’n Bietjie meer as ’n jaar gelede het Danie Marais in Boeke-Insig geskryf dat die verskille tussen gedigte en lirieke syns insiens nie so wesenlik is nie. En toe die hoop uitgespreek dat meer liedtekste te sien sal wees in 2008 se Groot verseboek (voortaan GV) as in vorige uitgawes.
Dié hoop het toe beskaam. Enkele lirieke deur Hennie Aucamp, Koos du Plessis en Gert Vlok Nel is, soos in GV 2000, ingesluit. Dis duidelik dat Brink slegs gebundelde lirieke oorweeg het, want anders sou die “teenwoordigheid” van mense soos Koos Kombuis en Stephan Bouwer sterker gemaak kon gewees het. Werk van “gebundeldes” in die afgelope jare, soos Anton Goosen, Johannes Kerkorrel en Amanda Strydom, soek ’n mens eweneens verniet.
In ag genome dat ’n hele klomp van die vroegste verse in GV oorspronklik bedoel was as liedtekste (anonieme volksliedjies en ’n hele paar tekste wat beoog is as nasionale liedere), kan ’n mens dalk ’n saak uitmaak dat die oplewing in die Afrikaanse ligteliedjie-skryfkuns sedert die Musiek- en Liriekbeweging tog ’n bietjie meer van die kollig kon kry.
Die vroegste poësie in die meeste kulture was dikwels juis geskryf of uitgedink om gesing (of voorgedra) te word. Met ander woorde, gedigte is aanvanklik dikwels as “lirieke” of “orale tekste” gekonsipieer. En, soos onder meer Sibylle Moser in ’n onlangse artikel in die tydskrif Poetics uitwys, is daar vandag, weens die groeiende beskikbaarheid van ’n verskeidenheid media wat dikwels gekombineerd ingespan word, wêreldwyd ’n opbloei in die voordra en sing van digkuns te bespeur.
Joan Hambidge se onlangse oproep in LitNet se Seminaar-portaal (“Oor die digkuns: ’n paar kanttekeninge”) dat digters maar liefs van die podiums moet afklim, aangesien uiteindelik net die gedig op papier oorleef, getuig van ’n poësieopvatting wat algaande ná die uitvinding van die boekdrukkuns gevestig geraak het. Trouens, Brink se kriterium dat net gebundelde werk opgeneem word, selfs wat lirieke betref, weerspieël ook iets van hierdie beskouing.
Oor die (moontlike of vermeende) verskille tussen lirieke en gedigte het ek my sowat ’n jaar gelede in ’n essay op die LitNet-portaal Musiek uitgelaat. Daaroor wy ek dus nie verder uit nie – behalwe om te sê dat sulke verskille, waar dit mag bestaan, spruit uit die doel en aanbiedingswyse waarvoor hulle geskryf word. In die woordkuns oorheers die woord sonder meer; in die liedkuns dikwels die musiek; dis die musiek wat van sang “verhewigde spraak” maak (om ’n uitdrukking van Hennie Aucamp te leen).
Liedgenres wat bekend is daarvoor dat hulle ’n strewe openbaar om die gewig van woord en musiek ewe veel te laat weeg in die bereiking van die estetiese effek, is onder meer die kunslied, die luisterlied en die chanson. Ek maak ’n paar opmerkings oor net laasgenoemde.
Hoewel die Nederlandse digter en chansonvertaler Ernst Van Altena, in ’n gesprek met Hennie Aucamp waarna laasgenoemde verwys in die opstelbundel Woorde wat wond. Geleentheidstukke oor randkultuur (1984), laat blyk het dat hy ’n chanson wil definieer as “’n lied wat ook sonder sy musiek kan bestaan”, moet ’n mens versigtig wees om nie die literêre kwaliteite van die chanson te oorbeklemtoon of te oorskat nie. Volgens J.D. Stemmet in Literêre terme en teoriëe is daar reeds in die sewentiende-eeuse Frankryk benadruk dat “suiwer poësie selfstandig is en sonder musiek kan klaarkom”, en is die chansonteks “finaal uitgestoot uit die geselskap van die ernstige letterkunde”. In ’n opstel uit die genoemde opstelbundel sluit Aucamp hom aan by ’n stelling van die literêre teoretici Wellek & Warren dat
the highest poetry does not tend towards music, and the greatest music stands in no need of words.
Die chanson poétique het dus, literêr-esteties gesproke, iets onbeslis of dubbelslagtigs (tensy dit gaan om getoonsette, voorheen onafhanklik gepubliseerde gedigte). Dit funksioneer iewers tussen kommersialiteit en ernstige poësie.
’n Aantal van Jacques Brel se chansonlirieke is in Franse poësiebloemlesings opgeneem en word aan sekere universiteite in die poësiekurrikula onderrig. Brel was egter lief om self die relatiewe digterlike gehalte van chanson-tekste te beklemtoon. “’n Ware digter,” so haal J. Anthierens in ’n 1998-biografie oor Brel dié “keiser van die chanson” aan, “laat hom nie met liedjies in nie, iemand met ’n waaragtige talent het by ons niks verloor nie. Chansonniers is mense wat in hul lewens tien minute lank Rimbaud wou wees, en hul na die tien minute vlytig op die chanson toegelê het.”
Tog het Brel dikwels chansons geskryf wat te bewonder is “om hulle woordspelings en soms anormale taalgebruik; om hul organisasie van ’n gevoelsargument”, soos Aucamp in Die lewe is ’n grenshotel (1977) die voortreflikste soort liedtekste tipeer – en wat volgens hom (in Woorde wat wond) soms wel “toevallig” kan uitgroei tot “goeie poësie”, hoewel byna nooit tot “groot poësie” nie.
Vergelyk ’n Brel-lied soos die volgende:
Il neige sur Liège
Il neige, il neige sur Liège Et la neige sur Liège Pour neiger met des gants II neige, il neige sur Liège Croissant noir de la Meuse Sur le front d’un clown blanc II est brisé le cri Des heures et des oiseaux Des enfants à cerceaux Et du noir et du gris II neige, il neige sur Liège Que le fleuve traverse sans bruit
II neige, il neige sur Liège Et tant tourne la neige Entre le ciel et Liège Qu’on ne sait plus s’il neige S’il neige sur Liège Ou si c’est Liège qui neige vers le ciel Et la neige marie Les amants débutants Les amants promenant Sur le carré blanchi II neige, il neige sur Liège Que le fleuve transporte sans bruit
Ce soir, ce soir il neige Sur mes rêves et sur Liège Que le fleuve transporte sans bruit. |
Sneeu oor Luik
Dit stuif dit stuiwe oor Luik en die stuiwing oor Luik pak ’n pels sag en wit Dit stuiwe en stuiwe oor Luik Net die swart van die Maas skend die wang van die wit Die geroep het verstil van die voëls en die tyd van ’n kind se jolyt en van kleur wat kon skril Dit stuif dit stuiwe oor Luik Die Maas vloei kil en stil
Dit stuif dit stuiwe oor Luik en die stuiwing oor Luik tussen (die) hemel en Luik dit benewel die oë Sien ek sneeu val oor Luik? Of vir Luik sneeu na bo? Wit en wit kom tesaam soos ’n maagd en ’n maagd minnaars nou wat dit waag en ’n skoon land ingaan Dit stuif dit stuiwe oor Luik Net die Maas sny deur die waan
Dit stuif dit stuif oor Luik en dit sneeu ook oor my Die Maas deurklief albei |
- Afrikaanse vertaling deur my en Naòmi Morgan. Afrikaanse weergawe vertolk deur Herman van den Berg op die CD herman van den berg sing brel in afrikaans (2007)
Dat lirieke eers tot hul reg kom as hul gesing word, is dus geen verskoning vir ‘hulpbehoewende’ skryfwerk nie.
In ’n onlangse nuusbrief aan sy aanhangers skryf Herman van den Berg (www.hermanvdb.co.za) dat hy ’n CD met die “trots” van kontemporêre Afrikaanse ligte musiek op, ’n bietjie onder die loep geneem het. Hy het die akkoorde-omvang op dié CD gaan vergelyk met wat voorkom op CDs van twee van die kommersieel suksesvolste popgroepe van alle tye, naamlik The Beatles en ABBA. Die hoeveelheid benutte akkoorde per snit op elke CD is vasgestel en die gemiddeld per CD telkens bepaal. Die resultate was soos volg: Afrikaanse album = 3.8; die Beatles-album = 7.1; die ABBA-album = 7.4.
Die akkoorde-omvang is volgens Van den Berg maar net een maatstaf om die rykheid, indien nie gewoon die gehalte nie, van liedskryfwerk te bepaal. Ander maatstawwe sou die verskeidenheid akkoordprogressies, die mate van herhaling in lirieke, die hoeveelheid geykte uitdrukkings wat gebruik word, die instrumentasie, die verwerkings, die hoeveelheid modulasies, ensovoorts kon wees.
Sy vrees was dat die Afrikaanse CD, gemeet aan hierdie ander maatstawwe, ook telkens derde sou kom. En sy ontleding liefs stopgesit.
Ek gaan my ook die marteling bespaar om van ons topverkoperliedjies aan ’n literêre analise te onderwerp. Genoeg om te sê dat ’n mens Brink ten slotte tog maar gelyk wil gee dat daar tans eintlik weinig Afrikaanse lirieke is (ek praat nie van getoonsette gedigte nie) wat die toets van die tyd as teks-op-papier kan deurstaan.