Gisteraand was ek lus vir tradisionele kos. Ek maak toe rooiboksosaties (my skoonsuster Karla het die bok geskiet), gebakte ertappels en boontjies. Die belangrikste deel was die boontjies. Ek hou daarvan as dit op die ou manier gaargemaak word, met gebraaide uie en ertappel wat jy kook tot alles grys is en dan maal jy dit fyn met ʼn vurk. Voeg baie witpeper by. ʼn Mens kan ook ʼn paar blokkies skaapvleis of repies spek insit vir geur en tekstuur, maar Irma is vegetaries, so dis buite die kwessie. (Vir haar het ek een van daardie vegetariese schnitzels gemaak wat jy in pakkies kry – afskeepkos vir my arme vrou).
Die gekook het my een belangrike les geleer: Moet nooit tradisionele boontjies in bier in pleks van water kook nie. Die nasmaak is afgryslik.
Dis seker oor die walglike boontjies dat ek toe later na iets moois soek. Ek blaai deur ʼn artikel oor Marlene Dumas se skilderwerk. Ek hou baie van haar werk. Haar skilderye het beweging, dis intens, dit trek jou in en korrupteer jou kop. Sy is ʼn ongeduldige skilder en meng haar olieverf met groot hoeveelhede roulynolie, sodat die effek amper soos waterverf is. Sy sê in die onderhoud dat sy eerder wil afvee as opbou wanneer sy verf.
As jy foute met olieverf maak, moet ʼn mens maar wag tot die doek droog word en dan verf jy bo-oor. Dis wat sy met “opbou” bedoel. (Onder my portret van Ronelda Kamfer is baie ander gesigte van mense wat nog minder soos sy lyk as die weergawe wat nou na jou kyk.)
Marlene Dumas is egter te ongeduldig om te wag dat die olieverf droog word. Daarom verdun sy dit en werk vinnig. Soms gooi sy die kwasse eenkant en smeer sommer met haar hande. Sy wil vuil word, sê sy. In die onderhoud noem sy ʼn museum vir higiëne iewers in Duitsland, wat sy met fascisme assosieer.
Sy noem ook in die onderhoud dat sy soms dele van die doek oop los, sodat die skilderye kan asemhaal.
Hierdie onderhoud en die resensies van Danie Marais se digbundel het my aan die dink gesit oor skilderkuns en digkuns. Ek wonder hoe dit is om jou woorde met baie roulynolie te meng, dit dun aan te wend en om eerder af te vee as om dik lae betekenis op te bou. Soms voel ek ook om nie my sinne se gate met digte beelde toe te stop nie, sodat die gedigte kan asemhaal.
Danie stuur ʼn interessante uittreksel uit ʼn boek van Giorgio Agamben, waarin hy sê dat enjambement die enigste werklike verskil tussen prosa en poësie is. Hy wys daarop dat die Latynse woord versura, waar ons woord “vers” vandaan kom, verwys na die plek of die oomblik aan die einde van ʼn voor wanneer die ploeg omgedraai word.
Maar dis net ware kunstenaars wat in gewone spreektaal, gestroop van alle pretensie, betekenis uit landerye kan ploeg en die ploeg dan weer op elegante wyse omdraai aan die einde van ʼn strofe. Ek dink dis juis moeiliker om af te vee in plaas van opbou – om te verdun eerder as om te verdig. Ek dink Danie kry dit reg en dit lyk asof die resensente ook so dink, al hou hulle nie altyd van hoe hy ploeg nie. Ek dink Danie het iets beet – iets van ons tydsgees. Ek dink dit gaan dalk oor ʼn oomblik ná postmodernisme. Mense soek weer na die outentieke. Ons sien dit in musiek, met die terugkeer na rootsmusiek en sogenaamde Americana. Op ʼn manier is Nijhoff se fluit dalk vir ʼn Hawaiiese kitaar by ‘n swop shop ingeruil, of ʼn bekfluitjie om ʼn kampvuur.
ʼn Mens sou seker op ʼn ander manier na Marlene Dumas se skildertegniek en digkuns kon kyk. Sy doen dinge met olieverf wat mense nie gedink het in die medium moontlik is nie. Dalk is dit wat digkuns met taal moet doen, soos die ander Marlene – Marlene van Niekerk. Om dit op maniere aan te wend wat mense nie gedink het moontlik is nie. ʼn Mens sou dele van Agaat ewe goed in versvorm kon aanbied en dit sou oortuigende poësie wees.
As leerlingdigter is hierdie dinge vir my ontsaglik intimiderend. Ek weet nie of ek genoeg beheer oor my osse het om betekenis uit gewone spreektaal te kan ploeg nie. Ek weet ook nie of ek die taal goed genoeg ken en beheers om grense met woorde te verskuif nie.
Op die oomblik meng ek maar die rym en metrum en plak, plak, plak.
_______________________________________________
Kyk na prente van Marlene Dumas se skilderye in die Saatchi galery.Sulke prente is onvolmaak, want jy kan nie die tekstuur van die verf sien nie. Marlene Dumas praat ook daaroor in die onderhoud wat ek gelees het.
Deborah Steinmair,Bernard Odendaal, H.J. Pieterse, Ampie Coetzee en Marius Crous se resensies van “Al is die maan ʼn misverstand”.