Andries Bezuidenhout. Geraamtes in my kas

Paul Riekert sê die beste koffie kom van arm lande af. Ek weet nie van watter arme land die koffie kom wat hy my vanoggend ingegee het nie. My oë staan stokstyf en my hande bewe. Irma is ook pas terug uit Armenië. Sy het daar koffie gedrink wat haar die hele nag wakkergehou het.

Ek onderhandel op die oomblik met Paul om my nuwe CD deur One F Music, sy platemaatskappy, uit te gee. Kan ʼn mens dit nog ʼn platemaatskappy noem? Alhoewel baie van die alt-country musikante hul musiek nou weer op viniel uitgee (teen $30 of so per kopie) is selfs CD’s aan die uitsterf. Mense laai toenemend hul musiek van die internet af.

Vir my is ‘n CD se omslagontwerp amper net so belangrik soos die musiek self. Ek hou daarvan om die lirieke ook in skrif voor my te sien as ek na musiek luister. Nie vir die eerste luisterslag nie, maar as ʼn mens van songs hou wil jy die woorde kan lees. As CD’s iets van die verlede word, hoop ek musikante bou ten minste webwerwe met woorde.

Soms wonder ek ook oor boeke, maar dis darem iets anders. Ek kan myself nie met ʼn rekenaar op my skoot op die toilet sien sit nie. Dis tog een van die beste plekke vir lees. Of in die bed.

Ek praat ook met Paul oor die moontlikheid van ʼn heruitreiking van die wyle Brixton Moord & Roof Orkes se twee CD’s, miskien as een pakket. Die laaste een, Terug in Skubbe, is teoreties nog in winkels beskikbaar, maar Spergebied kan jy nou net op die web kry.

Ek gaan luister toe stuk-stuk weer na Spergebied. Dis vreemd (en seker ʼn bietjie narcissisties) om na jou eie musiek te luister. As ʼn mens klaar is met ʼn CD wil jy dit nooit weer hoor nie. Jou ore is moeg daarvoor, omdat jy elke lied moes opbou van die eerste guiding track tot by die finale meng en meester.

Dis so met digbundels ook. Al die skaaf en voorstelle van keurders en redakteurs maak dat gepubliseerde gedigte hul eie lewens kry; jou as skrywer doodmaak.

Dis miskien omdat “Geraamtes in jou kas” uit so ʼn persoonlike plek kom dat dit nou vir my uitstaan op Spergebied. Ek dink ook Paul Riekert het dit die regte klankkwaliteit gegee. Esmé Evakwaad se agtergrondstem onstem my nou nog.

Hier is die liriek. ʼn Mens kan dit gaan aflaai by Rhythm Records se webwinkel.

DIE GERAAMTES IN JOU KAS
(Brixton Moord & Roof Orkes)

‘n Hand kom deur jou venster
en jou gloeilamp is ‘n oog wat loer,
jou plafon bult in van bo af
en naels krap van onder jou vloer…
want jy weet, jy weet:
die geraamtes in jou kas het begin kriewel

Die klere vroetel rond in jou trommel
en jou stewels dans in die kas
jou rugsak het begin oopgaan
en grynslag saam met jou jas…
want jy weet, jy weet:
die geraamtes in jou kas het begin kriewel

Jy onthou die stof
van ‘n township se strate
en die haat in die oë
aan die end van jou geweer…
want jy weet, jy weet:
die geraamtes in jou kas het begin kriewel (x2)

Jy onthou die vure
en die wiele van ‘n Casspir
en die reuk van brandende rubber
deur die neus van jou gasmasker…
want jy weet, jy weet:
die geraamtes in jou kas het begin kriewel (x2)

So, trek jou hoed oor jou oë
vir Sharpeville en vir Boipatong
en swaai aan jou droom
sodat jou skoene nooit nat word
van die modder op die grond
hier en daar gemeng met bloed…
want jy weet, jy weet:
die geraamtes in jou kas sal aanhou kriewel,
die geraamtes in jou kas sal ewig kriewel

Ons het hierdie lied jare gelede op die ATKV se verhoog by Oudtshoorn gespeel. Mense kon verniet na musiek daar luister, so daar was baie mense uit die township. Een vir een het hulle ophou praat en begin luister. Dis die enigste lied waarvoor daar applous van hulle kant af was. Na die tyd het ʼn wit polisieman met my kom gesels en dankie gesê vir die feit dat ek oor die onderwerp sing. “Dis presies hoe dit was,” het hy gesê.

Elke keer as ek moeg raak vir die musiekindustrie – die feit dat ek CD’s moet verkoop om te kan doen wat ek wil doen, die feit dat mense heeltemal mis waarmee ʼn mens besig is, die kommersialisme en gejaag na verkope – dink ek terug aan hierdie oomblik in Oudtshoorn. Ek weet nie of enige van die mense wat daar was die lied onthou nie, maar hul reaksie destyds maak alles steeds vir my die moeite werd.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •