Jacques Brel het ’n hele paar chansons gemaak oor die stede en dorpe waarin hy en sy musiekgeselskap in die 1950s en 1960s opgetree en oorgebly het. Soms was hy meer verbaas as enigiemand anders wanneer sulke liedjies treffers geword het.
Omdat my kollega, Naòmi Morgan (sy lei die Franse afdeling van die taledepartement aan die Vrystaatse Universiteit waar ek werk), my in 2004 genooi het om deel te neem aan ’n Brel-vertaalprojek, het ek sommige van hierdie plek-chansons van hom intiem leer ken.
Die bekende “Amsterdam” is niks anders as ‘n outydse seemansliedjie nie. Wie skryf vandag nog liedjies oor seemanne, soos in die ou dae?
Brel het nogal kritiek gekry oor die taalgebruik daarin, veral in die laaste strofe. Ons het dié deel soos volg vertaal:
Op die Amsterdamkaai
Gaan matrose aan ’t suip
En hul suip en hul suip
Dat die bierskuime waai
Hulle suip op die heil
Van die Amsterdamwyf
Met haar lag en haar lyf
Het sy álles mos veil
Of hul jonk is en mooi
Of al lank in die tand
Hulle bring hulle kant
Vir ’n seeman se fooi
As ’n late nadraai
Gaan matrose aan ’t tjank
Oor hul stank kry vir dank
Pleks van liefde ’n naai.
Naòmi, wat die rol van Brel se eggenote Miche speel in die eerste kabaret wat ons met die vertaalde chansons van Brel saamgestel het, brei soos volg hierop uit: “Mense aanvaar blykbaar dat prostitusie bestaan, en gaan selfs heel geneë op ‘n toer van die rooiliggebied, maar kan nie verduur dat daar padlangs gepraat word oor wat daar gebeur nie. ‘n Mens gebruik tog taal wat by die onderwerp pas? Ook in Afrikaans moet die kind op sy naam genoem word… Woorde op sigself was nooit vir Brel vulgêr nie; sekere waardes, wel: mense se obsessie met geld, met die salaris van hul aanstaande skoonseun.”
Vir my is die eerste strofe van dié lied amper die mooiste:
Op die Amsterdamkaai
Sing matrose ‘n lied
Oor ’n ver vaargebied
Waar nog droomwinde waai
Op die Amsterdamkaai
Slaap matrose so slap
Soos bravades van lap
Van hul drifte ontlaai
Op die Amsterdamkaai
As die dagbreek al kom
Kom matrose nog om
In ’n dronkmansbohaai
Op die Amsterdamkaai
Sien matrose die lig
Hulle adem verlig
Weer die seewind se taai.
Baie mense dink nog dat Brel ’n Fransman was. Maar hy was ’n Belg. Hy het hom trouens beskou as ’n Franssprekende Vlaming, hoewel die Vlaminge hom onder meer vanweë sy Franssprekendheid nie juis as sodanig wou aanvaar nie.
Ek gebruik weer van die inligting wat Naòmi (as Miche) meedeel in die kabaretproduksie “My man, Jacques Brel”.
“Brel het homself altyd as ‘n Vlaamse sanger aan die wêreld voorgestel; hy het altyd gesê dat die wêreld nie weet waar Vlaandere is nie, dat hy die wêreld gewys het waar Vlaandere op die kaart lê. […]
“In 1963, byvoorbeeld in ‘n onderhoud met die Figaro littéraire: ‘Ek is Vlaandere sekere kleure verskuldig, ‘n hele kleurkaart van grys: grys-grys, groen-grys, wyse grys, grynsende grys… Ek is Vlaandere die noordewind verskuldig, wat soms so sterk waai dat jy jou liefdesverklarings moet uitskree …’
“In 1969 stel hy homself in ‘n radio-onderhoud as volg voor: ‘Ek is 40 jaar oud, van Belgiese nasionaliteit, in Brussel gebore as die seun van Vlaamse ouers. My vader kom uit Zandvoorde, by Menen. Ekself het nogal ‘n hele paar Vlaamse eienskappe.’ “En in 1971, 7 jaar voor sy dood: ‘My denke is Vlaams […] Ek is ‘n Franstalige Vlaming […] Dit is nie my skuld dat my ouers my in Frans opgevoed en na Franstalige skole gestuur het nie. Ek verstaan regtig nie waarom Vlaminge nie waardering het vir die feit dat ek hul woordvoerder met die buitewêreld is nie.’
“In Jacques se primêre skool-klaskamer was daar ‘n aanhaling van die Vlaams-gebore Emile Verhaeren (wat in Frans gedig het) wat waarskynlik ‘n groot indruk gemaak het op die toekomstige liedjieskrywer: ‘C’est la Flandre pourtant qui retient tout mon coeur.’ / ‘My hart behoort geheel en al aan Vlaandere.’”
Hierdie ‘Vlaamsheid’ van hom kom tot uitdrukking in pragliedere soos “My lae land”, “My pa ’t gesê” en “Marieke”. Laasgenoemde besing ’n meisie van Brugge wat Brel werklik geken en met wie hy waarskynlik selfs ’n kortstondige verhouding gehad het. In sy lied het hy haar egter uitgebou tot ’n soort verpersoonliking van die gees van sy veral geliefde Wes-Vlaandere. Ek reken die Vlaminge dink ook vandag so: Op die stadsplein van Brugge staan daar ’n bevallige klein standbeeld van Marieke as spelende jonge meisie.
Bowendien: “Marieke” is die enigste lied wat wêreldwyd bekend is en waarvan die refrein omtrent altyd in Nederlands gesing word, al is die res van die lied in watter ander taal ookal vertaal.
Ai Mariek’ Marieke
Ons liefde klim
Die torings in
Van Brugg’ en Gent
Ai Mariek’ Marieke
Ons liefde bly
Soos klokke lui
Oor Brugg’ en Gent
Zonder liefde, warme liefde
Waait de wind, de stomme wind
Zonder liefde, warme liefde
Weent de zee, de grijze zee
Zonder liefde, warme liefde
Lijdt het licht, het donk’re licht
En schuurt het zand over mijn land
Mijn platte land, mijn Vlaanderenland
Ai Mariek’ Marieke
Die lug vergrou
Die torings rou
Oor Brugg’ en Gent
Ai Mariek’ Marieke
Die lugte druil
My hart wil huil
Oor Brugg’ en Gent.
Ensovoorts.
Oor sy geboortestad Brussel het Brel eweneens ’n onvergeetlike lied geskryf. Maar die Brussel van sý tyd was in sy oë slegs ’n floue afskaduwing van die plek wat dit voor die Eerste Wêreldoorlog moes gewees het – mondain en jolig, soos sy grootouers dit geken het. Teen ’n flinke maatslag spring die lied weg:
Dit was toe daar nog ’n Brusseldroom was
Dit was toe daar nog net stomfilms was
Dit was toe daar nog ’n Brussellied was
Dit was toe daar nog ’n Brussellus was
Op die Brouckère-plein het modes gelonk
Mans wat met vroue in hoepelrok pronk
Op die Brouckère-plein waar perdetrems stop
Vroue by mans hoort met klapkeile op
Daar, op trems se bo-dek
Verwaaid, op die bo-dek
Bonshart was my oupa
Bonshart was my ouma
Hy flink, in uniform
Sy kuis, die staatsdiensnorm
Hy domastrant, sy dom sjarmant
– Maar almal eis van my verstand!
Brel het so dikwels gesê dat sy vader ‘n Vlaming en sy moeder van Vlaamse oorsprong was, dat die Franssprekende Wale op hul beurt in die gesig gevat was omdat hy nie oor hulle of oor Wallonië gesing het nie. Dit is waarskynlik die oorsprong van een van Jacques se mees gewraakte uitdrukkings oor België: Petit pays, petits esprits – “in klein landjies woon kleinsielige mense”. Vir baie Belge was sy liedjies nie kuns nie, maar eerder ideologiese stellings.
Daar is wel ‘n liedjie oor ‘n Waalse stad: Liège, oftewel Luik. Brel het baie belanggestel in die politiek; hy en ‘n paar Luikse politici wou selfs ‘n politieke party stig. Daar het egter niks van gekom nie. Sy liedjie oor Luik bevat geen verwysing na die politiek nie. Hy beskryf ‘n stad toegedek, van daaglikse lewe gestroop deur dik sneeu; ’n swartkleurige Maasrivier sny deur die wit… En dit alles verkry algaande huiweringswekkende simboliese betekenisse vir hom.
Sneeu oor Luik (Il neige sur Liège)
Dit stuif dit stuiwe oor Luik
en die stuiwing oor Luik
pak ’n pels sag en wit
Dit stuiwe en stuiwe oor Luik
Net die swart van die Maas
skend die wang van die wit
Die geroep het verstil
van die voëls en die tyd
van ’n kind se jolyt
en van kleur wat kon skril
Dit stuif dit stuiwe oor Luik
Die Maas vloei kil en stil
Dit stuif dit stuiwe oor Luik
en die stuiwing oor Luik
tussen die hemel en Luik
dit benewel die oë
Sien ek sneeu val oor Luik?
Of vir Luik sneeu na bo?
Wit en wit kom tesaam
soos ’n maagd en ’n maagd
minnaars nou wat dit waag
om ’n skoon land in te gaan
Dit stuif dit stuiwe oor Luik
Net die Maas sny deur die waan
Dit stuif dit stuif oor Luik
en dit sneeu ook oor my
Die Maas deurklief albei.
Sowel “Sneeu oor Luik” as “Amsterdam” is opgeneem op die laserskyf herman van den berg sing brel in afrikaans, en kan bestel word by www.hermanvdb.co.za.