Posts Tagged ‘William Morris’

Marcelle Olivier. Die Studio

Thursday, September 16th, 2010

Gedagtes uit Brittanje: Die Studio

Muurpapier deur William Morris - 'Vrugte'

Muurpapier deur William Morris - 'Vrugte'

Ek sit op ‘n kussing in ‘n vriendin se nuwe studio in sentraal-Cambridge, met my Mac gebalanseerd op my swart jas en op my skoot. Daar is ‘n klein skoollessenaartjie teen die een muur en ‘n ongemaklike kombuis-tipe stoel, en ‘n goedkoop, leë boekrak met drie en ‘n halwe rakke langs ‘n besem teen die ander muur. ‘n Verflenterde Suid-Amerikaanse kombers met swart en wit vierkantpatrone lê op die vloer onder my voete. Die krag werk nie, so die lig hierbinne is eintlik maar net dieselfde gryserige weer van buite wat deur die groot vermelkte vensters spoel, en aangesien dit ‘n koue dag en hier geen verhitting is nie, is my arms hoendervel. Dalk moet ek maar weer my jas aantrek…

Die mure is roomwit gepleister en, sover ek kan agterkom, gemaak van sponserige karton bo-oor sement, behalwe waar ‘n hoekkamertjie met twee stukke laaghout tussen vloer en dak opgerig is; ‘n paar grys matvierkante (van dié soort wat jy in kantore kry) en ‘n plastiekhouer is al dekorasie binne wat ek aanneem eens ‘n stoorkamer was. Daar is plek-plek gate in die kartonmure, spikkels kleurverf, en kolle bruin vog wat in die dak- en kamerhoeke bloei. Die vloer is gemaak van ou houtplanke, jare laas afgeskuur of gepolitoer, met ‘n reuk wat my herinner aan die ou Bloemhof gebou in Stellenbosch waar ek laerskool geloop het (en terwyl dit leeg was, alleen in die solder en op die dak rondgeklouter het), voor dit in ‘n kunsmuseum omskep is.

Die Cambridge studio se vloer is vol blou en pienk en geel verfspatsels en kwasmerke – een van die vorige huurders was seker ‘n kunstenaar. Hier en daar, knus tussen die planke, lê miniatuur glaskraletjies. Iemand het ‘n deel van die houtvloer grys geverf, ‘n groot kragprop met vet, grys slagare wat langs die vloerlys afloop in ‘n muur ingeslaan, en ‘n losstaande brandblusser ingedra. Daar is ‘n geroeste waterpyp en kraan wat soos ‘n dooie tak vasgewortel staan, en twee kaggels met baksteenskoorstene, waarvan die een dalk nog bruikbaar mag wees. Die plafon self is hoog, driehoekig, met twee gekettingde ligte wat van die dwarsbalke wieg. Die wind kla in onder die hangdeur met sy Yale-slot.

Dit lyk nie eintlik na ‘n watwonderse plekkie nie…

Kaggelteëltjie

Kaggelteëltjie

 

Maar die rede hoekom ek hier sit en skryf het niks te doen met die bostaande lysie onromantiese tekortkominge van die ateljee nie. Dit is eintlik as gevolg van die noordelike end van die kamer, ‘n area wat omtrent ‘n vyfde van die totale vertrek beslaan. ‘n Kaggel-paneel hier (die kaggel self is gemaak van geroeste yster, en toegestop met ‘n klomp supermark-plastieksakke) is van ‘n ligte hout, met handgeverfde teëls in skakerings van oker, pers, en porselein-blou. Party is kru, party vol detail, en vertoon Bybeltonele, plante, Engelse landskappe en kerke; iemand wat ploeg; voëls en vrugte. Die teëltjie wat in die middel bo die kaggel geset is, lees: O mirkle is the powerful ware that lies in herbs, plants, stones and their true qualities: for nought’s so vile that on earth doth live, but to the earth some special good doth give. Die mure hier is antieke donkerbruin houtpanele wat uit Cambridge se All Saints-kerk herwin is gedurende die verskuiwing en herbou van die gebou tussen 1863-1870. Twee piepklein rame is uit die donker panele gekerf om plek te maak vir helder-gekleurde loodglasvensters wat oos en wes uitkyk. Van naby blyk die werkmanskap effens power – die seksies is oneweredig, die kwashale in die tints is duidelik sigbaar, en die etse lyk soos iemand se sketse uit ‘n rofwerkboek. Dis die stained glass-doodles van ene William Morris.

William Morris is natuurlik bekend vir sy werk as kunstenaar en tekstielontwerper. Hy was die leier van die Engelse Arts and Crafts-beweging wat vanaf ongeveer 1880 vir tradisionele dekoratiewe ontwerpe en vervaardigingsmetodes geveg het, en ‘n vername lid van die Pre-Raphaelite broederbond; sy vrou, Jane, was een van Dante Gabriel Rossetti se gunsteling modelle. Saam met onder andere Rossetti het Morris ‘n maatskappy begin wat vandag nog een van die beroemdste tekstielname in Brittanje is, en Morris & Co. ontwerpe op hout, gordyne, en glas is te vinde in kerke, universiteite, en country houses oor die hele land heen. Morris word veral onthou vir sy muurpapier en meubeloortreksels, maar hy was ook ‘n aktiewe en wyd-gepubliseerde Sosialis, ‘n vertaler van Noorse, klassieke en Middeleeuse literatuur, ‘n belangrike voorloper van romantiese fantasie-fiksie, en natuurlik ‘n digter. In 1892 is hy die Poet Laureateship aangebied as opvolger van Tennyson, maar het om politieke redes dit nie aanvaar nie. Sy verse is deesdae nie meer wyd bekend nie, en die sterk romantiese aspekte daarvan kan op plekke nogal soetsappig voorkom as die leser nie die filosofiese konteks in ag neem nie. Vir diegene wat geïnteresseerd is om bietjie meer van sy werk te lees het Marxist Internet Archive ‘n aanlynkatalogus van baie van sy skrywe, insluitende essays oor kuns en kultuur, die politiek, en akademie, asook uittreksels uit romans, digbundels, en vertaalde werke.

Jane Morris as Proserpine (deur Dante Rossetti), en 'n selfportret van William Morris

Jane Morris as Proserpine (deur Dante Rossetti), en 'n William Morris selfportret

 

To The Muse Of The North

O muse that swayest the sad Northern Song,

Thy right hand full of smiting & of wrong,

Thy left hand holding pity; & thy breast

Heaving with hope of that so certain rest:

Thou, with the grey eyes kind and unafraid,

The soft lips trembling not, though they have said

The doom of the World and those that dwell therein.

The lips that smile not though thy children win

The fated Love that draws the fated Death.

O, borne adown the fresh stream of thy breath,

Let some word reach my ears and touch my heart,

That, if it may be, I may have a part

In that great sorrow of thy children dead

That vexed the brow, and bowed adown the head,

Whitened the hair, made life a wondrous dream,

And death the murmur of a restful stream,

But left no stain upon those souls of thine

Whose greatness through the tangled world doth shine.

O Mother, and Love and Sister all in one,

Come thou; for sure I am enough alone

That thou thine arms about my heart shouldst throw,

And wrap me in the grief of long ago.

 

 

 

Die besige, kleurvolle interieur van All Saints-kerk, Cambridge

Die besige, kleurvolle interieur van All Saints-kerk, Cambridge

In 1863 is William Morris self, asook sy maatskappy Morris & Co., gevra om die muurskilderye en van die vensters vir die nuwe All Saints-kerk in Cambridge te ontwerp. My vriendin se studio waar ek nou sit, in ‘n onbeduidende systraatjie en met sy vuil vloere en verrotte dak, was deel van Morris se werkswinkel gedurende hierdie taak, en die twee oorblywende venstertjies deel van die beplanning en proses. Hy het gevra dat die ou kerk se houtpanele hierheen gebring moet word voordat dit as weggooimateriaal verbrand of verkoop is, en waar my jas lê en stof vergaar het hy en van sy span patrone bedink en geteken, lood getrek, en glas getint en gesny voordat die finale produkte oorgedra is Jesus Lane toe om in die groot kerkvensters vasgemessel te word.

Ek sou aanneem dat, nadat die projek voltooi is, die werkswinkel dadelik uitverhuur is aan iemand anders – dalk was daar meer van Morris se oefen-vensters wat oorspronklik agtergebly het en oor die jare die niet in verdwyn het; dalk was dit maar altyd net dié ou tweetjies wat so in vanmiddag se dowwe sonlig sukkel om die kamer in te kleur. En wie presies verantwoordelik was vir die teëltjies rondom die vuurherd kan die eienaars nie sê nie, en ek gaan nie eers probeer om te spekuleer nie. Want vandag is dit vir my eintlik heeltemal genoeg om te weet dat ek my wegneemkoffie kan drink en na die herfsreën kan luister in dieselfde vertrek waar een van Brittanje se bekendste kunstenaars dalk glas-splinters uit sy vingerpunte probeer suig het.

 

Een van die twee loodglasvenstertjies in die studio

Een van die twee loodglasvenstertjies in die studio