteindelik.

“Dertig – agtien.”

“Moenie hom glo nie,” sê die man wat agter hom bly sit. “Hy is ‘n professionele leuenaar. Die Bokke het gewen.”

Ons maak kennis en vind uit die “professionele leuenaar” is dr. Eugène Joubert, wat die eerste doktorsgraad in natuurlewebestuur aan die Universiteit van Pretoria verwerf het en lank in Saoedi-Arabië aan die World Conservation Union verbonde was. Hy is ook die skrywer van die belangrike On the clover trail: The plight of the world’s rhinos (1996).

“Ek is na Eugène Marais vernoem, maar ek was lank in die buiteland. Vir party mense is dit vreemd dat Jan Smuts nou O.R. Tambo International is. Ek moet nog daaraan gewoond raak dat Palmietfontein Jan Smuts geword het!” spot hy.

*

Later die aand sit ons op die dek van die rivierkroeg met drankies en kyk saam met ander buitelanders oor die Chobe uit. Teen twee houtpilare is die afstande na die verskillende bestemmings op plankies met pyle op aangedui:

Moremi 270 km →

South Gate 257 km →

Gaborone 934 km →

Savuti 161 km →

← Lusaka 510 km

Chobe

Chobe

Kort voordat die son ondergaan, kom verskillende groottes rivierbote met toeriste van oral af om voor ons op die rivier te wag om die toneel op film vas te lê. Ek probeer om die sonsondergang in my notaboekie te beskryf, maar ‘n mens moet ‘n waterverfkunstenaar of soiets wees om die kleure name te kan gee. “Voor die son ondergaan, is hy dieprooi: ‘n stamvrug op die horison,” skryf ek na ‘n rukkie.

Oorkant die rivier loop ‘n trop olifante op ‘n eiland en dit val my op hoe baie wildemakoue daar in die oewergras wei. Selfs waar ek staan, kan ek deur my verkyker sien dat dit ‘n swerm van honderde moet wees. Talle van ons watervoëls (byvoorbeeld van die Nylsvley in die Waterberg) kom hier oorwinter. Aan weerskante van die rivier groei papirus en ‘n voël vlieg met ‘n uitgestrekte nek na sy slaapplek.

“Ek gaan môre vir my hoed ‘n wildemakouveer probeer kry wanneer ons met die rivierboot tussen die eilande vaar,” sê ek vir Rolf. Hy hoor my nie eens nie; die perfekte foto wat hy van die sonsondergang oor die Chobe wil neem, neem al sy aandag in beslag.

Johann Lodewyk Marais. Lucie Möller se Watermerke/Waterberg

Tuesday, October 20th, 2009

Lucie Möller het my gevra om by hierdie bekendstelling van Watermerke (2009) ‘n een en ander oor die Waterberg te sê. Dit is die streek noord van ons, waar sy bevoorreg is om ‘n naweek- en vakansiehuis op ‘n lappie Bosveldplaas met die naam Volmoed, ‘n gedeelte van die oorspronklike Rietvlei, te besit en wat sy in heelparty gedigte in herinnering bring. My belangstelling in Eugène N. Marais sou my, moes ek aflei, met ‘n mate van gesag beklee om iets in hierdie verband by te dra.

Voor ek by die Waterberg uitkom, gaan ek ‘n een en ander oor Lucie sê. Ek het haar ontmoet toe ek as navorser by die destydse Sentrum vir Suid-Afrikaanse Letterkundenavorsing (SENSAL) by die RGN aangestel is. Lucie was toe by die Suid-Afrikaanse Naamkundesentrum werksaam en goed in haar vakgebied ingegrawe. Ek het die soort navorsing waarmee hulle besig was boeiend gevind en reeds in my tweede digbundel, Palimpses (1987), gedigte opgeneem waarin naamkundiges se invloed duidelik was.

Lucie het letterkundiges aangemoedig om van die literêre onomastiek kennis te neem deur daaroor te gesels, artikels oor die onderwerp aan te dra en self oor onder meer die plekname in die verhale van Herman Charles Bosman te skryf. Sedert die 1980’s het letterkundiges soos Johan Jacobs, Charles Malan, Bertie Neethling en Louise Viljoen boeiende artikels oor naamgewing in die Suid-Afrikaanse letterkunde gepubliseer en van die naamkunde ‘n interdissiplinêre dissipline help maak.

Danksy Lucie het ek by twee internasionale naamkundekongresse referate gelewer en artikels gepubliseer oor die naamgewing in Marais se “Klein Riet-alleen-in-die-Roerkuil” en Chris Barnard se Mahala (1971) (daardie roman wat ek elke jaar in die lente herlees wanneer weerlig rondom op die horisonne uitslaan en die eerste reёn begin val).

Tydens my jare by die RGN was Lucie ‘n stimulerende gespreksgenoot. Saam met doktor Peter E. Raper en professor G.S. (Gawie) Nienaber was sy deel van ‘n gedugte span, wat internasionale aansien verwerf het. (Of die besluitnemers wat wild en wakker plekname verander van hulle notisie neem, is ek ongelukkig nie so seker nie.)

Intussen het baie water in damme en in die see geloop. Die enkele gedigte wat Lucie tydens my RGN-dae in haar laai gehad het, het mettertyd aangegroei en ‘n jaar of so gelede het ek tot my groot verbasing en vreugde gehoor van die digbundel wat aan die kom is. Ek was bly dat Lucie volhard het en bereid was om (saam met die redakteur, Martjie Bosman) hard te werk om die bundel tot sy huidige vorm af te rond.

‘n Verdere verrassing was die gedigte in die bundel wat in ‘n meerdere of mindere mate oor die Waterberg handel. Weens my noue kennismaking met die Waterberg, veral tydens my navorsing oor Marais se wetenskaplike prosa en die ontdekking van die Waterbergse broodboom, was ek nuuskierig om te sien hoe Lucie met hierdie streek omgaan. Dit is immers ‘n besondere streek! Peter Raper skryf in Streekname in Suid-Afrika en Suidwes (1972) die Waterberg-streek is “genoem na die Waterberge, wat dit van die suidweste na die noordooste deurkruis. Die Noordelike Pongolo-, die Groot-Palalarivier, en die Nylstroom of Magalakwinrivier het hul oorsprong in hierdie bergreeks, en dit sou op sigself voldoende rede gewees het vir die naam. Toe die naam gegee is, was die gebied besonder waterryk; warm en koue mineraalbronne het by skeure in die bergreeks uitgevloei en uitgeborrel, en dit het tot die benaming aanleiding gegee.”

Veral Marais word sterk met die Waterberg geassossieer. In sy opstel “‘n Paradys van weleer” – in ‘n Paradys van weleer en ander geskrifte (1965) – skryf hy oor sy eerste jare en hoe hy gefassineer was deur die landstreek Agter-die-Berg (“ten noorde van Magaliesberg, vanaf Hornsnek tot ver by Wolhuterskop verby”). Hy maak vroeg reeds met die Waterberg kennis en in “The road to Waterberg” – in The road to Waterberg and other essays (1972) – skryf hy hartstogtelik oor hierdie streek, wat hy “the mystery region of my boyhood” en ‘n “wonderland” noem.

Marais het in die loop van 1907 op die plaas Doornhoek, naby Erasmus in die distrik Naboomspruit (tans in die Limpopo-provinsie), gaan bly en vir tin en platina begin prospekteer. Kort daarna het Marais saam met ‘n ander prospekteerder, Alec Austin, in hutte gaan woon wat hulle vir hulleself in die sogenaamde Bobbejaankloof op die plaas gebou het. Hier het Marais oor ‘n tydperk van drie jaar die waarnemings van bobbejane in hulle natuurlike omgewing gemaak waarop hy Burgers van die berge (1938), die reeks artikels oor “Die siel van die aap” en The soul of the ape (1969) gegrond het.

Tydens Marais se verblyf in die Waterberg besoek hy talle plase en dorpe in die streek en leer hy kleurryke karakters ken (onder andere die veldkenner Jan Wessel Wessels, die wildvanger Emil Tamsen, die Nylstroomse kruiedokter Ebrahim Ravat en “‘n ou Boesman, outa Hendrik”, by wie hy Dwaalstories (1959/1927) gehoor het). Hy leer ook die omgewing goed ken deur aan jagtogte deel te neem en wyd te reis. Hy trek deur Bokpoort in die Hanglipberg na die Palala-plato, waar hy enkele maande op die plaas Purekrans bly en in hierdie gebied die Waterbergse broodboom (Encephalartos eugene-maraisii Verdoorn) sien en laat navors: ‘n broodboom wat in 1944 na hom vernoem sou word. By geleentheid besoek hy ook die Soutpansberg en die Limpoporivier.

Byna al sy waarnemings oor die gedrag van diere en talle ander natuurkundige verskynsels het Marais in die Waterberg gemaak. Talle van sy publikasies, wat sedert die 1920’s verskyn, vestig vir die eerste keer die aandag op hierdie besondere streek en sodoende stel hy die Waterberg aan ‘n wye publiek bekend. In sy artikels en bellettristiese prosa figureer hierdie streek as ‘n opvallende ruimte en maak die leser met talle figure kennis wat hy daar leer ken het of pertinent in dié ruimte geplaas het (soos dié wat ek reeds genoem het).

Lucie betrek Marais eksplisiet in een van haar gedigte, wat oorspronklik in Honderd jaar later: Ter viering van die publikasie van Eugène N. Marais se “Winternag” op 23 Junie 1903 (2006) verskyn het.

 

‘N MINDER BEKENDE RELAAS

 

By Tamsen tap ons vol

en swenk êrens by Tweestroom af

na die voetheuwels van die Waterberg.

 

Kort voor die Donkerhoekpoort

kry ons die afrit na Rietvlei

tussen fluitjiesriet en populier.

 

Saans steek ons kerse aan

en hang die stormlantern buite op,

gooi sekelbosstompe in die stoof;

lees pik-pik soos kuikengoed pik

na wit larwes van termiete.

Ons wag vir die besoeker.

 

Doodluiters en tydsaam kom hy

uit die kweperlaning aangestap oor die werf

tot in die binnekring van stemme en spore

van so ver as Swaershoek en Diepkuil.

 

Deur die klein vensterruit

van die witgekalte huis

sien ons hom later sit en skryf:

moontlik oor die siel van die mier,

die melancholie van primate, en leer

hoe hy woord vir woord verdig

tot elke latente winternag.

 

In talle ander gedigte in Watermerke kry ek die gevoel dat dit juis die Waterberg is waaraan Marais hom so verwonder het wat hier ter sprake is en wat aanvullend deur hierdie bundel in kaart gebring word. Talle van die gedigte verwys na plekke in dié streek en die waterryke landskap met sy fauna en flora word skouspelagtig aan die leser voorgestel. Uit hierdie gedigte spreek daar meermale verwondering oor die verrassings wat die landskap bied en daar word stip gekyk om soveel moontlik hiervan raak te sien en te beskryf. Nie verniet nie is daar dikwels sprake van spore op die grond en ‘n voortdurende bewustheid van die skeppingsproses.

Betekenisvol is die wyse waarop die fauna en flora noukeurig met hulle volksname voorgestel word (daar is byvoorbeeld gedigte oor die woudvaring, moepel, grysappel, wildepeer, janfiskaal, kolgans, woestynolifant, aardvark, aardwolf en bruinhiёna).

 

PYLVLEKKATLAGTERS

 

Die swerm spring

gespikkel teen die skemer in,

raserig van tak tot tak

in boekenhout en wildesering.

 

Die nag hou asem op:

volmaak eers as die stilte sak.

 

Soos reeds gesuggereer, is Lucie ‘n fyn waarnemer en gaan sy sorgsaam met haar Waterbergse ervarings om. Sy is nie in wese ‘n ‘groen’ digter nie, maar sy is op dieselfde manier as die ekodigter bewus van die rol wat plek en spesieverskeidenheid in ons aardse bestaan speel.

Een van die gedigte, “Bosvarke”, vir my een van die bestes in die bundel, illustreer mooi wat Lucie met haar waarnemings maak.

 

BOSVARKE

 

Toe die bergnewels laatnag uit die klowe sak,

draf die bosvarke kop onderstebo

soos skimme uit die groot sloot

met maanhare skuins in die wind.

 

In die donker hou ons asem op:

Hoor hoe kou hulle bolle van rankplante

los tussen raasblaar en rosyntjiebos

en wei aan wortelknolle.

 

Ons hoor hulle snorkend peule dop.

Al langs die kante van die donker

verloor ons uiteindelik die spoor

en misgis ons met die geheime

van dié omnivoor.

 

Hierdie is een van ‘n hand vol gedigte oor diere. In dié gedig word enkele kenmerke van die bosvark gegee. Dit is egter nie ‘n beskrywing wat ‘genoeg’ wetenskaplike kenmerke van hierdie spesie aan die leser voorhou nie. Die digter probeer iets anders doen. Die mense luister aandagtig na die geluide wat die vretende bosvarke in die donker maak. Hierdie waarnemenings word opgeteken en sinvol georden. Maar die bosvarke verdwyn weer in die nag in en uit die gedig. Die slotsom waartoe die digter kom, is dat die mens hom met “die geheime / van dié omnivoor” misgis. Die digter erken die eiesoortigheid van hierdie diere en dus ook hulle reg om naas en saam met die mens in hierdie landskap te bestaan.

Plek- en persoonsname kom in baie gedigte voor; asook kaarte, wat van die belangrikste bronne vir die bestudering van name is. Een van die fassinerende prosesse wat in die bundel voltrek word, is bowendien die wyse waarop die professionele naamkundige die dinge en hulle gekatalogiseerde name as ‘t ware aan die geheime werking van die poёsie teruggee. Daar is genoeg hiervan om die lees van die bundel ‘n besondere estetiese ervaring te maak en ons opnuut na ons Suiderland, waaronder die Waterberg, te laat kyk. My eie ervaring van (onder meer) die Waterberg is deur hierdie bundel verryk. Dit is ‘n publikasie waarmee Lucie, net soos op haar gedugte akademiese bydrae, trots kan wees.

Rede gelewer tydens die bekendstelling van Lucie Möller se Watermerke (Pretoria: Protea Boekhuis, 2009) by die Huis vir Afrikaanse Poёsie (hAp) in Capital Park, Pretoria, op 17 Oktober 2009.