Andries Bezuidenhout. Rasper – nuwe poging

ʼn Nuwerige een waaraan ek skaaf, dalk rasper. Net om hierdie donker Woensdag op te kikker.

RASPER
think i’ve gone and cut my hands again
your fly paper skin got stuck to my skin
– Chris Letcher

Hoe het my hande afgevrot?
Toe ek aan jou raak sny jou hare my –
lemmetjies fyn kepe dwars oor riffels
op my vingerpunte.
Toe my vuis om jou klem bloei ek, broei ek
druppels uit wat polslangs kartel.

Hoe het my hande afgevrot?
Ek het jou probeer naboots, skilder –
pigment vermeng, maar die verf ontsteek
in my vingerpunte.
In wanhoop krap ek, skeur ek, sweer ek
wellings sig wat vloer toe sypel.

Hoe het my hande afgevrot?
Ek ontsmet en was, ek wring en vryf –
waad deur water, draai pleisters gaas
om my vingerpunte.
Salf byt. My greep verslap. Visse wat
pap in ʼn wasbak spartel.

Hoe het my hande afgevrot?
Piesangboom ek. Uitgepik, afgepluk –
blare skamele verweer teen jou
en my vingerpunte
senulose litte wat beenderig verkalk
en bleek die wind in kwartel.

Jy vra weer hoe my hande afgevrot het?
Tog maklik te begryp hoe raspers ander mense slyp.
Hier staan ek. Bakboord gryphaak,
fluweelhandskoen stuurs.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •