Andries Bezuidenhout. Dagdroom

My stukkie galgehumor vir die dag. Dis ver van klaar, het dit gisteraand begin skryf.

DAGDROOM

I remember you well in the Chelsea Hotel,
that’s all, I don’t think of you that often.
– Leonard Cohen

ag ek’s ʼn sucker vir ʼn hartseer tune verkieslik
een met die aurora borealis want hier rond sien
jy nooit die hemel so uitspattig kraak nie dalk een
met wankelhopige hotelkamers met geen
warm water nie dun koue straaltjie waarin ek
morbied moet skeer geen wasem om vlugtige
woorde neer te vinger nie dan maar met skeermes
op polse skryf dis oraait in die bed wag junky
verruklik met swart lyne om onbedaarlike oë
om mensurale musiek binneaars toe te dien
die naald se ritme puntig tussen tone genoteer
o vir ʼn hartseer tune met digters en skilders
wat in kafees dobber op die lou promenades
van eilande profane gesprekke voer welwetende
dat enige verkeerde woord die wêreld in oorlog
kan dompel daar’s spioene van gemaskerde lande
wat aktiviste dophou ons koeverte stoom masturbeer
as hulle inluister op die foon wat oorkook alles hier
is warm mense wandel na aandete bieg en soen
in antieke klipkapelletjies wat in die mediterreense
fynbos sproet hande wat onder somersklere roei
lywe sweet klou vas aan sout vir die bitter bitter
dan die droefheid alles beland in ʼn hartseer tune
ons die arme geeste van skepping ons die gode
die fragiele kruike van waarheid en wanhoop
goed skat ek sal melk gaan koop

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •