Een van my geliefde gedigte is Opperman se “Te klip om te boom”, maar ek wonder nou weer of hy reg is om te beweer “klip teel swaar”. Hy het net nog nooit in my groentetuin gespit nie. Vier jaar nadat ek my lappie grond afgekamp en begin bewerk het, spit ek steeds met elke nuwe bedding ‘n emmer vol klippe uit. Die goed teel aan erger as konyne. Vir elke tien boontjiepitte wat ek saai, kom daar vyf klippe op. (As dit maar diamante was – nou die dag is ‘n blou diamant uit die Cullinan-myn vir 75 miljoen pond verkoop.) Dis asof die aarde die klippe aanhou opstoot iewers uit haar sidderende buik. Omdat dit haar aard is.
En die digter? Miskien is die klippe gedigte wat sal opstoot, solank mens maar aanhou spit. Miskien is dit temas wat hulself weer en weer aanmeld, al voel mens jy het dit nou al leeg geskryf. Dalk dra mens maar vrugte na jou aard – bone, geelwortels, klippe, diamante – nieteenstaande die hoeveelheid kompos en kunsmis wat jy inwerk. En as gedigte klippe is, dan weet ek – die goed teel bitter swaar . Hier op my erf is hulle so skaars soos blou diamante.