Posts Tagged ‘Woordfees’

Brokke in die collage van afstand en aanwesigheid [1]

Tuesday, March 15th, 2011

(Met die opening van die uitstalling “Walter Meyer: ʼn Verdwene oomblik in tyd”, Universiteit van Stellenbosch Woordfees, Sasol Kunsmuseum, 4 Maart 2011)

[Walter Meyer’s] work is a response to traditional landscape painting because it champions realism. For this reason, his art seems unfashionable, conservative even, in relation to contemporary artistic production here and in the rest of the world where realism, and indeed painting itself, have gone out of vogue…  In contrast to early landscape painters like Volschenk, Hugo Naudé, Pierneef and even more contemporary ones, Meyer’s is a realism that is completely devoid of glamour or beautification and instead focuses on the ordinariness and banality of the South African landscape and platteland.
- Lise van der Watt

Realism has never been comfortable with ideas. It could not be otherwise: realism is premised on the idea that ideas have no autonomous existence, can exist only in things. So when it needs to debate ideas, as here, realism is driven to invent situations – walks in the countryside, conversations – in which characters give voice to contending ideas and thereby in a certain sense embody them.
- Uit Elizabeth Costello


Landskap met rooi duine en kameeldorings, dink Melanie. Sy skakel die CD-speler af, want Elizabeth het in die passasiersitplek aan die slaap geraak. Elizabeth word wakker as ʼn klip teen die Fortuner se pens klap, dan dobber haar kop gelukkig weer vorentoe. Melanie voel ook vaak en verwissel van rat. By Kuruman het hulle van die nasionale pad afgedraai Van Zylsrus toe. By Askham vir water gestop, nou grondpad Mier se rigting. Vreemde name vir dorpe, Groot Mier en Klein Mier. Daarna deur die grenspos Keetmanshoop toe, bestemming Lüderitz. Die Kalaharilandskap laat haar weer aan Walter Meyer se skilderye dink. Sy dink die afgelope paar weke konstant aan hom. Sy moes nooit daardie brief geskryf het nie. Stupid, Melanie, stupid, stupid, sj… toepid! “Dear Ms Williams,” het die antwoord gekom.

Sy’t Walter Meyer die eerste keer op ʼn CD teëgekom. Wel, nie in die musiek nie, maar op die CD-omslag. Dit was 1993. Mandela was al drie jaar uit die tronk, maar in die Vaaldriehoek en Natal is mense daagliks afgemaai. Derde mag, Inkatha’s met AK’s in kattebakke. Sy onthou nou nog die naam van die skildery: “Huis Met Witboom”. Dit was James Phillips en die Lurchers se fenomenale album Sunny Skies. Sy het James Phillips se musiek natuurlik reeds geken, veral dié van sy alter ego Bernoldus Niemand. Sy’t hom elke nou en dan in Yeoville sien stap. Walter Meyer ook, maar sy’t nie een van die twee ooit ontmoet nie. Meyer was terug uit Düsseldorf, onthou sy, waar hy onder Michael Buthe studeer het, deels weens besware teen militêre diensplig. Ons kerk se mense, dink sy. Later het hy en Catharina ʼn huis in Pearston gekoop, sommer uit die Landbouweekblad. Toe Bethulie en uiteindelik Upington. Die droë plekke in Walter se skilderye.

Die skildery op Sunny Skies se omslag het haar onmiddellik getref. Die huis met sy mynhoopgeel bakstene, doodgerypte grasperk met ovaalvormige beddings, TV-antenna op die dak, ʼn dooie, wit boomstomp in die voortuin, die donker Hoëveldlug. Hierdie is die Johannesburg wat sy geken het, die een met sy dreigende, sonnige lug. Op Sunny Skies het James Phillips gesing:

Just when we thought it’s over
we found it’s only just begun.
Just when we thought it’s over
we’re still dying like flies underneath the sun…
[2]

Ja, onder die einste Suid-Afrika se sunny skies. Dis deels hoekom sy so van Walter Meyer se skilderye hou. Hy kry Suid-Afrika se lig reg. Mense vergeet dat die lug een van die belangrikste dele van ʼn landskap is. Om die lug se lig met verf te meng is moeilik. Meyer is meesterlik hiermee; die bleek Hoëveld, Bethulie se lug vol helder wolke, die effe rooi tint bo die Namib, selfs Seepuntpromenade se flets gloed as die son sak, sodat jy kan sweer Mickael K gaan nou met sy trollie verbykom. Meyer kry dit altyd reg om die lug so koud te laat lyk as wat dit is, amper afsydig bleak. Bleek is net nie ʼn akkurate vertaling vir bleak nie. Dalk ʼn kombinasie van bleek en desperaat?

Konsentreer op die pad, Melanie. Waardeer die landskap. So anders as Pierneef met sy pastelle. Dis Liese van der Watt wat die twee met mekaar vergelyk het, destyds in ʼn artikel in Vuka. Waar Pierneef die landskapskilder van Afrikanernasionalisme was, is Walter Meyer die landskapskilder van Afrikanernasionalisme se verval. “The landscape of our discontent,” het sy dit genoem, of só iets. [3] Melanie het weer daaraan gedink toe sy J.M. Coetzee se White Writing lees, oor hoe kolonialiste Afrikalandskappe sonder mense skilder – reg om oorgeneem te word. [4] Pierneef se geordende landskappe, die amper Europese dorpe, sonder blindederm-townships wat langs ashope ontsteek. Dis op daardie landskap wat Verwoerd se vragmotors mense opgelaai het en in die tuislande gaan dump het terwyl Afrikaners op Parkstasie na Pierneef se panele kyk om te sien waarheen die trein hulle gaan vat. Het jy nie by die fokken treinvenster uitgekyk nie, Pa? Dit lyk heel anders as Pierneef se kitch, of hoe? ʼn Treinvenster is tog ook ʼn raam met ʼn prentjie, liewe Pa, amper soos jou dierbare Nasionale Party se TV-skerms, dynserig van hot air en lugspieëlings.

ʼn Dreadlock het uit die rekkie in Elizabeth se nek geval en hang nou langs haar wang af. ʼn Portret, dink Melanie. Ons in ʼn portret, buite die vensterraam ʼn landskap. Hoekom verf mense nog landskappe en monteer hulle in rame? Walter Meyer se landskappe gaan oor mense wat in transito is, vervalle huise, skrootwerwe. Dit belowe nie ʼn beter toekoms nie. Hoekom hou sy dan so daarvan? Hoekom laat dit haar tuis voel? Kan ʼn mens só nostalgies raak oor verval en jou eie dislokasie? ʼn Deuntjie van Gert Vlok Nel kom draai in haar kop:

Moenie vir my alleen agterlaat in hierdie land
waar hulle nog hekse verbrand nie
hierdie aaklige, aaklige land nie…
[5]

Sy weet Walter Meyer hou ook van Gert Vlok Nel se musiek. Die namiddag wat chroom word, net in olie op doek. Bethulie se motorhawe, nie Beaufort-Wes s’n nie. Ook nie Sutherland s’n nie. Walter Meyer staan teenoor Pierneef soos Gert Vlok Nel teenoor N.P. Van Wyk Louw staan. Destyds in Pretoria, in die tagtigs as student, het Walter Meyer sketse geteken vir die underground digters se little mags, soos Wurm, as sy reg onthou.

Sy kyk sylangs na Elizabeth. Happy-go-lucky Elizabeth. Elizabeth wat nie verstaan hoekom sy so ontsteld was oor Mnr. Khoza se brief nie. Dit alles oor ʼn blerrie Jatsenaam Hendrik Pierneef getiteld “Berglandskap”. Die skildery het in die raadsaal gehang. Sy wat Melanie is, as nuwebesemkurator, wou die Pierneef vervang met iets wat meer by die maatskappy se openbare beeld sou pas. Haar eerste aankoop was ʼn Willie Bester, ʼn lekker strugglestuk van rubber en blik, beslis iets wat meer oor die land se trauma as Pierneef sê. Maar hoe gemaak om die base te oortuig? Sy’t ʼn brief aan Mnr. Khoza geskryf en ʼn artikel oor Pierneef as die landskapskilder van Afrikanernasionalisme aangeheg. Sy’t ʼn paar woorde wat sy oog sou vang onderstreep, woorde soos “dispossession”. Sy wou hom nie patronise nie, dis net omdat hy so besig is!

Ag, heilige freaking whoever, hoe moes sy geweet het Mnr. Khoza het die Pierneef self daar gehang? Blykbaar ʼn foto van Tokyo Sexwale saam met die geborgde sokkerspan daarvoor afgehaal nadat hy die Berglandskap iewers agter ʼn leggerkas opgespoor het. Genoem dat hy spesifiek na die landskap gaan soek het. Nogal ʼn slag met taal, hierdie Khoza, haar mooitjies op haar plek gesit. Sy weet nie of sy die woorde reg kan onthou nie:

“I have spent some time looking at Mountain Landscape. Occasionally, I bring a cup of tea in here, turn my back on our much envied city panorama, and simply gaze at that square of paint on canvas. There are golden foothills, soaring peaks in purple and mauve, storm clouds advancing or retreating. I get quite lost in it… Afterwards, when I return to the present… I feel as if I’ve been away to some high place where the air is purer. I feel quite refreshed. I cannot speak with authority – one day at the Louvre will hardly atone for a lifetime of ignorance – but I suspect this capacity to refresh the senses and the spirit is one of the marks of great art.” [6]

Nog 30 km tot op Mier. Die liewe Lizzie steeds uit soos ʼn kers. Melanie onthou die laaste groot Walter Meyer-uitstalling by Oliewenhuis. Sy’t van Johannesburg Bloemfontein toe gevlieg daarvoor, maar haar aankoopbudget vir die jaar was boomskraap. Sy wou nie een van die kleiner stillewens koop nie. Daar was ʼn ongelooflike selfportret. Dit het haar diep ontstel en sy’t gehuil. Die Saterdagoggend ná die opening wou sy in stilte na die skilderye gaan kyk. Catharina Scheepers het ʼn groep studente van een of ander kunsskool rondgelei. Agter haar raindrop-bril het Catharina so half afwesig gelyk, tjalie om die skouers. Sy woon nou in Kaapstad en Walter in Upington. Sy praat oor sy depressie en sy werkskedule. Heeldag verf hy.

Die studente is egter meer geïnteresseerd in hoe hulle by die punt uitkom waar hulle ook R50 000 vir ʼn skildery kan vra. Catharina humour hulle. Soms is dit bloot geluk, sê sy. Walter was op die regte tyd op die regte plek. Sy eerste groot uitstalling was saam met opkomende swart kunstenaars, iets wat nog heeltemal nuut was in daardie dae.

Iemand vra of Walter Meyer ronde of plat kwasse gebruik. Ronde kwasse, sê Catharina en vertel dat hy ver van die doek af staan as hy verf, armlengte. Hy steek die doek, soos met ʼn mes, stap terug, staan nader, steek weer. Melanie wonder of dít is hoekom daar ʼn afstandelikheid in sy skilderye is, so al asof hy bang is vir die landskappe wat hy verf. Kan ʼn mens so letterlik wees oor afstandelikheid? Kan hóé ver jy van die doek af staan as jy verf só ʼn impak hê op hoe ʼn skildery lyk? As jy jou gesig naby aan die doek sit, onthou Melanie, sien jy chaotiese kleure, maar as jy terugstaan is Walter Meyer se landskappe amper superrealisties. Is dit hoe hy sy illusie van realisme bewerkstellig?

Ongeskonde lyk die Kalahari, dink Melanie. Met global warming en suurwater wat by Johannesburg se mynskagte uitsypel is om landskappe te skilder dalk die mees radikale ding wat ʼn mens kan doen. [7] Blykbaar loop die Cradle of Humankind die gevaar om deur hierdie radioaktiewe water versuip te word. Fossiele, alles daarmee heen. Hoe toepaslik sal dit nie wees nie, dink sy. Die wieg van die mensdom word die graf van die mensdom. Sy sukkel om nie hardop te lag nie. En nou soek hulle gas in die Karoo en steenkool onder die Wes-Kaap se wingerde. Hoe lyk dit met ʼn mynhoop langs Simonsberg, Stellenbosch? How’s that for progress, my liewe Pierneef? Lus vir ʼn knypie landscape performance art? That’s where the cutting edge is, my dear. Video en performance.[8]

Ai, die brief. Oor “Berglandskap” het Khoza se ander connections ook met hom saamgestem. Leo Mbola van Telkom was blykbaar oortuig die Pierneef is ʼn prent van die Winterberge naby Queenstown, waar hy grootgeword het. En daai Eddie Khumbane van Spoornet het die skildery as “a prime piece of real estate” beskryf. Hoe’t Mnr. Khoza sy reaksie beskryf? Iets soos: “He stood there with his hands behind his back, gazing at the painting as if he owned it, and not just the painting but the mountains themselves, the lofty reaches of the Winterberg.”[9]

Mnr. Khoza het die artikel oor Pierneef by sy brief aan Melanie ingesluit. Hy’t self ʼn paar woorde onderstreep, ander woorde as sy, soos “the proprietorial gaze”. As Eddie Khumbane dink Berglandskap is “a prime piece of real estate”, is die skildery “not at odds with our corporate culture”, het hy teruggeskryf. Dan die uitklophou. Mnr. Khoza sal die Pierneef in die raadsaal hou en die Willie Bester mag sy wat Melanie is, “Dear Ms Williams”, in die ingangsportaal sit waar almal dit kan sien.[10]

Die Fortuner skuif heen en weer oor die grondpad. Melanie dink aan Zander Blom en sy tjommies wat op Pierneef se graf gaan dans het. Avant Car Guard. [11] Sy’t by die Art Fair in Sandton ʼn meer bekostigbare stuk van Zander vir die maatskappy aangeskaf. Melanie wonder of hy ook besef hoe vreemd toepaslik dit is dat ʼn Blom op iemand se graf beland. Hoe moet sy Mnr. Khoza se brief lees? Bedoel hy Pierneef se kuns is so goed dat hy die grense van nasionalisme oorsteek, of bedoel hy iets veel donkerder met die “proprietorial gaze”? Is hy ironies daaroor? Of herken hy sy eie nasionalisme in Pierneef? Hoe maak jy sin van hierdie aaklige, aaklige landskap?

Voëlnes teen telefoonpaal, dink Melanie. Vandag sien sy landskappe met rame én titels deur die voorruit. Stamp in die pad. One for a video. Elizabeth strek en gaap. “Hey, girl,” sê sy.

“Jy wakker?” antwoord Melanie, “lus vir musiek?”

“Not if it’s the late James Phillips again. I was hoping fourty winks would save me from that fate,” mompel Elizabeth.

“Ek kan nie ophou dink nie, babe,” sê Melanie.

Elizabeth sit haar een voet teen die paneelkissie. Rooi toonnaels, die groottoon silwer. Vreemde sin vir kleur, hierdie enetjie, dink Melanie. Elizabeth sê: “Mel, you’re on holiday. We’re here to get away from your paintings and politics. Relax, enjoy the Kalahari.” Sy neurie “Ver in die ou Kalahari” se deuntjie, heeltemal van die noot af.

“Jy weet ek ken ander woorde vir daai song,” lag Melanie. “En as jy my weer Piernig noem, laai ek jou sonder water af.”

“That’s cruel,” sê Elizabeth, “and come to think of it, these barren landscapes must be the reason for all the heavy drinking among you arty types.”

“En wie’s nóú donker?” vra Melanie. “Just to lift the mood,  Sunny Skies,” sê sy en skakel die CD-speler aan.

Notas, erkennings, verwysings

[1] Die titel kom uit Breyten Breytenbach se “die onvoltooide vers” uit sy bundel Die beginsel van stof (Human & Rousseau, 2011), bls. 22-23.

Die aanhaling van Liese van der Watt kom uit haar artikel “Exploring the art of Walter Meyer: Now is the landscape of our discontent,” Vuka, vol. 2, nr. 4 (1997), bls. 25-31.

Die aanhaling van J.M. Coetzee kom uit Elizabeth Costello (Secker & Warburg, 2003), bl. 9.

Erkenning ook aan Ivan Vladislavić, by wie ek die meeste gesteel het om die storie te vertel. Sien: Ivan Vladislavić, “Mountain Landscape,” Art South Africa, vol. 6, nr. 2 (2007), bls. 47-48.

Verdere erkenning aan Marlene van Niekerk, “The Fellow Traveller (A True Story),” intreerede aan die Universiteit van Utrecht, 15 Januarie 2008, asook Die sneeuslaper (Human & Rousseau, 2010), spesifiek die hoofstuk oor “Die vriend”.

Baie dankie aan Sandra Klopper vir leesstof van kardinale belang en Irma du Plessis vir voorstelle en kommentaar.

[2] James Phillips and the Lurchers, “Fun’s not over,” van die album Sunny Skies (Shifty Music, 1993).

[3] In Pierneef se werk, skryf Van der Watt, “[t]he land is empty of human activity, but unlike him, Meyer’s landscapes are also devoid of wealth and prosperity. Indeed, Meyer’s sparse landscapes are populated by ruins of farmhouses and vestiges of smalltown dreams, a land filled with abandonment, with failure and decay.” Sien: Liese van der Watt, “Making whiteness strange,” Third Text, nr. 15 (2001), bl. 63.

In Vuka skryf sy: “Meyer’s art describes human displacement. His works retreat from narrative – they carry no promise for a brighter future nor are they nostalgic for a better past. Suspended in the ‘now’, his works proclaim not ownership and authority, but transience and temporary residence… His work is a response to traditional landscape painting because it champions realism. For this reason, his art seems unfashionable, conservative even, in relation to contemporary artistic production here and in the rest of the world where realism, and indeed painting itself, have gone out of vogue. This penchant for realistic portrayal as well as the fact that Meyer prefers to work in the very traditional medium of oil painting, is quite surprising for an artist who received his training in the 1980’s when neoexpressionism, conceptual- and installation art dominated most academic institutions such as the University of Pretoria and the Staatliche Kunstakademie in Düsseldorf where Meyer studied for four and three years respectively between 1982 and 1989 – and indeed produced abstracted works… But it is through the kind of realism which he utilises now that Meyer manages to break away from the medium of traditional landscape painting. In contrast to early landscape painters like Volschenk, Hugo Naudé, Pierneef and even more contemporary ones, Meyer’s is a realism that is completely devoid of glamour or beautification and instead focuses on the ordinariness and banality of the South African landscape and platteland.” Uit: Van der Watt (1997), bls. 25-31.

[4] J.M. Coetzee, White Writing: On the Culture of Letters in South Africa (Pentz Publishers, 1988). In Dirk Klopper se woorde: “J.M. Coetzee claims that for all their vaunted attachment to the country, white South Africans suffer from a deficiency of love. Their love, he says, is directed exclusively toward the land, and therefore ‘toward what is least likely to respond to love: mountains and deserts, birds and animals and flowers’.” Klopper kwalifiseer hierdie stelling deur na o.a. Hierdie lewe en Agaat te kyk. Sien: Dirk Klopper, “An Unsettled Habitation: Narratives of South African Landscape.” In: Michael Godby, The Lie of the Land: Representations of the South African Landscape (Iziko, 2010), bl. 39.

Sien ook W.J.T. Mitchell, Landscape and Power, 2de uitgawe (University of Chicago Press, 2002); Lieze van Robbroeck, “The Lie of the Land,” Art South Africa, vol. 9, nr. 2 (2010), bls. 66-67; Jennifer Beningfield, Land, Landscape and Politics in South Africa in the Twentieth Century (Routledge, 2006).

[5] Gert Vlok Nel, “Moenie my hier vergeet nie, Dixie,” van die album Beaufort-Wes se beautiful woorde, (Wildebeest Records, 1998).

[6] Hier ploeg ek krom vore met Ivan Vladislavić (2007) se kalwers. Die hele storie van Ms Williams, die kurator wat die Pierneef met ʼn Willie Bester-kunswerk wou vervang, is vervat in die brief aan haar deur ene H.K. Khoza, wat kom uit ʼn kortverhaal van Vladislavić in Art South Africa gepubliseer. Ek het besluit om Ms Williams se kant van die saak hier te stel, of wat haar saak moontlik sou kon wees.

[7] “Die mik van ʼn raasblaar, berei vir ʼn papegaai, sewe kepe in die sandsteen om die raaf te ontvang, ʼn strelitzia, met die vlagstok in die gleufwerk gereed vir die suikervoël. En daar was skoorstene en telefoonpale gespan in verwagting, en riete en gras in beroering van vertrek, ʼn opstel in afwesigheid, vol stootwind en glipstroom, en die speling van die verlewendigde lig.” Sien Van Niekerk (2010), bl. 185-186. As gevolg van ekologiese verval, beleef omgewingsgeskiedskrywing as veld die afgelope tyd ʼn oplewing. As voorbeeld sien William Beinart, The Rise of Conservation in South Africa: Settlers, Livestock, and the Environment 1770-1950 (Routledge, 2003) en meer direk op landskapskuns van toepassing sien Brett M. Bennett, “Reading the Land: Changing Landscapes and the Environmental History of South Africa.” In: Michael Godby, The Lie of the Land: Representations of the South African Landscape (Iziko, 2010).

[8] Hier is iets van die tragikomiese karakter Jimmy Harris se stem: “Video het ʼn lang pad gekom, my vriend. Dit het ver gekom sedert die sestigerjare. Dis serious stuff nou. Dis head-on. Dis angst-free. Dis ʼn cool take on contemporary life. Dit het nie die estetiese baggage van painting nie. Dit het sonder estetiese verwagtings gekom omdat dit aan die begin geassosieer is met televisie en newsreels. Dis freedom to explore, man – dis vryer as enige ander kunsvorm. Painting kom met te veel estetiese baggage. Jy kan jou gat nie daarin roer nie, of jy bots teen een of ander constraint.” Uit: Ingrid Winterbach, Die benederyk (Human & Rousseau, 2010), bl. 64.

[9] Vladislavić (2007).

[10] Ibid.

[11] Vir ʼn bespreking van “Avant Car Guard at J.H. Pierneef’s grave, 1954”, maar ook die rol van Pierneef as objek vir kontemporêre landskapskunstenaars, sien Godby (2010), bls. 126-127.

‘n Gróót handeklap vir die Woordfees

Wednesday, February 9th, 2011
kykNET Fiësta-wenners

kykNET Fiësta-wenners

Verlede week was ‘n week waartydens ek weens bepaalde werksomstandighede maar net rakelings kon kennis neem van dinge buite werksverband. So moet ek tot my verleentheid erken dat ek een van die belangrikste nuusgebeure totaal misgekyk het. En dit is kykNET se Fiësta-toekennings wat verlede Donderdagaand plaasgevind het.

Tydens dié spoggeleentheid is die Woordfees aangewys as die gewildste kunstefees in Suid-Afrika en watter enorme prestasie is dit nie om op dié manier vereer te word te midde van soveel feeste landwyd nie …

Volgens die berig by LitNet het die Woordfeesdirekteur, Dorothea van Zyl, kykNET tydens haar dankwoord bedank vir “hierdie spesiale erkenning (wat hulle) gee aan die rol van feeste om soos vonkproppe die enjin van die skeppende kunste in die land aan die brand te skop”. Tweedens het sy die kreatiewe gees “wat die heelal deurkruis op soek na nuwe skeppende moontlikhede” bedank en oor Afrikaans spesifiek die volgende gesê: “Ons is maar almal dienaars van die Afrikaanse woord. Die Nederlandse skrywer Adriaan van Dis het, nogal in ooreenstemming met ons feestema vanjaar, Elwe en Selwe, Afrikaans nie verniet ‘Nederlands met elfenvoetjes” genoem nie!’”

En ai, ek dog nog altyd dat Nederlands eintlik maar Afrikaans met oprygstewels is …

Nietemin, die volledige lys van pryswenners is soos volg:

  • Beste opkomende kunstenaar: Moenier Adams vir sy vertolking in Afrikaaps.
  • Beste teaterontwerp: Marthinus Basson vir sy stelontwerp in As die broek pas.
  • Beste Fiesta-aanbieder: Bobby van Jaarsveld.
  • Beste spel in ‘n solovertoning: Antoinette Kellermann vir haar vertolking in As die broek pas.
  • Beste regie: Nicola Hanekom vir Betésda.
  • Beste prestasie in klassieke musiek: James Grace vir Around the World in 60 Minutes.
  • Gewildste musiekgebeurtenis: Hatfield Karnaval.
  • Beste prestasie in ‘n musiekgedrewe produksie: Afrikaaps.
  • Beste byspeler: Theodore Jantjies vir sy vertolking in Vaselinetjie.
  • Beste vrouebyspeler: Bettie Kemp vir haar vertolking in Dood van ‘n verkoopsman.
  • Beste akteur: André Odendaal vir sy vertolking in Magspel.
  • Beste aktrise: Antoinette Kellermann vir haar vertolking in As die broek pas.
  • Gewildste fees: Woordfees.
  • Beste nuutgeskepte Afrikaanse opvoering: Nicola Hanekom vir Betésda.
  • Beste aanbieding: As die broek pas.
  • Bettie Kemp is bekroon as beste byspeler vir haar spel in Dood van ‘n verkoopsman

Die volledige berig hieroor kan op Nuus24 se webtuiste gelees word en - indien jy dit nog nie raakgesien het nie - kan die volledige Woordfees-program hier bekyk word. En dan moet jy ook nie vergeet van die onderhoud wat onlangs met Melt Myburgh, Woordfees se Woordkunsprojekbestuurder, gevoer was nie.

***

Sedert gister het daar twee nuwe bydraes bygekom. Andries Bezuidenhout soek na ‘n (skaars) roman van Karel Schoeman, terwyl Desmond Painter dit weer het oor Uys Krige se essay oor Manuel Bandeira.

Die ideale tyd dus om in te haal op jou agterstallige leeswerk.

Mooi bly.

LE

 

Onderhoud met Melt Myburgh oor die komende Woordfees

Tuesday, February 1st, 2011

Elwe & Selwe - En kuier kán die spulletjie!

Louis Esterhuizen gesels met Melt Myburgh, Woordfees se Woordkunsprojekbestuurder

Melt Myburgh

Melt Myburgh

Melt Myburgh woon op Stellenbosch en werk by Woordfees as Woordkunsprojekbestuurder. Hy het langs die Oranjerivier op Karos naby Upington grootgeword.

Nadat hy in 1992 ‘n M.A.-graad in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het, was hy vir 15 jaar lank onderwyser in Afrikaans en Engels in skole regoor die land.

Van sy gedigte is in Nuwe Stemme 2 opgeneem. Hy skryf gereeld vir Rapport se boekeblad.

 

Sy debuurbundel, Oewerbestaan, het verlede jaar by Protea Boekhuis verskyn.

 

Melt, ten eerste veels geluk met ʼn uiters indrukwekkende program. Met die eerste deurkyk wil dit voorkom asof dié program meer omvangryk is en selfs nog meer verskeidenheid bied as wat dit in die verlede was. Is dit so?

Baie dankie, Louis. Die program is inderdaad omvangryker as verlede jaar omdat soveel nuwe uitgewers en belangegroepe met aanbiedings aangesluit het by die Woordfees. Om eerlik te wees, ons wou ʼn kleiner formaat aan feesgangers bied, maar die energie wat die Woordfees oor die afgelope paar jaar laat versnel het, is duidelik nog nie uitgewoed nie.

Hierdie is reeds die tweede Woordfees-program waarby jy betrokke is as Woordkunsprojekbestuurder. In welke mate voldoen vanjaar se fees aan die persoonlike doelwitte wat jy daarvoor in die vooruitsig gestel het?

Woordwerkers: Dorothea van Zyl & Melt Myburgh

Woordwerkers: Dorothea van Zyl & Melt Myburgh

My persoonlike doelwitte stem ooreen met die Woordfees sʼn; juis daarom bly my werk my passie. Ons streef daarna om ʼn platform vir woordkunstenaars te skep sodat die breë publiek kennis kan neem van hul werk en dit geniet. Vir my is dit belangrik dat skrywers en kunstenaars op ʼn fees soos hierdie geakkommodeer word met die respek wat hulle verdien. Daarom lê veral die profielaanbiedings, waar skrywers gehuldig word vir hul bydraes tot ons letterkunde, my na aan die hart.

Melt, ons fokus is uiteraard die teenwoordigheid van digkuns op die program. In dié opsig is daar die spesiale verering van TT Cloete wat vanjaar nie net 86 word nie, maar ons ook met ʼn magtige bundel, Onversadig, verras. Vertel ons ietsie meer oor dié spesifieke item wat op 9 Maart om 19:00 in die Sasol Kunsmuseum plaasvind?

TT Cloete

TT Cloete

Ons is baie gelukkig om vir TT Cloete in hierdie senior lewensjaar van hom vir die eerste keer by die Woordfees te ontvang. By die profielaanbieding lewer Joan Hambidge ʼn oorsig oor Cloete se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Heilna du Plooy praat oor Cloete as mens. André Strijdom het pragtige toonsettings van Cloete se verse gemaak en die sopraan Elizabeth Frandsen sal hiervan sing by die geleentheid. En natuurlik lewer Cloete ʼn wederwoord.

Vir my was dit tot dusver ʼn inspirerende ervaring om met Cloete te skakel om alles gereël te kry.

Nog ʼn besonderse item is die gesprek wat die twee Marais’s, Danie en Loftus, tydens ʼn noenmaal op 8 Maart by De Vette Mossel gaan voer oor die indringende vraag “Hoe vry is die vrye vers?” Wat vermoed jy kan ons van dié gesprek te wagte wees?

Danie en Loftus het ingestem om vanjaar se LitNet-skryfskool, wat moontlik gemaak word deur Sanlam, aan te bied. Tussen die skryfskool-sessies word daar by De Vette Mossel oor middagete gesprek gevoer oor die onderwerp “Hoe vry is die vrye vers?” Ek vermoed dit gaan ʼn baie interessante gesprek wees. Die kwessie van die praatvers, waaroor daar gereeld hier op Versindaba rede gevoer word, sal sekerlik aangeroer word.

Hopelik stik voorstanders van tradisionele vormvaste konstruksies darem nie in die heerlike seekosgeregte wat De Vette Mossel voorsit nie.

Joke van Leewen

Joke van Leewen

ʼn Groot verrassing op die program vanjaar, is die teenwoordigheid van Antwerpen se voormalige stadsdigter, Joke van Leeuwen. Waarom het julle juis op haar besluit en hoe moeilik (of maklik) was die onderhandelinge om haar in te voer Stellenbosch toe vir dié geleentheid?

Die Woordfees is baie bevoorreg om ʼn vennootskap te hê met organisasies wat skrywers uit die Lae Lande sekondeer vir optrede tydens die fees in Stellenbosch. Danksy die ondersteuning van die Nederlandse Taalunie, bemiddel deur die Kaapse Forum, kan ons vir Joke, ʼn uitstekende voordragkunstenaar, akkommodeer in die volgende program-items: Poësie: vyf van die beste op 10 Maart om 19:00 in die Sasol Kunsmuseum, Soete Groete op 11 Maart om 19:00 in die Bilton Wynlandgoed en by die Neerlandistiekdag op 12 Maart vanaf 09:00 tot 14:00 in die Lettere-gebou se Lokaal 693. 

Dorothea van Zyl het al ʼn optrede van Joke in Nederland meegemaak, en was baie beïndruk met haar. Die korrespondensie tussen die Woordfeeskantoor en Joke was tot dusver joviaal: in terme van toeganklikheid en professionaliteit is sy ʼn engel.

Wat ons die afgelope tyd opval, is dat Nederlandse skrywers ons al hoe meer kontak en aandui dat hulle graag by die Woordfees sou wou optree.

Soos altyd bied die Woordfees ook heelwat vir die jonger, meer avontuurlustige poësieliefhebber. Watter items het julle juis met hierdie oogmerk by die program ingesluit?

Dit is altyd heerlik om debuutdigters by die Woordfees te akkommodeer. Vanjaar bring NB-Uitgewers vir Martina Klopper (Nadoodse ondersoek) en Andries Samuel (wanpraktyk). Hulle tree op 8 Maart om 18:00 in die Erfurthuis in gesprek met Joan Hambidge.

Oopmonddigters

Oopmond, onder leiding van Ronel Nel, is ook weer op die program. Dié gewilde aanbieding het verlede jaar sy Woordfeesdebuut gemaak. Ek dink die name wat deelnemende digters toe-eien, sê alles oor die gewildheid van dié tradisionele geveg tussen vers-makers: D.J. Stotterman (Andries Bezuidenhout), Breyten Lykverdag, (Niel van Deventer), Joe Moer! (Jo Prins), Ingrid Dronker (Ronel Nel) en NP van Lykskou (Danie Marais). Hulle is op 10 Maart te sien in die nuwe Dorpstraat Teater net buite Stellenbosch.

Die Adam Tas Studentevereniging sorg vir ʼn heerlike opskop by Aan de Braak Teater op 11 Maart om 20:15 met Drink, dig, kuier! Hulle maak spesifiek voorsiening vir studentedigters. En soos jy weet, Louis, is hier baie talent onder die Maties. En kuier kán die spulletjie!

En natuurlik is daar ook heelwat items vir die meer besadigdes onder ons; soos byvoorbeeld Skemerverse (13 Maart, Botaniese Tuin, 18:00) waarmee die fees tradisioneel afsluit. Watter soortgelyke items is daar om na uit te sien?

Gert Vlok Nel

Gert Vlok Nel

Skemerverse, wat vanjaar spog met digters soos Gert Vlok Nel, Ronel Nel, Andries Bezuidenhout, Robert Bolton, Johan Myburg, Jo Prins en Ronelda Kamfer, verkoop gewoonlik vroeg-vroeg uit.

Ek is baie opgewonde oor Engelse digters wat onder Leon de Kock se vlerk saamtrek. Hulle word ondersteun deur ProQuest, ʼn maatskappy wat digitale inligtingstelsels verskaf aan opvoedkundige instellings. Op 11 Maart om 17:00 lees Finuala Dowling, Sindiwe Magona, Ari Sitas, Marí Peté en Karin Schimke saam met Leon uit hul werk voor in die Boektent. Die Woordfees verwelkom digters en skrywers in tale waarmee Afrikaans ʼn historiese en geografiese verwantskap deel.

Een van die hoogtepunte op die poësieprogram is Poësie: vyf van die beste op 10 Maart in die Sasol Kunsmuseum. Hier word feesgangers getrakteer op verskuns uit die boonste rakke met T.T. Cloete, Petra Müller, Lina Spies, Danie Marais en Joke van Leeuwen.

Op die NB-program kan ons luister na Mari Grobler oor haar nuwe bundel, Toe dit nog vroeg was (8 Maart om 11:00) en Joan Hambidge oor Visums by verstek (10 Maart om 14:00). Tom Gouws en Marthinus Beukes voer op 12 Maart daar in jou en Marlise se Protea-boekwinkel die woord oor Gouws se Ligloop.

Liefhebbers van die klassieke vers-kuns kan op 12 Maart gaan luister na die US Departement Antieke Studie se aanbieding van ʼn dramatiese voorlesing uit die werk van die Romeinse liefdesdigter Catullus. Ek haat en ek het lief beloof om iets besonders te wees.

Ek is baie bly dat ons die bekendstelling van Adinda Vermaak en Pieter Strauss se Rymreise kan akkommodeer. Dié bloemlesing vir laerskoolleerders word deur Nasou Via Afrika bekend gestel tydens ʼn pragtige geleentheid in die US Kunsgalery op Vrydag 11 Maart om 19:00. Alida Bothma se illustrasies, wat in die bundel opgeneem is, word ook daar uitgestal.

Die ATKV se multimedia-tentoonstelling Skilder met woorde II, waarin gedigte met skilderye en ʼn klankbaan vermeng word, is ʼn ervaring wat nie misgeloop moet word nie. Sewe digters se werk is hierin opgeneem en die tentoonstelling is van 4 tot 13 Maart te sien in die Sasol Kunsmuseum.

Melt, persoonlik vind ek die items wat by die kategorie “Woordmusiek” aangetref word, besonder opwindend; veral omrede so baie van hierdie musiekitems in kombinasie met toonsettings van gedigte en/of voorlesing geskied. Watter van hierdie sou jy as moontlike hoogtepunte uitsonder?

Petra Müller

Petra Müller

Om iets uit te sonder is mos soos om ʼn oupa te dwing om tussen sy kleinkinders te kies. Ek dink egter Boegoe vannie liefde, Witlig en Vergesigte Vermeerder in Vers en Fuga is bo-aan my lysie. Die poësie van Hans du Plessis, Petra Müller en Tom Gouws word in dié pragproduksies omtower tot multimedia-ontploffings van woord, beeld en klank.

Ten slotte - ek vermoed dat daar met die saamstel van so ʼn omvattende program altyd items is wat vir watter rede ook al, nie geakkommodeer kan word nie. Items wat jy besonder graag sou wou betrek, maar helaas nie kon nie. Is ek verkeerd hierin of is daar inderdaad items buite rekening gelaat waaroor jy spyt is?

Ja, daar is items wat nie op die fees geakkommodeer kon word nie omdat daar eenvoudig nie plek op ʼn omvattende program is nie. Of soms is kunstenaars nie beskikbaar nie. Ek mis byvoorbeeld die ASV se bydraes vanjaar. Dit breek altyd mens se hart as iemand weggewys moet word. Maar daar is altyd ander geleenthede waar mens weer kan inhaal, soos met Versindaba later vanjaar.

Baie dankie vir hierdie gesprek, Melt. Mag vanjaar se fees vir jou nie net ʼn kroonfees wees nie, maar ook ʼn persoonlike vreugde.

Baie dankie, Louis; ek hoop woordliefhebbers geniet die fees net soveel soos verlede jaar. By wyse van toegif volg Zandra Bezuidenhout se feesgedig, “Elwe & Selwe“ hieronder.

 

Elwe & Selwe

 

Op hierdie Woordfees gaan ons delwe

na die vele elwe en die selwe.

Deur woorde, kuns en die musiek

lig ons die sluiers oor geheime,

en reis ons met die oog en oor

langs al die wonderlike weë

wat die sinne en die hart bekoor.

 

Eintlik is ons almal elwe,

elkeen anders, elk uniek,

party met een, party met baie selwe.

Die Woordfees wil die pad plavei

vir jou en my om saam te dans

langs duisend kronkels van genot,

waar elf en self, vermom as kunstenaars,

kom goël en smokkel met die kop.

 

Elke asem, elke elf en self,

kan deelhê aan die spel van twintig-elf.

Die taal se pyl en boog, so word vertel,

is droom en fantasie se metgesel.

Maak dus jou koker vol;

kom jag die storie-bokkies sonder tal.

Ja, ‘n fees wat op die spoor van woorde loop

maak die poorte na ‘n sprokieswêreld oop!

 

(c) Zandra Bezuidenhout

 

 

Oortjies net-net bo die water

Tuesday, March 16th, 2010

 

Na die afgelope Woordfees begin ek so stadigaan weer my kop bo water lig – my oortjies steek net-net uit.

 

Louis en Marlise het seker al moed opgegee met my omdat ek die afgelope twee maande so stil was. Ek is jammer daaroor, liewe webmeester en webmeesteres.

 

Ons is besig om die laaste punte vas te knoop na ʼn heerlike Woordfees waarin ons ʼn rekord aantal kaartjies verkoop het. Ons is ook baie dankbaar oor die bywoningsyfer van 70,72%. Verlede jaar, tydens die elfde US Woordfees, wat toe die grootste was in die elf jaar van die fees se bestaan, was dit net onder 70%.

 

Sonder ons skrywers en digters sou die fees natuurlik nie kon wees nie. Baie van die digters wat aktief is op hierdie webwerf, het opgetree by die Woordfees. Aan gesprekke en lieflike poësie was daar dus nie ʼn tekort nie.

 

Ek deel graag ʼn paar foto’s van digters wat gaste was by Skemerverse op die laaste (Sondag-)aand van die Woordfees.

 

Annie Klopper, van wie se verse in Tafelberg se Nuwe Stemme 4 opgeneem is, het die foto’s geneem.

 

 

 

Abel Kraamsaal het gesorg vir die musiek tussen digters se voorlesings. Sy jongste CD, Die afstand tussen tyd, is onlangs uitgereik na ʼn musikale stilte van drie jaar.

 

 

Danie Marais was skitterend, soos altyd. ʼn Lekker verrassing was toe hy vir Rustum Kozain as gas daar aanbring. Ek en Danie kon darem vinnig-vinnig nuus uitruil tydens ʼn kort verposing in die Trumpet Tree se rookkamer.

 

 

 

Twee jongmanne aan wie se lippe Skemerverse se gehoor gehang het, was Jasper van Zyl en Loftus Marais. Loftus het, soos almal weet, nou omtrent al elke literêre prys met sy uitstekende debuutbundel, Staan in die algemeen nader aan vensters, ontvang. Ons sien uit na Jasper se debuut wat later vanjaar verskyn.

 

 

Louis Esterhuizen en Marlise Joubert is altyd ʼn wenkombinasie by ʼn geleentheid soos Skemerverse. Die ontstemmende rustigheid en liefde wat straal uit hul aanbiedings bevredig ʼn kritiese gehoor. Oor Louis se Wat die water onthou heers daar groot opgewondenheid.

 

 

Diana Ferrus was haar formidabele self. Ek het agterna tot om middernag saam met haar gekuier. Ons verstaan mekaar. Diana, ek hoop jou bril en skoene wat jy vergeet het, het jou bereik daar waar ek dit by UWK laat aflewer het.

 

Volgende jaar maak ons weer so.

Oopmond in beeld en Facebook

Monday, March 15th, 2010

Johannes Prins het ‘n paar foto’s geneem, sommer so op die verhoog, tydens Oopmond by die Woordfees.

Jo Prins

Ronel Nel praat strategie. Foto: Jo Prins

Hier bo sit ek (DJ Stotterman) saam met Ronel Nel (Ingrid Dronker). Vroeg reeds word strategie bespreek en logistiek beplan, veral verversings, waarsonder die kreatiewe proses nie kan vloei nie.

Jo Prins

Danie Marais en John-Henry Opperman van Klopjag. Foto: Jo Prins

Danie Marais (NP van Lykskou) praat oor musiek saam met John-Henry Opperman van Klopjag.

Jo Prins

Niel van Deventer. Foto: Jo Prins

Hier lees Niel van Deventer (Breyten Lykverdag) van sy nuutskeppinge voor.

Jo Prins

Ingrid Dronker. Foto: Jo Prins

Laastens, Ingrid Dronker lees ’n gedig voor. Rock ‘n roll!

Nou het Oopmond ‘n gat op Facebook ook. Gaan sluit gerus aan, blaai deur die foto’s, lewer kommentaar.

Iets oor Woordfees

Thursday, March 4th, 2010

Dit is snikwarm op Stellenbosch, en die Woordfees is aan die woel in die strate en lokale rondom die gebou waar ek my daaglikse brood verdien.

Dit is eintlik die eerste keer dat ek die fees volwaardig bywoon. Gedurende die eerste klompie jare van die fees se bestaan het ek in die Oos-Kaap gewoon, en later het ek gewoonlik hierdie tyd van die jaar by my geliefde gaan kuier in Grahamstad. Intussen het sy haar tent kom opslaan hier by my in die Boland, so daar is geen verskoning nie: ek moet my gewoon oorgee aan die literatuuraanslag! Dit was veral lekker om twee medebloggers in die strate raak te loop: Andries Bezuidenhout en Bernard Odendaal. (En ook Melt Myburgh, maar hom, synde ook ‘n Stellenbosser, loop ek in elk geval altyd in die strate raak.)

Ongelukkig kan ek nie net rondloop en digters groet nie. Ek moet werk ook! Vrydag doen ek twee onderhoude, en Saterdag nog een. Eerste aan die woord (Vrydag 13h00) is Riana Scheepers. Ek gesels in die Erfurthuis met haar oor haar ryk en verleidelike bundel kortverhale, Katvoet. Net daarna (Vrydag 14h00, ook in die Erfurthuis) gesels ek met drie ander kortverhaalskrywers oor hulle nuwe bundels: Willemien Brummer (Die dag toe ek my hare losgemaak het), Helena Gunter (Op ‘n plaas in Afrika) en Welma Odendaal (Landskap met diere). Dit was vier heerlike boeke om te lees, en die twee debutante (Brummer en Gunter) laat ‘n mens opgewonde voel oor die toekoms van die Afrikaanse kortverhaal.

Die kortverhaal is natuurlik vir baie lank al ‘n besondere sterk genre in die Afrikaanse letterkunde (Aucamp, De Vries, Prinsloo en ander): gedurende die 1980s was dit dalk selfs die toonaangewende genre, die ruimte waar die Angolese oorlog, die politiek, seksualiteit en ander temas by uitstek deurgetrap is. En tog bly die kortverhaal, hier sowel as internasionaal, so ‘n bietjie van ‘n letterkundige stiefkind. Wanneer dit kom by toekennings vir prosa, is dit die roman wat nege uit tien keer bekroon word. Het ‘n kortverhaalbundel al die Hertzogprys gewen? Aucamp het die Hertzog vir sy hele oeuvre gekry (in 1980 of 1981 dink ek), nie vir ‘n individuele bundel nie. De Vries het, sover ek kan onthou, nog nie die Hertzogprys of enige van die ander belangrike letterkundige pryse verower nie. (Of maak ek ‘n fout? Indien nie is dit ‘n skande: sy kortverhale tel onder die beste goed wat nog in die Afrikaanse letterkunde gemaak is.)

Ten slotte, Saterdagmiddag om 14h00 praat ek in Protea Boekwinkel met Bettina Wyngaard oor haar debuutroman, Troos vir die Gebrokenes. Dit is ‘n treffende roman wat kwessies soos armoede, alkoholmisbruik en gesinsgeweld tromp-op loop en met deernis beskryf. As jy in omtes is, kom luister en koop Bettina se mooi boek!

Woordfees en poësie

Monday, March 1st, 2010
Woordfees

Woordfees

Tussen die Woordfees en poësie het daar reeds sedert sy ontstaan in 1999 ‘n besonderse band bestaan en vanjaar se fees, wat vandag begin, is geen uitsondering nie. Die digkuns word gewis sterk verteenwoordig in vele vorme. Op sy blog het Melt Myburgh, Woordkuns-projekbestuurder by Woordfees, te kenne gegee dat hy van tyd tot tyd lusmakers gaan plaas vir die poësie-komponent van die fees. Maar, helaas, lyk my dinge verloop maar ietwat dol daar by sy kant van die draad.

Ek help hom dus graag in hierdie enorme taak deur jou aandag op die mees vername poësie-items te plaas deur hulle vir jou gerief onder aan vanoggend se Nuuswekker vir jou te lys. Maak seker dat jy nie dié besonderse geleenthede misloop nie. Hulle is in volgorde van dag-tot-dag ingedeel.

Die volledige program kan hier bekyk word. Ook het ek skakels by bepaalde items na toepaslike inhoud op die webblad aangebing.

 ***

Vanoggend wemel die webblad weer met nuwe inhoud. So is De Contrabas se Nuusbrief vir Februarie geplaas, terwyl Chris Coolsma sy toetrede tot Wisselkaarten maak. Aan die blogkant van sake is nuwe inskrywings geplaas deur Philip de Vos en Johann Lodewyk Marais, met nie minder nie as dríé nuwe inskrywings by die Nuwe Stemme-blog, te wete: Lize Viljoen, Lewies Botha en Jannie Malan. Ten slotte vestig ek jou aandag op nuwe gedigte wat van Zandra Bezuidenhout en Joan Hambidge ontvang is en in hul gedigtekamers geplaas is.

Lekker lees aan alles en mag dié week vir jou ‘n feestelike een wees …

Mooi bly.

LE

 

Klanktitels

Met Jan-Hendrik Harley (altviool), Brydon Bolton (kontrabas), John Pringle (perkussie) en Pierre-Henri Wicomb (klavier). Gedigte deur o.a. Willem Anker en Rob Bolton

In hierdie projek, spesiaal vir die Woordfees aangepak, word musiek op onkonvensionele wyse gekombineer met teks om aanknopingspunte tussen verskillende media te vind. Ejncp, oftewel Ensemble je nes comprends pas, is een van die weinige Nuwe Musiek-ensembles in die land. Die lede daarvan is almal komponiste in eie reg.

1 Maart 17:30 ● Fismer-saal ● 55min ● R65

 

Drieluik

Marion de Vos en Floris Brown lees verse voor uit hul publikasie Drieluik, waarin foto’s van Hilde Vaatstra opgeneem is. Nederlands en Afrikaans word verknoop rondom temas soos verbondenheid met die natuur, die kosmos, die liefde en ʼn soeke na spirituele wysheid.

2 Maart 14:00 ● Erfurthuis ● 60min ● Gratis

(more…)