Andries Bezuidenhout. Herfsgedig op die balkon

Ek en Irma woon in Observatory in Johannesburg. Die voorstad is vernoem na die sterrewag teen die rantjie. Die woonstelblok waar ons woon se naam is Palomar Place. Dit verwys weer na ʼn sterrewag in Kalifornië. Toepaslike naam, maar in ware koloniale styl verwys dit na ‘n plek elders. Ons woon dus dubbel en dwars in ʼn sterrewag. Van ons woonstel se balkon kan ons die Hillbrow-toring sien. Ek het die gedig hier onder op die balkon geskryf.

PALOMAR PLACE, OBSERVATORY

Now the wind, once in our sails, blows our washing dry.
– Matthew van der Want

hoe verduidelik ek hoe populierblare tril voor hulle tuimel
sal ek sê die takke is heksekloue wat brandend na wolke gryp?
– troos die ketter die winter kom om die geknetter te blus –
hoe beskryf ek hoe wit die skemer agter bome blink
hoe kan ek jou vertel van marmer wat die maan oor blare skink?

ag wat weet hierdie uitkykpunt van hekse sterre die maan?

nou gee die aarde die son ʼn koue skouer
hou die wasmasjien uiteindelik op tuimel
buite stap ʼn vrou met ʼn sak op haar kop
hark ʼn man gedwee nog blare op

25 April 2009

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •