Na jare se binnensmondse vloekery oor my huis se vloer, kry ek nou die dag uiteindelik berusting. Want, besef ek, dit is soos ’n gedig. Nie die vloeke nie, die vloer.
Sien, my huis se grondvloer is ’n grond-vloer. En om redes waarvan ek al dikwels daarna die geldigheid betwyfel het, moes dit op een slag in een dag gegooi word. Vyftig-plus vierkante meter. Ons was ’n span van vyf wat die klei getrap en aangery het, maar die platsmeerdery het ons gelos vir die moeder. Omdat sy dit al voorheen gedoen het. Ek moes geweet het…
Want nadat ek die vorige dag op my knieë deurgebring het met spykers en boulyn en waterpas om die grondwerk te doen, laat ek toe die gelykmakery aan ’n kunstenaar oor. Sit daarby die druk om alles in een groot gebaar te voltooi en jy gaan nooit as te nimmer ’n oppervlak kry waarop iets met meer as twee pote sonder wankeling kan staan nie.
As ’n stoel dus rondgeskuif is totdat dit viervoet stewig staan, dan weet jy dis die regte plek daarvoor. As die tafel net in een posisie in die middel van die vertrek sy reguitstaan kan staan, dan weet jy dis die regte plek. Soos woorde in ’n gedig. Ek onthou nog ’n studente-onderwyser op hoërskool wat ons vertel het: Prosa is ’n goeie woord op ’n goeie plek. Poësie is die perfekte woord op die perfekte plek. Rondgeskuif tot dit presies pas.
Of dit heeltemal waar is, kan ek nie sê nie, maar dis vir my ’n troos. Want nou bewoon ek my huis soos ’n gedig. Net jammer ek kan die taal nie verstaan nie.