
Die organiseerders van die Forward Prize for Poetry, een van Brittanje se mees gesogte literêre pryse, het pas hul kortlys vir vanjaar bekend gemaak. Die inskrywings word in drie kategorieë beoordeel: vir die beste digbundel, die beste debuut en die beste gedig. Vir eersgenoemde kategorie is 109 inskrywings ontvang, met 57 en 120 inskrywings vir die daaropvolgende kategorieë onderskeidelik. Dit is egter veral die “beste digbundel-kategorie”, met sy prysgeld van £10,000, wat die mense opgewonde maak, want op die kortlys van 6 digters verskyn daar ou gunstelinge soos Don Paterson (vir sy bundel Rain, wat later vanjaar verskyn), Peter Porter, ‘n vorige wenner, en Christopher Reid, met ‘n bundel intens-persoonlike verse oor die onlangse dood van sy vrou Lucinda.
Josephine Hart, voorsitter van die paneel beoordelaars, het haar soos volg oor die groeiende getal inskrywings uitgelaat: “Poetry is language at its best, the highest literary art form, and increasingly people are turning in these challenging times to a place they can find wisdom and beauty and without wanting to sound too pious – truth. That’s young people and old.” Die wenners sal tydens ‘n spesiale geleentheid op 7 Oktober bekendgemaak word. (Lees die volledige berig hier.)
Ten slotte – gedurende die naweek is daar sommer ‘n hele aantal interessante (en belangrike!) stukke op die webblad geplaas. Afgesien van die onderhoud met Miriam Van hee, wat hier geplaas is, moet jy ook Johann de Lange se nuwe blog-inskrywing, Vertaling as kleedrepetisie, lees. Hiermee heraktiveer Johann natuurlik ‘n gesprek wat vroeër op dié webblad gevoer is. Daarom, indien dié onderwerp jou interesseer en jy dalk van die vroeëre stukke gemis het, kan jy gerus weer by veral Bernard Odendaal en Daniel Hugo se blogs gaan inloer. Ook Carina Stander het hieroor geskryf. En dan het Charl-Pierre Naudé daad by woord gevoeg en niemand minder nie as Breyten Breytenbach gekry om as gas-blogger ‘n stuk oor die (gewaande) teenstelling provinsie/metropool te skryf. Pure leesplesier. So is ook Carina Stander se nuwe blog oor gesellige saamwees …
Lekker lees en mag hierdie week vir jou ‘n bak vreugde wees.
Mooi bly.
LE