Charl-Pierre Naudé
Hallo Breyten,
Jy maak ‘n belangrike punt in jou opstel “Klinkdink” wat op my blog staan, oor metafoor en simbool. Ek stem saam dat simbool soms te absolutisties kan wees, dat metafoor, met sy nimmereindigende iterasies, verkieslik is.
Maar dis nou as mens praat van simbool in die pre-Moderne en Modernistiese sin.
In my lesing oor verteltegniek en die liriese vers verwys ek na Umberto Eco se beskrywing van hoe die betekenis van simbool verander het in die laat-Modernistiese (of postmoderne) tyd waarin ons tans verkeer. Die betekenis van simbool is nou nie meer vasstaande nie, dit is veel minder essentialisties, meer vryswewend, hoewel dit, in teenstelling met metafoor, steeds vasstaan binne die indiwiduele teks, maar dan op die narratiewe gronde wat daardie bepaalde teks vir die bepaalde simbool daarstel. So vir die wis en die onwis: om te praat van simbool soos ek dit gedoen het impliseer myns insiens nie ‘n teruggryp na die ontologiese nie.
Die aard van beduidenis by die simbool, die funksie daarvan met ander woorde, het verander in tekste wat deur die laat-Modernistiese gees ingegee is. Ek sal my graag wou beroep op daardie opstel van Umberto Eco, in sy boek On Literature. (Ek dink die opstel se naam is iets soos On symbol and Metaphor.) Daarin se hy interessante dinge oor die verskil tussen die twee, maar hy wys daarop dat die aard van simboliek ook nou verander het. (My verskoning aan Eco as ek sy tese hier te veel vereenvoudig, maar dis tog ‘n brief.)
So ook SIMBOOL is ‘n fatamorgana-eiland! Die morestond het ‘n fopspeen in die mond.
Mooiloop,
CPN