Babu Lefti. Van gedigte gepraat

Babu Lefti is in 1950 gebore in Woodstock, Kaapstad. Hy is van Libanese oorsprong en het ‘n bietjie universiteitsopleiding aan die UWK gehad van 1968 tot 1970. In 1975 verlaat hy Suid-Afrika en skryf hom in vir verdere studies in Sosiologie aan die Vrije Universiteit, Amsterdam (1977 – 1980). Hy werk vir ‘n paar jaar op ‘n Spaanse vistreiler. Babu is ‘n reisiger en vertaler. (-Red.)

 

 

 

“Every morning heaven and earth

are piled with dead things.

Our job is to bury them all day long

 

and establish a new world”

– Ko Un, “Destruction of Life”

 

“I will love all dying things

And I must step the path

That’s been given to me.”

– Yoon Dong-joo (1917-1945)

 

 1.

Dis waar ek wil begin.

 

Die twee aanhalings hier bo is uit die werk van Koreaanse digters. Ek weet nie of hulle mekaar geken het nie, maar die ooreenkoms in denkbeelde en lewenshouding is treffend. Miskien het dit te doen met ‘n Boeddhistiese uitkyk – die sikliese aard van die wiel van ons lewens (is dit waarna Joan Hambidge se Vuurwiel verwys?), dat alles tot niet gaan en niks standhoudend is nie, dat ons dit weet en tog aanhou lewe, dat dit ʼn bevryding is om belangeloos deel te wees van die groei en taan en verval van alles om en in jou wanneer die ek alleen ʼn deurlopendheid is, die relatiewe observasiepunt of –knoop waar indrukke en ervarings en selfs oortuigings deur loop. (En soms in die hek kak.)

 

Hoekom dan gedigte skrywe? Daar is ʼn uitbundigheid wat saamgaan met die sigbaarmaak van gewaarwordingsprosesses. Die voël sing waarskynlik omdat daar van iets in die keel ontslae geraak moet word sodat hy verder kan sing. (Opvallend dat dit meestal die hy is wat kweel: die vaal nagtegaal kwiebel vir ʼn vale om die verbykomende wyfies te probeer lok na die nessie wat hy gebou het.)

 

Mens skryf ʼn gedig sodat die woorde met mekaar kan praat – oftewel, in gesprek kan tree. In beide van die aanhalings is dit duidelik dat die digters in ʼn aktiewe wisselwerking met die omgewing en die materie is. Ek onthou ek het eenkeer gedroom dat as ek sou ophou asemhaal die wêreld sou ophou bestaan; ek het vervaard wakker geskrik en die luike oopgegooi om die wêreld met diep teue te red.

 

Yoon Dong-joo was ʼn romantiese figuur. Hy is gebore en getoë in die noorde van Mantsjoerye, of Gando, toe die Japanners Korea beset het. Hy word allerweë beskou as die digter van suiwerheid, jeug en patriotisme. Tydens die oorlogsjare was sy tuisdorp, Yongjeong, ʼn slagveld vir Koreaanse vryheidsvegters teen die Japanse kolonialisme. Yoon het literatuur gestudeer, is later na universiteite in Japan, is daar gearresteer as “ideologiese oortreder” en kry toe twee jaar gevangenisstraf omdat hy sou deelgeneem het aan versetsaktiwiteite. Op die ouderdom van 28 sterf hy in Fukuoka, Japan; sy oorskot is eers later terugbesorg aan sy tuisdorp waar sy graf teen die berghang nou ʼn gewyde plek geword het.

 

Maar hy was ook omstrede. Hoekom het hy ʼn Japanse naam aangeneem om te kon inskryf by die universiteit? Navorsers reken hy is doodgemaak in die tronk tydens mediese eksperimente uitgevoer deur die militêre owerhede.

 

Ek was bevoorreg om vir Ko Un ʼn bietjie te leer ken – alhoewel dit nie maklik is nie want hy praat geen Europese taal nie en kommunikeer altyd deur ʼn dame aan sy sy met ʼn gesig so poeierig wit soos ryspapier. Hy is ʼn formidabele voorleser en hou jou regtig onder die ban van sy dramatiese voordragte. Veral sy gebruik van asemteue en –stiltes is opvallend. Die effek daarvan is dat jy nie sy taal hoef te begryp om meegevoer te raak nie. Die woorde wat hy in die mond neem, en ek meen ook die begrippe, om dan weer vry te laat (na omvorming?), praat met mekaar.

 

Ko Un was baie jare lank die owerste of ab van ʼn Zen klooster. (Mens kan seker praat van die hoofnoof van ʼn tempel.) Ek kan nou nie die storie onthou nie, maar op ʼn dag het hy die monnikkepy uitgetrek en sy hare weer laat groei en deur die land begin swerf. Dit word vertel dat hy ʼn boemelaar geword het en dat hy dikwels saam met ander dronklappe onder brûe geslaap het. Nooit het hy sy vryheid as Zen monnik versaak nie. Elke ontmoeting en ervaring – sy gedigte getuig daarvan – was ʼn herkenning van die diamantkante van verganklikheid, van die vry lewe – want die dood het lankal tweede stem gesing in die koor. Daar is geen goed of kwaad nie, net die totaal etiese belewing van die onmiddellike. Hoe meer intens die teenswoordige hoe groter word die klankruimte van melancholie. Ek wonder of mens dit sou kon vergelyk met Heidegger se Dasein. Hy lewe nou van sy skryfwerk. En hy is ook ʼn politieke aktivis.

 

 

2.

Ek was inderdaad in Doebai, maar beoog om by ʼn later geleentheid meer daaroor te vertel – die onderwerp is te kompleks om dit sommer so af te handel. Dit was nie ʼn aangename ervaring nie. So ʼn vermenging van stoere tradisionalisme en die mees uitspattige materialisme is onsmaaklik. Stamverband is nog allerbelangriks. In die openbaar is daar ʼn streng skeiding tussen die mans, almal eenders aangetrek in hulle lang wit gewade en met vadoeke oor die kop en selfone in die hand, en die vroue in swart rokke en swart kopdoeke. Die machos pronk en maak ogies vir mekaar. Mense ry in enorme lugverkoelde vierwielaangedrewe voertuie. Nou pas is ʼn swanger Libanese dame ʼn stywe boete opgelê omdat sy haar ongebore kind sou vermoor het: in ʼn verkeersknoop het iemand van agter in haar kar vasgery en van skok het sy ʼn miskraam gehad. Die week voor ek daar was, was daar ʼn rel: Margaret Attwood sou kom deelneem aan ʼn skrywerskonferensie en het haar as PEN verteenwoordiger onttrek toe dit duidelik word dat homoseksuele nie welkom is in die Emiraat nie.

 

Alles is oordoen – 600 ligweerkaatsende wolkekrabbers uit die woestyn, soos spieëls vir die hemel, ʼn hoteldorp/oase met 3500 bediendes van 120 verskillende nasionaliteite (insluitende ʼn bruin meisie van Oudtshoorn wat vreeslik huis toe verlang) – en alles is vals. Die gasarbeiders woon myle ver in kampongs. Dis asof mens die verbeelding van Sol Kerzner in al sy banale barbaarsheid ontplooi sien.

 

Op enkele uitsonderings na was die poësie verskriklik. Ek het die toon, die aanslag nog nie uitgewerk nie. Met wie word daar gepraat? Alles klink demagogies. ʼn Vriend van my, ʼn teruggetrokke Duitse intellektueel, het een aand saam met ʼn paar jonger Arabierse digters opgetree. Toe een van hulle langs hom aan die tafel begin skree het hy hom kaduks geskrik. Ek het hom daarna geterg dat die digters begin skree sodra hulle hom in die saal gewaar. Blykbaar is daar subtiele woordspel en ritme-afwisseling te bespeur wanneer jy die taal ken. Maar tematies? Penne waaruit bloed vloei, die beminde hartverskeurend altyd buite bereik, hoe jou hart smelt wanneer jy na die kameel kyk, arende en trane…

 

En daar is die onaangename oorvleueling van poësie en mag. Die Sjeik en twee van sy melkbaard seuns is ook digters, en net so al die senior amptenare – kamele, renperde, trane, sentimentele liefde en dergelike.

 

ʼn Uitsondering (daar was gelukkig ʼn hele paar) was ʼn veraf familielid van my, Joumana Haddad uit Beiroet. Sy is mooi en slim, weet hoe om haar te bemark as ʼn provokatiewe en begeerlike skepping, of soms as feminis, en sy werk in ʼn hele paar tale soos dit ʼn kosmopolitiese Libanees betaam. Gaan kyk gerus na haar webblad, www.joumanahaddad.com .

 

En ek het nog niks vertel oor die dhows en die son soos ʼn stil kreet oor die woestyn nie.

 

 

3.

Nou is ek op pad Turkye toe. Ons boot sal seker binnekort binne trefafstand van die Somaliese ‘seerowers’ kom. Die manne aan boord – Fillipyne, ʼn Bulgaar, twee Grieke – bespreek dit vanaand om die etenstafel in die menasie. Ek het heimlik simpatie met die waaghalse wat, so te sê slegs met ketties bewapen, honderde myle ver in die diepsee reuse-vragskepe oorval en die gesamentlike vlootmagte van die wêreld vir die gek hou. Praat van asimmetriese konfrontasie! Word die rederye en die versekeraars wat astronomiese bedrae betaal as losgeld geknou? Not ʼn tiekie! Daardie geld word wel op ʼn ander manier verhaal; Bennie Belastingbetaler en die uiteindelike verbruiker van die goed wat vervoer word sal moet opdok. En hoe anders moet die staatlose Somaliërs ʼn verdienste probeer maak?

 

Wanneer dit my wagbeurt is voor die radarskerm en ek die vuurvliegies wat in ʼn fosforgroen gloed baai moet dophou, kry ek leeskans. So beland ʼn gedig van Johann de Lange uit sy onlangse bundel toe by my. Dis die naskryf van ʼn palinode uit Van Wyk Louw se Tristia. Die omgang met die ouer werk is knap gedoen. Daar is selfs ʼn ware vonds of twee – die idée dat die digter sy penis (“my vlees”) in die lyk se gorrel wil forseer & fluister (mens hoor al die verstikkende gedempte geluid), en later, met “wat uit my donker (geslag?) in jou donker (dood?) plof, word mens bewus gemaak van die klankdiepte van ‘donker’.

 

Hoekom maak dit my dan kriewelrig? Omdat hierdie fellatio nie net as mondverkragting aangebied word nie (“forseer”) maar ook nekrofielies is. (Mens wil sê ‘nekrovullis’.) Dis orraait. Dis nie die eerste keer dat ʼn lyk genaai word in ʼn gedig of in die lewe nie. Wat my egter teen die bors stuit is die gelykstelling, eintlik die lafhartigheid waar die epigoon wag tot die meester stof is voordat hy familiêr met hom word en aanspraak maak op intimiteit (“Nog een maal wil ek…”).

 

Ek ken nie vir Meneer de Lange nie – sy huiwerigheid soos te lees in ander verse maak hom uit die staanspoor vir my simpatiek – maar ek sou skat hy skiet tekort (en te kort) wanneer hy ʼn eiertjie in Van Wyk Louw se mond wil lê. Meer nog, dis darem maar treurig dat daar nog op dag en datum op hierdie gie-gie manier gepoog word om die bourgeoisie te skok.

 

 

4.

Volgende keer wil ek uitkom by Nazim Hikmet. Dis eintlik waarheen ek op pad is. In my rugsak het ek sy Human Landscapes soos in Engels vertaal deur Randy Blasing en Mutlu Konuk. Dis ʼn boeklengte epos wat hy self as beide poësie en ʼn roman beskryf het, opgedeel in vyf ‘boeke’.

 

Sommer met die intrapslag is ons midde-in die storie. Galip, ʼn meesterwerker, staan aan die bo-end van Haydar Pasja-stasie se trappe, dis die lente van 1941 en dis 3-uur in die middag. Hy neem sy lewe in oorskou, hy het nog altyd vreemde gedagtes gehad, hy bekommer hom dood oor alles. Op bls. 2:

Op een-en-vyftig het hy gedink: “Ek’s oud –

            Ek het ʼn jaar langer as my pa geleef.”

Nou is hy twee-en-vyftig.

Hy is sonder werk.

In sy spore vasgesteek op die trappe

            het hy verlore geraak

                        in die vreemdste gedagte:

“Wanneer sal ek sterwe?

Sal ek ʼn bed hê om in dood te gaan?”

                                                dink hy.

Sy neus is lank en skerp.

Sy wange is vol pokmerke.

 

Dit word ʼn lang reis en ʼn lang storie…

 

Babu Lefti.        

  

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •