Bernard Odendaal.Willem van Toorn se digterlike blik op 2 Suid-Afrikaanse skilderye
Friday, March 19th, 2010Willem van Toorn, doyen van die Nederlandse digkuns, sluit hom na wat verneem word binnekort as blogger aan in die Wisselkaarten-portaal van die Versindaba-webtuiste.
Verlede jaar het Van Toorn, wat oor dekades heen bekendheid verwerf het as onder meer boeiende landskapsdigter, saam met die Vlaming Luuk Gruwez (eweneens ‘n blogger in Wisselkaarten) ‘n besondere bydrae gelewer tot die visuele en woordkunsuitstalling ALLOOI. Ek het in vorige blogbydraes een en ander oor dié uitstalling geskryf wat, behalwe by verlede jaar se eeufeessimposium van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Volksbladkunstefees van 2009, by vanjaar se Woordfees op Stellenbosch te siene was.
Van Toorn, wat Suid-Afrika al meer as een keer besoek het, is genooi om gedigte te skryf na aanleiding van die twee skilderye uit die kunsversameling van die SA Akademie wat hierna vermeld en afgebeeld word. Ek het hom ook voorsien van beskikbare sekondêre materiaal oor die twee skilders, hul oeuvres en die betrokke twee werke.
Die resultaat was “De andere blik”, ‘n reeks van drie gedigte wat nie net met die betrokke skilderye en/of skilders in gesprek tree nie, maar ook met Johann Lodewyk Marais, voorste “groen” digter in Afrikaans.
Van Toorn se landskapgedigte verklap telkens ‘n besef van die meervoudige gelaagdheid van die (deur sowel kultuur- as natuurkragte gevormde) omgewing - asook van die veelvoud van moontlike perspektiewe daarop. So ook hier.
- Deel I vertolk die blik, déúr die visioenêr-simboliserende raam van Skotnes se werk, van ‘n nog haas onbegrypende, maar verwonderde uit die “geordende” noordelike halfrond (wat Van Wyk Louw die “helder Weste” sou noem) op die “donkere landschap” van “magiese Afrika” (om weer Van Wyk Louw aan te haal). Die stokstertmeerkat-beeld suggereer die versigtigheid én vereenselwiging wat sy verkenning van dié suiderland vol skreiende teenstrydighede kenmerk.
- In deel II word die perspektief verbeeld van ‘n inheemse blanke wat bewapen én belas is met historiese en wetenskaplike, maar ook digterlike (ge-)wete. Hy is ‘n gekwelde, “verlegen geleerde” wat dus óók ‘n klap weghet van die “helder Weste”, maar ontredderd leer staan het voor die Afrika-geweste wat sig as ‘t ware teen sy blik verset. Hy streef in alle erns om ‘n nuwe, liefde stigtende houding daarteenoor te verwerf, terwyl hy byna naïef bly glo dat “denken / en de zachte kracht van de poëzie” tog nog ‘n deurslaggewende rol hierin te speel het.
- Dan, in deel III, volg iets teenoorgestelds: ‘n kolonialistiese perspektief. Die gemaksugtige, selfversekerd dominerende, eintlik ewe naïewe houding van die “meester” (kolonialis én kunstenaarsubjek), wat skaars bewus is daarvan dat hy daardeur ‘n buitestander bly. Dit verteenwoordig ‘n blik uit die verlede: “Hoe het toen was.” En dié soort kyk behoort tot daardie verlede. ‘n Nuwe tydvak het onherroeplik aangebreek.
De andere blik
- I. Bij Mountain fastness van Cecil Skotnes





