Mnr. P. (Boer) Odendaal, my Afrikaans-onderwyser in st. 5 op Harrismith, was ‘n groot man en het die dissipline in sy klas met ‘n ysterhand toegepas. Sy klasse kon egter ook vol pret wees as sy aandag afgelei is en een of twee van die kinders het dit redelik gereeld reggekry. Veral Karen Lotter was ‘n meester om met hom in “gesprek” te tree.
Ek onthou een so ‘n gesprek. Ons sou besoek van die inspektoraat op Bethlehem ontvang en mnr. Odendaal het ons gewaarsku om ons goed voor te berei omdat een van die inspekteurs, dr. Z.J. Pretorius, moontlik ook by ons gaan inloer. Dr. Pretorius, het mnr. Odendaal vertel, het sy doktorsgraad met ‘n proefskrif oor een of ander gedig verwerf.
Karen het opgespring en verbaas gevra: “Meneer, het hy sy doktorsgraad oor één gedig gekry?”
“Ja, één gedig.”
“Kan ‘n mens ‘n doktorsgraad vir een gedig kry?”
“Natuurlik kan ‘n mens ‘n doktorsgraad vir een gedig kry as jy jou proefskrif oor een gedig geskryf het!”
Karen het hom in ongeloof aangekyk en iets in die boekie gekrabbel waarin sy mnr. Odendaal se “sêgoed” opgeteken het. Die volgende dag het sy kom vertel haar ma sê ‘n mens kan nie ‘n doktorsgraad kry as jy oor net een gedig geskryf het nie. ‘n Mens moet véél meer as dit doen. Karen se pa en ma het Havenga’s Boekwinkel op die dorp besit en haar ma het vir Harrismith Chronicle berigte geskryf. Sý moes tog weet. Dat die stilistiek op linguistiese grondslag (ook genoem die “situasionele struktuurleer” en die “fenomenologie van taalgebruik”) inderdaad gedurende die 1950’s proefskrifte soos dié van Merwe Scholtz en Elize Botha opgelewer het waarin enkele ondersoekers telkens net een gedig behandel het, het Karen se ma klaarblyklik nie geweet nie.
Pretorius, het ek later vasgestel, het sy doktorsgraad in 1949 aan die Universiteit van Stellenbosch met ‘n proefskrif oor die werklikheidsbelewing by enkele Afrikaanse digters verwerf. Dit lyk dus nie of hy deur W. Gs. Hellinga en Scholtz se stilistiek op linguistiese grondslag beїnvloed is nie.
Toe ek verlede maand tydens die Volksblad-kunstefees aan dr. J.F. Stemmet, ‘n voormalige Direkteur van Onderwys in die Vrystaat, vra of hy dr. Pretorius onthou, was sy onmiddellike antwoord: “Dr. Zac Pretorius was ‘n knap vakkundige, maar is reeds oorlede.” (Dr. Stemmet se seun, Jan-At, het kort vantevore ‘n briljante en inspirerende rede by die bekendstelling van M.C.E. van Schoor se Marthinus Theunis Steyn: Regsman, staatsman en volksman gelewer.)
Mnr. Odendaal het sedertdien spoorloos verdwyn en dr. Pretorius se bydrae is in die Afrikaanse literatuurgeskiedenisse so te sê vergete (hy was onder meer ‘n redaksielid van Tydskrif vir Letterkunde en van sy letterkundige opstelle lê versprei oor ‘n aantal tydskrifte).
Ek vind dit jammer dat ons letterkunde so vergeetagtig is.