Pleknaamveranderings in ons land het baie van ons met ’n soort skok bewus gemaak van wat alles in naamgewing skuil.
Ry ’n mens met die N1 noordwaarts vanaf Pretoria (wat self elke nou en dan dreig om onherroeplik “the city of Tshwane” te word), dan klink die ou Verre Noord-Transvaal glad nie meer na iets wat hoort tot ’n “land van vrome Trekkers” nie, maar alte veel na Limpopo (soos dié provinsie van die nuwe Suid-Afrika inderdaad heet): Warmbad – Bela-Bela, Nylstroom – Modimolle, Naboomspruit – Mookgophong, Potgietersrus – Mokopane, Pietersburg – Polokwane, Louis Trichardt – Makhado…
Afrikaners beleef so iets dikwels as ’n soort uitvee van hele stukke geskiedenis.
Ander soortgelyke voornemens was ook al in die nuus, maar ek onthou hoe onthuts ek was toe ek ’n paar jaar gelede in Volksblad moes lees die pleknamekomitee van die Noord-Kaap beoog om meer as negeduisend plekname in daardie provinsie te verander.
Watter rykdom aan verhale en emosionele bande sal as ’t ware deurgesny wees as dít moes gebeur, wil ’n mens uitroep.
En: Dit sal ’n bietjie wees soos om onteien te word.
Presies, sou die postkolonialis sê. Dink net hoeveel van die name wat nou verdwyn, voorheen ánder name en ánder (hi-)stories verdring het.
In afdeling IV van Johann Lodewyk Marais se 2004-bundel, Plaaslike kennis, word die impak van (Europees-) Westerse dominansie en denkwyses op tradisioneel landelike leefwyses in Suider-Afrika uitgedruk. Binne so ’n konteks spreek ’n “eenvoudige” plaasnaamgedig soos die volgende boekdele van ’n koloniale geskiedenis:
Grond
Cartref
Dundee
Glentoa
Hutton 1
Hutton 2
Hutton 3
Hutton 4
Katspruit
Oakleaf 1
Oakleaf 2
Oakleaf 3
Oakleaf 4
Oakleaf 5
Oakleaf 6
Shortlands
Sterkspruit
Valsrivier
Westleigh[.]
Die eerste afdeling, met sy sewe kaart-gedigte, van Marius Crous se Brief uit die kolonies (2003) word gewy daaraan om as ’t ware die koördinate van die koloniale geesteswêreld af te merk. Om die begeerte na verkenning en besitname van die eksoties “andere” uit te druk, word die karteringsmetafoor ingespan. Dit verteenwoordig eintlik die dwingende, daarom selfs gewelddadige instrumente van die Westerse rasionalisme (waarvan Latyn, as “wetenskapstaal”, ’n onderdeel is):
kaart 2
’n vreemde landskap van mitiese diere onbevaarbare riviere
kry vorm onder die kartograaf se hand
in europa waar die sneeu alles vlies
trek hy die trope in teken stede in
die loop van ’n karavaanroete na
’n bruin kol ’n woestyn ’n getande bergreeks
is name wat afrol van die tong kolle
op ’n groot vel vol onbekende strepe
india orientalis maris pacificii
totius africae pars orbis americae
oceanus meridionalis
mare praesodium
sinus barbaricus[.]
Naamgewing sê inderdaad baie van mense se strewes én van hulle ervaring van hul aardse verblyf. Afrikaanse digters is kennelik hiervan alte bewus.
Welbekend is Peter Blum se onhutsende “Aftelrympie” uit Steenbook tot poolsee van 1957. Die steeds veranderende plaasname wat in die gedig opgenoem word, vertel die verhaal van mislukte vestiging deur Afrikanerkoloniseerders. Dit neem ’n aanvang by “Kleinbegin”, vorder deur onder meer “Skoongesig” en “Rusmysiel”, maar stuit al hoe bedroeëner teen “Nooitgedag”, “Moedverloor”, “Kansverbeur” en, uiteindelik: “Allesverloren is my plaas:/ Leë murasies noem my Baas.”
In sy bundel met die sprekende titel Edms. Bpk. (1970) sluit D.J. Opperman twee “optelgedigte” in. Die eerste heet “Visvangplekke op die plaat” en bestaan uit ’n lys klinkende Afrikaanse name van hengelplekke aan die Suid-Kaapse kus: Haakgat, Die Polle, Maerbankies, Bontlakei, Verwulf, ensovoorts. Dit eindig egter gepas – gesien die ironiese inslag van die bundelgeheel – met onsekere implikasies: “Die Stal/ Die Kruis/ Hemelhoog/ Die Hel”.
T.T. Cloete het hom herhaaldelik verkneukel in die suggestieryke name van ons land. In Driepas, die bundel uit 1989 waarmee hy as ’t ware gestreef het om die Godsopenbarende samehang van die skeppingsverskeidenheid in ’n woordkatedraal na te dig, staan onder meer die gedig “Land van die eggo’s”. Herhalingsamestellings en klankherhalende eiename, geneem uit die verskeidenheid inheemse tale van ons land, word opgestapel om sowel die uiteenlopende verskeidenheid as die verrassende samehang van die verskillende kulture alhier te evokeer.
Om enkele voorbeelde op willekeurige wyse uit die gedig te lig: Kii Kii, Chimanimani, Boegoe, Hluhluwe, Troe-Troe, Omumborombongas, Mac-Mac, Volop… Selfs Johan van Wyk, vroeëre rubriekskrywer van Volksblad, se skunnige akroniem vir daardie legendariese land-van-aftjop, “Ohopoho” (afgekort uit O-hou-poephol-hou), kom daarin voor!
Antjie Krog se bundel Kleur kom nooit alleen nie (2000) skop geografies af in die droë noordwestelike dele van ons land, waar die klipwêreld van die Richtersveld as ’t ware weerstand bied teen benoeming of beskrywing in haar digterlike woorde. Die gedig “narratief van klip” begin soos volg:
’n landskap soos dié maak my bang
reeds tussen Brandkaros en Bloeddrif steek dit jou onder klip[.]
’n Bietjie later is die kliplandskap as ’t ware self aan die woord:
“ek’s ding, hoor jy!
kyk my in die oghe, face my
ek is ding
ek verweer brutaal
[…]
geen klipwoorde gaan jy ooit uit my tap nie
nooit my tot taal kap en kaap nie”[.]
Maar as daar in die bundel ’n digterlike reis diep in Afrika in voltooi is, en daar op verskillende vlakke gevorder is van “wondweefsel’ (titel van afdeling 2) na “bindweefsel” (titel van die slotafdeling), voel die digter haar versoen met die dor Noordweste en sy klippigheid; by uitbreiding met haar (Suid-)Afrikanerskap. Sy druk laasgenoemde (in die slotgedig, “niks by te voeg”) onder meer uit in die Afrikaanse en Khoi-name van daardie skurwe, maar skone wêreld:
klanke soos vere val
in Baadjiesvlei en Biedousrivier
so soos ’n asemveeg so lig
geluidloos in voorwêreldse stilte val
die klowe oop van Krakadou
en Vaalheuningberg tot by Wupperthal se klipperste klip[.]
Name kan soos vertroude wonings word.
Maar, pasop: Wie sal ooit weet wat die naam van die mense van 77 000 jaar gelede was vir Blombosgrot naby Stilbaai, waar die mooi seeskulp-halssnoere met hulle waarskynlike simboliek uitgegrawe is?
Ontroerend vir my is daarom Martjie Bosman se uitbeelding van hoe die huidige geslag, noudat alles in die land “alreeds gekaart, afgebaken en omhein” is, tog nog soms die ou pioniersdrang voel. Dan raak ons “reisvaardig”, soos die titel van ’n gedig uit haar 2002-debuut, Landelik, dit wil hê. En ons vat “die grondpad na Avontuur”, “oor Kruisrivier … tot by Mossiesdal op die Hoëveld”; draai later by “Roossenekal … na Mapog se Grot”; doen onder meer nog plekke aan soos “Nederhorst Wanhoop en Tonteldoos”.
Bosman se gedig eindig só: “Dan tuis: ’n doel- en nuttelose reis miskien,/ maar dié versekering het ons weer gekry:/ die plekke op die kaart bestaan.”
Nie as die nuwe pleknaamkomitees hulle sin kry nie!
In gedigte soos bostaandes sal die name en hulle konnotasies egter bly leef – solank die Afrikaanse poësie gelees (en geskryf) word.