
Hierdie naweek vind die Urban Voices-poësiefees plaas. Môreaand, om 20:00, is dit naamlik in Bassline in Newtown, Johannesburg, en Sondagaand in die Baxter-teater in Rondebosch, Kaapstad. Dinsdagaand verskuif dié fees na die Bat-sentrum in Durban. Verskeie internasionale sterre is op die program, waaronder die Jamaikaanse digteres, Staceyann Chin, en Willie Perdomo van Porto Rico. Chin, wat al verskeie internasionale toekennings ontvang het, het in 2007 die Power of the Voice Award van die Human Right Campaign ontvang en in 2008 die Immigration Equality se Safe Haven Award, asook ‘n toekenning van die Lesbian AIDS Project. Sy word wêreldwyd gesien as ‘n prominente segspersoon vir Karibiese -, Swart -, Asiatiese – en lesbiese aangeleenthede. Sy woon tans in New York. Willie Perdomo is die ontvanger van die PEN America Beyond Margins Award vir sy boek Where a Nickel Costs a Dime and Smoking Lovely. Suid-Afrikaanse digters wat deel vorm van die program, is Naima Mclean, Ameera Patel, Mbali Kgosidintsi en Tsoana Nhlapo. Kaartjies is by Computicket beskikbaar ek kos R150 per persoon.
Maar – soos dit die afgelope tyd duidelik geword het aan die hand van ander kunsfeeste in die land, is daar helaas géén Afrikaanse digters van belang genoeg geag om by dié fees te betrek nie. Nie eens ons vernaamste twee digters van wie daar (in albei se gevalle) vanjaar nuwe publikasies op die rakke is en wie tans uitnodigings na bykans elke belangrike Internasionale fees ontvang nie.
Gelukkig is daar darem die Versindaba om na uit te sien later vanjaar, of hoe?
Nietemin, laat ons nou nie onnodig grom en brom nie; hierdie is ‘n wonderlike geleentheid waar ‘n mens belangrike digters uit Afrika en elders in aksie kan sien. Geniet dit!
En mag die naweek vir jou en jou geliefdes ‘n plesierige affêre wees. Nuuswekker hervat Maandag weer.
Mooi bly.
LE