Posts Tagged ‘Willie van der Merwe gedigte’

Willie van der Merwe. Twee gedigte

Monday, June 3rd, 2019

Die Here is nie meer my herder nie

(vir Lucia, Psalm 23)

 

Die Here is nie meer my herder nie
want by jou kan niks ontbreek nie
jy lê my neer in groenweivelde
jou asem, jou  kus is waters van rus
jy verkwik my siel en lei my in die spore
van jou geregtigheid net om my ontwil
al gaan ek deur die dal van doodskaduwee
pleeg ek steeds onheil met jou
want jou nek en jou skouers vertroos my
jou borste berei die tafel voor my aangesig
my hoof is vet met olie
my beker loop oor
net goedheid en guns sal my volg
al die nagte van my lewe
en ek sal in jou tempel kom
tot in lengte van dae

*

 

my hart is ‘n fladderende duif

 

jy het my hart aangeraak

my hart is ’n fladderende duif

misplaas, onvanpas

paniekbevange teen die ruit

en die ruit is my borskas, jy weet?

 

toe ek streel oor jou voorkop en jou slape

het ek sagkens geloop met my vingers

oor elke letsel en ledemaat

eers met duimpie en toe met sy maat

en toe met langeraad

 

terstond het die duif genestel

grys en gespikkel, maar bronstig

en toe was dit te laat

 

jou voorkop, jou mond, jou gelaat

is ’n tempel, die tempel van Salomo

nee, die Taj Mahal, ’n bedevaartsoord

vir wie nie meer bid

 

ons moet die duif laat vlieg

hierdie hart van my moet vlerke kry

 

hoe doen ons dit?

.

©Willie van der Merwe / 2019

Willie van der Merwe. Bedevaartslied

Sunday, May 26th, 2019

 

Bedevaartslied

                                    (Psalm 121)

Ek slaan my oë op na jou skouers en jou nek
dan weer af na jou borste en jou dye
waar sal my hulp vandaan kom?
my hulp is in die naam van die Here
wat hemel en aarde gemaak het
want ek wil onheil pleeg
in sonde met jou leef
jou sonsteek gee bedags
jy moet so jags wees snags
dat jy nooit weer kan sluimer of slaap nie
Hy sal die skaduwee moet wees aan my regterhand
Hy sal jou ingange en jou uitgange moet beskerm
en behoed, van nou af tot in ewigheid

.
©Willie van der Merwe / 2019

 

Willie van der Merwe. Twee gedigte

Tuesday, May 21st, 2019

My Mona Lisa

my Mona Lisa
is nie van Da Vinci nie
sy was nog nooit eens in Florence
sy’s van Abjaterskop
daar doer in die Bosveld
maar lag Italiaans

jou Mona het skewe tone gehad
of hoe? waarom sien ons net haar strot?
my Mona loop soos ‘n tinktinkie
en waar sy loop word alles stil
tot voor die aangesig van God

luister hier Leonardo, jou Mona se handjies was pofferig
het sy gesukkel met haar vog?
ek vra dit maar vertroulik, man-tot-man
want mý Mona is atleties, ongelooflik sterk
sy kan ’n beer slag en bewerk
haar handjies staan vir niks verkeerd
sy kyk ook nie verveeld, sy glimlag breed
as ek haar mates meet

maar hoe kan ek haar teken Leo?
haar skouers is my toeverlaat
haar borste is kordaat
haar rug soos dié van ’n soldaat
haar lendene omgord met krygslus
haar heupe gretig en wagtend
op ‘n vlammende swaard

hoe skilder ek dit my vriend?
prego: graag jou raad!

.

 

soos ’n kewer

 

ek het jou so lief, my lief

dat ek tien duisend duiwe

sou loslaat om hemelwaarts te vlieg

net terwille van jou my lief

 

ek het jou so lief, my lief

dat ek honderde pikkewyne

sal vang en voer tot hulle bieg

dat almal net eenmaal kan paar

of ten minste net eenmaal per jaar

 

ek het jou so lief, my lief

so lief, dat ek omrol soos ’n kewer

kyk, my pote krap in die lug

 

©Willie van der Merwe / 2019