Posts Tagged ‘Willem Krog’

Digstring: Willem Krog. Vir Pa

Wednesday, December 3rd, 2014

Digstring

Enkele vrae oor die rugstring van ’n gedig

 

***

Vir Pa

 

Ek sien jou staan in die skaapkraal

Met jou hande in jou sye

in ’n kakiehemp en ’n langbroek

jou hare swart en kort geskeer

terwyl jy skuins afkyk na ’n trop

eenvormige skape, wyl jy

hul genetika in jou kop karteer

 

Het jy ook my wêreld

oop gekarteer sodat

ek daarin die kompas van

magnetiese en ware pols kon lees

 

Ek sien jou in strepies wolpak

met ’n paisley groen woldas

met ’n te groot knoop

om jou voorrynek

jou een hand effens

in die baadjie se sak gesteek

as simbool van die Afrikaner en die Party se saak

 

Leer ek by jou dat

die wolpak en die woldas

veel egter is

as die notules van kollektiewe mag

 

Ek sien jou in jou stoel sit

met ’n boek in jou hand

oor ’n stamboom of ’n rebellie

jou hare nou gryser

en die kennis daarvan in jou brein giet

totdat punte mekaar sekuur

in ’n enkel beeld bereik

 

Leer jy my boeke en kennis

is die sekerste oorhand

oor die leë newels

van die oningeligte stem

 

Ek sien jou nog by die tafel sit

en lagtrane oor jou wange rol

vir storievertellende ou ooms

Ek hoor nog jou herhalende gesegde

‘Op ’n verkeerde vraag is

daar nie ’n regte antwoord nie’

toe jy een oggend net saggies gaan

 

En ek wonder

wat die regte antwoord is

oor hoekom

ek jou nou so vreeslik mis

 

(c) Willem Krog (Uit: Assignaat, 2014: Hond Uitgewers)

***

Willem, wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?

Die gedig is in 2010 geskryf. Ek het deur ‘n foto-album gegaan en ‘n foto van my pa gesien en besluit dat ek iets oor sy lewe vir myself moet kan verwoord.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Nee, die gedig het deur verskeie formate gegaan en omtrent die 6de een was die finale een.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Daar is baie deur my pa se lewe “gegee” maar om dit eenvoudig verwoord te kry, was die uitdaging gewees. So die herskryf en oorskryf het baie dinkwerk gekos.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Wanneer ek begin om ‘n gedig te skryf word dit eers in paragraaf vorm sonder reëls gedoen. Dan begin ek die goed opbreek in reëls totdat ek tevrede is dat die metrum van elke reël werk. Dan begin ek die gedig opbreek in strofes totdat elke strofe ‘n verstaanvare eenheid vorm. Op hierdie stadium besluit ek dan watter lengte die strofes gaan wees. Ek begin die strofes dan rondskuif sodat die goed wat by mekaar pas by mekaar uitkom. In hierdie gedig byvoorbeeld was die 4 kwatryne aan die einde van die gedig maar met die opbreek en rondskuif van strofes kon ek elke kwatryn by ‘n oktet uitkry. Dan word die gedig reël vir reël gevat om te kyk na ander woorde en om konsepte korter te stel. Omdat ek ‘n regsgeleerde is, is my natuurlike narratief, as ek skryf, in die lydende vorm. Die oorskryf na ‘n bedrywende vorm raak van oortollige woorde ontslae. Woorde word dan rondgeskuif vir ‘n beter metrum en ook vir alliterasies, assonansies, rym, ens. Laastens word elke byvoeglike naamwoord nagegaan om te kyk of dit bydrae tot die gedagte en of dit bloot vir effek gebruik is. Na hierdie proses beskou ek die gedig as ‘n eerste weergawe. Dan word hy gelos vir ‘n paar dae en word later weer en weer gelees. Hierdie gedig was eers baie langer. Met die latere bewerkings begin die verkortingsproses om die essensie eenvoudiger en duideliker weer te gee.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ’n vers werk?

My vrou is my eerste leser en sy maak die belangrike “call” of die gedig substansie het. Daarna word die weergawes eers gevorm, en sy lees elke weergawe en dui aan of daar ‘n verbetering of ‘n agteruitgang is die teks is.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Die vers het die eerste keer in die bundel Assignaat verskyn, 3 jaar nadat dit geskryf is. Tydens die redigeringsproses is daar verdere verstellings gemaak.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

‘n Gedig soos hierdie het altyd feite en in hierdie gedig is al die feite in die oktette werklik. Dit skep natuurlik spanning tussen die skrywer en die vers. In die tweede oktet is die “paisley” en “groen” ‘n dubbelle byvoeglikheid wat nie normaalweg tuis hoort in ‘n gedig nie. Maar my pa het ‘n groen paisley woldas gehad en ek het gevoel dat daar iets oneerliks teenoor hom sal wees indien die twee byvoeglike naamwoorde weggelaat word. Maar dit is ook dan só persoonlik en is die paisley groen das net ‘n werklikheid vir die wat hom geken het. Vir ‘n neutrale leser het dit waarksynlik geen nut nie en sou “woldas” ewe goed gewerk het.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Die vers gaan oor dit wat ouers jou bied en hulle bied dit aan jou nie direk nie, maar eintlik altyd indirek. Die direkte is gewoonlik die goed wat minder nuttig is vir ‘n kind. Dit is daardie indirekte goed wat jy eers as volwasse mens besef die werklike goed is wat jy met jou saam neem. Ook gaan die vers oor medemenslikheid. Al is jy nie in skape of rebellies geïnteresseerd nie, die ander persoon se intense bemoeienis daarmee het vir sy medemens waarde. As ‘n mens homself nie intens bemoei met iets nie, het hy minder waarde vir sy medemens. Hierdie bemoeienis is ‘n indirekte boodskap vir jou as kind oor die waarde van medemenslikheid.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ’n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?  

Nee maar wel ‘n foto van my pa as ‘n jong man tussen sy skape.

Het jy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ’n vers werk?

Nee, nie werklik nie hoewel ek verse hardop lees om te kyk of dit wel ‘n bietjie voordragwaarde het.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Die inhoud is vir my baie emosioneel en baie persoonlik. Dit is die enigste gedig wat ek nie kan voorlees nie en ook nog nooit hardop voorgelees het nie. Die beelde wat gebruik word, is nie bekend aan lesers nie, terwyl die ander beelde in die bundel eintlik baie bekende beelde is en dit is wat die gedig vir my anders maak.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Nee, behalwe miskien die verwysing na Afrikanerskap, is die narratief eintlik universeel. Elke plek in die wereld het boere, nasionalisme, rebellies en familie byeenkomste. Hierdie is nie uniek aan Suid Afrika nie.

Kon jy dié vers tot ’n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Ja, in ‘n groot mate, hoewel ‘n mens altyd sal voel dat so ‘n gedig nog meer aandag moet kry as wat op die ou end daaraan gegee is.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Tevrede is nie die regte woord hier nie. Eerder dankbaarheid. In die meeste mense se terugvoer was dit die gedig wat genoem is as een wat die leser getref het. Ek is dankbaar dat ek daarin kon slaag om dit wat ek gevoel het so te kon weergee dat ander mense daardeur getref word.

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Ja, die eerste vers is die “Roeping van Levi”.  Die titel het eers met die samestelling van die bundel verander. Die eerste titel was “Reg vir die dag”. Ek het net eendag tyd gehad om te besin waarmee ek besig was en dit het my nie lank gevat om te besef dat iets onbevredigends was nie, en dat dit my sal verswelg as ek nie ‘n beter balans kan bewerkstellig nie. En so het dit begin.

***

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens”.

Wenners van die lykdig-kompetisie!

Monday, August 4th, 2014


Wenners : Lykdig-kompetisie
Baie geluk!

 

EERSTE PRYS (R2000): Lykdig 23: René Bohnen. Peter Blum

TWEEDE PRYS (R1500): Lykdig 56: Dominique Botha. I always loved the wild things best

DERDE PRYS (R1000): Lykdig 40: Marius Crous. Lykdig vir Wisława Szymborska

EERVOLLE VERMELDING (R500):Lykdig 33: Louis Jansen van Vuuren. Maak dit ‘n dubbel

(more…)