Die veelduidige betekenis van die palimpses het eers tot my deurgedring nadat ek geruime tyd al aan die manuskrip van Palimpses (1987) gewerk het. Veral gesprekke met dr. Francis Galloway, my destydse kollega by die RGN, en die kunstenaar John Clarke, aan wie Francis my in die helfte van 1987 voorgestel het, het my nuwe betekenismoontlikhede laat insien. Die palimpsistiese aard, wat as ’t ware op ’n natuurlike wyse tydens die skryf van die bundel tot stand gekom het, is toe aansienlik versterk. Ek vertel graag dat ek ná my kennismaking met John ’n stuk of sewe nuwe gedigte vir die bundel geskryf het.
Ek wil nietemin nog steeds glo dat dit eintlik die Oos-Vrystaatse landskap en die geskiedenis (o.m. my eie familiegeskiedenis) was wat ’n “gelaagdheid” aan my bekend gemaak het. Daarvan het ek reeds as kind bewus geword. Landskappe hou aan om my te inspireer, terwyl my historiese bewussyn, glo ek, al sterker word. Benewens die Oos-Vrystaat het daar ook ander plekke en tye bygekom. Maar Palimpses was ’n goeie plaasleerskool … en hou selfs aan om dit te wees.
My belangstelling in omgewingskwessies het eers ná Palimpses ontwikkel, maar die landelike agtergrond het wel ’n rol gespeel. Later het die Darwinisme en ’n spesifieke biologiese belangstelling ook bygekom. Dit is daarom heel ironies dat ek uiteindelik in ’n kantoor op die agt en twintigste verdieping van ’n gebou in die middestad van Pretoria beland het!
Tans werk ek sporadies aan (o.m.) ’n bundel gedigte oor die see waarin daar ’n sterk marinebiologiese bemoeienis is. So ’n projek dwing my om heelwat oor die lewe in en om die see te lees en bied ’n verskoning as ek van tyd tot tyd nog ’n mooi boek oor visse, skulpe en dergelike onderwerpe koop. (Ek gaan tog gedigte daaruit haal!) Ek het egter nooit nét literêre oogmerke nie; die projek moet my meer oor (bv.) ’n faset van die natuur leer. Toe ek gewerk het aan Aves (2002), wat in die geheel aan voëls gewy word, het ek voëlkursusse bygewoon, jare lank agter voëls aangeloop en baie oor die onderwerp gelees. Die uitbreiding van my kennis oor voëls het my groot plesier verskaf.
Die ding of dinge as sodanig interesseer my.