Charl-Pierre Naudé. Die verkeerde mense kry die skuld

(oftewel “Kolonialisme se Veronika’s met die mantel“)

 

Die onderwerp van my vorige blog-inskrywing, waarin die woorde “parogialiteit“ en “hovaardigheid“ voorkom in verdediging van Alfred Schaffer, noop ’n paar voetnotas.

   Daniel Hugo het ’n beskuldiging wat voorheen teen Alfred Schaffer (as synde ’n Nederlander) gemaak is dat hy hovaardig sou wees jeens die Afrikaanse letterkunde, weer gaan opdiep. 

   Dié stukkie “grafskending“ moet gesien word teen die agtergrond dat Suid-Afrikaners tereg sensitief is vir neerbuigende houdings van eerstewêreldlinge. Ons is, per slot van rekening, gekolonialiseerde wesens. So wie kan ons blameer?

   Alle Suid-Afrikaners het daardie kneusplek. Ek sal so ver gaan om te sê as jy dit nie het nie, is jy nie ’n regte Suid-Afrikaner nie. Dis die geheime geboortemerk.  Dis die een wat ons nooit des te nimmer vir mekaar sal wys as ons kaal voor mekaar staan nie!

   Swart mense beskuldig Afrikaners van neokoloniale arrogansie, Afrikaners beskuldig Engelssprekendes van die oorspronklike variant, wittes beskuldig swartes daarvan dat hulle die foute van die verlede herhaal, bruinmense beskuldig swartes … ensovoorts.   

   Ek kan Daniël se sensitiwiteit ten volle begryp. Want kolonialiserende houdings bestaan weldeeglik. En meeste van ons was al die slagoffer daarvan.

   Maar is dit nie ironies dat ons in ons sensitiwiteit dikwels die verkeerde mense teiken nie?

   En is dít nie dalk die werklike, uiteindelike true blue kenmerk van die gekolonialiseerde wese nie? Om die verkeerde ou te donder. Dink maar aan necklacing van ouds.  Was dit die veiligheidspolisiemanne wat gebrand het? Nee, dit wat die “informante“. Was dit die “Boere“? Nee, was die bure.

   Die gekolonialiseerde wese se refleks wys meestal in die verkeerde rigting. 

   Daar is baie redes. Een rede is dat ware kolonialisme geslepe is. Een van sy mees geslepe kunsies is dat hy ’n crossdresser is. Watter kolonialisme wat sy sout werd is gaan as homself by ’n partytjie opdaag?

     En die keersy is ewe waar: die arme ouens wat wel as hulself opdaag, die regtige goeie ouens, hoe bewys jy nou dan jy jý is by só ’n partytjie?  Moenie eers probeer nie! Jy sal uitgekryt word as “the lady protests too much“.

   As ons dít by voorbaat besef, gaan ons koppe sommer klaar in die regte rigting begin draai as ons wil soek na sondebokke. 

    Kolonialisasie. Neem, byvoorbeeld, die stryd teen apartheid, wat in die jare sewentig en tagtig deur soveel Europeërs en Engelse hul eie gemaak is. (Dank Vader, anders sou ons nooit daarvan ontslae geraak het. Min dinge het apartheid meer geknak as die ekonomiese boikots.) Maar wat ons ook hier gehad het, in daardie (deels) lofwaardige deelname van Europa teen apartheid, was ’n kolonialisering van die taal van geregtigheid. As jy ryk en magtig is, kan jy enige iets kolonialiseer.

   Eers word die rykdom van Europa en Engeland op die beendere van Afrika gebou, daarna besef hulle dis verkeerd en raak dan ontslae van hul historiese skuld deur so heftig as moontlik kapsie te maak teen apartheid – ’n (neo)koloniale sisteem wat (hoera! hoera!) oënskynlik in Afrika ontstaan het en uitgedink is, nié by hulle nie.

   En voila! Kolonialisme word sodoende gerieflikheidshalwe geteleskopeer na ’n plek “daarbuite“, na ’n plek “tussen die barbare“, weg van die “beskawing“, na waar alle bose dinge meer “tuishoort“. Die feit dat die barbare (en as apartheidsamelewing was ons, helaas) in hierdie geval voormalige Europeane is, was ’n skaars denkbare gelukkie. Die skuld van die wêreld kon weereens op hulle (“die barbare“) gepak word (die swyende regverdiging vir Afrika se  aanvánklike onderwerping) maar sonder om ’n enkele “regte Afrikaan“ weer te beledig! 

   Sodoende het ’n baie gerieflike onderskeiding hom aangemeld. Daar is twee soorte barbare: die bose variant (wat weer onderwerp mag word) en die edele variant (wat ten alle koste beskerm moet word en sodoende Europa se verlies aan onskuld en edelmoedigheid as gevolg van sy eie kolonialisme, aan hom moet terugbesorg ). ’n Wen-wen situasie.   

   Die sielkundige argetipe van hierdie skuif is “die offerande“. Offer iets wat genoeg na jouself lyk maar nié jy is nie, en jy sal God se welwillendheid terugwen. Die wit Afrikaan was die vanselfsprekende offerande hier (spesifiek die wit Afrikaner, met ’n naam wat so kennelik wegwys van Europa). 

   (Laat ek dadelik byvoeg, ons mag nooit, maar nooit, ons enorme, gelyklopende skatpligtigheid aan Europa ontken weens sketsies soos wat ek hierbo gedoen het. Want dan mag ons dalk net ewe embarraserende argetipes van ons eie aktiveer …)

   Nog ’n voorbeeld van kolonialisering met ’n omweg: Die aanprysing van swak kunsprodukte uit die Derde Wêreld bloot omdat dit geskep is deur “swart“  of “bruin“ mense.  Wat in werklikheid hierdeur bekragtig word is niks anders as die swyende oorheersing van Europese – of, binne Suid-Afrika, die “blanke“ se – kultuurprodukte, wat dan soveel meer blink teen die ander.

   (En wie ken nie die ene? “Ag, kom ons help die swartes tog om net soos ons ’n literêre erfenis te bekom …“ O ja? Wie sê hulle het nie lank reeds ’n literêre erfenis waarvan jy salig onbewus is?)    

   Die sentiment agter sommige Eerstewêreldse agentskappe se bevordering van die ANC se regstellende aksie in Suid-Afrika sluit soms ten nouste hierby aan.

     En hiermee, terug na Daniël se misnoeë met Alfred. Die “hovaardigheid“ waarvan Alfred beskuldig is – met ’n onlangse skrywe deur Schaffer in Boeke-Insig nog vars in die geheue – vertaal eintlik as “neerbuigend“ en dít vertaal op sy beurt as “kolonialisties“.   

    Alfred Schaffer neerbuigend? Dis miskien tyd dat ons bietjie nader kennis neem van die aannames agter mense se optredes en ons nie blind staar teen die optrede self nie. Dan sou ons minder dikwels slagoffers wees van koloniale houdings waar dit werklik voorkom. (Maar nou ja, Afrikaanse mense is nie juis metafisiese wesens nie, is hulle? )

   Sodoende sal oënskynlik vriendskaplike optredes dalk veel minder so blyk, en oënskynlik kwaadwillige optredes mag eintlik baie nader aan mede-erkentlikheid beweeg.

   Wat sou agter Alfred se bereidheid lê om as Nederlander kritiek op die Afrikaanse literêre sfeer te lewer (op die enkele geleenthede waar hy dit wel op sy kenmerkend omsigtige manier gedoen het)? En wat sou, insgelyks, agter ’n misnoeë daarmee kon sit?

   Kyk weer asseblief na my stelling hierbo oor die aanprys van swak kunsprodukte uit Derdewêreldlande.

   Daar blyk ’n swyende aanname te wees wat stewig gevestig is by iemand soos Alfred, naamlik dat die Afrikaanse letterkunde in staat is tot die beste, al op geleentheid wel daardie peil bereik het en dus aan gemeenskaplike, “universele“ kriteria onderwerp kan word soos enige ander wat in die wêreld geskryf word. Dis ’n aanname wat glo dat as ’n produk goed is, enige kritiek daarop ook goed sal wees.

   Daarenteen, blyk daar  ’n swyende aanname te wees by sommiges – en veral by ’n bepaalde onverpoosde kommentator verbonde aan die Universiteit van Kaapstad wat aanvanklik die gerug versprei het dat Schaffer “hovaardig“ is – dat die gehalte van Afrikaanse produkte “spesifiek“ is, dus wesenlik geslote is vir dieptebeskouing van buite, en slegs vanuit eie geledere behoorlik beoordeel kan word.

   Hier iewers blyk ook ’n paternalistiese aanname te wees – blykbaar heeltemal onbewus by sulke persone teenwoordig – dat Afrikaans ’n ontwikkelende letterkunde is wat sagkens behandel moet word.

   Watter van hierdie opvattings lyk vir u na die kolonialisties-geïnspireerde een? Wie is in werklikheid hier besig met daardie kolonialistiese gebaar van “othering“, wonder ek?

   Ek dink ons is soms ons eie ergste vyande.

   Alfred is nie jou gewone Nederlander nie. Hy is eintlik maar ’n “Derdewêreld-Nederlander“, nes Hugo. Hy is die buurseun. Afkomstig van ’n die Karribiese eiland, tien jaar lank in Suid-Afrika gewoon en gewerk, en met ’n Afrikaanse meisie getroud. Onlangs het hy die trotse vader geword van ’n rasegte Afrikaanse kleinmeid.

   Miskien moet mense soos Daniël eerder gaan soek onder daardie sektore in  Vlaandere en Nederland waaroor hulle so beskermend voel en wat hulle soms uitnooi vir geselsies en kuiertjies, vir moontlike voorbeelde van daardie verbloemde kolonialisme wat die doring hul vlees is?

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •