Posts Tagged ‘Zandra Bezuidenhout gedigte’

Zandra Bezuidenhout. Luister, Dokter

Wednesday, May 29th, 2019

LUISTER, DOKTER

 

Geagte dr. K.

 

Ek vertrou my liggaam aan jou toe.

Met moeite laat ek my skaamte in jou hande.

Luister asseblief en kyk my in die oë.

Begryp tog, of probeer

lyk of jy die skete, kwale en kommer

van ʼn sterfling ter harte neem.

Let goed op my woorde,

want ek formuleer versigtig

en my verhaal is gelardeer met feite, leidrade,

logies gerangskik en bondig geartikuleer

alles om jou diagnose te vergemaklik.

Jou gesig verrek geen spier nie, jou oë bly koel,

jy swyg terwyl jy sporadies notas maak.

Seker alles ou nuus vir jou

en dus vervelig en vermoeiend, gee ek toe.

Word wakker, dokter, maak oop jou mond

en sê “aah”,

antwoord my, brei uit en lewer kommentaar

al is dit met ʼn knik of pseudo-glimlag,

of lig jou wenkbrou net ʼn aks.

Dis nie opgeklitse stories nie, dokter,

nie een van ons het tyd vir twak nie.

En moenie dinge fabriseer om my te sus nie.

Is al die toetse, skanderings en verwysings

werklik nodig, of verryk jy jou kollegas?

Probeer ook my flou grappies snap

oor die absurditeit van die ontbloting,

maar jy sit sedig soos ʼn sfinks

in ʼn draaistoel voor jou imposante lessenaar

terwyl my organe roep en rebelleer.

Is dit ernstig, wil ek weet. Praat maar.

Ek betaal jou duur vir hierdie uur.

 

My liewe dokter K.,

gun my hierdie knippie gif:

“Ek dink jy is ʼn kwak!”

Gelate soos ʼn lam ter slagting

vereffen ek die rekening.

 

 

© Zandra Bezuidenhout / Aangepas 18 Mei 2018.

Zandra Bezuidenhout. Aan die Groot Maroela

Friday, July 31st, 2015

Aan die Groot Maroela

 

In die taal se kweekhuis

laat val die muse

ʼn handvol woordsaad

oor die akkers van versemakers.

Wildgroei word getem

steggies geënt tot peul en blom

mekaar herken as werpsels

van dieselfde stam.

 

Ter afskeid dus: ʼn groenerige vers

vir die Groot Maroela

gewortel in die Vredefortse koepel

met takke wat oorvloedig dra

uit heilige nuuskierigheid

met die aarde praat

om in ʼn liefdesidiolek

al skrywende te ontdek

die ander een is ek.

 

 

© Zandra Bezuidenhout. 2015.

 

Zandra Bezuidenhout. Verjaardagrym vir ‘n Sestiger op sewentig

Monday, February 9th, 2015

VERJAARDAGRYM VIR ‘N SESTIGER OP SEWENTIG

 

Dié man, hy was ‘n Brink gewees,

besoek die kampus heel bedees.

Dit was die jare sestig toe,

Parys se dinge hier taboe.

So kom die jonge André P.

‘n lesing vir studente gee.

Van eksistensie wis ons niks,

ons kort ‘n skrywer as ‘n gids!

Hoe avant garde, hoe Frans sy flair;

‘n literêre porno-ster!

Ja, op sy wange het die blos geskyn

van ademlose nagte langs die Seine.

Ons hoor hy was waaragtig daar

met al die grotes deurmekaar.

Die klong van Potch noem almal op die naam:

van Robbe-Grillet en Levi Strauss

tot al die skrywende mesdames

met wie hy (miskien nooit) so hartlik was.

Dan lispel hy “Francoise Hardy”,

en bry sy “r” tot donker “g”.

Hy sê hy’t dae omgesit in Deux Magots,

gebras daar oorkant by die Lipp ook glo.

Die man se binnegoed was Frans,

ons kry dit alles eerstehands.

Barnard, Rabie en Leroux

klink skielik mak en taamlik “toe”.

Breyten was nog aan die blom;

sy dag sou laterjare kom.

 

Dié sater-sestiger had reeds statuur

wat lyf gee aan ons literatuur.

Hy kon vertel van jouissance

wat trillings stuur deur Afrikaans.

“Lokaal” en “realisties” was verby:

nou kon mens letterkundig vry;

charmeur, ambassadeur, wat jong studente

verlei met visies van die dekadente.

 

Jare later wil ons by die terugdink

‘n  ietsie op sy invloed skink.

Lig ‘n glas: salut aan hom,

‘n laat-lobola vir ons bruidegom.

Intussen kyk dieselfde Brink, op sewentig,

soos daardie dag

so effe skalks, so skamerig.

Eenmaal het hy in onse taal

‘n orgie aangestig,

as jongeling, dekades terug.

 

(Die gedig het voorheen verskyn in Tydskrif vir Letterkunde. 2005.
Temanommer: Andre P. Brink @ 70. Pretoria: Letterkunde-Vereniging. 213 p.)
© Zandra Bezuidenhout /2015

 

 

Zandra Bezuidenhout. Naweek weg

Thursday, February 13th, 2014

Naweek weg

 

In Gordonsbaai word ek herbore

herdoop in die stil water

van drie laatsomerdae

al drywende in die halfslaap en roes

dromend van ‘n kindertyd

tussen seegras skulp bamboes

kom alles terug

net die lenigheid het ons verlaat

en die verlustiging gekrimp

tot vis en wyn.

 

 

© Zandra Bezuidenhout / 2014



Zandra Bezuidenhout. Pretoria: Retrospektief

Wednesday, October 23rd, 2013

PRETORIA: RETROSPEKTIEF*

 

Die stad is vrot geskryf van ou helde

monumente en ‘n meesterkerkhof

vir ministers en presidente

maar daar was ‘n nabloei

van suave gegradueerdes

kakpraatdiplomate somersaande

op stoepe van privaathotelle

in wit Arcadia en Sunnyside

die ronde geluk die doltyd

van dans by Silverton

veilig in die jare sestig

met die stad op homself verlief

vrot besing van jakarandas

is die stad oor die eeu se rug

‘n omheinde herinnering aan vryheid

vrot geskryf van misdaad

Meintjieskop laat sak sy hoof

die krot staan op die drumpel

van ‘n nuwe bloeityd

fok die Voortrekkers

alles was net ‘n boeregrap

Waterkloof en Groenkloof

poep teen donderweer

smiddags om vier

plof buie nog klokslag

soos koeëls in die stof

gister se haelwit gestapelde wolke

trek uit teen die bloute

van ons hoëveldse hemel

terwyl rook nog

uit die lokasies rook

spook digters langs die Apies

met die krale van Tshwane

duiwe aas op Kerkplein

en skyt dit uit

oor oom Paul se droewe kop.

 

© Zandra Bezuidenhout / 2013

 

*Met erkenning aan Guillotine Winter 2013, Uitgawe 2 (Pretoria), waarin die gedig oorspronklik verskyn het.

Zandra Bezuidenhout. Wasprogram

Friday, July 26th, 2013

Wasprogram

 

Deur die klus van buk en hang

word balies op ʼn Maandag

van hul lot verlos.

 

Nougeset gelaai, gevoer,

was en spoel en wentel

die outomaat.

 

Ná die siklus pen ʼn vrou

haar stripverhale aan die draad.

Aanlyn word bra en broek en kous

 

lyfloos getuie van haar kruis.

Bo- en onderkleding vind hul weg

na suiwering in son en wind.

 

Sy wou nog sê hoe soggens

in die agtertuin dit taks gebeur dat voëls

hul fluite in haar mond kom lê.

 

© Zandra Bezuidenhout / 2013