Op die foto hier bo is die aanbieders van The Unhappy Hour, ʼn radioprogram wat elke Sondagaand van 18:00 tot 20:00 op Bush Radio 89.5 fm uitgesaai word. Ek dink mense in die omgewing van Kaapstad kan dit oor die draadloos hoor. Ons ander wat nie die merk van Zille op ons voorkop dra nie, kan dit gelukkig op die internet luister.
Om in te luister kliek net hier en as dit nie werk nie hier.
Die DJ’s op die foto is natuurlik niemand anders nie as Toast Coetzer (daar staan iets van Timboektoe op sy T-hemp, want hy was al daar), Clive E. Smith, Danie Marais (op hulle T-hemde staan “Your favorite band sucks”) en Ernst Grundling (op sy T-hemp staan iets geskryf van Huisgenoot, maar niemand weet hoekom nie).
Toast en Erns is ook die redakteurs van Ons Klijntji. Wanneer kom die volgende uitgawe uit, ouens?
Eerskomende Sondagaand gaan ek bietjie in die ateljee kom kuier en dan gesels ek, Danie en Clive oor life, the universe, and everything. Ek bring ook tracks van my volgende CD saam om te speel as ʼn voorsmakie. Ek het gister die meesteropname by Paul Riekert gekry. Ek dink die CD se titel gaan dalk “Bleek Berus” wees. (Dit sal nog so ʼn paar maande wees voor dit in die winkels is.)
Lees meer oor die Unhappy Hour hier.