Die Vlaamse boekebeheerorganisasie Boek.be het die Belgiese Eerste Minister, Herman van Rompuy, en sy kabinet verras met ‘n besonderse geskenk vir hul parlemenêre vakansie wat op hande is, naamlik ‘n mandjie vol boeke. Die keuse is dikwels tong-in-die-kies gedoen en het heelwat bespreking uitgelok, het Boek.be se hoofdirekteur, Geert Joris, gesê. So is daar besluit om De kunst van leiderschap in tijden van verandering deur Eric Koenen aan die Eerste Minister te gee en aan die Minister van Verdediging De Oorlog, ‘n ongewone prenteboek oor die sinloosheid van oorlogvoering. Vir die Minister van Finansies was daar ‘n kopie van 1000 tips om beter met je geld om te gaan in die mandjie. Volgens die verklaring wat Boek.be uitgereik het, is die oogmerk van dié skenking enersyds om die kabinet se welwillendheid jeens die boek te wen en andersyds, om hulle attend te maak op bepaalde knelpunte in die boekbedryf: “De belangrijkste knelpunten zijn het fiscaal ondernemingsklimaat, de reglementering inzake handelspraktijken en het auteursrecht. Als hier niets rond gebeurt, dreigt een ernstige verschraling van het boekenaanbod,” aldus Boek.be. Hulle beoog om dit ‘n jaarlikse instelling te maak. (Lees die volledige berig hier op Boek.be se webblad.)
En ja, onwillekeurig begin ‘n mens wonder – indien ons ons eie kabinet met só ‘n mandjie boeke sou wou verras; watter boek sou ideaal vir prof. Zuma wees? Miskien Wim Bosman se Louis die Laeveld-leeu en die skobbejakke (2009: Protea Boekhuis)? Nie soseer vanweë die leeu-konnotasie nie, maar merendeels vanweë die ánder gediertes wat sy strokiesprentwêreld bevolk … En die res? Mmm, ‘n mens se kop duisel van al die moontlikhede. Laat weet gerus indien jy enige voorstelle het; vir ons agbare Minister van Hoër Onderwys dalk Daniel Hugo se Halala Afrikaans wat teen middel-Augustus op die rakke behoort te wees?