Gister was dit die verjaarsdag van een van die gróót geeste in ons digkuns: TT Cloete het naamlik 85 geword … In die media het daar dan heel gepas ‘n pragtige huldeblyk deur Johan Myburg verskyn met die titel Cloete vlieg flink op 85. Boonop het die Noordwes Universiteit prof. Cloete verlede Saterdag verras met ‘n spesiale huldigingskonsert, Seer en siter, wat bestaan het uit 35 van sy gedigte wat deur sy dogter, Thea Cloete-Oberholzer, getoonset en in die Sanlam-Ouditorium uitgevoer is. (Gaan lees die volledige berig hier.) Goeie nuus is ook dat TT Cloete weer aan die skryf is; volgens Johan Myburg is daar ‘n manuskrip in wording met die titel Ondigte gedigte.
Van ons kant wens ons ook net om prof. Cloete geluk te wens met hierdie besonderse mylpaal. Mag die nuwe jaar deurdrenk wees met vreugde en goeie gesondheid.
As ‘n verdere toegif vanoggend, hierdie pragtige vers uit die pen van TT Cloete hieronder.
‘n Lekker week vir almal.
LE
God die digter
daar is meer poësie in die sneeuvlokkie
as in die letterkunde en baie meer poësie
in die miskruier in die toktokkie
in die meteorologie en entomologie
in die moremis en in die bergpiek
die horison wat in die hemel wegraak
in die rooswolk is daar baie meer liriek
die aarde is deur ‘n digter gemaak
“God die digter”, Uit: Driepas, Tafelberg Uitgewers, 1989)