Ietwat toevallig het ek in die afgelope jare van naderby met liedere oor stede te doen gekry.
Maar eers terug na 1995.
Vriende het my omgepraat om saam te gaan na die eerste Klein Karoo Nasionale Kunstefees. “Oorrompelend” is nie ’n heeltemal onvanpaste woord om my ervaring daarvan te beskryf nie. Ek haal ’n paar paragrawe aan uit ’n opstel wat ek later daardie jaar geskryf het.
“Daar was byna nie ’n lokaal in Oudtshoorn nie, of iemand voer daar iets op of uit. En oral die mense, later in hulle tienduisende. Die ingesetenes het getuig dat hulle in hulle dag des lewens nog nie so iets ervaar het nie. Die eetplekke, ook die een genaamd Skep-en-skink wat spesiaal net vir die tydperk van die fees ingerig is, kon nie voorbly om te bedien nie en moes inderhaas hulle reeds vergrote voorrade aanvul. Een van die plaaslike galerye, wat ’n spesiale feesuitstalling gereël het, kon in die eerste drie dae reeds hulle gewone jaarlikse omset oortref.
[…]
“Oral in die strate, sale, kafees en hotels van Oudtshoorn het dit gesing en voorgedra en geroesemoes in die verskeidenheid tongvalle van Afrikaans. Die baniere, die aanplakbiljette, die reklameborde – dit was hoofsaaklik in Afrikaans. ’n Mens het jou mettertyd begin verbeel jy is in iets soos Afrikaansland – onbevange, onbeklemd, onbeskroomd tuis. Soos Langenhoven dit miskien bedroom het.
“Selfs toe ons uitgery het in die omgewing in, het dit so soet in die mond gebly: Kannaland, Volmoed, Spekboomdraai, Seweweekspoort, Skurweberg, Stompdrifdam. En as jy op die kaart kyk, verderaf, alkant: Suurbraak, Avontuur, Genadendal, Dwarskersbos, Verneukpan, Potchefstroom, Strydpoort… So met ’n wye swaai oor die land uit. Dis soos in daardie klinkende gedig van Uys Krige, “Tram-ode”, met die name wat ‘verlange en verrukking bring’.
“Op die dor pad terug Vrystaat toe, terwyl ons so na die slegte nuus oor die radio moes luister en die ondertone en bowetone opvang van die aanslag op die posisie van Afrikaans, het ek my vriend in die stilligheid sien kake op mekaar klem.
“En ek het teruggedink aan die ‘Kaktus op die vlaktes’-buitelugmusiekfees van die Saterdag. Hoe ons vyf en ’n half ure lank op ons voete bly staan het, soms gedans, dikwels vir Soli Philander as seremoniemeester gelag en deurentyd saam geneurie of gesing het. En hoe Johannes Kerkorrel en sy orkes hier teen agtuur die aand die duisende toeskouers in die myns insiens ontroerendste oomblik van die fees laat saam versug het:
‘en gee, gee, gee
gee, gee, gee
jou sente, jou drome,
jou toekoms vol gate
gee jou hart vir Hillbrow’.
“Ja, Afrikaans het sy groot hart vir hierdie land gegee. By die Klein Karoo Nasionale Kunstefees van 1995 opnuut.”
Tot toe was ek sowaar nog nooit in Hillbrow nie. Later daardie jaar, toe ons vir my skoonouers in Johannesburg gaan kuier, het ek daardeur gaan ry. Maar van die sielige, ironie-getinte plekke, en daardie gevoelsmengsel van droefheid, deernis en begeestering wat ’n mens luidens Kerkorrel se lied daar kon ervaar – daarvan kon ek nie juis meer iets te sien of beleef kry nie.
Danie Marais het in sy artikel oor die vertelvers elders op hierdie webblad Andries Bezuidenhout se liriek “Dis net werk toe wat ek nog deur Hillbrow ry” aangehaal. Andries sinspeel daarin op die verval in daardie stadsdeel. Een strofe lui:
Jy weet, ek ry nou die dag verby die Chelsea Hotel,
Vensters toegespyker, haar dae is getel,
Geen Mini-Cult Cinema, geen Estirol Books.
Hoe gaan dit in Londen, het jy gevind wat jy soek?
Andries was saam met my by daardie selfde werkswinkel in Potchefstroom waar Danie ’n paar weke gelede sy referaat gelewer het. Een aand na ete het die werkswinkelgangers, wat Suid-Afrikaners, Nederlanders en Vlaminge ingesluit het, gesellig verkeer toe Andries sy kitaar te voorskyn haal. En Kerkorrel se Hillbrow-lied insit. Elkeen van die teenwoordige Afrikaanse literatore en digters het saamgesing.
Dit het my ewe aangedaan gelaat as daardie keer, vyftien jaar gelede, op die stadionrugbyveld in Oudtshoorn. Die Laaglanders moes gedink het dis een of ander melankoliese volkslied wat ons aangehef het.
Ek vertel ’n volgende keer oor ander ‘stadsliedere’ wat my na aan die hart lê.