Bernard Odendaal. Liedere oor stede 3

Sowat ’n jaar gelede vra kollegas van die afdeling Duits aan die Vrystaatse Universiteit my om ’n klompie meer eietydse Duitse liedjies in Afrikaans te vertaal en tot ’n kabaret saam te snoer. Dit met die oog op die herdenking, eerskomende November, van die val van die Berlynse Muur twee dekades gelede.

Ek het toe aan die werk gespring om meer te wete te kom oor redelik onlangse ligtemusiekontwikkelings in Duitsland. Veral die kulturele oudioband-reeks Liedermacher in der Bundesrepublik Deutschlands (Liedmakers in die Duitse Bondsrepubliek, oftewel Wes-Duitsland) het baie gehelp. Dis nagevors, saamgestel en van kommentaar voorsien deur Max Nyffeler en vanaf 1971 in ses dele uitgegee deur Internationes.

Duitsland was in 1945, aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog, nie net fisies en ekonomies verpletter nie, maar ook polities en moreel.

Ná tussenfases is die land, soos goed bekend, uiteindelik in twee verdeel: ’n kapitalistiese Wes-Duitsland en ’n kommunistiese Oos-Duitsland. Berlyn, geografies binne Oos-Duitsland geleë, was eweneens in twee geskeur.

Die Berlynse Muur, later bekend as die Skandmuur, asook versterkte versperrings met gewapende wagposte is opgerig op die grense tussen die twee lande om Oos-Duitsers te probeer verhoed om na die Weste te vlug. Algaande het die Skandmuur ’n simbool geword van die sogenaamde Ystergordyn tussen die Ooste en die Weste. Meer as 5 000 ontvlugtingspogings na die Weste is oor die Berlynse Muur alleen aangewend. Uiteindelik sou ’n geskatte 235-tal mense hul lewens in dié pogings in Berlyn verloor, waarvan die laaste enkele maande voordat op 9 November 1989 begin is om die Skandmuur af te breek, Duitsland te herenig en die Koue Oorlog tussen Oos en Wes tot ’n einde te bring.

Laasgenoemde gebeurtenisse was baie belangrike tekens om die demokratiseringsproses in Suid-Afrika in die 1990s aan die gang te sit.

Die werk van die Liedermacher in die tydperk ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog tot by die val van die Berlynse Muur weerspieël heelwat van dié bewoë stuk Duitse geskiedenis. Vyftien liedere deur verskillende Duitse kunstenaars, soms pittig, soms rebels, ander kere pragtig en roerend, is gekies, in Afrikaans vertaal en van ’n vertellersteks voorsien om ’n beeld hiervan te gee. Die kabaret, met die titel “Liedermacher in die Skadu van die Skandmuur”, sal hopelik in Febuarie 2010 in Bloemfontein sy debuutopvoering hê.

Die aanvanklike diepe pessimisme oor die Duitse kulturele erfenis word gereflekteer, maar ook die geleidelike herontdekking van die Duitse “demokraties gesinde” liedereskat uit vorige eeue. Oorspronklike werk van die “liedmakers” (’n bestempeling wat hulle self gekies het om hul vakmanskap en hul makery van oorspronklike werk te beklemtoon) is egter die hooffokus. In die werk van kunstenaars soos Reinhard Mey, Thomas Friz en Franz Josef Degenhardt kry ’n mens ’n lewendige beeld van verwikkelinge in die Duitse geesteslewe tussen 1945 en 1989.

In verskillende opsigte herinner die werk van die Liedermacher aan dié van beide die Musiek-en-liriek- en die Voëlvry-bewegings in Suid-Afrika in die jare ’70 en ’80.

Reinhard Mey is waarskynlik die bekendste en suksesvolste van die Liedermacher. Sterk beïnvloed deur die Franse chansontradisie, word hy in 1968 die eerste nie-Fransman wat die prys van die Franse chansongilde verower.

Mey is in 1942, midde-in die Tweede Wêreldoorlog, in Berlyn gebore. Sy hele lewe was vervleg met Berlyn: die Berlyn van die oorlogsjare; van die verplettering daarvan; van die verdeling daarna; met dit wat die Muur versimboliseer het totdat dit afgebreek is.

In ’n hele paar liedere het Mey sy komplekse verhouding met dié stad verwoord. Die mooiste daarvan is myns insiens “Berlin tut weh”, wat ek (met die toestemming van Mey) soos volg vertaal het:

 

Ek het gewoon in jou my hele lewe:

Van binne en van buite ken ek jou,

En my herinnerings is eng verwewe

Met jou bekende name en met jou.

Hul sê jy “doen mens goed”, maar ek voel liewer

Jy roer my, wen my op, ja, keer op keer.

Jy raak my wese, tref my hart veel dieper:

Jy maak my seer!

Jy maak my seer!

 

Met mure skel geverf en bont beteken,

Staan jy gesmuk in oppervlakkigheid.

Maar ek sien elke skandvlek en litteken

En al die skadu’s van vervloë tyd;

Vergete, en verraai nou, en geskonde:

Ek sien wat jou fassades wil maskeer,

Dit pols in my soos nooit genese wonde.

Jy maak my seer.

Jy maak my seer.

 

Daar was die staatsmanne en kleiner klone,

Gewigtig met hul pratery en praal,

Jou name in hul tande goue krone

Voor hulle aandag na iets anders dwaal.

Dit was ’n pyniging soos jy misbruik is

Vir klomp clichés, vir leuentaal oor en weer:

Bombas vir strewers, beeldspraak vir gefnuiktes.

Jy maak my seer.

Jy maak my seer.

                                                  

So byna al my vriende moes al weggaan.

En dikwels was hul redes baie goed.

Dis net dat jy my onweerstaanbaar aangaan,

My bron van droefnis, woede, maar ook moed.

So dikwels ek jou in die gees verlaat het,

Het ek skoorvoetend maar weer teruggekeer!

Dit was soos om ’n sieke te versaak het.

Jy maak my seer.

Jy maak my seer.

 

Ek weet dat jy my vir ’n ruk beperk het,

Mý, wat die vryheid so bo alles stel.

Dis juis wat bande tussen ons gesterk het:

Wat vryheid kos, weet albei alte wel.

Ek het jou lief, o stad van soveel smarte,

Hoe kies ek ooit om dit te wil ontbeer:

Daardie splinters van jou liefde in ons harte!

Jy maak ons seer.

Berlyn maak seer.

 

 

Ek self is ’n gebore en getoë Bloemfonteiner. Meer as 10 jaar gelede, terwyl ek ’n opdrag aan ’n klompie poësiewerkswinkelgangers aan die Vrystaatse Universiteit gegee het om lirieke te skryf wat getoonset kan word, het ek self my hand aan een gewaag. “My oom wat jare woon in Bloemfontein” het lank in my laai bly lê, totdat ek in 2007 met Herman van den Berg saamgewerk het aan ’n kabaretproduksie oor die vermeende verskille, al dan nie, tussen gedigte en lirieke. “My oom wat jare woon in Bloemfontein” het toe ter sprake gekom, en kort voor lank het Herman dit getoonset. Dis ingesluit in die genoemde produksie, wat “Rondom ’n woordvuur” as titel het. Herman het die lied ook opgeneem vir sy CD Dit is wat dit is, wat einde verlede jaar vrygestel is.

 

My oom wat jare woon in Bloemfontein

 

My oom wat jare woon in Bloemfontein,

die sê sy stad is maar ’n oorslaapplek:

daar’s mense wat mos net sy liggies ken,

wat donker aankom en weer vroeg vertrek.

Of onderweg na een of ander oord

dit skoon verbyjaag in hul dolle vaart!

My oom wat jare woon in Bloemfontein

sê dis presies ook van die lewe waar.

 

My oom wat jare woon in Bloemfontein,

die hou daarvan om mens daar rond te wys:

die monumenteskaar en Naval Hill,

die oorvloed roos voor elke tweede huis.

En sawends is die lug soms skoon genoeg

om onder sterrekandelaars te staan.

My oom wat jare woon in Bloemfontein,

sê doodgewoon, soos wonderwerk, is waan.

 

My oom wat jare woon in Bloemfontein,

die sê ’n mens moet leer dat skyn bedrieg.

Dit sien ’n mens glo in sy stad se naam,

want die fontein-met-blom is glo ’n lieg.

Maar hoe sal hý weet, wat ’n kort tyd leef –

die land was baiekeer ’n ander plek.

My oom wat jare woon in Bloemfontein,

sê “seker” is ’n sagter woord vir “gek”.

 

My oom wat jare woon in Bloemfontein,

die sê dis sý stad, maar tot op ’n punt:

die veld en rante rondom, en die lug,

behoort mos half aan droogte, son en wind.

En as jy sawends in jou kamer lê,

kom dalk ’n dwaalsiek volmaan binneloer.

My oom wat jare woon in Boemfontein,

sê hoe kan mens op niemandsland wil boer.

 

My oom wat jare woon in Bloemfontein

sê plekke ’s mooi en lelik tegelyk.

Hy sê verskil van mening hieromtrent

hang af van wanneer mense waarso kyk.

Hy sê jy huil net tweemaal oor sy stad:

by eerste en by allerlaaste sien.

My oom wat jare woon in Bloemfontein,

sê liefhê laat jou werklikwaar eers sien.

 

“Rondom ’n woordvuur” is weer op 26 September by die Woordpoort-kunstefees op die kampus van die Universiteit van Pretoria te hoor.

Dit is wat dit is kan op Herman se webwerf bestel word: www.hermanvdb.co.za.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •