Onlangs (weer!) se gebrom en -mor oor die “moderne”, “elitêre” digkuns wat so “kripties” en “ontoeganklik” is, maar niks by die leser laat “gebeur” nie, bly my pla.
Derhalwe gaan ek sélf ’n bietjie helderheid probeer kry oor waar die moeilikheid van (en mét) poësie vandaan kom. In die proses gaan ek nie juis probeer verantwoording doen oor wie almal se sienings ek leen, steel en bedel nie.
In die eerste plek tref dit my dat enige (begripvolle) leesaktiwiteit eintlik ingewikkeld is, al besef ons dit dikwels nié. Ons kom eers agter wat ons alles (moet) weet om met begrip te kan lees as ons iets in ’n vreemde of half-vreemde taal probeer lees, of iets lees wat uit ’n periode in die verre verlede of uit ’n totaal vreemde land of kultuur stam. Of as ons met ’n onbekende teksvorm te doene kry, sê ’n Arabiese of Verre Oosterse digsoort.
Dan besef jy dit help as jy die skrywer en sy vorige werk (min of meer) ken, as jy al die kontekstuele verwysings en raamwerke onder die knie het, as jy vertroud is met die tekssoort en sy kenmerke en funksies, asook met die vorm-, styl- en tematiese preokkupasies van die periode waaruit die teks spruit. Ensovoorts, ensovoorts.
Letterkunde, en veral die poësie met sy dikwels intense gekonsentreerdheid en betekenisgelaagdheid, het bowendien nogal die eienskap dat dit buitengewoon “selfbewus” is, met ander woorde van hoe dit as teks of boodskap aanmekaargesit is (ook die poëtiese funksie genoem). Die “vorm” ko-kommunikeer met die “inhoud”, sou in die ou dae gesê gewees het. Daar’s ’n neiging, veral in die digkuns, na ’n vormlike en stilistiese vergestalting van die “boodskap” – na verikonisering, om ’n tekenleerterm te benut.
Hein Viljoen het jare gelede al (in die bundel Teks. Leser. Konteks., in 1986 uitgegee onder redaksie van J.H. Senekal) ’n opstel geskryf en ’n opsomming gegee van al die literêre kodes (interpretasiereëls) wat geïmpliseer is in T.T. Cloete se blokboek Hoe om ’n gedig te ontleed. Daaruit kry ’n mens ’n idee van hoe verwikkeld die saak is.
Meer as een van die klaers oor poësiemoeilikhede het die afgelope tyd gesuggereer dat Afrikaanse lirieke “meer te sê het” aan mense vandag as die digkuns wat die uitgewers bereid is om te publiseer (en wat die resensente nie in vlamme gaan afskiet nie). Hier lyk dit vir my belangrik om te onthou dat die uitvinding van die boekdrukkuns die saak vir lirieke ietwat beduiwel het. Sedertdien het die sigbaar-vormlike aspekte van die teks, die visuele prosodie, ’n groeiend belangrike plek ingeneem naas die klankkomposisie (klankgebaseerde prosodie, soos rym en ritme) – totdat dit sedert die hoogbloei van die Modernisme eintlik oorheersend geword het.
Mense het al gesê dat die filosofie van die twintigste eeu gedomineer is deur ’n fokus op taal (eerder as op idees) – op hoe ons be-teken, oftewel tekens benut om betekenis en kennis oor te dra of te skep of te bestendig, al dan nie.
Dié “linguistic turn” sou hom vir die grootste deel van die twintigste eeu in die letterkunde uit in ’n intense besigbly met formele en struktuuraspekte (naas taalgebruik), en met die probleme van betekenis en van betekenisbelewing. En die poësie sou, miskien nog meer as die ander hoofgenres, die smeltkroes van sodanige eksperimentering word (vir skrywers sowel as literatore). Ek dink dit was Wiljan van den Akker wat in sy studie oor die digkunssienings van die Nederlander Martinus Nijhoff die uitlating gemaak het dat daar nie één groot digter van die afgelope eeu is wat nie minstens één gedig geskryf het wat eksplisiet oor poësie self handel nie.
Die radikale twyfel oor dinge soos ideologies-mitiese en religieuse waardes en waarhede, en oor die moontlikhede van betekenisduiding, het die gestalte van taalgebruik en vormgewing gaan (mede-)bepaal – weer eens, veral ook in die digkuns. As sin, samehang, betekenisvolheid, outentiekheid nie meer in die lewe te vind is nie – hoe kan die poësie voortgaan om, sonder of te blik of te bloos, mooi, heel, ‘oorspronklik’, bevestigend, betekenishelder te wil wees?
Gelukkig was daar darem ook gereeld verset teen alte veel vorm- en stylbeheptheid, teen abstraksie en duisterheid. Een van die beste uitings hiervan in Afrikaans was die wyse waarop ’n strewe na groter spreektaligheid (praatpoësie!), na die beskikbaarmaking van nuwe terreine van en ontwikkelings in die taal, herhaaldelik vir vernuwing in die poësie gesorg het. Dink maar aan Leipoldt tussen die ouer digters, Uys Krige tussen die Dertigers, die “volkse” taal en ’n verskeidenheid Afrikaansvariëteite wat vir “nuwe geluide” gesorg het ná 1955, weer ná 1980, en eintlik steeds weer sedert die verbreking van die magskonsentrasie rondom Standaardafrikaans met die aanbreek van die nuwe Suid-Afrika.
Die “narratiewe liriek” of “vertelvers” waaroor Charl-Pierre Naudé en Danie Marais in onlangse opstelle op hierdie webblad geskryf het, en waaroor daar ook al op ander plekke geargumenteer is, is dalk ook so ’n anti-elitêre dwarstrekkery.
Van vernuwing gepraat: Nuutmaking en vernuwing het, selfs sterker as in die verlede, gonswoorde geword in die twintigste-eeuse poësieteorie. Bewegings en ismes het mekaar oral gereeld opgevolg – ook as reaksie op omwentelinge op sosiopolitieke en kulturele vlakke (rewolusies, die wêreldoorloë).
Vernuwing, aanpassing, verandering is natuurlik ’n sistemiese noodsaak – enige lewende organisme, het ons al geleer, moet evolueer om sy lewenskragtigheid te behou. En die westerse kultuur is hoeka een wat by uitstek deur vernuwingsdrif gekenmerk word. So ook die letterkunde, én dus die poësie.
Vandaar, dink ek, dat toevallige, nie-gereelde poësielesers en –bestudeerders so onkant betrap word met hulle snel verouderende skool- en universiteitsopleiding in die lees van poësie. Soos in die goëlkunstenaar se toertjies is dit in die digkuns ook ’n geval van “kul jou hier, kul jou daar en, siedaar!” – weg is die gangbare versmakery van die goeie ou dae.
Is dit moontlik vir die poësie om met integriteit afstand te doen van sy multigekodifiseerdheid en selftwyfel? Om nie meer “moeilik” te wees nie, maar meer straightforward, “toeganklik” – en dán dalk gewild?
Die narratiewe of vertelvers, met die uitgesproke voorkeur vir “gewoonheid”, vir die verbasende van die alledaagse (waaronder aldagtaal) – die beste van dié soort vers wat ek te lese kry, het juis weer iets geheimsinnigs onder die oënskynlik ongekompliseerde oppervlak. Dis asof dié soort gedig steeds bewus bly van sy ontoereikendheid om die onsegbare te sê: die betekenisse se ontgippende aard, of “hoe gewoon / buitengewone dinge is, of // hoe buitengewoon gewone / dinge” (Norman MacCaig, soos vertaal deur George Weideman).
Die minimum aan styl en vorm word gestalte van wat uitgedruk word. Vertelverse wat tref, is in wese net so “selfbewus”, net so vol “poëtiese funksie”, as die knapste vernufspoësie.