Waarskynlik is daar nie ’n leser van ’n gedig wat nie ook ’n skrywer van gedigte is nie. En hiermee bedoel ek nie nét die herkonstruering van die vers volgens die kodes daarin vervat wanneer jy ’n vers lees of hoor nie; ek bedoel dit eintlik heel letterlik – dat bykans alle poësieliefhebbers in die stilligheid plesier het daaraan om hul eie verse te maak. (Kyk byvoorbeeld net na die duisende verse wat op webtuistes soos LitNet http://www.litnet.co.za/, Woes http://woes.co.za/ en vele ander geplaas word … )
Daarom bestaan daar na my mening ‘n enorme behoefte aan ’n praktiese handleiding vir die maak van gedigte. Die beste boek oor dié onderwerp in Afrikaans (en waarskynlik die enigste?), is A.P. Grové se Woord en Wonder – Inleidende studie oor die tegniek van die poësie (Nasou Bpk., 1973). Ongelukkig is hierdie boek dekades reeds uit druk en haas onverkrygbaar.
Nietemin, dit is met groot opgewondenheid dat ek The intimate art of writing poetry deur Ottone M. Riccio – wat na vele jare weer in die handel beskikbaar is – onder oë kon neem, want hier het ons uiteindelik weer te make met ’n standaardhandleiding wat vir die aspirant-digter (en selfs gevestigdes) van groot waarde kan wees. Afgesien van die praktiese riglyne ten opsigte van die verskillende soorte verse, struktuur, stem, en vele ander verstegniese elemente, bevat dit ook ’n paar besonder oortuigende argumente rondom die kwessie van poësie en haar plek binne die groter konteks van die letterkunde.
Ter illustrasie, die motto voor in die boek: “A poet must love tradition; otherwise he will not love poetry. He must love language and be tender and reverent with it, as well as bold; or he will never have mastery of its secrets.” (Gilbert Murray – Aangehaal uit: The classical tradition in poetry, Vintage Books, 1957.) In sy inleiding tot die boek sluit Stephen Minot netjies hierby aan met die volgende kommentaar: “Mr. Riccio reminds us that we cannot be fresh and inventive until we have familiarized ourselves with the best of what has been done in the past. As he puts it, “In art nothing dies.” … What we think of as a “new” approach – free verse, for example – often has its roots in poetry that was wrtten more than two thousand years ago. A good poet sees this heritage not as a burden but as a continually unfolding source.” (p.xi)
Dit is die aanslag wat regdeur hierdie omvattende handleiding gehandhaaf word; iets wat ons juis nóú ten tye van die tegniese verbreding van ons digkuns deur die toetrede van soveel nuwe, opwindende stemme wel deeglik in gedagte sal moet hou. (Nota: Gaan lees gerus ook Joan Hambidge se flapteks oor ’n verwante publikasie wat by “Artikels & Lesings” geplaas is.)
Inderdaad, hierdie is ’n onontbeerlike boek vir die digter wie se ambag vir hom of haar ’n saak van erns is.
Die boekbesonderhede is soos volg:
TITEL: The intimate art of writing poetry
OUTEUR: Ottone M. Riccio (met ’n inleiding deur Stephen Minot)
UITGEWER: Authors Guild Backinprint.com
VERSPREIDER: Oorsese publikasie met geen plaaslike verspreider nie.
ISBN: 0 595 09380 9
PRYS: R375.00