
Tydens die onlangse Ledbury Kunstefees in Engeland het hulle ‘n klomp digters gevra om ‘n lys van die mees gehate woorde in Engels neer te pen. Die woorde moes egter weens ánder redes as die semantiese gekies word en daarom was die redes wat die betrokke digters verskaf het waarom hulle juis dié woord as “haatlik” beskou, dikwels meer amusant as die woord self. So het die digter Philip Wells die woord ‘pulchritude’ uitgewys. Sy rede? “It violates all the magical impulses of balanced onomatopoeic language – it of course means “beautiful”, but its meaning is nothing of the sort, being stuffed to the brim with a brutally latinate cudgel of barbaric consonants. If consonants represent riverbanks and vowels the river’s flow, this is the word equivalent of the bottomless abyss of dry bones, where demons gather to spit acid.” Sjoe. Vir Geraldine Monk was dit weer die woord ‘redacted’, want “it makes me feel totally sick. It’s a brutish sounding word. It doesn’t flow, it prods at you in a nasty manner.” Paul Batchelor het nog ‘n meer banale voorbeeld gehad: “I’ve always hated the word ‘APPAL’ (or ‘appalled’ or ‘appalling’) because I dislike hearing the sound of my name inside other words.”
Nou ja, toe. Hoe sal ‘n lys met Afrikaanse woorde daaruit sien? Ek slaan die AWS in die middel iewers oop en my oog vang die woord ‘konkoïdaal’ en ‘n entjie ondertoe ‘konkoïed’. Juk. Selfs sy variant ‘kongoïed’ is nét so erg! Laat ‘n mens eintlik aan iets héél plesierigs dink; behalwe natuurlik as die woord ‘interruptes’ as toevoegsel gebruik word … Nietemin, ek probeer die betekenisse van dié abrogasies in die HAT naslaan, maar vind geen inskrywing vir hulle nie. My oog val egter op ‘konkomitant’ en ‘n entjie ondertoe: ‘konklusie’. Ai, ai. Hoe heerlik vierkantig lê húlle nie in ‘n mens se mond nie! Net soos ‘konkreet’. Dis mos nou woorde met struktúúr. Of wat praat ek alles?
Mag hierdie dag volrond in jou mond lê. En onthou – woorde benodig die oewer sowel as die vloei …
Mooi bly.
LE